|
|
|
WIE DIE WIND BLY
DOPHOU – 20 April 2009 Dis
verkiesingstyd en almal is op die een of ander manier besig met keuses en
besluite. Party doen dit aktief – hulle veg vir standpunte, terwyl ander
dit passief doen – hulle sê: “stem reg, bly weg”. Nog ander neem
net deel uit gewoonte, ander omdat hulle glo dit is wat hulle móét doen.
Ander neem nie deel nie, want hulle glo dit help niks nie – hulle kyk na
die tekens en besluit om terug te staan. Pred 11:1-6 ‘n Pragtige
skrifdeel wat praat van geloof, besluite neem, berekenend werk. Maar ….
hier in die middel van hierdie gedeelte staan: “wie die wind bly dophou,
saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie”. Sjoe, vir my sê dit: Ek dink hierdie
teks praat juis vandag kliphard, a.g.v. politiek, werklooshied, wêreldse
ekonomiese krisis, slegte verhoudinge, ens. “Wie die wind
bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie” .‘n
“Loser” sê: Hier is ‘n storm aan die kom, alles gaan verwoes word;
‘n wenner sê: dis okay, daar is ‘n storm, maar dis nou-nou weer
verby. ‘n “Loser” sê:
Oe, hier is ‘n verskriklike wind wat waai; die wenner sê: Wow, kyk die
wind, span die seile. Dit lyk my mense
reageer nou maar eenmaal verskillend in verskillende situasies – dit
hang net af van waar jou fokus lê. Dit lyk vir my
die Here het vir ons genoeg kennis en inligting gegee sodat ons berekende
besluite kan neem. So weet die boer wanneer hy moet plant, want hy weet
dat die Here volmaakte orde geskep het. Hy plant vóór die reënseisoen,
hy spandeer sy insetkoste voordat hy weet wat die oes gaan oplewer. Hy móét
dus optree in vertroue op die Here. Die film “Faith like Potatoes”, is
so ‘n skitterende voorbeeld van geloof, waagmoed en uiteindelik sukses.
Die boer het besluit om verby die wind en die wolke te kyk. Hy het nie
pateties gaan sit en “vertrou” nie, nee, hy was aktief besig terwyl hy
vertrou het. Ons het al voorheen gesê God se wagkamer is nie ‘n
passiewe, patetiese plek nie. Ek wil iemand aanhaal wat eenmaal gesê het:
“Hou op bid, moet glad nie bid nie – totdat jy alles gedoen het wat jy
móét doen en kan doen in jou situasie”. Doen en bid. Nou ja, jy moet
hierdie stelling in die regte perspektief sien. Natuurlik neem jy nie
blindelings jou besluite nie, en natuurlik bid jy vir wysheid. Die punt is
net, kom jou verantwoordelikheid na. Die Here gebruik ook jou gesonde
verstand om bepaalde uitkomste te bereik, daarom is dit soms nodig dat jy
waag, en nie net vir die wind en die wolke kyk nie. ‘n Vriend het
eendag vir my gesê dat hy al so lank bid vir ‘n ander werk, maar die
Here hou die deure toe. Ek het die volgende stelling gemaak: “As jy op
die water wil loop, moet jy uit die boot klim”. Hy het begin om sy CV
uit te stuur, en toe het die Here begin “werk”. Jy sien, van passief
na aktief. Van passief sit en bid, tot aktief sokkies optrek en begin
beweeg en jou kant bring in die situasie. Natuurlik dompel die ekonomiese
situasie ons in ernstige probleme – maar hoe sal jy optree as die boot
omval? Ek kry nogal baie oproepe van mense wat in nood is. Party vat die
passiewe pad, en bly vassteek by “bid vir my”, terwyl ander sal sê:
“Ek wil iets probeer doen aan die situasie. Hoe klink hierdie en daardie
vir jou?” – daar is nogal ‘n verskil in die uitgangspunt, of hoe? Weet jy dat van
die mees suksesvolle besighede uit nood gebore is? Dinge wat mense gedink
het nooit sou werk nie, wat doodgebore is, projekte wat teen logika ingaan
– dis juis hier waar mense sukses behaal het, omdat hulle nie na die
wind en die wolke bly kyk het nie, maar hulle het die Here dopgehou. Is jy
ongelukkig in jou werk? Sit jy al jare in slegte omstandighede? Die groot
vraag is: Wat doen jy daaraan? Kla jy heeldag? Stuur jy duisende e-posse
om vir ander te vra om vir jou situasie te bid? Versuur jy jou gesin se
lewe omdat jy sleg behandel word? Neem jy ander se gebedstyd in beslag met
iets waarvoor hulle nie ‘n gebedslas het nie? ….. terwyl jy NIKS aan
die situasie doen nie. Waarna kyk jy? Die wolke of die Here? En nou is die
verkiesingstyd. Die wolke pak saam, die stormwinde waai … dis nag! Jy sê
dalk: nee, ek gaan nie stem nie, dit help niks, alles is verlore,
zoem-zoem, en doef – weg is ons. Shame, is dit jou grootste storm? Is
dit die mees verwoestende wind wat jy al sien waai het? Onthou jy so ‘n
maand gelede toe ons ‘n gebedsdag gehad het vir die verkiesing en vir
ons land? Ek dink die Here sê vandag: “Ek sal doen wat Ek moet doen.
Doen jy net wat jy moet doen, en vertrou My vir die res”. My vriend, ek
sê vir jou, ek plant in hierdie land, en ek gaan oes in hierdie land. Dit
gaan nie oor my nie, maar oor wat die Here hier wil doen. As die Here wou,
sou die hele wêreld een groot Mauritius gewees het – idillies, volmaak,
probleemvry. Net jammer dat ons net na die mooi en goeie van die
Utopia’s kyk – weet jy hoeveel armoede is in Mauritius? St Lois is
‘n goor plek. Die Here het in jou en my soveel krag, en wysheid en
kennis ingebou. Pred 11:6 sê: “Saai jou saad in die môre, gaan in
die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal 'n oes
lewer nie”. Klink nie vir my soos ‘n saaier wat pateties
terugstaan nie. Pred 11:2 “Hou jou besittings op sewe, selfs agt
plekke, want jy weet nie watter teënspoed oor die land kom nie”.
Sien jy? Die Here skryf in Sy Woord, dat slegte tye gaan kom, oeste gaan
misluk. En jy … móét aksie neem. Is die lewe vir
jou verdoem? ‘n Mislukking? Het jy opgegee? Kyk jy net na die wind en
die wolke? Of, is die lewe vir jou ‘n uitdaging, sien jy geleenthede,
het jy nuwe idees, voel jy dis tyd om jou sokkies op te trek, en die
breinselle in te span? My vriend, geniet hierdie lewe, geniet hierdie land van melk en heuning. Kyk hoe die Here besig is, sien sy werk raak. Neem deel aan die lewe, ek herhaal: neem deel aan die lewe!
|