|

|
|
|
|
Hoe
aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond
Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die
sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van
al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met
heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
|
|
|
|
|
|
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
|
15 Maart 2026
Hoeveel keer
nog?
... voordat
jy die Here raaksien?
Hoeveel keer
moet die Here nog aan jou hart klop en jou vra om vir Hom oop te
maak om in jou te kom woon? Daardie dae wat jy weet jy weerstaan hom,
maar jy is te bang omdat daar so bietjie vrees is oor wat Hy van jou
gaan verwag?
Hoeveel keer
moet Hy Homself nóg openbaar in die natuur? Daardie tye wat jy jou
verwonder aan die ongelooflike mooi kleure na 'n bui reën, en daar
boonop 'n reënboog verskyn wat jou herinner aan sy belofte dat Hy
ons nie weer sal uitdelg nie.
Hoeveel keer
nog gaan jy Hom as Skepper misken as jy 'n pasgebore babatjie in jou
arms hou, daardie onbeskryflike reuk van die poeier op 'n volmaakte
wesentjie wie se lewetjie wonderbaarlik tot stand gekom het. Wanneer
jy wonder hoe daai kindjie dit regkry om self asem te haal die
oomblik na geboorte. Hoe kan dit jou nie in verwondering laat nie?
Hoeveel keer
wil jy die Here uit die prentjie laat as 'n byna onverstaanbare
wonderwerk op jou pad gekom het? Daardie onverwagse oproep vir 'n
nuwe werk wanneer jy dit so bitter nodig het. Daardie hulp wat kom
deur iemand van wie jy dit nie verwag nie. Daardie barmhartige
Samaritaan wat omgee sonder om jou te ken.
Hoeveel keer
nóg gaan die mooiste klanke van musiek by jou verbygaan wat jou
emosioneel aanraak wanneer jou ore dit nodig het om dit te hoor? Net
12 note wat in ontelbare patrone gerangskik kan word in eenvoudige
melodieë, maar soms ook uiters ingewikkelde patrone wat oor hordes
genres span. Musiek waarmee die Here se lof besing word, of musiek
wat jou hartsnare roer, musiek waarmee die mooiste liefde vir mekaar
besing kan word. Musiek wat deur die mens geskep word, wat nie deur
enige dier gerangskik en weergegee kan word nie. Maar, die Here laat
tog 'n voëltjie 'n bekende geluid voortbring, elkeen na sy aard, op
so 'n manier dat jy hom kan herken sonder dat jy hom sien.
Hoeveel keer
gaan jy dit nóg miskyk dat die Here met slegs 26 letters van die
alfabet, in menige kombinasies, woorde vorm waardeur Hy Homself aan
die mens openbaar? Woorde voortgebring deur vele skrywers, oor meer
as 'n duisend jaar, wat oor en oor Sy liefde vir die mens beskryf.
Hoeveel keer
gaan jy nog die wonder van tegnologie miskyk wat die lewe van die
mens verbeter (ongelukkig nie altyd nie), wat onder andere maak dat
elke mens op aarde nou sy Woord kan hoor en lees, selfs in geslote
lande.
Hoeveel keer
gaan jy dit nog miskyk dat dít wat die Here aan die mens openbaar en
laat ontdek, maak dat jou liggaam kan herstel met medikasie,
ingenieurswese en innovasie wat enkele jare gelede nie bestaan het
nie.
Hoeveel keer
gaan jy nog die wonderbaarlike skoonheid van ons eie land en sy
mense miskyk omdat jy glo dat die antwoord tot 'n aangename en
gelukkige bestaan elders lê?
Hoeveel keer
gaan jy nóg die seëninge wat die Here vir jou skenk miskyk, omdat
die "Jones next door" se lewe beter lyk as joune? Of dat jy
ongemaklik is met jou uiterlike omdat ander beter lyk. Moenie ander
se uiterlike met jou innerlike vergelyk nie. Jy is presies só
geskape as wat die Here jou beplan het.
En so kan ons
aangaan en aangaan om die Here mis te kyk in 'n wêreld waar alles
beslis nie volmaak is nie, maar dat die goeie hoofsaaklik oor die
slegte seëvier, ás jy lus is om dit raak te sien en nie net
vasgevang is in die woorde van die doemprofete wat alles om hulle
haat en verag nie.
Mag die Here
in hierdie dag vir jou uitbundige vrede en vreugde laat ervaar in
dít wat reg voor jou oë is, dít wat jy kan voel, hoor, sien en ruik.
As jy daarop
ingestel is, is dit onmoontlik om Hom mis te kyk.
As jy wil...
~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
8 Maart 2026
Ek probeer
verstaan
God. ‘n
Baie bekende woord, ‘n baie bekende naam, ‘n baie bekende Persoon.
Die mees bekende Persoon op aarde, en in die hemele. Mense roep Hom
aan, mense het verskillende opinies oor Hom, mense verbind aan Hom
uit verskillende verwysingshoeke, ons probeer Hom peil en plot. Sy
naam word soms as ‘n skelwoord gebruik, sommiges betwyfel Sy bestaan,
ander word kwaad vir Hom. party soek hulle lewe lank na Hom, en kry
Hom nooit. Ander beweer Hy het Hom aan hulle openbaar, hulle kry
drome waarin Hy met hulle praat .... maar ek nooit. Waar kom Hy
vandaan? Hoe lyk sy woonplek?
Job
23:1-17
Toe het
Job weer gepraat: “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie
ophou kla nie. As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na
sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom
stel. Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy
vir my wil sê. Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer
nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens
wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter
vrygespreek word. Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie,
na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees,
ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom
nie. Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. Ek volg
Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai nie af nie. Sy bevel
verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie
begeertes. Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan? Wat Hy wil, doen
Hy. Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen, wat sy planne met my ook
al is. Daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan,
maar ek bly Hom vrees. God het my weerstand afgebreek, die Almagtige
het my met angs vervul. Maar in hierdie donkerte het ek nie
stilgebly nie, in hierdie duisternis wat my oorval het.”
Dis Job se
woorde; en so voel ek ook. Ek praat oor Hom en bedien mense op
verskeie plekke; ek was jare lank betrokke met evangelisasiewerk,
waar ek die evangelie met baie mense gedeel het; daar is vrug op ons
werk .... maar as jy my vandag vra om Hom te verduidelik, Sy weë uit
te pluis, Hom op ‘n manier in ‘n boks te plaas sodat Hy en wat Hy
doen kan sinmaak, dan kan ek nie. Want ek verstaan Hom nie. Ek
verstaan tonne dinge wat Hy doen en toelaat net eenvoudig glad nie.
Soos Job sê: “Ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees”. Maar
nogtans kan ek onomwonde sê: ek is werklik lief vir Hom.
Hoe baie
probeer ons nie om in ons eie menslikheid formules aan Hom toe te
ken en Hom te probeer verduidelik nie. E=mc2 is Einstein se formule.
Dit verduidelik die son wat skyn, en hoe ‘n atoombom groot
verwoesting laat plaasvind. ‘n Klein bietjie massa word vernietig en
onbeskryflik baie energie word vrygestel. Ek verstaan die formule
... soort van. Maar watter formule beskryf die Here? God = , God is
gelyk aan wat?
Eks
3:13-14
Daarna sê
Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir
hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’
en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete
sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
“Ek is..”.
Ek is wie? Ek is wat? Dié beskrywing beskryf nie in verstaanbare
taal wie Hy regtig is nie.
Verstaan
jy Sy werke? Ek bely vandag dat ek nie verstaan nie. Jy sien, dit is
hierdie ding van “on-verstaan”, wat maak dat ongelowiges vir
Christene uitlag. Want, ek moet self sê ek verstaan nie hoekom ek
glo nie.
Heb 11:1
Om te glo,
is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees
van die dinge wat ons nie sien nie.
... dit
maak net eenvoudig nie sin nie. Ek verstaan nie hoekom ek onwrikbaar
glo in die maagdelike geboorte, die kruisiging en opstanding en
hemelvaart van Jesus nie. Ek verstaan nie, maar ek GLO dit! Hoe maak
dit sin....?
Hoekom
leef ons so goed in Suid-Afrika, in hierdie lieflike sonskynland?
Maar ‘n paar duisend kilometer Noord gaan kinders dood van die
honger. Hy is tog sekerlik net so lief vir daardie mense as vir ons,
of hoe? Hoekom raak ‘n wonderlike, wedergebore egpaar se kind
verslaaf aan dwelms, maar my kinders nie? Hoekom bid ons intensief,
in volle afhanklikheid van God, vir ‘n kind met kanker en dan gaan
daardie kind dood? Intussen sit ‘n boemelaar, so vuil dat jy nie met
‘n tang aan hom kan vat nie, op die sypaadjie en bedel; dalk voel hy
niks eers vir die Here nie. Al sy organe werk perfek - dit kan tog
seker eerder vir iemand anders, ‘n goeie mens, aangewend word?
Hoekom word mense gestremd gebore? God wat die mensdom dan so
volmaak geskep het. Maak Hy dan so nou en dan ‘n ou foutjie?
Maar... om
een of ander onverklaarbare rede, hou hierdie siekes, en gestremdes,
en getraumatiseerdes, hierdie mense wat soms so gebroke is,
onwrikbaar vas aan hulle geloof in God. So asof hulle hierdie
“magic” formule ken, wat ek nog nie ontdek het nie. Hoekom draai
hulle nie hulle rug op Hom nie? Nee, hulle vlug juis na Hom toe! En
kry ongekende vertroosting. Ek verstaan nie...?
Uiteindelik kom ek toe tot hierdie besef; en ek stel dit in ‘n vraag:
sê nou maar ek hét Hom verstaan, en ek hét Sy formule geken, sou Hy
dan nog steeds ‘n God vir my gewees het? Sou Hy nog majestueus en
soewerein gewees het? Belangrikste van alles: sou ek nog geloof
nodig gehad het? Kom ek sê nou reguit hoe ek voel: Ek kies honderd
persent om nie te verstaan nie, maar om te glo. Nie andersom nie. So
weet ek dat die Heilige Gees in my woon. So verstaan ek dat Jesus se
kruisdood my heil is, en dan kan ek glo in ‘n ewige lewe saam met
Hom.
As ek hom
verstaan het, sou ek deurgaans kon eis vir verduidelikings; Hy sou
altyd moes “please explain” vir dinge wat Hy toelaat. Hy skuld my
niks, maar tog oorlaai Hy my met genade. Ek verdien niks, en tog
leef ek in oorvloed. Wil Hy nie dalk hê dat ek net so bietjie moet
deel van hierdie oorvloed nie? Goddank, Hy vat nie alles weg waaroor
ek soms so kla nie. Sê nou maar net ek het vandag nét dit gehad
waarvoor ek gister dankie gesê het? Sê nou net Hy vat jou kinders
weg oor wie jy so kla? Of jou werk wat jy so swaarmoedig doen? Of
jou wederhelf wat net nooit goed genoeg is nie? Of jou huis wat te
klein geword het omdat jou goed so baie geword het? Of jou
gesondheid wat jy dalk opmors? Maar dit lyk my Hy doen dit nie
sommer nie.... en DIT verstaan ek regtig ook nie. Soms mors ek met
Sy genade, maar Hy onttrek dit nie.
....
daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek
bly Hom vrees. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
4 Februarie 2026
Waarheid
Jy kan
niks meer glo nie, absoluut niks. Definitief nie een woord wat uit
'n politikus se mond kom nie. En o wee, alles wat op sosiale media
opgedis word, moet jy maar met 'n knippie sout vat. Definitief as
daar 'n mooi foto geplaas word, is dit dalk met AI geskep, videos
word so gemanipuleer dat jy nie kan agterkom dis "fake" nie, en jy
kan selfs vir Trump laat Hansie slim sing.
Wat is
waarheid, die hele waarheid, die volle waarheid, en niks anders as
die waarheid nie? Is die volle waarheid van elke saak moontlik om te
meet? Hoekom hou ons nie altyd van die volle waarheid nie? Ja jitte,
leuens is ’n lelike ding. Onwaarheid, lieg, verswyging van feite,
jok, wit leuens. Wit leuentjie? Is dit lieg? Dis mos sommer so 'n
onskuldige storietjie; dis darem nie te erg as ons dit kwytraak nie,
of hoe? Las so vier duim by die vis aan wat ons gevang het. Sny so
'n paar honderd rand af van die geld wat ons gesteel het. Het jy ook
onlangs gelieg? Hoeveel keer hierdie jaar? Gister, dalk vanoggend?
Gelieg by die werk, vir die werk, oor die werk, op jou verlofvorm?
Ek hoop jy voel nou saam met my skuldig! Wie van ons kan sê dat ons
altyd, onomwonde in die waarheid wandel?
Spr.
6:12-13: "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg
is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet
te beduie, met die vingers tekens te gee."
Hoe
wonderlik sou dit nie wees as elke mens op aarde aan die volle
waarheid kon vashou en dit uitleef nie? Daar sou geen regstelsel
nodig wees nie, en daar sou baie meer vrede wees as wat daar nou is.
Maar o wee, toe besef ek iets anders. As ek vir vroulief sou vra of
ek dik lyk, sou sy moes sê: Ja, maggies man, as jy jou kop intrek
kan jy rol! Nou ja, ek weet nie wat om met daardie een te maak nie.
Dit lyk my
in sommige beroepe word die waarheid maar dun gesmeer, anders werk
dinge nie mooi uit nie. Ek het eendag gewonder hoekom geen mans,
jonk of oud, en geen jonger dames dan ooit motors besit nie, want
elke tweedehandse motor wat jy wil aanskaf het aan 'n ou tannie
behoort! En terloops, sy het saans die motor se deure oop gelos
sodat die rubbers nie hard word nie.
Sê 'n
advokaat eendag tong in die kies: Jy is onskuldig tot jou geld op
is...
Ja ons
spot met sommige beroepe, maar daar is nie een enkele beroep wat vry
van leuens is nie, want hoe op aarde kan 'n beroep jok? Dis die mens
wat jok.
Ongelukkig
jok ons vir die Here ook. Ek dink ons (laat ek eerder net van myself
praat), jok daagliks vir die Here, en dis maklik want niemand anders
hoor dit nie. Mag Hy ons ook dit vergewe. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
4 Februarie 2026
Kom,
glimlag 'n bietjie.
Hierdie
foto is deur die James Webb teleskoop geneem en dit wat jy hier sien
is nie sterre nie, dis galaksies met miljarde sterre in elke blink
kolletjie..
Volgens
wetenskaplikes is daar meer sterre in die heelal as al die
sandkorrels op aarde. Dink aan 'n emmertjie sand op die strand en
probeer raai hoeveel sandkorrels daarin is en jy sal besef dis
onmoontlik. Neem ál die sandkorrels op die hele aarde (ja ook
daardie paar miljard wat in jou tuin lê) en dink hoeveel sterre daar
moet wees. Dis ondenkbaar. Dan lees jy nou hierdie teks 'n keer of
wat deur.
“Hy bepaal
die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” (Ps. 147:4)
Nie "Hy
hét hulle name gegee nie", dit sê Hy géé hulle name, want daar vorm
miljoene nuwe sterre op hierdie oomblik. En Hy hardloop nie uit name
uit nie.
Hoe voel
jy vandag? Bietjie af, so asof die Here jou en jou probleme miskyk?
So asof Hy jou vergeet het?
Lees die
volgende teks sommer 'n paar keer deur en deurdink dit noukeurig:
"Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en
die sterre wat U gevestig het – wat is 'n mens dan dat U aan hom
dink, 'n mensekind dat U aan hom aandag skenk? U het hom net minder
as 'n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon."
(PS. 8:4-6 AFR20)
Besluit
nou of jy die sinnelose goed glo wat die wêreld vir jou opdis, en of
is jy bereid om te glo wat die Here vandág vir jou sê? Daar is mos
net één keuse en één waarheid, of hoe? ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
Facebook
Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons gereeld heuningdruppels oplaai, en
waar jy welkom is om saam te gesels.
Klik hier >> |
|
|
|
|
Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met
verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)
|
|
|
|