| 
       
		  
       | 
      
        
       
       
  | 
      
     
      
      
  | 
      
     
      | 
       Hoe 
		aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond 
		 
		
		Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die 
		sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van 
		al die gestoei om te oorleef. 
      Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met 
		heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus. 
      Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom. 
   | 
      
     
     
     | 
    
   
    | 
     
     
     
     | 
    
   
    | 
    
     | 
    
    
   
  
  
   
    | 
    Lees gerus 
	enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    
            
				25 
				September 2025 
				 
				Draai of braai... Goodbye cruel world.... Sê nou maar... Waar 
				staan ek...? Selfondersoek, wonder, twyfel, na wie moet ek 
				luister? Wat sê die Here in sy Woord? Die horlosie tik, hoekom 
				hoor ek nie ook iets nie? Opinies, veroordeling, dalk effe 
				kwaadword...  
			
				Ek glo nie dis net ek wat 
				deur hierdie emosies gegaan het die afgelope paar weke met 
				hierdie voorspellings oor die wegraping / wederkoms nie, dit was 
				so "in your face". En goddank dis verby, amper soos toe Covid 
				destyds uiteindelik verbygegaan het.  
			
				En hier is ons nou, presies 
				waar ons was voor hierdie dinge. Maar ek glo ook dat menige van 
				ons tog ook 'n bietjie selfondersoek gedoen het en dis goed. En 
				ek wéét dat ek wéét dat Jesus my Verlosser is, en dis goed 
				genoeg. En ek hoef niks te vrees nie   
			
				Maar weet jy wat my regtig 
				ontstel, is dat ek van soveel mense hoor wat hierdie ding gesien 
				het as 'n uitkoms, 'n manier om uit hierdie wrede mislike wêreld 
				te ontsnap. Nou sit ek en dink wat ek self eerder sou verkies, 
				om weg te kom uit hierdie verskriklike lewe en dan nóú al my 
				ewige lewe by die Here spandeer? Of om nóú steeds, as 'n geredde 
				persoon wat reeds bestem is vir 'n lewe saam met Hom, hierdie 
				lewe voluit te geniet, om te leef in Sy heerlikheid en die mooi 
				van die lewe raak te sien, in te drink en sy hand in alles te 
				sien? Straf die Here ons dan om ons hier te los om ons dood te 
				spartel? Is die lewe regtig só sleg? Is daar niks meer oor om 
				voor te leef op aarde nie? Is daar absoluut níks meer oor om 
				voor dankbaar te wees nie? Is die lewe op aarde niks anders as 
				hel nie?  
			
				Ai man, ek kry mense jammer 
				wat net sleg sien in alles. Is die Here nie in elk geval elke 
				oomblik by ons nie? Seën Hy dan net vir my bonatuurlik en vir 
				niemand anders nie? Om vir jou baie eerlik te sê, ek wil graag 
				hier bly totdat my tyd op hierdie aarde tot 'n einde kom. Kyk 
				hoe mooi stel Paulus dit.  
			
				Fil. 1:21-24 NLV "Want vir 
				my is die lewe Christus, en die sterwe wins. As ek aanhou lewe, 
				kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek 
				is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en 
				bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste. Aan 
				die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe."  
			
				Ons het nog soveel drome 
				vir die toekoms, ons vind soveel vreugde in ons kinders, ons 
				geniet ons onderneming so verskriklik baie, ons het so 'n 
				verwagting dat ons nog sulke mooi dinge in Suid-Afrika gaan 
				beleef. Ons is dankbaar vir goeie gesondheid en kan sulke lekker 
				dinge doen, en ons wil steeds die Here se wonderwerke dag vir 
				dag raaksien. Dalk het hierdie debakel my net weer laat besef 
				dat die Here hiér is, by my, in my en dat Hy ons onbeskryflik 
				liefhet en sy guns op ons uitstort. Goodbye cruel world? Nee, 
				hallo loving God. En laastens, kom ons hou ons oë op die Here, 
				en op die Bybel, nie op mense nie. Kom ek vra vir jou 'n vraag: 
				wil jy régtig presies weet wat more, of oor 'n jaar of 'n dekade 
				gaan gebeur? Nee, bly net stap in sy voetspore, sien elke dag 
				die mooi raak, wees lief vir mense, wees dankbaar en maak 'n 
				verskil. ~ Willem Botha 
				 
				
			
			
			
			
			Klik hier vir nog 
	Heuningdruppels >>  
	 | 
    
   
    
            
  | 
    
   
    | 
             30 Augustus  
			2025 
            As ek maar 
			net.... 
			Ek dink ons 
			almal ly maar so effe aan hierdie sindroom. As ek maar net.... Dan 
			wat? Dan sal ek gelukkig wees? Dan sal ek my lewensvreugde terugkry? 
			Dan sal die Here vir my lief wees? Dan sal ek ook iets kan doen wat 
			die Here behaag? Dan sal mense van my hou? Dan sal ek lekker kan 
			werk in my beroep? 
  
			Ai, ons mense 
			sukkel maar met onsself en ons omstandighede.  
			As ek maar 
			net.... 'n paar kilo's kan afgooi, dan sal mense my nie snaaks 
			aankyk nie. Weet jy wat? Niemand gee 'n blou duit om nie, want 
			elkeen wat (volgens jou) vir jou so aankyk, ly aan presies dieselfde 
			sindroom.  
			As ek maar 
			net.... by die werk meer aanvaarbaar kan wees, sal mense ophou 
			skinder van my. Ai tog mens, mense skinder nie omdat daar fout is 
			met jou nie, mense skinder omdat daar fout is met hulle. Jy kan 
			hulle nie verander deur jouself te probeer verander nie.   
			As ek maar 
			net.... so bietjie hoër salaris gekry het, sou ek ook dit of dat kon 
			koop om beter te voel oor my leefwêreld. Wel, hoeveel meer? Daar is 
			'n opvatting dat elkeen sou kon doen met so 10% meer. Jip, elkeen, 
			almal wat báie minder as jy verdien, maar ook almal wat báie meer as 
			jy verdien. Die prys om net agter aardse dinge aan te hardloop, is 
			te hoog, en jy gaan dit nooit haal nie. 'n Baie ryk man het eendag 
			by 'n manne ontbyt die volgende gesê: Ek beweeg in die kringe van 
			die rykstes van die rykes, en ek ken nie één wat genoeg het nie. 
			As ek maar 
			net... ook in 'n mooi huis in 'n estate kon bly. As ek maar net.... 
			ook 'n mooi motor kon koop. As ek maar net.... vir my kinders super 
			geleerdheid kon gee. As ek maar net.... so geestelik soos daardie ou 
			kon wees. As ek maar net.... in 'n beter huis kon grootword. As ek 
			maar net.... ook 'n goeie geleerdheid kon hê. 
			Dan wat? Die 
			probleem is dat niemand van ons met nét een van hierdie bogenoemde 
			uitdagings stoei nie, dis sommer omtrent álles, en nog vele meer. 
			Hierdie goed 
			laat mens soms nogal misrabel voel, en hoe meer jy toelaat dat 
			hierdie kop-goggas jou denke oorheers, hoe erger raak dit. Wat is 
			die antwoord? Hoe sal ek vrede kan kry met my lewe?  
			Ek het eendag 
			besef dat die "vrede" voorkom in die woord "tevrede". Mense wat 
			tevrede is met hulle omstandighede, hoe sleg dit ookal mag wees, se 
			lewe is baie meer sinvol as ander mense wat nooit ophou jaag agter 
			beter omstandighede aan nie.  
  
			Daarom is my 
			gebed vandag vir jou (en vir myself) die volgende: 
			Heb. 13:5 "Hou 
			julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. 
			God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die 
			steek laat nie.”  
			En daarmee 
			saam...  
			Fil. 4:7 "En 
			die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle 
			harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." ~ Willem Botha, 
			 
			 
			
			
			
			
			
			Klik hier vir nog 
	Heuningdruppels >>  | 
    
   
    
            
  | 
    
   
    | 
             13 Augustus  
			2025 
			My broer 
			sterf sowat twee weke gelede eensklaps, totaal onverwags, sonder 
			waarskuwing, sonder enige slegte mediese toestand. Een oomblik 
			lewend, die volgende oomblik oorlede. Dit word uit die aard van die 
			saak weens natuurlike oorsake aangedui. 
  
			En toe, soos 
			duisende kere tevore, wonder ek wat die definisie van "lewe" is. 
			Nadat 'n persoon só sterwe is elke atoom, molekule, sel ens. steeds 
			teenwoordig in die liggaam, daar is absoluut niks "weg" nie, behalwe 
			dit wat ons "lewe" noem.  
  
			Ek het vir 
			ChatGPT gevra om dit vir my te verduidelik, maar ook daar is geen 
			klinkklare verduideliking wat sin maak nie. Gaan lees gerus daaroor.
			 
			Indien iemand 
			so sterf kan die persoon se lewe dalk gered word met drastiese 
			mediese ingryping, maar die tyd venster is baie baie kort. Jy het 
			enkele minute, indien dit enigsins suksesvol sou wees, het, daarna 
			is jou kanse verby. Die sukses syfer om iemand se lewe hoegenaamd te 
			red is in elk geval baie skraal.  
  
			Nou vra ek 'n 
			moedswillige vraag. Daar is wetenskaplikes wat beweer dat hulle kan 
			verklaar wat lewe is, en selfs "lewe" op 'n baie elementêre vlak kan 
			skep, maar dis hoegenaamd nie waar nie. Daarom moet ons immers op 
			een of ander manier 'n sinvolle antwoord kry op die vraag na die 
			oorsprong van lewe. Wat 'n absolute dwaas kan glo dat dit net 
			vanself, toevallig ontstaan (het).  
  
			Die Bybel 
			verklaar onomwonde dat God lewe skep en in stand hou.  
			Maar kom ons 
			vat die uitdaging 'n bietjie verder. Kom ons neem daardie liggaam 
			wat 10 minute gelede gesterf het, en ons kry die mees briljante 
			wetenskaplikes bymekaar en vra dat hulle die lewe moet terugsit in 
			daardie liggaam, en niemand sal weet wat om te doen en waar op te 
			begin nie. Dis totaal hopeloos!  
  
			En tog is 
			daar derduisende getuienis van mense wat dood verklaar was (soms 
			baie lank) en die lewe kom terug. In bykans alle gevalle getuig 
			daardie persone van 'n ontmoeting met die Here, dikwels 'n ervaring 
			van die hemel, 'n wit lig, Jesus in 'n menslike gestalte en selfs 
			dat hulle van hulle gestorwe geliefdes gesien het. 
  
			Kom ons bly 
			by die wetenskap. Geen dooie wese kan geboorte gee nie (behalwe met 
			drastiese mediese ingrype wanneer die moeder sterwend is). Geen 
			dooie stuk materie kan skielik begin lewe nie.  
			Dus kan ons 
			aflei dat daar 'n eerste lewende wese moes wees.  
			Gen. 2:7 "Die 
			Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en 
			lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword 
			het." 
  
			Hoe hard die 
			wetenskap ook al 'n ander verklaring mag uitdink, en hoe min jy ook 
			al mag gló, daar is niks wat by hierdie teks kan kers vashou nie. 
			Dit sluit die mens se vermoë om lewe te skep heeltemal uit en die 
			wetenskap se hande bly afgekap.  
  
			Maar hoe 
			verlaat die lewe dan die liggaam? Wel, daar het die Bybel steeds die 
			enigste sinvolle antwoord.  
  
			Pred. 12:7 
			"... die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit 
			was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het."  
			"Stof tot 
			stof", soos in die Bybel beskryf, word in elke enkele opsig deur die 
			wetenskap ondersteun en aanvaar. Terloops, elke enkele atoom in jou 
			liggaam is dood, jy is 'n heelal van dooie atome, maar steeds lewe 
			jy! Dink bietjie hieroor.  
  
			Wat is lewe? 
			Wel, as jy nou hier kan lees lewe jy, en ek hoop jy is uiters 
			dankbaar daaroor, en ek hoop jy maak die beste van elke oomblik. 
			Vernaam as jy dit saam met jou geliefdes kan geniet.  
  
			Gee elke dag 
			vir God die eer vir nog 'n dag van lewe, en laat jou lewe 'n verskil 
			maak aan ander.  
			Maar lewe so 
			dat jy vir ewig die Ewige Lewe by God kan hê. ~ Willem Botha 
			
			 
			
			
			
			
			
			Klik hier vir nog 
	Heuningdruppels >>  | 
    
   
    
            
  | 
    
   
    | 
			 
			
			Hande - myne en God s'n 
			 
            
			
			 Ek 
			het die afgelope tydjie die tema van hande oordink 'n paar kort 
			stukkies daaroor geskryf: 
			- my eie hand: pynlik a.g.v 
			artritis en gevolglike operasies aan my vinger 
			- doen met toewyding alles wat jou 
			hand vind om te doen  
			- Jesus se hand wat genesing bewerk 
			- wat het jy in jou hand? 
			- opstandige, ongehoorsame, sondige hande 
			- Pilatus se hande van onskuld 
			- die skild van geloof in jou hand 
			- all of these lines across my hand 
			- put your hand in the hand of the Man who stilled the water 
			- skryf op jou hand: die Here s'n 
			- my God het sy goeie hand oor my gehou 
			- in die skaduwee van God se hand 
			- Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou 
			- dis Kersfees - kyk na Jesus se hande en glo 
			 
			
			Klik 
			hier as jy dit wil lees >>  | 
    
   
    
			
  | 
    
   
    | 
			 
			
			So sê die Here, Here 
			
            
			  
			Toe ons dogter Februarie in die tagtig jaar oue 
			kerk in Clarens getroud is, het die woorde op die kanselkleed 'n 
			groot indruk op my gemaak: "So sê die Here, Here". Hoe kragtig en mooi is dit nie! 
			Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur 
			sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en 
			redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde 
			wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy 
			sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings, 
			woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees 
			... 
			Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor 
			hierdie tema te lees >>  | 
    
   
    
			
  | 
    
   
    | 
			 
			
			Breek brood 
			 
			Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê: 
			ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd 
			saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met 
			iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n 
			spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term 
			het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die 
			brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle 
			gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk 
			toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het 
			aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir 
			my dat Jesus Homself gegee het.  Die Brood wat lewe gee is gebreek 
			en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy 
			ook vandag daarvan kan eet .... 
			
			Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>  | 
    
   
    
			
  | 
    
   
    | 
			 
			
			Leer by Nehemia 
			 
			Ek het bietjie deur Nehemia gelees en 'n paar lewenslesse oor gebed, 
			afhanklikheid, vertroue, lofprysing ens. geleer. Ek het 'n klompie 
			daarvan neergeskryf. 
			
			Klik hier as jy dit wil lees >> 
   | 
    
   
    
			
  | 
    
   
    | 
			 
			
			Vrae wat 
			die Here vra 
			 
			Ek het  êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die 
			Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel 
			dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie 
			gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat 
			Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot 
			vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om 
			dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig 
			geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en 
			na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in 
			verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat 
			baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor 
			die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees 
			(en beantwoord!) 
			
			Klik hier >>
			Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek 
			en oordink  wat mense in die Bybel vra. 
			
			Klik hier as jy verder daaroor wil lees >> 
   | 
    
   
    
			
  | 
    
   
    | 
			 
			
			Musiek en 
			lofprysing 
			 
			Ek het in die 
			laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit 
			die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor 
			geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my 
			opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit 
			alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die 
			Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens 
			die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar 
			ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd 
			aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier 
			bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou 
			inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer 
			van die Here.  
  
			
			
			Klik hier vir alles >>  | 
    
   
    
            
  | 
    
   
    | 
             
			
			Wie is God  
			vir jou? 
			 
			Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 
			kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy 
			genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel 
			in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap 
			van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal 
			die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 
			sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web 
			nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan 
			deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom 
			kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan 
			akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat 
			begin het by Eks 3:13 
			 
			...  
			
			
			 lees verder >>  | 
    
   
    
            
  | 
    
   
    | 
             
			Julle moet 
			mekaar ... 
			  
			Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n 
	klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar 
	aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor 
	mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en 
	in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra, 
	mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en 
	lofliedere saam sing ...  
  
			
			
			As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te 
			lees >>  | 
    
   
    
	
  | 
    
   
    | 
	 
	
	
	Jesus het hulle innig jammer gekry 
	Ek het vir die 
	afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie 
	stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat 
	mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my 
	so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige 
	God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en 
	hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep 
	meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my 
	persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade 
	is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en 
	uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en 
	onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol 
	liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, 
	dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. 
	Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal 
	is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg 
	vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle 
	hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik 
	goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. 
	(Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha 
  
	Ek het al die 
	stukkies hier bymekaargesit –
	
	
	klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >>   | 
    
   
    
	
  | 
    
   
    | 
	 
	
	Bring die hoop weer terug 
	Ek het die afgelope tydjie bietjie 
	gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop 
	gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes 
	wat ek neergeskryf het. 
	Lees hier meer >> 
   | 
    
   
    
	
  | 
    
   
    | 
	  
	Wonderwerke 
	van Jesus uit Johannes 
  
	Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die 
	wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die 
	einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen 
	het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word, 
	dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh. 
	21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink nie 
	dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net 
	met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die 
	Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke 
	vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar 
	hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus 
	is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” 
	(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke 
	beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn 
	verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die 
	regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof 
	in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood 
	vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na 
	die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, 
	het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe 
	die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om 
	uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se 
	wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof 
	nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig 
	oor Sy werke in ons lewe nie.  
	Terwyl ek deur die 
	wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf. 
	 
	
	Lees gerus hier meer daaroor >> 
	 | 
    
   
    
	
  | 
    
   
    | 
	 
	
	Jesaja se Goud - klik hier >> 
	  Die 
	afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees.  Ek het 
	maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie 
	altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al 
	die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke 
	hoofstuk, op elke  bladsy  van die boek, het ek die wonderlikste goud 
	uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te 
	onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad 
	van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat 
	God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort 
	boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou 
	almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja 
	se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan 
	versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei. 
	 
	
	Lees 
	gerus meer hier >>  | 
    
   
    
	
  | 
    
   
    | 
	 
	
	
	My 18 G's vir 2018 
	- klik hier >> 
	 
	Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi 
	seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde 
	ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér 
	’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval 
	dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, 
	gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe 
	besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 
	G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan 
	seker my eerste G vir die jaar wees ... 
	
	lees verder >> 
   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	
	Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >> 
	 
	
	   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	
	Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik 
	hier >> 
	
	   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	Kort 
	dagstukkies uit Spreuke - klik hier >> 
	 
	
	   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	Kort 
	dagstukkies uit Fillipense - klik hier >> 
	 
	   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	Kort 
	dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >> 
	 
	
	   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	
	
	Kort dagstukkies 
	uit Jona - 
	klik hier >> 
	 
	
	   | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     
	
	 Facebook 
	Groep 
	Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en 
	waar jy welkom is om saam te gesels. 
	
	Klik hier >>  | 
    
   
    
    
  | 
    
   
    | 
     | 
    
   
    | 
     
	Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met 
	verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) 
    
     
     
     | 
    
   
    | 
    
     | 
    
   
   
   |