Klik om kamp foto's te sien >>

Nog 'n heerlike kamp is verby! Dit was gevul met wonderlike oomblikke van selfondersoek, diep oomblikke van verwondering oor die Here, ligte oomblikke van groot pret en skaterlag, heerlike oomblikke waarin nuwe vriendskappe gesluit is, liefdevolle oomblikke vol drukkies, en baie meer ... my hart voel so warm van almal wat daar ingekruip het ... lees gerus hieronder 'n klompie van die kampers se belewenisse van die kamp.

Die naweek van 14 en 15 Maart het ons die 14de Kamp vir Gestremdes gehad. Ek voel half skaam om hierdie pragtige mensies “gestremd” te noem, want in baie opsigte is hulle meer normal as wat die deursnee person hom/haarself sien. Sulke opregtheid en liefde gaan jy sukkel om elders te kry. Ons het weer die Saterdagoggend begin met die gebruiklike ys-breker (oftewel hare-laat-hang-sessie) waar ons mekaar so bietjie van nader bekyk en aan almal gewoond raak het. Die “musical chairs” het ons omtrent laat lag, en ieder en elk het lekker agter ‘n leë stoel aangehardloop. Natuurlik het die DJ (die uwe) bietjie met vuil spel vorendag gekom deur die musiek op baie strategiese tye te stop. Daarna het Willem ons deur twee sessies gelei waar ons bietjie moes nabetrag oor “Waar het jou storie begin” en “Hoe verloop jou storie”. Want – die tema van die kamp was immers “Elke mens het ‘n storie”. Daarna het ons sandkaartjies gemaak en later die middag heerlik op die grasperk baljaar met Cokebottel-jukskei en waterbalonne. Die Saterdagaandkonsert het weereens heerlike vermaak gebied, en die deelnemers het met oorgawe die gehoor vermaak. Sondagoggend het ons bietjie gekyk na Bybelmense se stories, waarna ds. Ian “Die res van die storie…” vertel het tydens die erediens. Gepaslik het ons met nagmaal die gebeure afgesluit, waarna elkeen die geleentheid gekry het om sy naam op ‘n wit klippie te skryf en by die kruis kon neerlê. Ek sien alreeds uit na die volgende kamp – wat moontlik gemaak word deur borge wat hulle harte oopmaak vir hierdie mense – BAIE dankie aan julle ook.

Dennis


Wilna, Willem, Marietjie en Dennis ons wil julle bedank vir die wonderlike kamp wat julle aanbied, die helpers, Noddy vir die speletjies, Lindie vir die konsert en Wally en sy span vir die heerlike voedsel ens. Ds Ian vir die Diens en Nagmaal. Die kamp was heerlik vol pret en geestelike voedsel vir die siel. Die manier waarop julle ons kampeerders aan mekaar voor te stel was wonderlik en ons is almal betrek.  Baie dankie vir die persone wat ons vervoer het. Baie dankie vir die persone wat die kampe finansieel ondersteun, hoop daar gaan nog vele vir ons as gestremdes wees.

Riekie


Wilna, hiermee wil ek net vir jou en die organiseerders van die kamp die afgelope naweek dankie sê vir al julle liefde en onbaatsugtigheid.  Elke oomblik, vandat ek my kar daar gestop het tot ek weer in hom geklim het om huis toe te ry was onvergeetlik. Julle programme is so vol en goed gebalanseer, dit is stimulerend, en propvol kos vir die maag en vir die siel. Met elke kamp kom ek ryker terug huistoe en sien ek weer kans om self vir my medemens te dien soos julle al die kamp mense dien. Karen en Darlene, wat albei, soos julle weet gestremd is, kan nie uitgepraat raak oor die naweek nie. Selfs hulle borrel oor van die Here se goedheid. 

Voorspoed met al die toekomstige kampe wat julle moet reël en ons hoop om julle weer spoedig te sien.

Genie


Middag Wilna en span & borge. Baie dankie vir die kamp vir gestremdes, ons het dit vreeslik geniet. Die musical chairs was lekker, want ek kon deelneem - selfs die van 20 tot 75 jaar het deel geneem. Op Deo Volente voel dit regtig of die Here daar is net vir die kampers. Dit gee jou krag vir die week wat voorlê en maande daarna.
Baie dankie vir die borge wat die kampe moontlik maak. Willem en die span wat alles reël van slaapplekke tot die kosse, speletjies ens. Baie dankie. Groete tot die volgende kamp  wat ons mag bywoon.

Essie


Beste Willem, Wilna, Ian en die hele span,
Net weereens so baie dankie dat David op die kamp kon gaan. ‘n Groot dankie aan almal wat bydraes gemaak het om dit moontlik te maak. David het “’n nuwe mens” teruggekom. Ook vir Wally Haywood en sy vrou wat die pragtige kampterrein beskikbaar stel vir hierdie spesiale projek. Mag julle die Here se seën elke dag ervaar.
Groete, Christa
 

Hier volg David se bydrae … hy praat en ek tik: 

“Die kamp was baie lekker en julle almal was vriendelik met my. Ek is maar altyd skamerig by nuwe plekke maar ek het gou welkom gevoel.

Ek het die speletjies geniet al was dit partykeer moeilik – die jukskei, om die balle te “juggle” en die legkaartbou-kompetisie. Ek en Ian het ook lekker gesels oor miskien ‘n nuwe “quiz” speletjie oor flieke vir volgende keer. 

Baie dankie dat ek kon optree. Ek was nogal “nervous” om op te tree maar soos wat die tyd aangestap het, het ek gekalmeer en toe het ek dit geniet om op te tree. Al was daar tegniese probleme met een van die cd’s, het ek ‘n bietjie van ‘n hanswors geword met grappies tussen-in terwyl oom Dennis die probleem opgelos het. Toe kry ek weer ‘n kans om die liedjie te sing. Almal wat opgetree het, was baie oulik, maar wat vir my baie snaaks was, was oom Willem, oom Dennis en Ian wat “I can see clearly now” opgevoer het. Hulle het baie mooi stemme. Die opvoering van “Die trein na Pretoria” was ook baie snaaks. 

Dit was ook vir my lekker om die ou Bybelliedjies saam met almal te sing.

Die kos was baie baie lekker.  

Ek het goeie vriende gemaak en ek kan nie wag om na die volgende kamp te gaan nie. Ek het al klaar my gedagtes, liedjies, props en konsertklere reggesit. 

Baie groete aan almal.
David Lombard”


Hallo almal, 

Ek het nie woorde nie en ek weet nie hoe en waar om te begin nie. Dit was die eerste keer in jare, waar ek 05h00 die Sondag oggend op die stoep kon sit en koffie drink en na die sonsopkoms kon staar… 

Ek het saam met my dogter, Chane gaan kamp omdat ek baie vrae gehad het. My hart was baie ontstuimig rondom keuses en dinge wat ek moet besluit. 

Ek weet dat elke mensie wat gaan kamp het die naweek van die 14de Maart op ‘n manier aangeraak was. 

Met die aankoms die Saterdag oggend was ons welkom geheet deur twee pragtige jong dames en dadelik het ek en Chane tuis gevoel. Almal was so hulpvaardig en bedagsaam. Daar was geen uitsondering gemaak tenopsigte van jou aard van gestremdheid nie, almal was deurentyd deel van die verrigtinge. 

Ons het baie sports gehad, gelag, gedans en konsert gehou. Ons het in groepies opgedeel en almal moes saamwerk as ‘n span. In my span was natuurlik ‘n persoon wat vir enige groepie ‘n aanwins sou wees, dit is nou natuurlik dominee Ian; so eerlik en opreg! ( Baie “tricks” by hom geleer.) 

Ons het Saterdag oggend begin eet en ek wil amper sê dat ons vir 24uur aanmekaar geëet het, sonder ophou. Daar was vars vrugte, lekkernye, vars brood rolletjies, braaivleis, ontbyt om van te kies en te keur en Saterdag laataand koeksisters en koffie! 

Daar was ‘n hele paar hoogtepunte gedurende die naweek maar een van hulle was toe ons almal Saterdag aand laat buite gaan staan en kyk het vir die sterre! Willem hulle het die ligte afgeskakel  en jy kon nie eers jou hand voor jou gesig gesien het so donker was dit nie.  Ons het as ‘n groot groep die Onse Vader gesing…sjoe ek kry sommer hoendervleis as ek net weer daaraan dink. Ons het onder andere ook ons eie kaartjies gemaak en ‘n pragtige hout legkaart gebou waarop staan GELOOF,HOOP  en LIEFDE. 

Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om ‘n paar mense te bedank, en wil begin deur ons Hemelse Vader te bedank vir al die mense en toerusting wat Hy vir ons gegee het om daardie naweek so spesiaal te kon maak. Dankie Here dat U ons elkeen deur daardie naweek gedra het en ons weer gehelp het om met ander oë na ons medemens te kyk. Dankie Jesus vir al U seëninge. 

Ek wil ook graag  vir Willem en sy vrou baie dankie sê dat hulle so gasvry was teenoor ons. Ongelukkig is die samelewing wreed op sy manier, maar julle het gewys dat daar wel nog mense is met opregte harte.  Baie dankie vir die voorsangers, sprekers, kokke, skoonmakers en elke helper asook elke mensie wat daar was.( Asook vir elke foto wat julle geneem het sodat hierdie herrinering ons kan bybly). 

Ek en Chane het soveel nuwe maatjies gemaak en dit het vir ons so baie beteken. 

Nog nooit het ek so iets beleef waar daar soveel omgee vir mekaar was nie.  Ek kon nie uitgepraat raak toe ek Sondag middag tuiskom en alles met my man deel nie. My man moes net sit en luister…ek het net aangehou en aangehou oor hoe wonderlik die naweek was.

Dankie aan elke liewe persoon wat daar was, julle het diep spore in ons harte getrap. 

Mag julle elkeen Jesus se liefde ervaar en altyd so spesiaal bly. 

Met baie liefde
Yolanda en Chane




|Terug na Heuning Hoofblad|