|
WAT
IS JOU DOEL OP AARDE?
Ek weet dat ek die sin van die lewe
kan verstaan as ek weet wat my doel is. Ons kyk na hierdie onderwerp onder
4 kategorieë:
1) my doel as deel van die mensdom
2) my doel as deel van die gemeenskap
3) my doel in my onmiddelike omgewing (huis, familie, ens)
4) my doel as deel van die Koninkryk van God
1) My doel as deel van die
mensdom
Gen 1:26-28
Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger,
ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die
lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde
kruip."
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy
die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word
baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor
die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere
wat op die aarde kruip."
God stel ons aan om te heers oor die aarde, as Sy verteenwoordiger, na
Sy beeld, om die aarde te bewoon, te bewerk, en om te vermeerder. God skep
in die mens 'n soekende gees, om meer en meer te wil leer en verstaan, om
sodoende sinvol die aarde te "bestuur". God gee vir ons 'n
blyplek hier op aarde, Hy skep volmaakte omstandighede. Ons eerste taak op
aarde, die doel waarvoor ons hier is, is om te werk, en indien moontlik
moet jy vermeerder, en jy moet die verantwoordelikheid neem om God se
skepping in stand te help hou. Dit is ons almal se opdrag - en dit is
moontlik om dit te geniet!
2) My doel as deel van die gemeenskap
In ons gemeenskap - daar waar jy
woon - het ons ook 'n verantwoordelikheid om te bewoon en te bewerk. God
het voorsiening gemaak vir kundigheid vir elke behoefte wat daar mag
ontstaan, en daardie kundigheid is in my en jou.
1 Kor 12:12-20
Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die
lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die
liggaam van Christus.
Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees
gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die
een Gees deurdrenk.
Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.
As die voet sou sê: "Omdat ek nie 'n hand is nie, is ek nie deel van
die liggaam nie," hou hy om dié rede tog nie op om deel van die
liggaam te wees nie.
En as die oor sou sê: "Omdat ek nie 'n oog is nie, is ek nie deel
van die liggaam nie," hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van
die liggaam te wees nie.
As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam
oor was, hoe sou hy kon ruik?
Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam
gevoeg soos Hy dit wou hê.
As almal saam net een lid was, hoe sou daar 'n liggaam kon wees?
Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.
Net soos hierdie gedeelte in die
geestelike konteks 100% waar is, is dit ook in die gemeenskap. Ek wil vir
jou vra: wat se gat gaan jy los in die samelewing as jy hierdie lewe
vaarwel toeroep? Sou dit net wees daar waar jy beloning of vergoeding
gekry het, of sou dit verder strek as geld? Dalk in 'n bediening, dalk een
of ander vrywillige diens? Miskien 'n goeie uitvinding of 'n besondere
bydrae op die een of ander gebied? Ek en jy het 'n verantwoordelikheid in
ons gemeenskap: geld, diens, dalk iets wat nie eens tasbaar is nie.
Betrokkenheid gee sin an die lewe, en só kan jy jou skeppingsdoel
uitleef.
3) My doel in my onmiddelike
lewenssfeer (huis en familie)
Kol 3:18 - 4:1
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in
die Here glo.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter
maak nie.
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang
dit van kinders wat in Hom glo.
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word
nie.
Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie
net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom
nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here.
Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir
mense nie,
omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe
het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.
Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here
trek niemand voor nie.
Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook
onder iemand staan, onder die Here in die hemel.
Sjoe, nogal 'n mondvol. Ek lees
hier 'n klomp goed:
Die man se taak as hoof van die huis: Meneer, jy moet jou vrou liefhê,
sodat sy respek vir jou kan hê, en deur jou gekoester WIL word. Pa,
moenie die heeltyd by jou kinders fout soek nie; stel 'n goeie voorbeeld.
Baas, behandel jou werkers regverdig en billik.
Ons doel, volgens hierdie Bybeldeel is om in goeie verhoudings, met respek
en liefde te woon en te werk, om mekaar te leer en om by mekaar te leer.
Om mekaar te dien, om Jesus se liefde uit te leef in alles wat ons doen….
Om 'n verskil te maak.
Wat gaan jy eendag vir jou gesin
nalaat? Net geld? Dis is nogal snaaks dat dié wat slegs geld nalaat,
nooit vir hulle liefde en betrokkendheid onthou word nie. Ek dink nie
iemand het al op sy sterfbed gesê: "ek wens ek kon net nog 'n rukkie
weg wees van my gesin af" nie. Die teendeel is waar! Ons doel is om
dáár te wees vir ons geliefdes.
4) My doel as deel van God se
Koninkryk
Matt 5:13-16
"Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe
kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant
weggegooi, en die mense vertrap dit.
"Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan
nie weggesteek word nie;
ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n
lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan
sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik."
Wie sal vir die wêreld van God kan
vertel? Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke
kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Sien jy dat daar
werke betrokke is? Sien jy dat die lig net iets werd is vir ander as jy
tussen hulle is? Besef jy dat God net die mens met hierdie vermoë geskep
het, geen ander lewende wese kan dit doen nie. Geen ander skepsel kan God
se verteenwoordiger wees nie. Jesus se laaste opdrag was "maak die
mense My dissipels". Kan jy sien dat ek en jy dus nie tot ons eie
voordeel kan leef nie, maar ook tot die voordeel van ander, 'n voordeel
wat vir hulle ewigheidswaarde sal hê.
My en jou lewensdoel strek verder
as net die hier en nou. Ons het 'n doel tot voordeel van die mensdom, in
ons samelewing, in ons leefwêreld, en ook in God se Koninkryk …. Dit
gee aan die lewe nogal betekenis, of hoe?
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|