Hoe aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond

Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
 



Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

04 Maart 2021
 

“Wil jy gesond word?” Wie van ons sou nie met ons hele wese ja antwoord op dié vraag wanneer jy siek is, in pyn verkeer, as behandeling nie vinnig genoeg help nie, as die dokter self raadop is, as daar geen ander hulp is nie? Hoeveel te meer as dit Jesus sélf is wat dié vraag  vra. Jesus, die Groot Geneesheer, Wonderwerker, Helper, Redder. In Joh. 5:6 vra Jesus dié vraag aan ’n man wat al agt en dertig jaar lank siek was en elke dag by die bad van Betesda saam met vele ander siekes gewag het op genesing. Soms vind genesing plaas deur ’n wonderwerk, soms gebeur dit terwyl ons bid, soms gebeur dit wanneer iemand sy hande op jou lê en jou met olie salf, maar meestal gebeur dit deur die hulp van ’n dokter, deur ’n operasie, dalk chemoterapie, dalk ’n inspuiting, pilletjie of stropie, salf of pleister. Ek glo die Here wil ook hê dat ons ons liggame moet oppas en voorsorg tref om nié siek te word nie, soos bv. om beskikbare entstowwe te gebruik. Ek weet daar is deesdae lang debatte en meningsverskille oor die Covid-entstowwe, maar tog vertrou ek dat dit ’n hulpmiddel uit die Here se hand is. Hoe dit ook al sy, alle genesing kom áltyd van die Here af, al is dit deur medisyne of watse mediese hulp ook al. Hou daarom voortdurend jou oog op die Een wat genees en nie die geneesmiddel nie. Ons lees dikwels hoedat Jesus mense met die spreek van ’n woord genees het, maar tog wel ook op ander maniere. So  bv. het Hy spoeg aan die doofstom man se tong gesmeer (Mark 7:33) of klei gemaak van spoeg en grond om aan ’n blinde se oë te smeer (Joh. 9:6). Heel dikwels het genesing oombliklik plaasgevind, maar tog het die tien melaatses eers gesond geword toe hulle op pad is om hulleself aan die priesters te wys. (Luk. 17:14) Meestal kom genesing nie in ’n oogwink nie en vereis dit uithouvermoë en geduld van ons kant af. Dikwels moet ons weer en weer bid en nog ’n keer pleit vir die Here se aanraking. En ja, soms kom daar nie genesing nie. Ons ken al almal iemand wat dood is aan kanker of Covid, ons weet almal van iemand wat met een of ander ongeneeslike siekte saamleef. Ons verstaan dit nie en ons kan dit nie verklaar nie, dit ís egter ’n realiteit. Ons rus en troos lê daarin dat ons nie alleen is nie en dat die Here se arms altyd rondom ons is ... selfs al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee. Kom altyd na die Here met jou pyn – sy hart is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien jou desperaatheid. Stort jou hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir genesing, nog ’n keer vir Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Mag Hy dit vir jou ook doen. ~ Wilna Botha
 

Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


03 Maart 2021
 

Spr. 9:10 "Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig."
Salomo was 'n wyse man, en het baie oor wysheid geskryf. Jy ken seker ook mense uit wie se monde bonatuurlike wysheid vloei, ja nie net ou mense nie, selfs jongmense en kinders. Ek het vanmiddag gewonder wat ek vir die Here sou vra as ek moes kies tussen welvaart en wysheid, en baie gou het ek besef dat wysheid die mees besonderse kwaliteit is wat mens kan hê. 'n Dwaas klink soos 'n leë blik, hy raas so baie soos een en dwing geen respek af nie, maar 'n wyse man kan jy onmiddellik tussen duisende ander uitken. Hoe wonderlik sou dit wees as die regering van 'n land deur wyse mense gelei is, hoe wonderlik sou dit wees as al jou kliënte wyse mense was, en as jou baas 'n wyse persoon is. Daar is so baie dinge in 'n wyse persoon se mondering ingeweef: kennis, integriteit, eerlikheid, regverdigheid en inbors. Sê nou maar elke pa het net met wysheid opgetree, en dit by sy kinders ingeplant. Die wêreld sou 'n beter plek wees. Jesus het nie een woord gespreek wat nie die ene wysheid was nie. Ja, wyse mense is nie volmaak nie, maar hulle maak 'n verskil. Kyk net wat 'n wyse man kan vermag:
Spr. 21:22 " 'n Wyse man kan selfs 'n stad vol dapper verdedigers oorwin en die vesting waarop hulle vertrou, laat val." ~ Willem Botha


Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


Musiek en lofprysing

Ek het in die laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer van die Here.
 

Klik hier vir alles >>


Wie is God  vir jou?

Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat begin het by Eks 3:13

... 
 lees verder >>


Julle moet mekaar ...
 

Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra, mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en lofliedere saam sing ...
 

As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te lees >>


Jesus het hulle innig jammer gekry

Ek het vir die afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
 

Ek het al die stukkies hier bymekaargesit – klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >>


Bring die hoop weer terug

Ek het die afgelope tydjie bietjie gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes wat ek neergeskryf het. Lees hier meer >>
 


Wonderwerke van Jesus uit Johannes
 

Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh. 21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink nie dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig oor Sy werke in ons lewe nie.

Terwyl ek deur die wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.

Lees gerus hier meer daaroor >>


Jesaja se Goud - klik hier >>
 

Die afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees.  Ek het maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke hoofstuk, op elke  bladsy  van die boek, het ek die wonderlikste goud uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.

Lees gerus meer hier >>


My 18 G's vir 2018 - klik hier >>

Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér ’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan seker my eerste G vir die jaar wees ... lees verder >>

 


Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>


Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>


Kort dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Jona - klik hier >>



Facebook Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en waar jy welkom is om saam te gesels. Klik hier >>


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


 


Aantal besoekers