Daaglikse Heuningdruppels - Wie is God vir jou?

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Wie is God vir jou?

In Eks 3:13 lees ons dat Moses by die brandende doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle vra wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Ek 3:14) “Ek is”. Dis vir ewig God se Naam. As ek dit lees, sit ek altyd in my gedagtes ’n paar kolletjies agteraan: “Ek is ...” Want nou kan mens mos enige iets daar invul. Jy mag, want dis wie God is – alles waaraan jy kan dink. Jy mag, want dis wie God is – alles wat jy nodig het. Hy is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde (Openb. 22:13) Hy is alles. Hy het alles. Hy gee alles. Het jy vandag raad nodig? Ek is ... ’n Raadgewer. Het jy vandag beskerming nodig? Ek is ... ’n veilige Skuilplek. Het jy vandag hulp nodig? Ek is ... jou Helper. Het jy vandag redding nodig? Ek is ... die Redder. Is jy vandag op ’n donker plek? Ek is ... die Lig. Het jy vandag genesing nodig? Ek is ... die Geneesheer. Het jy vandag troos nodig? Ek is ... die Trooster. Het jy vandag krag nodig? Ek is ... Sterke God. Het jy vandag versorging nodig? Ek is ... jou Vader. Het jy vandag leiding nodig? Ek is ... jou Herder. Het jy vandag ’n wonderwerk nodig? Ek is ... die Bewerker van wonderdade. In watter omstandighede jy jou ook al bevind – kyk eers na wié God ís, voordat jy na jou probleme of tekortkominge kyk. “Ek is wat Ek is” – dís ons God! ~ Wilna Botha, 20/11/2019

“Ons Vader wat in die hemel is ...” Daar is ’n rede waarom Jesus sy dissipels en vir ons in Matt. 6:9 leer om ons gebed te begin met “ons Vader...”. Dit is sodat ons eers moet fokus en ons hart en ons verwagting instel op wie God is, op die Een met wie ons gaan praat, op die Een van wie ons ons hulp en ons daaglikse brood gaan vra, van wie ons vergifnis gaan smeek en van wie ons beskerming en krag gaan vra. As ons bid: ons Vader, dan erken en bely ons dat ons sy kinders is, dat ons afhanklik van Hom is. Dan erken en bely ons dat Hy die een is wat vir ons sorg, dat Hy die een is wat net die beste vir sy kinders wil hê, dat Hy die een is wat vir ons lief is en met oop arms vol genade en seëninge op ons wag. Luk. 11:11 praat daarvan dat ’n pa nie vir sy kind ’n slang sal gee as hy ’n vis vra, of ’n skerpioen sal gee as hy ’n eier vra nie. “As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie?” (Luk. 11:13) “Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps. 103:13) Kyk eers na wie God is, voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou behoeftes kyk – kyk en sien en glo dat Hy die volmaakte Vader is. Ek is ... jou Vader wat in die hemel is. ~ Wilna Botha, 27/11/2019

Ons lees in Matt. 16:13 dat Jesus vir sy dissipels vra: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?” Party sê Hy is Johannes, ander sê Elia of Jeremia of een van die ander profete. Niemand het raakgesien dat dit Jesus is nie. Hy was daar by hulle. Hulle het Hom hoor preek, hulle het Hom sien wonderwerke doen en tog het die mense nie besef dat Hy die Seun van God is nie. Dan vra Jesus  vir sy dissipels: “En wat sê julle van My? Wie is Ek volgens julle?” (Matt. 16:15) Voordat ons Petrus se antwoord lees, dink ’n bietjie wat jóú antwoord sou wees. Wie is Hy volgens jou? Sommer ook net een van die profete? Sommer net ’n geskiedenis figuur? Sommer net iemand wat lank gelede geleef het en goeie dade gedoen het? Sommer net ’n fiktiewe karakter uit ’n storieboek? Dalk iemand wat jy nie nodig het nie? Iemand wat jy liefs uit jou gedagtes en hart wil verban? Iemand sonder wie jy kan klaarkom? Of... kan jy ook sonder huiwering, soos Petrus sê: “U is die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die Seun van die lewende God.” (Matt. 16:16) Om so ’n belydenis te maak, sê Jesus vir Petrus, is nie iets wat hy by iemand anders gehoor het nie, dis iets wat God sélf aan hom geopenbaar het, dis iets wat hy sélf ervaar het. Sonder so ’n Goddelike openbaring sal Jesus vir mense net ’n profeet of iemand uit die verlede wees. Maar wanneer God jou oë oopmaak sal jy wéét wie Jesus is, sal jy Hom persoonlik ken, sal Hy die Koning van jou hart word. Kyk vandag eers na wie Jesus is, voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou behoeftes kyk – kyk en sien en glo dat Hy die Seun van God is. ~ Wilna Botha, 03/12/2019

In Ps. 27 lees mens van ’n paar van Dawid se probleme en vrese, van teëstanders, misdadigers en vyande se aanvalle, van vals getuies en geweld teen hom, van onsekerheid wat hy beleef, maar tog begin hy die Psalm met ’n belydenis en erkenning van wie die Here is. Hy vertel eers wie die Here vir hom persoonlik is voordat hy na sy probleme kyk. Hy fokus eers op wie God is en kyk nie déúr sy probleme en vrese na die Here nie. “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” (vers 1) Sien, die belydenis dat God jou redder, jou lig, jou toevlug is, laat die vrees en die angs verdwyn. As jy fokus op dit waarvoor jy bang is en wat jy vrees, oorweldig daai angs en benoudheid jou vinnig. As daar egter Lig is in die donker put waarin jy dalk mag wees, as daar Iemand staan met uitgestrekte arms wat jou uitnooi en naderroep en ophelp, as daar ’n veilige Skuilplek is om na te vlug en in weg te kruip, dan verdwyn die onsekerheid en vrees, dan krimp die probleme, dan verslap die houvas van jou “teëstanders”, dan kry jy weer nuwe perspektief. Elders in die Psalms sê dit mos ook: Met U hulp loop ek ’n oormag storm en met my God spring ek oor ’n muur. Kyk vandag eers na wie die Here is, voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou behoeftes kyk – kyk en sien en glo dat Hy die lig, die redder en jou toevlug is. “Dis net my geloof in die Here wat my staande hou, Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. Stel al jou hoop op die Here! Hou moed! Moenie die tou opgooi nie; bly glo in die Here!” (Ps. 27:13-14, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 05/12/2019

“The Lord is my portion” is ’n uitdrukking wat mens ’n paar keer in Engelse vertalings van die Bybel lees. Bv.: “My flesh and my heart may fail, but God is the strength of my heart and my portion forever.” (Ps. 73:26) en “The Lord is my portion, said my soul; therefore will I hope in Him.” (Klaagl. 3:24) As die Here my “porsie” is, dan verwys dit na alles wat Hy vir my is, alles wat ek van Hom ontvang, alles wat Hy vir my persoonlik afgemeet en uitgetel het. Ek is ’n deel van Hom, ek het ’n aandeel aan Sy Koninkryk.  As kind van God ontvang jy Hom volledig – alles van Hom, alles wat Hy is, al Sy eienskappe, al Sy krag, al Sy liefde, al Sy vrede is jou porsie om te geniet en te gebruik. God se liefde, genade, versorging en beskerming is ’n groot genoeg porsie om al my behoeftes, probleme, swaarkry, verliese en vrese te balanseer. As ons sê: The Lord is my portion, dan beteken dit dat ons niks begeer of verlang of benodig wat Hy nie reeds vir ons gee nie. As ons sê: The Lord is my portion, dan beteken dit Hy is die oorsprong van al my blydskap, geluk en seëninge.  As ons sê: The Lord is my portion, dan sê ons dat ons tevrede is met wat ons uit Sy hand ontvang en dat dit genoeg is. “’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps. 16:6) ~ Wilna Botha, 10/12/2019

Die Heiland is gebore ... In hierdie Kersfeestyd vier ons weer met opgewonde harte saam met die herders en die wyses en die blye engel-kore die koms van ons Heiland. Ons Redder. Ons Verlosser. Ons Middelaar. Ons Steun. Kyk vir ’n oomblik verby die geskenke, die boom, die liggies, die spyskaart en die gastelys na wie Jesus is: jou Heiland. “Ek, Ek is die Here, en daar is geen Heiland buiten My nie.” (Jes. 43:11) Hy het gekom om ons almal van ons sonde te verlos, om alles wat ons vasbind en terughou los te sny, om ons uit die donker te red en vir ons vrede te gee wat alle verstand te bowe gaan. Hy het gekom sodat ons God se kinders kan word. Hy het gekom sodat God naby en in ons kan wees. Hy het gekom sodat ons bly kan wees en fees kan vier. Ja, God het die wêreld so lief dat Hy sy Seun gestuur het. Glo jy ook dat Hy jóú so lief het dat Hy sy Seun vir jou persoonlik gestuur het? Glo jy dat Jesus gebore sou word as jóú Heiland, selfs al was jy die enigste mens op aarde? Jou Heiland is gebore. Vier dit. Sing daaroor. Vertel dit wêreldwyd. ~ Wilna Botha, 17/12/2019

“Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons (Matt. 1:23) Kersfees is al weer vergete, die versiersels is weggepak, die geskenke al goed in gebruik geneem en die nuwe jaar het met ’n vaart weggespring. Hierdie jaar wil ek egter Kersfees in elke dag onthou, so asof Jesus elke dag in my hart gebore word, so asof die engele elke dag sing: eer aan God en vrede op aarde, so asof ek elke dag ’n groot geskenk ontvang. Ek wil onthou dat Immanuel gekom het. Ek wil onthou dat God nou by ons en in ons. Hy is nou deel van elke gedagte, elke besluit en elke daad. Hy is nou teenwoordig in elke geselskap en elke vergadering en elke ete. Hy ry nou saam as jy op pad is, Hy wys die pad as jy verdwaal, Hy gee raad as jy sukkel. Hy stap nou elke donker paadjie langs jou, Hy sien elke struikelblok, Hy dra saam aan elke las. Hy kalmeer ’n onstuimige gemoed, Hy maak ’n bekommerde hart rustig. Hy troos en droog trane af. Hy luister, Hy gee rus, Hy gee moed. Hy genees, Hy voorsien, Hy gee krag. Hy gee seëninge en goeie vooruitsigte vir ’n nuwe jaar. Niks is meer dieselfde ná Kersfees nie, want God is nou by ons. Hy is Immanuel. ~ Wilna Botha, 15/01/2020

“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) Daar is vele tekste in die Bybel waar hierdie eienskappe van God herhaal en bevestig word: barmhartig, genadig, lankmoedig, vol liefde. Vandag het die woord “lankmoedig” in my kop bly vassteek. Dis nogal ’n woord wat mens nie baie hoor of gebruik nie, so ietwat van ’n outydse woord. As die Here lankmoedig is, is dit sy karakter, dis wie Hy ís. Dis egter ook hoe Hy optree, hoe Hy met ons is, hoe Hy oor ons voel. Sy geduld raak nooit op met ons nie. Hy word nie moedeloos met ons nie. Hy raak nie kwaad vir ons nie. Hy raak nie moeg om ons weer en weer te vergewe nie. Hy is nie verras oor ons menslikheid nie, Hy ken ons en verstaan ons swakhede. Hy hou nooit op om toegewend en verdraagsaam teenoor ons te wees nie. Hy is sag met ons, “slow to anger” sê die Engelse vertalings. Ja, selfs al raak ons opstandig, selfs al raak ons geloof swak, selfs al faal en val ons weer, selfs al draai ons dalk ons rug op Hom, selfs al bevraagteken ons sy bestaan of sy weë, selfs al wil ons ons eie pad vat, Hy bly lankmoedig. Sy genade en geduld met ons raak nooit op nie, dis as’t ware elke môre weer nuut (so sê Klaagl. 3:22-23) Soos in die gelykenis van die verlore seun, wag Hy geduldig dat ons uit die varkhok sal opstaan en terugkom na Hom. Soos in daai gelykenis wag Hy met sy lankmoedige, oop arms en sy genadige vergifnis vir ons. Ek is ... lankmoedig, sê Hy. ~ Wilna Botha, 16/01/2020

“Christus is ons vrede.” (Ef. 2:14) Het jou goeie Nuwejaarsvoorneme om mooi georganiseerd en rustig en in beheer te wees dalk ook alreeds plek gemaak vir ’n geskarrel en rondjaag om jou dagtaak en jou lewe en jou gesin aan die gang te kry en te hou? Dalk is jy, soos ek, ook alreeds weer vol ontevredenheid en het ’n stuk bekommernis al weer aan jou deur kom klop? Dalk het jy vinniger op moedverloor se vlakte beland as wat jy gehoop het? Stop vir ’n oomblik, haal diep asem en laat God wat vrede is, Sy vrede in jou binneste deponeer en jou hart en gedagtes verfris. Laat Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan toe om vir jou rustigheid te bring. Kom kry kalmte in Sy groen weivelde en besoek Sy waters waar daar vrede is gereeld. “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie.” (Joh. 14:27) Vat vandag vir jou van dié vrede uit die hand van die Vredevors. “Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings.” (Ps. 122:7) ~ Wilna Botha, 21/01/2020

Die Here is ... my rots, my skuilplek, my redder, my God, my skild, my sterk verlosser, my veilige vesting, so lees ek in Ps. 18:3. Alles in een enkele vers! Wat my vandag sterk opval, is dat die teks nie sê ’n rots, ’n skild, ’n veilige vesting, ens. nie, dit sê “my”. Dis Dawid wat so sê en ek dink dit kom uit ’n innige verhouding met die Here, uit ervaring dat dit wel is wie die Here vir hom is. Die een wat beskerm, die een wat vertroetel, die een wat versorg, die een met die oop arms, die een met die sagte vlerke waarmee Hy hom toevou en wegsteek. En ek en jy ... ken ons Hom ook só, dat ons kan sê: “my” rots, “my” skuilplek, “my” skild? Kom ervaar vandag persoonlik dat Hy al hierdie dinge vir jou is. Kom beleef sélf dat jy weer nuwe krag en hoop kry wanneer jy op die Rots kom staan. Kom beleef sélf dat jy na Hom kan hardloop in enige moeilikheid en veilig onder sy vleuels kan kom wegkruip – hier is hitte as dit koud is, skaduwee as dit warm is, veiligheid as daar ’n storm woed, liefde en volop genade as jy verlore voel. “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” (Ps. 91:4) ~ Wilna Botha, 23/01/2020

Die Here is ... my banier (Eks. 17.15) Die Boodskap sê: “Die Here is my vlag.” In die Ou Testament is baniere en vlae gebruik om die teenwoordigheid van ’n koning, of ’n leër-groep of ’n volk aan te dui. Die vlagdraers het in veldslae vooruit geloop om aan die vyand te wys met wie hulle te doen gaan kry. Die banier het hulle mag en vermoëns vertoon, wie hulle is, waar hulle vandaan kom en waartoe hulle in staat is.   As kinders van God, is die Here ons banier en lewe ons onder Sy vaandel. Dit gee aan ons die sekerheid  van Sy teenwoordigheid in alles wat ons doen, die versekering van Sy beskerming, die vrymoedigheid om uitdagings aan te durf, die gemoedsrus dat ons in elke situasie as oorwinnaars sal seëvier. Die uitdrukking: onder die vaandel van... (iets of iemand) sê jy tree op met die mag en die outoriteit van die maatskappy of groep, jy geniet die voordele en beskerming en ondersteuning van daardie groep. As jy in die wêreld uitstap onder die Here se vaandel, leef en werk jy as Sy verteenwoordiger, tree jy op op Sy gesag, herinner dit jou waartoe jy in staat is en aan Wie se kant jy is, Wie vir jou veg en Wie vir jou opkom teen ’n vyandige wêreld. Hys weer Sy vlag in jou lewe en in jou huis, dra Sy familie-wapen op jou baadjie, bly onder Sy banier en dan sal jy met vlieënde vaandels slaag in alles wat jy aanpak. ~ Wilna Botha, 28/01/2020

“The Lord is my strength and my song ...” (Eks. 15:2) Die Here is my lied. In Eksodus 15 lees ons die lied wat Moses en die Israeliete gesing het nadat die Here hulle uit Egipte gered het en ’n droë pad vir hulle deur die see oopgekloof het. Hulle sing ’n lied van blydskap, dankbaarheid en verligting. Hulle lied eer God en verheerlik Hom. Met dié lied erken hulle hoe groot Sy krag en mag is en hulle bely hoe Hy wonders kan doen. Hulle lied is ’n harde gejuig omdat Hy regeer en omdat Hy uitkoms, redding en oorwinning gee. Hulle sing egter nie net die lied nie, hulle sê die Here ís hulle lied. Hulle sing nie net omdat Hy iets groot vir hulle gedoen het nie, hulle sing omdat Hy is wie Hy is. Dit laat my dink aan die mooi gesang in die Afrikaanse Liedboek: “God is my lied, Sy almag ken geen perke, Heer is Sy naam, volmaak Sy skeppingswerke, die groot heelal is Sy gebied.” As ek sê: God is my lied, dan bedoel ek Hy is die bron van al my dankbaarheid, die rede vir al my blydskap, die middelpunt van my lewe, die koning  van my hart. As ek sê: God is my lied, dan sing ek nie net die lied nie, dan lééf ek die lied. As ek sê: God is my lied, dan is daar nie noodwendig poëtiese woorde en ’n mooi wysie nie, dan kom die woorde ook dikwels gebrekkig en vals, maar uit ’n opregte hart. As ek sê: God is my lied, dan kan ek sing, dan kan ek dankbaar wees, dan kan ek juig, dan kan ek vrede beleef, al is dit donker om my, al is daar storms, probleme, siekte, gevare, bekommernis ... Net soos wat Habakuk gesing het: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:17-18) Net soos ons ook dikwels sing: “Through the storm You’re the beacon, my song in the night, in the shelter of Your wings, hear my hearts reply, singing what a faithful God have I ...” ~ Wilna Botha, 04/02/2020

Jesus is die Hoeksteen. “Julle is ’n gebou ... waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.” (Ef. 2:20-22) Hierdie is een van die plekke in die Bybel waar Jesus die hoeksteen genoem word. Ek glo die beeld van ’n hoeksteen het seker vir die mense wat hulle geboue met klip gebou het, meer betekenis gehad as vir ons, wat met bakstene bou wat almal ewe groot is. Die hoeksteen was die groot klip wat noukeurig uitgesoek is en wat heel eerste neergelê is vir die bouwerk. Die res van die gebou sou aanpas by die hoeke en grootte van die hoeksteen en alles sou rus op die hoeksteen. Dit het stabiliteit aan die bouwerk verleen en as die hoekklip sou verkrummel of verwyder word, sou die hele gebou kon intuimel. Ons sien in ons tyd by baie geboue en veral kerke, so ’n simboliese hoeksteen ingemessel waarop daar ’n boodskap van toewyding aan die Here ingegraveer is as erkenning dat die Here self die hoeksteen van daardie kerk is, ’n belydenis dat alles op die Here en sy woord gebou is, dat Hy rigting en stabiliteit aan daardie gemeente sal gee, ’n herinnering dat as die Hoeksteen verwyder sal word die hele gebou kan verkrummel. “... ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit” – so praat Jes. 28:16 van Hom. As hoeksteen is Jesus die die kern van alles wat ons is en wat ons glo, die basis van die hele Christendom. Ons hele lewe moet gebou wees op dié een wat integriteit aan ons bestaan verleen, wat die beginpunt van alles is en sorg dat alles wat verder opgebou word sin maak en eindig in ’n stewige, mooi en nuttige gebou. Wie (of wat) is die hoeksteen van jou huis, van jou besigheid, van jou hart en jou geestelike huis? Wie hou jou regop as alles rondom jou verkrummel, wie gee rigting as die lewenspad se kronkels te veel word, wie bepaal die sin en waarde van jou lewe, wie keer dat alles wat jy gebou het nutteloos inmekaar val, wie verleen dieper betekenis aan jou geloof? Daar is net een antwoord: Jesus, die Hoeksteen. ~ Wilna Botha, 06/02/2020

“Ek is die helder Môrester”, so sê Jesus self in Openb. 22:16. As die môrester verskyn, dan is dit nog nie lig nie, maar dan weet jy die oggend is nou naby en die donker gaan binnekort iets van die verlede wees. As die môrester opkom, dan kan die gevare en onsekerheid van die nag, die eensaamheid van die donker ure, die vrees en benoudheid en slaaploosheid van die nag, die natgehuilde kussing , plek maak vir nuwe hoop, vir nuwe sekerheid dat ’n vars, nuwe dag aan die kom is, dat nuwe geleenthede gaan aanbreek, dat uitkoms naby is. Mag jy in die nag-tye van jou lewe altyd jou oë gefokus hou op die helder Môrester, op Sy genade en ontferming en liefde wat elke môre nuut is en Sy getrouheid wat groot is (soos wat Klaagl. 3:23 sê). ~ Wilna Botha, 11/02/2020

“God is the source and sustainer of everything.” (Rom 11:36) Die Here is die bron van alles. Alles het by Hom ontstaan en het deur Hom ontstaan. Hy is die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste, die Alfa en Omega. Hy hou alles in Sy hand en alles wat ons is en het en nodig het kom van Hom af. Met Sy eie hand het Hy vir elkeen van ons ’n unieke porsie afgemeet. “Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps. 16:5,6) Kyk wat is alles in Sy oorvloed-stoor vir ons: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” (1 Kor. 2:9) Dit is alles wonderlik, maar nou het ek gewonder: is dit wat Hy vir my en jou gee genoeg vir ons? Is ons tevrede met die gawes, geld, goed, gesondheid, genade wat Hy vir ons gee? Of die eintlike vraag: Is die Here genoeg vir jou? Kan jy werklik uit jou hart uit sê: “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie?” (Ps. 23:1) Is Hy genoeg vir jou as jy jou werk verloor het? Is Hy genoeg as jy by ’n geliefde se graf staan? Is Hy genoeg as jy slegte nuus in die dokter se spreekkamer gekry het? Is Hy genoeg as jy nou net uit die skeihof uitgestap het?  Is Hy genoeg as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie? Ek wéét Hy is en ek wil dit met my hele hart glo en leef. ~ Wilna Botha, 13/02/2020


“Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!” (Eks. 15:3) Ons bevind ons weliswaar nie vandag in ’n fisiese oorlog nie, maar ons voer wel voortdurend ’n stryd teen ons sondige natuur, ons is in ’n stryd teen die wêreldse verleidings, teen die bose magte in die lug (soos wat Ef. 6:12 daarvan praat). Dan is daar natuurlik ons daaglikse stryd teen tyd, teen moegheid en uitbranding, teen ons swakheid en menslikheid, teen ons eie negatiewe gedagtes, teen vrees, teen siekte ... noem maar op - jy weet teen watter vyande jy vandag moes opstaan. Hoe bevrydend is dit nie om oor te gee aan dié Een wat die Oorwinnaar in elke stryd is, dié Een wat reeds teen die bose oorwin het, dié Een wat reeds sonde en dood oorwin het, dié Een wat alles weet en oral teenwoordig is, dié Een wat jou uitnooi om by Hom te kom rus en Hom toe te laat om namens jou te veg. Sy Naam is ‘die Here’ en Hy sê vandag vir ons: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” (Eks. 14:14) Ons krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jes. 30:15) Dis moeilik om stil te wees en oor te gee nè? Ons wíl mos self in beheer wees, self veg, self ons pad kies. By die Here vind ons die oorwinning, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33) ~ Wilna Botha, 18/02/2020

“Want U is ... ’n skaduwee teen die hitte” (Jes. 25:4) Ons hou nogal daarvan om op Saterdagoggende deel te neem aan ’n Parkrun. Verlede Saterdag was dit toe ook weer so, maar dit was vreeslik warm en die pad was lank en steil en moeilik! En toe, aan die einde van daai lang opdraande was daar, heel onverwags, ’n groot boom met ’n koel skaduwee en onder die boom ’n kraan. Dit het gelyk asof almal ’n rukkie in daai skaduwee wou vertoef, ’n slukkie van die water vat en hulle sweterige gesigte afspoel met die koel water, voordat hulle die res van die pad aandurf. Toe kom hierdie teks by my op: U is ’n skaduwee teen die hitte. Die lewe se opdraande paaie lei altyd na Sy skaduwee, waar ons kan rus en verkwik word, waar ons bietjie kan (en moet) vertoef voordat ons verder gaan, waar ons kan asem skep en kan moed kry vir die volgende opdraande. Wanneer die pad onhoubaar word, wanneer die hitte van die alledaagse stryd té veel raak, wanneer dit voel of jy nie verder kan beur nie, is jou Skaduwee daar vir jou, is daar vir jou ’n veilige rusplek by die Here – daar waar Sy hand vir jou ’n koel skaduwee sal gee, waar jou gemoed sal kalmeer en jou gedagtes verfris  sal word. “Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. Daar sal ’n skuiling wees, ’n skaduwee teen die hitte bedags, ’n skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën.” (Jes. 4:6) ~ Wilna Botha, 20/02/2020

“God is ryk in goedheid.” (Rom 2:4) “My goedertierenheid”, noem Dawid die Here in Ps. 144:2. Wat meer het ons nodig as ’n God wat goed is vir ons? Wat áltyd goed is vir ons, wat ryk is in goedheid. Jy kan dalk dink dat as ek geweet het van al jou swaarkry, van jou geldelike probleme, van jou miskraam, as ek geweet het van jou kind wat kanker het, van jou man wat onlangs oorlede is, van jou kind wat nou die dag geëmigreer het, sou ek nie so maklik vir jou sê: “God is goed” nie. Wel, God ís goed, al sien ek dit dalk nie nou raak nie, al voel dit dalk nie nou vir my so nie. My omstandighede bepaal nie of God goed is nie, Hy ís God en Hy ís goed en Hy ís goed vir jóú. As ek in Ps. 34 van Dawid se probleme en stryd en angs en doodsgevare en moedeloosheid lees wanneer hy vlug van Saul af, dan sien ek hy sit ook maar hier met ’n groot porsie swaar en benoudheid en tog vertel hy van die Here se goedheid. “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly” sê hy in Ps. 23:6 – ja, selfs al gaan jy deur donker dieptes, deur die dal van doodskaduwee, die Here se goedheid volg jou. Mag jy styf vashou aan jou Goedertierenheid, mag jy aanhou glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk en dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer jy sal terugkyk na vandag en sê: waarlik, God is goed. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” (Ps. 34:9) ~ Wilna Botha, 25/02/2020

“Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan.” (Heb. 6:20)  ’n Voorloper baan die weg vir sy volgelinge wat ná hom kom, hy maak die pad gelyk en sorg dat alle hindernisse uit die weg geruim is, dat alles veilig en maklik is vir dié wat hom volg. Dis vir my so wonderlik om aan Jesus te dink as ons Voorloper, om Hom as Voorloper te vertrou en te volg. Ons kan met gerustheid en geloof agter Hom staan, ons kan stap waar Hy stap, deure wat vir Hom oop is, sal vir ons ook oop wees.  Hy baan vir ons die weg: Hy het voor geloop in die dood in, sodat ons nie die dood hoef te vrees nie; Hy het voor geloop en die spot en verwerping en eensaamheid beleef, nou kan ons agter Hom skuil wanneer daai verguising op ons pad kom; Hy het voor geloop en vir ons sonde betaal, sodat ons vrygestel is van die skuld en die las van ons sonde; Hy het voor geloop en versoeking weerstaan en nee gesê vir sonde en verleiding – nou kan ons dit ook doen. (Heb. 2:18); Hy het voor geloop en die duiwel oorwin, nou is Hy ons skild wat enige aanvalle afweer. Ons Voorloper het vir ons die pad na God se genadetroon oopgemaak waar ons vergifnis en volkome aanvaarding kan ontvang, waar ons met barmhartigheid en genade gehelp kan word. (Heb. 4:16) Hy is die Weg en die Voorloper na die ewige woning wat Hy vir ons as sy volgelinge gereed gemaak het. Hy loop voor en ons kan Hom met vrymoedigheid en volle geloofsekerheid volg. ~ Wilna Botha, 27/02/2020

“U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” (Gen. 16:13) God sien vir my en jou ook raak. Hy het ons al gesien toe ons nog ongebore was, sê  Ps. 139:16 – tóé al het Hy van elkeen geweet en ons lewensdae opgeskryf. Die Here sien die innerlike raak, Hy sien ons gedagtes, motiewe, begeertes en verlange. “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.” (Ps. 139:1-2) Hy sien my nood en wil my help - Hy het sy oë oral op die aarde om dié te help wat op Hom vertrou, sê 2 Kron. 16:9. Saggeüs het in die wildevyeboom opgeklim om Jesus te sien, maar hy het nie verwag dat Jesus hóm sou raaksien nie en tog hét Hy en Saggeüs se hele lewe verander van daai oomblik af. Die woorde van die bekende liedjie kom by my op: “Maar U sien ver, oneindig ver, U sien my honger dors, nog voordat ek kon skuld bely, druk U my aan die bors.” Of ons verdwaal het en ons eie pad gevat het, of ons vir die Here probeer wegkruip, of ons êrens in die donker dieptes is of in ’n grot sit en onsself jammer kry, of ons in ’n woestyn rondploeter en of ons êrens in ’n hoë boom sit, Hy sien ons. Ek hoop jy sien Hom ook raak. “... hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” ~ Wilna Botha, 03/03/2020

“Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.” (Joh. 6:51) Jesus, ons Brood. Ons vaste kos wat totaal  versadig en bevredig, vir altyd. Maar, as die Brood in die “broodblik” bly en jy dit nie “eet”, sodat dit deel van jou word nie, sal jy soekend bly en uiteindelik sterf van die honger. Die Israeliete het manna uit die hemel gekry, net genoeg vir elke dag. God het dit uit genade aan hulle voorsien. Hulle het nie gewerk of betaal daarvoor nie. Ons het die lewende Brood ontvang. God gee dit uit Sy genade aan ons. Ons hoef nie daarvoor te werk nie. Ons hoef nie daarvoor te betaal nie. Ons hoef maar net elke dag ons porsie daarvan te neem, op ’n geestelike en simboliese manier, sodat ons vol kan word van Jesus. Die Israeliete moes van die manna bewaar sodat die nageslag kon sien waarmee die Here die volk in die woestyn gevoed het. (Lees Eks. 16:32) As ons Jesus se genade en voorsiening en goedheid geproe het, moet ons Hom vir ons nageslag wys en Hom deel met ons naaste. As ons bid: gee ons vandag ons daaglikse brood, vra ons nie nét voorsiening en versorging op tydelike, fisiese vlak nie, maar ook genade en sekerheid op ewige, geestelike vlak. Lewe as iemand wat Sy liggaam geëet en Sy bloed gedrink het – vry, tevrede, vol hoop.  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe... Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:50-51, 56) ~ Wilna Botha, 09/03/2020

“Daar is immers net een God en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het.” (1 Tim 2:5-6) Jesus is ons Middelaar. Hy staan tussen ons en God. Met Sy bloed het Hy betaal sodat ons verhouding met God herstel kan wees, sodat ons aanvaarbaar en skoon is vir God. Ja, vanweë ons sonde hét ons ’n Middelaar nodig. Vanweë ons tekortkominge het ons Iemand nodig om in ons plek te staan. As Jesus ons Middelaar is beteken dit ook dat Hy die Tussenganger is tussen ons en God – die weg na God. Hy maak die pad na God se troon vir ons oop, Hy is vir ons die Deur na die ewige lewe. As Jesus ons Middelaar is beteken verder ook dat Hy ons Voorspraak is. Hy praat namens ons, Hy pleit namens ons, Hy tree in namens ons by God. As Middelaar is Hy ook die Interpreteerder. Hy vertaal ons bedoeling, ons dade, ons behoeftes, ons smekinge, ons hartseer. As Middelaar is Jesus ons Advokaat – die Een wat ons saak behartig, wat die waarheid oor ons ken en wat meewerk dat ons onskuldig bevind en vrygespreek word. Dit alles is Jesus op hierdie oomblik vir jóú! Nie êrens in die verlede of toekoms nie... nee, Hy sit aan die regterhand van God en is nóú jou Middelaar! “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (Rom 8:33-34) ~ Wilna Botha, 11/03/2020

“Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun” (Ps. 54:6) Eintlik wou ek nie vanaand óók ’n eiertjie lê oor die onderwerp waaroor álmal reeds praat en dink, waaroor álmal die hele tyd wonder, waaroor álmal benoud en bekommerd is en wat ons lewe op die oomblik bepaal en beheer nie. Ek wou nie nóg iets byvoeg oor die onderwerp waaroor omtrent elke Facebook inskrywing gaan en ja, die onderwerp waaroor baie van ons grappies gaan nie. Daarom het ek gedink ek gaan maar net doodeenvoudig rustig voort met my reeksie wat handel oor God wat sê: “Ek is ...”, oor wie die Here sê Hy is en wie Hy vir jou en my persoonlik is. En vandag se woord is Helper. Nou kan ek tog nie anders as om binne ons groot Corona kwelling van hierdie dae my oë en my gedagtes na ons Helper te draai nie. Wie anders as ons Helper gaan vir ons vrede en rus gee, gaan ons troos en lei, gaan ons optel en in sy arms troetel, gaan ons vul met hoop en moed en ons verseker dat ook hierdie onseker tye wel gaan eindig? Ek hoop die volgende teks in die Amplified Bible sal help om ons vanaand rustig maak: “For He Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down (relax My hold on you)! Assuredly not! So we take comfort and are encouraged and confidently and boldly say, The Lord is my Helper; I will not be seized with alarm (I will not fear or dread or be terrified). (Heb. 13:5-6) Wees stil en weet ... ons het ’n Helper. ~ Wilna Botha, 17/03/2020

Die Here is ... my krag. (Eks 15:2) Die afgelope paar dae en die laaste klompie ure was omtrent ’n “roller coaster” en mallemeule vir my. Dan is ek bo en voel ek in beheer en rustig en kalm en het ek moed vir die komende 21 dae – ek sien sommer uit na die andersheid daarvan. Maar dan sien ek leë winkelrakke, ek sien my bure pak angstig op om die tyd elders te gaan deurbring, ek hoor mense se paniek en vrees en dan is ek ook sommer weer onder – bang, terneergedruk, onseker. Maar vanaand hoor ek die Here sê in 2 Kor. 12:9 “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” En ek weet: as ek swak is, is ek sterk. As ek swak is word ek sterk, want God is my krag. “Hy gee vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie ... dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke.” (Jes. 40:29-31) Die krag wat alles oortref, kom van God af, sê 2 Kor. 4:7. Sy krag hou ons regop, sy krag dra ons deur, sy krag lig ons koppe op. Sy krag maak dat ons nie terneergedruk of radeloos bly nie. Sy krag verseker ons dat God ons nie verlaat het nie. Sy krag keer dat ons vernietig word. (Lees 2 Kor. 4:7-9) . “U het my met krag omgord vir die stryd” (2 Sam 22:40) Skep moed, wees sterk, vlieg met arendsvlerke!  ~ Wilna Botha, 24/03/2020

“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb. 13:8) Oor ’n paar ure begin ’n vreemde, nuwe, onseker tydperk vir ons almal. Iets wat nie een van ons nog ooit beleef het nie. Niemand van ons weet hoe ons gaan voel of reageer of hoe ons daardeur gaan kom nie. Ons kan ons nie indink hoe ons oor ’n week of drie van nou af gaan voel nie. Ons kan nie raai hoe dit gaan wees as ons vir só lank nie ons geliefdes en vriende gaan sien en vasdruk nie. Ons kan nie raai hoe dit gaan voel as ons vir só lank bekommerd is oor ons eie en almal in ons land se gesondheid nie. Ons het almal allerlei planne gemaak vir die volgende 21 dae, ons het hope voorrade gereed gekry en ons wonder: is dit genoeg? Sê nou maar net ...? Niks is seker nie, want dis vir ons almal ’n eerste keer dat ons afgesonder en ingeperk is. In my gemoed en gedagtes is daar vandag egter één stabiele en seker feit en dit is dat die Here saam met ons is, dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy het in die verlede ’n  pad deur die see gemaak,  mense deur die woestyn gelei deur ’n wolk- en vuurkolom, hulle versorg met manna uit die hemel en water uit ’n rots, Hy het mense deur oorloë bygestaan, Hy het leeus se bekke toegesluit, Hy het mense genees, Hy het mense gered, Hy het mense hoop gegee, Hy het mense staande gehou, Hy het mense ’n verwagting op ’n nuwe toekoms gegee. Hy is nog steeds dieselfde Here. Hy is nog steeds getrou, vol liefde en barmhartigheid. Hy is nog steeds betroubaar. Hy is nog steeds alomteenwoordig en ook by ons en saam met ons in die volgende 21 dae. Dink terug aan tye in die verlede wat die Here jou gedra en getroos en versorg het, tye wat Hy jou beskerm en genees het. Ervaar dat Hy dit ook vandag vir jou doen. Vertrou dat Hy dit ook in die toekoms vir jou sal doen. Ek hoop jy sal Hom elke dag raaksien as die Onveranderlike binne al ons onsekerheid. ~ Wilna Botha, 26/03/2020

Die Here is ... my Bevryder. Ek het nou die dag reeds iets geskryf oor Ps. 18:3, maar vandag toe lees ek dit uit Die Bybel: ’n Direkte Vertaling en dit bring vir my ’n nuwe vrede en kalmte en sekerheid vir my gemoed. Kyk net hoe stapel dit die mooiste woorde op wat beskryf wie die Here vir ons is. “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die krag van my redding, my toevlugsoord.” (Psalm 18:3 BDV) Die Here is my Bevryder, of te wel, my Redder. Natuurlik het dit eerstens ’n diep geestelike betekenis, waarvan ons veral bewus is soos wat Goeie Vrydag nader kom. Jesus wat ons bevry van ons sonde, wat ons red van die ewige dood deur die prys wat Hy vir ons aan die kruis betaal het. Ons Verlosser. Ons Bevryder. Ons Redder. Ons weet egter uit ervaring dat Hy ons heel dikwels ook uit ons alledaagse benoudhede en gevare en siektes red, dat Hy ons dikwels van ons alledaagse vrese en probleme en twyfel bevry. In tye soos dié waarin ons ons op die oomblik bevind, roep ons voortdurend uit na ons Bevryder, ons Redder vir hulp en uitkoms en bevryding. Soos Dawid smeek ons dringend: maak gou asseblief, Here, moenie talm nie. “Maak tog gou om my te help, Here, my Redder!” (Ps. 38:23) en “U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie.” (Ps. 40:18) Wat doen ons terwyl ons wag op ons Bevryder? Ons skuil by Hom. Ons kruip weg by Hom. Hy is ons Rotsvesting, ons Bergskuiling, ons Skild, ons Toevlugsoord. ~ Wilna Botha, 31/03/2020

“Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond.” (Ps. 147:3, Die Boodskap) Gedurende die lockdown tydperk draf Willem elke oggend 5 km in ons erf. Al in die rondte op die grasperk en om die swembad – so stuk of 80 rondtes! Ek sien toe vandag dat daar al ’n diep paadjie in die gras getrap is en ek weet daai gras gaan nie weer groei voor die winter kom nie. Die paadjie gaan nog lank daar wees as ’n herinnering aan hierdie ongewone tydperk in ons lewe. Ek beskou dit nou maar as een van ons “lockdown-letsels”. En ek besef daar is baie van ons wat met erger (en blywende) letsels as net ’n paadjie in die grasperk gaan sit hierna. Ek weet egter dat die Here wonde verbind, dat Hy genees, dat Hy herskep, dat Hy nuut maak, dat Hy herstel bring. Die letsels mag dalk bly, maar dit sal ’n herinnering wees dat die Here ons deur swaarkry en trauma gedra het. Die letsels mag dalk bly, maar daar sal ’n dag kom dat die trane en angs en onsekerheid iets van die verlede sal wees. Die letsels mag dalk bly, maar dit sal ’n herinnering wees om al ons hoop en vertroue in die Here alleen te stel. Job het letsels gehad waar hy hom met die potskerwe gekrap het en die Here het vir hom twee keer soveel teruggegee as wat hy verloor het en sy lewe voorspoedig gemaak. Paulus het letsels gehad van sy swaarkry en al die houe wat hy verduur het en die Here se genade was vir hom genoeg. Jesus het die spyker-letsels aan sy hande gehad sodat Tomas kon sê: My Here en my God, en sodat ons kan glo sonder om te sien. “Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm.”  (Rom 5:3-4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 02/04/2020

God is ... alomteenwoordig. Behalwe daardie Goeie Vrydag toe Jesus aan die kruis gehang het en hard uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my  verlaat?” Daar was duisternis en stilte.  ’n Rukkie gelede was Jesus ontsteld oor die pad wat vir Hom voorlê: “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.” (Joh. 12:27) Hy is op daardie onseker oomblik bemoedig deur ’n stem uit die hemel. Toe Jesus in die tuin van Getsemane in doodsangs bloeddruppels gesweet het, het ’n engel uit die hemel Hom versterk (Luk. 22:43) Maar aan die kruis was Hy alleen gelaat. God se wraak, sy straf, sy woede, sy vloek oor die wêreld se sonde het in daai Godverlate oomblikke op Jesus afgekom, sodat ons dit nooit hoef te beleef om sonder God te wees nie. Hy het in óns plek Godverlatenheid beleef, sodat ons nou en vir altyd in God se teenwoordigheid kan leef. Dis amper Goeie Vrydag en ons is nié van God verlaat nie! Weet vir seker: enige plek waar jy jou mag bevind, al is dit hoe eensaam,  donker, leeg , verdorwe of vreesaanjaend, is gevul met God se teenwoordigheid. Hy laat jou nooit alleen nie, Hy is altyd langs jou, Sy arms is altyd hier naby om jou te vang, Sy hand digby om jou te help en lei. Hy weet alles en sien alles. Hy hoor as jy roep, Hy hoor as jy sug of as jy huil. “U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.... Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die vêrste plek toe, U is daar.... Oral hou U my vas. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my” (Ps. 139:7-11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 07/04/2020


Christus - die volmaakte Paaslam, die volkome offer. Christus - verraai, uitgelewer, gespot, gespoeg, geslaan, gekruisig. “So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net syne geword.” (Heb. 10:10, Die Boodskap) Jesus se kruisdood is die volledige betaling vir al ons tekortkominge en oortredinge. Sy bloed is die algehele bedekking vir elke sonde. Sy liggaam is ons volkome versoening met God. Sy offer red ons. Deur sy bloed lewe ons. Met die eerste Paasfees moes die Israeliete ’n lam sonder gebrek slag en die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn smeer, sodat hulle kon bly lewe. “Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan.” (Eks. 12:13) Die volmaakte Paaslam is vir ons geoffer, vriende! Sy bloed is aan ons lewenskosyne. Hy red ons. Hy gee vir ons die ewige lewe en ons sal in ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand of niks sal ons ooit uit sy hand ruk nie. (Joh. 10:28) Geseënde Paasfees! ~ Wilna Botha, 09/04/2020

Die Here is ... die Pottebakker. “Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” (Jes. 64:8, OAV) God is ons Skepper, ons Maker, ons Formeerder. God het vir Adam gevorm uit die stof van die aarde (soos wat Gen. 2:7 vertel). Met sy hande het die Skepper Pottebakker die grond-klei gevorm tot ’n mens en sy eie lewensasem in sy neus geblaas. Hy het na die werk van sy hande gekyk en gesê: dit is baie goed. So het die Here ons elkeen ook met sy eie hand gevorm in die skoot van ons moeder. En nou is sy hande steeds op ons, steeds besig om te vorm en te vou en mooi en beter te maak en af te rond, soos wat ’n pottebakker met ’n baie spesiale item doen. Ons Pottebakker is besig om iets mooi en bruikbaar met Sy hande te vorm. Hy sal nie sy werk halfpad laat staan of opgee daarmee nie, nee, wat Hy begin het sal Hy end-uit voer. (soos wat Fil. 1:6 sê) Die Pottebakker weet wat Hy doen en daarom kan ons dit rustig aanvaar en nie sy werk bevraagteken nie. “Durf die klei vir die een wat dit vorm sê: wat maak jy?” (Jes. 45:9) Soos ’n pottebakker, hou die Here sy oë en sy handpalms op ons. Dis nie net hande wat vorm, buig, vou en skuur nie, dis hande wat liefdevol op ons rus, hande wat beskerm en hande wat keer, want Hy het ’n mooi en volmaakte eindproduk in sig. ~ Wilna Botha, 15/04/2020

Die Here is ... my Vriend. Eintlik sê die Bybel dit andersom: ek is Sý vriend. “Ek noem julle vriende ...” sê Hy in Joh. 15:15. As iemand belangrik en bekend jou sy vriend noem, is dit nogal lekker nè! As jy ’n “friend request” sou kry op Facebook van iemand wat jy bewonder, iemand groot en bekend sou dit jou nogal spesiaal laat voel, of hoe? Hoeveel te meer as Jesus jou innooi in sy binnekring en jou sy vriend noem. Hy het eerste uitgereik na ons, eerste sy hand van vriendskap uitgesteek na ons. “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies...” (Joh. 15:16) Vriendskap met die Here is nie net iets denkbeeldig, of verdigsels van ons verbeelding, soos kindertjies se denkbeeldige maatjies met wie hulle in hulle gedagtes speel nie. Dis nie net ’n metafoor vir ons verhouding met Hom nie. Hy is nie net ’n vae kennis, ’n “buddy” of ’n maatjie nie.  Sy vriendskap is ’n egte, werklike, innige, diepgaande verhouding. Hy is die volmaakte vriend. Sy vriendskap is vas en seker, dit geld vir ewig. Dis nie net ’n mooiweers-vriendskap nie. Dit geld nie net as ek ’n goeie vriend terug is en my kant in die vriendskap bring nie. As Hy jou sy vriend noem, beteken dit dat Hy vir jou omgee, dat Hy jou sal beskerm, vir jou sal opkom, jou kant sal kies, jou sal help, jou belange op die hart dra, jou nie sal veroordeel nie. Dit beteken dat Hy jou swakhede en tekortkominge en feilbaarheid as vriend verstaan. Dit beteken dat Hy dáár is vir jou, dat Hy luister na jou probleme en oplossings en raad beskikbaar het vir jou. Dit beteken dat Hy met ons praat en sy geheime met ons deel. Dat ons vriende is, beteken dat ek kosbaar is vir Here, sóveel dat Hy sy lewe vir my aflê. “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (Joh. 15:13)  - en dis wat Jesus vir ons gedoen het, dis hoe ons beste vriende geword het. ~ Wilna Botha, 21/04/2020

Die Here is ... jou Bewaarder. So lees ons in Ps. 121. Hy pas my op, Hy is altyd naby, Hy hou my dop, Hy beskerm my, Hy sorg vir my, Hy behoed my. Hoe mooi is dié outydse term nie? Behoed. In ’n Engelse vertaling van Ps. 140:7 lees ek: you cover my head. Ja, soos wat ’n hoed jou kop beskerm, soos wat ’n valhelm keer dat jy seerkry, soos wat ’n sonhoed vir jou ’n skaduwee gee, só be-“hoed” en bewaar Hy ons. Geen wonder dat ons geestelike wapenrusting ook ’n hoed insluit nie – ’n helm van verlossing. As jou kop beskerm is, is jou brein beskerm. As jou kop beskerm is, is jou verstand en gedagtes ook bewaar. Ons leef in ’n moeilike en onseker tyd. Vanaand praat die President weer met ons en my gedagtes hardloop alreeds weer draaie oor wat volgende op ons wag. Cover my head, vra ek van die Here, sodat ek wat ook al na ons kant toe kom, kan hanteer. Om ons hulp, ons beskerming, ons troos in moeilike tye by die Here te gaan soek is vir ons as Sy kinders die enigste uitweg. Dit maak ons rustiger, bring vir ons gemoedsrus, gee vir ons vrede wat alle verstand te bowe gaan, gee vir ons moed om op te staan en positief vorentoe te kyk. Dit vat nie noodwendig die ongemak van die situasie weg nie, dit kanselleer nie noodwendig die probleme wat jou plat druk nie, dit maak nie noodwendig alles reg wat verkeerd is nie. Dit gee jou wel die wete dat Hy wat groter is, wat ewig is, wat alles weet en wat alles vir jou ten goede wil laat meewerk jou behoed, dat Hý jou Bewaarder is. “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. (Num. 6:24-26, AOV) ~ Wilna Botha, 23/04/2020

Die Here is ... the Ancient of Days. (Dan 7:9) Nee, dit verwys nie na sy ouderdom nie, dit verwys na sy ewigheid. Voordat daar dae was, was Hy reeds daar en was Hy reeds God. Hy bestaan van ewigheid tot ewigheid, Hy is die Eerste en die Laaste (Jes. 44:16), vóór Hom was daar niks en ná Hom is daar niks. Age to age He stands and time is in his hands – so lui die woorde van ’n liedjie. Tyd is in sy hande. As ewige God is minute, ure en dae in sy hande en laat Hy elke ding in ’n bepaalde tyd pas. In hierdie stadige dae waar dit voel of ons nooit weer vry gaan wees nie en niks ooit weer dieselfde gaan wees nie, waar ons só wag dat die grendeltyd opgehef of verlig moet word, het weke, dae en ure vir my weer ’n ander betekenis. In ons kombuis is hierdie woorde opgeplak: “Don’t count the days, let the days count”. Ek poog altyd om die beste van elke dag te maak en nie net tyd te laat verblyglip nie, maar deesdae vind ek dat ek dikwels die tyd omwens of terugwens. Ek wens dinge was weer soos altyd. Ek wens ’n volgende, beter tydperk kan aanbreek. Ek wens vandag is verby en môre het goeie nuus. Maar toe sién ek weer ’n slag dié woorde op my muur raak en ek weet: elke dag het nog steeds net 24 ure en elke uur net 60 minute en as hulle verby is, is hulle verby. Wat elke dag ook al inhou, daai ure bly ’n gawe uit die Here se hand en ek moet hulle nie verkwis met bekommernis, selfbejammering en negatiewe gedagtes nie.  Ek aanvaar dat die Ancient of Days ook in beheer is van my dae. “Maar ek vertrou op U Here, ek sê: U is my God. My tye is in U hand.” (Ps. 31:15-16) ~ Wilna Botha, 28/04/2020


“Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Joh. 1:1) Jesus is ... die Woord. Jesus is as’t ware God se woorde aan ons. “Deur die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun.” (Heb. 1:1-2, Die Boodskap)  Die woorde wat ons sê is die fisiese uitdrukking van ons gevoelens en ons gedagtes. As ek op ’n vereenvoudigde manier daaroor dink, dan is dit ook wat dit vir my beteken dat Jesus die Woord is. Hy is die fisiese uitdrukking van God se gevoelens, die fisiese uitdrukking van God se gedagtes, van wie God ís. Dis deur Jesus dat ons leer van God se liefde vir verlorenes en Sy plan om hulle te red. Soos wat die Bybel die geskrewe woord van God is, is Jesus die lewende Woord. Hy is God se boodskapper deur wie ons hoor en sien wie God is en hoe Hy wil hê dat ons moet lewe. Jesus sê mos in Joh. 14:9: “Wie My sien, sien die Vader.” Dis vir my verder ook betekenisvol dat Petrus vir Jesus in Joh. 6:68  sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.” Die Woord, die Lewe. Nou vra ek sommer vir myself die vraag: watter Woord/woord is vandag vir my die belangrikste? Na watter Woord/woord luister ek in hierdie dae? Watter Woord/woord oorheers my gedagtes en bepaal die rigting waarin ek beweeg? Is dit die vrees-woorde in die nuus? Die negatiewe woorde van swartgallige mense?  Die opsweep-woorde van mense op Facebook ? (tussen hakies: toe ek nou “facebook” tik wou my “spell checker” my help met die regte spelling en een van die voorstelle wat hy gee is “fakebook” -  sjoe, dit het my nou laat dink!) Iemand sê nou die dag: “Check the news, don’t watch the news.” Feite oor ’n situasie is belangrik, maar onthou daar is altyd ’n groter realiteit agter daai feite en dit is die Woord van God – dit wat God sê oor jou en oor die wêreld en oor die omstandighede. Laat die Woord wat lewe gee jou vul, jou gedagtes oorheers en vir jou rigting gee en mag Sy opregte, positiewe en opbouende woorde ook deel wees van jou woordeskat. ~ Wilna Botha, 30/04/2020

Die Here se Naam is Jaloers. “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.”  (Eks. 34:14 AOV) “Jaloers” is nou nie eintlik ’n naam wat ons dikwels vir die Here gebruik nie. Vir ons is dit bietjie van ’n negatiewe term, want menslike jaloesie word aangevuur deur onsekerheid, frustrasie, afguns, selfgesentreerdheid, trots ens. As ons sê die Here is jaloers verwys dit nie na ’n wispelturige, eiesinnige of humeurige “ou man” nie, dit verwys na sy liefdevolle besitlikheid oor ons en sy verlange en verwagting dat ons getrou moet wees aan Hom. Dat Hy jaloers is, is ’n uitdrukking van sy heiligheid en sy vereiste van ons “onverdeelde trou”, soos wat Hy in Eks 20:5 sê. Ook geen wonder nie dat Jesus sê dat die grootste gebod van die wet is dat ons die Here met ons hele hart, hele siel, hele verstand moet liefhê. (Matt. 22:37) Hy vra alles. Onthou ook hoedat Hy waarsku: “Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” (Openb. 3:16) Ek moet myself afvra: wat is daar in my lewe wat my “lou” maak, wat maak dat my aandag verdeeld is en dat my getrouheid aan die Here afgewater raak? Wat sal sy “jaloesie” laat opvlam? Dalk my onafhanklikheid – dit wys mos ek maak asof ek Hom nie nodig het nie. Dalk my tydsbesteding – dit wys wat en wie régtig belangrik is. Dalk my negatiewe gedagtes – dit wys dat my gedagtes nie op “die dinge wat daarbo is” gerig is nie, dat God se vrede nie waghou oor my hart en gedagtes nie. Dalk my probleme – soms fokus ek só op wat om my aangaan, dat dit groter word in my lewe as die Here self. Dalk my bekommernis en vrees – sulke optrede bewys dat ek Hom nie ten volle vertrou om my te help en te beskerm en my Herder te wees nie. Dalk mense – ek gee meer toe aan hulle eise en verwagtinge as aan dit wat die Here van my verwag. My lysie kan baie lank aangaan... dalk joune ook? Vanaand sing en bely ek maar net: “All my life and all my needs, all my ways and all my deeds …  I surrender all”,  want ek behoort aan ’n jaloerse God. ~ Wilna Botha, 05/05/2020

“Gideon het net daar vir die Here ’n altaar gebou en dit genoem: Die Here gee rus!”(Rigters 6:24) Ons bevind onsself in ’n onseker, onrustige en onvoorspelbare tydperk. Dit voel vir my of mens so gebombardeer word met nuusartikels, menings van mense, klomp moets en moenies, mag en mag-nies. En ek raak al hoe meer opstandig en negatief en rigtingloos. Vrees en benoudheid wil-wil my beetkry en my keel toedruk. Mens voel só ’n begeerte na sielerus, na diep vrede en sekerheid. En dan lees ek ’n teks soos dié in Rigters 6: die Here gee rus. In ’n Engelse vertaling sê dit: “The Lord calms our fears”. Diep sielerus, tevredenheid, behaaglikheid, vergenoegdheid, kalmte is by Hom te vinde. Dis ook hoekom Jesus daar in Mark 6:31 sy dissipels uitnooi: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie”. Dis hoekom Hy vir ons persoonlik uitnooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28) Kom! Alleen saam met Hom. In die stilte sal Hy my lei na sy groen weivelde en waters van rus en sal sy vrede weer oor my kan spoel. Ons sal egter nie in sy rus kan ingaan as ons oë op die wêreld of op ons probleme of op mense se opinies bly nie, ons moet ons fokus doelbewus na Hom verskuif. “Step out of the traffic! Take a long loving look at Me, your high God, above all the politics, above everything.” (Ps. 46:10) Vanaand bou ek ’n denkbeeldige altaar en noem dit: “Die Here gee rus!” ~ Wilna Botha, 12/05/2020

Die Here is ... “keeper of your souls”. (1 Pet. 2:25) Oppasser, Opsiener, Bewaker, Beskermer van ons siele. Daai diep binnekant, die onsterflike, onsigbare, onpeilbare deel van die mens, die kern van wie ons is en waar al jou krag, jou hele wese gesentreer is, waar jou gevoel, emosies, gedagtes, drome, passie gesetel is – dít hou die Here vas, dít pas Hy op en bewaar dit en heilig dit. As jy dit vir Hom gee, sál Hy dit bewaar en beskerm. Dis hoekom Jesus vir ons die versekering kan gee: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh. 10:28) “Keeper” laat my dink aan ’n “goal keeper”. Ek weet nou nie eintlik veel van sokker of hokkie of enige van daai sportsoorte wat ’n “goal keeper” het nie, maar ek weet wel dat hy die belangrikste posisie het en die grootste verantwoordelikheid het om sy span te beskerm en te keer dat die opposisie punte kan aanteken. Net so bewaar die Here ons siele teen die brandpyle van die vyand en hou Hy ons altyd aan die wenkant. By Hom is ons lewe veilig, is ons volkome aanvaar, is ons tekortkominge oorgesien, is ons meer as oorwinnaars. “Your life is safe in the care of the Lord your God, secure in his treasure pouch!” 1 Sam. 25:29 (NLT) ... jou siel sal Hy bewaar. ~ Wilna Botha, 14/05/2020

Die Here is ... ondeurgrondelik, onnaspeurlik, onbegryplik, onverstaanbaar, onverklaarbaar. “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?” (Rom 11:33-35) “Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan? Dit is kennis wat hoër is as al die hemele. Hoe kan jý daarby uitkom? Dit is kennis wat dieper is as die doderyk. Hoe kan jy dit bereik? Dit strek vêrder as die aarde, wyer as die see.” (Job 11:7) Dis seker vir ons as Christene een van die moeilikste dinge as ons op ’n punt kom wat ons voel ons verstaan nie God se weë nie, dinge maak net nie vir ons sin nie, ons sien nie Sy groter plan nie, ons sê: Hoekom Here? Hoe nou Here? Hoe lank nog Here? Is U nog in beheer, Here? Vandag toe ek herfsblare sien afval het ek net weer hieraan gedink: Wie se skuld is dit as ’n blaar van die boom afval? Is dit die wind wat dit afgewaai het? Is dit die boom wat die blaar laat gaan het? Is dit die blaar wat moeg geword het om vas te hou? Wie weet? Dikwels gebeur dinge net. Daar is nie redes nie, daar is nie ’n verduideliking nie, daar is nie iemand te blameer nie. Dis net hoe dit is. Daar is ’n paar goed waaraan ek vashou en glo in sulke vraag-vra-sessies: die Here ís besig in my lewe en in die wêreld, al sien ek niks gebeur nie; ek ís kosbaar vir die Here en Hy sal alles ten goede laat uitwerk; die Here se tydsberekening ís perfek, al voel dit of sy uitkoms of hulp te laat gaan wees; ek kan nie (en wil nie) ’n geveg met die Here opsit nie, want soos Job, sal ek nie opgewasse wees nie; ek bely dat my krag lê in oorgawe aan dié Een wat alles in sy hand hou, in stil wees en vertroue hê in Sy almag en soewereiniteit. Ek hou van hierdie aanhaling: “God didn’t promise days without pain, laughter without sorrow, sun without rain, but He DID promise strength for the day, comfort for the tears and light for the way.” ~ Wilna Botha, 19/05/2020

Jesus is ... in die hemel opgeneem. Ek het vandag weer die Bybelgedeeltes gelees wat oor Jesus se hemelvaart handel. Luk. 24:50-51 is vir my besonders: “Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” Jesus laat sy volgelinge met ’n  seën en met  groot beloftes agter voordat Hy opvaar na die hemel. Daai seën en daai beloftes is vandag vir ons ook van toepassing. Kyk op na die wolke en weet en glo dat Jesus weer gaan terugkom en dat Hy sélf elke dag by jou is tot dan (Matt. 28:20). Kyk op na die wolke en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige Gees gegee het, dat Hy in jou woon en jou lei en leer.  Kyk op na die wolke en weet dat Jesus  vir ons ’n plek in die hemel gaan voorberei het . Hy sê in die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou ook! Kyk op na die wolke en weet dat Hy aan die regterhand van God sit, dat Hy daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar is. Kyk op na die wolke en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as Koning van die heelal. Kyk op na die wolke en aanbid en eer en prys Hom! ~ Wilna Botha, 21/05/2020

“God is Gees” (Joh. 4:24) “... julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit.” (1 Joh. 2:27, Die Boodskap) Dis Pinkstertyd, dié tyd waarin ons die uitstorting van die Heilige Gees oordink en bestudeer en vier. Vroeër in Joël 2:28 al belowe die Here: “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense...”. In Joh. 14:16 belowe Jesus: “Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.” En toe, op Pinksterdag en elke dag daarna, kom die Gees van God om by ons te bly en in ons wees. Ons wat kinders van die Here is, het nou die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees as ’n kosbare skat ín ons. Die Gees gee vir jou wysheid en insig, raad en sterkte, kennis en eerbied vir die Here (volgens Jes. 11:1) Besef dit en laat dit ’n verskil in jou daaglikse lewe maak. Laat die Gees goeie vrug voortbring, laat die Gees leiding en rigting in jou lewe gee, jou help om situasies reg op te som en die regte besluite te neem ... jy is immers nou in God se spesiale span. Moet nooit daaroor twyfel of jy die Gees van God in jou het nie. Moenie dink daar moet eers buitengewone, bomenslike goeters gebeur om te “bewys” dat jy die Gees het nie. Die Gees kom heel dikwels net stil-stil in jou bly. En ás jy twyfel daaroor – vra die Here! “Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11:13) ~ Wilna Botha, 26/05/2020

Die Here is ... my Herder. Jesus word in Heb. 13:20 die “groot Herder van sy kudde” genoem. Ai hoe gelukkig is ons nie om te weet ons het ’n oppermagtige, alomteenwoordige Herder wat vir ons sorg met oorvloedige weivelde en strome vars water en vrede wat alle verstand te bowe gaan nie. Hy is die goeie Herder wat ons ken en ons op ons name roep en voor ons uitstap (Joh. 10:3,14) sodat ons Hom met volle vertroue kan volg. Wanneer ons verdwaal en ons eie koers vat, sal Hy 99 ander los en ons eers kom soek. Wanneer ons seerkry, kom tel Hy ons op, verbind ons wonde, droog ons trane af en dra ons op sy skouers terug na veiligheid. “Ek sal self my kleinvee se Herder wees ... Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.” (Eseg. 34:15-16) Ons Herder het tot die uiterste vir ons gegaan en sy lewe gegee sodat ons gered kan wees. “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom.” (Joh. 10:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 28/05/2020

Ek is ... die lig vir die wêreld. (Joh. 8:12) Vanoggend toe ek wakker word, sien ek in die donker die vae buitelyne van iets wat op my spieëlkas staan en ek het geen idee wat dit kan wees nie. Ek trek my oë skrefies, draai my kop, lig bietjie op van die kussing af in ’n poging om méér uit te maak van die ding. In die donker het ek heeltemal die verkeerde idee gehad van wat dit kan wees. Eers toe Willem met sy selfoonliggie daarop skyn, kon ons sê: o ja ...! Nou ja, in die donker dae van die lewe is dit mos ook so: ons sien net vae buitelyne van ’n saak, tower die verkeerde gedagtes daaroor op, praat onsself negatief en paniekerig en maak verkeerde besluite omdat ons nie die hele prentjie kan (of wil) sien nie. Hoe geseënd is ons nie dat die Here sy lig op ons lewenspad kom skyn nie. Dan raak vae buitelyne weg, onsekerheid maak plek vir vrede, vrees maak plek vir rustigheid, twyfel maak plek vir vertroue. Ek kon ook vanoggend geduldig gewag het totdat dit geleidelik ligter geword het en ek stukkie vir stukkie meer kon uitmaak van die onbekende voorwerp op my spieëlkas. Soms is dit ook hoe die Here vir ons lig gee in onseker tye – bietjie vir bietjie, net genoeg om die volgende tree te gee. Die lig kan nuwe inligting wees wat bykom, nuwe perspektiewe wat aan die lig kom, dalk aanvaarding van jou situasie of die wegtrek van die sluier van jou eie vooropgestelde idees en verwagtinge. Hier is die Here se belofte: “Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie.” (Jes. 42:16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 02/06/2020

Die Here is ... die Skepper. “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.” (Jes. 40:28) Op bladsy 1 van die Bybel begin ons leer wie God is – die Skepper van alles. God het gesê ... en so het dit gebeur. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3) Nie ’n enkele ding nie! Dat God die Skepper is beklemtoon sy almag, sy grootheid, sy beheer, sy krag, sy verhewenheid, sy onverklaarbaarheid. Job 38-41 is vir my die allermooiste weergawe van die skepping waar die Here vir Job deur ’n reeks vrae bewus maak daarvan dat Hy die Skepper is en dat niemand dit kan bevraagteken nie.  Lees dit gerus. Daar is sinsnedes soos: Wie het die aarde afgemeet? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het? Wie het die see opgedam? Weet jy waar die daeraad vandaan kom? Kan jy ’n beeld vorm van die groot wye wêreld? Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word? Wie het vir die stortreën ’n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal? Wie het die doudruppels in die wêreld ingebring? Sou jy die band van Orion kon losmaak? Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom? Weet jy hoe die hemelliggame werk? Kan jy weerligstrale uitstuur? Wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig? Wie gee vir ’n kraai die kos wat hy nodig het? Wie gee aan die wildedonkie vryheid? Gee jy vir die perd sy krag, sit jý vir hom maanhare aan? Is dit deur jou insig dat ’n valk vlieg? Kan jy ’n krokodil met ’n hoek vang of hom ’n tou in die bek sit? Uiteindelik kan mens nie anders as om, soos Job, te bely: “... nou het ek U self gesien.” Sien die skepping en jy sien die Skepper. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde ... ~ Wilna Botha, 04/06/2020

Jesus is ... die Begin en Voleinder van die geloof. (Heb. 12:2) Author and Perfecter of our faith, sê  dit in ’n Engelse vertaling. Hy is die oorsprong en rede vir ons geloof.  Hy het dit uitgedink en geskep en deur Sy Gees in ons harte geplaas. Wie Jesus ís en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, is die inhoud van ons geloof en met Sy bloed is dit in ons harte ingeskryf. Wie Hy ís dwing eerbied, respek en vertroue af. Ons glo Hom. Ons glo wat Hy sê. Ons glo wat Hy belowe. Ons glo ín Hom.  Al weet ons dit alles wel baie goed en al is daar tydperke waar mens voel jou geloof is sterk en op ’n hoogtepunt, kom daar tog wel tye van twyfel. Lang tye wat ons geloof swak voel, waar ons geestelike krag uitgeput raak, waar ons voel of ons vertroue opgeraak het. Hoe gerusstellend om in sulke tye te weet dat die Here ook die Voleinder en Onderhouer van ons geloof is. Daar bly altyd ’n vlammetjie oor wat Hy weer deur Sy Gees sal aanblaas tot ’n geloofsvuur. Mens kan as’t ware sê dat ware geloof nie weggevat of heeltemal uitgedoof kan word nie. “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fil. 1:6)  - dit geld ook vir ons geloof. “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.” (Mark 9:24) ~ Wilna Botha, 09/06/2020

“Who is like You – majestic in holiness...” (Ex 15:11) Dit voel vir my nogal as mens sê die Here is heilig, dat dit so ’n oorkoepelende, oorheersende karaktereienskap van Hom is, dat dit iets is wat ons met ons gevoel en woorde nie genoegsaam kan omskryf nie. Die Bybel praat dikwels van “die Heilige”  (sien bv. Jes. 57:15 - “Hy wie se Naam die Heilige is.”) Dís ons God: dié Heilige, anders as enige iets, hoër, groter, beter as enige iets of iemand, volmaak, perfek, suiwer, uitsonderlik, verhewe, “a cut above everything else”, heilig, heilig, heilig. En tog ... buig die Heilige af na ons, stort Hy sy liefde op ons uit, gee Hy sy genade vrylik aan ons, was Hy ons skoon, raak Hy ons aan en sê: wees heilig.  Dinge word heilig op grond van hulle verbintenis met God. So lees ons bv. van heilige grond, heilige Sabbat, heilige tempel, ens. Waar God is, is alles heilig. Sy heiligheid syfer deur alles wat deur Hom aangeraak word – ja, deur ons ook. “Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.”(Rom 6:22) ~ Wilna Botha, 11/06/2020

“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) Genadige God. Vól genade. In Hom en by Hom is oorvloedige genade, genóég genade vir my en jou. Ons probeer dit besing met “amazing grace...”, “genade onbeskryflik groot..”, “outrageous grace...”, maar ons woorde skiet te kort wanneer ons dit probeer beskryf. In die eerste plek is God se genade ’n reddende genade – Hy gee dit verniet aan ons, sonder dat ons dit verdien want Sy Seun, Jesus, het dit vír ons betaal. Dis genade wat vergeet en vergewe, wat silwerskoon was, wat oortredinge wegvat, so vêr soos die ooste van die weste af is; dis genade wat die poort van die Hemel oopsluit. Dis genade wat herstel, wat nuut maak en weer van voor af begin. Dis genade vir almal. Dis genade wat jou vêr en diep kom haal en teruglei. Dis genade wat nuwe hoop gee. Dis genade vir elke dag se stryd en probleme. Dis genade wat hulp en krag gee vir dit wat ons nie in staat is om op ons eie te doen nie, dis God se guns en seën vir dié wat biddend daarvoor vra. Kom met ’n oop hart en ontvang ’n nuwe porsie van Sy genade - “Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!” (1 Pet. 1:2) ~ Wilna Botha, 16/06/2020

Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat begin het by Eks 3:13. Ons lees daar dat Moses by die brandende doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle wil weet wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Ek 3:14) “Ek is ...”. Hy is alles waaraan jy kan dink, alles wat jy nodig het, alles wat sin maak, Hy is alles! “Daarom groot is U Here my God! Daar is niemand soos U nie.” (2 Sam 7:22) Ek gebruik graag dié woorde van ’n liedjie van Julius Magan om te sê wie die Here vir my is: “You are my hero. You are the poster on my heart, the picture in my mind, the song that I will sing, You are my hero, my everything! You are my morning and you are my night. You are my tears and my delight. You are my twirl, my twist, my turn. You are my wow, in my heart You burn. You are the one I long for most. You are my pride, You are my boast. You are my father and my best friend. You are my hero till the end.” ~ Wilna Botha, 18/06/2020

Dit was vir my so ’n wonderlike ontdekking toe ek agterkom dat baie van die Bybeltekste wat iets sê oor wie God is, ’n tweede gedeelte het wat begin met “daarom sal ek ...” Om te fokus op wie God is, verander my manier van dink en optree. As ek besef wie aan my kant is, wie my hand vashou, wie my beskerm, wie my help, oplig, deurdra, troos, wie my red en regop hou, dán kan ek Hom mos vertrou met alles in my. Dán sal my mosterdsaad geloof uit sy nate bars. Dán sal ek seker wees van Sy liefde en genade. Dán sal my geloof oorgaan in dade.
Hier is ’n paar voorbeelde:
Die Here is my Lig en Redder – daarom sal ek nie bang wees nie (Ps. 27:1)
Die Here is my Toevlug – daarom sal ek niemand vrees nie (Ps. 27:1)
Die Here is my Herder – daarom sal ek niks kortkom nie (Ps. 23:1)
Die Here is my Sterkte en my Beskermer – daarom sal ek op Hom vertrou (Ps. 28:6)
Die Here is my Helper – daarom is ek bly (Ps. 28:7)
Die Here is my Helper – ek ken geen vrees nie (Heb. 13:6)
Die Here is my lewe – daarom hoop ek op Hom (Klaagl. 3:24)
Die Here is altyd by my – daarom sal ek nie struikel nie, daarom is ek bly en juig ek en voel ek veilig (Ps. 16:8-9)
Die Here is my Trooster – daarom sal ek sing (Ps. 30:12-13)
Omdat God is wie Hy is, maak dit my wie ek is. Omdat God is wie Hy is, kan ek Hom met vertroue volg en dien. ~ Wilna Botha, 23/06/202

“Step out of the traffic! Take a long loving look at Me, your High God, above politics, above everything.”(Ps. 46:9, The Message Bible) Bedaar en erken dat Ek God is. Wees stil en weet ... Dis presies wat ek probeer doen het met die afgelope paar maande se oordink van wie God is, besin oor sy karakter, lees oor die name wat Hy in die Bybel genoem word. “Ek is ...” het Hy vir Moses gesê, maar vir myself wou ek vra: wie is God vir mý persoonlik. Ek wou “bedaar” en die verkeer in my kop bietjie tot stilstand laat kom (ja, lockdown het gehelp!) sodat ek kan herken en erken wie God is en wat Hy in my eie lewe doen. As mens fokus op wie Hy is, spoel dit uit in ’n gesindheidsverandering, lewensverandering, prioriteitsverandering. Dit gee jou sekerheid, dit gee geloof, dit gee ’n loflied, dit gee vertroue, dit gee nuwe liefde. As ek nou terugkyk na die notas wat ek daaroor geskryf het, sien ek sekere tye waarin spesifieke eienskappe van God vir my uitgestaan het en vir daai tydperk betekenisvol was. Hier is ’n enkeles:

* “The Lord is my portion” -  aan die einde van verlede jaar toe ek met die terugkyk oor die jaar só geseënd en bederf gevoel het, het ek  geweet die Here het vir my ’n mooi deel afgemeet.
* Immanuel, God is by ons – ons kon die nuwe jaar onverskrokke ingaan want ek het geweet die Here gaan saam die jaar in.
* Hy is ons vrede en gee rus - toe die Nuwejaarsvoornemens begin taan en die gejaag na wind maar weer voortgaan het God se vrede wat alle verstand te bowe gaan nuwe betekenis gekry
* Hy is my rots, my skuilplek, my redder, my God, my skild, my sterk verlosser, my veilige vesting - voordat ons nog eers geweet het watter ongewone tye op ons wag verseker Hy my dat Hy in alle omstandighede ’n wegkruipplek sal wees.
* Die Here is my banier -  en ek skryf: “Dit gee aan ons die sekerheid  van Sy teenwoordigheid in alles wat ons doen, die versekering van Sy beskerming, die vrymoedigheid om uitdagings aan te durf, die gemoedsrus dat ons in elke situasie as oorwinnaars sal seëvier.”
* Die Hoeksteen - Wie hou jou regop as alles rondom jou verkrummel, wie gee rigting as die lewenspad se kronkels te veel word, wie bepaal die sin en waarde van jou lewe, wie keer dat alles wat jy gebou het nutteloos inmekaar val, wie verleen dieper betekenis aan jou geloof? Daar is net een antwoord: Jesus, die Hoeksteen.
* The Lord is the source and sustainer of everything – ek het myself afgevra: is Hy genoeg vir jou as jy jou werk verloor het? Is Hy genoeg as jy by ’n geliefde se graf staan? Is Hy genoeg as jy slegte nuus in die dokter se spreekkamer gekry het? Is Hy genoeg as ’n onsienlike virus jou lewe omkrap en die ekonomie afwaarts spiraal? Is Hy genoeg as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie...?
* God is ryk in goedheid – ek het vir myself dié herinnering neergeskryf: mag jy aanhou glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk en dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer jy sal terugkyk na vandag en sê: waarlik, God is goed.
* Die Here is my helper – op die vooraand van die inperkingstyd skryf ek: Wie anders as ons Helper gaan vir ons vrede en rus gee, gaan ons troos en lei, gaan ons optel en in sy arms troetel, gaan ons vul met hoop en moed en ons verseker dat ook hierdie onseker tye wel gaan eindig? Ek hou steeds hieraan vas.
* Hy is ’n skaduwee teen die hitte – ek kan myself bemoedig hiermee: wanneer die hitte van die alledaagse stryd té veel raak, wanneer dit voel of jy nie verder kan beur nie, is jou Skaduwee daar vir jou, is daar vir jou ’n veilige rusplek by die Here – daar waar Sy hand vir jou ’n koel skaduwee sal gee, waar jou gemoed sal kalmeer en jou gedagtes verfris  sal word.
* Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid – niks is seker nie en ons lewe kan in ’n oogwink verander. Dit het ons met die koms van Corona vinnig besef en daar in die begin van die eerste 21 dae inperking skryf ek die volgende: In my gemoed en gedagtes is daar vandag egter één stabiele en seker feit en dit is dat die Here saam met ons is, dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is – sien Hóm raak as die Onveranderlike binne al ons onsekerheid.
* Die Pottebakker - Ons Pottebakker is besig om iets mooi en bruikbaar met Sy hande te vorm. Hy sal nie sy werk halfpad laat staan of opgee daarmee nie, nee, wat Hy begin het sal Hy end-uit voer. Die Pottebakker weet wat Hy doen en daarom kan ek dit rustig aanvaar en gaan ek nie sy werk bevraagteken nie.
* Die Here is ... ondeurgrondelik, onnaspeurlik, onbegryplik, onverstaanbaar, onverklaarbaar – hier is wat ek vir myself uitgemaak het: die Here ís besig in my lewe en in die wêreld, al sien ek niks gebeur nie; ek ís kosbaar vir die Here en Hy sal alles ten goede laat uitwerk; die Here se tydsberekening ís perfek, al voel dit of sy uitkoms of hulp te laat gaan wees; ek kan nie (en wil nie) ’n geveg met die Here opsit nie, want soos Job, sal ek nie opgewasse wees nie; ek bely dat my krag lê in oorgawe aan dié Een wat alles in sy hand hou, in stil wees en vertroue hê in Sy almag en soewereiniteit. 
*  Die Here is my Bewaarder – Hy behoed my, sê  die ouer vertalings. “You cover my head”, in ’n Engelse vertaling. Cover my head, vra ek van die Here, sodat ek wat ook al na ons kant toe kom, kan hanteer. ~ Wilna Botha, 25/06/2020

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)