Daaglikse Heuningdruppels -
julle moet mekaar ...
 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Julle moet mekaar ...

Julle moet mekaar ...
Ek hoor dikwels die versugting by mense dat hulle wil weet wat die Here se wil vir hulle lewe is. Nou hier is iets baie duidelik wat die Here wil hê dat ons moet doen. As mens deur die Nuwe Testament lees, duik hierdie sinsnede dikwels op: “julle moet mekaar” ... aanvaar, verdra, vergewe, respekteer, reghelp, troos, moed inpraat en dan die een wat die meeste kere voorkom: julle moet mekaar liefhê. Nêrens klink dit net soos ’n versoek nie. Nêrens sê dit: as jy daarna voel of as die ander een dit verdien, of as die ander een dit vir jou terugdoen nie. Oral sê dit: julle moet. Dit klink vir my soos ’n opdrag. Dit klink vir my soos iets wat die Here se wil is en wat ons nie mag verontagsaam nie. Jy kan dalk dink hierdie klink sommer net soos ’n goeie sessie “life coaching” in sosiale vaardighede, wat dit natuurlik maklik kan wees. Maak gerus die Bybel vir ’n oomblik toe en asof hierdie moets nie in die Bybel staan nie, pas jy dit toe in jou alledaagse lewe – by die huis, by die werk, by die winkel, agter die stuurwiel, op jou Facebook kommentare en jy sal sien dat dit goeie vrugte afwerp. Hoeveel te meer as jy dit doen juis omdat dit in die Bybel staan en sulke gedrag vir die Here aanvaarbaar is. Ignoreer dit en verhoudings sal versuur word, koppe sal stamp en bitterheid, negatiwiteit, rusies en onmin sal intree. Gaan soek gerus bietjie in die Bybel na al die julle-moet-mekaar’s en doen saam met my selfondersoek. ~ Wilna Botha, 20/08/2019

Ek lees nog deur al die “julle moet mekaar...”-tekste in die Nuwe Testament. Ek besef dat ons nie sonder mekaar kan bestaan nie, almal het een of ander tyd iemand nodig. Ons is nie enkelinge nie, ons leef nie in isolasie nie.  “No man is an island” word daar mos gesê en gesing. Ons kan nie gelukkig wees op ons eie nie. Ons kan nie vervuld wees op ons eie nie. Ons kan nie ’n lewensdoel hê op ons eie nie. Ek het al gewonder hoekom is daar gedeeltes op mens rug waar jy net nie kan bykom om te krap nie! Dis seker om ons te herinner dat ons mekaar nodig het. Wat sal nou lekker wees  aan suksesse of oorwinnings of goeie nuus as daar nie iemand is met wie ons dit kan deel nie? Ons moet mekaar en ons verhoudings met mekaar koester, ons moet dit hoog op ons prioriteitslys sit. Dit gaan natuurlik tyd kos, dit gaan natuurlik iets van jou vra: bietjie opofferings, bietjie minder van jou eie belange eerste stel, bietjie meer toegee, bietjie gouer vergewe, bietjie meer hartlik en vriendelik wees, bietjie meer gasvry. Die Bybel help ons baie met riglyne oor hoe om mekaar te behandel, hoe om die beste te maak van ons verhoudings, hoe om die beste na vore te bring in mekaar ... vandaar al die tekste wat sê “julle moet mekaar ...”. “Julle is die liggaam van Christus en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan ... as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.” (1 Kor. 12 :26-27)  “No man is an island, No man stands alone, Each man's joy is joy to me, Each man's grief is my own. We need one another, So I will defend, Each man as my brother, Each man as my friend.” ~ Wilna Botha, 22/08/2019

Soos wat ek al die tekste in die Bybel opsoek wat iets te sê het oor hoe ons teenoor mekaar moet optree, het ek weer dié interessante een op ’n paar plekke raakgelees en bietjie daaroor gewonder: “Groet mekaar met ’n soen van Christelike broederskap.” (Rom 16:16) Ek het die vers ook in ’n paar ander vertalings gelees omdat ek wou probeer verstaan wat daai “soen van Christelike broederskap” kan beteken. “Greet one another with the kiss of peace”, sê  die Good News Bible;  “groet mekaar met ’n heilige kus”, sê  die ou Afrikaanse vertaling; nog ander noem dit ’n “holy kiss” en ’n “warm greeting.” Of ons mekaar nou groet met ’n warm handdruk, ’n drukkie, ’n wang-soen of ’n behoorlike soen (soos ons tannies en oumas ons gesoen het!) moet dit ’n getuienis wees van ons aangetrokkenheid en aanvaarding van mekaar. Dis natuurlik ’n kuis en rein soen sonder bybedoelings. En natuurlik moet dit ’n opregte soen wees, nie vals en geveins soos wat Judas se soen was nie. Wanneer ons mekaar met die een of ander aanraking groet, vra dit dat jy uit jou gemaklike persoonlike spasie en jou persoonlike voorkeure beweeg. Jy maak jou hand, jou arms en jou hart oop vir die ander persoon en demonstreer dat jy hom respekteer, nie op hom neersien nie en hom erken as mede kind van God. Om mekaar te groet (op watter manier ook al) wys dat daar nie kwade gevoelens tussen ons is nie, dit openbaar ons goedgesindheid teenoor mekaar, dis as’t ware ’n seëngroet in die naam van Jesus. “Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene dit behoort te doen.” (1 Kor. 16:20, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 27/08/2019

“Bid vir mekaar” (Jak. 5:16) is nog een van die vele “mekaar”-tekste in die Bybel. Hoe wonderlik is dit nie as jy hoor dat iemand vir jóú bid en jou naam voor die Here noem nie. Jy weet daai persoon dra jou belange op die hart en lig jou as’t ware op voor die Here. Baie keer het mens nie die emosionele of geestelike krag om self te bid nie en dan is dit mos kosbaar om te weet een van jou mede-gelowiges tree vir jou in. Daarom is dit ook belangrik dat ons daarop ingestel moet wees om vir ander te bid. Ek het gevind as mens vir iemand vra of jy vir hulle kan bid, sal hulle altyd ja sê en dit waardeer. Bid vir gesondheid, bid vir verhoudings, bid vir finansies, bid vir emosies, bid vir veiligheid, bid vir huwelike, bid vir redding, geloofsekerheid en geestelike groei, bid teen verleiding en sonde. Iemand kan dalk jou liefde of uitreik na hom teenstaan of weerstaan, maar kan nie keer dat jy vir hom bid nie. Bid ’n seën gebed oor jou familie, jou vriende, jou kollegas of selfs die persoon in die supermark wat jou bedien. Bid stilweg of hardop. Stuur ’n WhatsApp vir jou mense en sê: vandag het ek vir jou gebid dat ... Gebruik jou eie, eenvoudige, opregte woorde uit jou hart en nie die ge-ykte  woorde van iemand anders wat jy net “share” nie. Bid vir ander om te ontvang wat jy graag self sou wou ontvang uit die Here se hand. Die Bybel sê: bid sonder ophou; bid gelowig en moenie twyfel dat God jou gebed sal verhoor nie; die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. Die Here sal nie vir ons die opdrag gee om vir mekaar te bid as hy nie van plan is om ons gebede te verhoor nie. In plaas van skinder oor iemand, bid vir hom. In plaas van negatiewe gedagtes oor iemand, bid vir hom. In plaas van kla oor iemand, bid vir hom. In plaas van gefrustreerd wees met iemand, bid vir hom. Praying for others in your brokenness is a selfless act of love. ~ Wilna Botha, 17/09/2019

“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom 15:7) Hierdie is een van die “mekaar”-tekste wat my diep tref. Aanvaar mekaar tot eer van God. Ons aanvaarding (aanneem in ons gemeenskap, verwelkom in ons kring, toelaat in ons ruimte, inneem in ons harte) van ander, eer God! Alles wat ons aan mekaar behoort te doen, gaan oor die Here se eer. Dit gaan nie oor hoe goed dit my laat voel, of hoe opbouend dit vir die ander persoon is, of hoe positief dit is, of hoe goed die daad is, of oor hoe dit die gemeenskap kan bevoordeel of ophef en of dit só wonderlik is dat dit op Kwêla of Facebook beland nie. Dit gaan oor die Here en die res is ’n bonus (wat amper nie eens nodig is om genoem te word nie) Liefde vir die Here kom eerste en loop uit op liefde en respek vir jou medemens. Dis hoekom Jesus sê dat ons liefde vir mekaar die bewys is dat ons Hóm volg. (kyk Joh. 13:35) Hoe kan ons Hom liefhê, volg, dien, eer, as ons mekaar nie aanvaar nie, as ons nie die son oor ’n ander se kop kan sien skyn nie. Ek hoef nie eers na rasse of etniese probleme te kyk om te weet hoe diep dié aanvaarding van mekaar sny nie ... kyk sommer net na jou familie, jou bure, jou werksmense. Ek weet ons verskille maak dit vir ons bitter moeilik om iemand sommer net so, met geite en al, te aanvaar, maar as ons onthou ons aanvaarding van mekaar gaan oor die Here se eer, dan word dié onbegonne taak dalkies net makliker en ligter. Die Here aanvaar ons onvoorwaardelik, nes ons is ... Kan ons dalk bietjie harder probeer om mekaar te aanvaar en te respekteer? “So then, take one another to your hearts ... to the glory of God.” (Rom 15:7, BBE) ~ Wilna Botha, 19/09/2019

“Praat mekaar moed in. Onthou, julle almal is nou broers en susters in die nuwe familie van die Here. Daarom moet julle vir mekaar omgee en mekaar se geloof sterk maak.” (1 Tess. 5:11, Die Boodskap) Hier is nou nóg iets wat ons vir mekaar behoort te doen – ons moet soveel vir mekaar omgee dat ons mekaar voortdurend sal moed inpraat om te volhard en sterk te staan in ons geloof, ten spyte van omstandighede wat twyfel laat wortel skiet. Ons moet mekaar help om intellektueel en emosioneel en geestelik te verbeter. 1 Pet. 2:5 sê dat ons almal lewende stene is wat saam ingemessel is in ’n geestelike huis. Dit help mos nou nie dat jy ’n goeie baksteen is wat stewig ingemessel is, maar die bakstene om jou is swak nie – dan gaan die huis wel een of ander tyd intuimel. Doen moeite om wat jy het en wat jy weet en wat jy voel te deel. Kennis en ervaring wat jy besit is nie net vir jou eie gebruik nie. Dat jy dit het, is in elk geval uit God se genade. “Wat ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen ...” Ons moenie net begaan wees oor ons eie welstand en gemak en vooruitgang nie, maar ook diegene rondom ons opbou en bevorder. Moedig hulle aan om sterk te wees. Gee vir hulle hoop. Praat positief. Wys hulle die mooi dinge in die lewe. Gee vir hulle rede om weer op te staan en vorentoe te kyk. Kain het gevra: moet ek dan my broer oppas? Ja, ons moet ons broers oppas! Ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar bemoedig, mekaar aanmoedig en sorg dat die ander een sterk bly staan en getrou bly vashou aan die Here. “Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak.” (Rom 14:19) ~ Wilna Botha, 25/09/2019

“... dien mekaar in liefde.” ( Gal 5:13) Nog ’n “mekaar”-teks waaraan ek moet aandag gee: dien mekaar. In die Engelse vertaling sê dit: serve one another. Om mekaar te dien, vra dus dat ons mekaar sal BEdien. “And all of you must put on the apron of humility to serve one another.” (1 Pet. 5:5, GNB) Soos ’n kelner in ’n restaurant, met ’n voorskoot en ’n skinkbord, behoort ons mekaar te bedien. ’n Kelner besluit nie waarmee hy die gas wil bedien nie, nee, op sy skinkbord is dít waarvoor die gas gevra het, dít wat die gas nodig het. Die kelner bevraagteken nie die motiewe van die een wat die bestelling geplaas het nie, hy redeneer en kibbel nie daaroor nie, hy gee nie verskonings waarom hy nié die persoon gaan bedien nie. Nederig, met sy voorskoot en sy skinkbord, sonder dat sy eie verwagtinge, sy eie probleme, sy eie moegheid, sy eie swakheid, sy eie nood tel, bedien hy die persoon aan sy tafel. Wat is op jou skinkbord waarmee jy jou familie en vriende en gemeente kan bedien? Dalk is dit wysheid, inligting of raad, dalk jou tyd, dalk iets van jou geld of goed, dalk ’n stukkie van jou hart of jou gewillige oor, dalk jou voorbidding. Dit mag miskien moeilik klink om iemand só onverdiend en onvoorwaardelik te bedien, maar as jy dit doen, dan demonstreer jy Jesus se liefde aan daai persoon, dan maak jy dalk ’n pad oop na die persoon se hart. Iets wat ek nou net besef, is dat die teks sê: dien MEKAAR, wat tog ook beteken dat daar wel ’n dag gaan wees dat die skinkborde omgeruil is en jý weer aan die ontvangkant van iemand anders se mededeelsaamheid, hulp en bediening gaan wees. So, as daardie geleentheid aanbreek moet ons met oop harte en hande iemand anders se onvoorwaardelike diens aan ons aanvaar en ontvang as ’n seën uit die Here se hand. ~ Wilna Botha, 01/10/2019

“Wees altyd ... geduldig en verdra mekaar in liefde.” (Ef. 4:2) Verdraagsaamheid en geduld word in Kol. 3:12-13 ook in dieselfde asem genoem en ons weet ook maar al te goed dat dié twee “mekaar-dinge” hand aan hand loop. Ai ek is lekker skuldig in hierdie opsig. Soms wil mens mos dinge vinnig gedoen kry, soms is mens se irritasie vlakke hoog, ander kere is mens moeg of olik, partykeer is mens dalk net ongeskik of so op jouself gefokus dat jy net nie tyd en krag het vir geduld en verdraagsaamheid met ander nie. Hulle onvermoë om soos jy te dink, so vinnig op te tree of besluite te neem soos jy, maak jou kort van draad. Hulle foute en tekortkominge maak dat jy hulle sommer net wil vermy. Stop ’n slag. Gee een tree terug. Haal diep asem. Sit jou eie gejaag en jou eie program bietjie eenkant. Doen moeite om die mense om jou raak te sien en te probeer verstaan hoe hulle dink en wat vir hulle belangrik is. Besef dat jy nie altyd weet waarmee hulle moet “cope” en watse probleme hulle dalk het nie. Meer geduld en verdraagsaamheid van jou kant af kan dalk volg as jy probeer om jou in hulle skoene in te dink. Ek weet dis lekkerder om saam met mense te wees wat soos jy is en soos jy dink. Ek wil gewoonlik ook sommer dié mense vermy wat my verkeerd opvryf en my geduld beproef, wat nie saam met my stem en my standpunt respekteer nie. Jy gaan waarskynlik vandag nog getoets word oor geduld en verdraagsaamheid – die persoon wat nie gou genoeg ry wanneer die verkeerslig groen is nie, jou kind wat sukkel met sy huiswerk, jou man wat nie sy vuil klere in die wasgoedmandjie gooi nie, jou huishulp wat iets gemis het, die kelner wat nie gou genoeg jou bestelling bring nie ... en so kan die lys aangaan, nè! O ja en wees sommer bietjie geduldiger met jouself ook. As die vrug van die Gees in Gal 5:22 genoem word, is geduld een van hulle. Sonder geduld, kan vriendelikheid, selfbeheersing, liefde en vrede dalk ook in die slag bly. Kom ons vra die Gees om die geduld-vrug ryp en soet en mooi te maak ons lewens. “Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander ... Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees.” ( Gal. 5:22, Die Boodskap)  ~ Wilna Botha, 08/10/2019

“Leef in vrede met mekaar.” (1 Tess. 5:13) Nog ’n “mekaar”-vereiste wat die Bybel vir ons stel: vrede. Sonder vrede is ons kwaad vir mekaar, sal ons baklei en mekaar uitskel, sal ons mekaar veroordeel en ignoreer, sal ons wrokke koester en verseg om mekaar te vergewe. Kyk hoe belangrik is vrede vir Jesus: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.” (Matt. 5:22) Met vrede sal daar harmonie, begrip, aanvaarding en respek tussen ons wees. Moenie ’n dag kwaad afsluit nie, sê  die Bybel in Ef. 4:26. Maak liewers vinnig vrede, anders gaan jy slapeloos rondrol. Die Here sê ook dat as jy jou offer bring en onthou dat jou broer het iets teen jou het, dan moet jy die offer los en eers gaan vrede maak. (Kyk Matt. 5:23)  Sien, al is die ander persoon die bron van die onvrede, moet ons die eerste stap neem en uitreik en dinge gaan regmaak. Wie is daar wat jy vermy? Jy kyk anderpad as jy hulle raakloop. Jy het hulle “unfriend” op Facebook. As jy aan hulle dink, voel jy verbitter. As jy hulle naam hoor, laat dit ’n swaar gevoel in jou binneste. Dis húlle met wie jy moet gaan vrede maak. Ons praat nie hier van vreemdelinge nie. Ons praat van familie, van gemeentelede, van bure, van ou vriende en werkskollegas. “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewe die deurslag gee.” (Kol 3:15) Die Here gee Sy vrede vir ons as genade en voorreg  en dit moet uitvloei in vrede met ons naaste. Dit lyk my vrede met mekaar is nie opsioneel nie, dis ons plig. Hoe langer jy uitstel, hoe moeiliker word dit. Om die vrede te bewaar is belangrik – dis iets wat opgepas moet word, dis iets wat nie gelos moet word nie, ons moenie kompromieë daaroor toelaat nie. “Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen dwarstrekkery hê nie.” (Kol 3:15, Die Boodskap) As daar onvrede tussen ons is, mis ons uit op ’n ondersteuningstelsel, op vriendskap, op meelewing, op iemand om die goeie en slegte van die lewe mee te deel. As daar vrede tussen ons is, kan ons saamwerk en saamstaan, kan ons mekaar troos en bemoedig, kan ons mekaar aanspoor en na hoër hoogtes help. Jaag vrede na. ~ Wilna Botha, 10/10/2019

“Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.” (1 Pet. 4:9) Hierdie is vir my seker die moeilikste “mekaar” teks om te doen. Ek troetel my eie spasie, ek is jaloers op my privaatheid, ek stel my eie gerief en my tyd hoog op prys en is teësinnig om dit op te offer. Om alles te kroon lees ek toe nou nog dié teks in Die Boodskap ook. Dit sê: “As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom.” Sonder om te kla of te brom! Ek het nogal gewonder hoe ons hierdie opdrag in ons lewens kan laat realiseer, aangesien ons in ’n tyd leef waar ons nie ons huise sommer vir enige vreemdeling kan oopmaak nie. Dalk moet ons net ons harte meer oopmaak vir ander mense, hulle toelaat om in ons persoonlike spasie in te kom, hulle intrek in ons gesprekke. Ons moet ’n gasvrye gesindheid hê. Sodoende gee ons vir mense die boodskap dat hulle welkom en aanvaar en veilig in ons teenwoordigheid is. Ons moet mense laat tuis voel in ons geselskap. ’n Ander teks sê: “wees hartlik teenoor mekaar” – sien, dit behels jou oop hart, dit vra vir gasvryheid van jou hart. Aanvaar mense in jou teenwoordigheid net soos hulle is, sonder voorbehoud, sonder vooroordeel en veroordeling. Hoe kan ons dit prakties probeer? Waag dit om iemand vreemd of “anders” as jy te groet en ’n geselsie aan te knoop. Nooi ’n slag iemand anders as jou vriende en familie vir ’n ete – dit hoef nie ’n wildvreemde persoon te wees nie, dalk iemand by jou werk, of ’n gemeentelid, of jou bure. Vat een keer per maand iemand uit vir ’n koffie – elke keer iemand anders – wys vir hulle dat jy belangstel in wie hulle is en wat vir hulle belangrik is. Luister na hulle lewenstories en deel in hulle lief en leed. Die Here maak vir ons spasie in Sy binnekring, ja selfs in sy ewige woning maak Hy vir ons plek gereed. Waarom sal ons dit nie ook doen nie? “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Heb. 13:2) ~ Wilna Botha, 15/10/2019

“Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.” (Kol. 3:16). “Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak, help hom reg”, sê  dié teks in Die Boodskap. Gal 6:1 sê ook hoedat ons mekaar in ’n gees van sagmoedigheid moet reghelp. Die fokuswoorde hier is natuurlik “mekaar”,  “met alle wysheid” en “in ’n gees van sagmoedigheid”. Dié een met die wysheid en kennis en insig oor ’n saak, moet dit met sy geloofsgenote deel. Tegelykertyd moet hy natuurlik ook ’n oop hart en verstand hê wanneer iemand anders as die leermeester aan die woord is. As dit by onderrig oor geloof- en Woord-sake kom, is dit altyd ’n gee en neem situasie. Gee lering, maar ontvang dit ook met ’n leerbare gees. Help iemand reg, maar wees ook bereid om teregwysing te aanvaar sonder om kleinserig en liggeraak te wees. In Jak. 3:1 lees ons dat ons nie almal leermeesters moet wees nie, want dié wat ander leer sal strenger beoordeel word. Wees dus versigtig wanneer jy die leermeester is om nie iemand verkeerd te leer en hom sodoende te laat struikel nie. Vra die Here vir die wysheid en insig wat jy nodig het. Gebruik groot porsies geduld, sagmoedigheid, nederigheid en begrip. Kies jou woorde goed. Gebruik eenvoudige taal. Moenie probeer om mense te beïndruk met jou kennis nie.  Deel jou eie ervaring en praktiese toepassing van die inhoud van jou lering, nie net jou teoretiese kennis nie. Laat dit jou liefde vir die ander persoon wees wat jou dring om jou kennis en insig oor te dra. ~ Wilna Botha, 17/10/2019

“Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag.” (Gal 6:2, Die Boodskap) Dra mekaar se laste. Nie omdat jy wil nie, nie omdat dit maklik en logies is nie, nie omdat jy iets soek om jou mee besig te hou nie, nie omdat die ander een dit verdien of dit al vir jou gedoen het nie, nie omdat jy ’n “groot Christen” is nie, maar omdat dit is wat Christus van ons verwag. In sagmoedigheid en nederigheid vat Hy óns laste op Hom en gee vir ons in ruil Sy sagte en ligte juk. “Neem my juk op julle en leer van My,” sê hy in Matt. 11:29. Ons moet leer hoe Jesus dit doen en dit dan vir mekaar doen. Mense is uitgeput van swaarkry en oorlaai met probleme. Sien dit raak en help hulle. Gaan staan langs hulle en dra saam aan daai laste deur te luister, deur raad te gee, deur jou hulp aan te bied, deur te bid vir hulle. “So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap) En wees verseker dat dié dag wanneer jy dubbel vou onder jóú juk sal die Here iemand oor jou pad stuur om jou te help dra.  ~ Wilna Botha, 22/10/2019

“En sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hart tot eer van die Here.” (Ef. 5:19) Soos wat ek deur die “mekaar”-tekste in die Bybel lees, sien ek dié ene raak: ons moet saam met mekaar lofliedere sing tot eer van God. Hoekom? Dis ’n manier om as ’n eenheid saam met medegelowiges voor God te staan. Dit verskuif die fokus van onsself en ons onderlinge verskille en probleme na God en ons eendersheid in sy oë. Dis ’n manier om almal sáám uit een mond en met dieselfde woorde te verklaar wie die Here vir ons is. Dis ’n manier om almal sáám Sy eer te betuig. Dis ’n manier om vir die Here dankie te sê vir sy goedheid, sy verlossing, sy liefde wat ons saambind en om mekaar daaraan te herinner. Dis ’n manier om ons op te lig uit moeilike en donker omstandighede en God se lig raak te sien. Dink maar aan Paulus en Silas wat half doodgeslaan in die tronk sit en steeds ’n loflied sing (Hand 16:25). Of aan Habakuk wat ten spyte van groot onsekerheid sê: nogtans sal ek in die Here jubel! (Hab. 3:18) Of aan Jesus wat saam met sy dissipels ’n loflied gesing het enkele ure voordat Hy gevange geneem is vir sy kruisiging. (Matt. 26:30) Die gesingery hoef natuurlik nie net in die kerk of in ’n erediens te gebeur nie. Hou ’n lofprysingsaand saam met vriende (en vreemdes), sing as huisgesin saam, luister saam met mekaar na geestelike musiek. En ja, ons kán lofgesange onder mekaar sing sonder ’n orkes, sonder instrumente, sonder spesiale effekte, sonder perfekte nootvastheid. Sing net saam! “Laat alles wat asemhaal, die Here prys!” (Ps. 150:6) ~ Wilna Botha, 24/10/2019

Dit sal seker nie volledig wees as ons oor al die “mekaar”-tekste praat en ons sê nie iets oor “vergewe mekaar” nie. Is dit regtig nodig om wéér daaroor te praat? Ons weet mos teen dié tyd hoe belangrik dit is om mekaar te vergewe ... of dalk nie, want ons laat nog te dikwels na om dit te doen. Of is dit net ek? Kom ons neem dit maar weer ter harte: vergewe mekaar. Jy gaan beter voel. Dit gaan nie heeltyd aan jou vreet nie. Jy gaan nie nodig hê om draaie om sekere mense te loop nie. Jy gaan nie die ander “mekaar”-dinge kan doen as jy nie vergewe het nie. Jy gaan nie vir iemand kan bid as jy hom nie vergewe het nie. Jy gaan hom nie kan help, of hom aanspoor, of sy laste dra, of hom troos of saam met hom kan lofprysing doen as jy nog iets teen hom het nie. “Soos die Here  julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” (Kol. 3:13) Volg die Here se voorbeeld: vergewe én vergeet, vergewe nog voordat die ander een sy skuld kon bely, vergewe al verdien die persoon dit nie, vergewe weer en weer, vergewe uit liefde. Maak vandag nog die wilsbesluit om te vergewe. Sê dit hardop vir die Here. Sê dit hardop vir jouself. Sê dit hardop vir die ander persoon. Vergewe ander, nie omdat hulle noodwendig jou vergifnis nodig het nie, maar omdat dit is wat die Here van jou verwag. Vergewe omdat jy God se vergifnis nodig het. Vergewe omdat jy vrede nodig het. Onthou die vergewe-Wiskunde van die Bybel – 70x7. Doen dit maar nog ’n keer as dit weer nodig is. Daar gaan dalk ook ’n dag wees wat jy jou aan die ander kant van “vergewe mekaar” bevind en iemand se vergifnis nodig het. Moenie wag nie. Gaan sê so gou as moontlik jy is jammer. Wees die minste en vra vergifnis. Vergewe mekaar, want nie een van ons is volmaak en foutloos nie. ~ Wilna Botha, 29/10/2019

So tussen al die “julle moet mekaar”-tekste skuil daar ook ’n paar “julle moenie mekaar’s”. Wel, hulle kon seker almal maar net die teenoorgesteldes wees van die “julle moet mekaar’s”, maar daar is tog ’n klompie goed wat pertinent genoem word wat ons glad nie met mekaar moet doen nie. Byvoorbeeld: moenie bose planne teen mekaar bedink nie (Sag. 8:17), moenie hooghartig en eiewys wees nie (Rom 12:16), moenie verwaand wees, mekaar uittart of afgunstig wees op mekaar nie (Gal 5:26), moenie vir mekaar lieg nie (Kol 3:19), moenie kwaadpraat van mekaar nie (Jak 4:11), moenie oor mekaar kla nie (Jak 5:9), moenie oordeel nie (Matt. 7:1), moenie wraak neem nie (Rom 1:19). Hoekom nie? Want die Here sê Hy haat sulke dinge (Sag. 8:17); want hoe ons teenoor mekaar optree wys of ons met die Gees vervul is (Gal 5:25); want die Bybel sê ons is lede van een liggaam en as jy een van dié bogenoemde aan iemand anders doen, is dit asof jy dit aan jouself doen; want jy trek ’n streep deur jou Christelike getuienis as jy nie jou mede-gelowiges met respek behandel nie. Kyk maar hoe behandel mense mekaar, hoe praat hulle oor mekaar in die werkplek, hoe skinder die familie onder mekaar, hoe haal hulle mekaar uit op sosiale media kommentare. O, ek weet maar al te goed dat vier vingers terugwys na my en dat ek skaam is om te erken dat ek skuldig is aan al die bogenoemde. Kom ons volg maar biddend en nederig die eenvoudige beginsel van: doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. “As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra.” (Matt. 7:12, Die Boodskap) ~ Wilna Botha (31/10/2019)

“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê , want die liefde bedek baie sondes.” (1 Pet. 4:8) Hier kom ons nou by dié heel belangrikste “julle moet mekaar ...” Sien, die Bybel sê “bo alles". Soos ’n groot sambreel moet die liefde vir mekaar bo-oor alles wat ons doen en sê en dink opgeslaan word. Soos ’n sambreel mens kan beskerm teen son of reën, moet ons liefde vir mekaar ons verhoudinge beskerm. Die liefde bedek baie sondes, sê  die teks. Die sambreel van liefde behoort mekaar se tekortkominge te bedek en doemprofete, kritiese tonge en foutvinders weg te keer van ons geliefdes en medegelowiges. 1 Kor. 13:7 beaam ook met: “... (die liefde) bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” “Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie.  Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie.” (1 Pet. 4:8, Die Boodskap) Sonder liefde is ons niks. Sonder liefde is alles wat ons doen of  bereik net soos ’n klinkende metaal of galmende simbaal – net ’n groot geraas en in God se oë ’n nul op ’n kontrak. As mens in Gal. 5:22 die vrug van die Gees lees, dan is liefde een daarvan, maar haal die liefde uit die lys uit, dan verloor die res ook hulle betekenis. Sonder liefde is daar nie vreugde of vrede nie. Sonder liefde ontbreek geduld en selfbeheersing. Sonder liefde is goedhartigheid en vriendelikheid oppervlakkig en van korte duur.  Dis harde woorde en dit spreek my aan. Waar gaan ons genoeg liefde kry om só lief te hê? By die Here. Sý bron is onuitputlik en verniet. Vra Hom vir meer liefde en Hy sál dit gee. “Hy vul ons lewe elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly.” (Rom 5:5, Die Boodskap) “... En die grootste hiervan is die liefde.”  ~ Wilna Botha, 05/11/2019

Iets wat ek oor en oor besef het soos wat ek deur die “julle moet mekaar”-opdragte van die Bybel gewerk het, is dat dit nie daar is om ons te straf, of die lewe vir ons moeilik te maak, of groot eise aan ons te stel nie. Dis ook nie net daar ter wille van ons naaste nie, dis daar sodat onsself ook baat sal vind daarby.  “Mekaar” impliseer tog dat daar twee partye is. Soms gaan jy gee en heel dikwels gaan jy ontvang. Dalk gaan jy selfs meer terug ontvang as wat jy gegee het. “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.” (2 Kor. 9:6) – what goes around, comes around, sê die spreekwoord mos. Party mense is egter so ingestel daarop om ander te bedien, dat hulle hulleself nooit oopstel om aan die ontvangkant van die “julle moet mekaar ...” te wees nie. Hoewel die Bybel sê: “Om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:35), mag en moet ons ook soms aan die ontvangkant van die “mekaar” wees. Aanvaar hulp, maak jou hart oop vir die liefde wat iemand anders aan jou wil bewys, wees gewillig dat iemand ’n slag vir jóú bid, wees bereid dat jou geestelike familie jou las vir jou kom dra, vir jou kom moed inpraat of troos, of jou bederf met ’n ete of ’n bos blomme, aanvaar die gasvryheid wat iemand aan jou wil bewys. Wees ontvanklik vir ander se goedheid, barmhartigheid en genade. Sodoende maak jy dit weer vir die ander persoon moontlik om sý kant van die “mekaar”-dinge uit te leef tot eer van die Here. As deel van die Here se familie is ons in ’n span van gee en ontvang. Twee vaar beter as een en ’n driedubbele tou breek nie maklik nie. (Pred. 4:9, 12) ~ Wilna Botha, 07/11/2019

Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra, mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en lofliedere saam sing. Jy mag dalk, net soos ek, oorweldig voel as jy dink jy moet jou mense altyd só behandel. Dit voel of ons altyd die minste moet wees, altyd moet toegee, altyd ons eie belange opsy moet skuif, altyd die ander een hoër ag as onsself. Ek het egter besef dat die Here nie iets van ons sal verwag waarvoor Hy nie vir ons die gewilligheid, die vermoë, die uithouvermoë, die krag en insig, die regte gesindheid sal gee deur die Heilige Gees nie. Jesus het eerste al hierdie mekaar’s met óns gedoen en so vir ons die voorbeeld kom stel van hoe ons teenoor mekaar moet wees. Hy het ons eerste liefgehad voordat ons Sy liefde kon beantwoord. Hy het ons eerste vergewe terwyl ons kniediep in die sonde was. Hy het ons eerste gedien deur Sy lewe vir ons af te lê. Hy het ons eerste aanvaar en ons Sy kinders gemaak. Hy het ons eerste in Sy binnekring verwelkom en deel van Sy huisgesin gemaak. Hy was eerste geduldig met ons en ons telkens weer opgetel as ons gestruikel het. Hy het ons eerste getroos en moed ingepraat, ons trane afgevee en vir ons hoop gegee. Hy het ons eerste na Hom toe uitgenooi en ons laste op Sy skouers geneem. Nou is dit ons beurt om só teenoor mekaar op te tree. Ek bid dat die Here ons daarmee sal help. ~ Wilna Botha, 12/11/2019

Om die “julle moet mekaar” – reeks af te sluit wil ek net bietjie bespiegel oor wie dié mense is teenoor wie ek al hierdie “mekaar”-dinge moet uitlewe? Is dit net my naby mense? My kerk-mense? Mede-gelowiges? Almal wat ek teëkom? Alle mense? Hoe vêrder mense weg is uit my veilige, bekende kring, hoe minder gewillig is ek om hulle met die “mekaar”-dinge te bedien, hoe meer verskonings kan ek gee oor waarom ek hulle nie hoef te aanvaar, vergewe, lief te hê, help, ens. nie. Ek besef maar net weer dat die Here se aanvaarding, genade, liefde en hulp daar is vir almal, Hy maak nie onderskeid nie. Ek behoort ook nie. Ek moet egter bely dat dit nie ’n maklike saak vir my is nie. Daar is ’n  teks in 1 Pet. 2 wat my ’n bietjie help. Dit help my om te visualiseer dat my hand eintlik God se hand vir iemand in nood is. Dat my stem eintlik God se stem vir ’n  moedelose, hooplose persoon is. Dat my hart eintlik God se hart vir vir ’n verlore siel is. Hierdie teks gee die eintlike rede waarom ons op ’n seker manier teenoor mekaar behoort op te tree. “So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap) Kom ons raak mekaar aan met God se hand, met God se liefde, met God se onvoorwaardelik aanvaarding. ~ Wilna Botha, 14/11/2019


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)