|
Klik om kamp foto's te sien >> |
|
Die kamp was ‘n onvergeetlike ervaring,
vir ons, as helpers. Om net weer opnuut te kon besef wat dit
beteken om te glo soos ‘n kind. Ons het God se
teenwoordigheid op ‘n nuwe wyse ervaar en besef wat dit
beteken om met onvoorwaardelike toewyding aan Hom te leef.
Ek het daar aangekom met die ingesteldheid dat ek soveel het
om te bied, maar ek het daar weggegaan met die wete dat ek
soveel meer ontvang het. As iemand, wat nie self deur ‘n
gestremdheid geraak is nie, dink mens baie maal jy is beter
af as die wat wel fisies of verstandelik nie dieselfde
vermoëns as jy het nie. Hierdie kamp het egter weer opnuut
my oë oopgemaak en ek het ondervind dat daar soveel is om
te leer, by hierdie baie spesiale mense. Die belangrikste
daarvan, is onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Ek is
innig dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om die kamp
by te woon. Ons het soveel wonderlike mense ontmoet en ek
kyk nou met ander oë na die lewe – dankbaar vir alles wat
ek het en dankbaar dat God sulke spesiale mense op my pad
sit.
Erica Erlank |
|
Ons het hierdie briefie
ontvang van een van die gereelde besoekers op die
Heuning-webblad, wat ons graag hier by die kamp terugvoer
wil deel:
"Soos
gewoonlik gaan kyk ek heel eerste op Heuning of daar nie
dalk ‘n vars druppel is om mee te “kickstart” nie. Ek haak
toe vas by die foto’s van die gestremdes van julle afgelope
kamp …
My gemoed
skiet sommer vol as ek daarna kyk. Ek kan nie help om
ongemaklik te voel in die teenwoordigheid van (veral
verstandelik) gestremde persone nie. Wat ek egter nooit sal
doen, is om op hulle neer te sien nie – ek wil glo dat as
ons eendag in die Hemel kom, gaan die “verhoog” vol van
hierdie (verstandelik) gestremdes wees, maar dan gaan hulle
“gesond” wees, en hulle gaan daar voor sit as die prefekte/leerlingraad.
Hulle gaan beslis een-of-ander ereplek hê!"
|
|
Woensdae oggende kom ons in die kapel
bymekaar, ons noem dit “Assembly”. Almal wat by die kamp
was wou graag vorentoe gaan en hulle leeus wys. Dit is toe
gedoen en Bryn het toe so kortliks vertel wat ons gedoen
het. Dit is met ‘n luide handegeklap beloon. Nou wil almal
gaan! Dankie aan almal wat dit so aangenaam gemaak het.
Ria Scheepers (Irene Homes) |
|
Namens
al die Smalbergers wil ek vir julle baie dankie sê vir die
wonderlike kamp. Na die kamp voel dit of ons "ander" mense
is - vervul met die liefde van die Here, liefde van vriende
(oues en nuwes) Die kamp was werklik goed beplan - van al
die baie eet en die program wat julle aangebied het. Daar
was geen vervelige oomblik nie. Kan jy groot asseblief my
dank oordra aan almal van julle wat betrokke was: Willem,
jouself, Dennis, Marietjie, Noddy, Wally en sy span.
Stephan Smalberger |
|
Hierdie
kamp was voorwaar baie goed vir my ingesteldheid op die lewe
om positief te leef! Dit was my tweede keer op die kamp en
ek hoop daar gaan nog vele wees. “Ons is tot alles in staat
as die Leeu van Juda ons koning en verlosser is.”, dis wat
ek van die kamp af in my hart weggevat het. ‘n Glimlag was
die resultaat van samesyn van die begin af.
Toe ek
daar aankom was ek verwelkom deur bekende stemme wat klaar
‘n spontane glimlag op my gesig gesit het, wat end-uit gebly
het. Toe ons eers met die aktiwiteite begin het en kennis
gemaak het met al die nuwe gesigte, was dit asof niks anders
saak gemaak het as die hede nie. Daar is ruimte vir elkeen
om homself uit te leef met die verskillende uitdaging
waarmee elkeen saamleef. Ek ervaar altyd aanvaarding en
steun van almal as ek op so kamp gaan en die keer was glad
nie anders nie! Almal help almal en ons het soveel pret
saam dat jy vergeet van dit wat jy nie het nie en vir die
tyd saam, net gefokus bly op wat jy het. Dis ‘n baie
awesome ervaring wat mens nie kan bekostig om mis te loop
nie. Partykeer voel dit of jy in ‘n gat verval deur al die
geswoeg en sweet van die lewe en soms vat dit aan mens se
selfbeeld, maar die awesome ding van die kamp is dat jy nie
hoef voor te gee nie, om net jouself te wees is die geheim
om verryk te word. Almal straal liefde uit, dis waarlik ‘n
opbouende ervaring!
Die temas
is altyd baie toepaslik. Ek wil die moed van ‘n Leeu hê en
deur die leiding van die Heilige Gees my gedrag en leefstyl
tot eer van die Here uitleef. Ek span my ook in om riglyn
aan hand van die Woord gefokus te hou. As ons mekaar kan
bemoedig om te volhard om in die waarheid te leef, soos ons
dit op die kampe so goed regkry, dan is ons tot baie meer in
staat as wat ons dink. Dit is my inspirasie wat ek gekry
het. Baie dankie aan tannie Wilna en oom Willem wat sulke
kampe vir ons reël en ons met soveel hartlikheid ontvang ,
ek weet almal waardeer dit baie. Ek is ook baie dankbaar
vir almal wat die kamp moontlik maak vir ons, dis ‘n groot
voorreg! Die kamp was baie lekker!!
Marita Erlank |
|
Dit was
weereens 'n heerlike, verrykende, inspirerende ervaring om nog 'n naweek te kon deurbring saam met ’n groep
gestremde vriende. Ek kan getuig dat ek
baie liefde beleef het, wedersydse aanvaarding ondervind
het, skaterlag gehoor het, geestelike versterking ervaar
het, dankbaarheid gesien het en geïnspireer is deur
positiewe houdings van mense met groot uitdagings in die
lewe. Ek het huis toe gekom met groot dankbaarheid teenoor
ons getroue span werkers, teenoor borge wat onselfsugtig
bydra en teenoor die Here wat dit alles moontlik gemaak het.
Ons beplan sommer alreeds weer ons volgende kamp wat 18-19
Oktober sal plaasvind.
Wilna Botha |
|
|Terug
na Heuning Hoofblad| |
|