TENT VAN ONTMOETING
As mens deur die Bybel lees oor die “geskiedenis” van die kerk as die
“huis van die Here”, dan begin dit by die “tent van ontmoeting”. Moses het
‘n tent opgeslaan buite die kamp wat gedien het as ontmoetingsplek met die
Here. (Eks 33:7) Wanneer Moses na die tent toe gegaan het, het die hele
volk opgestaan en by die ingang van hulle tente gaan staan. Dan het die
wolkkolom (die Here se teenwoordigheid) afgekom en by die ingang van die
tent van ontmoeting gaan staan en dan het die Here met Moses gepraat,
direk soos ‘n man met sy vriend (Eks 33:11). Wanneer die volk die
wolkkolom gesien het, het hulle in aanbidding en eerbied gebuig. Dit was
‘n gewone tent, maar omdat dit opgeslaan is as ontmoetingsplek, was dit ‘n
heilige plek – waar God teenwoordig is / waar hy “praat”, is dit heilig.
Soos bv waar God met Moses gepraat het in die brandende doringbos, en vir
hom gesê het om sy skoene uit te trek, want die plek waar hy staan is
gewyde grond (Eks 3:5)
VERBONDSARK & TABERNAKEL
Ons lees voorts in Eks 25 van die Verbondsark as “huis van die Here”. Die
inisiatief en opdrag om die ark te bou kom van God af. Hy gee presiese
instruksies oor hoe die ark gemaak moet word (Eks 25:10 22); Sy doel
daarmee is: “hulle moet vir My ‘n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan
woon” (Eks 25:8); “daar sal Ek jou ontmoet”, daarvandaan sal die Here
praat en sy bevele vir die volk gee (Eks 25:22). Dit is dus bedoel as God
se blyplek tussen die mense (sy huis), as die ontmoetingsplek met Hom.
Verder gee die Here opdrag aan Moses om ‘n Tabernakel
te maak (in Eks 26 ev is die instruksies vir die maak, en in Eks 25-40
lees ons hoe die Tabernakel met al sy toebehore gemaak is deur die
vakmanne, nadat die hele volk offergawes gegee het van goud, silwer, brons
ens (Eks 35:4-9) as bydraes vir die oprig van die Tabernakel). Die
Verbondsark moet binne in die Tabernakel se allerheiligste gedeelte kom.
Toe dit alles haarfyn volgens God se voorskrifte gebou is (Eks 35-39),
moes Moses salfolie vat en alles salf en as heilig aan die Here wy (Eks
40:9-11); daarna het die Here se teenwoordigheid die tabernakel gevul, Hy
het by Sy volk kom woon! Hy was “permanent” in die tempel teenwoordig, en
nie net per geleentheid soos by die tent van ontmoeting wanneer die
wolkkolom afgekom het nie. Eks 40:34: “’n Wolk het die tent van ontmoeting
oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel
gevul”
Die Verbondsark bly deurentyd die simbool van God se
teenwoordigheid, en moet ook later nadat Salomo die Tempel gebou het in
die allerheiligste geplaas word (1 Kon 8:3-9)
Wanneer die Israeliete getrek het of na ‘n veldslag
is, het die ark saamgegaan. Daar was streng voorskrifte van hoe die ark
vervoer en hanteer moes word, omdat dit heilig was; dit was heilig omdat
dit die simbool van God se teenwoordigheid was. In 2 Sam 6:1-8 lees mens
bv dat Ussa dood is omdat hy die ark wou keer toe dit wou val omdat die
osse wat dit gedra het gestruikel het (2 Sam 6:1-8). Dit wys vir my dat
God se teenwoordigheid vra vir heiligheid en gehoorsaamheid.
TEMPEL
Die volgende “huis van die Here” waarvan ons lees is die tempel wat Salomo
gebou het. (Lees in 2 Kron 3-7 daarvan). Ons lees dat toe die tempel klaar
gebou is het Salomo gebid en die tempel aan die Here gewy. Hy het die Here
uitgenooi om dit sy woning te maak: “Kom dan nou na u rusplek toe, Here
God” (2 Kron 6:41). Daarna het die magtige teenwoordigheid van die Here
die tempel gevul; Hy het by sy mense kom woon (2 Kron 7:1). Die Here sê in
2 Kron 7:12 dat Hy die tempel gekies het as die plek waar daar vir Hom
offers gebring kan word, Hy sê: “Ek sal hierdie plek nou onder my sorg
neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en
heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd
my sorg en liefde sal geniet” (2 Kron 7:15-16)
Die tempel is later geplunder, verwoes en afgebreek,
maar weer herstel en weer aan die Here gewy. Die tempel het ‘n heilige
plek gebly, afgesonder vir ontmoeting met God, maar is dikwels ontheilig
deur verkeerde gebruike (bv 2 Kon 22:4-8), en is dan altyd weer gereinig
en aan die Here toegewy.
MY LIGGAAM
In die Nuwe Testament na die uitstorting van die Heilige Gees, word ons,
as kinders van God, se liggame Sy blyplek, Sy huis, die tempel:
1 Kor 3:16-17
Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God
in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom
straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.
1 Kor 6:19
Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is
nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en
julle behoort nie aan julleself nie
Ef 2:20-22
Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en
die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom
sluit die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die
Here, in wie julle ook saam opgebou word as 'n geestelike huis waarin God
woon.
Nou is dit nie ‘n tempel of kerkgebou waarin Hy woon
nie, nou is sy teenwoordigheid nie net meer ‘n wolkkolom bo oor die kerk
nie, nou woon Hy IN my. As sy tempel moet EK nou rein en heilig en skoon
wees, afgesonder vir Hom. Geestelik is ek nou die “huis van die Here”. Die
reëls en voorskrifte vir die heiligheid en gewydheid van die tempel en die
verbondsark is nou nie meer van toepassing op die kerkgebou nie, maar op
my liggaam. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die gordyn in die
tempel wat die allerheiligste afgeskerm het (genoem die voorhangsel) van
bo na onder geskeur (Matt 27:51), wat beteken dat daar nou vir ons almal
toegang is tot God, nie net vir die priester en Moses van ouds nie.
Ek was op ‘n stadium so hartseer om te sien dat die
“heilige” kerkgebou, waarin ek grootgeword het en 30 jaar gelede in
getroud is, verkoop is en nou ‘n koepel op het en ‘n moskee geword het!
Toe ons grootgeword het het ons nie eens hard gepraat in die kerk nie want
dit was ‘n heilige plek. Het God nou minder heilig geword, of is sy eer
aangetas omdat dié spesiale gebou nou vir iets anders gebruik word? Nee,
definitief nie. Wat help dit ook as die kerkgebou heilig is, maar ons wat
daar ingaan bied nie ons lewens en liggame aan God as ‘n heilige,
afgesonderde woonplek nie? Na my mening is laasgenoemde veel belangriker!
Op 21:22 sê baie mooi dat daar nie ‘n tempel in die nuwe Jerusalem sal
wees nie, want “sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam”.
Na my mening is die kerk vandag net ‘n gebou van
bakstene en sement, dit is eers wanneer ons daar ingaan en God aanbid dat
dit ‘n heilige plek word. Waar Christene bymekaar kom is die Here in hulle
midde, en word dit ‘n heilige plek, of dit in ‘n sitkamer, onder ‘n boom,
in ‘n kamer in die gevangenis, of in die mooiste, sierlikste kerkgebou is.
Wilna Botha
13 Junie 2012
|