|
|
|
VERKONDIG DIE EVANGELIE Met die paasnaweek agter die rug, kan ek en jy maklik val in dieselfde groef as na Kersfees. Na Kersfees vergeet ons gewoonlik binne die eerste week van al die gebeurtenisse. So asof daar nie 'n boodskap is om verder te dra nie. Maar na hierdie paasnaweek moet dit anders wees. Kom ek en jy gaan doen wat die dissipels gaan doen het na Jesus se hemelvaart. Hulle het hierdie boodskap van verlossing met 'n passie gaan verkondig. Maar:- daar was eers 'n baie belangrike gebeurtenis waarvan ons lees in Hand 2. Jesus het voor sy hemelvaart belowe dat Hy die Heilige Gees gaan stuur en in Hand 2 sien ons hierdie geweldige effek nadat die Heilige Gees uitgestort is. Die Here het kragdadig deur die dissipels gewerk en ons sien dat 3000 mense en later 5000 mense tot bekering gekom het. Maar hoekom? Omdat die mense begin getuig het. Ek en jy moet dit doen, want ons hou Jesus se wederkoms teoreties terug. Daar staan geskryf dat Jesus sal kom as almal gehoor het. Werk jou predikant/Pastoor waar jy werk? Beweeg hy in jou vriendekring? Verseker nie. Hand 8 : 26 - 35 'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop. Dit is 'n stil pad. 27 Filippus het toe klaargemaak en gegaan.'n Ontmande Etiopiër wat 'n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28 Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29 Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan loop saam met daardie wa. 30 Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: Verstaan u wat u lees? 31 Die Etiopiër antwoord: Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32 Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos 'n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. 33 In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie. Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig. 34 Die amptenaar vra toe vir Filippus: Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders? 35 Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig. Hier sien ons hoe Filipus die evangelie aan Jan Alleman verduidelik, en hoe hy tot bekering kom en gedoop word. Jy sien, my en jou probleem is dat ons nie weet hoe om die evangelie te verkondig nie. Hoekom moet ek en jy die evangelie verkondig? Weet jy, omdat mense verlore gaan omdat ons nie die opstandigingsboodskap verkondig nie. As ons dit nie gaan doen nie, wie gaan? Ek kan jou belowe, as jy vir die Here vra om iemand op jou pad te bring wat Hom nodig het, sal Hy daardie gebed verhoor. Matt 7 : 13 - 14 Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min. Weet jy dat so baie mense die ewige lewe nie kry nie, omdat ek en jy die weg daarheen nie vir hulle vertel nie. Eseg 3 : 18 Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. Ek glo hierdie opdrag is vandag van toepassing vir jou en vir my. Ek wil nog gou een vraag vir jou vra:- Sê nou maar iemand bel jou en sê, sus en so lê op sterwe en jy moet hom na die Here toe lei:- sal jy dit kan doen? Dink bietjie hieroor. Kom ek vertel jou in 'n paar punte hoe om die evangelie te verkondig en iemand na die Here te lei. · God het die mens
geskep, maar die mens het sy verhouding met God vertroebel deur die
sondeval. Wat is bekering? · Om Jesus te vra om
in jou lewe te kom. Vir wie gaan jy vandag vertel? Gebed: Jesus, ons Verlosser, stuur vandag iemand op my pad aan wie ek die goeie nuus van U kan vertel. Amen
|