Daaglikse Heuningdruppels
- wonderwerke
 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


WONDERWERKE VAN JESUS UIT JOHANNES

Ek lees so bietjie deur al die wonderwerke wat Jesus gedoen het, soos dit opgeskryf is in die evangelies. Dit lyk my daar is so ’n stuk of 35 verskillendes. Baie daarvan gaan oor genesing van allerlei siektes, melaatsheid, blindheid, doofheid, gestremdheid, dit gaan oor bevryding van bose geeste en oor mense wat uit die dood opgewek is. Dan lees ek ook waar mense op bonatuurlike maniere gehelp en versorg is soos toe ’n groot skare gevoed is met 5 brode en 2 vissies, waar moedelose vissermanne ’n ongelooflike visvangs beleef, waar Jesus op die water geloop het en waar Hy die wind en die storm aangespreek het om te bedaar. Dit alles is bonatuurlike gebeure wat mense se aandag op God vestig, wat die aandag fokus op sy grootheid en almag en buitengewone krag. Dit is tekens wat ons help om te glo en te sê: dis waarlik Jesus! En vandag ... sien jy enige wonderwerke raak? Moenie net soek na genesings en bonatuurlike uitkoms wat mense beleef nie, soek ook die wonders van God in die mooi van ’n klein blommetjie, in ’n onverwagse reënbui,  in die geboorte van ’n baba, in jou eie hartklop. Beleef ook die wonderwerke van God wanneer ’n harde hart sag word, wanneer ’n verharde siel na God toe terugdraai, wanneer ’n hooplose persoon weer lig aan die einde van die tonnel sien. Mag ons God beleef en sy wonderwerke sien! ~Wilna Botha, 12/03/2019

As mens deur die wonderwerke lees wat Jesus gedoen het, dan sien jy dat Hy teen natuurwette, fisiese beperkings en mediese feite optree. Dit beklemtoon oor en oor vir ons dat Hy almagtig is, dat Hy mag en beheer het oor alles en dat niks vir Hom onmoontlik is nie. “Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want  vir God is alles moontlik.” (Mark 10:27) Dink ’n bietjie hieroor: as ons graag ’n wonderwerk van die Here in ons lewens wil ervaar, moet dit nie gaan oor wat ons by Hom kan kry nie, maar oor wie Hy is. Die doel van ’n wonderwerk is altyd sodat God verheerlik kan word en sodat Sy Naam geëer kan word. ’n Buitengewone gebeurtenis moet mens met ontsag en blydskap en dankbaarheid vervul teenoor Hom wat die wonderwerk gee. Die fokus moet wees op die Here en nie die wonderwerk self óf die persoon wat die ontvanger is van die wonderwerk nie. “Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.” (Matt. 15:30-31) ~ Wilna Botha, 14/03/2019

Die eerste wonderwerk waarvan ons lees in die Johannes evangelie is in Joh. 2:1-11 – water word wyn! Jesus woon ’n bruilof by in Kana. Hy het tyd gemaak om dié sosiale geleentheid saam met sy dissipels en sy ma by te woon en saam met die mense van Kana fees te vier. Mense is altyd vir Jesus belangrik en Hy gaan staan dikwels stil en vereenselwig Hom met hulle omstandighede.  Te midde van die gekuier wys Hy egter dat Hy buitengewone mag en vermoëns het wanneer Hy die gasheer “uithelp” en gewone water in die beste wyn verander. Uit hierdie gebeure leer ek dat dit belangrik is om tussen mense te wees, om nie jouself beter te ag as hulle nie, maar met hulle te meng. Woon geleenthede by waarheen jy genooi word en wat vir jou vriende belangrik is. Dalk kan jy boonop nog die geleentheid kry om oor die Here te praat of om iemand te bedien of om iemand te help of raad te gee of dalk net is jy die getuie van 'n wonderwerk. Ek besef ook net dat Jesus hier vir ons wys dat ons mag ontspan, die lewe mag geniet, dat ons mag feesvier en vrolik wees  - dit is ’n gawe uit sy hand, soos wat Pred. 2:24-25 sê: “Die beste ding wat met enige mens kan gebeur, is om te eet en te drink en iets van sy harde werk te geniet. En ek het agtergekom dat ook dit uit God se hand kan kom. Wie kan tog eet en geniet sonder dat God dit toelaat en dit ook goedkeur?” ~ Wilna Botha, 19/03/2019

Toe ek weer die eerste wonderwerk van Jesus in Johannes deurlees (Joh. 2:1-11) val hierdie teks my op: Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” (Joh. 2:5) Jesus verander die water in wyn, maar eers moet die kelners iets vreemd, onlogies en buitengewoon doen, iets wat dalk die wenkbroue gaan laat lig of wat hulle in die moeilikheid  kan laat beland  – hulle moet die kanne wat vir reiningingswater gebruik word, vol water gaan maak. Ek kan nie help om te wonder of ons dalk wonderwerke in ons lewens mis, omdat ons nie dóén wat die Here vir ons sê nie. Dalk is ons bang mense spot ons, dalk dink ons dis té absurd, dalk dink ons ons het miskien verkeerd gehoor. Aan die ander kant kan die Here vir ons sê om net iets eenvoudig te doen, dalk iets heel logies, dalk iets wat jy lankal weet jy moet doen. Lees die wonderwerke en jy sal telkens sien dat Jesus eers vir die mense ’n opdrag gee voordat die wonderwerk volg. Vir die regeringsamptenaar wie se seun genees word, sê  Jesus: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” (Joh. 4:50) Dis al: gaan huis toe. En die seun is genees. Vir die verlamde man by Betesda, sê  Jesus: “Staan op, tel jou goed op en loop.” (Joh. 5:8) Wat Jesus vir hom sê om te doen klink onmoontlik vir ’n verlamde, maar hy doen dit en hy beleef die wonderwerk. “Laat die mense gaan sit,” (Joh. 6:10) sê Jesus en ’n groot skare mense word gevoed met slegs vyf brode en twee vissies. Eenvoudige opdrag: laat die mense gaan sit. Die blinde man moet homself gaan was in die Siloambad (Joh. 9:7) sodat hy kan sien. Hy moes iets doen, iets heel eenvoudig, hy moes egter sy kant bring om die wonderwerk te beleef. Voor Lasarus uit die dood opgewek word, sê  Jesus: “Rol die klip weg.” (Joh. 11:39) Dit was seker ’n vreemde opdrag om die graf na vier dae oop te maak, maar nadat hulle gedoen het wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, sien hulle die groot wonderwerk. Nadat die dissipels die hele nag lank geen vis gevang het nie, sê Jesus: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit.” (Joh. 21:6) Doen iets anders as die gewone, probeer weer en die wonderwerk volg. “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” Gehoorsaamheid is dalk die sleutel tot ’n wonderwerk in jou lewe. ~ Wilna Botha, 26/03/2019

“’n Groot klomp mense het agter Hom aangekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het.” (Joh. 6:2) Mens sien en hoor baie keer dat mense groot moeite en koste sal aangaan om by ’n bepaalde kerk of byeenkoms of prediker uit te kom omdat daar oënskynlik allerlei wonderwerke plaasvind – mense staan op uit rolstoele, finansiële probleme verdwyn, besighede word gered, kanker en vele ander siektes word genees. Dan wonder ek of hulle net vir hulleself en die sensasie van die wonderwerk gaan en of hulle gaan omdat hulle werklik die Here lief het en ’n begeerte het om Hom te volg en dien, al gebeur daar nie ’n wonderwerk nie. Heel dikwels roep mense na die Here en soek sy wonderwerke wanneer hulle slegte diagnoses oor hulle gesondheid gekry het of wanneer hulle bankrotskap in die gesig staar. Dan wonder ek of hulle waarlik soek na God en of hulle net soek na ’n wonderwerk, net iets tydelik wat nóú uitkoms kan gee. Natuurlik is dit reg om na die Here te hardloop wanneer jy siek, moedeloos of verlore is, maar ons moet Hom nie nét as laaste uitweg opsoek nie. Wanneer jy die wonderwerk beleef, hoop ek dat dit jou geloof sal laat groei, jou met ontsag sal vervul oor Sy grootheid en krag en genade en jou met ’n getuienis in die wêreld sal instuur. As jy nié die wonderwerk beleef nie, hoop ek dat jy Hom steeds sal prys en eer en sal berus in sy antwoord en rustig sal wees in sy teenwoordigheid. ~ Wilna Botha, 28/03/2019

Wat my opval wanneer Jesus wonderwerke doen, is dat Hy baie keer dít wat beskikbaar en alledaags is gebruik om die wonderwerk te doen; Hy sluit aan by die huidige omstandighede en dit wat reeds dáár is word iets buitengewoon. Kyk nou maar waar die water in wyn verander: die klipkanne en die water wat reeds daar is word buitengewone instrumente tot die wonderwerk. Hy “toor” nie net bottels wyn uit nie, Hy máák die wyn. By die vermeerdering van die brood en vissies word iemand se doodgewone middagete gebruik om duisende te voed. Kos is nodig en Jesus voorsien uit die min wat beskikbaar is sodat almal genoeg het en daar nog oorbly ook. Die mense se honger verdwyn nie net eensklaps nie, Hy máák kos om hulle te voed. Toe Jesus die blinde man aanraak, gebruik hy ’n mengsel van grond en spoeg en smeer dit aan sy oë. Hy buk af en vat van die grond wat alreeds daar is en in Sý hand word dit ’n geneesmiddel. Jesus sê nie net: word gesond nie, Hy máák gesond. So gebruik die Here ook dikwels gewone medisyne en dokters en operasies om genesingswonders te doen – waarvan baie van ons kan getuig. En onthou dat die Here die eer moet kry en nie die dokter of die medisyne nie. Moenie miskyk dat die Here dit wat jy alreeds het, of dit wat sommer net iets alledaags in jou leefwêreld is kan gebruik om wonderwerke in jou lewe te doen nie. Verwag dat Hy dit sal doen, sien raak dat dit Hý is en nie sommer net iets wat toevallig gebeur nie. Loof en prys Hom daarvoor. ~ Wilna Botha, 02/04/2019

Was jy ook al in situasies waar jy by die Here gesmeek het vir ’n wonderwerk? Was jy ook al só desperaat vir ’n wonderwerk dat jy as’t ware die soom van Jesus se kleed vasgegryp het, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, in die hoop dat Sy krag in wonderwerke na jou sal vloei? Dalk het jy al só hard geroep na die Here vir ’n wonderwerk, soos die blinde man in Luk. 18:39, dat die mense jou probeer stilmaak het? Wat my egter opgeval het in 5 van die 8 wonderwerke in Johannes is dat niemand in dié verhale gevra het vir die wonderwerk nie – Jesus het hulle as’t ware uitgekies as ontvangers van Sy wonderwerke. Niemand by die bruilof in Kana het Hom gevra om vir hulle wyn te voorsien nie – Hy het die behoefte en die bruidegom se verleentheid gesien en ingegryp. Die skare wat gevoed is met die twee vissies en vyf brode het nie gevra vir kos of gekla omdat hulle honger is nie – Jesus het omgegee vir hulle en geweet wat hulle op daai oomblik nodig het. Die verlamde by die bad van Betesda het maar net daar gesit en geweet hy sal nie betyds by die water uitkom om genees te word nie. Jesus het hom daar sien lê en vir hom gevra: Wil jy gesond word? Jesus het uit meegevoel vir die man ’n wonderwerk aangebied. So ook die man wat blind gebore is  - Jesus het hom raakgesien en hom genees “sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” (Joh. 9:3) – sonder dat Hy daarvoor gevra het, sonder dat Hy dit verwag het. Nadat die dissipels ’n hele nag lank geen vis kon van nie, daag Jesus op. Hy weet hulle is moeg en moedeloos. Onverwags sê Hy vir hulle om die net aan die regterkant uit te gooi wat vir hulle ’n groot opbrengs opgelewer het. Hier is ’n nota aan myself: Die Here wéét van my nood en behoeftes en pyn en bekommernis - partykeer moet ek dalk net in stilte vertrou en my oë op Hom gerig hou, sonder eise en sonder verwagting.  ~ Wilna Botha, 04/04/2019

“Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31) Daar aan die einde van Johannes sê hy dat daar nog baie goed is wat Jesus gedoen het, maar daar is nie genoeg plek in die wêreld se boeke om dit op te skryf nie. Daar is net 8 wonderwerke opgeteken in Johannes, so ek neem aan hulle is uitgekies omdat elkeen daarvan vir ons iets belangrik oor Jesus leer. Kyk bv. na die eerste wonderwerk: As Hy die water in wyn verander (Joh. 2:1-11) wys Hy dat dit nie die rituele reinigingswater is wat mens skoon maak nie, maar net Sy bloed wat aan die kruis vir ons almal gevloei het en nou vir ons vreugde en lewe in oorvloed gee. Hy verander gewone water in wyn wat die teken word van Sy nuwe verbond met ons.  Dís die wonder-wyn waarvan ons vandag kan drink: “Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” (Matt. 26:27-28) Het jy al wyn gedrink uit Jesus se genade beker en die wonderwerk van Sy vergifnis in jou lewe ervaar? ~ Wilna Botha, 09/04/2019

“Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:31) Dis sekerlik die hoofdoel van enige wonderwerk – om vir ons te wys wie Jesus is, sodat ons in Hom sal glo. So bv. wys die genesing van die amptenaar se seun (Joh. 4:46-54) vir ons dat Jesus dié Geneesheer is wat met die spreek van ’n woord gesond maak; dit bewys dat Jes. 53:5 vervul is: “...deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Wanneer die blinde man die lig sien (Joh. 9:1-7), ervaar hy dat Jesus die Lig vir die wêreld is. Deur hierdie wonderwerk leer ons dat Jesus die een is wat ons geestelike blindheid genees en Sy lig in ons harte laat skyn. “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” (Joh. 9:5) Die mense wat die dag van die vermeerdering van die brood en vis (Joh. 6:5-14) voor Jesus gesit het en geëet het van die brood moes besef het: Hy is die brood wat lewe gee, die brood wat vir ewig versadig. Die verlamde man (Joh. 5:1-16) ervaar Jesus as die een wat sonde kan vergeef en ons kan opwek tot ’n nuwe hoop en nuwe toekoms. Wanneer Jesus vir Lasarus uit die dood opwek (Joh. 11:1-44) sien ons en kan ons met sekerheid glo dat Hy die opstanding en die lewe is en dat ons wat geestelik dood is ook opgewek kan word en die ewige lewe kan verkry. Wanneer Jesus op die water  loop (Joh. 6:17-21) is dit vir ons duidelik dat niks vir Hom onmoontlik is nie – niks kan hom keer om saam met ons in ons lewensboot te vaar waar Hy ons beskerm en veilig hou. Geen wonder dat Johannes, na die wonderwerk van die ongelooflike visvangs (Joh. 21:1-14) kan uitroep: “Dit is die Here!” En dís ook die sekerheid wat ek in my hart kry wanneer ek die wonderwerke lees en oordink: Dís die Here. ~ Wilna Botha, 11/04/2019

Soos wat ek die wonderwerke wat in Johannes opgeteken is deurgaan, was dié een van Jesus wat op die see loop (Joh. 6:17-21) vir my anders as die res – die wonderwerk word nie aan mense gedoen nie. Niemand word genees of uit die dood opgewek of gevoed of so iets nie. Jesus loop op die water en dié wonder plaas die fokus op hoe Jesus beheer het oor die natuurwette en dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Die wonderwerk gaan egter verder: Jesus het sy dissipels opdrag gegee om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant toe. Dit het donker geword, die see het onstuimig geword en hulle moes teen die sterk wind in roei. Hoewel hulle gehoorsaam was aan Jesus se opdrag, was hulle nou bang, verlore en moeg. Jesus daag op wonderbaarlike wyse op, troos hulle met: moenie bang wees nie en klim by hulle in die boot en bring hulle veilig by die oorkant.  Ons voel ook baie keer moeg, uitgeput en moedeloos (al probeer ons gehoorsaam wees); die storms woed, die golwe slaan om ons en ons word benoud. Ons moet egter aanhou roei in die rigting wat die Here gewys het. Byt vas, want kort voor lank sal Jesus by jou in die boot wees. Jy ken mos die sêding: as die nag op sy donkerste is, is die dagbreek naby. Wanneer jy swak is, sal die Here jou sterk maak. Wanneer jy moeg is, sal jy weer met arendsvlerke vlieg. Wanneer dit voel of jy vergaan, sal die Here jou uit die diep water uitlig. Hou moed, binnekort sal die Here met ’n wonderwerk in jou lewe verskyn en sáám met jou in die boot klim. “Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem...” (Joh. 6:21) – is jy gewillig? Dan sal jy Sy wonderwerke ervaar. ~ Wilna Botha, 16/04/2019

“He is risen from the dead and I will rise when He calls my name...” – so gaan die woorde van die lied “I will rise”. Toe ek dit Sondag in die kerk hoor, het dit my laat dink aan die wonderwerk in Joh. 11:33-44 waar Jesus vir Lasarus uit die dood laat opstaan. “Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”” Jesus roep sy naam en Lasarus word lewendig ná 4 dae in die graf. Só het die Here ons ook op ons name geroep en ons uit ons geestelike dood laat opstaan om te lewe – nou en vir ewig. Hy het ons op ons name geroep en vir ons lewe in oorvloed gegee – vrede, vreugde, vergifnis. “And I will rise when He calls my name, no more sorrow, no more pain, I will rise on eagles’ wings.” Jesus het gesterwe en betaal vir ons sondes. Hy het opgestaan en roep ons ook uit die graf uit – op jou naam. Ek hoop gedurende die komende Paasfeesvieringe sal jy sommer opnuut hoor dat Hy jou uit die graf van vrees en verlorenheid, van skuld en sonde sal roep en dat jy met nuwe lewe en hoop gevul sal word.  En weet vir seker dat wanneer jy eendag jou laaste asem hier op aarde uitblaas, sal jy ook hoor hoedat Hy jou naam roep en sê: kom uit! Dan sal jy opstaan en die ewige lewe ontvang.  “Toe sê Jesus vir haar: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe in in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Joh. 11:25-26) ~ Wilna Botha, 17/04/2019

Ons sê mos altyd: sien is glo. Wanneer ek in Joh. 9 die wonderwerk lees van die blinde man vir wie Jesus genees het, dan sien ek die teendeel: hy glo en doen wat Jesus vir hom sê en dán sien hy – fisies én geestelik. Hy het maar net daar langs die pad gesit en bedel. Hy het nie eens geweet wie Jesus is nie, nie geweet dat Hy genesingskrag het nie, nie geweet dat Hy jou lewe vir ewig kan verander nie, maar Jesus kies om hom te genees sodat “die werke wat God doen, in hom gesien sal word.” (Joh. 9:3) Die man se blindheid word gebruik sodat almal kan sien wat God vir mense kan doen. Die blinde bevraagteken nie die metodes waardeur Jesus met hom werk nie. Hy aanvaar die onkonvensionele medisynemengsel van spoeg en grond, hy loop gehoorsaam om hom in die Siloambad te gaan was en toe hy terugkom kon hy sien. Mag dit vir ons ook só wees dat ons gehoorsaam volg en doen en glo sodat ons God se werk in ons lewe kan herken, erken en ervaar. Glo en sien!  ~ Wilna Botha, 24/04/2019

Die wonderwerk van die blinde man vir wie Jesus genees het is dié wonderwerk in Johannes waaroor daar die meeste gesê word – dit beslaan die hele hoofstuk 9! Een van die gedagtes wat vir my uitstaan in hierdie gedeelte is dat daar nie altyd ’n rede is vir siekte of gestremdheid nie. Baie keer wil mense die voorgeslagte se sondes blameer of die persoon se sondes  - soos die dissipels hier vir Jesus vra: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Ek het al gehoor dat mense sekere siektes aan sekere sondes koppel. Hulle sal bv. sê as jy kanker het, is dit omdat daar onvergewensgesindheid in jou hart is, of as jy hoë bloeddruk het, is dit omdat jy aggressie of een of ander onbelyde sonde het. Dan impliseer hulle as daai sonde bely en laat staan word, sal jy gesond wees. Jesus sê egter die rede vir die man se blindheid is sodat God se werke gesien kan word wanneer Hy die man gesond maak. Ons kan nie altyd die redes vir ons siektes uitlê nie, maar ons kan weet dat die Here ’n groter doel daarmee het. Dalk sodat ons, soos Paulus oor die doring in sy vlees, kan sê dat die Here se genade genoeg is. Ons is nie altyd gevrywaar van siektes nie, ons is nie altyd seker van genesing nie, maar waarvan ons seker kan wees is dat elke genesing wat ons ervaar ’n wonderwerk uit die Here se hand is – of dit nou ’n oombliklike genesing is en of dit deur ’n operasie, deur chemoterapie, deur pille, ’n pleister, salf of wat ook al gebeur. En as ons aan die ontvangkant daarvan is, dan moet dit ons met dankbaarheid en lofliedere en eerbetuigings teenoor die Here laat uitjubel. ~ Wilna Botha

Wanneer Jesus die wonderwerk doen om van 5 brode en 2 vissies duisende mense kos te gee, dan lees ons in Joh. 6:13 dat daar 12 mandjies vol oorbly nadat almal geëet het. Nou wonder ek: wat het hulle met daai 12 mandjies vol kos gedoen? Dalk vir die mense saamgegee huis toe? Dalk aan die armes gaan uitdeel? Dalk was daar ’n mandjie vol vir elke dissipel? Ek wonder toe verder: hoekom het Jesus dan té veel gemaak? Is dit sodat ons wat dit lees moet besef dat, alhoewel Hy ons leer om te bid vir vandag se brood en alhoewel die Israeliete in die woestyn net genoeg manna vir een dag moes optel, Hy tóg altyd vir ons meer as genoeg gee? Ons het sekerlik almal meer as een dag se brood in ons huise of ekstra geld in on beursies. Is dit om te wys dat Sy genade oorvloedig is? Is dit om ons te verseker dat daar by Hom altyd meer as genoeg is – meer liefde, meer vergifnis, meer aanvaarding, meer vrede, meer versorging? Miskien kan jy self jou eie afleidings maak wanneer jy in jou eie lewe God se oorvloed ervaar.  Ek dink die antwoord lê vêrder aan in Joh. 6 wanneer Jesus sê dat Hý die brood is wat lewe gee en dat dié wat na Hom toe kom, nooit weer honger en dors sal kry nie (Joh. 6:35) Nooit nie! Sien jy die oorvloed? Sien jy dat die Geestelike seëninge wat ons van Hom af ontvang nooit sal opraak nie? En dat daar altyd weer 12 mandjies vol gaan oorbly? Wat gaan ons met daai “oorskiet” doen? ~ Wilna Botha, 02/05/2019

“A man with an experience is never at the mercy of a man with an argument.” Hierdie aanhaling het my laat dink aan die genesing van die man wat blind gebore was (Joh. 9). Nadat hy genees is, het die mense hom met vrae bestook: wie, waar en hoe? En hy getuig net rustig oor wat gebeur het: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na Siloam toe en was jou. Ek het gegaan en my gewas en ek kon sien.” (vers 11) Daarna ondervra die Fariseërs hom ook en weer sê hy net wat gebeur het: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gaan was, en nou sien ek.” (vers 15) Hulle bespiegel en wroeg oor Jesus en dan wil hulle by die man weet: “Wat sê jý van Hom?” Hy is ’n profeet, het hy geantwoord. Hulle ondervra sy ouers, hulle ondervra hom weer ’n keer, maar sy ervaring, sy eerstehandse belewenis van Jesus se aanraking, sy persoonlike getuienis van wat met hom gebeur het, spreek harder as hulle argumente. “Een ding weet ek wel: ek was blind  en nou sien ek.” (vers26) Dit behoort ook vir ons waagmoed en vrymoedigheid te gee om ons getuienis te deel. Al wat ons hoef te doen, is om te sê wie die Here vir ons is en wat Hy vir ons beteken en wat Hy vir ons gedoen het. Ek was blind en nou sien ek. Ek was verlore en nou is ek gered. Ek was skuldig en nou is ek vrygespreek. Dis genoeg. Want geen argument of redenasie of teorie kan jou persoonlike ervaring met die Here bevraagteken of uitkanselleer nie. ~ Wilna Botha, 07/05/2019

Ek lees vandag die wonderwerk van die verlamde man vir wie Jesus genees het by die bad van Betesda in Joh. 5:1-17. Ek het dit in ’n Engelse vertaling gelees en daar sê dit: “One man was there who had been an invalid for thirty-eight years...” Ek spreek toe per ongeluk “invalid” uit as in-valid wat ongeldig, nie aanvaarbaar, sonder waarde beteken. En toe besef ek dit is dalk hoe baie mense gestremde persone sien: as iemand wat niks kan doen nie, niks beteken nie en nie waarde het nie. Ai, hoe verkeerd is dit nie. Jesus het dit nie gedoen nie en ons durf dit ook nie doen nie. Moenie dink as iemand in ’n rolstoel sit, hy is dom en kan nie ’n intelligente gesprek voer nie. Moenie dink as iemand sukkel om verstaanbaar te praat, hy kan nie homself wonderlik uitdruk as hy sy woorde kan neerskryf nie. As jy dalk met ’n bietjie geduld, bietjie langer probeer om te hoor wat hy sê sal jy agterkom daar skuil dalk ’n wonderlike humorsin, fantastiese woordeskat en groot intelligensie. Moenie dink as iemand nie kan sien, hulle is hulpeloos nie – hulle “sien” dikwels baie dinge wat ek en jy heeltemal miskyk deur hulle ander sintuie. Moenie dink as iemand doof is jy kan nie met hom kommunikeer nie – jy kan maar praat en ’n paar gebare byvoeg, jy sal verstaan word. En indien nie, sal ’n glimlag en ’n handdruk van jou kant af boekdele spreek. Moet asb. nie neerkyk op ’n gestremde persoon nie, moenie bang wees om aandag te gee aan ’n gestremde persoon of ’n geselsie te probeer aanknoop nie, moenie skaam wees om jou hulp aan te bied as jy sien ’n gestremde persoon sukkel nie – gewoonlik waardeer hulle dit baie. .. en moet beslis nie hulle parkeerplekke gebruik nie! Een van ons gestremde vriende het lank gelede hierdie “Ode aan vriende van gestremde mense” vir my gegee:

Geseënd is julle wat tyd afstaan
om na ons weifelende spraak te luister, 
want julle help ons besef dat ons verstaanbaar
kan wees as ons net volhard daarmee. 

Geseënd is julle wat saam met ons
in die ope loop en die gestaar van vreemdes ignoreer,
want in julle geselskap vind ons ’n veilige hawe.

Geseënd is julle wat ons bystaan
wanneer ons nuwe paaie aandurf,
omdat ons mislukkings geheel oorskadu word
deur dié geleenthede wanneer ons onsself en julle verras. 

Geseënd is julle wat ons nooit aanjaag nie
en nog meer
julle wat dinge nie uit ons hande neem en dit vir ons doen nie,
omdat ons meestal eerder tyd as hulp nodig het. 

Geseënd is julle wat ons om hulp vra, omdat
ons grootste behoefte juis is om te weet
dat iemand ons nodig het. 

Geseënd is julle wat ons deur al die dinge
verseker dat dit wat ons is nie in ons gebrek lê nie, 
nie in ons gekweste senuwees nie,
maar in die Godgegewe self wat geen gebrek kan inperk nie. ~ Wilna Botha, 09/05/2019


By die bad van Betesda genees Jesus ’n verlamde man wat saam met ’n klomp ander siekes dag in en dag uit daar gewag het in die hoop dat daar iéts  sal gebeur wat sy lewe kan verander. (Joh. 5:1-17) Sommige siekes het alreeds daar genesing van die Here ontvang wanneer ’n engel die water in beweging gebring het en hulle die eerste was om in die bad in te gaan. Ek lees dat Betesda “huis van genade” beteken – dié plek waarheen siekes gaan om aangeraak en gehelp en genees te word. Geen wonder dat daar gemeentes en klinieke en hospitale is wat hulleself Betesda noem nie. ’n Plek waar die Here teenwoordig is, is altyd ’n huis van genade, want dis wie Hy is – genadige, barmhartige, liefdevolle God. Sy arms is altyd wyd oop om die sondaars en die swakkes en die siekes te verwelkom en te help. En ons kerke en huise - is dít plekke van genade? Is dít plekke waarheen sondaars en swakkes en siekes kan kom om gehelp te word? En ons wat tempels van die Heilige Gees is, is óns ’n huis van genade? Kan sondaars en swakkes en siekes na óns toe kom in die hoop dat hulle met genade en liefde ontvang en gehelp sal word? Onthou Jesus sê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:40)  ~ Wilna Botha, 14/05/2019

Die verlamde man lê by die bad van Betesda en hou sy oog op die water – sy fokus en sy hoop op genesing lê by die bad, sodanig dat hy nie agterkom dat dit die eintlike Geneser is wat langs hom kom staan en met hom praat nie. Dié een wat die oorsprong is van alle genesing vra vir hom: “Wil jy gesond word?” (Joh. 5:6) en hy fokus steeds net op die bad en die water: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” (Joh. 5:7) As jy dalk op die oomblik so desperaat en hopeloos is soos hierdie man, moenie op die verkeerde goed fokus of op mense wag om jou te help en red nie. Die Wonderwerker, die Geneesheer, die Raadgewer, die Helper, die Redder sélf staan langs jou. Hou jou oë op Jesus en vertrou Hóm vir hulp, raad, genesing of waar jou behoefte ook al lê. Vir die verlamde man het Jesus die eerste stap geneem: Wil jy gesond word? Ek glo Hy sal dit vir ons ook doen. Moenie Sy helpende hand mis omdat jy net op die bad fokus nie. Kyk verby jou probleem en sien die Wonderwerker raak. Ek bid dat daar binnekort vir jou uitkoms sal wees. ~ Wilna Botha, 16/05/2019

In Joh. 4:43-54 lees ons hoedat die regeringsamptenaar se seun, wat dodelik siek was, wonderbaarlik genees word. As regeringsamptenaar was dié man sekerlik iemand van aansien, hy was heel moontlik ryk en het allerlei koninklike voorregte geniet. Tog kon al daai eer en aansien nie keer dat hierdie slegte situasie oor sy pad kom nie. Tog kon sy posisie en al sy geld nie sy seun gesond maak nie. Hy het egter besef dat dit slegs Jesus is wat hom kan help en daarom “verneder” hy homself, “kruisig” hy sy eie krag, sy eie kennis, sy eie vermoëns en kom na Jesus toe met sy versoek. Hy was desperaat en hy het met sy hele hart geglo dat Jesus sy seun kan genees. “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” (vers 49) Dit het my laat wonder of dit nie baie keer ons eie vermoëns, ons eiegeregtigheid, ons eie kennis, ons eie verwagtinge is wat in die pad staan van ons verhouding met die Here nie. Is ons werklik bereid om alles prys te gee sodat ons voor Hom kan buig om sy aanraking en sy hulp en sy seën te beleef? Sal ons regtig onsself kruisig om Hom te volg? Vir die regeringsamptenaar was Jesus se woord genoeg: “Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het en gegaan.” (vers 50) Is God se woord genoeg vir jou, of móét jy eers die wonderwerk sien voordat jy glo? Is jy gewillig om God se woord net so te aanvaar en daarop te reageer voordat jy dit sien waar word? Die regeringsamptenaar het. En hy het die Here se genade ervaar en die wonderteken gesien. ~ Wilna Botha, 21/05/2019

Die laaste wonderwerk waarvan ons in Johannes lees is waar Jesus ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn by die See van Tiberias. (Joh. 21:1-14) Nadat die dissipels die hele nag lank geswoeg het, maar geen vis gevang het nie, verskyn Jesus aan hulle en sê: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het dit gedoen en 153 groot visse ingetrek. Johannes het dadelik gewéét dat die man wat met hulle gepraat het Jesus is, want hy het al vantevore ’n soortgelyke wonderwerk gedoen. Lees daarvan in Luk. 5:1-11. By hierdie geleentheid het Petrus-hulle ook die hele nag geen vis gevang nie, maar Jesus stuur hulle terug diep water toe om hulle nette uit te gooi. Hulle volg gehoorsaam en vang soveel vis dat die nette wou skeur. “Toe sê Jesus vir Simon: Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (Luk. 5:10) Nou word hy volgeling van Jesus en ’n visser van mense. Nou verskuif sy fokus van visvang na Jesus en na die verkondiging van die evangelie. Nou word hy die rots waarop die kerk gebou word. Nou preek hy en duisende kom tot bekering. Petrus kan nou verwag om op dieselfde skaal as daai groot visvangs, mense vir Jesus in te bring... wat sou die voorvereiste wees? Hy moes alles net so los en Jesus volg. (Luk. 5:11) Hy moes gehoorsaam wees en doen wat Jesus vir hom sê, selfs al vra dit dat hy in “diep water” moet gaan om mense vir die Here te bereik. Hy moes nie stagneer in sy ou visvang-metodes nie – soms sal dit nodig wees om bietjie verder of dieper te gaan, of om die net aan die ander kant uit te gooi, dit gaan beslis nodig wees om op nuwe maniere na mense uit te reik. Soms sal dit ’n lang geswoeg wees voordat daar uiteindelik vrug op die werk sal wees. Ek glo dat die Here vandag ook vir my en jou sê: “Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Matt. 4:19) Sal jy gaan? ~ Wilna Botha, 23/05/2019

Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh. 21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink nie dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig oor Sy werke in ons lewe nie. Wilna Botha, 28/05/2019

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)