|
|
|
Wat is die
grootste en goorste krisis wat jou al getref het? Waar in jou lewe het die
onaangenaamste ding denkbaar jou getref? Of is jy vrygestel van alle vorms
van swaarkry, teenspoed of moeilikheid? Ek twyfel. Ek dink ons elkeen het
iewers al in iets sleg beland. Hetsy jy dit oor jouself gebring het, of
dat dit deur iemand anders teweeggebring is. Nou ja, daar is ‘n goeie
spreekwoord daarvoor: wanneer die pawpaw die fan strike, in Afrikaans
vertaal: wanneer die volstruis in die windpomp invlieg. Kan jy daardie dag
onthou? Of dae? Of tydperk? … toe die volstruis in jóú windpomp
ingevlieg het. Dalk was dit trauma a.g.v. lewensverlies, of toe jy hoor jy
het kanker, of toe jy in hegtenis geneem is, of toe jou man of vrou jou
met ‘n hamerhou tussen die oë klits deur te sê: “ek is klaar met
jou, ek wil nie meer voortgaan nie”. Onthou jy hoe dit gevoel het of jou
lewe in skerwe spat? Bitter onlekker… toe dit voel of alles inmekaar
val, en niks meer sin maak nie. Onthou jy hoe jy gevoel het, die sukkel om
dit te verwerk, daardie onbeskryflike bang, die gevoel dat niks is in
beheer is nie. En … as dit
nog nie met jou gebeur het nie , wees dankbaar, baie dankbaar. Party sal
dit dalk vir altyd vryspring. Maar … ongelukkig, vir party kan ons sê:
“the cheque is in the mail”. Het jy ‘n “survival kit” gereed vir
daardie dag? Wat sê die Bybel
van die volstruis-in-die-windpomp-dae? Praat die Bybel enigsins oor
moeilike tye, of glo jy die mense wat so roekeloos sê dat slegte goed
nooit met Christene kan gebeur nie? Ps 23 Klink hierdie
Psalm na een wat nét voorspoed uitbeeld? Of maak dit ook voorsiening vir
moeilike tye? “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang
wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” Hoor wat sê vers
1: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie”. Daar staan nie “ek
het alles in oorvloed” nie, daar staan “ek kom niks kort nie”. Daar
is nogal ‘n verskil. “Ek kom niks kort nie”, klink vir my na tevrede
wees met my omstandighede en situasie. Job 1:20-22 Die
Here het gegee, en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here. Hoe
hou jy daarvan? Toe die hare waai (of is dit nou die vere daar in die
windpomp?), toe prys hy die Naam van die Here. Die Here laat die ergste
dinge denkbaar toe in Job se lewe, maar Job sê: “Prys die Naam van die
Here”…. “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die
slegte aanvaar nie?” (Job 2:10). Kan jy die Here prys daar waar jy in
sak en as sit? Op die ashoop? Sonder werk?
Besig om te skei? In die gevangenis? Sonder ‘n sent op jou naam?
By die graf van ‘n geliefde? Kan jy sê: “Here, niks werk uit nie,
maar ek prys U Naam”? Hab
3:17-19 In
sy boekie “Prison to Praise” sê Merlin Carothers jy moet net aanhou
om die Here te prys, ongeag die omstandighede. Jy kry nogal ‘n
interessante perspektief op jou probleme as jy dit begin doen, want dan
erken jy dat die Here steeds (of liewer juis) in die prentjie is. Want jy
besef eers dat die Here al is wat jy nodig het, as Hy al is wat jy oorhet.
Dan erken jy die feit dat Hy steeds groter is as die probleem. Jes
41:10 Hy is daar. Nou.
Ten spyte van… al voel Hy ver. Die lewe is ‘n snaakse plek … dit gaan vir
dekades lank goed,en dan een dag, styg daar ‘n volstruis op. Eintlik
lanseer hy, en dan is dit nag! Die menslike natuur is om uit te roep:
“Waar is U, Here?” So asof die Here weg is. Maar … as jy Hom prys en
loof, gee jy erkenning aan die feit dat Hy daar is, dat Hy in beheer is,
dat Hy jou vashou en versterk. Toe ons kinders
was, het ons elke jaar gaan vakansie hou by Illovo aan die Suidkus, met so
‘n groot, groen seiltent. Ons het menige maal aan daai tentpale
gehang soos vinke as daar ‘n storm opkom. Al wat jy moes doen, was om
verbete te klou tot die storm bedaar het. En dis wat ek en jy vandag moet
doen: staan vas, kap hakke in die grond in, anker jouself aan Jesus met
sterk toue van geloof, en
klou verbete. En weet een ding: dit
maak nie saak hoe woes die storm woed nie, as jou geloofs-ankertoue sterk
is, gaan niks jou omdop nie, want Jesus wat jou anker is, gaan nêrens
heen nie. Maak nie saak of jy self verantwoordelik is vir die storm nie,
Hy bly die anker. As dinge ondraaglik raak, bly Hy steeds die anker. As
dit voel of die toue enige oomblik gaan breek, hou aan glo, dan word daai
toue net dikker en sterker. Intussen: prys die Naam van die Here. Dis in
hierdie tye wat jou kennis van God toeneem, veral as jy antwoorde in Sy
Woord gaan soek. Jy sal nie weet hóé sterk die anker is as jy hom nog
nie getoets het nie. |