|
|
|
Terug
na HOOFBLAD Is jy lief vir
die lewe? Wat is lewe? Is die lewe lekker? Doen jy lekker goete? Of is jou
lewe een lang, uitgerekte stuk dood? Is jy miskien ook een van dié mense
wat hard werk vir ‘n goeie lewe, en dan nie jou lewe geniet nie? Of een
van dié wat in so ‘n vrees lewe dat jy kan siek word, dat jy daarvan
siek word? Soms lyk dit vir my of die mens die kuns vervolmaak het om sy
lewe op te mors. Onthou: jy het net een lewe – geniet jy dit, of is dit
‘n lyding? Vandag vra ek vir jou die vraag: “begeer jy ‘n lang en
gelukkige lewe?” Eenvoudige vraag. Of leef jy net omdat jy die dood
vrees? Party mense leef om geld en besittings te vergader, ander leef vir
hulle werk, ander leef vir
die Here. Sommiges leef net omdat hulle nie eintlik ‘n keuse het nie –
hulle weet nie hoe om op te hou asemhaal nie. Baie is op pad na nêrens;
hulle leef nie eintlik nie, hulle bestaan net…. Opstaan, asemhaal,
werk… Begeer jy ‘n
lang en gelukkige lewe? Wat sê jy oor jou lewe? “Gelukkig leef ek” of
“Ek leef gelukkig”? As mens na party mense kyk dink jy hulle sê:
“Ongelukkig leef ek”. Hemel tog mens, is daar nog enige sin in jou
lewe? Wel, in Ps 34 gee
die Here so enkele riglyne vir ‘n lang en gelukkige lewe. Kort en
kragtig, so ‘n dinamiet-pakkie. Ps 34:12-15 As iemand die
lewe liefhet … so sê vers 13. Om dié geheim te ontdek en te gebruik
vra vir ‘n keuse. Liefde is mos ‘n keuse. Almal kan die lewe liefhê
as jy dit kies. Dis ons omstandighede wat ons nie altyd kan kies nie.
Omstandighede is egter nie gelyk aan die lewe nie! Vers 14 sê
weerhou jou tong van kwaadpraat – dit sal jou help met ‘n gelukkige
lewe. Dit is dom mense wat soveel kwaadpraat van ander dat hulle eie lewe
dan misrabel is. Hulle praat so baie kwaad van ander, beskinder,
beswadder, verkleineer en breek af, dat hulle eie mondhoeke sommer hang
van onvergenoegdheid. Jy
sien, daai kwaadpraat is die vrug van giftige plante wat wortel geskiet
het in mense se harte. Geen wonder dit word in Ps 34 genoem as ‘n
struikelblok vir ‘n gelukkige lewe nie. As iemand die
lewe liefhet weerhou hy sy lippe van leuens, aldus vers 14(b). So, as jy
lank en gelukkig wil leef, hou op lieg! Leuens is die vrug van ‘n
onbetroubare hart. Aanhoudende leuens gooi al die meganika in jou kop
deurmekaar. Jitte, jy moet darem ‘n goeie geheue hê as jy so lieg. Dit
moet uitputtend wees om te onthou vir wie het jy nou weer watter storie
vertel het. Dit moet sin maak dat die waarheid jou ‘n lang en gelukkige
lewe gee. Jy hoef nooit oor jou skouer te kyk nie. Die waarheid is soet
soos heuning. Vir ‘n lang en
gelukkige lewe, bly weg van die kwaad af – so sê vers 15. Party mans
gaan mos vir danslesse by hierdie snaakse plekke waar die meisies met ‘n
paal dans – dan bid hulle dat hulle nie uitgevang word nie. Kuier oor
die heining, krap in die kasregister, intieme verhouding met die voggies
…. Ja-nee! Die kwaad is ‘n lelike plek. Die kwaad sal altyd die lewe
sleg maak. Die kwaad kan vir kort rukkies lekker lyk, plesier gee, maar
dan draai hy om en byt jou.
Dan paaldans jy soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaat. Vers 15 (b) sê
op ‘n positiewe noot: doen wat goed is. Om net weg te bly van die kwaad
af, impliseer nie jy doen goed nie. “Doen wat goed is”, is ‘n
aktiewe daad. Okay, okay, ek hoor jou … jy het nie tyd nie. Nee, ons het
almal 24 uur in ‘n dag; maak die keuse om van daardie tyd te gebruik om
goed te doen, en ‘n verskil te maak vir iemand – dit sal ook ‘n
verskil vir jou maak, in hoe sinvol jy jou lewe ervaar. As iemand die
lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet moet jy vrede
soek en dit najaag – so sê vers 15. Hoe hou jy daarvan? Vrede kom voor
in die woord “tevrede”. Vrede in jouself, vrede met jouself, vrede in
jou huishouding, vrede in jou werk, vrede met jou buurman, vrede in jou
huwelik, vrede met jou ouers … hoeveel vrede hy jy? Hoeveel vrede het jy
met die Here? Vrede is maklik om te kry, weet jy? Raak net van al die
gemors ontslae wat jou vrede steel. Jaag die vrede na … storm daarop af,
omhels dit en moet dit nooit weer laat los nie. Hunker na vrede. Breek al
die mure af wat vrede verhinder. Streef na iets beter. Moenie tevrede wees
met onvrede nie. Jaag vrede na. Ek dink die Here
het in Ps 34:12-15 iets groots in ‘n klein pakkie gesit met hierdie paar
gedagtes. Hier staan nie “werk jou dood”, of “maak baie geld” nie.
Ook nie “probeer die mooiste en aantreklikste en beste wees” nie. Dit
is eenvoudige beginsels. Almal kan daarby uitkom. |