Daaglikse Heuningdruppels - Dawid se vyf klippies

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Dawid se vyf klippies

In die Ou Testament lees ons hoedat die Filistyne en die Israeliete gedurig aan die veg was om dit uit te spook vir mag en eer en beheer. In 1 Sam 17 lees ons van een so ’n episode. Dié keer het die Filistyne al hulle vertroue op hulle baasvegter, Goliat, gesit. Hy was 3 meter lank, gepantser met ’n bronshelm op sy kop, ’n sewe en vyftig kilogram harnas met skubbe, bronsskerms voor sy bene en ’n bronsswaard oor sy skouer. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Dit was vreesaanjaend! En hy was arrogant en uitdagend. Vir veertig dae lank het hy elke dag teenoor die Israeliete gaan staan en hulle verkleineer en uitgedaag.  En die Israeliete het geskrik, hulle was mismoedig en bang en het vir hom gevlug. Stop nou net hier vir ’n oomblik en dink bietjie oor jou lewe vandag: wat is daar wat jou só bang, mismoedig, moedeloos, vreesagtig, verneder, verkleineer en oorweldig laat voel? Watter Goliat staan nou al vir 40 dae (of langer) voor jou en bedreig jou, spot jou of lag jou uit? Dalk is dit die Corona-pandemie of ’n ander siekte. Dalk jou finansies of bekommernisse oor jou kinders en hulle toekoms. Dalk depressie of donker gedagtes. Dalk verslawing of ’n swak selfbeeld. Dalk mishandeling of misbruik. Dalk boelies, slegte verhoudings of ’n egskeiding. Dalk politieke kwellinge of skelms. Dalk slegte nuus. Dalk is dit nou tyd dat die Dawid binne jou opstaan, rivier toe stap en vyf klippies optel en met vertroue verklaar: “Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap.” (1 Sam 17:46) Vandag - nou, hierdie week, hierdie jaar, binnekort. Sal – dit is ’n gegewe feit. Die Here  - Hy kan, niks is vir Hom onmoontlik nie. Ek kan – wanneer ek swak is, is ek sterk want God se krag werk in my. Jou verslaan – oorwin, oorkom, verbreek die greep. Mag die Here ons hiermee help. Mag Sy vrede van ons besit neem. ~ Wilna Botha, 19/01/2021

Ek het bietjie verder gelees oor Dawid in 1 & 2 Samuel en weer gedink oor die hele Goliat-storie en die vyf klippies wat Dawid opgetel het. Ek het gewonder hoekom word dit pertinent genoem dat hy vyf klippies opgetel het. Hoekom het hy vyf klippies uitgesoek as een genoeg was? Het hy nie vertroue gehad in sy vermoë om te tref nie, dié dat hy gesorg het vir genoeg klippe? Hy het tog as’t ware net een kans gehad want as hy met die eerste slinger gemis het, was dit sekerlik neusie verby met hom. Die antwoord word nie gegee nie, maar soos ek gelees het deur 1 Sam 17, het daar vir my vyf goed uitgestaan in die verhaal – een vir elke klippie! Ek beoog om oor die volgende paar kere, ietsie te deel oor elke klippie – let wel, dis sommer net mý gedagtes, niks teologies, dogmaties of eksegeties nie. Die eerste klip is een wat ek self vandag nodig gehad het: kalmte. Saul het gedink Dawid het hulp en beskerming nodig om teen Goliat te veg want hy was mos jonk en onervare in vegkuns, hy was immers net ’n skaapwagter. Daarom laat hy vir Dawid sy eie gevegsuitrusting aantrek, maar arme Dawid kon nie eens daarmee loop nie. Hy het dit uitgetrek en met net sy kierie in sy hand het hy rustig afgestap na die spruit toe en vyf klippies gaan uitsoek. As mens in ’n moeilike situasie kom is daar mos altyd ’n klomp mense gereed met húlle raad en voorskrifte van hoe jy jou probleem moet hanteer. Hulle reken wat vir hulle gewerk het, moet vir jou ook werk. Dis natuurlik goed en reg so, want ons kan baie leer uit mense se ervaring en opregte raad – verstaan mooi, ek slaan dit geensins in die wind nie, maar partykeer kan dit ’n mens juis paniekerig laat rondhardloop agter oplossings aan, jy gryp hier en los daar en later is jy so deurmekaar en op-gestres jy weet nie watter kant toe nie en dan maak jy dalk net die verkeerde besluite. Ek dink dis in sulke tye wat mens die “geleende gevegsuitrusting” moet uittrek en net rustig raak. Haal diep asem. Kyk objektief na die situasie. Konsentreer op die positiewe. Moenie die slegste uitkoms van die situasie verwag nie. Visualiseer dat alles ten goede gaan uitwerk. Rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat hier rondom jou is nie, sê Kol. 3:2. Gee gehoor aan Jesus se uitnodiging: Kom na My toe ... en Ek sal julle rus gee (lees Luk. 11:28). Let go and let God, soos die spreekwoord sê. Gaan dalk fisies na ’n stil plek toe ... dalk af na die rivier toe waar jy ’n paar klippies kan optel en waar jou gemoed kalm kan word en die Here vir jou perspektief, kalmte en vrede kan gee. Dan kan jy, soos Dawid, rustig terugstap en jou Goliat gaan aandurf. ~ Wilna Botha, 21/01/2021

Dawid kon dit nie verdra dat Goliat die Israeliete so verkleineer en op hol jaag nie. Daarom het hy homself aangemeld om iets daaraan te doen. Van Goliat sê hy: “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie.” (1 Sam. 17:32) En ek dink: dáár is die tweede klippie wat Dawid in sy slingersak dra: moed. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr. 18:14. Hoe waar is dit nie. As jy moed het, sien jy kans om met die reus voor jou te veg. As jy moed het, het jy krag om die berg voor jou te klim. As jy moed het, het jy uithouvermoë om te beur teen die storms van die lewe. As jy moed het, maak die onbekende jou nie beangs en paniekerig nie. As jy moed het vlieg jy met arendsvlerke, ontvang jy vrede wat alle verstand te bowe gaan, kry jy ongekende wysheid, sien jy reeds die uitkoms en oorwinning in jou geestesoog. En sê nou maar daar staan vandag ’n reus voor jou wat jou moed in jou skoene laat sak, wat jou knieë laat swik en jou arms verlam en jou keel laat toetrek? Hardloop na die Here toe en skep moed by Hom, vriend. Hy sê: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedeloses weer vol moed.” (Jer. 31:25)  In Hag. 2:4-5 is daar so ’n mooi gedeelte oor moed. Serubbabel kry die opdrag op die tempel herbou – ’n groot taak, ’n “Goliat” om aan te pak. Die Here sê egter vir Serubbabel en die hele volk om moed te skep en dan gee Hy vier redes waarom hulle moed kan hê vir dié werk: (1) die Here is self by hulle, (2) die Here sal sy beloftes nakom, (3) Sy Gees sal by hulle wees om hulle toe te rus vir die werk, (4) hulle hoef vir niks bang te wees nie. Wat moet jy vandag doen waarvoor jy dalk nie kans sien nie, omdat die taak te groot, te moeilik, te gevaarlik is? Kom, tel vir jou ’n moed-klip op en skryf jou naam in hierdie teks en skep moed vir dit wat voor jou lê: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” (Hag. 2:4) ~ Wilna Botha, 26/01/2021

“Ek sal gaan en teen die Filistyn gaan veg.” (1 Sam 17:32) Dalk is een van Dawid se vyf klippies, wat hy gaan optel het om teen Goliat te veg, sy bereidheid - “ek sal.” Niemand anders wil nie. Niemand anders kan nie. Niemand anders sien kans nie. Maar Dawid sê: Ek sal! Hy weet hy is sterk genoeg. Hy weet hy is nie bang nie. Die vrees wat almal vir Goliat het, het nie op hom afgevryf nie. Hy is toegerus met sekere vermoëns en het vertroue in homself. Lees bietjie in 1 Sam 17:34-36 hoe hy eintlik al lankal “voorberei” was vir hierdie geveg. Terwyl hy skape opgepas het, moes hy al ’n lam uit ’n beer of ’n  leeu se bek red. “Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word.” (vers 36). Soos wat hy in die verlede kans gesien het om ’n leeu en ’n beer aan te pak om sy skape te red, so het hy kans gesien om dié reus aan te pak om Israel te red. Die ander kant van die “ek sal”-klip is “ek kan”. Is dit nie so in die lewe nie – wanneer jy bereid is om ’n taak aan te pak, om iets moeilik te gaan doen, dalk iets wat niemand anders wil doen nie, as jy daai gewillige tree gee, ontvang mens dikwels buitengewone wysheid, nuwe vermoëns en gawes op die regte tyd. As jy sê: “ek sal” gee die Here vir jou insig, wysheid, moed en krag wat jy nodig het vir jou taak. “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen.” (Jes. 49:5) – dit het gegeld vir Jesaja, dit het gegeld vir Dawid en dit geld ook vir my en jou. Wees gewillig, wees bereid, wees beskikbaar en die Here sal jou bekwaam maak vir dit wat jy moet doen. Wanneer daar ’n moeilike “Goliat”-projek vir jou voorlê, gaan tel vir jou ’n “ek sal”-klip op en weet dat die Gees van die Here jou sal toerus, dat die krag en die kennis sal volg. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Fil. 4:13) ~ Wilna Botha, 28/01/2021

“Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” (1 Sam. 17:37) Wanneer Dawid voor Goliat te staan kom, is dit vir my duidelik dat hy sy vertroue in die Here plaas en nie in sy slingervel of die klippies in sy sak nie of sy eie vaardigheid nie. Dawid het geweet om nie op Saul se raad of oorlogsklere en wapens te vertrou nie. Hy herinner homself aan die kere in die verlede wat die Here hom gehelp het. Hy bely dat die Here se krag in hom werk. Uit ervaring wéét hy dat die Here hom nie alleen sal los nie. Hy weet dat hy alreeds uitgekies en gesalf is as koning van Israel, al was Saul nog die koning. Hy het die sekerheid dat die Gees van die Here kragtig in hom werk (1 Sam. 16:13) Ek kan nie anders as om te dink dat een van die vyf klippies wat Dawid opgetel het vir “vertroue” was nie. Die Here sê in Jes. 49:23 “... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” Dawid het dít ervaar en ek wil ook vandag daai vertroue-klip optel en koester. Wat beteken dit vir my om op die Here te vertrou? Ek dink dit vra kennis van wie Hy is, hoe Hy oor my  voel en wat Hy wil en sal en kan doen. Dit is iets wat mens, soos Dawid, deur ervaring leer, maar beslis ook uit ander mense se vertroue - en oorwinningsverhale en natuurlik uit die Woord. Vertroue beteken ’n mens moet jouself bewustelik in die Here se hande plaas en met geloof oorgee aan sy leiding en sorg. Vertroue vra dat jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet, dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Vertroue kom in aksie wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het.  Vertroue is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie, maar steeds hoop en glo. Vertroue is nie net iets passief nie. Jy sit nie net agteroor en wag dat die Here iets moet doen nie, nee, soos Dawid rivier toe gegaan het en gaan klippies optel het, moet ons iets dóén, ons moet ons kant bring. Wanneer ek daai vertroue-klippie sien, dan wéét ek vertroue in die Here vat bekommernis en vrees en angstigheid weg. Dan wéét ek vertroue in die Here bring vrede wat alle verstand te bowe gaan.  Dan wéét ek vertroue in die Here bring oorwinning. Dan wéét ek “... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” ~ Wilna Botha, 02/02/2021

Ek dink toe Dawid buk om die vyfde klippie op te tel, het hy geweet dat dié een dodelik sou wees (onthou net – die Bybel sê nie so nie, ek “sien” dit sommerso in my geestesoog!) Dit moes die grootste, swaarste klip wees want dit moes klaarspeel met die arrogante, selfversekerde Filistyn wat Israel verkleineer en met vrees gevul het. Die klip wat vir Goliat getref het, wat die oorwinning bewerk het, wat Goliat laat val het en Israel vrede gegee het, was “Die Rots”. “Dawid sê vir die Filistyn: Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige.” (1 Sam. 17:45) Hy kom in die Naam van die Here, die Naam bo alle name (Fil. 2:9), die Naam waardeur almal gered word (Rom 10:13). Moses het in Eks. 3:13-14 vir die Here gevra: as hulle vra wie het my gestuur, wat is Sy Naam, wat moet ek  sê? “Ek is” het my na julle toe gestuur, was die Here se antwoord. As Goliat vir Dawid sou vra: wie het jou gestuur, sou Dawid kon sê: Die Rots. Die volmaakte, finale oorwinnaars-klip. Hy sou kon sê: “Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.” (Deut. 32:4). Hy sou kon sê: “... daar is geen rots soos ons God nie” (1 Sam. 2:2) Hy sou kon sê: ek kom na jou toe in die Naam van Die Rots, my skuilplek en my redder, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder (2 Sam. 22:2-3). Staan daar vandag ’n Goliat en grynslag voor jou? Is jy bang en bevrees? Is jou planne op? Is jou moed weg? Wil jy oorgee? Gaan staan agter jou Rots (en blý daar!), laat Hy vír jou veg. As jy jou Goliat pak in die Naam van die Here, beteken dit Hý veg namens jou, beteken dit jy staan fisies daar, maar Hy bewerk die oorwinning vir jou. Lees weer ’n keer Dawid se woorde in Ps. 18 en kry moed om jou gevreesde Goliat aan te pak. Ek haal ’n paar sinne aan: Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was. Hy het my in vryheid laat uitgaan. My God gee lig as dit donker is om my. Met U hulp loop ek ’n oormag storm. Elkeen wat by Hom skuiling soek beskerm Hy. God omgord my met krag. Hy maak my pad voorspoedig. U regterhand het my ondersteun. Deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee. U het my teëstanders voor my laat vlug. Die Here leef! Ek loof Hom wat my Rots is. ~ Wilna Botha, 04/02/2021

Het jy ook al langs ’n rivier, of op ’n berg gekom en ’n stapel klippe gesien? Ek wonder altyd wie het die stapel begin en hoekom hou mense aan om klippe by te pak. Dalk sit hulle ’n klip neer as simbool dat hulle een of ander las daar onder by die rivier of bo-op die berg los. Dalk gaan dit gepaard met ’n gebed vir iemand se nood. Dalk sit hulle die klippe neer uit dankbaarheid vir verhoring van gebede. Dalk sit hulle ’n klip neer om te wys dat hulle die berg “oorwin” het. Die klipstapel op die foto het ek onlangs afgeneem bo-op die Brandwag-rots in Golden Gate. Ek het opgeklim tot bo en ook ’n paar klippe daar op die hoop neergesit en ek het gedink aan Dawid se vyf klippe wat hy opgetel het toe hy voor Goliat te staan gekom het. Ek het een neergesit en gesê: ek sal, ek kan. Net soos ek die taamlike steil paadjie opgestap het tot bo, weet ek dat geen lewens-berg (of Goliat) groter sal wees as die krag wat die Here vir my gee om te volhard en tot bo deur te druk nie. Die pad tot bo-op daai lewens-berg is steil en moeilik en jou voete kan gly,  maar die Here is daar om my hand te vat, die volgende tree vir my te wys, my op te help as ek struikel, my selfs te dra tot bo. “Deur U goedheid het U my op ’n veilige berg laat staan, Here.” (Ps. 30:8) Ek het ’n klip neergesit en myself herinner om in alle omstandighede kalm te bly en by die Here te rus, om nie na die donker wolke om my te kyk nie, maar my fokus te hou op dié dinge wat daarbo is. Ek het geweet die pandemie-tye wat voorlê is onseker en kan nog lank en moeilik raak, daarom het ek ’n klip neergesit en gebid vir moed om regop te bly en nie negatief of depressief te raak en in ’n donker hoek te gaan wegkruip nie. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr. 18:14. “Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry red.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Toe sit ek ’n klip neer en sê vir myself: Vertrou net op God. Gee alles aan Hom oor. Sit neer die klippe waaraan jy dra. Let go and let God... Daar op die groot rots het ek ’n klip neergesit en bely: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3) en in my hart het ek gesing: we shall not, we shall not be moved. ~ Wilna Botha, 09/02/2021


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)