
|
|
|
Hoe
aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond
Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die
sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van
al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met
heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
|
|
|
|
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
26
Mei 2022
“Maar God, U
is bereid om te vergewe, U is vol goedheid en ontferming, U tree met
deernis en liefde op. Daarom het U hulle nie aan hulle eie lot
oorgelaat nie.” (Neh. 9:17, Die Boodskap) “In U barmhartigheid het U
hulle gered, keer op keer.” (Neh. 9:31) Ja, keer op keer staan die
Here met oop arms gereed om die verlore kind terug te verwelkom. Hy
kom ons uit sy genade en jammerte tegemoet, omhels en soen en
vergewe ons, trek vir ons nuwe, skoon klere aan en maak ’n fees
gereed om ons terugkoms te vier, net soos die pa van die verlore
seun. Daar is altyd weer ’n kans om op te staan. Daar is altyd weer
’n kans om terug te draai. Daar is altyd weer ’n kans om oor te
begin. Want ons God is geduldig, genadig, barmhartig, lankmoedig en
vol liefde. En dis ook hiervoor dat Nehemia-hulle die Here eer in
die Neh. 9 lofsang. Die verlore seun het al sy waardes oorboord
gegooi, sy rug gedraai op sy pa en tussen die varke beland. Die
klomp oor wie Nehemia praat, was opstandig, hulle het hardkoppig
hulle rug op die Here gedraai, hulle het geweier om te luister na
Hom, hulle het vergeet van die wonderdade wat Hy vir hulle gedoen
het, hulle het ’n kalfsbeeld aanbid, skandelike dinge gedoen, hulle
was moedswillig en ongehoorsaam – oor en oor! En keer op keer het
die Here hulle gered en vergewe en hulle nie aan hulle eie lot
oorgelaai nie. My vriend, dís wie God is – genadig, barmhartig,
geduldig. Dalk het jy weer geval, nog ’n keer verdwaal, weer jou eie
pad gevat, weer geweier om jou lewe aan Hom oor te gee. Kom weer
terug! Laat Hy weer jou sondes wegwas. Laat Hy weer jou oortredinge
uitvee. Laat Hy weer jou harde hart sagmaak. Laat Hy weer sy liefde
oor en in jou uitstort. “But sin didn't, and doesn't, have a chance
in competition with the aggressive forgiveness we call grace. When
it's sin versus grace, grace wins hands down.” (Rom 5:20, The
Message) Ek verstaan dit nie. Dit gaan my verstand te bowe. Nogtans
is dit die waarheid! ~ Wilna Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
25
Mei 2022
Ek het tot
die slotsom gekom dat kommunikasie wat deur tegnologie geskep word,
ons in 'n groot mate ongelooflik benadeel. Ek wonder soms of ons
regtig nog die vermoë het om te dink en te redeneer, want ons word
deur 'n onsigbare monster meegesleur. Stap saam met my deur 'n paar
gedagtes.
* Waar kry jou nuus? In die "ou dae" is nuus uitgevis, en dan
noukeurig ondersoek, getoets en deur kruisverwysings bevestig. Jy
kon dit dikwels glo. Vandag is daardie proses hopeloos te stadig,
want teen die tyd dat dit reg is om te publiseer, is dit stokou nuus.
Sosiale media het die grootste nuusbron geword, en nou eet ons alles
vir soetkoek op. Verlede jaar word daar berig van 'n tienling wat
gebore is, maar hulle is skoonveld. Mnr. die joernalis hou egter
voet by stuk dat die berig waar was en dat die klompie nou ontvoer
is. So belaglik! Maar kom ek vertel jou van 'n ander nuusbron, nl.
die Bybel. Die Bybel is propvol insidente, berigte, nuus en baie
inligting, en daardie gebeure kon nog NOOIT verkeerd bewys word nie,
nie een enkele ding nie, inteendeel, opgrawings het verskriklik baie
feite bevestig.
*Waar kry jy jou lewenslesse? O jitte, daar is duisende mense wat
graag vir jou wil vertel hoe die lewe werk, en hulle ry graag in die
motor met die "dashcam" en praat sommer 'n klomp strooi, en dan
versprei dit soos 'n veldbrand. Maar kom ek gee jou 'n goeie bron
van inligting. Gaan lees Spreuke en Prediker, en jy sal lewenslesse
kry vir elke ding waaraan jy kan dink.
*Waar kry jy jou vertroosting? Ons word almal een of ander tyd deur
slegte dinge getref, en dan smag ons na vertroosting. Ja, daar is
baie dinge waarmee mense ons kan help, maar tog het ek al male
sonder tal gehoor dat mense die maklikste deur daardie tye gekom het
toe hulle by Jesus se voete gaan sit het. Hy droog al ons trane af,
en hy is 24uur per dag beskikbaar.
* Waar kry jy jou inspirasie? Ai, die nuutste woord wat ek hoor is
"influencers". Selfaangestelde "kenners" wat daagliks goed op
sosiale media plaas, duisende navolgers lok, en dan nogal 'n gawe
inkomste daaruit verdien op sommige sosiale media platforms. Wel,
daar is niemand beter om ons te inspireer as Jesus nie, loop net
agter Hom aan.
* Waar kry jy jou opinies? Met die entstof het mense wyd agter ander
aangedraf wat enigiets kon kwytraak en mense glo dit. Jy sien, as jy
iets wíl glo, sal daar iemand wees wat dit vir jou sal vertel.
Miskien gaan ek nou bietjie tone trap, maar hoor maar my gedagte. As
die entstof dan nou die merk van die dier is, kan ons en ons
nageslagte tot in lengte van dae maar daardie tekste uit die Bybel
skeur. Moet wees, want daardie "gevaar" is immers nou iets van die
verlede. Ek sien die mense is nou skielik stil oor dit. Oppas om nie
die Bybel te misbruik vir verdraaide opinies nie.
* Waar kry jy rigting vir jou lewe? Ek sien ongelukkig dat ouers al
hoe meer afwesig raak in hulle kinders se opvoeding, dan soek
kinders dit op die verkeerde plekke, want daar is nie 'n rolmodel
nie. Daardie taak word so graag op ander instansies afgeskuif, ja
selfs op die kerk, en natuurlik die skool. As die ouers onttrek is
dit 'n ramp.
* Waar kry jy raad vir moeilike situasies. Ja sielkundiges het
sonder twyfel 'n rol, maar weereens het die Bybel ál die antwoorde
vir elke situasie. Gaan toets dit gerus, die Bybel is presies net so
relevant vandag as toe dit geskryf is.
* Waar kry jy jou doel, (purpose)? Een van die ergste dinge wat met
'n mens kan gebeur, is as hy dink hy het nie meer 'n doel nie. Die
rede daarvoor is dat mense kyk na ander se prestasies, en rykdom, en
lewensstyl, en goed wat op die televisie opgedis word, dan verloor
mense hulle identiteit. Nee, die Here het 'n plek en 'n rol vir
elkeen, en elkeen se talente is ewe kosbaar en nodig. Soms moet ons
bietjie wag om dit te ontdek, maar moet tog nie passief gaan sit nie.
Probeer eerder elke ding onder die son en kyk wat werk.
* Waar soek jy God se stem? Ons almal ervaar soms daardie stilte,
maar dis nie omdat die Here stil is nie, dis al die geraas om ons
wat so oorverdowend is dat ons Hom nie hoor nie. En dan gaan soek
mense selfaangestelde "profete" wat nie gou genoeg raad kan gee nie.
Ja ek glo absoluut in die gawe van profesie, maar ek glo min van
hierdie mense wat dit beoefen. Gaan sit eerder net doodstil en
luister, en bid, en lees die Woord, en wag. Ja, jy moet wag, soms
baie lank. Dan hoor jy.
* Dis duidelik dat die Here ál die antwoorde het, op ál ons
situasies. One stop service. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
Vrae wat
die Here vra
Ek het êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die
Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel
dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie
gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat
Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot
vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om
dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig
geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en
na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in
verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat
baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor
die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees
(en beantwoord!)
Klik hier >>
Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek
en oordink wat mense in die Bybel vra.
Klik hier as jy verder daaroor wil lees >>
|
|
Musiek en
lofprysing
Ek het in die
laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit
die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor
geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my
opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit
alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die
Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens
die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar
ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd
aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier
bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou
inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer
van die Here.
Klik hier vir alles >> |
|
Wie is God
vir jou?
Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45
kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy
genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel
in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap
van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal
die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25
sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web
nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan
deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom
kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan
akkommodeer. Dit was egter vir my ’n leersame en verrykende pad wat
begin het by Eks 3:13
...
lees verder >> |
|
Julle moet
mekaar ...
Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n
klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar
aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor
mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en
in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra,
mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en
lofliedere saam sing ...
As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te
lees >> |
|
Jesus het hulle innig jammer gekry
Ek het vir die
afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie
stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat
mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my
so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige
God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en
hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep
meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my
persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade
is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en
uitkoms is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en
onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol
liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom,
dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons.
Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal
is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg
vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle
hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik
goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde.
(Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
Ek het al die
stukkies hier bymekaargesit –
klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >> |
|
Bring die hoop weer terug
Ek het die afgelope tydjie bietjie
gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop
gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes
wat ek neergeskryf het.
Lees hier meer >>
|
|
Wonderwerke
van Jesus uit Johannes
Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die
wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die
einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen
het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word,
dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh.
21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien. Ek dink nie
dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net
met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die
Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke
vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo: “Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus
is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke
beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn
verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die
regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof
in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood
vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na
die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is,
het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe
die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om
uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se
wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof
nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig
oor Sy werke in ons lewe nie.
Terwyl ek deur die
wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.
Lees gerus hier meer daaroor >>
|
|
Jesaja se Goud - klik hier >>
Die
afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees. Ek het
maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie
altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al
die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke
hoofstuk, op elke bladsy van die boek, het ek die wonderlikste goud
uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te
onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad
van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat
God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort
boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou
almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja
se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan
versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.
Lees
gerus meer hier >> |
|
My 18 G's vir 2018
- klik hier >>
Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi
seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde
ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér
’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval
dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond,
gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe
besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18
G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”. Om te gee, moet dan
seker my eerste G vir die jaar wees ...
lees verder >>
|
|
Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>
 |
|
Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik
hier >>
 |
|
Kort
dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>
 |
|
Kort
dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>
 |
|
Kort
dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>
 |
|
Kort dagstukkies
uit Jona -
klik hier >>
 |
|
|
Facebook
Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en
waar jy welkom is om saam te gesels.
Klik hier >> |
|
|
Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met
verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)
|
|
|