Daaglikse Heuningdruppels - hoop

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


BRING DIE HOOP WEER TERUG

Een van die ergste dinge wat ek al iemand hoor sê het is: ek het geen hoop nie. As ek iemand dit hoor sê, dan krimp my hart sommer ineen en wonder ek: het hy geen hoop op oorlewing, geen hoop op genesing, geen hoop op beter verhoudings nie, geen hoop op uitkoms nie, geen hoop op die toekoms, geen hoop op vriendskap, geen hoop op vreugde, geen hoop op geluk? Het hy ook hoop opgegee op die Here?  Vir daai ou wil ek Jo Black se liedjie sing: bring die hoop weer terug. Jy kán weer moed skep, jy kán weer nuwe hoop kry, jy kán weer lig aan die einde van jou donker tonnel sien. Jy kán weer selfvertroue en innerlike krag ontvang. Steek jou hand uit na die Here, Hý is die bron van alle hoop. Hy hou altyddeur ’n hand vol hoop na jou uit, kom skep moed by Hom, kom maak jou hart weer vol hoop by Hom. Hoop is 'n stem wat sê: as jy moeg is, sal Ek jou dra – aldus Jo se liedjie. Hoor vanaand die Here se stem en bring die hoop terug in jou lewe, skep nuwe moed. “Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop.” (Ps. 39:8) En nou bly geloof, hoop en liefde ... en vandag wil ek sê: die grootste hiervan is die hoop! ~ Wilna Botha, 04/06/2019


Ek lees nou die dag dié aanhaling: “Hope is putting faith to work when doubting would be easier.” Om hoop terug te bring in jou hart en in jou alledaagse bestaan is nie altyd maklik nie en kom nie noodwendig sommer net vanself nie. Twyfel en ’n negatiewe, swartgallige ingesteldheid kom gewoonlik vinniger en makliker nesskop in jou gemoed. Hoop vra nie net dat jy duim vashou dat iets sal gebeur nie, hoop is nie net wensdenkery of ’n “pie in the sky" nie. Hoop vra aktiewe geloof. Hoop vra volledige vertroue in die Here; dit vra toewyding aan Hom; dit vra vir onwankelbare moed en deursettingsvermoë. Hoop vra die sekerheid dat die Here doen en sál doen wat Hy belowe het, soos bv. dat Hy in beheer is, dat Hy ons Sy kinders gemaak het, dat niks ons van Sy liefde kan skei nie, dat niks jou uit Sy hand sal ruk nie, dat Hy ons sondes vergewe, dat Hy vir ons die ewige lewe gee, dat Hy ons beskerm en vir ons sal voorsien, dat Hy die Heilige Gees in ons harte sal uitstort, dat ons daagliks in Sy teenwoordigheid kan lewe. My gebed vir elkeen wat hier lees: “Mag God, die bron van hoop, julle deur geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13) ~ Wilna Botha, 06/06/2019

Heb. 6:19 praat van hoop as die “veilige en onbeweeglike lewensanker” wat ons as Christene het. Die doel van ’n anker is om te keer dat die boot dalk teen die rotse gestamp word en breek en vergaan. Of die doel is om wind, golwe en gety-veranderinge te weerstaan, om die boot stabiel en stewig te hou in moeilike en gevaarlike omstandighede. As ons die skip is, dan is hoop ons enigste anker en Jesus is die onsigbare ankergrond en die onbeweeglike ankerpunt. Die hoop wat ons as Christene het in die Here, is vir ons daai veilige en sterk anker wat sal keer dat ons vernietig of verslaan word, wat sal keer dat ons rondgeslinger word in die wind en golwe van die lewe, wat ons veilig sal hou in gevaar, wat ons standvastig en bestendig sal hou te midde van moeilike omstandighede. Ons kan en móét vasgryp aan ons hoop-anker, dis hier reg voor ons. Sonder daardie hoop weet ons maar te goed dat die uiteinde moedeloosheid, neerslagtigheid, somberheid, vreugdeloosheid sal wees, dat ons sonder verwagting en sonder deursettingsvermoë en sonder krag sal wees. “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut ... Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” (Klaagl. 3:22-24) ~ Wilna Botha, 11/06/2019

As ek in Heb. 6:19 lees dat hoop ons lewensskip se anker is, dan voel ek dat ek bietjie selfondersoek moet doen en myself afvra: waarop gooi ek my anker uit? Sal die ankergrond wat ek elke dag kies sterk genoeg wees om die skip stewig te hou in die lewens-aanslae? Omstandighede kan in ’n oogwink verander, dan is dit te laat om die anker te lig en ’n beter ankergrond te soek. Ek moet eerlik wees dat geld, goed en gerief heel dikwels die plek is waar my anker lê. Mens verloor mos vinnig moed as die finansies begin knyp, as die inkomste min en die behoeftes groot is. 1 Tim 6:17 kom as ’n waarskuwing dat dit nie goeie ankergrond is nie: “Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” Ander kere probeer ek anker in selfwaarde, status en belangrikheid. Spreuke 3:5 is my herinnering dat my eie idees en my eie krag nie sal deug as ankergrond vir my lewe nie: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie” Of dalk is my ankergrond te veel kere ander mense. As hulle onttrek of van plan verander of nie woord hou nie of voete van klei het, dan kan dit mens se lewe nogal sleg omkrap. “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.” (Ps. 146: 3-5) Die ware, betroubare, sekere, vasste ankergrond is die Here self – so sê elkeen van die tekste hierbo as teenpool vir my self uitgedinkte ankerplekke. “Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou.” (Ps. 62:12) – ek neem dit opnuut ter harte dat God alleen die plek moet wees waarop ek my lewensskip kan en moet anker – dan sal ek met hoop en vertroue en moed elke dag ingaan. ~ Wilna Botha, 13/06/2019

Hoop is ’n verwagting dat iets in die toekoms sal realiseer, dat ’n droom vervul sal word, dat iets goed en positief op die horison wag.  Ons ken almal die tipe hoop wat slegs ’n optimistiese begeerte is dat iets gaan gebeur, soos bv. ek hoop die son skyn môre, ek hoop my rugbyspan wen Saterdag, ek hoop ek sal die eksamen slaag. Hierdie hoop is mos nie gewaarborg nie want dit is afhanklik van omstandighede en mense en gebeure wat onbetroubaar en veranderlik is. Christelike hoop, aan die ander kant, is ’n besliste versekering dat iets gaan gebeur. Dis ’n hoop wat gewaarborg is omdat dit gegrond en geanker is op die onveranderlike God en op Sy onveranderlike Woord en elke belofte daarin.  Mens kan as’t ware in die Bybel die woorde hoop, vertroue en geloof onderling met mekaar vervang. As jy staatmaak op die veranderlike hoop, kan jy weet dat jy een of ander tyd teleurgestel en ontnugter sal wees, maar as jy op die Here hoop het jy die sekerheid dat dit jou staande sal hou in onseker tye, dat dit jou met krag sal vul, dat dit jou moed sal gee vir elke dag en die toekoms. “Julle moet egter net vas bly glo (hoop). Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is.” (Kol 1:23, Die Boodskap)  ~ Wilna Botha, 19/06/2019

Ek het die afgelope tyd baie oor hoop gedink en agtergekom hoe baie keer sê ek: ek hoop dit of dat sal gebeur of uitwerk. Baie keer sê ek: ek hoop regtig nié dit of dat sal gebeur nie... Hoop het gewoonlik daai element van onsekerheid, daai oop agterdeur dat dit waarvoor jy hoop dalk nie gaan gebeur nie. Ek het agtergekom dat negatiewe, swartgallige mense baie keer net op die onseker kant van hoop konsentreer en gou-gou het wanhoop, vrees, onsekerheid, bekommernis die hoop-vlam uitgeblus en lyk die pad donker en probleme baie groter as wat hulle werklik is. Gou-gou trek twyfel en ongeloof ’n streep deur vertroue op God en geloof in Sy beloftes. Ek het êrens gelees dat iemand sê: “Ons hoop vaagweg, maar ons vrees in fyn besonderhede.” Is dit nie waar nie? Vrees dat die ergste kan gebeur vreet die hoop op uitkoms op. Jak 1:6 sê: “...iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.” Nee vriende, as kinders van God het ons alle rede dat die hoop-faktor ’n baie groter rol in ons lewens kan speel as vrees en twyfel. ’n Hoopvolle mens kan makliker koers hou, ’n hoopvolle mens kan struikelblokke en uitdagings oorwin, ’n hoopvolle mens kan met vertroue en sekerheid sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie” (Heb. 13:6) Bring die hoop weer terug. ~ Wilna Botha, 25/06/2019

Ek is maar al te bewus daarvan dat daar vir ons almal tye kom dat dit voel of alle hoop daarmee heen is. Dalk het jy gehoop op beter gesondheid, op herstel van ’n verhouding, op ’n werk of verhoging, op ’n lewensmaat of ’n swangerskap, op die een of ander deurbraak, maar nou lyk dinge onredbaar en onherstelbaar. Jou hoop is dalk verpletter deur swaarkry en probleme en geen uitsig op beter dae. Daar is twee uitdrukkings wat werklik waar is: “hoop beskaam nie” en “waar daar lewe is, is daar hoop”. Daar is altyd hoop! “Vir ’n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan dit weer uitloop en sy lote sal aanhou groei.” (Job 14:7) “Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ’n Hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is.” (Pred. 9:4) Fokus op die blink kant, kyk na die positiewe, hou die Here voor oë, hou jou hoop realisties, hou aan bid, hou aan glo. Gaan weer terug na al die beloftes van die Here, neem dit vir jou persoonlik, glo dit en verwag opnuut dat dit sal realiseer in jou lewe. Sê vir jouself: “Hoekom is ek so neerslagtig? Hoekom so verontrus? Ek sal op God vertrou!” (Ps. 43:5, NLV) In die donkerste ure sal die Here weer jou hoop herstel. “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.” (Klaagl. 3:21-22) ~ Wilna Botha, 27/06/2019


Hoop is die verwagting dat iets ’n werklikheid sal word – dit is altyd gekoppel aan iets wat in die toekoms gaan gebeur. Rom 8:24-25 praat ook van hoop as toekomsverwagting: “Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.” Dit lyk my hoop is eintlik beperk tot die toekoms. Hoop maak dat jy kan vashou aan die verwagting dat iets gaan realiseer, sodat jy nou al in geloof kan optree op grond van daai verwagting. Iemand het dit so mooi geskryf: “Hoop is om die melodie van die toekoms te hoor.  Geloof is om nou reeds op die maat daarvan te begin dans.” Die Here sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” (Jer. 29:11) Die Here weet verseker wat in die toekoms lê, daarom kan ons hoopvol lewe, daarom kan ons ’n positiewe verwagting hê, daarom kan ons moed skep en uithou en uitsien na dit waarop ons vandag hoop. “Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.” (Ps. 143:8) ~ Wilna Botha, 02/07/2019

Ek wil nog ’n keer iets sê oor hoop: die Here wil en kan ons gebruik as instrumente om hoop aan ander te gee. As jy self nog hoop het, moet jy dit deel en uitdeel aan die hooploses om jou. Vertel van jou hoop, sê  hardop hoekom jy nog hoop het, terwyl almal anders dit verloor het, versprei jou positiewe gesindheid, al is almal negatief en swartgallig. “Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet. 3:15) Ek weet dis nie aldag maklik nie, veral as almal se hoop verpletter is - maar ons het die Gees van die Here in ons wat ons toerus met wysheid, met positiewe woorde, met Goddelike bemoediging, met vrymoedigheid. “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf ... Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur” (Jes. 61:1)  Die Here het ons bemoedig en hoop in ons geplant – nou kan ons ook ander bemoedig. “In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.” (2 Kor. 1:4) Ek het gehoor iemand sê: “Die beste manier om jou eie lewe te verbeter, is om hoop vir ander te gee.” As jy vir iemand nuwe hoop gegee het, gaan jou eie hoop ook toeneem ... kom ons probeer dit. Bring die hoop weer terug!  ~ Wilna Botha, 04/07/2019

Ek het die afgelope tydjie bietjie gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Steeds het ek nie al die antwoorde nie, steeds voel ek dat dit soms maar moeilik is om in alle omstandighede hoopvol en positief te bly. Steeds weet ek dat ek moet aanhou om vir myself te “preek” oor hoop, dat ek moet aanhou om my gedagtes te fokus op “die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie” (Kol 3:2), dat ek moet aanhou om saam met Jo Black se liedjie die refrein te sing: bring die hoop weer terug – nie net vir myself nie, maar vir almal wat so terneergedruk en negatief en sonder geloof is. Steeds moet ek myself herinner om nét op die Here te hoop vir krag, vir voorsiening in my behoeftes, vir uitkoms, vir wysheid, vir hulp. Hoop is ’n stem wat sê: as jy moeg is, sal Ek jou dra. Hoop is ’n stem wat sê: as jy geval het, sal Ek jou weer optel. Hoop is ’n stem wat sê: as jy die pad byster geraak het, sal Ek weer vir jou die koers aandui. Hoop is ’n stem wat sê: as jy in die donker is, sal Ek vir jou ’n lig wees. Hoop is ’n stem wat sê: as jy sondig, sal Ek jou weer wit maak soos wol. Hoop is ’n stem wat sê: as jy weggeloop het, sal Ek jou weer met oop arms terugverwelkom. Hoop is ’n stem wat sê: My genade is genoeg. Ek het hoop. Het jy? ~ Wilna Botha, 09/07/2019

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)