WAT IS JOU DOEL OP AARDE?


Ek weet dat ek die sin van die lewe kan verstaan as ek weet wat my doel is. Ons kyk na hierdie onderwerp onder 4 kategorieë:
1) my doel as deel van die mensdom
2) my doel as deel van die gemeenskap
3) my doel in my onmiddellike omgewing (huis, familie, ens)
4) my doel as deel van die Koninkryk van God

1) My doel as deel van die mensdom

Gen 1:26-28
Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip."
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip." 

God stel ons aan om te heers oor die aarde, as Sy verteenwoordiger, na Sy beeld, om die aarde te bewoon, te bewerk, en om te vermeerder. God skep in die mens 'n soekende gees, om meer en meer te wil leer en verstaan, om sodoende sinvol die aarde te "bestuur". God gee vir ons 'n blyplek hier op aarde, Hy skep volmaakte omstandighede. Ons eerste taak op aarde, die doel waarvoor ons hier is, is om te werk, en indien moontlik moet jy vermeerder, en jy moet die verantwoordelikheid neem om God se skepping in stand te help hou. Dit is ons almal se opdrag - en dit is moontlik om dit te geniet!

2) My doel as deel van die gemeenskap

In ons gemeenskap - daar waar jy woon - het ons ook 'n verantwoordelikheid om te “bewoon en te bewerk”. God het voorsiening gemaak vir kundigheid vir elke behoefte wat daar mag ontstaan, en daardie kundigheid is in my en jou.

1 Kor 12:12-20
Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.
Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.
Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie.
As die voet sou sê: "Omdat ek nie 'n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie," hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie.
En as die oor sou sê: "Omdat ek nie 'n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie," hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie.
As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik?
Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.
As almal saam net een lid was, hoe sou daar 'n liggaam kon wees?
Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam. 

Net soos hierdie gedeelte in die geestelike konteks 100% waar is, is dit ook in die gemeenskap. Ek wil vir jou vra: wat se gat gaan jy los in die samelewing as jy hierdie lewe vaarwel toeroep? Sou dit net wees daar waar jy beloning of vergoeding gekry het, of sou dit verder strek as geld? Dalk in 'n bediening, dalk een of ander vrywillige diens? Miskien 'n goeie uitvinding of 'n besondere bydrae op die een of ander gebied? Ek en jy het 'n verantwoordelikheid in ons gemeenskap: geld, diens, dalk iets wat nie eens tasbaar is nie. Betrokkenheid gee sin aan die lewe, en só kan jy jou skeppingsdoel uitleef.

3) My doel in my onmiddellike lewenssfeer (huis en familie)

Kol 3:18 - 4:1
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.
Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here.
Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.
Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie.
Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel.

Sjoe, nogal 'n mondvol. Ek lees hier 'n klomp goed:
Die man se taak as hoof van die huis: Meneer, jy moet jou vrou liefhê, sodat sy respek vir jou kan hê, en deur jou gekoester WIL word.
Pa, moenie die heeltyd by jou kinders fout soek nie; stel 'n goeie voorbeeld.
Baas, behandel jou werkers regverdig en billik.
Ons doel, volgens hierdie Bybel deel is om in goeie verhoudings, met respek en liefde te woon en te werk, om mekaar te leer en om by mekaar te leer. Om mekaar te dien, om Jesus se liefde uit te leef in alles wat ons doen Kortom: om 'n verskil te maak.

Wat gaan jy eendag vir jou gesin nalaat? Net geld? Dis is nogal snaaks dat dié wat slegs geld nalaat, nooit vir hulle liefde en betrokkenheid onthou word nie. Ek dink nie iemand het al op sy sterfbed gesê: "ek wens ek kon net nog 'n rukkie weg wees van my gesin af" nie. Die teendeel is waar! Ons doel is om dáár te wees vir ons geliefdes.

4) My doel as deel van God se Koninkryk

Matt 5:13-16
"Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
"Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik."

Wie sal vir die wêreld van God kan vertel? Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Sien jy dat daar werke betrokke is? Sien jy dat die lig net iets werd is vir ander as jy tussen hulle is? Besef jy dat God net die mens met hierdie vermoë geskep het, geen ander lewende wese kan dit doen nie. Geen ander skepsel kan God se verteenwoordiger wees nie. Jesus se laaste opdrag was "maak die mense My dissipels". Kan jy sien dat ek en jy dus nie net tot ons eie voordeel kan leef nie, maar ook tot die voordeel van ander, 'n voordeel wat vir hulle ewigheidswaarde sal hê.

My en jou lewensdoel strek verder as net die hier en nou. Ons het 'n doel tot voordeel van die mensdom, in ons samelewing, in ons leefwêreld, en ook in God se Koninkryk …. Dit gee aan die lewe nogal betekenis, of hoe?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)