Daaglikse Heuningdruppels -
Musiek en Lofprysing
 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Musiek & Lofprysing

Ek geniet deesdae nogal die aanlyn-kerkdienste. Ons sit sommer lekker in die bed en kyk terwyl ons koffie drink of pap eet. Wat ek egter mis in hierdie tye van aanlyn-kerk is die lekker saamsing. Ja, daar is 2 of 3 liedjies in die uitsending, maar dis nie dieselfde as om sáám met almal vrolik te sing nie. En selfs toe die dominee sê: staan op en sing saam, het ek dit nie gedoen nie, want dis net nie dieselfde as om sáám met die gemeente te sing nie. Musiek en sang is nog altyd deel van ons samekomste as gelowiges. Soos Ef. 5:19 sê: “Sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” Dit smee ons saam, dit laat ons uit een mond lof bring, dit verander ons luim, dit help ons fokus op die Here, dit verwoord ons smagting na die Here se aanraking en genade, ens. Geen wonder dat Ps. 22:4 sê dat die Here woon waar sy volk se lofsange weerklink nie. Daar waar ons saam sing, word ons bewus van Sy teenwoordigheid. Ek het bietjie in die Bybel gaan opsoek oor verskillende liedere wat opgeteken is. Daar is natuurlik die Psalms wat lofliedere, dankliedere, klaagliedere, oorlogsliedere, beskermingsliedere ens. insluit, daar is Hooglied wat liefdesliedere tussen twee minnaars is. Dan is daar die menigte engele wat sing om Jesus se geboorte aan te kondig, daar is Paulus en Silas wat in die tronk sing, Jesus en sy dissipels wat ’n danklied sing na die nagmaal, die Israeliete wat oorwinningsliedere sing, die lied van Moses, die lied van Hanna, van Hiskia en Habakuk, asook Maria se loflied en Sagaria se loflied. Daar is nog altyd gesing en musiek gemaak tot eer van die Here, in goeie tye én in swaar tye.  Kom ons hou aan sing, al leef ons in vreemde tye. Kom ons hou aan sing, al voel jy nie lus nie. Kom ons hou aan sing, al sing jy alleen. Kom ons sing want die woorde van die loflied sal jou wel aanraak en jou geloof versterk. Kom ons sing want die musiek sal jou hart aanraak en jou gedagtes vul met dié dinge wat daar bo is. “Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof.” (Ps. 30:13) ~ Wilna Botha, 28/07/2020

Die eerste plek waar ek iets raaklees in die Bybel oor musiek is in Gen. 4:21. Onder die nageslag van Kain word Jubal genoem as “die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel”. Lyk my dís waar ons kerk-musiek begin het! Sy naam klink nogal na “jubel” – dít wat ons harte wil doen wanneer ons saamsing en die lof van God besing, wanneer ons Sy karaktereienskappe en Sy dade beskryf in ons liedere. Nou ja, vanaf Genesis tot Openbaring vind mens ’n musikale draad -  daar word daar gesing en musiek gemaak met allerlei instrumente by verskeie geleenthede. Toe ek dié musiekdraad so bietjie probeer volg, kom ek af op ’n refrein wat herhaaldelik gesing is en by ’n paar geleenthede groot gevolge gehad het: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”  Mens lees bv. in 2 Kron. 20:21 hoedat dié lied meegewerk het dat die Moabiete en die Ammoniete verslaan is: “Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en die gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk ...” en so bring die aanvallers mekaar om die lewe. Geen ander wapen was nodig as nét die lofsange nie! Toe hulle sing, het die Here namens hulle geveg. Na die bou van die tempel toe die verbondsark in die tempel ingedra is, het die Levitiese sangers gereed gestaan met simbale, harpe en liere en wéér is dié lied gesing: “Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van die trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het ’n wolk die huis van die Here gevul ... dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tempel van God gevul het.” (2 Kron. 5:13-14) Dié refrein kom voor in ’n hele paar van die Psalms, bv. Ps. 100 , 106, 107, 118 en dan ook in elke vers van Ps. 136: “Aan sy liefde is daar geen einde nie!” Miskien is jy vanaand in ’n “oorlog”, dalk staan jy voor ’n moeilike situasie, ’n groot vyand wat jou wil oorweldig. Miskien het jy vanaand die sekerheid nodig van die Here se teenwoordigheid by jou. Maak sommer jou eie wysie op vir hierdie woorde, sing dit, glo dit en ervaar dat die Here jou hart en jou lewe en jou huis kom vul en dat Hy namens jou veg en vir jou oorwinning gee. “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” ~ Wilna Botha, 30/07/2020

“As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.” (Jak 5:13) Dit is gelukkig so dat almal in ’n gesin of ’n familie of ’n gemeente darem nie op dieselfde tyd depressief is nie. Dié wat opgeruimd is, moet aanhou om hulle lofliedere te sing, want daardeur beïnvloed dit die aanhoorders positief en sal hulle hopelik binnekort ook inval met hulle eie lofliedere. “Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaarkry sal dit hoor en bly wees daaroor.” (Ps. 34:3) Al het jy nie sélf die lus of al het jy dalk nie die innerlike krag of vermoë om ’n loflied te sing nie, luister na ander se lied en dit behoort jou vir daai oomblik te verplaas na ’n beter plek waar jy ligter voel en dalk vir ’n oomblik van jou probleme kan vergeet en kort voor lank sal jy ook weer ’n loflied sing. “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.” (Ps. 42:6) Ai, ek weet maar al te goed hoe moeilik dit kan wees om te luister na iemand se vrolike lofsange terwyl jy self nie wíl sing nie. “Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag, of asyn op bytsoda, so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.” (Spr. 25:20) Of as mens, soos Job, só negatief en terneergedruk is dat jou lofliedere stil raak en jy net treurliede kan en wil sing: “Al wat vir my oorbly, is ’n treurspel op die lier, ’n lied van trane op die fluit.” (Job 30:31) Só het die Israeliete se lofsange ook opgedroog toe hulle in Babel in ballingskap was. Hulle het selfs hulle liere aan die wilgebome opgehang en sê in Ps. 137:2. “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?” Tóg het daar weer ’n dag aangebreek dat hulle terug was in Jerusalem en hulle weer die lof van die Here kon besing met ’n nuwe lied. Moenie dat jou omstandighede jou loflied steel of stilmaak nie. Sing ten spyte van jou swaarkry. Sing, want die Here het nie verander nie.  Sing, al bot die vyeboom nie, al is daar geen druiwe aan die wingerde nie, al het die olyfoes misluk, al is die beeskrale sonder beeste. Sing soos Habakuk en behou jou blydskap, hoop en vrede ten spyte van die omstandighede: “Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”(Hab. 3:17-19) ~ Wilna Botha, 04/08/2020

“Music is food for the soul. Not only does it help in reducing stress, it makes one happier. It helps in calming down a person, and makes one more creative.” Dis ’n aanhaling wat ek êrens gelees het. Dis waar en dit geld in die oortreffende trap wanneer daai musiek Gees-geïnspireerde lofprysing- of aanbiddingsmusiek is. Die wysie, die ritme, die woorde werk alles saam om jou hart en jou siel aan te raak en jou gemoed te verbeter. Een so ’n geval in die Bybel is waar Saul telkens deur ’n boosaardige gees oorgeneem is en Dawid geroep is om op sy lier te speel, dan het die boosaardige gees padgegee en Saul het rustig geraak. “And whenever the harmful spirit from God was upon Saul, David took the lyre and played it with his hand. So Saul was refreshed and was well, and the harmful spirit departed from him.” (1 Sam 16:23) Is jy gespanne? Jou binnekant onstuimig? Jou kop ’n warboel? Skakel ’n paar oomblikke af en luister na ’n geestelike lied, of sing een van jou gunsteling kerkliedjies, of tokkel op ’n instrument en ervaar dat die Here se rus van jou besit neem sodat jy verfris voel, sodat jy weer kan fokus op dit wat jy moet doen, sodat jy dalk insig kry oor ’n probleem wat jy moet uitsorteer, of ’n woord van wysheid ontvang wat jy nodig het. “... want ek hoor ’n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op die lier speel, wil ek ’n geheimenis verklaar.” (Ps. 49:5) ~ Wilna Botha, 06/08/2020

Daar is ’n tyd vir alles, sê  Prediker 3. ’n Tyd vir stilbly én ’n tyd om te dans van blydskap; ’n tyd om uit te breek in vrolike lofgesange, wil ek sommer byvoeg. Ek lees in Eks. 15 van Moses en die Israeliete se oorwinnings-loflied. Die Here het die volk gered van die Egiptenare, die see het oor hulle gestroom, nie een het oorgebly nie en die Israeliete is droogvoets en vry. Hulle kon nie anders as om met ontsag vir die Here vervul te wees, in Hom te glo en ’n loflied tot sy eer te sing nie. Net vantevore het Moses vir die volk gesê om kalm en stil te wees, om nie bang te wees nie, vas te staan en te kyk wat die Here gaan doen.  (Eks 14:13-14) Nóú sing en juig hulle oor sy wonderdade, oor sy redding, oor sy oorwinning, oor sy heerskappy, oor sy bevryding. “Singing is as much the language of holy joy as praying is of holy desire”, lees ek nou die dag êrens. Hierdie was beslis ’n nuwe lied – Moses het dit sekerlik daar op die oomblik gekomponeer, dink ek. Dit was seker ook nie die laaste keer dat hulle die lied gesing het nie. Dikwels daarna as hulle weer onthou het hoe die Here hulle wonderbaarlik gered het, het hulle dit dalk weer gesing as ’n herinnering: “U wind het gewaai: die water dam op, strome staan regop soos ’n muur, watermassas stol in die hart van die see” (Eks 15:8). In Openb. 15:3-4 sing dié mense wat die oorwinning behaal het, nog ’n keer Moses se lied en nou word dit die lied van die Lam genoem!  “Here God, die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan. Here, U is die sterkste en kragtigste van almal ...” (Openb. 15:4) Daar mag dalk tye wees dat jy, soos die Israeliete, voor die golwende waters van die lewe staan – stil, met asem opgehou omdat jy nie weet hoe jy anderkant gaan uitkom nie. Glo dat die Here vir jóú ook ’n pad sal maak, die golwe sal wegdryf, jou sal deurlei en jou sal verras met sy uitkoms, sy grootheid, getrouheid en genade. Mag jou tyd van stilbly binnekort ’n tyd van lofprysing word. ~ Wilna Botha, 11/08/2020


“Laat die volk bymekaarkom en Ek sal vir hulle water uit die put gee.” Israel het toe hierdie lied gesing: “Put, lewer jou water en ons sal daarvan sing! Put wat deur leiers gegrawe is, wat deur vernames van die volk oopgemaak is met septer en kierie””(Num. 21:17). ’n Twee-reël lied wat die Israeliete sing in afwagting van die Here se belofte dat Hy by dié put vir hulle water sal gee. As mens die voorafgaande verse lees, is jy sommer moeg (én dors) wanneer jy sien hoe die klomp kamp opslaan en trek, kamp opslaan en trek, kamp opslaan en trek ... deur die woestyn. Dié keer sonder om te kla en Moses en die Here te verwyt soos voorheen: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie en ons is sat vir hierdie slegte kos.” (Num. 21:5) Sonder dat hulle nou weer kla en murmureer en sonder dat Moses die rots slaan, bring die Here hulle by ’n put en gee vir hulle water. Die water is ’n lafenis. Dit les nie net die dors nie, dit was die stof en die swaarkry van die woestyn af, dit verfris, dit vertroos, dit gee nuwe lewe en moed en vertroue in God se voorsiening. Dít laat hulle sing! En ons? Ons kry die lewende water vrylik, verniet, oorvloedig by die Here. Hy nooi ons uit na die put waar Hy vir ons water wil gee: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh. 7:37) Hy sê as ons uit Sy put drink, gaan ons nooit weer dors kry nie. “Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh. 4:14) Voel jy daai fontein van die Heilige Gees opspring in jou siel? Sing dan ’n loflied! Ons het klaar deur die woestyn getrek. Ons het aangekom by die Put met die lewende water. Kom, kry dit verniet, kom drink, kom sing daaroor en eer God! “All who are thirsty, all who are weak, come to the fountain, dip your heart in the stream of life, let the pain and the sorrow, be washed away, in the waves of His mercy...” ~ Wilna Botha, 13/08/2020

Daar is twee vroue in die Bybel wat op wonderbaarlike wyse swanger raak en seuns in die wêreld bring. Albei prys God en maak sy naam groot en besing sy dade. Dit is Hanna, ma van Samuel, en Maria, ma van Jesus. In 1 Sam 2:1-10 lees ons Hanna se lofgebed en in Luk. 1:46-55 Maria se loflied. Ek twyfel of enige van hierdie woorde op ’n wysie gesing is. Dit was net woorde van lof wat opgeborrel het uit oorstelpte harte. Dit was eerbetuiging wat bevestig het wie God is en waartoe Hy in staat is. Ons hoef nie te wag tot die musiek speel om weg te val met ’n loflied nie, nee, bid dit, sê dit, skryf dit, leef dit. Maak jou eie loflied en as jou woorde opraak, kom “leen” by hierdie twee vroue. Daar is vir my ’n tema wat uitstaan in beide vroue se lofbetuiging en dít is dat die Here ’n mens se omstandighede ten goede kan verander, dat negatief positief kan word. Hierdie vroue het dit persoonlik ervaar en besing en eer God daarvoor. Kyk die kontraste wat genoem word: onvrugbaar word vrugbaar, honger word versadig, dié wat struikel kry nuwe krag, geringes staan op uit die stof, armes word opgehef en kry ’n ereplek. Dis die verloop van die lewe: swaar en onvrugbare tye gaan verby en die Here bring nuwe geboortes en nuwe lewe. Die vroue het egter hulle loflied gesing ten spyte daarvan dat hulle geweet het dat hulle hul seuns sou moes afstaan ter wille van ander, ter wille van God se koninkryk. Hulle het gesing al het hulle geweet dat daar eintlik weer trane op hulle wag. Dis die verloop van die lewe: daar is opdraandes en afdraandes, daar is gebrek en daar is oorvloed. ’n Tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag ... en nogtans sal ek in die Here jubel. ~ Wilna Botha, 18/08/2020

Ek het nou die dag iets geskryf oor Maria en Hanna se lofliedere. In Rigters 5 lees mens nóg ’n vrou se lied. Dié van Debora. Wel, sy het dié lied sáám met Barak gesing as oorwinningslied nadat Israel oorwinning oor Jabin se leër behaal het en Sisera om die lewe gebring is. Debora is ’n heel formidabele vrou. Sy is ’n profeet, sy het as regter opgetree wanneer mense geskille met mekaar gehad het, sy was ’n goeie leier, onderhandelaar en beplanner en dis onder haar planne en leiding dat dié oorwinning behaal is. Na die oorwinning sing sy: “Ek sing tot eer van die Here, ek prys die Here die God van Israel met my lied.” (Rigters 5:3) Dis hoe dit hoort: die Here moet die fokus wees van ons lofliedere, dit moet tot sý eer gesing word. Ons moet waak daarteen dat ons té veel van ons lied en ons musiek en ons instrumente en ons voorsangers maak. Ons moet waak daarteen dat die fokus verskuif van die Here af na die lied en ons eie stemme, ons eie belewenis, ons eie gevoel, ons eie trane of hoendervleis terwyl ons sing. Daar is ’n baie mooi lied van Matt Redman wat juis hieroor gaan. Hy sing: “I'll bring You more than a song, for a song in itself is not what You have required; You search much deeper within through the way things appear; You're looking into my heart. I'm coming back to the heart of worship, and it's all about You, all about You, Jesus. I'm sorry, Lord, for the thing I've made it when it's all about You, all about You, Jesus.” Dis ’n belydenis dat die lied en die musiek self belangriker geword het as dié Een waaroor die lied gaan. Stukke van Debora se lied val vir my maar effe vreemd op die oor, veral hier by vers 7 waar dit klink asof sy bietjie haar eie beuel blaas: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.” Sy hét wel ’n groot rol gespeel in hierdie oorwinning en in Israel se geskiedenis, want hierna het daar 40 jaar van vrede in die land gevolg. Hoe dit ook al sy, hierdie het my maar net laat dink dat wat ons ook al sing ons vir die Here moet sing, dat ons die woorde van ons liedere sal oordink en dat die Here se lof en eer altyd die hooffokus van ons geestelike musiek moet bly. ~ Wilna Botha, 20/08/2020

“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (Ps. 50:14) Die Here wil nie meer mense se offers van bulle, bokke, ramme, lammers, voëls en ander goeters hê nie. Nee, Jesus se liggaam en Sy bloed was die volmaakte en volkome offer vir ons sondes, die finale offer wat vir ons vrede en vryheid en versoening met God bewerk het. Die offer wat God nou van ons vra is ons lofprysing, dankbetuiging en eerbetoning teenoor Hom vir dié genade. Dit beteken nie ons moet heeldag ’n lied loop en sing nie, dit beteken ons lewe moet spreek van ons dankbaarheid, dit beteken dat ons onvergenoegdheid, ontevredenheid en gekerm moet plek maak vir ’n positiewe gesindheid, dat ons harte sag en vol bewondering en eer vir God sal wees in alle omstandighede en ja, ook dat daar ’n loflied met mooi prys-woorde en ’n wysie op ons lippe sal wees. As die teks praat van ’n offer van lof, beteken dit dat dit iets van jou sal vra. ’n Offer beteken jy moet iets prysgee. ’n Offer impliseer iets wat nie sommer net spontaan gaan kom nie, jy moet ’n besluit maak daaroor. Jou kop en jou verstand moet instem om God te loof en jou hart en jou lippe moet volg met die woorde. Ons mag nie wag totdat ons lig en lekker en vrolik voel om ’n loflied te sing nie, sing al gaan dit gepaard met trane, sing al is dit donker en al sien jy geen uitkoms nie. ’n Loflied in sulke omstandighede is ’n geloofstap, ’n herinnering dat alles ten goede sal meewerk, ’n getuienis van jou vertroue op die Here se uitkoms. “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Heb. 13:15) ~ Wilna Botha, 25/08/2020


“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so...” (Ps. 42:6) Vanaand voel ek ook bietjie só: kermrig, klaerig, moeg, klomp goed loop verkeerd, sommer net omgekrap, bietjie bewolk ... noem maar op! Dalk kan jy identifiseer daarmee, dalk kan jy nog ’n klomp goed by die lysie voeg. Dis seker heel natuurlik om af en toe so ’n klaaglied te sing, veral as ek sien dat daar ’n hele klompie van die Psalms is waar die kla-faktor deurskemer en dat daar ’n hele boek in die Bybel is wat uit klaag- en treurliedere bestaan! Wat ek egter vir my uitstaan in die klaagpsalms, is dat dit nooit net by kla en kerm en mor bly nie. Dwarsdeur spring daar ’n geloofsbelydenis en ’n verklaring van vertroue in die Here op en word die klaaglied weer ’n loflied, word die treurmare weer ’n vrolikheid. Soos hier in Ps. 42:6: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing, Hy is my Helper en my God!” Hierdie teks herhaal weer in vers 12 én in Ps. 43:5. Drie keer herinner die digter homself daaraan om op die Here te vertrou en vir Hom ’n loflied te sing.  Ek gaan dit ook doen en my troos en my loflied in Klaagliedere 3:21-23 vind: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” ~ Wilna Botha, 27/08/2020

En hoe was jou lentedag? Wel, hier by ons was dit ’n koue, mistroostige dag met donker wolke wat geen son deurgelaat het nie. En toe, vanmiddag, sowaar ’n lekker bui reën. Die eerste reën na die winter. Dit lyk toe steeds nie soos lentedag nie, maar dit ruik darem al so! Daai reën op die dak en die ligte gedonder van die weer, het vir my sommer baie na ’n loflied geklink. Ek het toe besef dat die aarde, die bome, plante, die wolke, die reën, die wind, alles in die natuur die Here se lof besing deur net te wees wat Hy hulle gemaak het om te wees, deur te doen wat Hy hulle beveel om te doen. Kyk hoe mooi sê (sing) Ps. 148: “Prys die Here van die aarde af ... weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg .... laat hulle die Naam van die Here prys.” Dink bietjie daaraan as jy weer jou loflied sing – die aarde sing saam. So in droogte of reën, koud of warm, storms of stilte, sién die Here se werke raak, prys Hom, eer Hom, loof Hom. Lof aan God kan nie stilgemaak of uitgedoof word nie. As ons sou ophou of weier of versuim om dit te doen, dan sal die klippe die Here se lof uitroep (so sê Luk. 19:40). “Prys die Here! Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is ’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” (Ps. 147:1) ~ Wilna Botha, 01/09/2020

Daar is ’n tyd om vrolike lofsange tot eer van God te sing, om uit volle bors te jubel en juig, om die Here se lof uit te basuin, om hande te klap, te dans en op allerlei instrumente te speel. Daar kom egter ook tye wat mens se lofbetuiginge stilweg gebeur, amper sonder woorde, sonder musiek, sonder ’n gejuig,  net met die diep erkenning in jou hart dat die Here goed en groot is en dat Hy al jou eer, agting, bewondering en respek waardig is. Om die Here só te aanbid is ’n baie intieme en persoonlike saak. Dit vra stilte, ontsag, eerbied en nederigheid en geskied met opregtheid, eerlikheid en algehele oorgawe aan Hom. “Give worship to the Lord with fear, kissing his feet and giving him honour”  (Ps. 2:11). ~ Wilna Botha, 03/09/2020

In die diepste donker, op die bodem van die see, woeste waterstrome rondom jou, een brander na die ander wat oor jou breek, seegras om jou kop vasgedraai, afgesny van die Here, bevrees en beangs - dit klink nie eintlik na omstandighede vir ’n loflied nie nè! En veral nog as dit deur jou eie toedoen is dat jy in dié gemors beland het. Dis waar Jona hom bevind het na drie dae en drie nagte in die groot vis se maag. Lees maar daar in Jona 2 hoe rof dit met hom gegaan het. Toe dit vir hom voel of sy einde aangebreek het, doen hy drie belangrike dinge: hy dink aan die Here, hy bid en hy sing ’n loflied. Maak sommer dié drie die slagspreuk van jou lewe: dink, bid, sing. Dink aan die Here wanneer dit swaar gaan, wanneer jy verlate, alleen, verwerp, siek of bang voel. Dink hoe groot en sterk en almagtig Hy is. Dink aan sy genade. Dink aan sy beloftes. Pred. 12:1 sê: dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae kom. Ek wil dit sommer “vertaal” na: dink aan jou Skepper terwyl dit goed gaan, voor die swaar dae kom. Sodoende kan jy jou verstand en jou hart as’t ware programmeer met die karakter van die Here, met die wete dat Hy jou nie alleen sal los nie, met die wete dat Hy jou sal help en red. Doen dít sodat jy in die swaar dae outomaties aan die Here sal dink. Bid tot die Here wanneer dit swaar gaan. Pak jou hart voor Hom uit, werp jou bekommernisse op Hom, maak jou begeertes en behoeftes aan Hom bekend. En sing! Sing ’n loflied wanneer dit swaar gaan, sodat jou fokus kan verskuif van jou probleme na dié Een oor wie jy sing. Sing sodat jou gemoed ligter kan word en met hoop en verwagting gevul kan word. Weet jy wat het met Jona gebeur nadat hy gedink, gebid en gesing het? Die Here het uitkoms gegee en hom gered. Dink, bid en sing  - die Here se hand is uitgesteek om jou te help. “Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel ... terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n  offer bring. Hulp kom net van die Here af. Toe beveel die Here die vis en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.” (Jona 2:7-10) ~ Wilna Botha, 09/09/2020

“Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe.” (Op 14:1) Wat ’n wonderlike prentjie moet hierdie nie wees nie? Jesus by sy getroue volgelinge. Hulle is gemerk en elkeen dra die stempel met Sy Naam daarop. Hulle is uitgesoek, losgekoop, gereinig, silwerskoon, onberispelik, gewas in Sy bloed. En hulle sing ’n nuwe lied daar in die hemel voor sy troon. Dié loflied is so hard soos die gedruis van ’n groot watermassa en so indrukwekkend soos die gedreun van swaar donderweer en só mooi soos ’n klomp siterspelers wat die mooiste melodieë saam speel. Hulle sing ’n nuwe lied, ’n lied wat nog nooit voorheen gesing is nie, ’n lied met “geheime” woorde. Nét hulle kan die lied leer, nét hulle ken die woorde van die lied. Niemand anders kan inmeng in hulle vreugde nie, niemand kan die lied kaap en probeer saamsing nie; vir niemand anders maak die lied sin nie. Uiteindelik word die suiwerste loflied met die mees perfekte woorde en volmaakte melodie tot eer van die Lam gesing. Sing jý saam? Sal jy een van dié wees wat die woorde van die finale lied ken en uit volle bors saamsing op daai dag in die hemel? Jy kan! Kies vir Jesus as jou Here, Verlosser en Vriend en die woorde en die wysie sal in jou hart ingeskryf word deur Sy Gees. ~ Wilna Botha, 16/09/2020

Ons was die afgelope naweek uiteindelik bietjie weg van die huis af. Ná al die maande se inperking en tuisbly was dít nou ’n groot seën en voorreg wat my met dankbaarheid gevul het. Ek wou sommer net ’n loflied sing want ek weet die Here het ons deur al hierdie moeilike maande gedra, vir ons gesorg en meer gegee as wat ons ooit kon dink. Aangekom by ons oornag-plekkie op ’n gasteplaas beleef ek hoedat die natuur sáám jubel en sáám sing tot eer van God: die nuwe groenigheid en bloeisels wat orals deurbreek, die voëls wat nie kan ophou kwetter nie, die helder sterre wat net meer en blinker is as in die stad en die blare van die bome wat so mooi ritsel in die wind dat dit sommer soos ’n waterval klink. Dit het my laat dink aan Jes. 55:12 wat praat van die berge en heuwels wat jubel en juig en die bome in die veld wat hande klap. Ek het dít gehoor! Hulle doen wat 1 Kron. 16:31-33 sê: “Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, hulle moet onder die nasies verkondig: “Die Here regeer.” Die see en alles daarin moet druis, die veld en alles daarop moet jubel, die bome in die bos moet hulle verheug voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers.” En ek neurie saam met die bome in die bos: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” (1 Kron. 16:34) ~ Wilna Botha, 22/09/2020

Erfenisdag... Ek het vandag met dankbaarheid gedink aan dié dinge wat ek van my voorgeslagte geërf het - nie besittings nie, maar wel allerlei gebruike en rituele en gewoontetjies; maniere van dink, ingesteldheid en uitkyk op die lewe. En dan natuurlik goeie waardes, nederigheid, deursettingsvermoë, opstaan ná moeilike omstandighede en belangrikste van alles: geloof. Vir ons gesin is hierdie Botha-Familiebybel baie kosbaar. Dis bykans 300 jaar oud en is van geslag na geslag oorgegee. Kyk 'n bietjie na die agterste gedeelte van die boek wat erg verweerd is. Mens kan sien daai blaaie is baie gebruik, hulle is heen en weer geblaai en daar is altyd weer teruggegaan na sekere gunstelinge. Daai bladsye bevat die Psalms en Gesange, natuurlik in hoog-Hollands. Dié voorgeslagte het gesing! Daar is dalk net 'n kort stukkie voorgelees uit die Bybel en dan is dit opgevolg met lofprysinge, eer aan God, dank aan die Skepper... “O goedheid Gods! Nooit regt geprezen, heet hij een mensch, dien gij niet treft? Hoe snood ondankbaar moet hij wezen, die’t hart niet vrolijk tot U heft!” Aan U alleen sy dank en ere – laat dit my lus, my lied hier bly! En ek is dankbaar dat ons ook dít van ons voorgeslagte geërf het om God te prys met ons liedere, oor en oor, ongeag die omstandighede... totdat die blaaie verkrummel! ~ Wilna Botha, 24/09/2020

“Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê.” (Ps. 147:1, Die Boodskap) Toe ek die definisie van “praise” opsoek, het dit vir my nuwe betekenis gegee aan die manier waarop en die rede waarom ons lofprysing doen. ”Praise is defined as the expression of respect and gratitude as an act of worship.” Ek sien 4 goed wat vir my uitstaan: (1) Dis ’n uitdrukking. Ons lofprysing moet in woorde gestel word – dit móét gesê, gesing, geskryf, gebid word. (2) Ons betoon ons respek aan God daardeur – dit behels eerbied, ontsag en agting vir wie God is en wat Hy doen. (3) Dit gaan gepaard met dankbaarheid vir dit wat ons uit sy hand ontvang – soos die teks hierbo sê: dit pas by ons om met liedere vir Hom dankie te sê. (4) Dis ’n manier van aanbidding, van liefde betoon – dit vra ’n nederige hart, ’n  onverdeelde hart, ’n toegewyde lewe. Dit vra dat ons ons krone sal afhaal, minder van onsself sal dink en voor Hom sal buig. “Maak die Here, ons God, groot bo alles. Buig laag voor sy voete ... Maak die Here, ons God, groot. Kniel voor Hom neer en erken Hom vir wie Hy is.” (Ps. 99:5 & 9, Die Boodskap) “Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik!” ~ Wilna Botha, 29/09/2020

Baie van ons geestelike liedere het mos die woord “halleluja” in. Daar was selfs sangbundels wat die “Halleluja-boek” genoem is en die lofliedere daarin “Halleluja-liedere”. Sovêr ek kan sien, is dit nie ’n woord wat in die Bybel voorkom nie, daarom het ek maar in die woordeboek gaan kyk wat dit beteken. ’n Uitroep van vreugde en dankbaarheid met die betekenis “loof die Heer”, sê  die HAT. Dis ook ’n musikale komposisie of ’n loflied, sê  die woordeboek. Ek het ook vir Google gevra en daar het ek gelees dat dit blykbaar ’n samestelling is van twee Hebreeuse woorde: Hallel en Jah. Jah is die verkorting van Jehovah, dié Naam van God wat sê dat Hy die groot, ewige, almagtige God is. Hallel beteken om te prys, om eer te betoon, om te juig, om lof te bring, om iemand groot te maak, om ’n ophef van iemand te maak, om ’n huldeblyk aan iemand te bring. Hallelujah beteken dus letterlik vertaal: “prys die Here”. Dit beteken: bring eer aan die ewige God, verhoog die Naam van die Almagtige, juig oor Sy grootheid, loof Hom vir wie Hy is, bring hulde aan Hom as God. Die woorde van die bekende “Hallelujah” van Leonard Cohen sê so mooi: “ ... I'll stand before the Lord of Song, with nothing on my tongue but Hallelujah!” “... óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here!” (Ps. 115:18) ~ Wilna Botha, 01/10/2020

Ons sing baie keer “hosanna” in ons lofliedere. Het jy dalk ook al gewonder wat dit beteken? In die Bybel kry ek die woord net by een geleentheid en dit is waar Jesus op die donkie in Jerusalem inry. Die skare is so meegevoer met Sy teenwoordigheid en oor die wonderwerke wat Hy gedoen het, dat hulle hul klere op die pad voor Hom oopgegooi het, terwyl ander takkies afgepluk en dit voor Hom op die pad gestrooi het. En toe sing hulle: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matt. 21:9 OAV) Die Hebreeuse woord beteken “exclamation of adoration”. Hierdie is nie ’n sagte, bedeesde lied nie, nee, die hosanna word hard uitgeroep en uitgejubel, en die aanbidding gaan gepaard met aksies – die oopgooi van die klere, die strooi van die takkies, waai met palmtakke. Soms moet ons lofprysing ook uitbundig wees. Soms moet dit ook gepaard gaan met aksies – dalk hande klap, dans, hande opsteek, vlae swaai, ens. Ek weet sulke uitbundigheid pas nie by ons almal se persoonlikhede nie, maar tog... as die Here groot dinge gedoen het, as Hy jou gebed beantwoord het, as Hy ’n wonderwerk gedoen het, as jy oorstelp is van vreugde oor Sy goedheid, wel sing dan uit volle bors hosanna! “Loof die Koning. Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (Luk. 38:37) ~ Wilna Botha, 06/10/2020

In Matt. 26:26-30 lees ons hoedat Jesus die Paasmaaltyd saam met sy dissipels geëet het en hoedat Jesus die brood en die wyn met sy liggaam en sy bloed vergelyk het. Die maaltyd word afgesluit met lofprysing: “Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.” (vers 30) Olyfberg toe, Getsemane toe, van-almal-verlaat toe, gespot-geslaan-gespoeg toe, verraai-en-verloën toe. Ek wonder altyd: wat sou hulle gesing het? Watse loflied sou Jesus gesing het op pad na die kruis toe? Watse loflied sal ek en jy bereid wees om te sing op die vooraand van ’n moeilike situasie, in dreigende gevaar, in angs, depressie en eensaamheid, in die dal van doodskaduwee ...? Jesus en sy dissipels het heel waarskynlik die gebruiklike lofsang gesing wat die Jode altyd gesing het aan die einde van die Pasga. Dit was blykbaar Ps. 113 tot Ps. 118. Heel moontlik is dit nie op ’n wysie gesing nie, dalk net gelees, of ge-“chant”. Wanneer jy op die drumpel van die moeilikste dag in jou lewe staan, “sing” deur hierdie 5 psalms en ek glo jy sal (soos Jesus) versterk word, moed kry vir wat voorlê, bomenslike krag ontvang om deur te druk en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hier is ’n paar verse uit daai psalms wat vandag vir my uitgestaan het: die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd; vertrou op die Here! Hy help en beskerm; die Here dink aan ons: Hy seën die wat Hom dien, klein en groot; Hy verhoor my smeekgebede. Hy het geluister toe ek Hom aangeroep het; bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het heeltemal benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep; U het ’n einde gemaak aan my trane; ek het in U bly glo toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staatmaak nie; prys die Here want sy liefde vir ons sterk; aan sy liefde is daar geen einde nie; die Here is by my, ek ken geen vrees nie; om by die Here te skuil is beter as om op mense te vertrou; die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade; ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe. “Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke!” (Ps. 118:27) ~ Wilna Botha, 13/10/2020

’n Paar jaar gelede het ek en Willem in ’n groot massakoor van omtrent 400 stemme gesing. Later het dié koor gegroei tot meer as 1000 mense. Dit was hoendervleis mooi as al 1000 stemme saamsmelt in melodieë. Nie almal in daai koor was noodwendig nagtegale wat honderd persent nootvas was nie (ek, onder andere!) maar die totale klank was perfek en mooi. Dit was vir my interessant dat die dirigente gemeen het hulle hoef nie baie aandag aan intonasie te gee nie, omdat die moontlike “foute” in so groot klomp stemme op ’n manier wel uitbalanseer. Dit laat my maar net besef dat ons nie perfekte stemme en die beste musikante hoef te wees om die Here se lof te besing nie. Onthou, ons doen dit saam met miljoene oor die aarde en in die hemel en as jou bydrae nou bietjie van die noot of ritme af is, smelt dit wel saam met al die ander stemme om ’n lieflike geur voor God te wees. Die enigste “voorwaarde” is dat ons eensgesind moet wees. Ons moet saamstem oor die grootheid van God. Ons moet saamstem oor wie Hy is. Ons moet saamstem oor die rede waarom Hy geloof moet word. Ons moet saamstem dat dit net Hý is wat al ons lof verdien. “Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God.” (Rom 15:6) “Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.” (Rom 15:6, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 15/10/2020

“As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” (Ps. 115:17-18, Die Boodskap) Solank jy lewe, terwyl jy kan asemhaal, prys die Here. Begin nou daarmee. “Laat alles wat asemhaal, die Here prys!” (Ps. 150:6) Ek besef maar net hoeveel asem mors ek op negatiewe praatjies, op skinder en kwaadpraat, op baklei en skree. Die asem wat die Here in ons ingeblaas het, is vir sý eer; dis vir lofbetuiging; dis vir halleluja en hosanna skree. Dalk verwys hierdie teks nie net na mense wat fisies lewe of fisies dood is nie, maar ook na dié wat geestelik lewe of geestelik dood is. Toe jy Christus ingenooi en aangeneem het in jou lewe, het Sy Heilige Gees in jou kom woon, het Hy nuwe asem in jou ingeblaas en het jy die ware lewe ontvang. Ai, as ek maar net dink hoeveel genade dit is dat ek dié nuwe lewe ontvang het, kan ek nie anders as om die Here te prys en sy lof te besing nie. Kyk maar net na ’n geestelike dooie mens – hy wíl nie die Here prys nie. Hy sien niks goeds raak waarvoor hy die Here wil loof nie. Hy het geen dankbaarheid teenoor God nie. Hy maak staat op sy eie asem. Hy besing sy eie lof, hy prys homself. As jy geestelik dood is, kan jy nie die Here prys nie. “Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” Haal diep asem en prys die Here uit volle bors. ~ Wilna Botha, 20/10/2020

“... daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het.” Toe ek hierdie teks in Job 38:7 lees, het ek gewonder of dít dalk die oomblik was toe God musiek geskep het – die oomblik toe Hy die sterre gemaak het en almal saamgesing het. Hoe dit ook al sy, ek glo met my hele hart dat musiek van die Here af kom, dat dit deur Hom geskep is. Geen mens kon dit uitdink nie. Hoe kan enkele note en ’n klompie akkoorde die wonderlikste melodieë optower as dit saamgevoeg word? Dis bomenslik. Hoe kan nuwe, unieke melodieë elke dag die lig sien? Dis bomenslik. Hoe kan musiek so ’n universele taal wees dat almal dit verstaan en dat dit mense soos gom saambind? Dis bomenslik. Hoe kan musiek mens laat huil, laat lag, laat dans, laat hoedervleis kry? Dis bomenslik. “Music is uniquely wonderful. It is incapable of being touched, yet it touches everyone who is capable of hearing sounds.” Dis Goddelik! Hierdie aanhaling uit die film “August Rush” sê dit so mooi vir my: “Listen. Can you hear it? The music. I can hear it everywhere. In the wind, in the air, in the light. It's all around us. All you have to do is open yourself up. All you have to do is listen.” Stel jouself oop en luister. Soek die Here in die musiek en as jy saam sing of saamspeel op jou instrument, doen dit met ’n dankbare hart en tot lof en eer van God. ~ Wilna Botha, 22/10/2020

Ek het op ’n keer iemand hoor sê dat ons lofprysing- en aanbiddingsliedere direk tot God gerig moet wees, omtrent soos ’n gebed. Ons moenie óór Hom sing nie ons moet vír Hom sing, het die persoon verkondig. Taalkundig sou mens seker kon sê die woorde van die lied moet nie in die derde persoon wees nie (Hy is groot, Hy is goed,  ... ens.) nie, of in die eerste persoon (ek wil die Here loof, kom ons verheerlik sy naam, ens.) nie, dit moet in die tweede persoon wees (U is groot, U is goed ... ens.) Ek het begin oplet na die woorde van die liedere wat ons sing en toe het dit my gepla as die lied nie met God praat nie, maar met die mense om my of oor my belewenis van wie God is. Ek het gelukkig gou besef dat daar heelwat van die Psalms in die Bybel wél so geskryf (en gesing) is. Daar is baie Psalms waar die skrywer sê waarom en hoe hy persoonlik die Here loof. Byvoorbeeld: “Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.” (Ps. 146:1-3) Daar is ook baie Psalms wat ’n oproep en aanmoediging teenoor die volk en medegelowiges is om saam met die musikant die Here se lof te besing. Byvoorbeeld: “Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars.” (Ps. 149:1), of “Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf! Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid!” (Ps. 150:1-2) Ai, hoe arm sou my lofprysing gewees het as ek stilgebly het as ’n liedjie nie “gepas” het in die persoon se voorskrifte nie. Nee, ons kan op enige manier sing, enige instrumente gebruik – dóén dit net. Besing God se naam, bring lof en dank met enige woorde – doen dit net met oorgawe en met jou hele hart en bedoel dit! ~ Wilna Botha, 27/10/2020

“Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here.” (Ef. 5:29, Die Boodskap) Toe ek vandag hierdie teks in Die Boodskap lees, besef ek dat daar nóg ’n ekstra en belangrike betekenis van lofprysing musiek is: om mekaar te leer en mekaar op te bou.  As ons sing oor God se goedheid, sy grootheid, sy liefde, sy genade en iemand luister daarna, dan leer hy wie God ís, dan kan dit sy hart aanraak en hom na die Here laat draai. Dink net, as ons geestelike liedere sing, kan dit dieselfde effek hê as ’n preek! Miskien is jy iemand wat nog altyd te skaam of bang was om met ander oor die Here te praat – onthou: jy kan geestelike liedere gebruik om die boodskap van God se liefde en vergifnis te verkondig; jy kan geestelike liedere gebruik om jou eie geloofsbelydenis te gee; jy kan geestelike liedere gebruik om geestelike waarhede oor te dra; jy kan geestelike liedere gebruik om vir iemand te bid. Die “mooi geestelike liedere”, soos wat die teks hierbo dit noem, kan ook ander bemoedig, of troos, of hoop gee. Wanneer jy nie die regte woorde kan vind om iemand moed in te praat nie, is daar dalk ’n geestelike lied wat dit kan doen.  Die voorwaarde is nie dat jy musikaal of nootvas moet wees nie, die voorwaarde is, soos in die teks hierbo genoem, dat dit met jou hele hart moet wees. Soos wat ons die Here moet liefhê en dien met ons hele hart, siel en verstand en al ons krag, só moet ons ook sy Naam grootmaak met ons lofsange: jou hele hart, siel en verstand moet betrokke wees. Sing en leer mekaar ... ~ Wilna Botha, 29/10/2020

Omtrent so 10 of 12 jaar gelede was ons betrokke in ’n gewapende roof in ons huis. Ons was 10 volwassenes en ’n klompie kinders bymekaar toe 2 gewapende mans by die skuifdeur inbars, ’n skoot skiet, op ons skree om plat te lê en juwele, selfone ens. te oorhandig. Ons het ons nie teëgesit nie en gedoen wat hulle beveel het. Een van ons vriendinne het begin sing: “Daar is krag, krag, wonderbare krag in die bloed van die Lam...” Ons ander het ingeval en saam gesing - glad nie uit volle bors nie ... bietjie krakerig en prewelend en heel bangerig. Die rowers het dit gehaat en op ons geskree om stil te bly. Hulle moes aangevoel het dat daar bonatuurlike krag in die lied was. Op daai oomblik was dit makliker om te sing as om te bid. Die woorde vir gebed was weg, maar die woorde van ’n bekende lied het maklik gekom. Dit het vir my gevoel of die sing van die lied ’n muur opgerig het waaragter ons veiliger gevoel het. Die woorde van die lied het gehelp dat ons op die Here se krag fokus en nie op ons gebrek aan krag nie. Die lied het gehelp dat ons saamstaan, dat ons in ons gedagtes hande vashou. Die woorde van die lied het ons verseker dat die bloed van die Lam ons beskerming en ons redding is.  Die woorde van die lied het ons na God laat kyk en nie na dít wat om ons aangegaan het nie. Die sing van die lied het die vrees bietjie laat bedaar, ons moed gegee dat hierdie gevaar van korte duur sal wees. “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare.” (Ps. 34:4-5)  ~ Wilna Botha, 03/11/2020

Ons het oor die naweek weer die Titanic-film gekyk ... die soveelste keer! En weer, soos elke keer vantevore, het ek gehuil toe die strykers, te midde van al die chaos en vrees om hulle, te midde van die wete dat hulle binnekort sou sterf, voortgegaan het om te doen waarvoor hulle op die skip was om te doen: hulle het aangehou musiek maak. Nader, my God, by U, steeds naderby, al is daar ook 'n kruis nodig vir my. Dan sal my lied nog bly, nader, my God, by U ... het hulle gespeel. Ek kon nie help om te wonder wat ek sou doen as ek op daai sinkende skip was nie. Meer nog, wat sal ek doen as my lewens-skip dalk ’n onvoorsiene ysberg sou tref en ontydig begin sink? Sou ek Ps. 23 of ander teksverse opgesê het? Sou ek uitroep na God? Sou ek Hom verwyt? Sou ek gelate gewag het vir die ergste om te gebeur? Sou ek op en af hardloop om ’n uitkomkans te soek? Sou ek bo-oor ander klim in ’n poging om in ’n reddingsboot te kom? Sou ek al skreeuend oorboord spring? Sou ek my geliefdes vashou en in vrede wag op die einde?  Sou ek sing: nader my God by U, al is daar ook ’n kruis nodig vir my? Ek sou seker iets van al hierdie dinge gedoen het, maar ek hoop dat ek, soos die musikante in die film, die deursettingsvermoë sal hê om enduit te volhard, om nie moed op te gee nie, om enduit te doen waarvoor ek op hierdie skip is. ~ Wilna Botha, 10/11/2020

Iets wat vir my mooi is in ons kerkmusiek is dié liedere wat ons gebruik as seënbedes. Liedere wat gesing word om die Here se seën af te bid oor mekaar. Ek weet nie of die jonges dit sal ken nie, maar ’n baie mooi lied wat ons altyd gesing het, is: “Laat Heer u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal ...” Dis as ’n seën gesing by doop, by inhuldiging van kerkraadslede, wanneer iemand belydenis van geloof afgelê het, dalk selfs by troues. Deesdae is daar vele seën-liedere. Ons sing graag: “Die genade van ons Here Jesus bly met jou, mag die liefde van ons Vader jou bewaar, die Gemeenskap met die Heilige Gees jou weg bepaal, dis my bede hierdie oomblik net vir jou.” Of: “We bless you with the blessings of the Lord ...”. Daar is ook verskillende toonsettings van die seën in Num. 6:24-26: “The Lord bless you and keep you, the Lord make His face to shine upon you, to shine upon you and be gracious, and be gracious unto you ...” Dis alles baie mooi, nè. Ek dink dit só kosbaar vir iemand as ons die Here se seën vir hulle sing. Onthou ook dat so ’n seën-gebed wat uit die hart bedoel word, bindend is en dat die Here dit sal verhoor. Die Here sê in Num. 6:27 as die priesters die volk seën met daai seën-woorde, sál Hy hulle seën. Ek het gewonder of daar in die Bybel ook ’n seën-lied is en toe vind ek dié een in Ps. 20:2-5 (Die Boodskap): “Mag die Here jou gebed verhoor as dit met jou swaar gaan. Mag die God van Jakob jou beskerm. Mag Hy jou spesiaal help en bystaan. Mag Hy jou gee wat jy graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees.” Sing gerus ’n seën vir mekaar en verwag met oop arms dat Hy sál seën. ~ Wilna Botha, 12/11/2020

"The music is not in the notes, but in the silence in between." Ek het hierdie aanhaling êrens raakgelees. Blykbaar is dit Mozart wat dít gesê het. Ek dink egter enige musikant sou kon sê hoe belangrik die rustekens in musiek is, hoedat die gedwonge stiltes diepte en emosie aan die musiek verleen, hoedat dit afwagting en spanning kan inbring in die musiek, hoedat dit soms letterlik ’n  geleentheid bied om asem te skep. Soms is daar lang stiltes vir sekere instrumente of stemme sodat ander die geleentheid het om ’n solospel te lewer. Dawid en die ander Psalmskrywers het ook sulke stiltes in hulle liedere aangedui met “sela”. Hoewel daar verskillende interpretasies van die woord “sela” is, stem die meeste verklaarders saam dat dit wel ’n pouse in die musiek aankondig. “Sela” is daardie stilte waar die woorde wat so pas gesing is oordink en bepeins moet word, ’n tydjie om eers te reflekteer oor wie God is en wat Hy doen. Ons moet dalk bietjie meer fokus op die stiltes in ons lofprysing en aanbidding, daai oomblikke wanneer die musiek en die woorde ophou en jy met alle aandag, passie, bewondering en liefde net bewus is van dié Een oor wie jy sing. “Bedaar en erken dat Ek God is  ....”; “Laat staan en weet dat Ek God is ...”; “Be still and know that I am God ...” (Ps. 46:11) Skep asem, ervaar die diepte van jou lofprysing, beleef die emosie – sela. ~ Wilna Botha, 18/11/2020

Nou ja, oor presies ’n maand is dit Ou Kersaand. Dan gaan ons feesvier. Baie van ons gaan saam met ons families kuier, ons gaan eet, ons gaan geskenke uitdeel, ons gaan opgewonde harte hê en ons gaan terugdink aan daardie aand in die oop veld toe die engel gesê het: “Ek het baie goeie nuus  vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is vir almal bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak.” (Luk. 2:10-11, Die Boodskap) Ons gaan terugdink hoe die menigte engele gesing het: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.” (Luk. 2:14). Ek hoop jy sal saam sing want die verlossing en vrede is vir jóú. Ek hoop jy sal saam sing want die vergifnis en redding is vir jóú. Ek hoop jy sal saam sing omdat dié goeie nuus al die slegte nuus en trane en bekommernis en eensaamheid van 2020 sal oorskadu. Ek hoop jy sal kan saam sing: al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar. Ek hoop jy sal kan saam sing: joy to the world, the Lord has come! ~ Wilna Botha, 24/11/2020

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)