Daaglikse Heuningdruppels 2021

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

Toe ek vanoggend in die spieël kyk, het ek vir myself presies dieselfde gelyk as gisteroggend. Ek kon dieselfde gedoen kry en ek het dieselfde hoeveelheid energie gehad. Op hierdie selfde datum twintig jaar gelede het ek egter veel anders gelyk as vandag en kon ek fisies baie meer doen, hoewel ek ook die dag vóór dit presies dieselfde gelyk het. Dis die enigma van tyd, dis 'n raaisel wat moeilik is om te definieer en elke sekonde wat verby tik - selfs vandat jy hier begin lees het - is 'n stukkie tyd wat jy nooit weer gaan sien nie, jou lewe het pas weereens 'n bietjie verkort. En oor twintig jaar (indien jy nog sal lewe) gaan jy heelwat anders lyk as vandag. En so probeer ons vashou aan tyd soos 'n ou wat met sy groot hond gaan stap, maar Wagter sleep sy baas presies waar hy hom wil hê. Ons kan dit nie vashou nie, en dit wat verby is, is verby. Maar dit wat voorlê is wat tel, en nou, hierdie oomblik, is wat tel. As jy hier lees het jy sover hierdie aaklige nuwe maatjie wat ongenooid kom kuier het oorleef, en ek en jy is dankbaar daarvoor.
'n Jaar gelede het ons ook rustig geraak (hopelik jy ook), en ons het ook Kersfees gevier, en ons het ook tyd saam met geliefdes spandeer en ons het ook dalk die jaar met dankbaarheid uitgegaan, en 'n nuwe jaar met hoop ingegaan en met hernude ywer aangepak. Dalk om net weer al ons energie aan werk en oorlewing te spandeer. Volgende jaar gaan dieselfde wees, en volgende jaar is 'n misterie, 'n raaisel wat nog nie oopgebreek is nie. So draai die wiel maar stadig, en al lyk dit soms of hy stilstaan, draai hy steeds.
"Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde. Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer." (Pred. 1:4-6)
So breek Kerstyd weer aan, en gaan jy dalk soos ek die voorreg hê om dit saam met geliefdes te vier, en gaan ons dink aan 'n klein Babatjie wat die grote Koning is wat gebore is, sodat my en jou lewe in hierdie raaisel van tyd sin en betekenis kan hê. Soos jaar na jaar wat kom en gaan, met Kersfees wat kom en gaan, kan ons weereens tot die besef kom dat Hy die een enkele entiteit is wat NOOIT verander nie, en dat ons jaar na jaar Sy geboorte kan vier, sy verjaarsdag as jy dit so wil sien, maar Hy word nie "oud" nie, sy geboorte en lewe en boodskap is elke jaar nuut en vars en van toepassing op vandag. Hy is nie gebonde aan hierdie ding wat ons "tyd" noem nie. As jy in jou geestesoog na Hom kyk, lyk Hy nie anders as 20 jaar gelede nie, en is Hy nie tot minder in staat nie, en het sy liefde vir jou nié vervaag nie. Die gedagte oorweldig my, en dít maak Kersfees vir my elke jaar nuut en vars, en vier ek hierdie Christusfees weereens met dankbaarheid wat diep uit my hart kom. Ons het dit weereens tot hier gemaak my vriend, kom ons juig daaroor.
Mag hierdie feestyd weereens vir jou en jou gesin baie spesiaal wees, deel liefde in oorvloed uit, en ontvang elke stukkie liefde wat na jou kant toe kom met oop arms. Dank die Here weereens vir hierdie wonderwerk en sing jou lofliedere uit volle bors vir Hom. Sing omdat jy weereens dit tot hier gemaak het, sing as jy geliefdes in jou lewe het, en as jy alleen is, sing ook vir Hom. Ek glo die engele sing saam met ons.
Rus uit as dit vir jou beskore is, vier hierdie besonderse tyd opnuut asof dit jou eerste keer is en wees baie lief vir mense, maar wees ook lief vir jouself, want Hy het jou innig lief. Dis immers hoekom Hy gekom het.
Geseënde Kersfees van my en Wilna, ons gesels weer saam die 10de Januarie. Mooi loop. ~ Willem Botha, 21/12/2021

“It’s the most wonderful time of the year ...”, so hoor ons gereeld dié tyd van die jaar. Maar is dit regtig so? Ek kom nogal agter dat baie mense tranerig en depressief raak soos wat Kersfees nader kom. Ek dink dit het te doen met vooropgestelde idees oor tradisies, oor dit wat flieks en advertensies dié tyd van die jaar vir ons opdis. Kersfees is mos die “Season of joy”, maar niks is vir jou lekker nie en jy wil net huil en wens die tyd om. Kersfees word voorgehou as familietyd en dis ook goed so, maar wat van dié wat nie familie het nie, wat familie dié jaar aan die dood afgestaan het, wat geskei is, wie se kinders oorsee woon ... hulle wil wegkruip of onder ’n bos gaan sit soos Kersfees nader kom. Verder hoor ons die hele tyd dat Kersfees “a time of giving” is en dis ook ’n mooi gedagte en goed so, maar wat van dié wat niks het om te gee nie, wat niks ontvang nie ... hulle voel onvergenoegd en jammer vir hulleself. Kersfees word voorgehou as ’n feestelik tyd en dit is ook goed en lekker so,  maar wat van hulle wat moet werk oor daai tyd of wat siek is of wat vêr is, wat nie kan meedoen aan die groot fees nie en nie saam kan aansit by die tafel wat kreun van die kos nie ... hulle voel uitgelaat en eensaam. My gevoel is ook dat die feestyd groter en meer opwindend opgedis en voorgehou word as wat dit werklik is. Onthou dis maar net jou vriende wat iets eksoties doen wat dit op Facebook sal uitblaker. Dié wat stil en beskeie Kersfees vier sal nie foto’s daarvan oplaai en ’n bohaai maak nie. Dis my mening dat baie meer mense daai gematigde, stil Kersfees vier, gewone kos eet by ’n tafel gedek met gewone eetgerei, as wat ons dink. Ag moet tog nie dat Kersfees jou onderkry nie. Skaal jou verwagting af, dan sal jy nie teleurgesteld en bedruk voel nie. Hou jou eie fees. Vind jou vreugde in die Here. Spandeer jou tyd met Jesus, vier fees saam met Hom en vír Hom. ~ Wilna Botha

Wie is hierdie misterieuse God wat ons so naarstiglik volg? Watse mag het hierdie Wese oor miljoene mense op aarde, oor duisende jare heen, wat Hom nog nie met 'n oog gesien het nie? Hoe lyk hierdie misterieuse God wat alles geskep het, ons inkluis, maar ons het Hom nie aan die werk gesien nie, maar tog is sy skepping sigbaar en tasbaar? Of sien ons Hom wel aan die werk? Wie is Hy wat op 'n wonderbaarlike manier 'n Boek geskryf het met die hulp van meer as 40 skrywers wat nie eers almal op dieselfde tyd geleef het nie? En boonop het hulle in drie tale geskryf en op drie verskillende kontinente geleef, alles uitgestrek oor 'n tydperk van 1600 jaar. Waar woon Hy, en hoe is dit dat sommiges Hom kan aanbid en in Hom glo en hulle vertroue in Hom plaas, en met alles in hulle hele wese aan Hom vashou, maar Hom steeds nie sien nie? En dit terwyl miljoene ander sy bestaan misken, maar daagliks sy handewerk sien. En wie is hierdie misterieuse God wat mense in 'n oogwink na Hom toe draai soos Paulus van ouds? Ek het die voorreg gehad om dit vele kere voor my oë te sien gebeur. Wie is Hy? Hoe leer jy hom Hom ken as jy nét in Hom glo, maar jy sien Hom nie? En as jy nie in Hom glo nie, hoe kry jy dit reg om Hom mis te kyk?
Wie is hierdie misterieuse God wat besluit het om sy enigste Seun meer as 2000 jaar gelede hier op aarde ín die lewe te bring, nogal deur 'n maagd, net om Hom aan 'n kruis te laat spyker meer as dertig jaar later, en Hom weer óm die lewe bring? Wie sal dit nou doen? Kan Hy 'n liefdevolle God wees? Sy enigste Seun Jesus Christus, moes aan 'n kruis sterf omdat sy Vader vir mý en jou lief is. Hoe werk dit?
Ek vind hierdie misterieuse God orals, ek vind Hom in die skepping, ek vind Hom in sy biografie, ek vind Hom in die natuur waar blare sag ritsel in 'n koel oggendluggie, ek vind Hom in donderstorms waar Hy sy mag wys. Ek vind Hom ook by die krip waar Maria aan sy Seun (self God) geboorte gee. Ek vind Hom by die wyse manne waar Hy dinge aan hulle openbaar het en sy Seun gaan opsoek het. En vind Hom by die bloedjong Maria wie Hy gekies het vir hierdie enorme taak om die Seun van die mens in haar baarmoeder te dra. Ek vind Hom later by die kruis waar Hy sekerlik in smart moes toekyk hoe soldate sy Seun vermoor, omdat dít die enigste manier was wat óns Hom kon vind. Dis regtig vir my 'n misterie.
Geseënde Kersfees! ~ Willem Botha, 14/12/2021

Ek het die afgelope paar dae baie gedink en gewonder oor die lewe ná die virus. Sê nou maar oor twee jaar is hierdie virus getem, of hy het homself uitgewoed, soos die Spaanse griep destyds? Hoe sal ons terugdink oor hierdie tyd? Ek het besef dat tyd vir ons 'n paar dinge gaan leer, maar ons besef nog nie wat dit is nie. Natuurlik kan ek nog nie weet wat dit alles gaan wees nie, maar ek het tog besluit dat ek gaan reageer op dit wat ek nou kan uitdink. Hier is 'n paar gedagtes.
* Ek gaan spyt wees oor elke enkele sinnelose "is /is nie" gesprek, wat SOVEEL tyd, emosies en kopspasie in beslag geneem het.
* Ek gaan spyt wees oor elke simpel video wat ek gekyk het wat negatiewe mense aangestuur het, net om elke keer effens dieper in die moeras van twyfel en kommer ingetrek te word.
* Ek gaan spyt wees dat ek nie betyds my lewe en besigheid in 'n nuwe rigting laat inslaan het nie, weens vrees vir verandering.
* Ek gaan spyt wees dat ek sommige fasette van my lewe tot stilstand laat kom het, omdat die woorde "die lewe gaan nooit weer normaal wees nie" vir te lank oor my lippe gekom het.
* Ek gaan spyt wees omdat ek die Here net tot 'n beperkte mate vertrou het, want hoewel ek sê dat ek Hom ten volle vertrou, glo ek dit nie altyd nie.
* Ek gaan spyt wees dat ek agter die strome aangedraf het wat sê dat alle mense sleg is en net mooi niemand vertrou kan word nie.
* Ek gaan spyt wees dat ek nie méér geloof in myself en my eie vermoëns gehad het nie.
* Ek gaan spyt wees dat ek meer op die probleme rondom hierdie ding gekonsentreer het, as op moontlike oplossings.
* Ek gaan spyt wees dat ek toegelaat het dat vrees my soms beetgepak het.
* Ek gaan spyt wees dat ek nie méér uitgereik het na mense wat my hulp dalk nodig gehad het nie, want ek was bang ek beland self in die moeilikheid.
* Ek gaan spyt wees dat ek nie dankbaar genoeg was oor almal (insluitende myself en my familie) wat heelhuids hier deurgekom het nie.
* Ek gaan spyt wees dat ek myself eerste gestel het, eerder as om lig vir die aarde te wees.
* Ek gaan spyt wees dat ek nie die vriend was wie ek veronderstel was om te wees nie. Dit sluit my familie in.
Jy sien vriend, dinge gebeur in die lewe, en mens weet nie hoe lyk more nie, jy het net vandag. 'n Vriend het vir my 'n video gestuur waar hierdie volgende pragtige, dog hartseer gedig voorgedra word. Dis in 1919 geskryf deur Charles Hanson Towne.

Around the corner I have a friend,
In this great city that has no end;
Yet days go by, and weeks rush on,
And before I know, a year is gone,
And I never see my old friend's face,
For Life is a swift and terrible race.
He knows I like him just as well
As in the days when I rang his bell
And he rang mine. We were younger then,
And now we are busy, tired men:
Tired with playing a foolish game,
Tired with trying to make a name.
"Tomorrow," I say, "I will call on Jim,
Just to show that I'm thinking of him."
But tomorrow comes--and tomorrow goes,
And the distances between us grows and grows.
Around the corner!--yet miles away . . .
"Here's a telegram, sir . . ."
"Jim died today."
And that's what we get, and deserve in the end:
Around the corner, a vanished friend.

Waaroor gaan jý spyt wees? En wat gaan ek en jy doen aan hierdie dinge? Gaan ons onsself nog langer in hierdie tronk toegesluit hou, of gaan ons met die hulp van die Here daai tralies afbreek en voluit begin lewe in hierdie nuwe (en selfs opwindende) normaal? ~ Willem Botha, 13/12/2021

“Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?” (Matt. 2:2) Waar is Hy? Dit is nogal ’n vraag om te oordink in hierdie Kersfeestyd. Lê Hy nog net daar in die krip of is Hy ook in jou hart gebore? Is Hy net in ’n prentjie op ’n Kerskaartjie of het Hy ’n lewende werklikheid vir jou geword? Sien jy Hom nog net as ’n baba wat in doeke toegedraai in ’n voerbak lê, of het jy al die Koning persoonlik ontmoet as die Wonderbare, Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors, soos daar in Jes. 9:5 van Hom gepraat word? En as jy hierdie Kersfees vra: waar is Hy? Soek jy Hom, soos die sterrekykers, om hulde te bewys aan Hom? Soek jy Hom om voor Hom te buig en jou heel beste geskenke van goud, wierook en mirre voor Hom neer te lê?  Om jou lewe, jou dade, jou liefde, jou lofbetuigings vir Hom te bring? Of wil jy, soos Herodes weet waar Hy is, sodat jy van Hom ontslae kan raak, Hom finaal uit jou lewe kan uitskuif? “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” (Matt. 2:2) As jy hierdie Kersfees wil weet waar Jesus is, sal jy Hom beslis in die kerk vind, waar Christene bymekaar is, of daar waar Kersliedere gesing word, of waar die Kersverhaal vertel word. Ek hoop jy sal Hom ook vind waar jy saam met jou geliefdes eet en terugdink aan die Here se versorging en seëninge wat julle beleef het. Ek hoop jy sal Hom ook vind in die dankbare hart van iemand aan wie jy ’n liefdesdaad bewys, aan wie jy spesiale aandag gee, vir wie jy iets van jouself en goed weggee – ongevraag en onverdiend. “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?” Mag Hy Kersdag en elke dag deel wees van jou lewe. ~ Wilna Botha, 09/12/2021

Die Wet... is goed. Dis in alle opsigte goed, elke jota en tittel van Die Wet is goed, dit was goed en van toepassing baie lank gelede, en dis goed en van toepassing vandag. Daar is egter een ding waarvoor Die Wet net eenvoudig nie goed genoeg is nie, en dis om jou te red van die ewige vuur. Natuurlik is Die Wet goed, jy wil tog nie vermoor word, of voor gelieg word of ontrou wees of gesnede beelde maak nie of hoe? Die Wet is goed!
In Matteus 23 lees ons hoe Jesus die Fariseërs vasvat oor die ondraaglike laste wat hulle op mense plaas, gaan lees gerus die hele hoofstuk.
"Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie." (Mat. 23:4)
Maar hierdie laste is nie Die Wet nie, dis voorskrifte en reëls wat uit die ou testament kom wat nie meer van toepassing is as jy vir Jesus aangeneem het nie. En nou sien ek dat daar mense is wat die gedagte van "Jesus en...", of eerder "Jesus plus..." verkondig. Vandag, meer as 2000 jaar nadat Jesus die Fariseërs aangespreek het, is daar steeds mense wat presies dieselfde tipe boodskappe verkondig. Daar is predikers wat steeds hierdie onmoontlike, ondraaglike laste op mense plaas en dit voel asof daar geen Jesus aan die kruis was wat jou kom vrymaak het van hierdie
“wetsonderhouding" nie. Ja natuurlik noem Paulus dat jy nie hierdie vryheid moet misbruik om sonde te doen nie, want sonde is sonde en dis teen se God se wil, maar dis juis sonde waarvoor Jesus gesterf het.
Daar is een teks wat my soms so effe moedeloos maak as dit in die verkeerde konteks gebruik word.
"My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp..." (Hos. 4:6 1953 vertaling)
Kom ons lees hom egter ook in die 1983 vertaling. "My volk gaan onder omdat hulle nie aan My toegewy is nie. Omdat jy jou taak om hulle aan My toe te wy, verwerp het, verwerp Ek jou as my priester".
Dit klink vir my effe anders omdat die woord "kennis" vervang word met die woord "toegewy".
Wat my ongemaklik maak is dat hierdie teks soms gebruik word om jou te laat verstaan dat die persoon wat dit aanhaal, jou laat voel dat jy níks weet nie en dan gee dit gesag aan daardie persoon en sy opinies. En alles wat verkondig word, word met skrifgedeeltes ondersteun, maar dikwels buite konteks. Boodskappe wat jou laat verstaan dat jy hordes dinge moet DOEN om God te behaag is volop. Daar word videos gemaak en versprei, en as jy dit kyk voel dit of jy nie 'n kat se kans het om gered te word nie. Jesus plus...
Jesus plus hierdie reëls (soms totaal sinneloos). Jesus plus dinge waaraan jy net nie kan voldoen nie. Jesus plus reëls en gebruike wat jou geloof in Jesus as jou Verlosser totaal oorskadu.
Wil jy regtig vir die res van jou lewe ontoereikend voel? Wil jy regtig vir ewig in hierdie aaklige skuldgevoelens vassit? Wil jy regtig hoor dat jy net mooi niks kan reg doen nie? Wil jy regtig elke week hoor van 'n nuwe wet of reël wat maak dat jy nooit by Jesus gaan uitkom nie? Wil jy regtig twyfel oor jou ouers se saligheid omdat hierdie goed nooit aan hulle "openbaar" is nie? Wil jy regtig leef met 'n Christenskap wat soos 'n aaklige straf voel? Wil jy vir ewig met kettings aan reëls en oorgelewerde gebruike gebind word?
Weet jy wat is die probleem? Hierdie goed maak dat jy "GENADE" nie meer vertrou nie. Genade is net nie meer goed genoeg nie. Dis Genade plus. Jesus plus.
Kies vandag waarop jy gaan vertrou. Hoor wat sê Paulus in Gal. 3:10-11
'Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy GLO, sal lewe.”'
Sien jy die woord "stiptelik"? Alles, jy moet ALLES onderhou, as dit jou keuse is. Kan jy? Sterkte.
Kies een, en hou dan by jou keuse. Ja, veg tot die dood teen sonde, streef sonder ophou daarna om goed te doen, veg teen alles wat sleg is, maar maak staat op Jesus se bloed. Moenie dat mense ondraaglike laste op jou pak nie, nee, leef in die vryheid wat Jesus se kruisdood gebring het. Leef sonder skuldgevoelens, en as jy val, staan weer op en gaan aan. Jy is vry! ~ Willem Botha, 08/12/2021

Hoe is so iets moontlik? Ek het dié vraag al so baie kere gevra. In die alledaagse lewe sal ek dalk vra: Hoe is dit moontlik dat daar so baie vuil wasgoed is? Hoe is dit moontlik dat die koskas al weer leeg is? Hoe is dit moontlik dat die sokkie se maat verdwyn het? Hoe is dit moontlik dat daar al weer beurtkrag is? En so kan ek aangaan. Of op ’n dieper vlak sal ek dalk vra: Hoe is dit moontlik dat party mense so swaar moet kry, dat ou mense so moet sukkel, dat goeie mense so baie teenspoed beleef terwyl ander net maanskyn en rose het? Hoe is dit moontlik dat daai vriendin se kanker weer terug is, dat daar al weer ’n nuwe virus-variant is, dat die infeksie getalle daagliks sulke groot spronge maak? En so kan ek aangaan. Of op geestelike vlak sal ek dalk vra: Hoe is dit moontlik dat die Here my lief het, my sonde vergewe, my aanvaar ten spyte van my foute? Hoe is dit moontlik dat Christene hoopvol en moedig kan bly en kans sien vir enige moeilike situasie? Hoe is dit moontlik dat mense hulle tyd en geld en goed beskikbaar stel om ander te help? En so kan ek aangaan. “Hoe is so iets moontlik?” is ’n vraag wat Maria in Lukas 1:34 vra. Maria, wat so pas gehoor het dat sy swanger is en vir Jesus in die wêreld gaan bring, Jesus, die Lig en Verlosser van die wêreld, die Seun van God. Maria wat so pas gehoor het dat God genade aan haar bewys, dat die Heilige Gees oor haar gaan kom, dat die krag van die Allerhoogste lewe in haar gaan wek (lees Luk. 1:34-37) Maria, wat die antwoord kry: “Niks is vir God onmoontlik nie.” (Luk. 1:37) Hierdie is as’t ware ’n Kersfees-vraag: Hoe is so iets moontlik? Hoe is dit moontlik dat die Skepper ’n mens word? Hoe is dit moontlik dat God sy troon en sy kroon prysgee en onder ons kom woon, die gestalte van ’n slaaf aanneem en aan mense gelyk word? (Lees Fil. 2:5-8) Hoe is dit moontlik dat die Koning van die heelal ’n swak baba word wat honger word, wat huil, wat verwerp en gespot word en wat moet ly en aan ’n kruis sterf?  Hoe is dit moontlik dat dít God se plan is, sodat ek en jy nuwe, skoon, verloste mense kan word, sodat ek en jy in ’n nuwe verhouding met die Here kan staan, sodat ek en jy die ewige lewe kan hê? Dink daaraan hierdie Kersfees: niks is vir God onmoontlik nie! ~ Wilna Botha, 07/12/2021


Ps. 23:2 "Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen."
Ai, hoe wonderlik is hierdie woorde nie! Ons ken dit van kindsbeen af, en ons kan almal Psalm 23 uit die kop opsê.
Die jaar het sy lê gekry en baie mense (ek hoop jy ook), begin afskakel vir die jaar, al is dit net vir 'n paar dae.
Ek smag regtig SO na waters waar rus is, ek smag daarna dat daar net een of ander skeiding in tyd kan aanbreek waar ons kan stop, terugkyk en dan net weer "reset" en batterye laai vir 'n volgende rondte. Ek dink die jaar was nogal onstuimig met die virus en die verkiesing, dalk finansiële uitdagings, die opstande vroeër vanjaar en sommer net negatiwiteit oor die algemeen.
Ek is lus vir rus, maar nie net liggaamlike rus nie, ook emosionele rus, want mens se kop kan nie bybly nie.
Hierdie teks vra: Lei my na waters waar daar vir my rus is. Ek het vandag gedink oor hierdie woorde, en besef dat daardie rus nie outomaties gaan kom nie, ek sal dit moet soek, maar jy hoef nie ver te soek nie. Waters van rus, is daar waar God is, dis daar waar Hy jou in sy arms neem en beskerm teen die aanslae van die lewe. Dis daar waar jy by sy voete kan gaan sit en net sy sagte, bemoedigende stem hoor. Dis daar waar ons eenkant gaan, en onsself afsluit van die geraas en woelinge van die wêreld. Dis daar in die natuur waar ons in verwondering kan kyk na die volmaakte skepping, wat NET sy handwerk is. Die waters waar rus is sal jy in die vroegoggend vind waar dit net jy en Hy is, waar jy selfs doodstil kan sit en net konsentreer op sy stem, dalk waar jy met die Woord besig is en Hy Homself aan jou openbaar. Die waters waar rus is sal jy vind in tye wat jy die bekommernis van die wêreld vir Hom oorgee en alles vir Hom los om uit te sorteer. Jy sal saamstem dat jy soms diep bekommerd gaan slaap, net om op te staan met nuwe moed. Ek het al soveel keer in my lewe ervaar dat dinge oornag verander, net omdat jy nuut daaroor dink.
Die Kerstyd is op hande, en dis vir my 'n heerlike tyd waar ek die waters van rus vind. In hierdie tye besef ek telkens dat die Antwoord vir hierdie wêreld meer as 2000 jaar gelede sy verskyning gemaak het en die laste van die mensdom op Hom kom neem het. Kersfees bly maar vir my 'n spesiale tyd.
Hy laat my neerlê in groen weivelde... Die spreekwoord sê mos die gras is altyd groener aan die ander kant. Dis waar, kom ons gaan daar waar Hy ons laat neerlê in groen weivelde. Maar dan moet ons die droë, dooie aarde waarin ons so tevergeefs ploeg agterlaat en ons deur Hom laat lei na die groen weivelde. Dis soms moeilik, maar as jy dit eers gedoen het, sal jy die waters waar daar vir jou rus is vind. Laat toe dat Hy vir jou nuwe moed gee, en hou op om jou tevergeefs dood te spartel, en geniet die waters van rus. ~ Willem Botha, 06/12/2021

“Here, wie is werd om by U te mag wees?” (Ps. 15:1) Het jy ook al hierdie vraag gevra, of gedink? Dalk oor jouself of dalk oor iemand anders... Dalk het jy ook al met minagting na jouself of iemand anders gekyk en gewonder hoe kan iemand só onheilig, iemand só sondig en verrot in die Allerhoogste, Allerheiligste God se teenwoordigheid kom. Kyk wat sê Ps 15: “Here, wie is werd om by U te mag wees? Wie mag in u huis instap, daar waar U spesiaal teenwoordig is? Iemand wat so optree dat U heeltemal tevrede is met wat hy doen, mag daar kom; ja, hy wat doen wat U wil hê.” En dan word die lysie opgenoem: iemand wat nie skinder nie, nie sy vriend in die rug steek nie, wat nie dinge sê wat iemand anders seer maak nie, wat sy woord hou al kos dit hom duur, wat nie onnodig en onregverdig geld maak uit ander nie, wat hom nie laat omkoop om verkeerde dinge te doen nie. Geen wonder die skrifgeleerdes en Fariseërs was só ontsteld toe Jesus saam met ’n tollenaar geëet het, en met die Samaritaanse vrou by die put gepraat het en met prostitute en vissermanne omgegaan het nie. Geen wonder dat ons ook dikwels na daai lysie kyk en voel ons is nie goed genoeg om in die Here se teenwoordigheid te kom nie. Wie kan per slot van sake daai lysie ten volle aftik? Niemand nie. Kyk, Rom 3:23 sê: “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” En 1 Joh. 1:8 sê as ons beweer ons het nie sonde nie, dan is die waarheid nie in ons nie – so selfs dít is ’n sonde! Here, wie is dan werd om by U te mag wees? Dié een wat silwerskoon gewas is deur die bloed van die Lam aan die kruis. Dié een wie se sonde aan die kruis vasgespyker is. Dié een wat sy saak met die Here uitgemaak het en nie meer skarlakenrooi van sonde is nie, maar wit geword het soos sneeu. (Jes. 1:18) Dié een wat hierdie Kersfees die Verlosser van die wêreld raaksien in die krip, wat beleef dat die Allerhoogste mens geword het en by ons kom intrek het, wat die blye tyding hoor dat die Seun wat gebore is Immanuel genoem word, God by ons.  Hy het na óns toe gekom! Dis goeie nuus wat vir ons elkeen bedoel is. Ons ís werd om by Hom te mag wees. “Laat ons dan tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete en ons liggame is gewas met skoon water.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha, 02/12/2021

“Wat moet ek doen om gered te word?” (Hand 16:30) So vra die tronkbewaarder vir Paulus en Silas. Dié twee was in die tronk gegooi en die bewaarder het die opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Maar nadat hulle teen middernag gebid en lofliedere gesing het, was daar ’n aardbewing wat die tronkdeure laat oopgaan en al die gevangenes se boeie laat loskom het. Die tronkbewaarder het gewéét dat hy iets groot beleef het en dat daar iets in sy lewe kortkom. Hy het besef dat hy hulp en redding nodig het en dat Paulus-hulle die antwoord het. Daarom val hy op sy knieë en vra: wat moet ek doen om gered te word? Die eenvoudige, reguit antwoord van Paulus was: Glo in die Here Jesus en jy sal gered word. Glo in die Here Jesus en jy sal sy kind genoem word, jou sondes sal vergewe word, jy sal ’n nuwe mens word, jou lewe sal ’n nuwe rigting inslaan, jy sal die ewige lewe ontvang. Glo. Dis al. Dis genoeg! In Mark 10:17 lees ons van nóg iemand wat op sy knieë neergeval het met dieselfde vraag: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Dis die ryk jongman wat só vir Jesus vra. Hy was heel tevrede met sy lewe en al die goeie dade wat hy alreeds gedoen het en al die reëls en wette wat hy so mooi getrou nagekom het. Mens kry die idee dat hy nie eintlik vir Jesus in sy lewe nodig het nie, hy soek net nóg ’n regmerkie om seker te maak hy is oukei. In teenstelling met die antwoord wat Paulus-hulle gegee het, sê  Jesus vir dié jong man om al sy goed te verkoop en die geld onder die armes te verdeel en dan terug te kom om Jesus te volg. Jesus het geweet dat dié ou se rykdom tussen hom en die Here staan en dat dít hom sou keer om Jesus te volg. Die ryk jongman was nie bereid om afstand te doen van sy besittings nie en het bedroef weggegaan, sê  die Bybel. Ek dink nou sommer ook aan die Fariseër en die tollenaar, van Luk. 18:9-14, wat gaan bid het in die tempel. Die Fariseër het by die Here gespog oor alles wat hy reg doen. Hy het glad nie besef hy het redding nodig nie. Die tollenaar daarenteen kon net bedroef op sy bors slaan en pleit: O God, wees my, sondaar, genadig. Hy het geweet hy kan nie homself red nie, hy het erken dat hy ’n Redder en Verlosser nodig het. Net soos die moordenaar wat daar langs Jesus aan die kruis gehang het en berouvol gesê het: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:42-43) Ek verseker jou! Glo en jy sal gered word. “So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Hand 2:21) Weet jy wat om te doen om gered te word? ~ Wilna Botha, 01/12/2021

My ma is in 2011 oorlede aan kanker. Sy is oorlede so 8 maande na die diagnose en het besluit om behandeling te neem teen die kanker. Ongelukkig het dit nie gehelp nie en het sy aanvanklik deur 'n fase gegaan wat sy só goed gelyk het, positief was en geglo het sy het die kanker oorwin. Ongelukkig was die afdraande tyd styl en vinnig. My ma was van nature 'n vrolike, borrelende en baie energieke mens. Niks het haar ondergekry nie. Daar is een ding wat ek nooit hiervan sal vergeet nie, en dis hoe sy aan hoop en haar geloof vasgehou het tot aan die einde. Selfs in haar laaste dae het sy dikwels dinge genoem wat sy nog gaan doen sodra sy weer gesond is.
Sy was lief vir sing en het altyd iets geneurie as sy besig was. Ons het haar elke dag besoek in die laaste paar weke, en as my seun saamgegaan het, het hy by haar op die bed gaan lê en enige liedjie begin sing, waarna sy dan onmiddellik ingeval het en saamgesing het, tot aan die einde. Sy het hierdie volgende teks absoluut uitgeleef.
"Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet; dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog." (Pred. 9:4-6)
Ja, solank jy onder die lewendes is... En inderdaad het 'n leeu wat dood is geen kans teen die kleinste hondjie wat lewe nie.
Ons wêreld gaan deur 'n bitter moeilike tyd, maar daar is net een stukkie raad wat het ek, en dit is LEWE met hoop. Lewe voluit, elke dag, in hoop. Moenie toelaat dat diegene wat besluit het om op te hou leef, jou in 'n dooie leeu verander nie. Moenie dat ander se uittog uit hierdie lewe (terwyl hulle nog asemhaal) jou saamsleep in die "lewende" doderyk nie. Hoeveel kere hou ons op om te veg vir nog 'n spreekwoordelike asemteug, want ander se asems is reeds uitgeblaas en hulle gun jou nie 'n strokie sonskyn nie en sleep jou saam. Het jy al ooit in jou lewe 'n negatiewe mens gesien wat jou probeer moed inpraat? Het jy al ooit gesien dat iemand wat gaan lê het, vir jou motiveer om op te staan en die wenpaal te bereik? Aan die ander kant, het jy al ooit 'n positiewe mens gesien wat ander aanmoedig om te gaan lê?
"Yster slyp yster, vriende vorm mekaar."(Spr.27:17)
Elke mens in jou lewensfeer vorm jou, elke enkele een!!! As jy met iemand te doen het word jy gevorm, elke enkele oomblik, positief óf negatief. En jy self help om elke enkele mens te vorm wat jou pad kruis. Jy leef mense om jou raak, selfs al is hulle nie jou vriende nie. Yster slyp yster... Dis so mooi gestel. Die Here het ons vir mekaar gegee om mekaar beter te maak, nie slegter nie.
Terug na my oorlede moeder, sy het 'n groot gat in die samelewing agtergelaat, by almal om haar, haar gesin, familie en haar vriende.
Ek sien die naweek 'n bordjie op iemand se nis in 'n muur van herinnering waar sy as gelaat is. Daar staan geskrywe: "Mis my, maar laat my gaan."
Dis so mooi en sê so baie! Ek streef daarna om die wenpaal te bereik en die goeie stryd enduit te hardloop. En hier klaar te maak sonder enige spyt (regrets) oor wie en wat ek eerder moes wees. Maar intussen eerder 'n lewende keffertjie as 'n dooie leeu. ~ Willem Botha, 01/12/2021

Jy is nie goed genoeg nie. Punt. Jy is nie goed genoeg volgens die samelewing nie, nie by die werk nie en definitief nié goed genoeg vir die Here nie. Hierdie lewe maak nie meer voorsiening vir "gewoon" nie. Gewoon gaan dit net eenvoudig nie maak nie want die eise wat die lewe stel is net te hoog. Die eise wat jy vir jouself stel is totaal bokant jou vuurmaakplek en so is die eise wat ouers vir hulle kinders stel ook bokant hulle vuurmaakplek. En dan raak die lewe totaal onuithoudbaar vir hulle. 'n Troue mag ook nie meer gewoon wees nie, nee, deesdae is 6 strooipare die in ding, en o koek, wat gaan 'n matriekafskeid rok jou kos. Op televisie word net die mooistes, die maerstes en die rykstes as goed genoeg voorgehou. Alles raak absoluut belaglik, en mense se snare word tot op die limiete gespan. In maatskappye word deesdae van die "one-up" beginsel gepraat. Dit beteken jy moet altyd een stap voor jou kollegas wees, anders is jy uit. En dan word daar van die briljante ingenieur verwag om sommer ook 'n briljante verkoopsman te wees, terwyl dit dalk hoegenaamd nie sy sterk punte is nie. So brand ons uit! Net die beste is goed genoeg.
Terug na my stelling oor die Here. Natuurlik is dit nie waar dat jy nie goed genoeg is nie, maar as dit waar is vir álles anders in die lewe, vergewe ek myself dat ek by Hom ook tekort skiet. En ongelukkig hoor ons dit ook by baie predikers wat die Bybel so effe te veel Ou-Testamenties en wetties aanhaal. En ja, die Here verwag heiligheid, maar ek sukkel daarmee. Gelukkig sien ek juis in die Bybel dat die "gewone" die mees wonderlike instrumente was wat Hy gebruik het. Jesus het die arm vissermanne nadergesleep, Hy het by die tollenaars gaan kuier en met die prostitute deurmekaar geraak. Hy was op sy gelukkigste by die meer as 5000 honger mense, Hy het melaatses gaan omhels en die uitgeworpenes deel van sy kring gemaak.
Jesus het die mees onwaarskynlike mense gaan bedien en selfs mense se vuil voete gewas. Hy het SO met die "gewones" gaan rondhang, dat Hy selfs die rykes gewaarsku het teen hulle besittings. Die wêreld van vandag vereer die "bo-gemiddelde", maar Jesus het verby hulle gegaan om by die eenvoudiges uit te kom.
Hy vind Homself heeltemal tuis by jou, en wil graag hê ek en jy moet soos Maria van ouds net by sy voete sit.
As jy dit dan nie regkry om te aanvaar dat jy goed genoeg is nie, wees dan die beste weergawe van jouself.
Vriend, moenie dat die wêreld dikteer wie jy moet wees nie, glo net die Here as Hy sê jy is tops! ~ Willem Botha, 24/11/2021

“Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” So vra Paulus vir ons in Rom 8:35. Hy vra nie die vraag omdat hy nie antwoord ken nie. Hy vra dit sodat jy moet dink wat jou persoonlike antwoord sal wees. En ons weet die antwoord is mos eintlik voor die hand liggend, nè – daar kan tog nie iets of iemand wees wat die Here se liefde en genade vir sy kinders kan keer nie, wat dit kan uitvee nie, wat dit kan vernietig nie. Niks kan jou uit sy hand ruk nie, sê  Joh. 10:28 ook. As ek dié vraag oordink dan laat dit my geloof in Jesus en my verwondering oor sy goedheid groei, dit maak my gemoed kalm, dit verdryf vrees en angs en kommer. Christus se liefde was nie net êrens in die verlede ter sprake nie, dis ’n liefde wat oomblik vir oomblik ’n realiteit vir ons behoort te wees. Die vraag gaan vêrder as dit ons vra om te oordink of enige van dié lysie van dinge Christus se liefde kan beïnvloed of bepaal: swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare of geweld. Sien jy ook raak dat Christus se liefde nie altyd hierdie swaarkry-dinge gaan keer nie, dit gaan net nooit, maar nooit bepaal hoe lief Hy jou het nie. Ons moet nie sy liefde meet aan die gebrek aan swaarkry nie, maar aan die vrede en vreugde wat ons het om te besef Hy stap elke tree van die swaarkry saam met jou. God het nie net lief nie, Hy ís liefde – daarom kan niks dit beïnvloed nie. Kyk net hoe mooi sê die Passion Translation: “Troubles, pressures, and problems are unable to come between us and heaven’s love. What about persecutions, deprivations, dangers, and death threats? No, for they are all impotent to hinder omnipotent love.” Impotent to hinder omnipotent love! “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie.” (Rom 8:38-39) ~ Wilna Botha, 23/11/2021

Wie is jy in hierdie tyd? Weet jy self nog wie jy is? Ek het 'n jaar gelede 'n stukkie geskryf oor die virus en probeer besin wat ons uit hierdie ding gaan leer, oor die lewe, die virus, die Here en oor myself. Maar o wee, hierdie pandemie het ons totaal omgedop en in vele opsigte oorwin. Hoe het ons nie geword nie! Dit voel vir my of elke ding waarna ek kyk, deur die virus-bril bekyk word, dit voel of elke vrees en emosie daaraan gekoppel word en dit voel of ons vreugde ook eers verby daardie gogga moet stap, en dan verloor vreugde telkens met 'n uitklophou. Die virus is groot, baie groot, maar nie die grootste ding wat ons wêreld kan tref nie. En ja, selfs die mense wat met hart en siel hierdie ding se bestaan ontken, is die hele dag besig met gevegte teen 'n ding wat hulle glo nie bestaan nie, en om dit te bewys. Hoe belaglik is dit nie! Mense het verskriklik paranoïes geword en wantrou absoluut alles en almal wat hieroor praat. Álles word bejeën met suspisie, en bykans elke gesprek en emosie word hierdeur oorheers. Soveel so dat mens amper kan sê dat ons individualiteit totaal verswelg is.
Weet jy hoekom? Want dit het 'n gerieflike fokuspunt geword, iets waarop ons ál ons eie tekortkominge kan konsentreer, en dit het 'n verskoning geword om hoop vir die toekoms te hê, 'n verskoning om voluit te lewe, 'n verskoning om kreatief te wees, om anders as ander te dink en om ons hele veerkragtigheid in die lewe te verloor. Ek dink die meeste van die wêreld bevolking lees meer oor die gogga, "bestudeer" dit meer as die Bybel, flans nog en nog teorieë aanmekaar en sit en staar na hierdie onwelkome gas. Hoeveel van die mense wat so verknog is aan samesweringsteorieë bid nog vir 'n uitkoms? Hoeveel glo dat die Here wonderwerke kan doen? Of dalk reeds gedoen het? Sommige neem die entstof want hulle het daaroor gebid, ander neem dit nie want hulle het daaroor gebid, tot dieselfde God. Albei partye soek in die Bybel antwoorde en kry antwoorde wat hulle geloof oor hierdie ding pas. Uit dieselfde Bybel.
Kan jy sien hoe ver het hierdie ding ons al vir 'n ses geslaan?
Dalk moet ons sê ons is nie meer dieselfde mense as twee jaar gelede nie, nee, die virus het die slegste denkbaar aan goeie mense gedoen.
Jy kan in 'n teater sit en na 'n kunstenaar kyk en NET op daardie kunstenaar fokus. Maar daardie kunstenaar kan net op een enkele individu in daardie gehoor op enige gegewe oomblik fokus. Hier is die kruks van alles, jy en ek moet besluit waarop ons fokus. Jy kan nie op die Here én die virus gelyktydig fokus nie. Die pandemie moet op sy plek gesit word, en gou ook. Hy "plak" in ons koppe soos 'n onwelkome gas wat kom sinkhuis opslaan en daar sy sit kry, en ons laat dit toe. Weet jy dat die Israeliete net 14 dae nodig gehad het om by die beloofde land uit te kom? Maar toe vat dit 40 jaar want hulle het nie gefokus op die eindpunt nie. As ons soos nou aangaan, gaan hierdie ding ons ook vir jare in gevangenskap hou.
* Hou op om die negatiewe te omhels.
* Hou op om vyande te maak met jou familie en vriende oor strooi.
* Hou op om die hele dag tyd te mors om jou punt te bewys.
* Hou op om die virus as 'n verskoning te gebruik om nie voluit te lewe nie.
* Gebruik die negatiewe om nuwe rigtings in te slaan en hou op om te glo ál die deure het nou vir jou toegemaak.
* Laat die Here toe om jou denke te vernuwe.
* Sien Hom raak as die lig in jou donker tonnel.
* Hou op om vir Hom antwoorde te vra, net om dan sommer self te antwoord as jy ongeduldig raak.
* Hou op om fopnuus te glo en te deel.
* Moenie toelaat dat ander vir jou dikteer oor hoe jy voel nie. Ons voel mos soms selfs skuldig om positief te wees, want ÁLLES is mos sleg, álmal jok mos vir ons, elke ding wat iemand sê word mos deur een of ander mag-mal persoon georkestreer vir eie gewin. Daar is mos NIKS meer goed en mooi in die lewe nie! Daar is mos géén hoop oor nie, en as jy glo dat daar hoop is het jy mos 'n gebrek aan kennis, of jy is effe van lotjie getik! Ai...
Nee wat, basta met hierdie ding, basta met negatiewe mense wat oor alles paranoïes is, basta met die gedagte dat ons nou verlore is! Basta met goor samesweringsteorieë en fopnuus wat die hele dag rondgestuur word.
"Want met U loop ek 'n bende storm, en met my God spring ek oor 'n muur." (Ps. 18:30)
Kies! ~ Willem Botha, 22/11/2021

“Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” (Mark. 4:38) Jesus en sy dissipels beland in ’n hewige storm op die meer. Die dissipels raak erg benoud en vreesbevange. Hulle het mos niks te vrees nie, want Jesus is by hulle, of hoe? Maar Jesus lê en slaap! Dis so amper asof hulle Hom verwyt dat Hy slaap terwyl hulle besig is om heen en weer geslinger te word en alreeds begin sink – gee U dan nie om dat ons vergaan nie? Ken jý ook hierdie gevoel, dat Jesus nie ag gee op jou swaarkry en jou vrese nie. Dat Hy nie weet of nie omgee oor die storms wat rondom jou losgebars het nie? Dat Hy anderpad kyk, afwesig is, doof is, laat is, aan die slaap is en nie sien waardeur jy gaan nie? ’n Entjie vêrder in Markus lees ons van nog ’n bootrit wat nie na wense verloop het vir die dissipels nie. (Mark. 6:45-51) Daar was ’n sterk wind teen hulle en hulle het gesukkel om te roei en vooruit te gaan. Waar was Jesus dan dié keer? Hy was besig om te bid én Hy het gesien dat hulle swaar roei. Hulle het dit nie besef nie, maar Hy was bewus van hulle gestoei teen die wind. Dit het vir hulle gevoel of hulle nie vordering maak deur hulle probleem nie, maar Jesus het geweet dat daar uitkoms aan die kom is. Hy was egter nie dadelik daar om hulle te help en te red nie. Hy het eers die volgende môre na hulle toe aangeloop gekom op die water en nadat Hy by hulle in die skuit geklim het, het die wind gaan lê. Hulle het dus die hele nag geworstel teen die wind. Ongelukkig weet ons dat dit dikwels in die lewe ook só gaan. Jesus haal ons nie noodwendig onmiddellik uit ons moeilike omstandighede uit nie. Hy kom nie noodwendig dadelik as daar ’n probleem is nie. Hy spreek nie noodwendig die storms en die wind dadelik aan nie. Hy is egter dáár. Hy sien. Hy weet. Hy bid. En op die regte tyd sal Hy ons kom uitred, kom verlos, kom help, kom troos. Waarmee is jy besig terwyl jy wag op sy hulp? Verwyt jy hom dalk? Kry vrees en angs dalk die oorhand? Verloor jy dalk alle moed en hoop op hulp? Of hou jy aan om te roei, beur jy geduldig voort, doen jy wat jý moet doen totdat die Here opdaag met ’n wonderwerk in jou lewe? “Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op. Hy sal nie aan die slaap raak as Hy jou moet oppas nie. Hy pas al sy kinders op. Daarom sal Hy nie vergeet om jou te help nie. Die Here is jou oppasser. Hy sal altyd by jou wees. Niks of niemand kan jou kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk. God pas jou elke dag op teen allerhande moeilikhede en probleme, Hy sal jou lewe mooi oppas. Die Here sal jou oppas waar jy ook al is: by die huis, by die werk of miskien êrens op pad. Hy sal jou altyd help, nou en in die toekoms.” (Ps. 121, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/11/2021

Ek wil nou nie skinder nie, maar....
Nou ja toe, as iemand (en ek natuurlik) met hierdie woorde begin, dan weet jy hier kom 'n sappige brokkie. En wat maak ons? Ore spits soos twee satelliet skottels en wag angstig om hierdie storie aan te hoor, dadelik iets aan te lap, nóg sappiger te verwerk en onmiddellik te dink wie nóg hierdie inligting sal geniet. Nou ja, in Spreuke word daar erg daarteen gewaarsku.
"Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; 'n betroubare mens bewaar 'n geheim." (Spr. 11:13)
"Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende." (Spr.16:28)
"Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand wat baie praat." (Spr. 20:19)
Die laat my dink aan die woord: Heiligskennis.
Volgens die HAT beteken dit: "Skending, ontering van iemand of iets wat heilig is". Ek dink onwillekeurig aan Adam en Eva wat die verbode vrug geëet het.
Gen. 3:22 Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”
En dít is waar heiligskennis vir my in die prentjie kom. As jy 'n sappige brokkie aanhoor, weet jy iets wat nie vir jou beskore is nie, wat jy nooit moes weet nie, en wat absoluut niks met jou te doen het nie. Die slegte deel hiervan is dat die aanhoorder nou iets hiermee moet maak en 'n opinie vorm oor iemand. Iemand wat homself nie kan verdedig nie, of die ander kant van die saak kan stel nie. Wat nóg erger is, is dat die persoon wat teenoor jou skinder ook oor jou gaan skinder. Nou ja, in die werkplek is daar sulke plekkies buite die gebou waar mense dikwels gaan vars lug skep, net om die skoon longe onmiddellik weer te kontamineer, en dáár klap die skinder skote! Skinder maar lekker saam, more word daardie selfde skote op jou ook afgevuur. Hoe wonderlik sou dit wees as almal eerder nét goeie goed van ander sal vertel! Die Here is baie ernstig hieroor, soos wat jy in bogenoemde tekste kan sien. Daar is ander sulke plekke ook waar die tonge klap.
Op 'n dag het ek ek hierdie volgende gediggie geskryf, en ek vra VREESLIK om verskoning teenoor mense wat in hierdie werkplek staan, dis regtig net tong in die kies, en jy kan natuurlik dieselfde op enige werkplek toepas. En ja terloops, mans kan ook skinder dat die sop spat!

Die stoel
Snip snip val die haartjies, orals op die grond
Bruin swart grys en pers, selfs hier en daar mooi blond
Kom sit nou gou gou rustig, daars iets wat jy moet weet
Ek het jou wrintie weereens, 'n lekker storie beet

Hoop jy kan 'n geheim hou, nee almal mag nie hoor
Want dan loop hierdie storie, so flink soos in 'n koor
Ek sê jou dis die waarheid, ek sal nie leuens vertel
Daarom sê ek dit hierso, eerder as om te bel

Ek het gehoor by Sannie, sy was hier net voor jou
Sy sweer dit is die waarheid, mens kan haar mos vertrou
Sy sal nie vir my jok nie, sy is 'n goeie mens
Al sê so baie ander, sy raak nou lekker kêns

Vertel my jou geheime, dis veilig hier by my
Want ek sal glad nie sê nie, hier sal dit altyd bly
Nee niemand hoef te weet nie, my mond is nou gesnoer
En moet nou glad nie stress nie, ek sal nie daaroor koer

Geniet jou dag nou verder, en gaan in vrede heen
Ek sal geen woordjie rep nie, dis net vir my geleen
Nee regtig dis vir seker, ek het dit reeds vergeet
Want ek het immers altyd, die suiwer waarheid beet

Ek moet nou gou die vloer vee, want San het pas gebel
Ja sý kan 'n geheim hou, ek kan haar maar vertel
Wat is nou weer die feite, kan klaar nie meer onthou?
Sal sommer dit en dat sê, my eie storie bou

Sy sal nie regtig weet nie, want wat maak dit tog saak
Solank dit proe soos heuning, want dís wat lekker smaak
Ek hoop sy sal ook ietsie, vandag met my kom deel
Want anders gaan ek wraggies, my hierso dood verveel

Snip snip val die haartjies, orals op die grond
Bruin swart grys en pers, selfs hier en daar mooi blond
Kom sit nou gou gou rustig, daars iets wat jy moet weet
Ek het jou wrintie weereens, 'n lekker storie beet ~ Willem Botha, 17/11/2021


“Hoe lank nog Here?” Hierdie vraag is die opskrif by Ps. 13. Ek dink naas “hoekom Here?”, is hierdie seker dié vraag wat die Here die meeste van sy kinders af hoor. Hoe lank gaan hierdie swaarkry nog aanhou? Hoe lank gaan ek nog ly? Hoe lank gaan ek nog treur? Hoe lank gaan my geliefde nog in hierdie verskriklike pyn verkeer? Hoe lank gaan ek nog werkloos wees? Hoe lank gaan my familie my nog vermy? Hoe lank nog voordat ek weer my geliefdes kan sien? Hoe lank nog voordat mense my onskuld in hierdie saak sal besef? Hoe lank nog voordat daar vir ons uitkoms gaan wees? En deesdae hoor mens ook: hoe lank nog voordat hierdie virus vernietig gaan wees, voordat alle inperkings opgehef gaan word, voordat ons weer ’n normale lewe kan hê? Ai, ek dink jy ken dit. Miskien sê jy nie jou hoe-lank-nog’s hardop nie, miskien kla jy nie prontuit by die Here nie, maar as jy in jou binneste sug, dan kom die vraag dalk ook by jou op: hoe lank nog, Here? Ek wens ons het reguit antwoorde gehad. Ek wens partykeer die Here kan net vir ons wys hoe lank nog, want as ons weet hoe lank ’n moeilike tyd nog gaan voortduur, kan dit dalk bietjie makliker wees om deur te druk en voort te beur tot die einde daar is, nie waar nie? Ons weet egter nie hoe lank nog nie en Dawid het ook nie geweet nie. Kyk sy hoe-lank-nog-vrae in Ps. 16: hoe lank gaan U my nog bly vergeet? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak? Hoe lank moet ek nog my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? “Hoe lank gaan my probleme my nog teen die planke vasdruk?” (Ps. 13:3, Die Boodskap) As ek verder lees in Ps. 13 leer ek by Dawid hoe om die hoe-lank-nog te hanteer. Nadat hy sy vrae gevra het, roep Hy die Here aan en vra hy die Here se hulp in sy krisis. “Help my tog in my krisis, Here my God; maak my weer gelukkig.” (Ps. 13:4, Die Boodskap) Hy weet en bely dat sy hulp net van die Here af gaan kom. Hy erken dat Hy God en Here van sy lewe is. Hy weet die Here gaan hom deurdra en hom weer sterk maak. “Gee my tog nuwe lewenskrag”, pleit hy in vers 4. Hierna raak hy rustig, vul sy hart met positiewe gedagtes, sien hy kans om op te staan en voort te gaan, fokus hy op die Here se liefde en goedheid: “Maar ek weet: op U liefde kan ek staatmaak. In my binneste borrel dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help. Ek sal die Here se Naam met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my!” (Ps. 16: 6) Die krisis is nie verby nie, die antwoord is nog nie daar nie, maar vrede wat alle verstand te bowe gaan neem van hom besit. Nogtans sal ek in my Here jubel ... ~ Wilna Botha, 16/11/2021

Die goeie ou dae...
"Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie." (Pred. 7:10)
Ek sukkel nogal met hierdie teks, want dit voel of ek net toenemend na daardie goeie en goue ou dae wil terugkeer en daar aanhou leef. Hoe lekker en sorgvry was dit nie.
Ons kon fietsry in die strate en jou ma het 'n tyd gegee wat jy in die huis moes wees, en as jy laat was het jou boude gebrand, want ma se woord was wet. Die Bybel het immers gesê jou agterwêreld moet gereeld afgestof word. Pa het 'n ander job gehad terwyl ma die huishouding bestuur het. Hy was die hoof van die huis, soos die Bybel dit voorskryf, maar ma was allesbehalwe sy vloerlap. Daar was gereeld fliek by die skool, Voortrekkers was vet pret en omtrent almal het op 'n tyd karate of judo gedoen. Dit was nie daardie dae uitheemse, bose aktiwiteite uit die ooste wat 'n vatplek vir die duiwel gegee het nie, dit was net 'n sport. En ons het almal popmusiek geluister en nie gehoor hoe bose boodskappe agterstevoor opgeneem was en jou gebreinspoel het nie. Ek hoor dit steeds nie. As jy stry gekry het was 'n bloedneus of 'n blou oog sommer deel van grootword en niemand is geskors nie. By die kafee op die hoek (altyd op 'n hoek) het jy Dirkie kondensmelkies gekoop en jou tande het nie uitgeval van die suiker nie, dit gebeur nou eers op die oudag. En hoe lekker was pinball speel nie, en almal het die fotoboekies skelm gelees want Die Ruiter in Swart, en Die Grensvegter en Tessa, Saal 10 se mense en die Swart Luiperd sou kwansuis maak dat jou spelling in die drein af is. En jou waardes daarmee saam. Terug na die musiek toe. Daardie fietas met die lang hare se gesigte sou smelt oor die dwelms en duiwelse boodskappe wat hulle uitgeblêr het, want almal was blykbaar sataniste. Vandag noem ons dit egter Golden Oldies, en baie van daai takhare het nou kort hare en maak steeds musiek op hulle oudag, en hulle gesigte het nie gesmelt nie. Maar o wee, die dominees het baie goeie preekstof uit daardie ouens gekry! Altyd iets nuuts om oor te preek. So het ons uiters kwaai predikant die Beatles met 'n passie gehaat en hy sou seker maak dat sy gemeente se jeug nie deur daardie manne hel toe gesleep word nie. Maar een spesifieke dag sal ek nooit vergeet nie. Die LP's (langspeelplate) lê gesaai op die vloer (Beatles inkluis) omdat die susters musiek geluister het, en daar stop Ds. Kruywagen vir 'n onaangekondigde huisbesoek. Willempie val op sy knieë neer (nee nie om hierdie bose goete te aanbid nie), skraap die plate bymekaar en stoot dit onder die sitkamerstoel in. Die stoel waarop kwaai dominee boonop kom sit, en hy preek vir ons jeugdiges oor die euwel van hierdie moderne musiek, terwyl sy agterstewe 300mm van daai bose musiek af is. My ouers was albei reeds by die huis die dag, en ons het met groot moeite ons gegiggelry in toom gehou. Jy sal ook onthou dat dominee aan die einde van sy huisbesoek almal laat kniel het by die stoel waarop hulle gesit het... Ai, arme dominee.
Maar ja, ons het van die Here gehoor en dit was goed. Kerk toe gaan was hoogs verpligtend, en ons het telkens gehoor dat ons die Sabbat moet heilig hou, en ek het nooit verstaan hoekom my pa dan bykans elke Sondag moes werk nie. As treindrywer moes hy die oortyd ding doen en die treine moes ry. En die Here het hom nooit gestraf daarvoor nie. Nie sodat ek dit kon agterkom nie. Kerk was nie altyd lekker nie want die preekstoel moes seker baie sterk wees want dominee het hom goed gefoeter as hy kwaad raak, maar dit was sekerlik om te sorg dat ons die reguit pad stap. Die seuns het natuurlik hulle kortbroek pakke klere met 'n das en gepoleerde skoolskoene gedra terwyl die meisies met 'n hoed geloop het want die Bybel het dit so voorgeskryf, en altyd net 'n rok, geen langbroeke nie. Die dominees was altyd mans want vroue moes stil wees. En party ma's se groot hoede het diegene agter hulle se uitsig op ou dominee heeltemal versper, en soms was daar so 'n lang volstruisveer wat kiertsregop gestaan het, so asof jy 'n plêstiek lemoentjie op hom kon staanmaak, amper soos op die arial van 'n Ford Granada. Min ma's en pa's het geleerdheid gehad, maar hulle was wêreldwys, en hulle het die Here in eenvoud en onopgesmuk gedien. Die kinders het dissipline gehad want "menseregte" het met verantwoordelikheid gepaard gegaan, net soos die Bybel ons geleer het. En ja, ten spyte van die koddighede van kerk daardie tyd, het mense 'n pad saam met die Here begin stap, 'n pad wat nou nog deur die blaaie van die Bybel gestap word. Na skool is die seuns weermag toe om te gaan veg teen die rooi gevaar en baie meisies het verpleegsters of onnies geword. Al was die army 'n rowwe plek, het die meeste ouens tog op 'n manier aan die Here vasgehou en Hy het die meeste van ons veilig huis toe gebring. Tydens 'n aanval een nag op Katima met grofgeskut het ons in daardie loopgraaf presies geweet na Wie ons moes uitroep. Die meeste het met dankbaarheid teruggekom "states" toe (dit was die term vir sivvy straat), maar ander se gebroke ouers is deur dieselfde God vertroos.
Ja vriend, die lewe was minder gekompliseerd en ek verlang terug daarna, en dit sal altyd kosbare herinneringe wees, maar vorentoe moet ons vorentoe. Die Here is daar ook. ~ Willem Botha, 15/11/2021

“Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (Joh 3:4) Nikodemus kom in die nag na Jesus toe om oor geestelike dinge met Hom te praat. Hy is beïndruk met die wonderwerke wat hy Jesus sien doen het. Jesus sê egter hy moet weer gebore word om gered te wees, om werklike die koninkryk van God te sien. Maar Nikodemus probeer dit fisies verstaan en dit maak nie vir hom sin dat ’n ou man, soos hyself, weer gebore kan word nie. Jesus praat egter van ’n tweede geboorte, ’n geestelike geboorte, die begin van ’n heeltemal nuwe mens, die wegdraai van 'n ou lewe na ’n nuwe geestelike pad, ’n oomblik van keuse om Jesus voluit te volg, ’n lewe wat nie in die dood sal eindig soos ’n natuurlike, menslike lewe nie. Jesus praat nie van ’n geboorte wat gesien kan word nie, Hy praat van ’n onsigbare geboorte wat uitloop op ’n nuwe lewe wat wel gesien kan word. Die natuurlike geboorte word deur ’n mens bewerk, maar die geestelike geboorte word deur die Gees bewerk. Die natuurlike mens ontvang ’n nuwe geestelike hart en begin ’n nuwe geestelike lewe – dis hoe ’n “ou” mens weer gebore kan word. Die wedergeboorte, net soos die fisiese geboorte van ’n mens, is net die begin van ’n nuwe lewe en nooit die einddoel nie. “Maar hoe is dit moontlik?” was Nikodemus se volgende vraag en baie keer is dit ons vraag ook wanneer ons die geestelike dinge met ons beperkte, fisiese kennis probeer verstaan en met ons fisiese oë wil sien en met ons menslike emosies wil voel. Uit God gebore, van bo gebore, uit die Gees gebore is frases wat Jesus in Joh. 3 gebruik. Dís hoe dit moontlik is om weer gebore te word. “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore”(1 Joh. 5:1 – BDV) ~ Wilna Botha, 11/11/2021

Die krag is pas weer af! Hoe moedeloos maak dit mens nie. Daar is tans waterbeperkings in Gauteng terwyl die damme vol is, want die infrastruktuur wat die water in jou krane moet kry, is 'n gemors. Al wat 'n staatsinstelling is val uitmekaar en ek dink die meeste mense se gewete om belasting te betaal is daarmee heen.
Ai nee, waarheen?
Ek het 5 jaar gelede hierdie volgende boodskap geskryf terwyl ons nog 'n ander heerser in die land gehad het, en dalk het jy ook soos ek gedink 'n nuwe president sal ons "redder" wees, maar o wee, dis nou nog meer nag (by wyse van spreke).
Spr. 28:15-16 "'n Brullende leeu, 'n beer wat wil rondstorm, so is 'n goddelose regeerder oor 'n weerlose volk. As 'n heerser verstandigheid kortkom, is daar baie verdrukking; wie uitbuiting haat, lewe lank."
Spr. 29:2 "'n Volk juig as regverdige mense die mag kry; 'n volk sug as 'n goddelose mens regeer."
Spr. 29:4 " 'n Koning wat reg laat geskied, maak 'n land veilig; een wat net belastings oplê, ruïneer 'n land."
Spr. 29:14 "As 'n koning reg aan arm mense laat geskied, sal hy lank regeer."
Spr. 29:16 "As goddelose mense regeer, regeer die sonde ook, maar die mense wat die wil van die Here doen, sal sien hoe die goddeloses ondergaan."
Dit voel of ek net niks verder hieroor hoef te skryf nie. Hierdie tekste beskryf presies die situasie waarin Suid-Afrika tans vasgevang is en al maak ons HOE mooi praatjies, is dit eenvoudig hoe dit is. Maar voel almal in die land dieselfde? Dalk nie, maar dit staan soos 'n paal bo water dat ons tans in diep waters verkeer en ons moet vinnig daaruit kom! Maar hoe? Dit lyk net onmoontlik!
Wel, dit is baie duidelik dat hierdie tipe leierskap teen die Here se wil is, en ons mag alles in ons vermoë doen om op 'n wettige manier daarteen te staan deur die regte kanale te gebruik, waarvan die stembus die eerste en belangrikste is. Maar, ons mag steeds nie die landswette verbreek nie, ons moet steeds aan die keiser gee wat hom toekom (hierdie verwys nie na 'n persoon nie maar na 'n bestel) en ons moet steeds aktiewe burgers wees wat werk vir 'n beter lewe vir almal.
Vriend, al wil ek dit dalk nie raaksien nie, die Here is steeds in beheer. Laat die deurbraak aan Hom oor en bly bid vir die herstel van ons land. Laastens glo ek ook dat die Here wil hê dat ons as land moet terugdraai na Hom toe. Kom ek en jy begin daarmee in ons eie huise. ~ Willem Botha, 10/11/2021

“Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Ps. 8:5) Het jy ook al soos Dawid hier in Ps. 8 gewonder hoekom God met die mens, wat kleiner as die kleinste spikkeltjie in die heelal is, moeite doen? Hoe kan Hy sóveel liefde hê vir hierdie sondige, ongehoorsame, verdorwe wese wat net sy eie belang soek, wat sy eie pad wil kies, wat sal eet van die verbode vrug, wat sy rug op God sal draai, wat agter ’n afgod sal aanhardloop? Het jy ook al, soos ek en soos Dawid, gevoel of jy niks meer as ’n wurm is nie, sonder aansien, sonder ’n plek in die samelewing? “Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.” (Ps. 22:7) Of soos daai een vriend van Job wat die mens met ’n wurm en ’n ruspe vergelyk? (Job 25:6) Moenie só oor jouself dink nie, vriend. God het ons geskep, spesiaal met sy hande gevorm en lewensasem in ons ingeblaas. Sý handewerk kan nooit gering geag word nie, Sý asem sal nooit vermors wees nie. God het gekyk na die mens wat Hy gemaak het en gesê: dit is báie goed (Gen. 1:31) Dit is báie goed, want dit is na God se beeld gemaak. Jy is een soos Hy. Hoe jy ook al vandag jouself sien, hoe swak en verlore en opstandig jy ook al is, kyk God steeds na jou met dié woorde op sy lippe: dit wat Ek gemaak het, is baie goed. Nee, sien jouself as die kroon van sy skepping, die appel van sy oog. Kyk vanaand weer op na die maan en die sterre, die werk van God se vingers en dan na jouself, na die kroon van aansien een eer waarmee die Ewige, Liefdevolle God jóú gekroon het. ~ Wilna Botha, 09/11/2021

Ek sal kan doen met 'n miljoen!
Ja nee wraggies, Lucas Maree se bekende liedjie sal my soos 'n handskoen pas. Het jy ook al gewonder hoe dit moet wees as daar net skielik so 'n ou aardige ronde sewe-syfer bedraggie in jou rekening beland? Ek glo ons almal fantaseer maar soms daaroor, vernaam as die bankrekening kreun van leegheid. Dis mos dan wat mense hulle broodgeld gebruik om hulle gelukkie te probeer by die kaartjie met die ses nommers, want soos geadverteer word, kan jy tog nie wen as jy nie probeer nie. Eendag is eendag...! O koek, maar met 'n kans van 1 uit 14 miljoen gaan jy lank wag!
Hoe sou mens se lewe nie verander nie né. Ek is seker na hierdie laaste sinnetjie dink jy ook: sjoe my lewe sou darem maar 'n goeie draai maak. Maar sal dit? Het jy al gedink wat baie geld en besittings wat uit die lug uit val aan jou kan doen? Ek dink baie daaroor, want dan gaan jy mos werklik gelukkig wees, of hoe? O ja? Regtig? Jy sien, dis ander se voorspoed en weelde wat soms ons oë van die Here af wegtrek. Ek vang myself ook dikwels in daardie situasie, maar hierdie volgende teks sê so baie.
"Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word, dat hulle besittings baie word nie, want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie; hulle besittings sal hulle nie volg nie. Al verlustig 'n mens hom in 'n voorspoedige lewe, en al prys die mense hom omdat dit met hom goed gaan, soos sy voorvaders sal ook hy moet sterwe en hy sal die lig nooit weer sien nie. Die mens wat met weelde en al 'n dwaas bly, is soos 'n dier wat vergaan." (Ps 49:17 - 20)
En daar lê die kruks van hierdie gedeelte:" Die mens wat met weelde en al 'n dwaas bly, is soos 'n dier wat vergaan."
Natuurlik beteken dit hoegenaamd nie dat mense wat in weelde leef dwaas is en verlore gaan nie, en natuurlik is voorspoed ook seën van die Here, maar dis dwaas om te dink dat jou vreugde en vrede in aardse besittings lê. Is weelde en rykdom nie totaal "overrated" nie? Is daar nie beter dinge om te begeer nie? Is dit nie waar dat jy soms baie meer vreugde vind in iets klein wat jy bekom het, of iets raaksien in die natuur, of jou verlustig in die nabyheid van 'n vriend, of lekker interaksie met die mense naaste aan jou vir wie jy lief is nie? En natuurlik nog meer, om die Here daagliks in klein goedjies te ontdek. Rykdom is nie vir almal beskore nie, en besef dat dit dalk 'n reuse las kan wees. En voorts bly dit agter, want wie op aarde het aardse weelde in die hemel nodig? Die waarde van 'n ewige lewe saam met die Here laat aardse weelde na goedkoop gemors lyk. Laat ander maar in 'n verhouding staan met dinge wat vergaan, en lewe liewer met Hóm in 'n liefdesverhouding wat vir ewig en ewig gaan hou. Wees eerder vol hemelse wysheid as vol aardse dwaasheid. ~ Willem Botha, 08/11/2021

“Sal ek hier van my puinhoop af dan nie my hand uitsteek om hulp nie? Sal ek in my ondergang nie om hulp roep nie?” (Job 30:24) So vra Job van die ashoop af in sy groot pyn en verlatenheid, in sy groot verlies en swaarkry. Wat is jóú antwoord? Sal jy? Sal jy aanhou roep tot God, sal jy jou hand soekend uitgesteek hou vir sy hulp wanneer dit sleg gaan, wanneer jy alles verloor het en dit voel of God sy rug gedraai het en doof geword het vir jou hulpgeroep? Job het aanhou soek en aanhou roep. Ek hoop ek en jy sal dit ook doen, want die Here hóór daardie hulpgeroep. Hy sien jou hand wat uitgesteek is vir hulp. Hy is reeds besig om vir jou ’n pad uit jou swaarkry gereed te maak. Hy staan reeds met oop arms en wag om jou te help. Hy is reeds besig om ’n beter toekoms vir jou oop te sluit. Jesus sê self in Luk. 18:7-8: “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help en gou ook!” Dis Sy belofte: Hy sal hulle help en gou ook. Dawid het ook daardie belofte geken en geglo: “In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp en Hy luister na my.” (Ps. 18:7) “As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.” (Ps. 34:18) Is jy bereid om aan te hou bid en wag op die Here se hulp? Ek lees nou die dag dié aanhaling: “The function of prayer is not to influence God, but rather to change the nature of the one who prays.” Hoe waar is dit nie. As ons bid, dan verander óns! As ons bid groei ons hoop en voel ons meer positief. As ons bid en roep en pleit vir die Here se hulp, dan groei die geloof in jou hart dat Hy sal opdaag om jou te help. As jy bid, dan weet jy die saak is oorgegee aan die Almagtige, die Alomteenwoordige, Alwetende Helper en neem vrede oor in jou hart. As jy bid erken jy dat jy nie jouself kan red of jouself kan help nie, dan gee jy alles oor aan die Hoër Hand van God. As jy gebid het, sal nie meer so paniekerig voel nie en sal jou gemoed stil raak en jou gedagtes gerusgestel word. “’n Mens moet altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word.” (Luk. 18:1) ~ Wilna Botha, 04/11/2021

Dis maklik om die Here mis te kyk, jy kyk net weg. As jy Hom nie wil sien nie, kyk net weg. As jy Hom nie in jou lewe wil hê nie, draai net jou rug op Hom. As jy nie sy stem wil hoor nie, druk net jou ore toe, dis maklik. As jy Hom nie in jou lewe wil ervaar nie, sluit jy net jou hart toe, dis vreeslik eenvoudig.
Of is dit? Is dit regtig moontlik om absoluut nooit in Hom vas te loop nie? Is dit regtig moontlik om net nooit enigiets raak te sien waar Hy betrokke is nie? My mening is nee, dis onmoontlik! Hy is orals, en jy sál in Hom vasloop, dag vir dag, al wil jy nie.
"Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” (1Petr.2:7-8a)
Dag vir dag sal jy oor Hom struikel, en jou voet teen daardie Rots stamp. Dis onmoontlik om Hom mis te kyk, maar dis wel moontlik om Hom te ignoreer.
En weet jy wat? Vir die hier en nou sal daar nie eers konsekwensies wees nie.
Maar ai, hoeveel mis mens nie. Om Hom raak te sien in 'n vars oggendbries, om Hom te ervaar as daar 'n sagte stem in jou oor fluister, om die skoonheid van die natuur in te drink, om Hom aan die werk te sien as daar reën op die sinkdak val, om Hom te sien as mense se goedhartigheid jou oorrompel, as jy (soos ek vanoggend) musiek hoor wat jou blymoedig maak, of selfs weemoedig. Hoe kyk jy Hom mis as jy 'n pasgebore baba in jou arms hou? Wat van die wonderwerk van liefde? Daardie gevoel wat jy kry as jy na jou lewensmaat of kinders kyk, en 'n gevoel wel in jou op wat jou laat voel of jou hart gaan bars. Die Here is so sigbaar, Hy is hoorbaar, voelbaar, tasbaar, en om Hom te ervaar is bonatuurlik, hemels en heilig. Mense wat Hom probeer ignoreer, het 'n voltydse werk om dit reg te kry.
Maar tog nooi Hy elke mens op aarde uit om net vir 'n oomblik oor te gee en om Hom te ervaar. Wat is lekkerder as om terug te leun in sy arms, en net oor te gee? En dan sal daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan, oor jou spoel. Dis nie moeilik nie, daar is nie voorwaardes nie, jy het nie kennis nodig nie en jy hoef nie op enige manier te presteer nie. Dis al waar ek nou wil wees, daar is geen beter plek nie. ~ Willem Botha, 03/11/2021


“Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?” (1Kor 3:16) So vra Paulus vir die Korintiërs en ook vir ons almal. Dalk weet jy dit, dalk glo jy dit nog altyd, dalk het jy dit ook kleintyd saam met Jan de Wet gesing. Dink vandag weer bietjie hieroor: jóú liggaam is God se tempel. Dié plek waar Hy teenwoordig is. Dié plek waar Hy praat. Dié plek waar Hy na jou gebede luister. Dié plek waar daar lof aan Hom gebring moet word. Dit laat my maar net besef dat ek die beste, skoonste en mooiste tempel vir Hom wil aanbied. Hy kan tog nie tussen ’n klomp nydigheid, vloekery, verslawing, ongeduld, onvergewensgesindheid en negatiewe gedagtes kom bly nie. Dit laat my dink aan die gedeelte in Joh. 2 oor die reiniging van die tempel. Ek sien dat Jesus erg ontsteld was omdat sy huis ’n “rowersnes” en ’n “besigheidsplek” gemaak is, terwyl Hy dit as ’n huis van gebed bedoel het. My liggaam moet daarom ook ’n skoon en heilige plek wees. Ek moet my liggaam, my hart, my gedagtes skoonmaak van geldgierigheid, van drome wat nie in lyn is met God se wil nie, van gewoontes wat nie pas by ’n kind van God nie, van woorde wat nie opbouend is nie. Mag ek altyd sy tempel ywerig versorg en opreg liefhê. Mag Jesus vandag tuis voel in my as sy tempel en mag hierdie tempel ook vandag eerder ’n huis van gebed wees. ~ Wilna Botha, 02/11/2021

Teen die tyd dat jy hier lees, het jy reeds jou kruisie getrek, indien jy gaan stem het. En in die proses het ek en jy ons hoop vir die toekoms, en ons hoop vir 'n beter lewe, in mense se hande geplaas. Jip, jy het gestem omdat jy hoop vir 'n beter lewe, en jy hoop dat jou kandidaat sy kant gaan bring. Beter in watter opsig? Van die armstes, tot die rykstes, hoop op 'n beter lewe. As ek nou die bevolking in kategorieë van welstand sou opdeel, hoop jy sekerlik ook om ten minste die een wat op 'n vlak bokant jou lewe, se lewe te kan lei. Net een enkele vlak, sou genoeg wees. Almal hoop vir beter. Meer kos, meer dienste, meer werk, meer vakansie? Wel, jy sal nooit kom waar jy wil wees nie, want ek en jy vertrou op feilbare mense. En boonop sien ons nie raak dat daar miljoene mense onder jou vlak leef nie. Maar ons wil hoër, altyd hoër!
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd." (Jes. 2:22)
Hierdie teks is nogal 'n mondvol né.
Maar... kyk hoe mooi is hierdie belofte uit Jesaja, wanneer God sy opwagting maak.
GOD KOM JULLE RED
"Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God." (Jes. 35:1-3)
Ons is afhanklik van eerbare leiers, van mense wat die leisels kan vat en ons in 'n nuwe toekoms in kan stuur, maar o wee, ek weet nie so mooi nie. Die kruks van die hele ding lê daarin dat mense hulle by die Here se voete moet gaan neerlê. Ek en jy ook. As Hy opdaag in ons lewens sal die droë wêreld juig, die woestyn sal juig en sing... Dit alles ten spyte van wie ook al die meeste stemme kry.
Hou jou oog op die Here, volg Hóm eerder, loop in sý voetspore, en Hy sal vir ons 'n pad deur die woestyn maak.
Dis die enigste hoop wat ons nodig het.
Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
Jy ken mos daardie antwoord. My hulp kom van die Here. (Ps. 121) ~ Willem Botha, 01/11/2021

Stemdag
Keusedag, besluit dag, glo in iets dag, of in iemand, iemand se beloftes. Gewoonlik leë beloftes. Dis om jou hoop op mense te sit, net om weereens teleurgestel te word, en volgende keer kies jy iemand anders, ander beloftes, en die heel tyd kies jy eintlik net om een rede, en dis vir 'n beter lewe. Is daar enigiets anders waarop jy kan hoop? Hoekom enigsins die moeite doen? Soms kies ons iets, om eintlik net téén iets anders te kies. Maar my oortuiging is dat jy maar jou kruisie moet gaan trek.
In die boek Josua lees ons ook van 'n "verkiesing", waar Josua vir die mense vra om ook hulle kruisie te kom trek.
"Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Josua 24:15)
Daar is net twee partye op daardie stembrief, die Here of die afgode. Vandag hoor ons party politieke partye reken 'n stem vir 'n kleiner party is 'n stem vir die regerende party. Volgens my is dit strooi, maar dit was definitief so met Josua se verkiesing; as jy nie vir die Here stem nie, gaan jou stem outomaties vir die gode.
Dit lyk vir my baie mense voel dat hulle slegs vir die Here sal stem, as hulle 'n beter lewe te hê. 'n Kruisie in ruil vir 'n bietjie materiële voordeel. Nee vriend, dis nie waar jou voordeel lê nie. Die Here belowe nêrens 'n goeie huis, of motor of stewige bankbalans in ruil vir jou kruisie nie. Hy belowe dat hy vir jou sal sorg deurdat jy genoeg sal hê, maar dis dit. Maar jy sal saamstem dat Hy baie meer gee, maar dis nie hoekom jy jou kruisie daar trek nie. Nou hoekom dan? Dis eenvoudig, dis 'n kruisie vir 'n Kruis. Daardie Kruis is met bloed gekoop, peperduur bloed, so duur dat Iemand moes sterf. Vir jou. Die Party wat daardie uitklophou vir die opposisie gee, gaan vir jou 'n onbeskryflike lewe gee. Eendag.
"Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het." (Openb. 3:21)
Vir meer kan jy nie vra nie! Dit lyk vir my daar is net een van twee keuses, vir Hom, of téén Hom. Wat belowe die ander partye? Wat belowe die duiwel jou as jy hom kies? Die duiwel wat jou so haat? 'n Beter lewe? Daar in die brandende hel? Watter ander partye is op die stembrief?
Ek sê ook soos Josua: ek en my huis, ons dien die Here.
As jy meer wil lees oor hierdie Party, gaan bestudeer die Verkiesings manifes. Dis 'n lywige dokument, hy beslaan 66 boeke, netjies uiteengesit en maklik om presies dít te verstaan wat jy nodig het. As jy jou kruisie reg trek, gaan daardie manifes vir jou alles vertel wat jy nodig het om te weet. Daar is tonne beloftes, en jy kan dit gerus glo. Trek jou kruisie, stem reg en jy is verseker dat daardie beloftes gehou gaan word. ~ Willem Botha, 28/10/2021

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matt. 18:21) So vra Petrus vir Jesus. Hy wil seker eerstehands hoor of dit regtig nodig is om iemand te vergewe en of hy regtig moet aanhou vergewe al is daar oor en oor rede om dit nié te doen nie. Toe ek dié vraag lees het ek myself afgevra of dit nodig is om nog ’n keer iets hieroor te sê. Almal weet mos vergifnis is die regte ding om te doen. Almal het mos al daai 70 x 7 sommetjie gemaak. Maar tog koester ons nog steeds wrang gedagtes oor sekere mense en wat hulle aan ons gedoen het. Ek vra nou die dag vir iemand wat kwaad is vir sy broer en weier om dié keer weer te vergewe, of hy die saak tot by die graf sal laat gaan. Sy antwoord was ja. Intussen hou hy aan om daaroor te tob, dink hy daagliks daaraan, bewaar hy die WhatsApp waarin sy broer hom te nagekom het. Dit vreet aan hom. As jy dalk ook so hoekie van onvergewensgesindheid in jou hart hou, wil jy dit nie maar skoonmaak nie? Dan hoef jy nie meer draaie om die ander persoon te loop nie. Dan kan jy weer aan hom dink sonder om kwaad te voel. Dan kan jy weer vir hom bid. Dan kan jy hom weer raaksien vir die vriend wat hy vroeër was. “Soos die Here  julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” (Kol. 3:13) Volg die Here se voorbeeld: vergewe én vergeet, vergewe nog voordat die ander een sy skuld kon bely, vergewe al verdien die persoon dit nie, vergewe weer en weer, vergewe uit liefde. Maak vandag nog die wilsbesluit om te vergewe. Sê dit hardop vir die Here. Sê dit hardop vir jouself. Sê dit hardop vir die ander persoon. Vergewe ander, nie omdat hulle noodwendig jou vergifnis nodig het nie, maar omdat dit is wat die Here van jou verwag. Vergewe omdat jy God se vergifnis nodig het. Vergewe omdat jy vrede nodig het. Doen dit maar nog ’n keer – ek is seker jy is nog nie by 70x7 nie. Daar gaan dalk ook ’n dag wees wat jy jouself aan die ander kant van die vergifnis-sommetjie bevind en nóg ’n keer iemand se vergifnis nodig het. Moenie wag nie. Gaan sê so gou as moontlik jy is jammer. Kom ons vergewe mekaar, want nie een van ons is volmaak en foutloos nie. “You will know that forgiveness has begun when you recall those who hurt you and feel the power to wish them well” – Lewis B Smedes ~ Wilna Botha, 26/10/2021

En so loop die tyd. Die virus het gekom en ons bloedneus kom slaan, en hy wyk steeds nie. Dit lyk egter of daar tans 'n skietstilstand is, en ek sien ongelukkig dat mense hulle wapens nou maar neerlê. Dis baie gevaarlik. As jy hierdie lees het jy dit ook sover oorleef, maar ongelukkig het 'n menigte nie. En so het ons gesien dat iets wat ons nooit verwag het nie, ons lewe handomkeer kan verander. Ek het baie dinge raakgesien in hierdie afgelope tyd. Ek sien hoe mense nie wil saamstaan teen hierdie gemeenskaplike vyand nie, en eerder met mekaar wil veg. Ek sien hoe mense mekaar op sosiale media verguis en uitskel, en dis so hartseer. Ek sien ook dat mense mekaar nie 'n opinie gun nie. Ek sien dat mense mekaar se geestelikheid in twyfel trek omdat hulle die Bybel verskillend verstaan. Of eerder, sommige die Bybel tot op die uiterste verdraai om hulle standpunte te regverdig. Ek sien dat mense 'n sameswerings teorie in elke ding waaraan hulle kan dink opmaak, wyd versprei en selfs dat ander hulle slaafs navolg. So kan ek lank aangaan.
Ek sien egter 'n wonderlike ander kant óók raak, 'n kant van mense wat vir my SOVEEL hoop gee. Ek sien dat mense wat uiters siek was, die Here prys as die Geneser. Ek sien dat gebedskettings gevorm word waar vreemdelinge vir vreemdelinge bid. Ek sien hoe mense ander wat sonder 'n lewensmaat agterbly, met tonne liefde versorg. Ek sien hoe kos aangedra word, hoe mense rande en sente afknyp terwyl hulle dit self nie breed het nie, en vir ander gee. Ek sien hoe mense ander mense se kinders se skoolgeld betaal, vir mekaar inkopies gaan doen, kinders skool toe neem en vervoer beskikbaar stel waar dit nodig is.
Ek sien ook uiterste dankbaarheid by mense wat baie siek was en herstel het. Ek sien hoe mense die Here prys as Hy nuwe deure opmaak waar ander toegemaak het, en mense beter af is as voorheen. Ek sien hoe mense wat agterbly nadat 'n geliefde gesterf het, die Here prys omdat Hy hulle krag gegee het om deur dit te kom. Ek sien hoe mense se geloof met rasse skrede gegroei het, juis toe dit uiters sleg gaan. Ek sien dat mense wat alles verloor het soos Job uitroep: Die Here het gegee, die Here het geneem. Prys die Naam van die Here! Daar is soveel positiwiteit by mense, ten spyte van die rampe wat hulle tref. Soveel welwillendheid teenoor ander wat swaarkry, soveel mense wat hulle tyd en bronne gegee het om 'n bord kos op 'n vreemde persoon se tafel te sit. Ja, selfs oor kleurgrense heen. Ek sien hoe mense die Here opnuut ontdek het, en hulle vertroue op Hom sit. Daar is egter een ding wat ek nog glad nie gesien het nie, en dis dat iemand die Here vervloek oor die ramp wat hulle getref. Nog nie eenkeer nie, ek het net die teendeel gesien. Mag die Here hierdie virus totaal oorwin en vernietig. ~ Willem Botha, 25/10/2021

“God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom 8:31) Dis Paulus se vraag aan ons almal. Met God aan jou kant, hoef jy niks of niemand te vrees nie. Met God aan jou kant, kan jy daai oormag storm loop en oor ’n muur spring, soos Ps. 18:30 sê: “Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” Kom ons kyk bietjie na elke woord van dié waarheid: God is vír ons. GOD - dié een wat alles gemaak het, dié een met alle mag, dié een wat alles weet en oral teenwoordig is, dié een wat genees, vergewe, optel en trane afvee. Dit is Hý wat vir ons is. IS – Hy was en sal wees, maar vandag IS Hy vir ons. Hy lewe, Hy bestaan, Hy is werklik God en Hy leef in ons. Hy IS vir ons. VIR – Hy is aan ons kant, Hy skree vir ons span, Hy kom op vir ons, Hy tree in vir ons soos ’n advokaat. As Hy ’n yskas gehad het, sou Hy jou foto daarop geplak het! Hy is VIR ons. ONS – Ja, ek en jy! Ons is spesiaal vir Hom, die appel van sy oog, gekroon met eer en heerlikheid, sy kind! Dis óns vir wie Hy is. Wie kan dan teen ons wees? God is vír jou, vriend. Skep moed en kyk jou vyand, jou probleem, jou kwellinge, jou tekortkominge, jou hoë muur, jou Goliat in die oë en sê met geloof en vertroue: God is vír my, wie kan dan teen my wees? ~ Wilna Botha, 21/10/2021

As ek nou vir jou sou vra om regtig eerlik, uit die diepte van jou hart te antwoord of jy soms nie net so effe bang is dat jy in die ewige verdoemenis sal beland nie, wat sal jy sê?
Ja ons praat van geloofsekerheid, maar soms wanneer ons voel of ons net eenvoudig nie regtig nougeset die reguit pad stap nie, kan daar dalk twyfel wees. Wel, dis vir my so.
"Dit alles is 'n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; en aan julle lyding, en ons s'n, sal Hy 'n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in 'n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag." (2 Tes. 1:5-9)
Hier lees ons dat daar vir seker 'n oordeel sal wees as Jesus terugkom. Ons lees ook in ons geloofsbelydenis "... vanwaar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het."
Jy sien, die konsep van "genade" bly vir my so effe onverstaanbaar. Maar soms kom iemand op jou pad en sê vir jou iets wat jou asem half wegslaan, soos wat hierdie week met my gebeur het. Nou kan ek sê: "toe drop die pennie".
Dink mooi na oor wat jy nou gaan lees. Dieselfde Persoon wat gaan kom om te oordeel, is die Een wat vir jou gesterf het! Wow, dit tref my tussen die oë. Die Redder en die Regter is een en dieselfde persoon! Kyk nou hoe kort en bondig stel Paulus dit.
"Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie." (Rom. 8:1). Dus, Jesus kom om te oordeel, maar omdat ons "in Christus" is, trek dit 'n finale streep deur die oordeel vir diegene wat Hom aangeneem het. Geen enkele ander ding is nodig nie, niks! Ja, natuurlik gaan daar 'n vars nuwe lewenswyses saam met die "in Christus" gedagte en ons moet inderdaad soos gereddes lewe, maar toe Hy vir jou gesterf het (meer as 2000 voordat jy eens geleef het), is daar 'n streep deur die oordeel vir jou getrek. Dié Een wat kom om te oordeel, is presies dieselfde Een wat vir jou gesterf het. En net daar verstaan ek so 'n aks beter van genade. Jy kom in 'n hof en die regter gooi jou saak uit die hof uit, want hy het reeds jou vonnis uitgedien. Só eenvoudig, maar so ongelooflik kragtig. Dus, loop die pad so reguit as moontlik, maar hou op vrees. En vind geweldig baie troos in sy wederkoms! ~ Willem Botha, 20/10/2021

“Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” antwoord hulle. Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” “Kruisig Hom!” skreeu hulle almal.” (Matt. 27:21-22) Pilatus het gewéét Jesus is onskuldig en dat daar geen gronde was om enige klag teen Hom te lê nie. Sy vrou het hom ook alreeds, op grond van haar droom, gewaarsku dat Hy onskuldig is. Daarom spook die vraag by hom: wat moet ek met Jesus doen? Hy maak egter nie ’n besluit nie en vra die skare se mening. Hy voel veiliger om hom te skaar by die meerderheid. Soos ons weet het hulle ongevoelig en brutaal geskreeu: kruisig Hom. Nou kom dié vraag vandag na my en jou ook: wat gaan jy met Jesus doen? Gaan jy Hom verwerp, Hom vloek, met Hom spot? Gaan jy jou rug op Hom draai en sy genade vir Hom teruggooi? Gaan jy jou verhard en jou doof hou vir sy uitnodigings en beloftes aan jou? Gaan jy jou liewer, soos Pilatus, aan die veilige kant van die meerderheid hou? Of gaan jy uitstaan en opstaan en jou lewe aan Hom oorgee, jou planne in sy hande plaas, ja sê vir sy uitnodiging tot geloof en aanvaarding en vergifnis? Wat gaan jy met Jesus doen? Gaan jy Hom volg al vra dit opoffering? Gaan jy Hom eer en aanbid en liefhê met jou hele hart siel en verstand? Gaan jy Hom die Koning van jou hart maak, die ereplek aanbied in jou lewe, jou gedagtes vul met sy goedheid? Wat gaan jý met Jesus doen? ~ Wilna Botha, 19/10/2021

"Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:7b-9)
Hoe meer ek oor hierdie teks dink, hoe meer tref die impak van hierdie gebeurtenis my. Watse ongelooflike woorde is hierdie nie: "My genade is vir jou genoeg."
Paulus het nie die antwoord gekry waarvoor hy gevra het oor hierdie doring in sy vlees nie. Hy klink regtig moedeloos as hy sê hoe erg sy probleem is; 'n Boodskapper van Satan wat hom aanval. Sjoe dit klink erg.
Ek wens ek kan dit op my lewe toepas, want dan besef ek ook dat dinge nie altyd reg sal of móét uitwerk nie, want God se genade is vir my genoeg. Pas dit op jou situasies ook toe en oordink dit vir 'n oomblik saam met my.
As jy tans deur siekte geteister word, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy uiters bekommerd is oor iets soos werksverlies, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy geen idee het hoe jy by jou finansiële verpligtinge gaan uitkom nie, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jou huwelik tans dreig om teen die rotse vas te loop, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy platgeslaan is deur die verlies van iemand naby jou wat gesterf het, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy bitterlik eensaam is omdat almal om jou begin onttrek, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy verguis word deur mense en die woorde wat hulle oor jou uitspreek, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy soms in 'n gat van depressie sit, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As die lewe nie meer vir jou lekker is nie en niks werk uit nie, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
As jy voel dat daar nie meer hoop vir jou is nie, weet net Sy genade is vir jou genoeg.
Ja, dis moeilik, want die uitdagings van die lewe word by die dag groter en soms kom die deurbrake net nie. Selfs as dit voel of God sy rug op jou gedraai, het jy iets nodig om aan vas te hou. Ek kan my nogal oorgee aan hierdie wete dat sy genade vir my genoeg is. Dan het ek al die troos wat ek nodig het, en dít beskryf die Here in vers 9b: "My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Oordink hierdie woorde as jy swaarkry. ~ Willem Botha, 18/10/2021

“Wie kan rein uit onrein laat voortkom?” So vra Job in Job 14:4. Dan antwoord hy sommer self met: “Niemand nie!” Ai, Job, jy wéét mos dis nie die waarheid nie. Ek dink Job se uitgerekte swaarkry en sy soeke na antwoorde begin sy tol eis op sy gemoedstoestand. Hy is besig om hoop te verloor en dalk selfs bietjie pessimisties te raak. Vir my is dit ’n les om nie perspektief te verloor in moeilike tye nie, maar te probeer fokus op die waarhede van my geloof wat vasstaan. Een daarvan is dat niks vir die Here onmoontlik is nie en dat daar wél altyd hoop is vir iets nuut om te gebeur, vir onrein om rein gemaak te word, vir ’n verlorene om gered te word, vir ’n swakkeling om krag te ontvang, vir ’n moedelose om vrede te vind, vir sonde om vergewe te word. Wie kan rein uit onrein laat voorkom? Nét die Here kan want Jesus het elke greintjie van ons onreinheid op Hóm geneem toe Hy aan die kruis gesterf het. In ruil het ons reinheid ontvang, het ons die genadige geleentheid om in alle opsigte nuwe mense te word. Die dissipels het ook op ’n dag vir Jesus gevra: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” (Matt. 19:25-26) God kan! Hy kan rein maak, Hy kan red, Hy kan nuut maak. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” (2 Kor. 5:17-18) ~ Wilna Botha, 14/10/2021

Ons was onlangs by die see vir 'n paar dae en ons stap op die strand, en ek kyk na die sand en ek wonder (soos so baie kere vantevore), hoeveel sandkorrels is op die aarde? Miskien sal ek dit getel kan kry as ek laaaaank daarmee besig bly. En hoeveel korrels is in ‘n kind se strand emmertjie? Daar is ‘n getal en dit kan dalk akkuraat getel word. Maar, hoeveel sandkorrels is in ‘n kruiwa, of op ‘n 1 ton bakkie? Nou begin hierdie syfer enorm groot word. Maar daar ís ‘n akkurate syfer. Daar moet net nie ‘n paar afwaai nie... Soos ek oor die strand kyk besef ek, hier is ‘n syfer wat “mind boggling” groot raak. Toe dink ek: die sand op al die strande op aarde, al die duine, onder die see, tussen jou plaveiselstene, alles, alles bymekaargetel, HET ‘n getal. ‘n Baie akkurate getal. En God ken daardie getal. Hy weet presies hoeveel Hy gemaak het, tot op die laaste syfer. Daar is ‘n “eindige” getal. Wiskundiges van die Universiteit van Hawai reken die sand op die strande van die wêreld kan omtrent 75 X 10 tot die mag 17(dit is 75 met 17 nulle agter!) wees. Dit is ‘n verskriklike getal! Sewe quintillion vyf quadrillion sandkorrels – en dit net op die strande. Ons weet nie hoeveel nie.... maar God wéét!
Jy kan bereken hoeveel keer jy al gaan slaap het in die aand, omtrent hoe ver jy al met ‘n motor gery het, hoeveel koekies seep jy al opgebruik het, hoeveel happe kos jy al geneem het, hoeveel keer jou hart al geklop het, ens. ens. Ons kan dit min of meer, op ‘n gemiddeld probeer uitwerk, maar God weet die presiese getal!
Hy weet alles. Hoeveel hare is op jou kop? Dis nou as jy nog so gelukkig is om hare te hê! ‘n Gemiddelde mens het ongeveer 100 000 hare, maar dit kan soveel as 200 000 wees. Rooikoppe het die minste hare – so 90 000, en blondines soveel as 140 000. Die hoeveelheid hare wat egter op hierdie oomblik op jou kop is, is ‘n vaste getal, en God ken daardie getal! “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel” (Matt 10:36) Hoe hou jy daarvan? Daar is nou op hierdie oomblik ‘n syfer, en God ken daardie syfer, en die oomblik as een uitval, en die syfer verander, dan weet God dit.
Miskien moet jy net vir 'n oomblik dink hoe spesiaal jy is. Jesus weet presies vir hoeveel mense Hy aan die kruis gesterf het. Hy weet presies hoeveel gered sal wees en hoeveel nie.
En... jou naam staan in Sy handpalms gegraveer. Dit sê seker iets, of hoe? ~ Willem Botha, 13/10/2021

“Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê?” (Ps. 119:9, Die Boodskap) Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon, suiwer, vlekloos en blaamloos hou? “Deur hom te hou aan die woord”, antwoord vers 9 die vraag. Deur te doen wat die Here sê, deur die Woord van God as riglyn te volg. Ek wil amper byvoeg: en hoe gaan hy dit doen as hy nie die Woord gehoor het nie? En hoe gaan hy weet hoe om die Woord wat hy gehoor het, prakties op sy lewenspad toe te pas as iemand hom nie gewys het en voor hom uit loop nie? Hoe sal hy op daai suiwer pad kan bly as daar nie ’n hand is wat hom begelei nie, as daar nie sagte veiligheidsheinings is waarteen hy kan terugbons nie? Daai heinings is die liefdevolle arms van die ouers en leiers en mentors in sy lewe en natuurlik die Here self, wie se hand altyd uitgestrek is om sy kinders te lei en te leer. Dalk voel jy dat jy gefaal het met jou kinders, dan kan jy dalk leer uit jou foute en nou ’n voorbeeld wees in ander jongmense se lewens by jou kerk, in jou familie, by jou werk, ens. Daar is iets wat ek vir ’n feit weet en dit is dat jongmense nie preke en sedelessies van ons af wil hê nie. Hulle wil sien hoe jý daai preke en lesse prakties leef. Hulle verwag egtheid van ons, nie volmaaktheid nie. Dalk het jy gefaal met jou eie kinders, dan het jy dalk weer ’n kans met jou kleinkinders. Gebruik dit! Hoe kan ’n jongmens sy pad suiwer hou? Deur ouers en ander volwassenes se voorbidding. Miskien kan ons gebede die nodige trapklippe op hulle pad wees. “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen.” (Pred. 11:9-10) ~ Wilna Botha, 12/10/2021

Dis die laaste dae...
Ja, die Here is op pad, maak jou saak reg, sorg dat jy goed leef, dis nou amper.
So het ek weereens verlede jaar gehoor toe die pandemie uitbreek, soos vele kere vantevore. Maar dit het nog nie aangebreek nie, al was dit vantevore "voorspel". Baie kere vantevore, al vir honderde jare.
Ja dit kom, dit kan enige dag kom, want Jesus het so gesê.
"Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit." (Matt 24:29-30)
Wat 'n dag sal dit wees! Dalk in ons tyd, dalk oor 'n duisend jaar, ons sal nie weet nie.
"Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit." (Matt 24:36)
Kan jy onthou dat daar wêreldwyd voorspel is dat die aarde sou vergaan op 21 Mei 2011?
'n Amerikaner met die naam van Harold Camping het hiermee begin en in Suid Afrika het 'n ene Johannes Coetzee mense begin saamsleep met die teorie. Hy en nog sowat 80 mense het die vorige dag by 'n deftige hotel bespreek en die laaste aand daar saam deurgebring, om die volgende dag saam van daar af te vertrek na hulle hemelse tuiste. O wee, maar al wat daarvan gekom het was 'n reuse hotel rekening.
Ons weet dit kom, maar ek het werklik 'n probleem daarmee dat mense net geen sin meer het in ons lewe hier op aarde nie. Gaan dit regtig so sleg? Wil jy graag die hele "dag" in die Here se teenwoordigheid wees? Wel, wees dan, dien Hom hier op aarde met jou hele hart, werk hard in sy wingerd hier op aarde, geniet sy teenwoordigheid elke oomblik, leef voluit saam met mede gelowiges, werf meer en meer siele vir wanneer dáárdie dag aanbreek. Ek het al gewonder of dit nie vreeslik "heilig" klink om te vertel dat dit nou, enige dag gaan gebeur nie. Ek hoor dat mense hierdie uitsprake maak om by Jesus te wees, maar as siekte toeslaan dan verander daardie sentiment in 'n oogwink. Dis immers met my so, ek wil ten alle koste lewe! Ek sal tog nooit vra dat my einde nou moet aanbreek nie, en ek sal tog nie vir die Here vra om my "ontydig" te kom haal nie.
Maar, reg wees moet ons reg wees, dis definitief so. Ek is nie 'n voorstaander van die "draai of braai" beginsel nie, want ek wil nie die Here uit vrees vir die hel aanneem nie, ek wil hier en nou reeds die "hemelse" voorreg geniet om voltyds saam met Hom te leef. Dan is die dood net 'n oorgang na 'n volgende fase. Dus, of Hy in my leeftyd gaan kom of honderde jare daarna is regtig dieselfde, want die uiteinde is mos immers dieselfde. Maar vir nou geniet ek regtig my aardse lewe, stampe en stote en al. Dalk sal ek maar soos Paulus sê: "... want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins." (Fil. 1:21) ~ Willem Botha, 11/10/2021

Nou wat op dees aarde is "liefde"? Draai ek myself vanmiddag vas met hierdie vraag en ek voel naderhand om op te gee. Dink nou saam met my oor jou definisie van liefde? Stop gou en dink. Is "liefde" 'n universele begrip wat ek orals kan toepas? Of is daar dalk verskillende tipes liefde? As ek sê hoe lief ek vir my vrou en kinders is, sluit dit 'n klomp dinge in en ander dinge uit. Ek kan seker nie op dieselfde manier lief wees vir bv. visvang as vir my vrou nie. Dink jou nou in dat ek en Visvang in 'n oomblik van passie ons liefde vir mekaar verklaar en diep in mekaar se ogies kyk.
Ooooooo visvang, ek het jou so hartstogtelik lief, oooo visvang jy is my hart se punt, oooo visvang daar is niks nader aan my diepste wese as jy nie. Oooo visvang, my liefde vir jou oorheers alles.
O koek nee dit werk nie, dis seker 'n ander liefde, oftewel, dalk eerder iets waarvan ek hou. Nou wonder ek, kan ek liewer wees vir my een kind as die ander een? Nee sekerlik nie, want dan moet ek seker kan sê ek is 6/10 lief vir die een en 7/10 vir die ander. En dalk 10/10 vir visvang, of die voggies wat ook saam met my visvang. Maar dan moet ek tog sekerlik wel in sommige opsigte een "liefde" bo 'n ander stel. Kyk, jy ken mos daai probleempie wat party ouens het (ja vrouens ook) met pragtige Poppie by die werk. Jy weet mos, die een met die twee pragtige ronde oë.
Kyk vriend, my vrou verstaan my nie meer nie, jy weet mos. Maar Poppie verstáán my regtig tot op die been. Ons praat so lekker, haar man verstaan haar ook mos nie, jy weet. En rêrig, ek het nie gevra vir hierdie liefde nie, dit het net gekom. En jy sal nie glo nie, ek is presies so lief vir Poppie as vir vroulief!
Nee meneer, dáár is net plek vir een. Jy het klaar vir vroulief ingeruil vir Poppie. Vertel 'n man my eendag dat hulle verhaal presies soos hierdie storie afgeloop het, toe skei hy vir vroulief en trou met Poppie wat hom blykbaar só tot op die been verstaan. Hulle kon mos vir ure "chat" in die begin. En nou, jare later, as hulle van die werk af kom groet hulle mekaar koud dog hoflik, vra die geykte "hoe was jou dag" vrae en bring die res van die aand in doodse stilte deur. En nou verlang meneer seker erg na vroulief #1. Ai.
Wat is die liefde? 1 Kor. 13 vat dit nogal goed raak en het 'n paar baie kosbare punte van wat dit is en wat dit nie is nie. Maar dink gou oor hierdie een. Ek kyk na 'n dokumentêr oor die "World Trade Center" in Amerika, 20 jaar gelede. Die een vliegtuig wat nie in iets vasgevlieg het nie en net iewers geval het, se drama was anders as die ander drie. Nadat die vliegtuig gekaap is, het die passasiers besluit om die terroriste in die kajuit aan te val. In die proses het 'n klomp mense na hulle geliefdes gebel uit die vliegtuig (ek weet nie hoe dit daar werk nie want hier by ons kan jy nie) en hulle laaste woorde was deur die bank "ek is lief vir jou" en hulle het ook gevra dat die mense op die grond dieselfde boodskap vir hulle ouers en familie oordra. Watse magiese krag het hierdie woorde nie! Ek is lief vir jou!
Geen ander woorde kan daardie diepgewortelde gevoel beskryf soos hierdie paar woorde nie! Sê jy dit genoeg? Moet jy dit nie elke keer sê as jy vertrek van jou geliefde nie? Hoe weet jy of dit die laaste keer sal wees? Watter beter woorde kan jy spreek elke keer as jy afskeid neem, selfs net kafee toe! Het jy al vir die Here gesê jy is lief vir Hom? Hy sê hordes kere in die Bybel vir jou dat Hy lief is vir jou. Liefde: onbeskryfbaar, onverstaanbaar, kragtig, en pragtig! Geniet jou geliefdes.
1 Kor. 13 (Die Boodskap) : "Sê nou maar ek is so “geestelik” dat ek die tale kon praat wat die engele in die hemel praat en selfs nog ’n klomp ander, maar ek het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie “geestelike gepraat” dan na niks anders nie as ’n geraas soos iemand wat teen ’n yster kap. 2 Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eens weet nie, en boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here ’n nul op ’n kontrak.
3 Al gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks. 4 Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie; 5 om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. 6 Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. 7 Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie. 8 Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die Gees aan mense gee, soos om God se Woord oor te dra of in “spesiale tale” te praat, of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie veel weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie. Daar sal ’n tyd kom wanneer die Gees dit nie meer vir mense sal gee nie, omdat dit nie meer nodig sal wees nie. 9 Ons weet in elk geval nou nie alles nie en wat ons vir julle van God se wil vertel, is ook nie alles wat daar is om te weet nie. 10 Daar sal ’n tyd kom wanneer alles volmaak sal wees soos God dit bedoel het. Dan sal die dinge wat God net ’n tydjie wou gebruik het, nie meer nodig wees nie. Dit is eintlik maar so met ’n mens ook. 11 Toe ek klein was, het ek nie soos ’n grootmens gepraat nie, maar soos ’n kind. Ek het ook gehou van dinge waarvan kinders hou en graag daaroor gepraat. Ek kon ook nie verstaan waaroor die grootmense praat nie, want ek het deur die oë van ’n kind na dinge gekyk. Maar toe het ek grootgeword en dit alles het verander. Die dinge wat vir my as kind so belangrik was, is nou nie meer vir my belangrik nie. Ons is nou nog eintlik maar in ons geestelike kinderskoene. 12 Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ’n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet. 13 Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en die liefde. En van hulle staan die liefde boaan die lys." ~ Willem Botha, 07/10/2021

“My God, my God, waarom het U my verlaat ... ?” (Ps. 22:2) Ons ken hierdie woorde as Jesus se woorde aan die kruis, maar hier in Ps. 22 is dit Dawid wat só uitroep. Hy voel verlate, verlore, alleen, bang en verneder. Hy voel of God vêr is en nie na sy hulpgeroep luister nie. Hy voel of God sy gesig weggedraai het. Seker net soos Jesus aan die kruis gevoel het toe Hy dié woorde uitgeroep het. Seker net soos ons ook al by geleentheid gevoel het toe ons dié woorde uitgeroep het. Hierdie Psalm laat my besef dis oukei om te sê: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”. Dis egter nié oukei om dit te sê uit ’n plek van verwyt teenoor God nie, of uit negatiwiteit, of alewige pessimisme nie. Dis nié oukei om dit te sê uit woede teenoor die Here of as as ’n klag teenoor Hom nie. Dis nié oukei om dit te sê as jy op die punt is om jou rug op Hom te draai nie. Dis nie oukei om dit te sê terwyl jy glo dat Hy nié alomteenwoordig is nie, dat Hy onmagtig is, dat Hy nie meer omgee nie, dat Hy sy genade- en liefdeskrane toegedraai het nie. Lees gerus bietjie deur Ps. 22 en sien hoedat Dawid nogtans getuig van God as sy bron van krag, getuig van sy sekerheid dat die Here wel na hom sal luister en vir hom uitkoms sal gee, ten spyte van sy uitroep in vers 2. Hoewel hy vra waarom God hom verlaat het, glo hy met sy hele hart en weet hy uit ervaring:  “Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en geringgeskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.” (Ps. 22:25) Daar is net een Persoon wat werklik hierdie uitroep kan gee en dit is Jesus. Hý is die enigste een wat dit ooit werklik ervaar het dat God Hom verlaat het. En Hy het dit in óns plek gedoen. In ons plek was Hy van God verlaat, was Hy heeltemal alleen, was Hy verwerp en verneder. In ons plek was Hy van God verlaat sodat ek en jy nóóit deur God verlaat sal word nie. Hy sal jou nooit alleen los nie, nooit sy rug op jou draai nie, nooit aan jou eie genade oorlaat nie, nooit doof wees vir jou hulpgeroep en trane nie. Nou moet jy dit net glo. ~ Wilna Botha, 06/10/2021

Dink jy die lewe is regverdig? Sien jy ook raak dat die lewe jou niks skuld nie? Besef jy ook meer en meer dat jy nie op alles kan aanspraak maak wat jou sal pas nie? Maar sien jy soms ook nog die mooi en die lekker raak?
Jou pad is jou pad, dis nou maar so. Die Here het vir jou 'n pad uitgelê wat jy sal stap, en al is dit dikwels met kronkels en slaggate, stap sal jy hom stap. Soms gaan jy deur die woestyn stap, soms gaan jy vir lank net op gladde waters vaar, soms gaan dit lyk of die lewe jou gaan breek, maar jou pad is jou pad, aanvaar dit.
'Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!” (Joh. 21:18-19)
Hierdie was Petrus se pad, en hier het Jesus vir hom so bietjie van 'n voorskou gegee van wat kom.
Paulus se pad was ook bitter swaar en boonop het hy geworstel met die sogenaamde doring in sy vlees. Dit was sy pad, en Jesus het nie daardie doring uitgetrek nie, Hy het net gesê "My genade is vir jou genoeg", en hom aangestuur op sy pad.
Dalk wil jy 'n ander ou se pad stap, maar jy wil definitief nie noodwendig by al die stasies aandoen waar hy 'n draai moet gaan maak nie. Ek het 'n man geken wat aan kanker gesterf het. 'n Rukkie voor sy dood het die dominee vir Herman gevra hoe hy voel oor hierdie ding wat hom getref het, en sy antwoord was eenvoudig: Dominee, dis nou hoe dit is. Net dit. Hy het sy pad aanvaar, want hy het geweet wat die eindbestemming was, en Herman is nou al vir baie jare by die Here. Die Here het ook vir sy vrou 'n totaal nuwe gelukkige pad uitgelê.
Dit gaan nie oor waar jou pad loop nie, dit gaan oor hóé jy dit loop. Daar het jy baie keuses, en die grootste vraag is of jy die Here saamvat. Jy ken die storie van die twee rye spore, waar die man die Here beskuldig het dat daar soms net een ry spore was. Toe sê die Here vir Hom dat dít die tye was waar Hy die man gedra het.
 Jy hoef ook nie altyd alleen te stap nie.
"Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. " (Pred. 4:9-10)
Maar oppas dat ander nie hulle hele pad, waarvoor hulle glad nie lus is nie, totaal op jou" dump" nie. Dis nié wat "dra mekaar se laste" beteken nie.
Jesus se pad was bitter swaar, en selfs Hy het gesmeek by sy Vader dat die beker by Hom sal verbygaan, maar Hy moes daardie pad maar stap.
So moet jy ook jou pad stap, soms is dit dalk swaar, maar gelukkig is dit dikwels ook met rose besaai en dan is ons baie dankbaar. Maar op die lang duur gaan dit alles oor die eindbestemming. Ons het baie jare gelede in die Visrivier-canyon gestap, en dis regtig nogal moeilik, maar ons het die hele tyd gestap met die eindbestemming in sig. Daarom kan ek en jy in moeilike tye ook vasbyt, want ons weet waarheen ons gaan.
Jou pad is jou pad, en jy moet hom blymoedig stap.
Vir my sê hierdie woorde:
* Here, ek daag U nie uit nie
* Here, ek trek nie U bedoelings in twyfel nie
* Here, ek probeer nie in die pad staan van U werke nie
* Here, ek vertrou U as ‘n soewereine God
* Here, ek aanvaar dat U ten volle in beheer is
* Here, laat U wil geskied
* nie omdat ek opgee nie
* nie omdat dit lekker is nie
* nie omdat ek die omstandighede oorgee aan die duiwel nie, maar omdat ek die Skepper en Onderhouer, die Getroue en Betroubare, ken en in alle omstandighede vertrou.

-Keep on walking -
~ Willem Botha (04/10/2021)


“Bly jy nog  steeds vroom?” (Job 2:9) Dis Job se vrou wat so vir hom vra toe dit al só sleg met hom gegaan het dat hy op die ashoop gaan sit en homself met ’n potskerf gekrap het. Sy rykdom is vernietig, sy gesin is uitgewis en hy is oortrek van pynlike swere. Sy kan nie glo hy bly nog vroom nie. Haar raad aan hom is om die Here te vervloek en liewer te sterf. Maar nee, Job bly vroom. Die Here het immers sélf oof hom gesê: “Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.” (Job 1:8) Kom ons vra nou maar ’n slag daai moeilike vragie vandag vir onsself: bly jý nog steeds vroom? Druk jy nog deur met jou geloof, al voel dit of jy die enigste een is? Dien jy nog die Here soos aan die begin? Bly jy weg van verkeerde paaie, verkeerde gedagtes, verkeerde geselskap, verkeerde woorde, verkeerde begeertes? Koester jy êrens ’n wortel van bitterheid, of ’n stukkie onvergewensgesindheid, of ’n blertsie selfsug? Volhard jy op die nou pad of het jy al êrens teruggeval na die breë weg? Dra jy nog vrugte wat pas by ’n kind van die Here of is die vrugte vol kolle en smaakloos, of die boom dalk al heeltemal droog en kaal? En die moeilikste een: bly jy nog vroom al gaan dit moeilik, al het jy alles verloor, al is jy siek, al is jy verwerp en eensaam, al het Covid sy tol geëis ... jy weet wat is op jou lysie! 2 Kor. 13:5 sê: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” Kom ons doen dié ondersoek gereeld, kom ons draai terug en jaag die vroomheid na. Kom ons kyk gereeld in die spieël waarvan Jak. 1:23-25 praat en bly nie onveranderd nie. Mag die Here ons daarmee help. ~ Wilna Botha, 30/09/2021

Kom ons maak vandag 'n vuur, dan gooi ons spreekwoordelik 'n klompie papiertjies daarin, daardie goor goed wat ons soms so teister. Vat vandag 'n klomp papiertjies, dan skryf jy in jou gedagtes daarop met jou gedagtes pen, dan gooi jy dit in daardie vuur, en dan stap jy weg van dit af. Maar dit gaan moed kos, want as jy dit doen, moet jy bereid wees om vir altyd jou rug daarop te draai, en vorentoe te gaan sonder dit. Ek kan nie vir jou sê dit gaan maklik wees nie, maar ek belowe jou dit gaan uiters bevrydend wees. Ek skryf saam met jou, want ek sukkel met elke enkele een van hierdie goed. Skryf die volgende woorde neer, elkeen op sy eie stukkie papier, dan peins jy oor dit en bid daaroor, en dan vra jy die Here om jou te help daarmee. Elke woord wat jy skryf gaan jou ligter laat voel.
* "Bitterheid". Jy is vir seker, net soos ek, bitter oor dinge in die verlede. Goed wat jou steeds seermaak as jy daaraan dink.
* "Moedeloosheid". Jy sien, moedeloosheid het nog nooit dít opgelos waaroor jy moedeloos was nie.
* "Opstand". Ja jitte, ek raak meer en meer opstandig oor verskeie goed, soos die regering, misdaad, bedrog en slegte mense. Nee jy hoef nie hierdie goed te aanvaar nie, maar beskerm eerder jou hart en jou gemoed, want dit verwoes jou.
* "Haat". Om ander te haat, verander niks aan hulle gedrag nie, maar dit steel jou vreugde.
* "Slegte verhoudinge". As jy met geen mens in 'n slegte verhouding staan nie, is jy 'n super wese. Om dit reg te maak gaan al daardie verlore vreugde in 'n oogwink in blydskap verander.
* "Vrees". Vrees is 'n absolute normale emosie, en dis moeilik om dit te onderdruk. Maar die teenvoeter vir vrees is om in die arms van die Here te gaan skuil.
* "Slegte selfbeeld". Kyk, dis nou 'n onnodige vermorsing van jou vreugde. As die heel heel hoogste Oppergesag van hierdie wêreld dink jy is mooi, volmaak, absoluut aanvaarbaar, 'n wonderwerk en Hy is hartstogtelik lief vir jou, kan jy maar daardie lelike etikette wat feilbare wesens op jou geplak het, afskeur en verbrand.
* "Selfbejammering". Dit help nie, hoe gouer jy aanvaar dat "life is not fair", hoe gouer gaan jou verwagtinge totaal verander.
* "Jaloesie". Weereens SO onnodig, want dít wat ander het wat jy nie het nie, is nie vir jou beskore nie. Jaloers op materiële goed, jaloers op ander se gesondheid, ja selfs jaloers op hulle verhouding met die Here. Dis nie vir jou nie, dit gee vir jou dalk net meer laste om te dra.
* "Gebrek aan dankbaarheid". Ek is baie goed met hierdie een. Soms raak ek so blasé dat ek dink alles wat ek het kom my toe, en dat ek dit verdien.
Ek is seker jy en ek kan hordes papiertjies verbrand, maar dit vra nogal iets. Eerstens om te erken dat ek daarmee sukkel, tweedens om dit vir die Here te gee en dit in die proses in die vuur te gooi, derdens om jouself daarvan te distansieer en dan vierdens om nie weer terug te kyk nie.
Maar hou maar so paar skoon papiertjies by jou, want daar duik daagliks nuwe uitdagings op, en voorts verval ons weer in omkyk en terugval, dan verbrand jy dit maar net weer. Weet jy wat, jy verdien 'n beter lewe sonder onnodige laste, en jy dra hopeloos te swaar aan dinge wat jy lankal agter jou moes sit. Jy dra selfs swaar aan dinge wat ander op jou kom neerplak het. Nee wat, verbrand dit en wees vry! ~ Willem Botha, 29/09/2021

“Moet ek dan my broer oppas?” So vra Kain vir die Here in Gen. 4:9. Ander vertalings vra: “Is ek my broer se wagter?” “Is ek dan my broer se oppasser?” Die Here vra vir Kain: “Waar is jou broer, Abel?” en dan antwoord hy die Here met hierdie teenvraag. Kain het sy broer doodgemaak en die Here weet daarvan, dis hoekom hy vir Kain kom vra: waar is jou broer? Kain jok eers en sê dat hy nie weet nie en dan vra hy vir die Here terug: moet ek dan my broer oppas? Moet ons? Is ons ons broers se oppassers? Hoewel ons dit nie altyd wíl wees nie en hoewel ons ook sommer sal sê ek weet nie waar my broer is nie, ek gee nie eintlik om vir hom nie, ek weet nie waarmee hy besig is nie, ek weet nie waarmee hy worstel nie, ek weet nie hoe staan sy saak met die Here nie, is dit ons verantwoordelikheid om na mekaar om te sien. Dit geld natuurlik eerstens vir ons biologiese broers en dan vir ons geestelike broers en dan sekerlik ook wyer. Ek moet ongelukkig bely dat ek te kort skiet en dalk ook dikwels sal moet sê dat ek nie weet waar my broer is, as die Here vir my daaroor sou vra nie. Jesus sê só baie kere “julle moet mekaar ...”. Julle moet mekaar liefhê, julle moet mekaar aanvaar, julle moet mekaar vergewe, julle moet mekaar se laste dra, julle moet vir mekaar bid, julle moet mekaar moed inpraat en versterk,  julle moet mekaar troos en so gaan die lysie aan. Dis hoe Jesus ons wil leer hoe ons ons broers se oppassers moet wees. Dit laat my dink aan oom Jan, ’n vriend van ons. Hy sal sommer net hier aankom of bel en dan sê hy altyd dat hy net self moet kom kyk hoe dit met ons gaan want nou-nou vra iemand hom hoe dit met die Botha’s gaan en dan kan hy nie antwoord nie. Dis mooi en dis goed. Ek dink dit moet ons gesindheid wees teenoor ons broers en susters, want: “So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap) Kom ons raak mekaar aan met God se hand, met God se liefde, met God se onvoorwaardelike aanvaarding, kom ons pas mekaar op. ~ Wilna Botha, 28/09/2021

Ek voel so effe swaarmoedig soos ek hier skryf, want ek verstaan nie wat is fout met ons mensdom nie. Ek lees tans 'n boek wat handel oor die Boereoorlog en ek sien hoe mense bereid was om hulle lewe te gee vir 'n saak. Dis verstommend hoe dapper daai manne was, sommige nog blote seuns. Dit was in die weermag ook so en ons was nog nat agter die ore, maar ons het 'n saak gehad waarvoor ons geveg het. In die Boereoorlog was die gevegte teen die Britte, soos jy weet. Maar o wee, dit was nie lank nie toe begin van die boere sáám met die Britte veg, en dis broer teen broer, neef teen neef en selfs pa teen seun. Absoluut skokkend!
En vandag is dit presies dieselfde, en dis waar my hartseer oor hierdie ding vandaan kom. Mense neem besluite en hang sekere strominge aan en dis natuurlik presies hoe dit moet wees, maar volg sosiale media en kyk hoe meedoënloos ons as mense teen ons eie mense veg oor hierdie virus. Ek kan nie glo hoe aaklig mense mekaar in die openbaar aanvat oor hulle keuses nie. Ons het 'n gemeenskaplike vyand, maar ons veg eerder teen mekaar as teen die vyand.
So doen ons nog altyd in die politiek, ja in DIE KERK, in die werkplek en in ons huishoudings. Nou kyk, as jy gevegte wil sien, dan luister jy hoe mense mekaar oor geestelike sake "byt en verskeur", soos wat Paulus sê. En dit soms oor totaal onnodige dinge.
Wil jy hê ek moet so bietjie vir die meeste mense warm onder die boordjie kry? Dis maklik, ons begin net praat oor die doop, die Skeppingsverhale (ja daar is twee), die ouderdom van die aarde, die laaste dae, of daar 'n wegraping gaan wees al dan nie, 'n tattoo op jou lyf, die maagdelike geboorte, ag aarde tog, noem dit maar op. As ek nou my mening oor al hierdie goed uitspreek gaan een klomp mense my onmiddellik wil kruisig, en 'n ander klomp gaan uitskree: Halleluja!
Hierdie is niks nuut nie. Kain het vir Abel vermoor, Josef se broers het hom in 'n put gegooi en hulle rug op hom gedraai en selfs Paulus en Barnabas se paaie het geskei. En die ergste is dat mense sommer hulle Verlosser aan 'n kruis vermoor het!
Ja vriend, daar is sekerlik mense wat jy nie meer in die oë wil kyk nie! Jip, sommer bloedfamilie ook. Ai, dit moet die Here sekerlik verskriklik bedroef. As ek nou regtig sinies wil wees, dan sê ek jou dat ons nie 'n vyand nodig het nie, ons maak sommer ons eie mense ons vyande. Is ek skuldig hieraan? Natuurlik! En ek skaam my vir ons! ~ Willem Botha, 27/09/2021

Dis goor om arm te wees, of selfs net om arm te voel. Goeiste ons was al arm in ons lewe en ek het ook baie arm grootgeword. My pa was 'n treindrywer en hulle het baie min verdien, in ruil vir baie lang ure se werk. Ons het vir jare nie 'n motor gehad nie want my pa kon dit nie bekostig nie. Jitte ons was arm.
Ons was so arm dat ons net eenmaal 'n jaar vakansie by die see kon hou, en ons moes met die trein ry soontoe (gratis a.g.v. my pa se werk). Jitte ons was arm, so arm dat ons in 'n gewone middelklas woonbuurt moes bly, my ouers het nie geld gehad vir 'n huis op Skuldbult nie (dis natuurlik Waterkloof). Ons was so arm dat my ouers bykans nooit enige skuld gehad het nie, en daarom kon ons nie op skuld eet nie, shame, ons moes dit alles met pa se salaris hanteer. Ons was so arm dat ons skool toe moes loop (minder as 'n kilometer weg). Ons was so arm dat ons net by die plaaslike fliek naby ons kon gaan fliek (weekliks), die fliek se naam was die Skyline, en my pa het dit die Weeluishuis genoem. Ons was so arm dat daar Sondae net twee tipes vleis op die bord was, en elke Sondag poeding, gewoonlik net een tipe.
En later toe ons getrou het was ons ook arm, en dieselfde goed waarsonder ons ouers klaargekom het, moes ons klaar kom. Sjoe, die armoede het uit ons uit gedrup.
Ja vriend, dis mos soms ons definisie van armoede, terwyl ek in my lewe nooit eenkeer honger gaan slaap het nie en steeds ook elke jaar vakansie hou, al staan my huis nie op Skuldbult nie. NATUURLIK weet ek dat baie mense onder geweldige finansiële druk leef, en dat mense hulle werk verloor, en dan bykans al hulle besittings daarmee saam. Ek praat nie daarvan nie, ek praat van mense wat soms SO welaf is, maar net nooit genoeg kan kry nie. Ek was eendag by 'n praatjie van 'n multimiljoenêr en hy het die volgende gesê: Ek beweeg tussen die rykstes van die rykes, en ek ken nie EEN wat genoeg het nie! Ek het al gesien hoe mense wat regtig oorgenoeg het en in weelde leef, verskriklik vrees dat hulle iets daarvan gaan verloor. Hoekom dink ek nou onwillekeurig aan Mammon? Jip, daai Mammon wat sy kloue hier diep in my lewe ook kom inslaan het.
Weet jy hoe min ek vir die Here dankie sê vir wat ek het? Ek is nou maar net eerlik, want alles is mos vanselfsprekend.
Ja, ek begeer ook 'n nóg beter motor (natuurlik 'n sportmotor), 'n nóg groter huis, nóg meer in die bank, nóg luukser vakansies. Waaroor gaan daai storie in die Bybel nou weer van die arm weduwee wat haar laaste munte in die offergawekis gegooi het?
"Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” (Mark. 12:42-44)
Ek skaam my vir myself. Mag hierdie volgende teks vandag met my praat.
"Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie." (Spr. 30:7-9) ~ Willem Botha, 23/09/2021

Die heel eerste vraag in die Bybel is dié een wat die slang vir Eva gevra het. ’n Vraag wat die Here in onguns probeer bring by die mens. ’n Vraag wat gemoedere wil opstook en opstandigheid teen die Here probeer aansteek. ’n Vraag wat die waarheid lekker verdraai. ’n Vraag wat effe smokkel met Eva se kop. ’n Vraag wat haar verlei om te doen wat sy nie moes of wou nie. ’n Vraag wat verreikende gevolge het. “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” (Gen. 3:1) Ai, kyk nou net hoe word die Here se woorde verdraai, hoe sluip een woordjie in wat dalk misgekyk kan word. “Geen” boom? Ja, God hét iets gesê. Hy hét instruksies gegee. Hy hét die eet van sekere vrugte verbied. Hy het egter net één boom uitgesonder. Hy het nie gesê “geen” boom nie. Voel dit nie ook vir jou so bietjie bekend nie? So dikwels word die Here en sy woorde en sy opdragte aangehaal, maar met ’n klein verdraaiing. So dikwels word wat die Here gesê het aangehaal, maar uit konteks uit. So dikwels word wat die Here gesê het bevraagteken. Hoeveel keer het jy al gehoor dat iemand sê: Hoe kan ’n God van liefde dit of dat toelaat? Waar was Hy toe hierdie of daardie gebeur het? Hoekom antwoord Hy nie ons gebede nie? Wat het van Sy beloftes geword? Hoe kan Hy so streng wees? Is Hy kwaad vir ons en het Hy sy rug op ons gedraai? Wat het van sy genade geword? En dan weet ons baie keer nie hoe om hierdie mense te antwoord nie. Het hierdie soort vrae dalk hulle oorsprong daar in die paradys by die boom? Dit laat my ook dink aan die vrae wat die duiwel vir Jesus gevra het in die woestyn. Vrae wat die waarheid so bietjie verdraai. Hy was daarop uit om vir Jesus te versoek en te verlei, net soos met Eva.  Jesus antwoord egter elke keer met: “... daar staan óók geskrywe”. Hy antwoord met die Woord en met die waarheid. As mens nie mooi luister en dieper kyk nie, kan jy dalk net in ’n vraag-slaggat beland. ~ Wilna Botha, 22/09/2021

Ek het  êrens in Februarie begin om vrae wat die Here in die Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees (en beantwoord!) Klik hier >> ~ Wilna Botha, 22/09/2021

Volg My
"Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: 'Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.' Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg." (Matt. 4:18-20)
Watse magiese krag het uit Jesus uitgestraal om dít reg te kry? Hy sê net vir mense: Volg My, dan volg hulle Hom. Só het Hy sy dissipels bymekaargemaak en hulle het Hom blindelings gevolg. Wel, ons ken die Bybel vandag en ons ken al hierdie verhale en bevraagteken dit hoegenaamd nie, want ons weet dat hierdie verhale die toets van die tye slaag en daar is niks wat jou laat twyfel nie. So, as my vraag is wat Hom dít laat regkry het, kan ons seker sê dis omdat Hy die Seun van God is, en deel is van die Drie-eenheid, dus self God. (Joh. 1:1)
Maar meer mense het dít al reggekry. Miskien onthou jy die gebeure by Jonestown in 18 November 1978, toe die sekte leier Jim Jones 909 mense oorreed het om selfmoord te pleeg, alles vir hulle geloof. Hy het ook met tyd vir mense gesê: Volg my, en hulle het hom gevolg. Nóg 'n kultusleier genaamd David Koresh het ook vir 'n klomp mense gesê: Volg my, en hulle het hom blindelings gevolg, en ook dít het alles rampspoedig geëindig in 1993. Hy het vir die mense voorgehou dat hy 'n profeet is.
Ons lees so baie van vals profete in die Bybel, en tog hardloop mense blindelings agter hulle aan. Maar dis steeds nie al nie, mense kom in hierdie tye met een of ander absurde gedagte, maak 'n enkele video van hulleself, versprei dit op sosiale media en mense glo dit en volg hulle, sonder om dit vir 'n oomblik te toets. Selfs as dit tot hulle eie nadeel strek. Dit slaan my dronk.
Jy hoef voorts net te beweer dat dit deur die Bybel gestaaf word, dan kóm die mense.
Jy sien, die verskil tussen Jesus en hierdie vals profete is dat dít wat Jesus voorgehou het as die waarheid, baie lank gelede deur profete uitgespreek is, en vandag, meer as 2000 jaar later, hou dit steeds water. En voorts, deur die werking van die Heilige Gees, word mense soms onwillekeurig oortuig, net soos wat die Bybel sê.
Jy kan dus vir seker weet dat die dag toe jy besluit het om Jesus te volg, het jy hard en duidelik sy woorde: "Volg My", gehoor en jy kon daarop reageer, omdat die Heilige Gees Hom as die ware en enigste Redder vir jou uitgewys het. Jy hoef dit nie te toets nie, want dis God self se stem, maar as mense vir jou dinge voorhou, moet jy baie versigtig wees en dit op soveel plekke moontlik bevestig. Die Here gee vir ons sy Woord waar ons kan aanklop, maar moenie betroubare mentors geringskat nie. Volg Hom, elke dag, loop in sy spore, en jy sal op die regte plek opeindig ná hierdie lewe. Vir seker. ~ Willem Botha, 21/09/2021

“Wat sê die mense oor My, die Seun van die Mens?” (Matt. 16:13) Jesus wil by die dissipels hoor wat die mense oor Hom sê. Wie dink hulle is Hy? Glo hulle Hy is die Seun van God? Glo hulle Hy is die Redder, die Vredevors, die Lig vir die wêreld, die Brood wat lewe gee? Om ’n mening oor Hom te vorm, moes hulle Hom gesien het, Hom hoor praat het, of ten minste van Hom gehoor het. En sê nou maar Jesus vra daai vraag vandag vir ons? Wat sê jou familie oor My? Wat sê die mense by die werk oor My? Wat sê jou bure oor My? Wat sê jou huishulp oor my? Dit sou beteken jy moes al met hulle oor die Here gepraat het, jy moes vir hulle vertel het wie Hy is en wat Hy vir jou doen, nie waar nie? “Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?” (Rom 10:14) Ek sou ongelukkig nie namens almal in my leefwêreld kon antwoord nie, want daar is baie met wie ek nog nooit oor die Here gepraat het nie. Miskien kan jy sê dat jou lewe mos vir hulle wys dat jy glo en dat jy vrug dra wat anders is as ander mense s’n, dat jy in hierdie wêreld maar nie van hierdie wêreld is nie. Dis goed so, want ons kan tog nie “preek” terwyl ons lewe dit nie bevestig nie. Jesus gaan verder en vra vir die dissipels: “Maar julle, wie sê julle, is Ek?” (Matt. 16:15) Sien, ons moet ook ons eie getuienis kan gee van wie Jesus is. Ons moet ons eie persoonlike ervaring van Hom kan deel, die kennis wat ons self opgedoen het oor Hom, die pad wat ons self saam met Hom gestap het, die wonderwerke, versorging, hulp, vrede, vergifnis wat ons self van Hom af ontvang het. Ons moet kan sê soos die Samaritane in Joh. 4:41 “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” En jy, wie sê jý is Jesus? ~ Wilna Botha, 14/09/2021

Our God is an awesome GOD!
Dalk het jy daardie liedjie ook al vele kere gesing. Ek en vroulief het die naweek 'n boodskap opgeneem met hierdie tema, en ons wou God se grootheid beskryf, maar o wee, hoe meer ons die Here met woorde wou beskryf, hoe meer het ons besef dat daar nie genoeg woorde is nie, want dit het die heeltyd gevoel of ons nog nie regtig dáár is nie, en nie met ons beperkte woordeskat sy grootheid regtig beskryf nie. Toe begin ek dink oor woorde. Woorde wat met maksimum 26 letters gevorm word. Eintlik minder, want in Afrikaans is daar 'n paar letters wat bykans nooit gebruik word nie. Dink nou vir jouself watse woorde met 26 letters (in ons alfabet) gevorm word en waar dit gebruik word. Skrywers gebruik daardie letters om die mees onbeskryflike verhale te skryf, die digkuns is een van daardie plekke waar daardie letters uiters kreatief gebruik word, en so is daar miljoene liedere wat met net daardie 26 letters gesing word, en die idees raak net nie op nie. Meer as 40 skrywers het oor 'n tydperk van ongeveer 1600 jaar die inhoud van die Bybel in woorde neergepen vir ons, sodat ons God kan leer ken. Die gesproke woord kan jou in vervoering bring as daardie woorde gebruik word om liefde te verklaar. Hoe mooi is die eenvoudige 5 woorde nie as dit sê: Ek is lief vir jou. So min letters met soveel krag!
Maar ai, het die mens nie die vermoë ontwikkel om daardie selfde letters te skommel en woorde (wat individueel mooi woorde kan wees) te vorm wat vervloek, uitskel, slegsê, afbreek en mense tot in die afgrond te beskinder nie! Hoeveel mense (selfs kinders) het al hulle eie lewe geneem oor 26 letters wat verkeerd aangewend word? Hoe kragtig kan spraak nie wees nie!
"Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie." (Jak. 3:9-10)
Sjoe, wat 'n aanklag! Natuurlik ook teen my. Dit lyk vir my 26 letters is genoeg om oorlog te laat uitbreek, vriendskappe te vernietig, mense te vertrap en mense se lewens fisies te verwoes. Dis verskriklik!
Maar weereens, as ek die Here se grootheid wil beskryf raak die woorde op. 'n Paar wat by my opkom is: ongelooflik, awesome, onbeskryflik, onoortreflik, fantasties, wonderlik, groots, bokant my begrip, perfek, lieflik, soewerein...
En hier sit ek weer en hardloop uit woorde uit as ek Hom probeer beskryf. Al hierdie woorde raak iets aan van sy grootsheid, maar daar kort meer, meer woorde en dalk meer letters. Voel jou hart nie ook soms so vol as jy met Hom besig is nie? Daar is vele liedere om Hom te loof en prys, baie boeke geskryf, biljoene gebede gebid en biljoene woorde van dank uitgespreek. Maar vandag wil ek net 'n paar woorde uitspreek as ek sê: Here, ek het U lief! ~ Willem Botha, 13/09/2021

Is jy ook moeg vir hierdie oorlog? Hierdie dag tot dag se stryd om staande te bly teen die aanslae. Ek weet nie teen wie jy in jou oorlog veg nie, dalk oorlog by die werk, selfs téén die werk, oorlog met ander mense, dalk (soos ek) teen die bestel en die regering, ja ook die virus. Oorlog teen jouself en dinge wat in jou woed.
Ek sien in my geestesoog dat die Here vir my en jou sê: Kom, kom saam met My na waters waar rus is. Kom skakel af vir 'n klein rukkie en verplaas jouself na 'n plek waar dit net Ek en jy is. Net ons twee, geen geraas, geen tegnologie wat jou lewe oorgeneem het nie, net ons twee, Ek en jy, in die natuur. Kom pak 'n vuurtjie, dan sit Ek daar by jou, en dan vertel jy my van jou vrese en vreugdes, kom luister na die naggeluide, voel die ritsel van 'n koel briesie teen jou vel. Kyk op na die sterre, daardie miljarde sterre wat Ek gemaak het, en vir elkeen 'n naam gegee het. Kyk na die maan wat snags lig gee, trek jou asem diep in met die skoon suurstof, daardie suurstof wat Ek verniet vir jou gee. Hoor die geritsel van insekte hier om jou, hierdie klein kreature wat Ek gemaak het, elkeen met 'n doel. Stoot die slegte gedagtes wat jou lewe so versuur uit jou kop uit en geniet My teenwoordigheid, en weet dat Ek jou ontsettend lief het, en bewus is van elke las wat jy dra. Kom lê hier teen My bors en laat 'n soete slaap jou oorval, en gee net totaal oor, en weet dat Ek nie sal toelaat dat enige onheil jou tref nie. En as die dag breek, en die son skaam in die verte oor die horison begin uitloer, geniet die hitte op jou vel, en weet ook dat Ek nie sal toelaat dat sy strale jou skroei nie. Gryp hierdie nuwe dag en gaan hom met moed en geloof in, want Ek is daar, elke oomblik, met elke gebeurtenis. Kyk na die voëls, Ek versorg hulle, kyk na die blomme, Ek het hulle so mooi gemaak vir jou plesier, en netnou as 'n bokkie skaam skaam sy opwagting maak, geniet ook die skoonheid van daardie volmaakte wese. Net Ek het die vermoë om iets so perfek te maak. Moenie toelaat dat die lewe se stryd hierdie oomblik tussen jou en My bederf nie. Ek is groter as jou oorloë, Ek is groter as jou sorge en bekommernis. By My sal jy rus vind, kies dit so nou en dan en luister eerder na My stem as die oorlog wat om jou woed. As jy bang is, kom kruip styf teen My bors vas, Ek is met jou, al die dae van jou lewe.
"Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen." (Ps. 23:2) ~ Willem Botha, 08/09/2021

“Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?” So vra die Here in Jes. 41:4. Wat is jóú  antwoord? Dalk sal jy jou Sondagskool antwoord kan gee. Maar, wat sê jou hart en verstand? Stem jy saam met die Here se antwoord: “Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste en wanneer die laaste dinge gebeur sal Ek nog die Here wees.” (Jes. 41:4) Glo jy dat die Here in beheer is van alles? Ek lees Hand 17:26 wat sê: “Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon” en Ps. 139:2-3 wat se dat die Here weet as jy sit of opstaan, dat Hy bepaal of jy reis of oorbly. Wie bepaal die verloop van dinge? Dit is die Here, of mense dit glo of nie, of mense dit wil weggeredeneer of nie, of mense sélf die rigting van hulle lewe wil bepaal of nie. Die Here ís in beheer. Jy kan jouself onderwerp aan God se beheer, of jy kan dit teenstaan. Ek lees nou die dag dié aanhaling: “Faith is having the courage to let God have control.”  Ek dink egter mens het eintlik baie waagmoed nodig om nié die beheer aan God oorlaat nie! Dis tog net Hy wat die hele prentjie ken, wat alles weet en wat die toekoms in Sy hand hou. Dis egter nie te sê as mens net gelate oorgee aan die Here se beheer, dat jy ’n marionet aan ’n toutjie word nie. Neem jou besluite en maak jou keuses asof jy alleen verantwoordelik is daarvoor en laat terselfdertyd alles aan die Here oor asof Hy alleen verantwoordelik is – so sal jou planne in lyn kom met Sy planne vir die verloop van jou lewe. As jy die Here vra om jou besluite dieselfde as sy besluite te maak, sal Hy dit doen en kan jy gerus wees dat jy die regte pad sal vat, kan jy tevrede wees dat niks op daai pad sal wag waarvan Hy nie weet nie, wat Hy nie toegelaat het nie, waarvoor Hy jou nie voorberei het nie, waarvoor Hy jou nie die krag sal gee nie en waarvoor jy nie sal kans sien nie. By elke toe deur, kruispad, hobbel sal Hy gereed staan om jou deur te help. By elke donker  hoekie sal Hy vir jou wag om vir jou die lig aanskakel. “U is die sterkste, U heers oor almal. Daarom kan U die regte besluite oor elkeen se lewe neem. En daarom kan ek nou by U pleit: sorg asseblief dat die regte dinge met my gebeur.” (Ps. 7: 8-9, Die Boodskap) Here, sorg asseblief dat die regte dinge met ons gebeur. ~ Wilna Botha, 07/09/2021

Hoekom straf ons onsself so? Ek dink elke enkele een van ons laat toe dat dinge ons lewe versuur, wat hoegenaamd nie plek in jou kop moet kry nie. Daardie dinge is soms dinge wat nog nie eers gebeur het nie wat ons lewens beïnvloed, maar dis gewoonlik meesal dinge wat in die verlede gebeur het. Ek het nou die dag myself weer uitgevang dat 'n insident wat in standard drie gebeur het waar 'n onderwysers my regtig erg te na gekom het, 'n paar uur kom onkruid plant het in my kop, en ek voer dit lustig met water. Kan jy glo dat iets wat 52 jaar gelede gebeur het steeds soms 'n draai in my kop kom maak? Arme vrou is seker al jare oorlede, maar ek hou daardie enkele insident steeds lewendig. Toe sê ek weereens vir myself: Hou om vadersnaam op! In die Bybel word daar vele van hierdie klein jakkalsies aangespreek, oor bitterheid, woede, onvergewensgesindheid, jaloesie, bekommernis, onverdraagsaamheid en vele meer. Gaan kyk hoe ernstig dit aangespreek word in die vrug van die Gees, en ook Paulus noem dat hy dinge agter hom laat, en hom uitstrek na wat voor lê. Nou sê ek ook: HOU OP!
Iemand vertel my eendag van hierdie situasie wat hy op Candid Camera gesien het: hulle het 'n kamera opgestel by 'n verkoopspunt in 'n winkel, en elke mens wat betaal het, se prys "opgerond"(....R5.60 word R6.00 ens), en die mense se reaksie is toe natuurlik verfilm. Mense wou moord pleeg van woede oor die uitbuitery, partykeer oor net 10 sent! Toe stap 'n man in....lang slierte vir hare, stap met so 'n "rolstappie", so 'n regte "dude". Hulle verkul hom met 80 sent, en toe hy vra hoekom, vertel hulle hom ook dat hulle beleid is om alle pryse op te rond na die volgende dollar toe. Wat is ons "dude" se reaksie? Hy kyk hulle so 'n sekonde of wat aan, betaal die rekening, steek sy hand so op (nogal so asof hy hulle seën!) en sê : "That's cool man....." en slenter weer uit. Almal is baie verdwaas en hardloop hom toe agterna, kry hom terug voor die versteekte kameras en wou toe weet hoekom hy nie soos talle mense voor hom kwaad word oor die kullery nie....Nou luister wat sy beskouing is:
"Look man" sê hy, "I don't let NOBODY rent space in my head!"
Soos 'n plakker wat sy sink kaia kom opslaan waar hy nie moet nie, laat ons negatiewe goed in ons koppe plak.
Hou op om daardie bitterheid wat jy teen iemand het lewendig te hou. Hou op om daardie slegte verhouding met 'n familielid te voer met woede, terwyl jy dalk nie eers meer weet waar dit alles begin het nie. Hou op om jouself te kasty oor iets wat jy self verkeerd gedoen het, en vergewe jouself. Hou op om daardie ding waaroor jy jare terug verleë gevoel het, jou steeds in jou dop te laat kruip. Hou op om die Here se vergifnis oor iets wat jy gesondig het, weg te klap, Hy het die saak lankal afgehandel aan die kruis. Hou op om simpel te voel oor 'n fout wat jy gemaak het, dis net mense wat niks doen nie, wat nie foute maak nie. Hou op om jou geluk te bou op dinge waaroor jy vrees vir die toekoms, dit gaan waarskynlik nie eers gebeur nie. Hou op om op te gee met die hele mensdom, omdat 'n paar mense jou teleurstel. Hou op om op te gee met ons land, omdat jy jou tyd eerder toespits op die slegte dinge wat gebeur, as om die mooi raak te sien. Hou op om jouself waardeloos te ag omdat mense nie vir jou erkenning gee nie, besef eerder dat die Here jou SO spesiaal geskep het, dat Hy net één van jou gemaak het. Dis dalk bietjie tyd vir kop skoonmaak, en om daardie sleepwa met gemors wat jy saamsleep af te pak. Ek weet nie hoeveel tyd jy of ek oor het nie, maar daar is definitief nie tyd vir daardie loodklonte in ons koppe nie. Vra vir die Here om jou te verlos van hierdie goed, dis net te swaar om te dra. En boonop onnodig! ~ Willem Botha, 06/09/2021

“Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.” (Job 38:4) Dwarsdeur die boek Job, bespiegel Job en sy vriende oor die redes vir Job se swaarkry. Hoewel Job daar aan die begin van sy lydenspad ewe mooi gesê het: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21), het hy gou-gou heel negatief geraak oor sy situasie en selfs sy geboortedag vervloek. Hy het nogal opstandig geword en die Here bevraagteken. Hy het begin wonder oor God se regverdigheid en God se goedheid begin betwyfel. Hy het homself jammer gekry en terugverlang na die ou dae toe sy lewe volmaak was. Kan jy dalk hiermee assosieer? Ek dink die meeste van ons maak maar so in tye van uitgerekte swaarkry, waar die pad donker en lank is en die uitkoms onmoontlik lyk. Wanneer die finansies net nie op dreef wil kom nie, ten spyte van al jou dapper pogings. Wanneer die goeie nuus net nie wil aanbreek nie en jy nóg ’n terugslag beleef. Wanneer die dokter jou nóg ’n keer inroep met ’n ekstra komplikasie op jou diagnose. Wanneer die hofsaak uitgerek word en nóg ’n keer uitgestel word. Wanneer jou kind nog ’n keer in die moeilikheid beland. Wanneer die Covid toets sowaar positief is. Dis maklik om aan die begin van die pad te sê: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here”, maar hoe langer dit word, hoe onmoontliker die uitkoms lyk, hoe moeiliker word dit om geloof te behou en te bely dat die Here in beheer is en alles ten goede sal laat meewerk. Dis menslik! Dis nie on-Christelik nie. Dis nie onvergeefbaar nie. Ons sien net nie die wyer prentjie soos God nie, ons ken nie die toekoms soos Hy nie, ons sien en voel net wat hier en nou met ons gebeur. Dis dalk goed om te leer en te oefen om verby jou probleem na die Here te kyk en nie deur jou probleem nie. Dis dalk goed om weer die vrae te hoor wat die Here vir Job (en vir jou) vra: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?” en vele ander vrae in Job 38 tot 41. Miskien kan dit jou help om te besef Hy ís in beheer, Hy ís almagtig, Hy ís sterk, Hy weet alles, Hy weet waardeur jy gaan, Hy gee om, Hy kyk nie ander pad nie, Hy is nie stil nie, al dink jy so, Hy is nie laat met sy uitkoms nie, al voel dit so. Mag jy deur jou swaarkry-pad kom en soos Job sê: “... nou het ek U self gesien.” (Job 42:6) Mag jy deur jou swaarkry-pad kom en êrens in die toekoms, soos Job, geseën word met ’n voorspoedige lewe. ~ Wilna Botha, 02/09/2021

Hoe voel jy vandag, op hierdie pragtige lentedag? Is daar nie vir jou ook so 'n “vibe” in die lug nie? So asof mens kan dink dat iemand wat heeltemal afgesonder is van die wêreld, sonder benul van dag of datum, sal ook hierdie gevoel voel. Lekker warm, blou lug, en bloeisels aan die bome.
Dis 1 September, amptelik lentedag. Die dag waarop ons as kinders by die munisipale swembad gaan swem het, al het ons gevries van die koue. Daarna grondboontjiebotter en stroop toebroodjies geëet. Kaalvoet skool toe, die winter is verby. Ook die tyd wat ons in afwagting uitsien na die eerste lente reëns, net soos die blomme en veld grassies wat afgebrand het, nie kan wag om te spog met hulle nuwe groen kleedjies nie. Ons pak die winterklere weg, skuif die swembroek versigtig nader en wonder hoe ons hierdie wit beentjies so effe bruin kan kry. Dis nou voor die somerson hulle in 'n gesonde koperkleur verander.
Maak ook reg om die wintervetjies af te skud, want ons kan nou nie meer daai onwelkome vetrolletjies met die winterklere verbloem nie. Mmm... maar natuurlik sien ons kans vir 'n lekker draairoomys, sorgeloos wandel in die mall in die vars aandluggie, want die kaggel het nou sy aantrekkingskrag verloor. Die elektriese onderkombers kan ook maar af van die bed af.
Die seisoen het gedraai en ons kan dit al lankal voorspel, want God het weereens getrou gebly en ook hierdie “Ek maak alles nuut...” uit Sy groot genade geskenk. Soos altyd. Hy het nog nooit 'n datum gemis nie en nog nooit die volgorde van die seisoene verander nie. Dis ook nie nodig nie, want Hy het dit volmaak ontwerp.
“Toe het God gesê: Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui.” (Gen 1 : 14)
Pragtig, né? Seisoene is volmaak, en met 'n doel ontwerp. En God onderhou dit.
“U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het, somer en winter is die werk van U hande.” (Ps 74 : 17)
“Dis heerlike lente, die winter is verby, weer nodig die velde vir jou en vir my...” G.G Cillie.
So gaan ons ook deur seisoene. Soms is ons lank vasgevang in een seisoen, soms gaan ons deur al die seisoene in 'n baie kort tydjie. Soms kan ons net nie wag om met 'n seisoen klaar te maak nie. Dikwels raak ons seisoene deurmekaar en soms verander omstandighede ons seisoene in 'n oogwink.
Wanneer herfs aanbreek, droog die somerreëns hier in Gauteng op en die bome gooi hulle beskermende kleertjies af. En dan, wanneer hulle naak en blootgestel staan, in die tyd wat hulle daardie jassie die nodigste het, breek die winter in sy volle felheid aan. Genadeloos. Hulle raak weerloos in die tyd wat hulle so broos is. Die winter hou niks terug nie, swart ryp val met mag en mening aan en saai verwoesting. Snags, wanneer daar geen hulp van die son is om net 'n bietjie hulp te verleen nie, smag daardie boom na somer en na hitte. Water raak skaars en koue winde sny deur die takke. Dis wintertyd, op sy ergste. Het jy ook al so gevoel? In die tyd wat jy die mees weerloos was, slaan die teenspoed toe, genadeloos.
Waar was U Here? Toe ek U die nodigste gehad het? Toe ek SO seer was en SO vuisvoos, was ek stoksiel alleen.
Miskien klink hierdie frase vir jou bekend:- “My God, my God, waarom het U my verlaat? Eli Eli, lama sabagtani”. Jesus aan die kruis, stoksiel alleen, blootgestel, letterlik en figuurlik, want hulle het mos sy bo-kleed gevat en uitgeloot.
My God, waar is U, ek het U aanraking SO nodig, ek smag na die warmte van U nabyheid, Ek wil so graag U arms om my voel. My God, my God...
Ons familie is op 'n tyd deur so 'n wintertyd toe my ma met kanker gediagnoseer is. Terminaal, enige iets van 6 maande tot twee jaar. Winter woorde. Chemo mag dalk help, geen waarborg nie. My God, my God.... Waarom? Wintertyd, yskoud. Watter woorde kan dit beskryf? Hoop loos? Hopeloos? Hulpeloos? Kragteloos? Toekomsloos? Wat wil jy dit noem? My God, my God...
En toe, na slegs drie maande se chemo-behandeling kom hierdie wonderlike nuus, die kanker is onder beheer, bloedtelling ongelooflik verbeter, sy het weer gewig opgetel, en die kanker gewasse is aansienlik kleiner. Later het die winter blitsvinnig teruggekeer en die dood het koning gekraai. Skielik weer winter.
Lentetyd..
My God, my God, U was al die tyd daar! Nuwe seisoen, nuwe lewe, nuwe hoop, 'n toekomsverwagting. Die beskermende kleed is terug, blaartjies en botseltjies, die seisoen het gedraai. Die Skepper wat byna onsigbaar Sy hand op die kroon van Sy skepping gehou het. Hy was nooit weg nie, al wat afwesig was, was Sy afwesigheid.
'n God van tweede kanse, en derde, en honderdste kanse. In hierdie tyd smag 'n tuin na 'n tuinier se hand. Hy wil nou gesnoei word en die verfrommelde kleed moet versigtig verwyder word, want daar is 'n afwagting vir vrug dra. Sy binneste, wat vir lank hierdie verwagting en afwagting moes onderdruk, is gereed om uit te bars en uit te bot. In hierdie wintertyd het sy wortels smagtend na vog dieper en dieper die aarde binnegedring en daar sy water gaan haal. Die water wat God daar versteek het waar dit nie kon verdamp nie. Daar binne-in die takke skuil vrug wat wil uit om weer aan ander lewe te gee. Dis tog immers sy skeppingsdoel.
Maar soms het die seer van die winter net te diep gesny en die seisoen is net te erg om af te skud. Lente wil net eenvoudig nie deurbreek nie, en die vrug sterf nog voor sy geboorte. Dan kom gee die tuinier 'n tweede kans.
Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: "'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: 'Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?' Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap." (Luk. 13 : 6 – 9)
Smag jy ook so na vrug dra? Wil jy ook graag die ou kleed afgooi en nuut beklee word deur die heerlikheid van God? Dan sê God: “Kyk, Ek maak alles nuut...”
Die botsels wat smag om oop te breek, kry 'n tweede kans omdat die Tuinier hom versorg en gereedmaak vir sy somervrugte. Die snoeityd is seer, maar die groeityd is wonderbaarlik.
Miskien voel jy of jy vassit in die kake van die winter, soms voel dit of die finale deurbraak net nie wil kom nie. Het die tuinier dan reeds opgegee? Het Hy die byl gaan nadertrek? Vra vir die Tuinier, smeek om Sy guns, byt vas in die tyd waar mens wil sê: “My God, my God...”  
Luister, raak stil en luister, en jy hoor Hom kom.
"God wandel in die tuin en soek na Sy skepsel wanneer Hy vra:-Mens, waar is jy?" (Gen 3 : 9)
Hy was nooit weg nie, Hy was altyd in die tuin.
Hier is ek Here!!!
Jy sien, die bloeisels en botseltjies is nie afhanklik van die mens se ingrype nie. Al gooi jy nie water nie, sal hy sy wortels diep onder die grond inwurm om te oorleef. Dis nuwe lewe, dis God se werk.
“Somer en winter is die handewerk van die Here“. (Ps 74 ; 14)
“Hier is ek Here...”
En die Here is daar. Swaarkry was nodig, dit gooi ou blare en grasse af, dis snoeityd. Dis God se handewerk. Hy doen dit / laat dit toe, sodat ek en jy daarby kan leer, maar ook om gereed te maak vir ons somer gewaad. Mooi, skoon, vars... “Kyk, Ek maak alles nuut, sê die Here Here” ~ Willem Botha, 01/09/2021

“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46) Hierdie vraag van Jesus stop my elke keer in my spore as ek dit lees. Is die “Here, Here” wat ek uitroep dalk leeg en sonder inhoud? Is dit net lippetaal, is dit net ’n ydele uitroep sonder krag, omdat my geloof dalk versuim het om in dade uit te vloei, soos wat Gal 5:6 sê? (“Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.”) Of het ek dalk só hard probeer met leë offers dat ek skoon nagelaat het om gehoorsaam te wees in die klein dingetjies? (“Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê” - Ps. 40:7) Was ek dalk só besig om ’n groot, selfsugtige huis op die sand te bou dat ek nie gehoor gegee het aan wat die Here gesê het nie?  (“En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het” - Matt. 8:26) Kyk ek dalk in die spieël, sien hoe deurmekaar my hare is, maar ek kam dit nie en vergeet dadelik dat daar fout is? (“Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in die spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.” - Jak 1:23-24) Ek dink dalk ek is mooi godsdienstig met my “Here, Here”, maar eintlik is ek besig om myself te bedrieg. (“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” - Jak 1:22) Vertroebel my ongehoorsaamheid dalk my vriendskap met Jesus? (“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.” - Joh 15:14) Ek dink nie dis nodig vir my om ’n lys van ongehoorsame optredes, gedagtes, woorde en versuim op te noem nie – ons ken hulle. “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” (Mark 4:9) Ek het êrens gelees dat Charles Spurgeon gesê het: “Dit is beter om geloof te hê wat gehoorsaam is, as geloof wat berge versit.” “Gehoorsaamheid aan God lei tot die lewe, dit is 'n pad wat nie na die dood lei nie.” (Spr. 11:28) ~ Wilna Botha, 31/08/2021

Die kleinste, kleinste druppeltjie ink, wat vloei uit die goedkoopste BIC pen, wanneer iemand 'n handtekening maak en/of 'n kruisie trek, het ongekende mag! Dink net hoeveel kontrakte jy al geteken het vir hordes dinge, soos 'n huis, selfoon, motor, jou huwelik, skuld en enige ding waaraan jy kan dink. Dit bly bindend soos wat ooreengekom is tussen die partye. Die oomblik nadat jy daardie pen wegvat van die papier waarop jy teken, staan daardie ooreenkoms vir ewig, of totdat die partye saam toestemming gee dat dit nietig verklaar word. Onbeskryflik kragtig, daardie druppeltjie ink. Maar moenie 'n fout maak nie, 'n gesproke woord is presies net so bindend. Die Here sê immers: laat jou ja jou ja wees.
Nou kyk wat gebeur as jy die Here aanneem met 'n "ja", met net een woord.
"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My." (Openb. 3:20).
Hier word 'n mondelingse ooreenkoms gesluit, 'n nuwe verbond, 'n onbreekbare belofte van die Here, maar dis meer as dit.
Daardie ooreenkoms beseël Hy met sy bloed, 'n piepklein druppeltjie bloed (ink) waarmee Hy jou" merk" met sy handtekening. Bindend, vir ewig, en aangesien daar geen mag hoër as Hy is nie, kan dit nie soos in 'n hof nietig verklaar word nie. Wat meer is, al verbreek jý die ooreenkoms, doen Hy dit nie.
"Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my." (Jes. 49:15-16)
Kyk wat gebeur hier, die Here teken in sy eie handpalm jou naam, Hy maak jou handtekening self in sy eie handpalm en Hy dra daardie kontrak vir ewig en altyd aan sy liggaam. Bindend, vir ewig en altyd.
Laat dit jou nie effe geborge voel nie? Laat dit jou nie ook voel dat jy uiters spesiaal is nie? Jy is knus toegevou in sy hand, en dit alles toe jy net die woord "ja" gebruik het. Jy kan rustig slaap vanaand, jy is heeltemal veilig, daardie kontrak staan vas. ~ Willem Botha, 30/08/2021

Es. 37:3 “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Die Here het vir Esegiël na ’n laagte vol droë bene gebring en vir hom gevra of daar weer lewe in dié bene kan kom. Hy het nie geweet wat om te antwoord nie en sê vir die Here dat net Hy sal weet of dit moontlik is. Esegiël moes toe profeteer oor die droë bene dat die Here vir hulle vleis en senings sal aansit, hulle sal oortrek met vel en Sy Gees in hulle sal inblaas. Dit het toe ook so gebeur. Hierdie was in die eerste plek ’n profesie vir die herstel van die volk, Israel, wat verstrooid, oorweldig en hooploos was. “Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons”, sê  hulle (Es 37:11) Klink en voel dit dalk bekend? Of dalk kan jy assosieer met Dawid in Ps. 6: ek kwyn weg, my liggaam is uitgeteer, ek is heeltemal gedaan, uitgeput van verdriet, huil die hele nag deur, deurweek my bed met trane, my oë het dof geword van verdriet ... Ai, ek voel jammer vir mense wat só swaar kry in hierdie tye. Die vraag in Es. 37:3 is vandag vir ons almal bedoel: Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? Mens, glo jy dat die Here die onmoontlike kan doen? Mens, glo jy dat jy weer voor kan begin, weer nuut gemaak kan word, weer gesond kan word? Mens, glo jy dat jou emosionele wonde kan genees en dat jy weer sal opstaan en weer sal kan aangaan? Mens, glo jy dat jou verdroogde binnekant weer gevoed kan word? Mens, glo jy dat jou harde hart weer sag kan word, dat die Gees van die Here weer sal besit neem van jou hart en gedagtes? Ek hoop jy sal ja kan sê. Ek hoop jou geloof sal jou dra. Ek hoop jy sal nuwe hoop kry. Ek hoop die Here sal die droë bene weer laat lewe kry. Kyk sy belofte in Es. 37:14: “Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here. ~ Wilna Botha, 26/08/2021

Wat het gebeur? Wat het met jou en my gebeur dat daar geen hoop meer is vir ons nie? Wanneer het jy die huppel in jou stap verloor? Wanneer het die toekoms voor jou toegemaak dat jy net 'n stikdonker tonnel sien? Wanneer het jy ophou speel en wanneer het die uitdagings wat jy nog wou aanpak soos mis voor die son verdwyn? Dink aan die lewenslus van 'n kind van 5 jaar oud, wat alles met durf aanpak. Wat het gebeur dat daardie selfde kind op 40 sy eie lewe neem? Wie se skuld is dit? Die antwoord is eenvoudig, die mensdom het hoop verloor! Is daar nog iets waarna jy uitsien? Ek waarborg jou dat die oorgrote meerderheid van mense wat hier lees gaan sê dat daar niks is wat hulle nog opgewonde maak nie. Op 22 Junie 1979 klaar ek uit by die weermag na twee jaar diensplig, en ek sê vir iemand dat alles wat goor was nou agter ons lê, en dat die lewe vorentoe net sorgvry en probleemvry gaan wees. Ek het dit regtig geglo. Nou ja, wat 'n grap! As ek terugkyk was skool en weermag een groot klomp pret, want iemand anders het vir my gesorg. Maar wat het gebeur van toe tot nou? Die lewe raak by die dag meer gekompliseerd, en woep wap is die huppel weg. Toe dink ek vandag diep daaroor, soek na redes en kom tot die volgende slotsom:
* Ons (ja ek ook) spandeer meer tyd op sosiale media as met die Bybel.
* Ons omring onsself met negatiewe mense, verorber fopnuus EN deel dit wyd, en glo enige snert wat opgedis word. Kla is die nuwe nasionale sport. Ons kry al erekleure daarin.
* Ons vergeet heeltemal om klein, mooi dingetjies raak te sien, want die "white noise" raas verskriklik in ons ore.
* Ons hou op om nuwe dinge te doen en aan te pak en het lankal ons "bucket list" opgeskeur.
* Ons sit op die lewens busstop en wag vir die finale bus om ons op te laai na die einde toe.
* 'n Baie groot een - ons sit ons hoop op mense, en ja dit sluit die regering in, hierdie regering wat ons so obsessief haat.
* Kyk jy nog sepies? Ons het dit uiteindelik gestaak. Het jy al gesien dat almal net die hele dag baklei? Hoekom op aarde ander met hulle dramas in jou voorhuis toelaat?
* Nog 'n goor een - ons verlang na die verlede! Kan nie wag dat dit terugkeer nie.
* Hierdie een is tong in die kies. Mense glo tot die "Sterre voorspel" kolomme, bid jou dit aan.
Kyk na hierdie teks.
“Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. " (Deut.4:19a)
Wat bly oor? NET as die Here se kinders hulle hoop op Hom plaas! Hy is in staat om die toekoms vir jou blink te maak en die pad reguit te maak. Maar die goddeloses gaan maar sukkel.
“So gaan dit met hulle wat vir God vergeet. Daar is geen hoop vir die godlose nie." (Job 8:13)
En hier kom 'n enkele teks met 12 woorde en gee vir jou ALLES wat jy nodig het.
" Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop." (Ps. 39:8)
Gaan slaap rustig, jy is in die regte hande. ~ Willem Botha, 25/08/2021

“Wat maak jy hier, Elia?” (1 Kon 19:9) Elia het die wildernis ingevlug en gaan wegkruip onder ’n besembos – bang, moedeloos, depressief, moeg vir alles, nie meer kans gesien vir sy verantwoordelikhede nie, hy het selfs gebid om dood te gaan. Die Here ken hom, Hy verstaan sy emosies, Hy weet waardeur Hy gaan en Hy weet waar hy gaan wegkruip het. Die Here kom na hom toe en vra: wat maak jy hier? Ek dink nie dis ’n verwyt of ’n aanklag of ’n teregwysing nie. Ek dink dit is ’n sagte vraag. Een van belangstelling, meegevoel, van innig jammer wees vir hom. “Moved with compassion” – dis soos wat ons dikwels lees hoe Jesus gevoel het oor mense wat swaarkry, siek, bang, eensaam en verlore is. Waar is jý vandag? Het jy dalk ook fisies of emosioneel of geestelik gevlug en êrens gaan wegkruip? Opgegee op die lewe? Opgegee met mense? Opgegee met drome, ideale en dít waarvoor die Here jou geroep het? Dalk voel jy jy word nie waardeer nie, nie gehoor nie, nie verstaan nie. Ek dink hoe Jesus vir Saggeüs raakgesien het in die vyeboom – wat maak jy daar, Saggeüs? Ek dink hoe Hy die verlamde by die bad van Bethesda raakgesien het – wat maak jy hier? Miskien het Hy selfs vir die vriende wat die verlamde vriend op ’n draagbaar deur die dak laat sak het gevra: wat maak julle hier? En vir Saulus op pad na Damaskus : wat maak jy hier? Wat van Job, daar waar hy alles en almal verloor het en vol verdriet en depressie op die ashoop gesit: wat maak jy hier, Job? Kyk hoe mooi verloop Elia se storie: hy raak aan die slaap onder die besembos en toe kom maak ’n engel hom wakker en sê: staan op en eet. Daar was vir hom kos om hom te versterk en gereed te maak en moed te gee vir die pad vorentoe – veertig dae en veertig nagte tot by die Horeb, die berg van God. Daar het hy in ’n grot geslaap en daar het die Here met hom gepraat. Dink bietjie terug hoedat die Here ook al op wonderbaarlike maniere vir jou voorsien het in alledaagse behoeftes: ’n warm bord kos op die regte tyd, ’n telefoonoproep van ’n vriend toe jy dit só nodig gehad het, ’n inbetaling in jou bankrekening toe jy op ’n laagtepunt was, ’n glimlag, ’n geskenk, ’n bos blomme, ’n bemoedigende WhatsApp. Dis die Here se werking in jou lewe, vriend. Hy weet wanneer jy raadop in jou doodloopstraat is, verdwaal is in ’n doolhof, moedeloos op die ashoop sit, weggesak in die modder lê, verlore in ’n donker put sit. Wat maak jy hier, my kind, sal Hy vra in die fluistering van die windstilte. Hy sal jou fisies, emosioneel en geestelik versterk, Hy sal jou optel, Hy sal die pad vir jou wys, na groen weivelde en waters waar daar rus is bring. Hy gee vir jou nuwe wysheid, maak nuwe deure vir jou oop en laat nuwe planne in jou gedagtes opkom. Ek bid dat jy Hom sal raaksien, dat jy Hom in die “fluistering van die windstilte” sal hoor. ~ Wilna Botha, 24/08/2021

Dit sou darem baie lekker wees as die Here onmiddellik sou voorsien (finansieel, gesondheid, ens.) deur een gebed. Dit sou wonderlik wees as ek al my versekering, pensioen bydraes en mediese skema kon stop want dis totaal oorbodig omdat ek 'n Christen is. Voorts sou ek 'n lewe waar geen ongeluk my tref nie, geen siektes oor my pad kom nie, waar misdaad by my verbyhou en waar ek in relatiewe weelde kan leef nogal kon waardeer. Alles omdat ek 'n Christen is. Jip, DIT sou nou die lewe wees!
Ek lees so baie dat hierdie die strekking is van wat mense aanhang in hulle geloofslewe. Ongelukkig is die realiteit anders. Het jy op enige plek in die Bybel gelees dat Jesus vir mense geld gegee het? Ons lees dat Jesus baie mense wat oor sy pad gekom het genees het, maar daar was seker derduisende ander wat nié sy pad gekruis het nie. Wonderwerke van genesing is volop te lees waar Jesus mense aangeraak het, en Hy groot dinge gedoen het soos deur duisende mense met enkele brode en vissies te voed.
Maar toe gebeur daar 'n absolute skokkende ding wat ek nie kan kleinkry nie. Johannes die doper, dié Johannes wat vir Jesus gedoop het, dié Johannes wat SO opreg en vroom en eenvoudig geleef het, se kop word afgekap!
"Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.” Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel." (Matt 14:6-11)
Absoluut grusaam en skokkend! 'n Bebloede kop op 'n skinkbord, bid jou dit aan! Hoekom op aarde so 'n wrede daad? Daarna lees ons dat Jesus diep bedroef was. Ek wens ek weet hoekom Jesus dit toegelaat het? Ek wens ek weet hoekom bykans al die dissipels vir hulle geloof wreedaardig moes sterf. Ek wens ek weet hoekom Paulus met die spreekwoordelike doring in die vlees moes leef.
Ek wens ek weet hoekom duisende mense twintig jaar gelede in die World Trade Centre moes sterf. Of natuurlik nou met die virus. Ek verstaan nie hierdie goed nie. Maar tog sien ek die Here daagliks in die kleinste dinge raak. Ek sien dat die Here my soms verbaas met klein "bederfies", amper soos toe my ouma destyds 'n lekkergoedjie in my hand gestop het. Ons leef in 'n tyd waar die wêreld soms heeltemal mal raak ('n sê-ding wat ek gereeld gebruik), wat my geloof wil-wil laat wankel, maar dan kom verras die Here my met klein nietighede wat my verbaas. Ja my vriend, ons verstaan baie dinge nie, maar ons sien baie ander dinge raak in ons daaglikse lewe wat sê: Die Here leef! Ek verlustig my daarin. ~ Willem Botha, 23/08/2021

“Wat is jou naam?” (Gen. 32:27) Jakob het by Jabbokdrif dwarsdeur die nag met God geworstel. Teen dagbreek sê Jakob dat hy nie die Here sal los voordat Hy hom nie seën nie. Toe vra die Here: “Wat is jou naam?” Ek wonder nogal hoekom die Here dít vir hom sou vra, aangesien Hy sekerlik geweet het wat sy naam is. Miskien wou die Here hê dat Jakob moet sê wie hy was: bedrieër en uitbuiter, want dít is wat sy naam beteken het. Maar nou gee die Here vir hom ’n nuwe naam. ’n Nuwe lewe. ’n Nuwe doel. Sy naam is nou Israel, “want jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het enduit volgehou.” (Gen. 32:28) Net soos vir Jakob, is daar vir my en jou ook altyd ’n geleentheid om ’n spesiale ontmoeting met die Here te hê, om nuut gemaak te word deur Hom, om ’n nuwe naam te kry, nuwe betekenis, nuwe lewensrigting. “Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou ... Jy sal genoem word: “Die een vir wie die Here lief het.”” (Jes. 62:2-4) Wat is jóú naam? Dié nuwe naam wat die Here self vir jou gekies het? Kind van God, Koningskind, Geesvervulde, Verloste, Geliefde. Dalk is jou naam nou Vredemaker, Raadgewer, Bemoediger, Gestuurde of Boodskapper omdat die Here vir jou ’n spesiale opdrag gegee het. Wat ons vandag met sekerheid kan weet is dat die nuwe naam wat die Here vir ons gekies het ook “Die een vir wie die Here lief het” is. In van die Engelse vertalings sê dit “My delight” of “God is pleased with her”. Hoe mooi klink jou nuwe naam nie! Aanvaar dit in geloof en sien in jou geestesoog dat die Here jou soos ’n sierlike kroon of ’n koninklike tulband vashou en sê: Jy is die een vir wie die Here lief het. ~ Wilna Botha, 19/08/2021

As jy bid, bid jy met geloof? Geloof dat die Here uitkoms sal bring? Bid jy ook dat sy wil sal geskied? Ek is seker jy doen. Bid jy ook dat jy sal berus by sy besluit? En kan jy dan daarmee saamleef? Kan jy dit ook aanvaar dat Hy op sý manier antwoord? Ek glo dat Hy op een van drie maniere ons gebede beantwoord. Ja, nee of wag. Daardie "wag ding" is egter bitter moeilik.
Nou goed, ek aanvaar dat vele mense nie gemaklik gaan wees met wat ek nou gaan sê nie, maar ek hoop dat dit net nugter aangehoor sal word, en ek dink nie ons gaan debat voer hieroor nie.
Ek neem jou meer as 'n jaar terug in tyd, toe ons in "huisarres" was en mense hulle besighede op strepe verloor het, in depressie verval het, die eerste mense siek geword het en die wêreld op sy kop gedraai is. Hoe het ons nie gebid nie! Daar was gebed sessies uitgeroep waar elkeen by sy eie huis op spesifieke tye saam met ander gebid het. Ons het gebid vir uitkoms, selfs vir die regering, en baie, baie ernstig vir mediese personeel wat hulle lewens gewaag het ter wille van ander. Nou vra ek jou, vir watse uitkoms het ons gewag en waarvoor het ons die Here vertrou? Wat dink jy moes gebeur dat ons die oppermagtige God in werking sien? Ons het gebid vir wonderwerke. Watse wonderwerke het mense verwag? Nou hier kom die tameletjie. Minder as 'n jaar later was daar 'n entstof, 'n wonderwerk op sig self. Of liewer, so glo vele, en ek ook. Was die Here se hand betrokke daarin? Of het selfs nie Hy die mag om dit reg te kry nie? Of dalk het die duiwel meer mag en gebruik hy hierdie as "die merk van die dier"?
Ek het nie antwoorde op hierdie vra nie, maar daar is soveel wat my laat wonder. Ek wonder hoeveel mense wat die teorie van die merk van die dier aanhang het dit in die Bybel raakgelees, of op Facebook? Of op 'n video gekry? Nee vriend, ek gaan nie ligtelik hiermee om nie, maar ek dink daar is regtig dinge wat rondgestuur word wat waarlik geen geestelike waarde het nie.
Hierdie entstof is elkeen se eie keuse, en ek respekteer ander se keuses, en verwag dieselfde oor my keuse.
Ek glo die Here doen wonderwerke, groter as wat ons kan dink. Ek glo Hy verhoor gebede, en ja ek verstaan dat alles nie vir almal dieselfde uitwerk nie. Ek wil egter onder geen omstandighede skuldig wees aan 'n ander se dood indien ek hulle met my mening beïnvloed het nie. En dit kan wees na enige kant toe. My gebed bly dat die Here mense se gedagtes en keuses sal lei en dat mense oop is vir sy besluite. En ja, natuurlik ook dat ons hierdie ding sal oorwin. Te veel mense sterf, en te veel sterf onnodig. Mag Hy vir ons wysheid gee. Bly bid en glo. ~ Willem Botha, 18/08/2021

“Wat het jy in jou hand?” (Eks. 4:2) So het die Here vir Moses gevra toe Hy hom nader geroep het uit die brandende doringbos. Moses was vol verskonings en bietjie onwillig om te gaan doen waarvoor die Here Hom gestuur het. “’n Kierie,” het Moses geantwoord en dalk gedink: sien Here, dis net ’n kierie, daarmee kan mens mos nie eintlik iets anders doen as om vee aan te jaag, ’n dwalende skaap te keer of om jouself te stut as jy op ongelyke grond stap nie. Maar die Here het ander planne gehad met dít wat in Moses se hand was. Die Here het vir hom gesê om die kierie op die grond te gooi en toe word die dit ’n slang en die slang word weer ’n kiere. So het die Here vir Hom gewys dat Hy in staat is om meer te doen as wat Moses kon bid of dink. Later sou Moses met dieselfde kierie die water van die Nyl in bloed laat verander; hy sou die kierie in die lug opsteek en ’n haelstorm laat losbars; hy sou die kierie oor Egipte uitstrek sodat ’n sprinkaanplaag sou begin, hy sou die see laat oopkloof sodat die Israeliete droogvoets daardeur kon trek; hy sou met dieselfde kierie water uit ’n rots laat vloei om die volk se dors te les. In die wyer prentjie vra die Here vir ons ook: Wat het jy in jou hand? Dit gaan nie altyd oor wat jy het nie, maar vir wie jy dit aanbied. Dit wat jy in jou hand het en vir God beskikbaar stel, kan vermeerder word, kan bruikbaar word, kan wonders tot gevolg hê, kan meer doen as wat jy bid of droom. Wat het jý in jou hand? Nie eintlik iets nie, kan jy dalk sê. Niks is te klein, te min of te swak as die Here daarmee werk nie. In God se hand word min baie, swak word sterk, arm word ryk, laaste word eerste, nietig word vernaam, verag word verhoog, vuil word skoon, oud word nuut, verlore word gered. Onthou toe daar ’n honger skare was, het Jesus vir sy dissipels gevra: hoeveel brood het julle? Toe word die skare gevoed met sewe brode en ’n paar vissies wat in iemand se hand was. So, wat het jy vandag in jou hand? ’n Beursie met ’n paar rand? ’n Brood en ’n goeie woordjie? ’n Karsleutel en ’n uurtjie se tyd? ’n Kitaar en ’n loflied of twee? ’n Hekelpen en ’n warm kombers in wording? ’n Selfoon met ’n klompie data en lugtyd? ’n Resep en ’n klompie bestanddele? Bordkryt en kennis om te deel? ’n Bybel met Goeie Nuus vir ’n verlorene? Miskien raad vir ’n jongeling? Miskien ’n opbouende woord vir die moedelose? Miskien ’n gebed vir die sieke? Gebruik wat jy het. Die Here sal die beste maak van wat jy beskikbaar stel. ~ Wilna Botha, 17/08/2021

Gebed
Hierdie boodskap is 'n versugting, noem dit 'n gebed of noem dit 'n uitroep na die Here. Dit klink dalk swaarmoedig, maar dis iets wat in my binneste ronddraai en ek probeer hierdie hartsbegeerte met jou deel.
"Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe." (Ps. 90:10)
Tagtig jaar, in 'n oogwink verby. As die lewenshorlosie by nul begin en by twaalf eindig (as jy tagtig haal), is ek reeds verby 9 uur. Tyd stap aan.
Sewentig jaar, maar as jy sterk is tagtig, sê hierdie teks. Dis lank, maar dis ook bitter kort. Ek is soms so bang oor wat kan gebeur. My gebed is dat die Here my sal help om nie hierdie lewe a.g.v. 'n ongeluk te verlaat nie. Ook nie 'n terminale siekte, weens misdaad of van die virus nie. Ek bid dat ek nie armlastig sal sterf nie, of 'n las vir my kinders in my ou dae sal wees nie. Ek pleit by die Here dat my lewe nie met swaarkry en pyn sal eindig nie, en ook nie dat ek al my waardigheid sal verloor in my laaste dae nie. Voorts wil ek nie alleen en eensaam my laaste dae deurbring nie.
Maar hoe dan? Ek kan seker vir jou 'n klompie beter maniere opnoem, maar ek weet een ding, en dis dat dit nie in my hande is nie. Daar is egter dinge waaroor ek wel beheer het, en die verantwoordelikheid lê net by my om werk te maak daarvan.
Ek wil nie sterf as 'n verbitterde mens wat ander vertrap het en weggestoot het en wat verhoudinge vernietig het nie. Ek wil nie net vir myself geleef het nie, en my lewe lank net suurstof gesteel het nie.
Sal my familie dalk sê dat werk voor hulle gekom het, of my ander prioriteite hulle tyd gesteel het? Ek wil nie my laaste dae in swaarkry deurbring omdat ek my gesondheid self benadeel het nie.
Hoe verskriklik sou dit wees as hierdie volgende woorde waar is, uit 'n liedjie waarmee jy grootgeword het. (Piet Smit se weergawe) :
"Moet ek gaan met leë hande
Moet ek so my Heer ontmoet?
Nooit eers een keer vir Hom getuig nie en niks eers te offer aan Jesus se voet
Moet ek gaan met leë hande
Moet ek so my Heer ontmoet
Nooit eers een siel na Hom toe gelei nie en niks eers te offer aan Jesus se voet. "
Was daar tyd gemaak om vir die Here terug te gee? Soek Hy my geld? Nee, Hy soek nie materiële dinge nie, Hy smag na siele, dié rondom jou en my.
Dan laastens wil ek nie hê die Here moet my vra hoekom ek nie my lewe geniet het nie, of hoekom ek dit dalk te laat besef het en nie meer iets daaraan kon doen nie. Kyk wat sê hierdie teks.
"Ek is nou tagtig. Kan ek nog iets geniet? Of kan ek nog proe wat ek eet en drink? Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? Waarom moet ek van my 'n oorlas maak by die koning?" (2 Sam. 19:32)
Wanneer is 'n goeie dag om voluit te gaan met dít wat oor is? Na die virus, of na aftrede? Watter verskonings het ons nie. Ek moet net eers... Eers wat? Ek sal nog eendag... Watter dag?
My grafskrif moet lui:" Hy het nie gelewe om dood te gaan nie, hy het gelééf tot hy dood is." ~ Willem Botha, 16/08/2021

Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” (Gen. 3:13) Sjoe, ek moet sê ek sidder nogal as ek dink die Here moet voor my staan en dié vraag vir my vra! Wat het jy nou gedoen? Wat het jy versuim om te doen? Wat het jy geweier om te doen? Watter verkeerde keuse het jy nou gemaak? Watter afdraaipad het jy nou al weer gevat? Soms sal ek, soos Eva, vinnig reg wees met ’n verskoning of verduideliking, of gou-gou iemand anders blameer, of dadelik myself probeer verontskuldig. Maar ander kere sal ek net my kop in skaamte moet laat sak en nie eers ’n verskoning of verduideliking hê nie. Ander kere sal ek op my knieë val en bely dat ek gesondig het en pleit vir vergifnis. Die Here kán hierdie vraag vandag vir my en jou vra. Hy mag rekenskap eis. Hy mag ons onder kruisverhoor neem. Hy mag ons oordeel. Maar ... Goddank, daar is ’n ander kant. Die genade-kant, die Jesus-kant, die kruis-kant, die uitveër-kant. God het in sy genade vir ons ’n uitveër voorsien - Jesus se bloed. Jesus se bloed vee ons verkeerde dade, woorde en gedagtes uit; al hierdie verkeerde dinge word gekanselleer aan die kruis, in die diepsee gegooi waar dit nie weer uitgevis kan word nie. Hy sê dalk vir ons: wat het jy nou gedoen? Maar Hy sê ook: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18). “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” (Rom 8:1) Die Here se uitveër is beskikbaar vir jou, niks is te groot of sleg of swart vir Hom nie. Hy sê: “Ek het jou oortredings soos mis voor die son laat verdwyn. Ek het jou sondes soos ’n wolk laat verdamp.” (Jes. 44:22, Die Boodskap) Deur Jesus kan ons rein en nuwe mense wees wat elke dag weer ’n skoon bladsy voor ons het, mense wat vry en lig kan lewe, kinders van God wat met vrymoedigheid die pad saam met Hom kan stap. ~ Wilna Botha, 12/08/2021

Ek wonder nogal die afgelope tyd oor die konsep van geloof. Wat is dit, en wat is dit nie? As ek in geloof bid, wat bedoel ek? Wel, jy sal sekerlik sê dat jy glo dat die Here jou gebed aanhoor en daar een of ander uitkoms gaan wees. Nou hier kom die toets. Beteken daardie gebed dat jou geloof so groot is dat jy die Here in beweging bring, en dat alles gaan meewerk soos dít waarvoor jy vra?
Ek het al gehoor dat mense sê dat jy 'n sambreel moet saamneem na die gebedsbyeenkoms as daar gebid word vir reën. Ek het al gehoor dat mense sê jy word nie gesond nie omdat jy nie met genoeg geloof bid nie. Ek hoor vernaam deesdae gereeld dat mense sê dat hulle net op God vertrou om gesond te bly en basta met die mediese wetenskap. Dis sekerlik elkeen se eie keuse wat hy glo.
Ek het egter tot die slotsom gekom dat geloof in twee kategorieë geplaas kan word. In die eerste geval stel die Bybel dit onomwonde dat geloof 'n voorwaarde is vir jou saligheid, en die uitkoms daarvan is gewaarborg, volgens God se belofte.
“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (Hand. 16:31) Feit! Afgehandel.
Maar die ander tipe geloof het geen waarborg net omdat jy dit glo nie. Die Springbokke het nie gewen omdat die Suid-Afrikaners dit geglo het nie, want die ander span het dit ook geglo. Die beste span het gewen. So het ons mos altyd 'n verantwoordelikheid wat saam met ons geloof gaan. My punt is dat ons maar altyd bereid moet wees om te berus by die uitkoms van dít wat ons glo, want as die uitkoms anders is as my geloof in die situasie, moet ek dit mos kan aanvaar. As ek glo dat die Here nie iets spesifiek sal toelaat nie, moet ek dan seker nie daaroor bid nie. Nee dit werk nie so nie, natuurlik bid ek, al glo ek iets sleg gaan nie gebeur met my nie, maar daardie geloof waarborg nie dié uitkoms wat ek begeer nie. Die Here neem daardie besluit. Hierdie teks stel dit vir my mooi.
"Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af." (Spr. 16:9)
Ja vriend, ons glo dat alles ten goede sal meewerk, maar dinge gebeur dikwels anders as dít wat ons glo, en ons moet eenvoudig daarvoor voorsiening maak.
Kyk na hierdie verhaal wat in die boek Daniel afspeel waar Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende oond gegooi word en hulle geloof werklik getoets word.
"Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” (Dan. 3:17-18)
"Selfs as Hy dit nie doen nie..."
Sien jy dat hulle voorsiening maak daarvoor dat die Here dalk nie gunstig op hulle geloof sal reageer nie? Maar steeds hou hulle aan Hom vas. Ja glo met jou hele hart, maar Hý bepaal wat die uitkoms is. ~ Willem Botha, 11/08/2021

“Het jy rede om kwaad te word?” So vra die Here vir Jona in Jona 4:4. Weet jy hoekom was Jona kwaad? Hy was kwaad omdat die Here ’n hele stad gered het. Hy was kwaad omdat die Here genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde is teenoor Nineve se mense. Hy gun hulle nie om te deel in God se genade en redding nie. Sjoe, mens kan dit amper nie glo nie, nè! Jona was die instrument waardeur die Here die stad gered het. Hy was die een wat, ná sy omswerwinge in die vis se maag, vir Nineve gaan waarsku het om hulle te bekeer – bietjie onwillig, maar hy het dit gedoen. Nou is hy kwaad dat die Here genade betoon het. Miskien het hy gedink hulle verdien dit nie. Miskien het hy gevoel hulle kan maar vernietig word deur die ramp. Miskien was hy bang hulle gaan weer ’n bedreiging word vir sy eie volk. Miskien het hy net aan homself en sy eie belange en eie begeertes gedink. Mens sou verwag as ’n hele stad tot bekering kom dat die boodskapper die Here daarvoor sou eer en prys, nie dat hy kwaad sou wees daaroor nie. Dis mos soos met die verlore skaap of verlore muntstuk - as die verlorene gevind word, behoort daar feesgevier te word. Was jy dalk ook al kwaad vir die Here oor die genade en guns wat Hy aan iemand betoon het, iemand wat jy gedink het dit glad nie verdien nie? Was jy dalk ook al kwaad vir die Here as Hy goed was teenoor iemand, terwyl dit vir jou gevoel het of die Here sy hulp van jou onttrek het? Was jy dalk ook al kwaad vir die Here as ’n geliefde sterf, terwyl die boemelaar op die hoek van die straat blakend gesond is? Was jy dalk ook al kwaad  vir die Here as dinge nie volgens jou planne en jou verwagtinge uitgewerk het nie, terwyl dit sulke goeie, edele planne was? Ons kan nie teen God se besluite baklei nie. Ons opstandigheid sal nie God se planne verander nie. Woede teen die Here maak ons blind vir die groter prentjie waarmee Hy besig is, blind om te sien dat Hy alles ten goede laat meewerk. Woede teen die Here maak ons onvergenoegd, keer sy vrede in ons harte, vertroebel ons verhouding met Hom. Woede teenoor die Here werk nie. Het jy regtig rede om kwaad te word? Moenie nóg ’n dag kwaad afsluit nie. ~ Wilna Botha, 10/08/2021

Party dae voel dit vir my moeilik om 'n Christen te wees. Nee definitief nie omdat 'n Christelike pad saam met die Here my ontneem van dinge nie, want dis nie hoe ek voel nie. Maar daar is dae wat ek voel of ek nie regtig die mas opkom nie, want as ek na ander mense se geestelike lewens kyk lyk dit so of dit vir hulle "plain sailing" is, terwyl dit soms voel of ek spartel met my lekkende roeibootjie tussen die riete. Ek haal so graag teksversies aan as mense sukkel met goed, maar dan skud daardie selfde versies my uit my eie bootjie uit. 
Daar staan "wees heilig want Ek is heilig". Hoekom kry ek dit nie reg nie? Ek skiet heeltemal te kort op daardie een. Op hoeveel plekke staan "moenie jou bekommer nie", maar ek kry dit nie reg nie. En ek het daardie tekste al hordes kere gebruik om mense aan te moedig. Daar staan dat jy nie in jou toewyding moet verslap nie, maar soms voel ek koud en verdwaald. Daar staan dat jy al jou vertroue op Hom moet sit, maar telkens gryp ek maar self weer in, want dit lyk my ek vertrou Hom nie regtig vir die beste uitkoms nie. Jy weer mos hoe dit is: Here, hier is my probleem, hier is die beste oplossing, en hou asb. by hierdie tydskaal. Die Bybel sê ons moet vir ALMAL lief wees, maar ek bely dat daar op hierdie oomblik gesigte voor my opdoem vir wie ek hoegenaamd nie lief is nie. Die Here sê in Sy Woord: bid gedurig, sonder ophou, volhard in gebed, maar dikwels is my gebede leeg en sonder krag. Só voel dit. Die Here sê in die Bybel dat ek wyd en syd moet getuig, maar dit het met tyd opgedroog en ek vermy soms eerder 'n gesprek. Die Here sê ek moet my tong in toom hou, nie skinder nie, nie kwaad praat nie, net die waarheid praat, ander bemoedig, lofliedere sing en net positief praat, maar soms voel dit of hierdie orgaan in my mond berserk raak en doen net wat hy wil, so asof ek nie beheer het oor hom nie. Sien jy nou wat doen ek al weer? Dis asof ek vir hom die skuld gee en my distansieer van sy aksies!
En geloof? En twyfel? En moed vir die toekoms? Ek sukkel met al hierdie goed.
Ek weet egter een ding, my identiteit in Christus word nie deur hierdie goed bepaal nie, want as ek met prestasie dit moes verdien, is ek verlore. Daarom kom ek net tot die slotsom dat dit nie soseer gaan oor wat ek reg doen en hoe volmaakte Christen ek is nie, dit gaan oor wat Hý gedoen het, en steeds doen. Ons moet onsself maar net gereeld hieraan herinner. ~ Willem Botha, 09/08/2021

“Waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” (Gen. 16:8) So vra die Engel van die Here vir Hagar, die slavin van Sarai. Sarai het haar sleg behandel en sy het weggeloop. Sy sit by ’n fontein in die woestyn toe die Engel vir haar dié vraag vra. Soos op meer plekke in die Bybel waar dit sê die Engel van die Here het met iemand gepraat, kom mens agter as jy verder lees, dat dit eintlik die Here sélf is wat aan haar verskyn het en met haar gepraat het. As ons dié vraag lees, kan ons dit op onsself ook van toepassing maak. Dalk kom staan die Here vandag by my en jou ook stil waar ons onsself ook al bevind en vra vir ons: waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen? Dalk bevind jy jou vandag ook in ’n woestyn, moeg, rigtingloos en verdwaal. Dalk vertoef jy êrens by ’n fontein in die hoop om gelawe en verfris te word, of om hulp te kry, of raakgesien te word.  Baie keer is dit nodig om bietjie terug te dink aan die pad wat jy gestap het tot waar jy nou is. Dink bietjie daaraan dat die Here jou geskep het, jou beplan en aanmekaar geweef het, soos wat Ps. 139 sê. Dink bietjie terug hoedat jy in ’n seker familie ingebore is, in ’n seker omgewing opgegroei het, hoedat jy ’n seker beroep, lewensmaat, huis, gemeente, ens. gekies het. Dink bietjie daaraan hoe die Here nog altyd vir jou gesorg het, hoe daar altyd uitkoms was, hoe die Here deure vir jou oop en toegemaak het, hoe jou afdraaipaaie jou gevorm het, hoe die Here wonderwerke laat gebeur het, hoe Hy dalk vêr gevoel het, maar jou nooit gelos het nie. As die Here vra: waar kom jy vandaan, of waarmee is jy besig, hoekom is jy hier, dan kan ons maar eerlik met Hom wees, soos wat Hagar was. Waar gaan jy heen? Ek dink nie Hagar het ’n antwoord gehad nie. Sy het sommer net blindelings die pad gevat. En jy? Daar waar jy by die lewensfontein sit, waarheen is jy op pad? Moet jy dalk ook terugdraai en verhoudings gaan regmaak, soos Hagar? Moet jy dalk jou gedagtes vernuwe en met nuwe oë na jou lewe en jou omstandighede en jou toekoms kyk? Moet jy dalk daai ou, vergete passie weer aanblaas en nuut droom oor die toekoms? Moet jy dalk seker maak dat jy op die “regte” pad is, God se pad? As die Here vir jou vra: waar gaan jy heen, onthou dat Hy reeds planne en ’n doel vir jou in gedagte het, soos vir Hagar. Lees gerus daar van vers 10 af wat die Here alles vir haar beplan het. Is jy bereid om Hom te volg en as Hy vra: waar gaan jy heen, te sê: ek gaan waarheen U my lei? ~ Wilna Botha, 05/08/2021

As ek net geweet het. As ek net kan weet wat die toekoms inhou, hoeveel beter sou die lewe nie wees nie. Ek sou presies weet hoeveel ek moet wegsit vir pensioen, ek sou my gesondheid dalk beter opgepas het, ek sou my werksituasie anders bestuur het, ek sou 'n besigheid begin het, of dit dalk eerder gelos het. Ek sou dalk met iemand anders trou, dalk nie kinders gekry het nie, of dalk my kinders anders grootgemaak het. Daar is twee dinge (ja ander dinge ook) wat vir die mens ondraaglik is, en dis onsekerheid en verandering. Ek glo ek het al hierdie volgende beeld hier gebruik, maar ek doen dit weer. Kom ons sê jy kry die geleentheid om op 'n skakel te klik waar die Here sê: As jy wil hê ek moet jou toekoms vir jou openbaar, klik hier. Sal jy klik? Dink mooi vir 'n oomblik, die Here is bereid om al jou vrae oor die toekoms te beantwoord. Sal jy klik? Regtig? Of regtig nie?
Hierdie tye waardeur ons nou worstel maak regtig dat mens uit nuuskierigheid sal klik. Wat sê jy, sal jy klik? Dink hoe jy jou vinger by daai knoppie laat stilstaan en jy wonder: moet ek of moet ek nie?
Ek dink dit sal 'n ramp wees as jy weet, want jou kop maak dan voorsiening daarvoor dat jy dinge anders kan doen en dan is die lewe net beter. Of so dink jy! Maar net dalk vertel daardie dokument vir jou wat 'n geliefde se sterfdatum gaan wees, of die datum waarop jy met 'n terminale siekte gediagnoseer word, of dalk wanneer jou lewensmaat die pad saam met jou beëindig. Of selfs wanneer jy die Lotto gaan wen (ek hoop nie jy speel dit nie), want jy gaan dit alles spandeer voordat dit uitbetaal! Jy gaan nie die stres van die lewe kan hanteer nie.
Ons het nie meer geduld nie, en omdat ons nie kan wag om te weet nie, gaan sien mense sogenaamde "profete", wat in hierdie geval niks anders as waarsêers is nie. Ek het al van soveel mense gehoor wat hulle vingers vreeslik verbrand het.
Vir my is die slotsom om net elke dag in volle vertroue op die Here te wag, om te aanvaar dat slegte goed met ons kan gebeur, en om op te hou om tekens te soek wat jou gemoedsrus kan gee. Oppas vir teksverse wat verdraai word om jou te pas. Oppas vir ander se uitsprake oor jou lewe en wag geduldig op die Here. As jy nou in 'n drukgang is, vra net vir jouself af of die Here jou nie al vele kere in die verlede betyds uit die moeras gehaal het nie. Of dat jy wel deur die diepste waters was, maar die Here het jou daardeur gehelp. Ja, selfs as 'n geliefde se lewe kortgeknip is.
Ja, ek wil ook graag weet, maar ek weet ek mag nie, want dan het ek mos nie meer die Here nodig nie. Hou aan die Here en sy Woord vas.
"U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad…." (Ps 119:105) ‘n Kringetjie lig vir die volgende tree. Nét genoeg vir een tree – nie ‘n “spotlight” nie. ~ Willem Botha, 04/08/2021

“Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God afkom nie?” (Joh. 5:44) Toe ek hierdie vraag lees het dit vir my gevoel of Jesus as’t ware geloof teenoor eie eer, menslike ego, eiegeregtigheid en eie-ekkerigheid stel. Staan dit dan werklik teenoor mekaar, het ek gewonder. Ek het egter besef om eer en erkenning vir jouself te soek vanaf mense en daarvoor te werk, plaas die fokus op jouself en weg van die Here af. Jy en wat jy wil bereik word belangriker as Hy en wat Hy wil bereik. Dit plaas jou fokus op kompetisie met die mense om jou, ja selfs met mede-Christene en mede-bedienaars, soms selfs met jou eie gesin en vriende. Jou verhouding met die Here kom in gedrang wanneer jy alles in die stryd werp om eer van mense te ontvang. Daar is deesdae so baie predikers op YouTube en elders en hulle is in kompetisie met mekaar oor wie die beste aanslag, die grootste gevolg, die meeste “views” en “likes” het. Op die ou einde probeer elkeen nóg iets meer interessant, “nuwe” openbaringe, nuwe preekstyle, net om meer volgelinge te wen. Matt. 6:1 sê tereg: “Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ’n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry.” Dan is daar ook nog die geestelike hoogmoed waarvan mens so baie sien deesdae (ja, ek is ook so! Ongelukkig.) Wanneer jy op ’n sekere manier bid, op ’n sekere manier sing, aan ’n sekere kerkdenominasie behoort, wanneer jy sekere geestelike terme rondgooi, dán kan mense mos weet jy is nou ’n ware en “groot” Christen. Dis dan wanneer jy dalk begin om mense geestelik te beoordeel en veroordeel. Dis dan wanneer jy na ander kyk en dink hulle is nie op dieselfde geestelike vlak as jy nie. Dis dan wanneer jy mense van die Here af wegstoot, eerder as om hulle in te trek in die koninkryk in. Oor die algemeen is dit vir ons (nee, ek moet eintlik sê vir my!) belangrik hoe ander mense my sien, wat hulle van my dink, hoe hulle my komplimenteer en bedank vir wat ek doen. Dis dan dat ek vir myself te belangrik word. Dis dan wanneer mens meer gesteld is op die eer van mense as op die eer wat van God afkom. Waarvoor sal Hy my eer? Wanneer ek gehoorsaam is. Wanneer ek nederig bly. Wanneer die vrug van die Gees sigbaar is my lewe. Wanneer my ja ja is en my nee nee. Wanneer ek vergewe en vergeet, sewentig maal sewe keer. Wanneer ek nie op iemand neerkyk nie. Wanneer ek doen wat my hand vind om te doen en wanneer die regterhand nie eers weet wat die linkerhand doen nie. Wanneer ek net myself is. “Onthou: jou hemelse Vader sien wat jy vir ander doen. Hy sal wel sorg dat jy jou hemelse beloning kry.” (Matt. 6:4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 03/08/2021


Die afgelope klompie dae het net te erg begin raak. Elke enkele dag is daar nog ontsettende hartseer verhale van die verwoesting wat hierdie virus saai. Ek het vandag regtig gevoel ek huil sonder trane en sonder geluide, 'n huil wat hier binne in my woed en wat 'n mens se wese aantas soos nog nooit tevore nie. Dit voel of ek huil oor baie dinge.
Ek huil oor mense wat hospitaal toe gaan en alleen sterf, en oor geliefdes wat dan absoluut verslae na 'n leë huis terugkeer. Ek huil oor die jong verwagtende moeder wat saam met haar baba die aftog geblaas het. Ek huil oor die jong swanger moeder wat dit nie oorleef het nie, maar haar baba is betyds gered. Ek huil oor haar jong wewenaar wat nou alleen daardie babatjie moet grootmaak. Daar is soveel sulke verhale, jy ken dit, dis in jou familie en vriendekring en dit wil nie ophou nie.
Ek huil ook oor besigheidsmense wat hulle ondernemings se deure moes sluit en verslae toekyk hoe jare se werk in 'n oogwink tot niet gaan, en hulle werkers op straat los. Hoe hanteer mens daardie skuldgevoelens?
Ek huil oor mense wat net nie meer lig in die tonnel sien nie en besluit om eerder nie verder te probeer veg nie, en 'n einde aan alles maak.
Ek huil oor kinders wat moet hoor dat die ouers bykans glad nie meer in hulle behoeftes kan voorsien nie.
Daar is egter iets wat my bykans meer hartseer maak. Ek huil oor soveel mense wat steeds nie hierdie ding ernstig opneem nie en dit as samesweringsteorieë afmaak. Ek huil as ek sien dat mense nie álles in hulle vermoë doen om saam te werk om hierdie ding te oorwin nie. Ek huil daaroor dat mense roekeloos met ander omgaan sonder om te besef dat hulle eintlik moord pleeg en net niks daaroor voel nie. Ek huil daaroor dat soveel mense voel dat hulle strepie mos maar in elk geval getrek is, maar nie daaraan dink dat hulle naasbestaandes in smart agtergelaat word nie. Ek huil as ek hoor dat mense "ongehoorsaam" alle regulasies ignoreer, want hulle weier dat die regering hulle voorskryf wat om te doen.
Ek huil ook as ek sien hoe mense oorlog met mekaar maak omdat hulle sieninge verskil, en dan meer teen mekaar veg as teen hierdie onsigbare vyand! Ai, is dit die moeite werd?
Daar sal baie trane val voordat dit sal beter gaan. Ek en jy het vele mense vir 'n laaste keer gesien, of 'n laaste oproep na iemand toe gemaak en dit nie besef nie. Kan ons nie maar net 'n bietjie langer vasbyt en ons kant bring nie? Is dit nie dalk die moeite werd om onsself net 'n bietjie langer dinge te weerhou om meer mense lewendig anderkant uit te bring nie? Mense sê graag die sterftesyfer is net 2%, slegs 2 uit 'n honderd sal sterf. Watter twee mense wat jy ken kan maar gaan? Dalk jou ouers, lewensmaat of kind?
Vriend, doen asseblief ALLES wat jy kan, nie net vir jouself nie, maar vir ander ook.
Ons moet op die Here vertrou, ten volle, maar Hy verwag sekerlik ook van ons om verantwoordelikheid op te tree. ~ Willem Botha, 02/08/2021

“Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees?” (Jes. 40:13) Die antwoord op dié vraag in Jesaja is sekerlik ’n onomwonde “niemand”. Ons weet ons God is verhewe bo alles en almal. Hy was nog altyd daar en as daar niks oor is nie sal Hy nog steeds daar wees. Die Begin en die Einde. Alfa en Omega. Skepper van hemel en aarde wat alles in standhou, wat die sterre tel en sorg dat geeneen van hulle ontbreek nie.  Die Almagtige wat alles in sy hand hou. “Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie is in staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?” Nóg ’n rits vrae oor die onverklaarbaarheid, onverstaanbaarheid, grootheid van God soos wat ons dit in Rom 11:33 lees in Die Boodskap. Weereens is die antwoord op elkeen van daai vrae ’n onomwonde “niemand”! My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here in Jes. 55:8. Hy is God en ons is mens. Maar ... toe kom daar ’n “maar”. Ons lees dié “maar” in 1 Kor. 2:16. “Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.” Die Here het sy Gees in ons harte uitgestort. Sy Gees wat ons leer en wys en lei. Sy Gees wat vir ons ietsie laat verstaan van sy genade, van sy liefde, van sy gedagtes, van sy optrede. Sy Gees wat ons help om dinge geestelik te beoordeel en geestelik te verstaan. Sy Gees wat die Woord vir ons lewendig en verstaanbaar en prakties maak. Sy Gees wat ons help om dieper in ’n situasie in te kyk. Sy Gees wat vir ons die regte woorde gee om oor Hom te praat. Sy Gees wat ons help om sin te gee aan die onverklaarbare. Sy Gees wat ons help om die onverstaanbare in geloof te aanvaar. In die Engelse vertalings sê 1 Kor. 2:16, “But we have the mind of Christ”. Hoe ongelooflik is dit nie! Belyn jou “mind” met Sy “mind”, jou gees met Sy Gees, jou wil met Sy wil, jou gedagtes met Sy gedagtes, jou emosies met Sy emosies. Laat Hy jou gedagtes herskryf. Laat Hy jou verstand beheer. Laat Hy jou emosies oorneem. Laat Hy jou gesindheid bepaal, want ons, ons het die Gees van Christus! ~ Wilna Botha, 29/07/2021

Lewende lyke
Dalk het jy ook al langs die liggaam van 'n afgestorwe persoon gestaan, en jy sal saamstem dat dit baie onaangenaam en hartseer is. Ek het die voorreg gehad om by albei my ouers en my suster te wees toe hulle oorlede is en dit was baie hartseer, maar tog was daar 'n groot stuk vrede om daar te wees toe hulle hulle aardse lewe op 'n mooi en positiewe manier afgesluit het. Daar was ook 'n ander geleentheid wat ek afgestorwenes gesien het, waarvan ek die gesig eerder wil vergeet, maar ek kan nie. Dit was na 'n missielaanval op die grens waar 10 jong manne hulle lewens op 'n aaklige manier verloor het, en daardie gesig is verskriklik en ek wil dit nooit weer sien nie.
Daar is egter 'n ander gesig wat baie meer traumaties is, en dis om lewende mense te sien wat deur woorde vermoor word. Die volmaakte moord. Die skuldiges kom letterlik met moord weg en kan nie vervolg word nie, hulle dra geensins die gevolge nie en is dikwels reeks-moordenaars. Dit word gewoonlik oor lang tydperke gepleeg en dikwels weet niemand buite daardie misdaad-kring van die toedrag van sake nie. Is ek reg as ek sê dat die manlike geslag meer hieraan skuldig is as andersom?
Daisey De Melker het haar slagoffers oor 'n lang tydperk vergiftig, en dit het met geweldige lyding gepaard gegaan, net soos met mense wat hulle slagoffers met woorde vernietig. Stadig, dag vir dag, bietjie vir bietjie, woordjie vir woordjie. Soms is dit deur beledigings wat bitter seermaak, baie keer oor die uiterlike van die persoon wat veronderstel is om gekoester te word "till death do us part". Maar die genade van die fisiese dood wil net nie kom nie.
Die magtige sweepslae van die tong word nie net ingelê met gifpyle van woorde nie, maar ook met stilte. Daardie tye waar die ander persoon totaal geïgnoreer word en dis net so erg, want dit breek die waardigheid van die persoon net soveel af. Om die woorde "ek is lief vir jou" te weerhou, is net so sleg soos slegsê-woorde. Om erkenning en woorde van bemoediging te weerhou, het al menige kinders tot selfmoord gedryf. Deur niks te sê nie, beteken dat die ander nie waardig is om erkenning te kry nie. O wee en dan die lekker geskinder, waarvoor ons so lief is. Hoeveel mense se lewens word nie hierdeur verwoes nie.
Vriend, het jy al ooit vir jou kinders (in gesproke woorde) gesê dat jy trots is op hulle en dat jy lief is vir hulle? Sê jy gereeld vir jou huweliksmaat dat jy lief is vir hom/haar? Of is slegsê en afkraak makliker as aanmoediging? Wat van alewige sarkastiese woorde? Dis net so erg. Of werk die verskoning vir jou dat jou ouers jou nie geleer het om dit te doen nie?
G'n wonder die Bybel sê die volgende so prontuit nie:
Jak 3:6 "Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek." ~ Willem Botha, 28/07/2021


Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed?” (Mark 10:18) Ek weet ek is nou buite die konteks van dié vers, maar toe ek hierdie vraag lees het ek gewonder wat sou ek sê as die Here vandag vir my sou vra: Waarom noem jý My goed? Ek het agtergekom dat ek baie keer sê die Here is goed vir my en dat ek in omtrent elke gebed vir Hom dankie sê vir sy goedheid. Ek sal bv. sê die Here is goed vir ons dat ons nog nie Covid opgedoen het nie, dat dit goed gaan met ons besigheid, dat dit goed gaan met ons kinders, dat ons ’n gelukkige huwelik het, dat ons genoeg lewensmiddele het, dat ons onsself kan warm hou in hierdie koue dae, ens. Toe wonder ek, wat dan as enige van dié goeters nie so goed uitgewerk het vir my nie, is die Here dan nie meer goed nie? Wat sê iemand anders oor die Here se goedheid as hy by ’n geliefde se sterfbed staan, as hy met ’n ongeneeslike siekte gediagnoseer word, as hy skeihof toe moet gaan of deur ’n skelm oorrompel word? Ek hoop as ek in so situasie kom, sal ek nog steeds kan sê: Hy is God en Hy is goed. “A statement of hope and an announcement of faith” noem iemand dit as jy met jou hele hart kan bely dat God goed is, al lyk dit nie so nie, al voel dit nie so nie. As ek sê God is altyd goed, al lyk dinge nie so goed nie, is dit nie omdat ek in die bres wil tree vir Hom, of sy kant wil stel of Hom probeer verdedig nie, dis omdat ek eenvoudig glo Hy is goed omdat Hy God is. Hy is goed want sy liefde is onbegrens. Hy is goed want sy genade is onverdiend en onverklaarbaar. Hy is goed want Hy is alomteenwoordig, alwetend en alwys. Hy is goed want die vrede wat Hy gee gaan alle verstand te bowe. Hy is goed en daarom laat Hy alles ten goede meewerk. Hy is goed want Hy dra jou deur die dal van doodskaduwee en aan die ander kant gee Hy vir jou ’n ewige blyplek in die hemel. Hy is goed want Hy dra jou deur die dal van doodskaduwee en aan die ander kant droog Hy al jou trane af. Ken jy dié liedjie wat sê: “May your struggles keep you near the cross, and may your troubles show that you need God, and may your battles end the way they should, and may your bad days prove that God is good, let your whole life prove that God is good.” God is vol goedheid teenoor jou. Ek hoop jy sal aanhou om op sy goedheid staat te maak. ~ Wilna Botha, 27/07/2021

Ek lees in die boek Josua hoe hy en ander verspieders deur Moses uitgestuur is, en Josua het die Here vertrou dat hulle Kanaän sou kon verower. Van die ander het egter in angs verval. Hy skryf die volgende baie jare later: "Ek het die Here my God getrou gevolg, en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’ “Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig, maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom."(Josua 14:8b - 11)
Sjoe, op 85 sien hy nog vir baie kans! Hy voel net so sterk as toe hy as verspieder uitgestuur is toe hy nog 'n jong man was, en hy sien selfs nog kans om oorlog te maak en om behoue terug te kom.
Die lewe raak al hoe meer van 'n uitdaging, en ek dink ons almal voel soms na opgee en boedel oorgee. Waarvoor sal ons al ons energie in 'n land vermors wat lyk of daar geen toekoms is nie? Alles loop dan net verkeerd. Wel vriend, dis baie se persepsie, en ek stem nie daarmee saam nie. Daar is net een oplossing, en dis skouer aan die wiel sit en werk aan die toekoms. Daar waar jy is, daar waar jy bly en daar waar jy kom, kan jy 'n verskil maak. Nou kyk, as Josua op 85 selfs nog vir oorlog kans sien, kan ons seker ook ons eie probleme help oplos. Ek is hartseer as mense gaan lê en net nie meer 'n "purpose" het nie.
Daar is 'n Japanese woord, Ikigai, wat doel (purpose) beteken. Dit beteken "alive", "life", benefit", "worth". Dit sê so baie. Het jy nog 'n doel (Ikigai) in jou lewe? Streef jy nog iets na wat vir jou elke dag 'n rede gee om op te staan en vorentoe te gaan?
As ek en jy soos Josua wil sê dat ons nog reg is vir groot uitdagings, sal ons deur 'n positiewe bril na die toekoms moet kyk. Ons probleem is dat ons sê ons sal eendag gelukkig wees, AS....... Wat "as" ookal mag beskryf. Ons sal nog eendag, of wanneer hierdie virus en krisisse verby is, of as daar 'n nuwe regering kom, of as die verlede weer waar word, DAN sal ek weer lewe. Genade maar ons kan vashou aan iets wat nie kán wees nie. Klink 85 vir jou oud? Dis ís seker oud, maar as jong mense nie meer die moed en vasbyt het van mense van 85 nie, dan is dit nag. Lees weer hierdie woorde.
"Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God."
Saam met die Here is jy nooit te oud, of te swak, of gedaan om vorentoe te gaan nie. Dié wat bereid is om te werk en positief te bly, het 'n wonderlike toekoms in hierdie land! Het jy vanaand 'n dak oor jou kop? Kos in die kaste? Gesond? Mense wat vir jou lief is? 'n Werk? Dink jy jy sal dit volgende jaar steeds hè?
Ek vra maar net... ~ Willem Botha, 26/07/2021

“Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie?” (Jes. 5:4) Op ’n paar plekke in die Bybel kry ons dié metafoor waar die Here met die landbouer/boer/eienaar van ’n wingerd vergelyk word en ons die vrugteboom, of die wingerd of die loot aan die wingerdstok is. Van die wingerd word natuurlik vrugte verwag, anders is dit nutteloos en kan dit uitgekap word. Hier in Jes. 5 sê die Here juis dat Hy alles vir sy wingerd gedoen het, maar dit lewer nie vrug op nie. Nou gaan die wingerd nie meer gesnoei of geskoffel word nie, die beskermende omheining gaan verwyder word, dit gaan oorgeneem word deur doringbosse en onkruid, want die wingerd het nie sy kant gebring nie. Gelukkig weet ons dat die Here uiteindelik wel nóg iets vir sy wingerd gedoen het. Hy het sy Seun gestuur om as Tuinier tussenbeide te tree. Die gelykenis in Luk. 13:6-9 vertel só mooi hoe die Tuinier vir die onvrugbare vyeboom pleit by die Eienaar. Die Eienaar: sê kap hom uit, hy het al vir drie jaar nie vrugte gedra nie, maar die Tuinier vra vir uitstel, Hy tree in en pleit vir genade. Hy onderneem om die boom te versorg met ekstra aandag, nog bietjie omspit, nog bietjie bemesting, nog ’n jaar se grasie om vrugte op te lewer. Dis ons Middelaar, Jesus wat só pleit vir ons, vriende. Ons is die boom wat dit keer op keer vryspring om uitgekap te word. Dis ons wat elke dag ’n vars porsie genade kry sodat ons weer kan opstaan, weer ons blare kan regskud en weer probeer. “’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook nie uitdoof nie.” (Matt. 12:20) Al voel ons swak, nutteloos, onbruikbaar soos ’n geknakte riet of ’n kers wat dof brand of ’n onvrugbare vyeboom, is daar altyd weer ’n tweede kans in die Here se genade. Hy doen dit vir ’n tollenaar, vir ’n owerspelige vrou, vir ’n moordenaar, ’n duiwelbesetene en ’n verraaier. Hy doen dit vir siekes, melaatses, ongelowiges en twyfelaars. Hy sál dit ook vir my en vir jou doen. Die Tuinier is langs jou. Bly staan in die wingerd. Volhard. Druk deur.  ~ Wilna Botha, 22/07/2021

Het ons almal nie in hierdie afgelope jaar of twee (en in besonder onlangs), uitgeroep na die Here nie? Hoeveel oproepe is daar dat ons moet terugdraai na God toe? Hoeveel mense glo in hulle binneste dat die Here ons straf en kwaad is vir ons as Hy slegte goed toelaat? Ek dink ons almal gaan maar effe deur 'n diep donker dal in ons geloofslewe, en baie sukkel om vas te hou aan God. Ek het gewonder hoe sou ek "draai terug na God" definieer as iemand my sou vra. Het ons dan regtig weggegaan van Hom af? Dien ons ander gode? Beskou ons ons Christenskap as waardeloos as alles donker word? Het jy dalk jou bedanking uit die Christelike geloof aan Hom voorgelê? Nee vriend, ek glo dit glad nie! Net soos ek twyfel jy dalk ook egter soms 'n bietjie.
Hoe dan nou? Wat beteken terugdraai? Wel, sommige mense dink jy moet goeters begin doen en baie goed los, en dit is natuurlik wat ons in elk geval moet doen.
Die probleem is as ons naarstiglik die wet wil onderhou om God se guns te wen. En dít my vriend, is nie vir enige van ons moontlik nie. Kyk hoe ernstig Paulus hieroor skryf.
"Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” (Gal. 3:10)
Dit is 'n mondvol, en ek besef net ek is totaal verlore omdat ek bykans geen van die gebooie van die wet kan onderhou nie, en die Here verwag dit hoegenaamd nie van ons nie, want daarvoor het Hy juis vir Jesus as ons Redder gestuur. Maar sien ek Hom raak in hierdie tyd? Ja, duisend maal ja, al is daar geweldige droefheid en hartseer by vele mense. Ek het nog nie by een van daardie gebroke mense gesien dat hulle wegdraai nie, inteendeel, bykans almal getuig van die Here se wonderbaarlike nabyheid. Het jy dalk ook ervaar dat Hy jou gebede bonatuurlik verhoor? Ek gooi net 'n bietjie 'n klip in die bos en wil groot asseblief nie hieroor redekawel nie. Ek maak die stelling dat miljoene mense gebid het vir uitkoms met hierdie virus, en 'n ongelooflike wonderwerk het plaasgevind toe daar in 'n rekord tyd 'n vaksiene gekom het. Toe ons gister ons tweede spuit kry het ek die Here opreg met trane in my oë gedank daarvoor. 0.6ml entstof (die twee dosisse saam), en dit maak 'n verskil. Ander glo weer dis die merk van die dier, of 'n geldmaak foefie of hordes ander dinge. Hoekom sou God nie miljoene se gebede verhoor en 'n wonderwerk laat plaasvind nie? Ek aanvaar natuurlik in liefde as jy van my verskil.
Terug na terugdraai:
* Ek wil ophou staatmaak op my eie kragte.
* Ek wil weer my hand in sy hand sit en toelaat dat Hy my lei.
* Ek wil ophou boedel oorgee en negatief wees, en Hom ten volle vertrou.
* Ek wil alles doen wat ek moet, en dan toelaat dat Hy die werk doen.
* Ek wil Hom elke dag prys vir sy grootheid, ten spyte van swaarkry.
* Ek wil ophou om sy weë te bevraagteken.
* Ek wil dankbaar wees vir die kleinste dingetjies wat ek raaksien. Daar is SO baie daarvan.
* Ek wil getuig van sy grootheid.
* Ek wil sy hande en voete wees waar Hy my wil gebruik.
* Ek wil die silwer rand om die donker wolke raaksien.
* Ek wil vertrou op 'n goeie, normale toekoms.
* Ek wil weer elke oggend vrolik opstaan met 'n lied in my hart, en die dag saam met my Skepper wandel. ~ Willem Botha, 22/07/2021

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help en gou ook!” (Luk. 18:7) Jesus het hierdie gelykenis van die weduwee en die regter vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word (vers 1). Sonder ophou, dag en nag sê ander tekste. En jy? Hou jy nog aan, of dink jy gebed werk nie? Dink jy die Here het doof of moeg geword vir jou gebede? Verlede week sien ek hierdie peiling van solidariteit op Facebook: bid jy vir Suid-Afrika, vra hulle. En met alles wat verlede week aangegaan het, van onluste, vernietiging, brande, plundery tot hewige stryd teen hoë Covid-syfers dink ek dit was ’n gepaste vraag. Van die 173 kommentare wat ek gesien het, het net 2 persone gesê nee, hulle bid nie, want dit help nie. So paar het gesê mens moet bid én doen en nog iemand het tereg gesê ons moet áltyd bid, nie net as daar ’n krisis is nie. Dit het my hart so warm gemaak om te sien dat mense weet (en onthou) waar hulle hulp vandaan kom. Verlede week het ek beleef hoedat ons paniekerig, bang en angstig geword het. Dit was net so ’n dag lank wat dit vir my gevoel het ons asems is weggeslaan deur die krisis en toe begin mens hoor van vrywilligers wat opdaag om winkels te beskerm, op te ruim, kos aan te ry en ander praktiese hulp te verleen, toe begin mens sien van mense wat van geboue se dakke af oor reuse luidsprekers die Here se Naam proklameer en van werkers in ’n winkel wat op hulle knieë staan en sing “all to Jesus I surrender” en van mense wat deur ’n winkelsentrum stap en sing “sing with me how great is our God”! Dit was asof mense omgeslaan was vir ’n dag of wat, maar toe doelgerig opstaan, moed skep en hoop uitgrawe en oë na die Here draai en wéét Luk. 18:7 is waar: “Hy sal hulle help en gou ook!” En ek het weer my geloofshart geprogrammeer om dít te onthou vir die volgende krisis wat mag opduik. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha, 20/07/2021

Hoeveel tyd spandeer ons nie aan nuttelose praatjies oor die dinge wat pas afgespeel het nie? Wat 'n mors van tyd! Dalk dink jy ook dis SO onregverdig dat mense slegte dinge doen en skotvry daarvan afkom. Maar weet vir seker, hulle gaan nie hou nie, hulle gaan vasdraai in hulle eie ongeregtigheid, en eendag verdwyn hulle soos mis voor die son, in 'n oogwink. Dis mos baie beter om eerder jou geloof in God te behou, al lyk die ander pad makliker, en ek is seker dat jy sal saamstem dat jy eerder verkies dat die Here vir jou sorg. Jy het alle rede om te jubel oor die feit dat jy Hom ken, Hy gee jou immers meer as wat jy nodig het, of hoe? Elke oggend as jy opstaan, kan jy jou hand in syne sit en jy sal definitief nie verdwaal nie, die pad wat Hy wys is die beste pad! Wat meer is, Hy sal jou goeie lewe aan ander uitwys, selfs aan die mense wat jou nou so op hol jaag. As jy jou voor God verootmoedig, hoef jy nie toe te laat dat hierdie verwoesters jou vreugde steel nie, dis onnodig. En kwaad word help net mooi niks, dit trek jou gedagtes weg van die mooi wat daar nog is. Ja, die slegte goed wat mense doen is onaangenaam, maar hulle gaan nie hou nie, dit kán nie hou nie! Die Here se kinders, dié wat goed doen, sal oorleef en in vrede verder leef. Dalk het jy ook al gevoel die onregverdiges verafsku jou, maar wat die Here van jou dink is al wat saak maak. Die Here gee jou nié oor in hulle mag nie, Hy is 100% aan jou kant. Jy wil sekerlik eerder min besittings hê, en baie van die Here hê, as andersom. Dalk dink jy slegte mense sal altyd oor jou heers, maar hulle doppie is eintlik klaar geklink. Die Here ken jou deur en deur, en Hy sorg vir jou en jy sal altyd genoeg hê. Die Here se vyande sal in rook en vlamme opgaan, jy wil nie een van hulle wees nie...
Hierdie gedagtes wat ek hier neergeskryf het kom uit Ps. 37:1-20 wat ek in my eie woorde verwoord het, gaan lees dit gerus. Jy sal saamstem dat hierdie Psalm presies geskryf is vir tye soos dié. Die Bybel is tydloos, die beloftes van die Here is elke dag kraakvars, sy liefde en versorging sal vir altyd staan en Hy sal altyd aan jou kant wees. Hy verander nie, en sy Woord bly staan ten spyte van wát alles in die lewe gebeur. Maak gerus staat daarop. ~ Willem Botha, 19/07/2021

“Hoe is dit dat jy bang is vir ’n sterflike mens, vir ’n mens so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het ...” (Jes. 51:12) So  vra die Here vandag vir ons en herinner ons om weg te kyk van mense en ons vrees vir wat hulle aan ons kan doen en te kyk na Hom wat ons gemaak het. ’n Paar verse vroeër sê die Here van daai mense: “Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word, soos wol wat deur vismotte verniel word.” (Jes. 51:8) Is dit dan nou iets om voor bang te wees, vra ek myself? As ek na die nuusgebeure van die afgelope paar dae kyk, is ek bang. Maak ek Facebook oop sien ek die een inskrywing na die ander met die slegste nuus oor onluste en vernietiging, met mense wat buite beheer is. En ek is bang, want hoe erg kan dit nóg raak? Hoe gaan dit gestop word? Net eergister nog was die hoofnuus en my grootste bekommernis die virus en sy vernietigende pad. Voor dit was dit werkloosheid, korrupsie, geweld, noem maar op. Nou is daar al weer iets nuuts. En ons kan seker wees daar wag nóg slegte nuus op ons in die toekoms. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie, waarsku Jesus in Matt. 6:34 wanneer Hy sê ons moet ons liewer nie bekommer oor môre nie. Die hemelse Vader gaan vir ons sorg, belowe Hy in vers 26. Dit alles klink effe ge-yk en vir sommige dalk na leë woorde. Baie sal sê hulle soek nie nou Bybelversies nie, hulle wil nóú sy hulp en beskerming en sorg en redding prakties sien uitspeel. Ek voel ook so, maar besef toe êrens in my bangheid dat ek net daai woorde soos ’n kind moet glo, dat ek dit wat die Here sê en wat die Woord sê moet aanvaar as ‘n geloofswaarheid wat ’n werklikheid gaan word. Geloof berus tog op dít wat ons nog nie kan sien nie, maar waarop ons met ons hele hart hoop. Geloof glo dat wat die Here sê die waarheid is en dat Hy sal doen wat Hy beloof. Geloof vra herprogrammering van my bang-brein met die Here se woorde. En Hy sê: “I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down and relax my hold on you, assuredly not.” (Heb. 13:5, Amplified Bible) I will not, I will not, I will not, assuredly not! Ek glo dit. Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen? (Heb. 13:6) ~ Wilna Botha, 15/07/2021

So word ek vanoggend wakker en dink: basta met hierdie negatiewe gedagtes en swaarmoedigheid wat so in die lug hang, en ek besluit om te Google oor Endorfiene, die sogenaamde "goedvoel" chemikalieë wat jou brein soms vrystel. Hierdie goed is deel van jou liggaam, en ek dink die Here het dit ontwerp sodat die mens soms so bietjie beter kan voel ten spyte van alles wat gebeur. Mnr. Google vertel toe vir my dat jy verskeie goed kan doen om 'n lekker "shot" van hierdie goed in jou liggaam vry te stel. Die eerste een is 'n lekker rondte oefening, enigiets wat jou hartklop opjaag. Dan ook meditasie, 'n lekker blok donker sjokolade (vir my kan jy met enige sjokolade in 'n wip vang), 'n goeie dosis lag, musiek (vir my klipharde Golden oldies deur oorfone) , sonlig, 'n lekker stort of bad (in hierdie tyd warm met baie badskuim), lekker emosies wat jy kan beleef as jy aan mooi dinge terugdink, 'n massering en dan om iets goed te doen vir ander. An act of kindness.
Nou ja, jy moet darem eers 'n klomp negatiewe goed uit jou kop verdryf voor dit werk. Kyk wat stel die Prediker voor as hy sê daar is 'n tyd vir alles.
Pred. 3:4 "... 'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans... "
Lag en dans, baie belangrik, en as jy op my ouderdom probeer dans, lag jy sommer vanself.
Nou ja, die nuusberigte verdryf daardie Endorfiene sommer blitsig, behalwe as jy ook dáár humor raaksien. Soos die persone wat die peperduur sitkamerstel buit, maar dit pas toe nie in sy sinkplaat huis nie. Of die ou wat die reuse TV gryp, toe kry hy dit nie in sy motor nie.
Pred. 2:26 "Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap."
Spr. 10:28a "Vir die regverdiges lê daar vreugde voor..."
Spr. 17:22" 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput."
Nou ja, daar is baie goedvoel verse in die Bybel en ons het dit soms nodig.
Gaan ons ooit weer sorgeloos wees soos dekades terug? Dalk nie, maar ons kan tog so bietjie broei oor die verlede en toelaat dat dit 'n glimlag op jou gesig sit. Dink bietjie terug aan tye wat jy (onwillekeurig) jou naam met 'n plank geslaan het, die eerste keer toe jy verlief was, die dag toe jy jou eerste motor gekoop het, toe jou kinders gebore is, jou eerste val van jou fiets af, buite speel tot donker, op die gras lê en sterre kyk, en o wee, daai "garage parties" van weleer. My ma het gesê ons seuns het soos vraagtekens gelyk as ons met die meisies "close" gedans het, want ons was lank en lomp en hulle nog kort van gestalte hier in matriek rond.
Ja, daar is baie goed wat nog vir ons 'n glimlag op die gesig kan sit, as ons dit net toelaat. Ek is oortuig dat jy nou ook 'n paar lekker dinge onthou het en 'n snaps Endorfiene in jou ingepomp is. Lekker om so in die verlede rond te wandel né, maar hoor wat sê Prediker.
Pred. 7:10 "Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie."
Wel, op die oomblik voel hierdie teks so bietjie moeilik om te aanvaar, maar ek is seker dat jy oor 'n klomp jare van nou af gaan terug kyk na hierdie tyd en sê: Dit was goeie ou dae... ~ Willem Botha, 14/07/2021

“Waarom het u na My gesoek?” So vra die twaalfjarige Jesus in Luk. 2:49 vir sy ouers. Hulle het vir drie dae na Hom gesoek terwyl Hy in Jerusalem in die tempel geluister het na die geleerdes en hulle uitgevra het. Dalk voel dit vandag vir jou of Jesus weg is, dalk soek jy ook al drie dae, drie weke of drie jaar na Hom. As Hy vanaand vir jou sal vra: waarom het jy na My gesoek, wat sal jou antwoord wees? Of dalk kan die eerste vraag wees: hét  jy na Hom gesoek? Het jy dalk uit hulpeloosheid en uit angs en uit radeloosheid na Hom gesoek, dalk blindelings rondgetas en uitgeroep: waar is U dan Here? Is jy só desperaat om Hom te vind, soos wat Dawid in Ps. 63:2 was: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water ...” (Ps. 63:2)? Waarom het jy na Hom gesoek? Het dit vir jou gevoel Hy is weg, Hy luister nie meer nie, Hy het sy rug gedraai, of erger: Hy bestaan nie? Of het jy Hom gesoek omdat jy weet dat Hy die enigste oplossing vir jou probleme, die enigste antwoord vir jou vrae is? Het jy Hom gesoek omdat jy verlore of in ’n doodloopstraat is?  Het jy Hom gesoek omdat Sy genade al is wat jou kan red? Waar het jy Hom gesoek? “Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here” (Jer. 23:24). Ef. 4:10 “... nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.” (Ef. 4:10, Die Boodskap) Vanaand wil ek dít net oor en oor vir myself sê, dit in my gedagtes inbrand, oor my hele hart skryf sodat ek Hom oral kan raaksien. Ek moet aanhou glo dat Hy by my is en my nie alleen sal los nie. “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Jos. 1:9); “As jy deur water moet gaan, Ek is by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur die vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie” (Jes. 43:2); “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Heb. 13:5) Ek wil met volle vertrou sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” (Ps. 23:4) ~ Wilna Botha, 13/07/2021

Die land is aan die brand, die virus woeker, die mense is moedeloos en die regering is kragteloos. Skielik het daar nóg 'n vyand hom langs die ander een kom staan maak en mergel ons tot in die siel uit. Hoe hou mens goeie moed in hierdie tyd? En hoe vertel ek vir my gesin dat alles oukei gaan wees? Hoeveel mense het nou al hulle werk verloor en hoeveel besighede het tot niet gegaan? Hoe erg gaan hierdie onluste raak en wat gaan mense weer tot kalmte bring? Hoe erg gaan dit word voor dit beter sal gaan? Ek weet nie, ek voel eintlik nie om eers om te probeer om iets opbouend te skryf nie, want wat sê ons vir mekaar? Ek is bang ek raak goed kwyt wat ek self betwyfel. Vir dekades lank het die probleme nie so naby aan ons lyf kom nes skrop soos nou nie, al het ons dikwels so gedink. Dalk voel jy ook dat die Here sy rug op ons gedraai het, soos wat dit hier in Klaagliedere staan.
"Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op 'n pad sonder lig. Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag. Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek. Hy het my toegebou met 'n muur van gif en ontbering rondom my. Hy maak die donker my tuiste, ek is soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie, Hy het vir my swaar bronskettings aangesit. Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor. Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie. Hy is soos 'n beer wat my inwag, soos 'n leeu wat my voorlê, Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê. Hy het sy boog gespan en my 'n teiken vir sy pyle gemaak. Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet." (Klaagl. 3 : 1 - 13)
Ons is met die rug teen die muur, ons kan nie omdraai nie, en ons kan nie vorentoe, agtertoe, links of regs nie. Al wat oor is, is op boontoe.
" Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." (Ps. 121:1-2)
Kyk op na die Here, ons hulp is daar. Waarheen anders gaan ons kyk? Mense kan ons nie meer help nie, maar die Here het nog altyd planne gehad en dit betyds uitgevoer. Die Vader weet alleen, daar is niks anders om aan vas te hou nie. Ek simpatiseer so half met die persoon wat eendag gesê het: Ek hou vas aan die geloof, net-net!
Maar tog sal daar weer 'n silwer randjie om die donker wolk kom, en ek bid dat dit gou kom.
Jammer vir die swaarmoedige boodskap. ~ Willem Botha, 12/07/2021

“Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?” ( Jes. 40:28) ’n Vraag soos hierdie laat mens mos vinnig regop sit, kop gedraai, sodat jou goeie oor vorentoe wys, want jy wil mos mooi hoor wat nou gesê gaan word! Weet jý iets wat ek nie weet nie? Is dit dalk ’n vars stukkie skindernuus? Is dit dalk ’n nuwe openbaring? Is dit dalk weer slegte nuus? Het iets groot gebeur? Is daar ’n nuwe deurbraak of uitvindsel? ’n Vraag soos hierdie laat mens voel of jy dalk besig is om iets groot en belangrik te mis, omdat jy nog nie gehoor het nie. Kyk wat volg alles op hierdie vraag in Jes. 40. Het jy nog nie gehoor dat die Here die ewige God is nie? (vers 28) Dalk het jy dit al gehoor, dalk het jy dit êrens in jou jong dae geglo, maar dit vergeet of verwerp. Hoor dit dan nou weer want dit is die waarheid. Het jy nog nie gehoor dat die Here die Skepper van die hele aarde is nie? (vers 28) Jip, dis waar! Hy het met die spreek van ’n woord alles tot stand gebring en nou hou Hy dit alles in die holte van sy hand. Jy hoef nie presies te verklaar hoe hy dit gedoen het om dit te aanvaar en te glo nie. Het jy nog nie gehoor dat Hy nie moeg raak nie? (vers 28) Hy raak nie moeg om genade te betoon nie, Hy raak nie moeg om te help nie, Hy raak nie moeg om jou te dra nie. Hy raak nie moeg vir ons hulpkrete nie. Hy raak nie moeg om God te wees nie. Nooit nie. Het jy nog nie gehoor dat Hy dié versterk wat nie meer kan nie? (vers 29) Dié wie se knieë lam raak, wie se moed min raak, wie se hoop verwelk. Dié wat val en struikel. Dié wat benoud voel en glad nie meer ’n uitweg sien nie. Het jy sy uitnodiging gehoor: “Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is ...”? (Matt. 11:28) Dit voel vir my soos ’n slagveld daar buite, ek wil-wil paniekerig raak as ek hoor van nóg iemand wat Covid het, nóg iemand wat in die hospitaal opgeneem word, nóg  iemand wat dood is, nóg, nóg ... en dan is daar nog die porsie “normale” bekommernisse en probleme wat elke dag inhou ook. En dan vra ek vir myself: Het jy nog nie gehoor dat dié wat op die Here vertrou nuwe krag kry, met arendsvlerke vlieg, nie moeg en afgemat raak nie ... Hy versterk dié wat nie meer kan nie? (vers 31) Ek het gehoor! Nou is die tyd om dit met my hele hart te glo en met my hele wese daaraan vas te klou. ~ Wilna Botha, 08/07/2021

"Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus - vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê "manne van die donder" - Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het." (Mark 3:13-19)
Hierdie was Jesus se dissipels, en hulle was spesifiek genooi om baie naby aan Hom te wees. Hoewel Hy lief was vir elkeen wat sy pad gekruis het, het Hy hierdie 12 manne baie naby aan sy lyf toegelaat. Ons kan sê hulle was in sy binnekring, en hulle was ingenooi om daar te wees.
Ek en jy het ook 'n binnekring, mense wat jy baie naby aan jou hart toelaat, en wat nader is as ander. Dink aan 'n boom se jaarringe, daar is 'n senter, en dan ringe wat al hoe verder na buite kring. Nie al jou vriende, of selfs jou familie, is noodwendig in daardie binnekring nie. Hulle kan dalk so van die tweede of derde kring hulle plek vind, en hoe minder jy met mense te doen het, hoe verder weg is hulle in hierdie kringe.
Maar nou is daar 'n probleem, dit is dat mense soms op jou pad kom wat met alle geweld in jou binnekring wil indring, en hulle hoort nie daar nie. Ongelukkig is ons mense met gevoelens en emosies en voel skuldig om nie almal baie naby aan jou binnekring toe te laat nie. Moenie daardie skuldgevoelens toelaat nie, en beskerm gerus daardie "amper heilige" plekkie. Jy het mense wat jy werklik kan vertrou nodig en met wie jy jou hart vertroulik kan deel. Jy kan vir seker nie elkeen wat jou pad kruis se laste help dra nie, jy kan definitief nie almal wat daarvoor vra op jou gebedslys plaas nie, en jy kan onmoontlik nie almal se probleme gaan oplos nie. En ja, respekteer maar ander se binnekringe ook.
Een ding wat egter vas staan, is dat jy in die Here se binnekring is, want toe die voorhangsel geskeur het, het jy vrye toegang tot Hom verkry. Dis 'n wonderlike wete, maar ons as mense het beperkings en moet daarvolgens handel, sonder om skuldig te voel. ~ Willem Botha, 07/07/2021

"Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?” So vra die Here in Jes. 49:15. Die antwoord is sekerlik “nee”. Ek dink nie ’n vrou wat geboorte geskenk het, sal ooit vergeet dat sy ’n kind in die wêreld gebring het nie, selfs al is die kind nie meer daar nie, selfs al moes sy hom dalk opgee, selfs al het dié kind haar later verwerp of teleurgestel. Die Here sê: “Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.” Hy het ons gemaak, vir ons die lewe gegee, sy lewensasem in ons ingeblaas en Hy sal ons nie vergeet nie. Hoe gerusstellend is dit nie. Dit kan dalk vir jou voel asof almal van jou vergeet het. Almal gaan aan met hulle eie dinge, gee aandag aan hulle eie mense, jaag hulle eie doelwitte na en jy is vergete, alleen, eensaam, weggegooi. Dink daaraan dat jou naam in Sy handpalms geskryf staan en dat Hy aan jou dink, dat Hy jou nader trek met daardie hand, dat Hy daardie hand op jou skouer en om jou hart sit en sê: Ek sal jou nooit vergeet nie. Sy liefde vir ons is sterk. “U liefde vloei soos ’n rivier oor ons hele lewe”, sê  Ps. 36:8 in die Boodskap. Niks kan daai rivier van liefde, van onthou, van aandag stop nie. Letterlik niks kan ons van sy liefde skei nie. Wie (wat) kan dan teen ons wees of ons onderkry? “Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n tekort aan klere, gevare, of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge nie!” (Rom 8:35, Die Boodskap) Nie een van hierdie dinge nie, want Hy sal jou nie vergeet nie, jou naam is op sy hand geskryf. ~ Wilna Botha, 06/07/2021


Elke mens, vernaam in hierdie tyd, het só 'n groot behoefte aan 'n bietjie hoop waar die donkerte dreig om ons te oorval. Ongelukkig word ons só gebombardeer met slegte goed wat "triggers" is wat ons gemoedstoestand in 'n oomblik na rommelstatus afgradeer. Hoeveel moet ek doen om 'n verskil te maak?
Vanoggend het ek en vroulief in ons woonbuurt gaan stap en ons sien hierdie boompie, waaraan 'n klompie maskers hang, voor 'n huis staan met 'n uitnodiging om een te neem om jou gesin te beskerm. Hoe ongelooflik is dit nie? Hoe 'n groot verskil maak dit nie. Iets so klein wat eintlik so nietig kan lyk, maar dis iemand wat omgee.
Baie jare gelede, toe ons dogter in die laerskool was, skryf sy en haar maatjie boodskappies op stukkies papier met woorde soos "Jesus is lief vir jou", "Die Here is my herder" en nog vele goedjies wat ons vergeet het, en deel dit uit onder hulle maatjies. Baie vinnig het vreemde kinders ook gevra vir boodskappies en hulle kon nie byhou om te skryf nie. Wilna het toe naderhand vir hulle plakkertjies gedruk en hulle kon eenvoudig nie voorbly om uit te deel nie. Eventueel het vele van die onderwysers ook kom vra vir plakkertjies. Dis ORALS geplak, op tasse, boeke, penneblikkies, selfs op hulleself en vinnig kon jy orals op die terrein plakkertjies sien. Ons sal nooit regtig weet vir wie dit wat beteken het nie, maar ek glo dit het aan vele 'n verskil gemaak. Daar is soveel verhale van hoop, en ek glo daar word in hierdie tyd vreeslik baie gedoen deur mense, en soms is dit iets klein. As ons ligdraers wil wees, hoef ons nie lamppale en stadionligte rond te dra nie, 'n klein kersie is genoeg om die donker wat mense tans beleef, te help verdryf. Deel 'n plakkertjie uit deur middel van jou selfoon, bied 'n woord van bemoediging aan, vra uit na mense se welstand, en doen net iéts. Jy ken sekerlik die "pay it forward" beginsel. Deel van jou oormaat seën uit aan ander wat hulle tans op die ashoop bevind. Ons het mekaar só nodig. Miskien is jy en ek vandag dié manier wat iemand vir Jesus kan raaksien. ~ Willem Botha, 05/07/2021

“Waarom roep julle so benoud na My?” (Eks 14:15) Dis baie gerusstellend om te weet dat die Here hoor wanneer ons uit ons benoudheid na Hóm uitroep. Wanneer dinge rondom ons net te erg is om te verduur en ons geen uitkoms of oplossing sien nie, dan vra die Here: “Waarom roep julle so benoud na My?” En ons kan dan maar ons benoude hart voor Hom uitstort, want Hy sê in Ps. 50:15 “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Dit is beslis waar, MAAR ... lees Eks 14:15 verder en jy sal sien dat die Here se antwoord aan Moses is om vir die Israeliete te sê dat hulle verder moet trek.  Hy paai hulle nie, Hy haal hulle nie uit die vrees-omstandighede uit nie, Hy maak nie alles eensklaps vir hulle beter nie. Nee, Hy sê: doen wat julle moet doen. Trek verder. Lees bietjie Eks 14:15 in die Living Bible: “Then the Lord said to Moses, “Quit praying and get the people moving! Forward, march!” Sjoe! Dit klink nogal kras nè. Hulle het genoeg geroep en genoeg gebid, dis nou tyd om aksie te neem. Dalk sê die Here dit vandag vir my en jou ook: Ek het jou gebed gehoor, maar nou moet jy opstaan en aksie neem. Jy moet as’t ware meewerk om jou gebed beantwoord te kry. Ek dink nogal dat mense partykeer gebed bietjie as ’n verskoning gebruik om nie self iets te doen nie. As jy bid vir jou veiligheid, moet jy tog seker die deure sluit en die alarm aansit. As jy bid vir jou finansies, moet jy tog seker elke dag opstaan en hard werk. As jy bid vir ’n werk, moet jy tog seker jou CV uitstuur en opdaag vir werksonderhoude. As jy bid vir jou gesondheid, moet jy tog seker gesond eet en ongesonde gewoontes laat staan. As jy bid vir genesing, moet jy tog seker dokter toe gaan, medikasie neem of ’n operasie oorweeg. As jy bid vir eensames of mense in nood, moet jy dalk die een wees wat ’n besoek gaan aflê of ietsie te ete gaan uitdeel. As jy bid dat Covid syfers moet verminder en minder mense sterf, moet jy tog seker jou masker dra, by die huis bly,  kontak met ander mense vermy en aanmeld vir jou inenting wanneer dit jou beurt is. Gaan weer bietjie terug na Eks 14. Die Here sê hou op bid en trek verder en wanneer hulle daaraan gehoor gee, dán maak Hy vir hulle ’n pad deur die see (vers 21), dán neem die Engel van God plek in voor en agter hulle (vers 19), dán is die wolkkolom daar as hulle beskerming (vers 20), dán word hulle gered en sien hulle hoe hulle onderdrukkers oorwin word (vers 30). Bid sonder ophou, maar begin beweeg, wees gehoorsaam en die Here sal vir jou ook ’n pad maak deur die water, deur die woestyn. Begin beweeg en beleef hoedat die Here sáám met jou werk. Begin beweeg en sien die verhoring van jou gebed. ~ Wilna Botha, 01/07/2021

Dis so wonderlik as ons onsself en mekaar aan die Here se beloftes herinner! En ons herinner Hóm ook aan sy beloftes. Dink vir 'n oomblik watse emosie by jou opkom as jy hierdie paar woorde lees: "die Here hou sy beloftes."
Dalk 'n warm gevoel in jou hart? Voel jy gekoester en beskerm? Dis hoe ek voel. Kom ek herinner jou aan 'n mooi belofte, deur God gemaak.
"As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel. As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk." (Deut. 28:1-2)
Pragtig né? Hy sal jou lewe verryk.
Maar...
"As jy nié luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nié al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref: Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld. Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel." (Deut. 28:15-17)
En nog meer...
" Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem." (Deut. 28:21)
En in 'n oogwink verloor hierdie boodskap van hoop sy glans! In Exodus lees ons van die tien plae. Hierdie virus waarmee ons nou worstel voel vir my soos die elfde plaag, en hy kom net nie tot rus nie, inteendeel, dit raak net erger!
Vriend, ek probeer nie beweer dat die Here ons wêreld nou tref met hierdie ding omdat ons so afvallig geword het nie, maar jy sou dalk saamstem dat ek wel so 'n afleiding uit Deuteronomium 28 kon maak.
Het ons nie voorspoed as vanselfsprekend begin aanvaar nie? Miskien is dit tyd om weer oor alles te besin.
Miskien moet ons net vir mekaar herinner dat dit tyd is om terug te draai na God toe. En dit moet begin by my en jou. ~ Willem Botha, 30/06/2021

“Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?” (Matt. 16:26) Die Ou Afrikaanse Vertaling sê : “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” Dit laat mens dink aan die uitdrukking: waarvoor sal jy jou siel verkoop? As jou lewe en siel aan die Here behoort, is dit in elk geval nie joune om te verruil of te verkoop nie! Dié teks laat my dink aan ’n weegskaal. Aan die een kant is jou lewe (siel) aan die anderkant die wêreld. Watter kant van jou weegskaal is die swaarste? Wat sal jy prysgee om Jesus te volg? Aan die ander kant: wat is daar in die wêreld wat vir jou belangriker is as Jesus? Wat plaas jy dalk in die plek van jou verhouding met Hom? Dis moeilik vir my om vir jou goeters op te noem – jý sal weet wat dit is, maar dis meestal maar dinge soos rykdom, wêreldse genietinge en kortstondige plesiertjies, eer en aansien,  eie ek en eiegeregtigheid. Die teks impliseer dat die siel die belangrikste is (natuurlik, want dit is wat ewig sal voortbestaan) en dit wat die wêreld kan bied waardeloos is as dit in terme van die ewigheid gemeet word. Die wêreld kan nie kompenseer vir die siel nie, want dis kortstondig en tydelik, dit kan nie as losprys dien vir die siel nie, want die siel is veels te “duur”. As jy jou siel verkoop het, waarmee gaan jy dit ooit weer kan  “terugkoop”?  Jesus ken die prys van ’n siel, want Hy het met sy lewe daarvoor betaal. Hy ken ook die koste van die wêreld, want Hy het dit alles geskep. Vir Hóm is die siel die belangrikste en op die weegskaal swaarder as die wêreld. “Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” (1 Tess. 5:23) ~ Wilna Botha, 29/06/2021

"Toe die Amalekiete by Refidim teen Israel kom veg het, het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manskappe en gaan veg môre teen die Amalekiete. Dan sal ek op die top van die heuwel gaan staan met die kierie wat God my gegee het, in my hand.” Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg." (Eks. 17:8-10a)
Ek sien in my geestesoog hoe hierdie twee weermagte teen mekaar te staan gekom het. Ek sien 'n denkbeeldige lyn wat tussen die twee groepe getrek was, en toe 'n teken gegee is, het hulle op mekaar afgestorm, ramshorings geblaas en tromp-op met mekaar geveg, en duisende het gesneuwel. Elkeen het geveg vir sy saak.
Ek sien in my geestesoog nog 'n oorlog, waar twee groepe teen mekaar oplyn, en gereed maak vir 'n oorlog. In die een groep is ons, die Christene, mede volksgenote, families, "ons mense", Suid-Afrikaners, Afrikaners, mense wat teen een of ander gemeenskaplike vyand te staan kom. In die ander groep is 'n klomp vyande, die Covid virus, antichriste, inentings, dogma, wondermedisyne, verskillende twispunte. Noem dit wat jy wil.
En dan, as die teken gegee word, storm ons nie op die vyand af nie, nee ons draai na mekaar en val mekaar verwoed aan met ons swaarde, want ons stem nie saam oor dít waarteen ons eintlik staan nie. Ons baklei oor ja of nee vir die inenting, ons verskree mekaar oor verskille in ons geloof, ons trek mekaar se integriteit in twyfel omdat een glo die virus bestaan regtig en die een glo dis 'n komplot teen die mensdom. Ons baklei oor die Bybelvertalings, ons veg oor interpretasies van teksverse en gun mekaar nie 'n mening nie. En om alles te kroon, gaan sit ons hierdie gevegte op sosiale media voort. Sommer so in die openbaar.
Ja vriend, hier staan die "vyand" grynslaggend aan die ander kant van hierdie oorlog-lyn en bekyk die grootste geveg denkbaar, en sien hoe hierdie mense wat moet saamstaan mekaar verwoes. Hulle veg teen hulle eie mense, en die vyand staan verstom oor wat hier afspeel. Hy hoef nie oorlog te maak nie, hy staan net en kyk na die verwoesting.
"Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie." (Gal. 5:15)
Is dit (nee ons) nie verskriklik nie? ~ Willem Botha, 28/06/2021

“Is daar nie twaalf uur in ’n dag nie?” (Joh. 11:9) Hierdie is nóg een van Jesus se vrae waarvan die antwoord tog voor die hand liggend is, maar ’n vraag wat ons bietjie moet laat dink oor die beskikbare ure van ons dag. Terwyl dit lig is, sê Hy, moet ons doen wat ons moet doen, moet ons doen wat ons hand vind om te doen. Terwyl ons nog ’n  vandag beskikbaar het, moet ons die beste maak van die tyd, want jy weet nie of môre kom en wat oormôre inhou nie. Ek het bietjie vir myself afgevra: hoeveel van my twaalf uur vermors ek op bekommernis en planne maak vir goed wat in elk geval nie gaan gebeur nie? Hoeveel minute gaan verlore omdat ek kerm en kla, of negatiewe gedagtes het, of kwaadpraat en skinder oor ander? Hoeveel tyd word gewy aan myself, aan my huis mense, ander mense en hoeveel aan die Here? Hoeveel tyd lees ek nonsens op Facebook en hoeveel tyd lees ek die Bybel? Ek ken ’n paar mense (en ek doen baie keer dieselfde!) wat altyd vir jou sal sê hoe besig hulle is. Vat nie grond nie, werk tot laat, slaap te min, is doodmoeg, het tyd vir niks ... En tog het ons almal dieselfde ure en minute in ’n dag. Die Here het vir ons almal dieselfde hoeveelheid tyd in ’n dag gegee – wat maak jy met joune? Die Here het vir ons ’n ritme van dag en nag gegee... dit was aand en dit was môre, soos wat ons in Genesis lees. Hy het vir ons ’n ritme van werk en rus gegee... ses dae moet jy werk en op die sewende dag moet jy rus. Prediker 3 sê mos ook tereg dat elke ding in hierdie wêreld sy tyd het. ’n Tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterf, ’n tyd om te praat, ’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek, ens. Die geheim is dat ek en jy moet onderskei wanneer ons wat moet doen. Ons moet prioriteite bepaal en vir onsself vra of iets dringend of belangrik is en of dit oukei is om vir ’n slag die dringende goed bietjie op ys te sit, sodat die belangrike goed kan inpas in die twaalf ure van die dag? Wanneer moet jy jou werk onderbreek en gaan koffie drink saam met iemand? Wanneer moet jy al die ernstige dinge los en bietjie lag en dans? Wanneer moet jy jou rustyd onderbreek om iets vir iemand anders te gaan doen? Ontvang elke oggend jou dag se ure uit die Here se hand en maak die beste gebruik daarvan. ~ Wilna Botha, 24/06/2021

Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.
Wilna herinner my dikwels daaraan dat mens baie versigtig moet wees as jy (by wyse van spreke) die pen op papier sit, vernaam as jy kwaad is vir iemand. En met vandag se digitale media kan jy dit "wat daarbuite is" nooit weer uitvee nie. As jy iets lelik of afbrekend geskryf het kan dit vir altyd teen jou gehou word. Natuurlik is dit ook van toepassing op mooi goed wat jy skryf. Met Jesus se kruisiging het daar 'n treffende gebeurtenis rondom dit afgespeel.
"Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.” Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.” (Joh. 19:19-22)
En kyk nou, dit wat Pilatus geskryf het staan vandag nog op miljoene platforms verewig. Mens kan selfs aflei dat Pilatus daardeur wil sê dat hy vir Jesus erken het as die Koning van die Jode. Pilatus se woorde kan nooit ooit weer tot niet gemaak word nie. En so het God die Bybel tot stand gebring, verewig op papirusrolle, op papier, op leervelle, op mure en glase, op digitale media en enige denkbare plek waar sy woorde aangehaal of gekopieer kan word. Wat Hy geskrywe het, het Hy geskrywe, en Hy het baie goed geweet dat daardie woorde vir ewig en altyd sal bly staan, en Hy kan aan al sy beloftes herinner word, en geen "nuwe inligting", wetenskaplike ontdekkings, of enige ander geskrifte sal sy woorde moet kan uitdaag nie. En tot vandag, staan dit wat Hy geskrywe het vas, niemand kan enige streep deur sy woorde trek of verkeerd bewys nie.
Wat Hy geskrywe het, het Hy geskrywe.
"Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek..." (2 Tim. 3:16) ~ Willem Botha, 23/06/2021

“Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” (Joh. 18:34) So vra Jesus vir Pilatus toe dié vir Jesus vra of Hy wel die koning van die Jode is. As Jesus dit vir Hom vra is dit ’n “toets” of hy regtig weet wie Jesus is. En ek en jy? Wéét jy waarlik, uit eie ondervinding, wie Jesus is? Wéét jy dit met hart en verstand? Of praat jy maar net agter mense aan? Glo jy omdat jou ouers geglo het, of omdat jou man glo, of omdat jy in die kerk sit, of weet jy uit jou eie ervaring en jou persoonlike verhouding met Hom, wie Jesus is? Het jy Hom raakgesien toe jy die Bybel gelees het? Het jy Hom hoor praat toe jy na ’n preek geluister het? Het jy met Hom gepraat toe jy gebid het? Het jy sy teenwoordigheid ervaar toe jy sy lof  besing het? In Matt. 16:13 vra Jesus vir sy dissipels: “Wie, sê  die mense, is die Seun van die mens?” En dan vra hy in vers 15 vir hulle: “Maar julle, wie, sê  julle, is Ek?” Hy wil weet of hulle maar net agter “die mense” aan praat en of hulle sélf weet wie Hy regtig is. Petrus antwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Sjoe, hy het gewéét wie Jesus is. Hy het Hom gesien. Hy het Hom gevolg. Hy het geluister na sy prediking. Hy het sy wonderwerke beleef. Hy het op die water saam met Hom geloop. Dis nie ’n mens wat dit aan hom geopenbaar het nie, maar die Vader in die hemel, sê  Jesus vir hom. Hy kan dit uit eie ervaring en uit sy naby verhouding met Jesus bely en nie omdat hy net die regte antwoord êrens by iemand gehoor het nie. Dit laat my ook nou dink aan die vrou by die put met wie Jesus gepraat het. Sy het dorp toe gehardloop en vir almal van Jesus gaan vertel. Hulle het tot geloof in Hom gekom en vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (Joh. 4:42) Hulle het nou sélf ’n verhouding met Jesus, hulle het nou sélf gehoor, sélf verstaan en kan nou sélf bely dat Hy die verlosser is. Het jy nog net gehoor wie Jesus is, of wéét jy? “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” (Ps. 34:9) ~ Wilna Botha, 22/06/2021

Wat is jou Isak?
In Gen. 22 lees ons die aangrypende verhaal van Abraham wat vir Isak moet gaan offer, en dan, net toe hy die mes vat om vir Isak te slag, voorsien die Here uitkoms en seën hom deur 'n alternatief daar te stel.

Gen. 22:1 “'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”
2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”
9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout.
10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: “Abraham, Abraham!”
Hy het geantwoord: “Hier is ek!”
12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”
13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.
14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

Abraham moes iets uiters kosbaar voor die Here gaan neerlê, en die Here het bonatuurlik voorsien.
Wat is jou Isak? Daardie ding wat jy voor die Here moet gaan neersit en ten volle op Hom vertrou vir uitkoms? Dit het absoluut geen sin gemaak dat Abraham vir Isak moes gaan offer nie, want hy kon 'n lam gaan offer het. Maar hy het maar net absoluut op die Here vertrou. Wat moet jy blindelings uit geloof voor die Here gaan neersit en vertrou op sy seën?
Dalk trek jou huwelik swaar en jy kry die konflik net nie opgelos nie. Gaan sit dit dan voor die Here neer en staan terug. Net dalk los Hy die probleem op 'n wonderbaarlike manier op, met so min pyn as moontlik.
Dalk moet jy jou werk situasie of besigheid voor Hom neerlê. Dalk is jy so moeg gespartel en so moeg geveg, dat jou arms lam geword het. Nadat jy alles gedoen het wat jy kon doen, gaan sit dit op die altaar neer en wag vir uitkoms.
Dalk is jou gesondheid situasie jou Isak wat jy moet afstaan aan die Here, en wag op uitkoms, sonder om op te gee.
Dalk is een van jou kinders dít waarvoor jy die Here moet vertrou vir 'n deurbraak.
Dalk is jy siek en sat gespook met die swaar van die lewe, dalk raak die politiek te veel en voel jy hooploos oor alles, dan wil die Here sê: bring dit vir my en staan terug, Ek sal voorsien. As die Here gehoorsaamheid vra, vra dit geloof en oorgee aan Hom.
Gen. 22:14 "Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” ~ Willem Botha, 21/06/2021

“’n Lamp kom mos nie onder ’n emmer of onder ’n bed nie? Is dit nie bedoel om op ’n staander gesit te word nie?” (Mark 4:21) Hierdie vraag van Jesus het my laat dink aan die liedjie wat sê: Laat ons skyn vir Jesus met ’n helder glans ... jy in jou klein hoekie en ek in myn. Ek het bietjie hieroor gedink en gewonder of dit dalk ’n hedendaagse “probleem” is dat jy net daar in jóú hoekie skyn en ek hier in myne. Steek ons nie dalk daai liggies van ons bietjie weg om dit net daar in die hoekie te hou nie? Ek het gou die liedjie gegoogle en sien toe dat die tweede en derde versie pragtig byvoeg: laat ons skyn vir Jesus waar ons gaan of kom ... laat die lig dan val op almal om ons heen. Toe besef ek dat as ons elkeen in ons hoekie skyn, sal al daai lig saam wel ’n verskil maak aan die donkerte. Ons moet nooit dink dat ons liggie te flou of te swak of te onbenullig is om vir iemand ’n bietjie lig te gee, om die pad aan te wys of om hoop te bring nie. Jesus ís die Lig en deur sy Gees het Hy sy lig binne ons kom aansteek. Dis dié Lig wat moet uitstraal, wat nie onder ’n emmer of ’n bed weggebêre moet word nie. Jy ken seker dié gesegde wat sê dat ’n kers homself uitbrand om lig te maak, hy offer homself as’t ware sodat hy lig kan gee.  As ons ons lig laat skyn, gaan dit een of ander opoffering van ons vra: tyd, bietjie moeite, ons eie belange en begeertes vir ’n rukkie eenkant toe skuif, geduldig luister, saambid, ens. Moenie bekommerd wees dat jou kers sal uitbrand nie, solank jou lamp op die staander is, sal die Heilige Gees jou brandend hou. Dis tog ook waar dat ’n kers mos niks verloor as hy ’n ander kers aansteek nie.  ’n Lig wat genade skyn. ’n Lig wat liefde, verdraagsaamheid en hulpvaardigheid skyn. ’n Lig wat bemoediging en aanmoediging skyn. ’n Lig wat vriendelikheid en vergifnis skyn. ’n Lig wat troos en hoop en positiwiteit skyn  ... só ’n lig is ’n aansteeklike lig! “Just as one candle lights another and can light thousands of other candles, so one heart illuminates another heart and can illuminate thousands of other hearts.” Is dít nie bedoel om op ’n staander gesit te word nie? ~ Wilna Botha, 17/06/2021

Ek het onlangs weer na 'n treffende liedjie van die groep Nickelback geluister, met die naam "If today was your last day". Dit het my opnuut laat dink aan die feit dat ons alles so vanselfsprekend vat en eintlik blasé lewe. Ek het in die afgelope jaar 'n vriend, sowel as verskeie kennisse verloor a.g.v. Covid. Ons was Sondag in 'n noue ontkoming toe ons motor rakelings gemis is deur 'n volgroeide kameelperd wat amper volspoed in ons motor vasgehardloop het in 'n wildtuin buite Pretoria. Wie weet hoe lyk more?
Ek het in 2017 hierdie volgende woorde aangehaal. Dit was van 'n man wat ek lank gelede ontmoet het, wat hierdie nuus ontvang het, en die volgende op Facebook geskryf het:
"Aan al my vriende: Ek het ongelukkig die nuus gekry vandag dat ek binne 'n dag of 2 gaan sterf. My aorta het aan die binnekant geskeur oor 'n baie groot oppervlakte. Baie dankie vir al julle liefde belangstel omgee en grappe maak. Dit was vir my altyd lekker om saam julle te kuier. Liefde"
Hy het inderdaad die volgende dag gesterf. As ek jou sou vra of jy wil weet hoe jou toekoms lyk, wat sou jy sê? Sou jy nuuskierig wees oor jou toekoms? Hoe sou die land daar uit sien? Sou ek gesond bly? Sal my kinders en kleinkinders okei wees? Sal my pensioen genoeg wees? Hoe lank sal ek nog werk hê? Wanneer kom my skip in?
Dis 'n moeilike vraag, maar die antwoord is dat daardie inligting vir jou ondraaglik sal wees. Kom ons lewe eerder voluit vandag, maak onmiddellik reg waar verhoudinge skeefgeloop het. Vergewe waar jy moet vergewe en vra vergifnis waar dit nodig is. Vergewe jouself ook oor daardie dinge wat jou so afrem. Sorg dat daar geen onafgehandelde sake is nie, stop die obsessie om net meer en meer te vergader en deel eerder uit as om op te gaar. Kry jou gesondheid onder beheer sover as wat jy in staat is om dit te doen, en stop slegte gewoontes wat nie goed is vir jou nie.
Laastens, sorg dat jou verhouding met God in plek is, en praat met ander wat dalk op die verkeerde pad is. Jy ken die spreekwoord wat sê: Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a gift. ~ Willem Botha, 16/06/2021

“Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?” (Matt. 23:33) So vra Jesus vir die Fariseërs. Hy noem hulle slange, addergeslag, huigelaars, dwase, blinde leiers, witgeverfde grafte wat van buite mooi lyk maar binne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. Sjoe! ’n Paar keer in hierdie selfde hoofstuk sê hy vir hulle: “Ellende wag vir julle...”. Hulle was veroordelend, het Jesus bevraagteken, laste op mense gesit, self nie gedoen wat hulle verkondig het nie, hulle was vol hebsug. Vers 15 sê letterlik dat hulle mense “ryp maak vir die hel”, hulle verhoed dat mense in die koninkryk kan ingaan. Geen wonder dat Jesus vir hulle sê dat hulle bestem is vir die hel nie. Hulle het gedink dat hulle die hel kan ontkom deur al die “regte” dinge te doen, veral waar mense hulle kan sien. Hulle het die jota en tittel van die wet nagekom maar geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid nagelaat. En ek? En jy? As Jesus vandag vir ons sou vra: “Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?”, wat sou ons antwoord wees? Die Bybel sê dat daar ’n dag van oordeel gaan kom (Hand 17:31). Wat gaan dit vir jou wees? Heavens gates or hells flames? Daar is mos ’n fliek en opvoering met hierdie titel wat uitbeeld dat ons een van twee keuses het. Jare gelede het ons ’n opvoering met dieselfde strekking gesien: The glory and the fire. Dié aand het hordes mense vir Jesus aangeneem en hulle lewens oorgegee aan Hom. Maar ek het bly wonder of hulle vir Jesus gekies het omdat hulle net bang is vir die hel, of omdat hulle regtig besef het dat hulle Jesus nodig het as enigste Redder, Verlosser en Middelaar, dat dit Sý bloed is wat skoon was en vryspreek en nuut maak, dat dit Hý is wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is. Dís hoe ons ontkom aan die straf van die hel. Die straf was reeds op Jesus. Hy het reeds die prys betaal.  Die prys was sy lewe. Hy het reeds gesterf en ter helle neergedaal. Hy het reeds die dood oorwin en opgestaan. Hy leef en Hy gee aan ons die ewige lewe! Hy belowe: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.” (Joh. 6:47) ~ Wilna Botha, 15/06/2021


Vuisvoos, pandemie-sat, moeg gewag dat dinge net weer beter moet raak. Boonop voel dit of alles in ons mooi land nou totaal ineenstort. Daar is net NOOIT meer goeie nuus nie, en alles word by die dag donkerder, en meer onuithoudbaar. Ek dink jy voel ook so.
Maar dis natuurlik nie ál wat waar is nie, en ons voel darem sekerlik nie almal élke dag so nie, maar oor die algemeen bevind ons onsself tog in 'n depressiewe tyd.
Ons was onlangs op vakansie in die Kaap en ons het met die Powervan treintjie in die Outeniqua berge gaan ry, en die trein ry deur etlike tonnels. Hierdie foto is daar geneem, en dit beeld die gedagte van "daar is lig aan die einde van die tonnel" so mooi uit.
In hierdie moeilike tye hang dit seker net af na watse lig jy soek. Maar kyk net hoe mooi word die Lig hier uitgebeeld.
God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam." (2 Kor. 4:6-10)
Vir 'n beter Lig kan ons nie vra nie, daardie Lig wat ALTYD weer vir jou sal skyn, ten spyte van wat.
Moet net nie in daardie donker tonnel bly vassit nie, beweeg na die Lig toe, dis 'n Lig wat altyd weer vir jou sal skyn. ~ Willem Botha, 14/06/2021

“Waarom is julle so verskrik en waarom kom daar twyfel in julle harte?” (Luk. 24:38) ’n Twee-in-een-vraag wat Jesus vra. Dit laat my dink dat die antwoorde op dié twee vrae onderling afhanklik is van mekaar. As jy bang en verskrik, bekommerd en angstig, bevrees en onrustig is, is die rede dalk omdat jy twyfel aan die Here se beloftes van voorsiening en beskerming en hulp, omdat die geloof en hoop in jou hart opgeraak het of doodgedruk is deur jou vrees. Aan die ander kant: as daar twyfel in jou hart is en jy nie meer die Here kan raaksien in jou lewe nie, as jy nie glo dat Hy in beheer is en alles ten goede sal laat meewerk nie, gaan bekommernis en vrees jou gedagtes oorheers en jou angstigheid buite beheer raak. As Jesus vandag langs jou kom staan en vra: “waarom is jy so verskrik?”, dan mag en kan en moet jy al jou bekommernisse by Hom kom afpak. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Pet. 5:7) As Jesus vandag langs jou kom staan en vra: “Waarom is jy so verskrik?”, hoor dan terselfdertyd sy oop uitnodiging wat sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28) As Jesus vandag langs jou kom staan en vra: “Waarom kom daar twyfel in jou hart?”, hoop ek jy sal die twyfel kan uitdoof en met geloof en vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie.” (Heb. 13:6) ~ Wilna Botha, 10/06/2021

Ek kry soms die idee dat mense voel dis 'n sonde om op die mediese wetenskap staat te maak, want dan vertrou jy nie op die Here nie. Ek het eenkeer gehoor dat 'n paar manne vir 'n man gaan bid het omdat hy 'n diabeet is. Hulle het baie begeesterd saam met die man gebid en na die sessie het hulle die man omgepraat om sy medikasie te staak, want hy is nou genees. Dit was amper 'n groot ramp en die man het baie siek geword. Nadat hy weer sy medikasie geneem het, was alles weer normaal. Dis 'n baie gevaarlike speletjie, want soms probeer ons om die Here te manipuleer om iets te doen wat dalk (vir nou) buite sy planne is.
Regdeur die Bybel is verwysings na die geneeskunde en van medisyne. Die Here het immers plante en kruie geskep wat genesing bring. As dit so is, kan die mediese wetenskap mos nie teen sy wil wees nie, of hoe?
Lukas was immers self 'n dokter.
"Lukas, die dokter wat ek baie liefhet, en Demas stuur vir julle groete." (Kol. 4:14)
In Markus lees ons van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en sy het baie geld by dokters spandeer.
"Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger." (Mark. 5:25-26)
So is daar vele tekste wat na medisyne en geneeshere verwys, en hier is nog enkele tekste.
"Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie 'n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?" (Jer. 8:22)
"Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies." (Open. 22:2)
"Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword." (Jes. 38:21)
Ons lees ook dat wyn gebruik is as medikasie. Paulus moedig vir Timoteus aan om wyn vir sy ongesteldheid te gebruik.
"Moenie langer net water drink nie. Gebruik 'n bietjie wyn vir die maag en vir jou herhaalde ongesteldhede." (1 Tim. 5:23)
Nee meneer, moet nou nie elke aand by jou vrou kla oor maagpyn net om so 'n ekstra sopie te neem nie...
Jesus het vele mense genees deur hulle aan te raak of selfs net genesing oor hulle uit te spreek, maar medisyne word regdeur die Bybel gebruik. Ek hoor van 'n dame wat sê dat Jesus haar vaksiene is. Seker niks daarmee verkeerd nie, maar die Here gebruik daagliks dokters en medikasie om mense te genees. En ja, dis natuurlik altyd "geloofsgenesing", want elke keer as iemand genees word, is dit die werk van die Here. Ek dink die Here verwag van ons om alles te doen wat ons moet doen as ons bid vir genesing. Ek wonder maar net hoe dit is dat ons deur slegte gewoontes en gebruike ons gesondheid verwoes, en dan bid vir genesing. Die Here kan jou op 'n buitengewone, bonatuurlike manier aanraak en genees, maar Hy gebruik daagliks medikasie om miljoene te genees. Bid vir genesing, maar gebruik ook die middele wat Hy beskikbaar stel. ~ Willem Botha, 09/06/2021

“Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?” (Lukas 17:18) Tien melaatses roep na die Here om hulp en genesing. Sonder om hulle direk te genees, stuur Jesus hulle om by die priesters aan te meld om gesond verklaar te word. Ons ken die storie. Op pad kom hulle agter dat hulle genees is. Een draai om ... “Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê.” (Luk. 17:15-16, Die Boodskap) Het niemand anders omgedraai om God die eer te gee nie? Het niemand anders raakgesien dat dit die Here is wat die genesing bewerk het nie?  Was niemand anders ook oorstelp van dankbaarheid nie? Dalk het hulle nie geglo dat hulle waarlik genees is nie? Of dalk het hulle verwag dat die Here hulle op ’n groter, wonderliker, meer skouspelagtige wyse moes genees? Ons het vandag ons Covid-inenting ontvang. (... uhm, ja, ek is aan daai kant van 60!) Toe ek daar sit met my mou opgetrek, het ek heel aangedaan geraak en moes sommer sluk aan my trane. Nie van bang-geit nie, maar van dankbaarheid. Op daardie oomblik het ek net so bewus geword van die genade om tot hier te kon kom sonder om ooit die virus op te doen. Ek het so bewus geword van die voorreg om aan die ontvangkant van ’n wonderlike uitvindsel te wees. Ek het diep dankbaar gevoel dat my beurt op beskerming aangebreek het. Vir meer as ’n jaar het ons gewag vir ’n teenmiddel, het ons gesmag na gemoedsrus. Ek het begin bid en God se Naam grootgemaak en die eer aan Hóm gegee vir mediese wetenskap, vir elkeen van daai werkers wat alles seepglad laat verloop het, vir die feit dat Hy sy genesing en beskerming ook deur medisyne laat plaasvind. Toe ek sien dis net so paar milliliter vloeistof wat só groot uitwerking kan hê, het ek besef dis ’n wonder uit die Here se hand. Ja, ek is heeltemal bewus daarvan dat nie almal dieselfde voel oor die vaksiene nie. Ja, ek is heeltemal bewus van die feit dat ek steeds kan siek word. Ja, ek is heeltemal bewus van die moontlike newe-effekte. Maar ek is dankbaar. Ek is vanaand die een wat omdraai en vir God die eer gee. ~ Wilna Botha, 08/06/2021

Virus: "Enigeen van 'n groot groep submikroskopiese siekteverwekkers, deur sommige as lewende organismes beskou, deur ander as molekules wat alleen in lewende selle kan vermenigvuldig en verskeie siektes veroorsaak." (HAT)
Ja, jy haat hierdie woord net soveel soos ek, en wil sekerlik ook niks meer hiervan hoor nie. Die wêreld is vrot van virusse, onsigbare, soms dodelike, aansteeklike organismes wat sonder moeite van een mens na 'n ander oorgedra word. Daar is egter ander goed wat niks met liggaamlike siektes te doen het nie, maar wat ook soos 'n virus in 'n oogwink soos 'n veldbrand versprei. Kom ons gee hulle name.
* Die ongeloof-virus. Toe hierdie ding die mensdom vat, is daar moeilikheid. Hoe maklik glo mense net glad nie meer in God nie, en hoe maklik tower hulle nie plaasvervangers op nie. Hierdie virus wen wêreldwyd geweldig vinnig grond. Dit word deur die mond oorgedra aan ander en is hoogs aansteeklik. Al wat die draers hoef te doen is om te sê: Is nie! Dis al, hulle hoef geen alternatief voor te hou nie. Net is nie, ek glo dit nie.
* Die twyfel-virus. Is God regtig wie Hy sê Hy is? Is die Bybel regtig waar? As dit dan waar is, wat dan van dit of dat? Hoekom laat hy hierdie of daardie toe?
* Die haat-virus. Genade, hoe haat mense mekaar nie? Rasse-haat, padwoede, vreemdelinge haat, nydigheid, moedswilligheid, egpare wat mekaar haat. Ai, hierdie virus het ons darem ongelooflik ondraaglik teenoor mekaar gemaak.
* Die hooploos-virus. Wees 100% eerlik , het jy regtig nog hoop vir die toekoms in ons land? Of selfs in die wêreld? Smag jy dat Jesus weer op die wolke moet kom sodat hierdie wrede wêreld tot 'n einde kan kom? Ek sien dit daagliks, maar tog sien ek aan die ander kant hoe mense kinders kry en hulle hier grootmaak. Ek sien ook hoe ondernemings geboue oprig en miljoene investeer in die toekoms.
* Die negatiwiteit-virus. Genade maar jy kry mense wat net hoegenaamd nie meer enigiets mooi of positief kan raaksien nie! Alles en almal is sleg en skelm en diewe en rowers en is net daarop uit om jou skade aan te doen. En kan ons KLA!
* Die sameswering-virus. Ai, as mense maar net die Bybel kan glo soos wat hulle alles wat op sosiale media en WhatsApp’s versprei word glo. Ek slaan soms net my hande saam! Dinge wat hoegenaamd nie logies is nie word vir soetkoek opgeëet.
* Die eie-ek virus. Hoe leef ons nie meer en meer net vir onsself nie? Uitreik na ander en hulp vir ander raak so skaars, want dis elkeen net vir homself.
Ja jitte, daar is sekerlik miljoene ander virusse wat ons kan uitdink. En hierdie virusse dra totaal sonder sukkel oor, en ons as mense het net nie meer weerstand teen dit nie. Dit dra oor deur hoor, praat en lees, en geen masker help hiervoor nie.
Dalk net "social distance". Bly weg van hierdie draers af, daai virusse spring moeiteloos van een slagoffer na die ander.
Maar voordat jy in sak en as beland, vertel ek jou van 'n wonderlike vaksiene, of "anti-virus".
Dis die Here, Hy wat ons nuut en skoon kan maak, wat deur die Heilige Gees jou liggaam kan vul met teen-liggaampies, wat elkeen van hierdie virusse kan oorwin. Nou ja vriend, ek het hierdie woorde vir myself geskryf, want ek self is besmet met elkeen van hierdie virusse. En ek gaan nou opnuut na die Here toe en vra dat Hy my 'n nuwe, gesonde mens sal maak.
"Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God" (2 Kor. 5:17-18) ~ Willem Botha, 07/06/2021


“Julle is die sout van die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout?” (Matt. 5:13) Mens hoor dikwels dat daar van iemand gesê word: hulle is sout-van-die-aarde-mense en dan word daar bedoel dat hulle eenvoudige, doodgewone, doodgoeie mense is met sterk waardes. Ek dink egter as die Bybel sê ons is sout van die aarde is dit meer as net dit. Dit beteken ons gee smaak aan ’n smaaklose wêreld. Ons reinheid dring geleidelik deur in die smaakloosheid van die wêreld waar almal in sonde leef. Ons versprei die geur van genade en liefde na verwerpte, eensame, verlore mense wat die smaak van aanvaarding begeer. Ons sout is ’n lafenis en werk genesend in ’n stukkende wêreld. Ons sout word ongesiens, sagkens, korrel vir korrel uitgestrooi en dring geleidelik deur in ons lewenskring. Die smaak wat ons bring, raak onmisbaar, sodat ons geselskap en ons wysheid en ons positiwiteit in aanvraag is. Ons sout werk mee as preserveermiddel om die goeie te bewaar en te versterk. Maar nou kom die vraag wat Jesus vra: “Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout?” Hoe verslaan sout en word dit kragteloos en laf? As dit té lank in die soutpot bly en nie gebruik word waarvoor dit bestem is nie. Hoe word ons swak, smaaklose en nuttelose Christene? Wanneer ons ongehoorsaam in die soutpot bly. Wanneer dit té gemaklik in die soutpot raak. Wanneer ons nie met die kos wil “meng” nie of wil kies oor watter kos ons uitgegiet word. Of wanneer ons dalk voel ons is te swak of te min om ’n verskil te maak. Nee, ons moet waak daarteen om onbruikbare sout te word wat ons smaak verloor. Kyk wat gebeur met die sout wat laf geword het: dit word buitekant weggegooi, mense vertrap dit (kyk Matt. 5:13); “dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie.” (Luk. 14:35) Ek onthou toe ek ’n kind was, het my ouma haar growwe sout in so ’n groot kleipot gehou. Ek sien haar nog in my geestesoog so met die soutpot onder die arm voor die koolstoof. Dit laat my dink aan dié teks wat sê ons is ’n kleipot met ’n skat binne ons – daai skat is die sout wat die Here in ons gedeponeer het toe ons sy kinders geword het, toe ons die Heilige Gees ontvang het.  Mag die Here ons soutpotte vol hou en mag ons daarin volhard om ons geur te versprei en ons smaak te behou. ~ Wilna Botha, 03/06/2021

Sê nou daar is nie 'n God nie, by wie sal ek aanklop vir hulp, en wie sal ek hoër ag as myself? Sal ek nie dalk self daar "oppergesag" rol wil inneem nie?
Sê nou daar is nie 'n Bybel nie, waar sal ek leer van die geheime van 'n goeie lewe? Waar sal ek leer van hoop, en liefde, en wat die beste vir my is?
Sê nou daar is nie Iemand tot wie ek kan bid nie, waar sal ek my diepste hartswroeginge gaan uitstort? En teenoor wie sou ek dankbaar wees as my hart vol is van vreugde?
Sê nou daar was nie iets soos liefde nie, hoe sou ek hierdie brandende begeerte om geag te word, kon vervul? En waar sou ek dit wat so dikwels in my eie hart opwel, gaan uitstort?
Sê nou daar was nie iets soos omgee nie, hoe sou ek die wonderlike aard en deernis van die mens kon ervaar?
Sê nou daar is nie vriendskap nie, hoe alleen sou ek nie wees nie?
Sê nou daar was nie broederskap tussen mense nie, wie sou my optel as ek val, en waar sou ek daardie driedubbele tou kry wat my ook bonatuurlik sterk maak?
Sê nou daar is nie 'n vooruitsig vir 'n volmaakte lewe in die hiernamaals nie, waarna sou ek uitsien as die swaar van hierdie lewe my soms wil oorweldig?
Sê nou daar was nie wonderwerke nie, wat sal my nog verstom oor dinge wat groter as ek is?
Sê nou daar was nie musiek nie, wat sal my hartsnare roer op 'n manier wat die geskrewe woorde alleen nie kan doen nie?
Sê nou daar was nie die wonderlike natuurskoon om ons nie, waar sal ek sulke mooi skilderye kry soos wat die Meesterkunstenaar elke dag gratis vir my skenk?
Ai, die lewe is so mooi, en die mooi is soveel mooier as was die slegte dinge sleg en lelik is. Sê nou net jy het die vermoë verloor om die goed en mooi in die lewe raak te sien? ~ Willem Botha, 02/06/2021

“Wie is my moeder, en wie is my broers?” (Mark. 3:33) Só vra Jesus toe iemand sê sy ma en sy broers staan buite en wil met Hom praat. Hy wys toe na die volgelinge wat rondom Hom gesit het en sê: “Hier is my moeder en my broers!” Dis só kosbaar vir my as ek dít lees. Ek sien myself ook sit in daai intieme kringetjie rondom Jesus en ek hoor Hy noem my sy suster! Jare gelede in die Bybelskool wat ek bygewoon het, was daar iemand wat altyd gebid het: “... in die Naam van ons oudste Broer, Jesus.” Dit was altyd vir my so mooi. As ek nou dié teksgedeelte in Mark. 3 egter verder lees, dan sien ek ongelukkig dat daar iets is wat hierdie intieme familieband kan bevestig of kan bedreig, want Jesus sê voorts: “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” (Mark 3:34-35) “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.” (Luk. 8:21) Net soos in enige familie, is daar in Jesus se familie ook ’n ontvang-kant én ’n gee kant. Op ’n ander plek vra Jesus: watter sin het dit as julle sê Here Here, maar nie doen wat ek sê nie? Dis nie ’n lekker vraag om te hoor nie. Dis mos lekker en maklik om sê: Here, Here. Om te sing: Jesus loves me. Om te bid en antwoorde te ontvang. Om te roep en Hy is daar. Om Sy Naam aan te roep en gered te word. Dis ook maklik en lekker om na die woord te luister en die beloftes daarin te hoor en vir jouself toe te eien, om daai warm gevoel in jou hart te hê as jy lees dat Hy jou naam in sy handpalms gegraveer het, om daai rustigheid te ervaar as jy lees dat die Here jou Herder is en jy niks sal kortkom nie, om daai tevredenheid te ervaar wanneer jy lees dat jy die reg het om God se kind te wees, om daai sekerheid te hê dat jy die ewige lewe gaan ontvang. Dis mos wonderlik om aan die “ontvang-kant” van ons geloof te staan. Maar as dit kom by al die moeilike opdragte, daar waar dit iets van ons vra, die “hoor-en-doen-kant”, die “gee-kant” van ons geloof? Dié kant wat ons kwalifiseer as broers en susters? Daai tekste wat begin met “as julle ...”? Daai tekste wat sê: “julle moet ...” of “julle moenie ...”? “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red?” (Jak 2:14) Sit jy vanaand daar in Jesus se kringetjie as Hy sê: hier is my moeder en my broers en susters? ~ Wilna Botha, 01/06/2021


Christene het my al so seergemaak....
Ek het al so baie hierdie woorde gehoor, en dan het ek telkens amper daarvan weggeskram om te verklaar dat ek 'n Christen is, want ek vernietig my eie getuienis omdat ek nie volmaak is nie en mense dalk ook seermaak. Ek hoor hoe mense sê hulle wil nie besigheid doen met Christene nie, want hulle is baie skelm onder hierdie rookskerm van Christenskap wat hulle voorhou. Mense kla ouens aan omdat hulle 'n teksvers onder aan hulle eposse het, maar dan maak hulle sus en so. Nou ja, natuurlik sê die Bybel baie duidelik dat jou lewe jou getuienis moet weerspieël. In hierdie volgende teks is Johannes die doper aan die woord terwyl hy mense gedoop het, en dan sê hy dat die vrug wat hulle dra, moet bewys dat hulle bekeer is.
"Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is." (Joh. 3:7-8).
Ek wil egter net iets noem wat baie sterk op my hart is. As mense dan so seergemaak is deur Christene, is dit nét Christene wat dit doen? Maak Moslems en mense van ander gelowe en ongelowiges nie ook mense seer nie? En maak hierdie mense wat kwansuis so seergemaak word nie ánder ook seer nie? My punt is, ons as Christene laat toe dat ondraaglike laste op ons geplaas word, en dan leef ons liewer nie ons oortuigings uit nie. Ek sien daagliks hoe mense reageer op goed op sosiale media wat sê jy moet amen tik as jy 'n opregte kind van God is. Wel, daar is seker niks daarmee verkeerd nie, mits jy nie dit doen uit skuldgevoel of "dwang" nie. As iemand tik "can I get an Amen" dan wonder ek hoekom hulle 'n "Amen" wil hê. Nee, die Here kan 'n Amen kry. Ek blaai dan maar net verby. Maar soos gesê, almal het die voorreg om dit te doen as hulle wil.
Christene word daagliks geteiken en gewys op hulle onvolmaaktheid, want dis 'n slaanding wat ander as 'n verskoning gebruik as hulle nie 'n pad met die Here wil stap nie.
Ghandi (ek kan dit nie as 'n feit bevestig nie) het blykbaar gesê dat hy dalk 'n Christen sou wees as dit nie vir Christene was nie. Wel, dis nogal vreemd dat mense eerder die ewige lewe met God sal mis, as om soos hierdie sondige Christene te wees.
Nou vra ek: Het Jesus nie juis gesterf vir ons gebroke, onvolmaakte mense nie?
Vriend, moenie dat mense ondraaglike laste op jou sit nie, en leef jou Christenskap uit ten spyte van jou foute en tekortkominge, want jy kán nie volmaak wees nie. Maar... wees sout en lig vir die wêreld, en moenie dat aanklagte jou hierdie voorreg ontneem nie. Dis in elk geval nie ek en jy wat mense red nie, dis die Here. As mense dus net in my en jou foute vaskyk, soek hulle in elk geval nie in opregtheid na die Here nie. Doen goed, maar as jy val, staan op en probeer weer, en laat mense sien dat jy die Here kan dien te spyte van jou onvolmaaktheid. ~ Willem Botha, 31/05/2021

“Kry mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?” (Matt. 7:16) Hier is nou nóg een van Jesus se vrae wat mens dadelik dwing na selfondersoek. Die antwoord van die vraag is sommer opgesluit in die vraag: natuurlik kry jy nie druiwe aan doringstruike of vye aan dissels nie. Elke boom dra vrug volgens sy aard. As jy weet na watter boom jy kyk, sal jy weet watter vrug om daar te verwag. En andersom ook: as jy die vrug sien, sal jy weet watter boom dit is. In hierdie spesifieke teks gaan dit eintlik oor vals profete wat só uitgeken sal word aan hulle vrug. Hulle lyk soos skapies, maar is in werklikheid verskeurende wolwe. Hulle vrugte lyk dalk mooi en aanloklik, maar as jy dit afskil is dit vrot, of as jy dit wil eet kom jy agter dis van plastiek! Natuurlik kan dié beeld wyer toegepas word, want die Bybel praat dikwels van die vrug wat ons lewens moet oplewer. “Alle mense se lewe is soos vrugtebome: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte.” (Matt. 7:17, Die Boodskap) Wat sal dan nou ’n goeie vrugteboom-mens wees? Seker dié een waarvan Ps. 1 praat. Dié een wat nie sy ore uitleen aan slegte mense en hulle negatiewe en afbrekende praatjies nie, wat wegbly van verkeerde dinge en kies teen sonde, wat vreugde vind in die Woord van God en dit oordink. Dié boom is soos een wat by waterstrome geplant is. Sy blare word nie droog nie. Hy lewer op die regte tyd sy goeie vrugte. En hoe sal die vrugte van die goeie vrugteboom lyk? Wel, Matt. 3:8 sê dat ons moet vrugte dra wat wys dat ons bekeer is. Daai vrugte sal vaste geloof as pit hê, hoop uitspel en na liefde smaak! Hulle sal vreugde en vriendelikheid oor hulle geskryf hê. Hulle sal geduld, goedhartigheid en nederigheid as sagte vleis hê. Hulle sal selfbeheersing as skilletjie hê. Ek is skaam om te bely dat my lewensboom nie altyd ewe goed doen nie. Die vruggies is dikwels maar klein en swak en smaakloos. Ek het egter hierdie opskrif gelees by Joh. 15 in die Nuwe Lewende vertaling: “Die geheim van vrug dra.” Die geheim is dat ek nie op my eie enige vrug kan dra nie . Die geheim is dat ek aan Jesus verbind moet bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Die geheim is dat ek van Hom afhanklik moet bly. Die geheim is dat daar snoeiwerk nodig is en dat die Woord die snoeiskêr is. Die geheim is dat ons hulp kan vra by die Here en seker kan wees dat Hy ons sal help: “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry.” (Joh. 15:7, Die Boodskap) Mag die Here ons help om gesonde, voedsame, vars, mooi vrugte te produseer! ~ Wilna Botha, 27/05/2021

Ek verwonder my aan die mensdom, en ja myself ook, want die mens is maar 'n snaakse ding. Hoe wonderlik sou die lewe wees as:
* Die mens eerder smag na die waarheid, as om snaakse teorieë en fopnuus te verslind.
* Die mens eerder sy medemens liefhê, as om so maklik te haat.
* Die mens eerder op die Here staatmaak, as op sy geld en eie insigte.
* Die mens die Bybel net so maklik aanvaar as die onsinnige video's en boodskappe wat daagliks die rondte doen.
* Die mens eerder ander mense se goeie eienskappe besing, as om te skinder oor ander se swakhede.
* Die mens dieselfde kreatiwiteit vir goeie dinge en eerlike werk inspan, as vir konkel en misdaad.
* Die mens makliker kan gee as om te ontvang.
* Die mens hom meer bekommer oor sy lewe hierna, as oor dit wat geen ewigheidswaarde het nie.
* Die mens sy eie beloftes net so maklik hou, as wat hy van die Here se beloftes verwag.
* Die mens eerder sy liggaam (as tempel van God) en gesondheid oppas, as om oor te gee aan wêreldse plesier.
* Die mens eerder raad in die Bybel gaan soek, as by mense wat opinies oor allerlei dinge het.
Ek is oortuig daarvan dat elke mens op aarde sal saamstem dat hierdie dinge (en vele ander), die wêreld 'n beter plek sal maak.
Wel, jy sal sonder moeite 'n gepaste teksvers vir elkeen van hierdie dinge in die Bybel vind, en tog verwerp mense so maklik die Bybel. ~ Willem Botha, 26/05/2021

"God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep." (Gen. 1:27)
"Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het." (Gen. 2:7)
Twee tekste oor die dag toe die Here vir Adam geskep het. Hoe het Hy dit gedoen? Het hy een of ander proses van evolusie gebruik? Nee, my kop maak die voorsiening daarvoor nie, maar hoe dan? Gen. 2:7 sê Hy het stof van die aarde gebruik. Dalk het Hy grond bymekaar gekrap en vir Adam daaruit gevorm, soos wat mens 'n sandkasteel maak, en toe het Hy oor hierdie beeld gebuig en lewensasem in Hom ingeblaas en Adam het begin lewe. Ons sal nooit presies weet hoe nie, maar die feit is dat Hy presies geweet het wat Hy doen en vir Adam gemaak presies soos wat Hy beplan het, met sy presiese gelaatstrekke, sy presiese persoonlikheid, sy presiese geaardheid en ook met sy presiese swakhede. Hy het geen fout gemaak nie, al het Adam later gesondig.
En presies so, presies so fyn beplan, presies met die plan wat Hy perfek uitgewerk het, het Hy jou gemaak. Jy is steeds stof (... stof tot stof), en jy is sy handewerk, presies soos wat Hy jou wou hê. Moet tog nooit toelaat dat jou idee van 'n perfekte mens jou minderwaardig laat voel oor jouself nie. Net soos wat Adam as beeld van God geskep is volgens Gen. 1:27, is jy na sy beeld geskep. Dalk het jy vandag nie so goed oor jouself gevoel nie, maar dis maar iets waaraan jy sal moet werk. ~ Willem Botha, 20/05/2021

“Begryp en verstaan julle nog nie? Is julle nog steeds so traag van begrip? Julle wat oë het, sien julle dan nie? Julle wat ore het, hoor julle dan nie?”(Mark 8:17) Ek dink die Here moes seker ook al baie kere vir my gevra het: is jy nog steeds so traag van begrip? Verstaan jy dan nog nie? Het jy dan nog nie geleer om dieper na dinge te kyk en sake geestelik te beoordeel en nie net na die sigbare, tasbare, hier-en-nou-dinge te kyk nie? Het jy nog nie uit ervaring geleer hoedat Ek sorg en voorsien, beskerm en dra, genees en red nie?  “Het julle nog jul verharde hart?”, sê  dit in die Ou Afrikaanse Vertaling. Solank die hart nog hard is, sal die geestesoë seker nog blind bly. Solank die hart nog hard is, sal die geestelike dinge nie sin maak nie. Solank die hart nog hard is, sal die gees en die gedagtes nog die werk van die Heilige Gees weerstaan. Solank die hart nog hard is, sal die ore nie hoor van genade, liefde en aanvaarding nie. Nou bid ek ook soos Paulus in Ef. 1:18 dat die Here my geestesoë sal verhelder sodat ek hoop sal hê vir elke dag en vir die toekoms, sodat ek sal besef wat ek uit Sy hand geërf het toe ek sy kind geword het, sodat ek sal weet en ervaar hoe groot sy krag is wat in my werk. Dis Pinkstertyd. Mag die Gees ons opnuut weer kom volmaak, sodat ons kan begryp en verstaan. ~ Wilna Botha, 18/05/2021

Ek wil alewig vir die Here verskoning maak as slegte goed met goeie mense gebeur, veral as hulle dit werklik nie verdien nie. So asof ek die Here se eer wil beskerm. Ps. 91 is 'n baie gewilde Psalm en mense gebruik dit om nie versekering uit te neem nie, om nie medikasie (soos nou met die vaksien) te neem nie, en met alles in hulle daaraan vas te hou, want die Here reageer baie sterk op hierdie geloof van die mens. So glo vele mense. Ja, dis goed, maar dan kom die ontnugtering as die appelkar omval, en dan vra ons waar die Here is. Voorts doen jy al die regte goed en gee baie geld en besittings weg, maar dan kom dit nie tienvoudig terug nie. Jy werk en studeer hard om 'n goeie posisie te beklee, dan word dit vir iemand gegee wat dit hoegenaamd nie verdien nie. Jy word siek en 'n slegte ou bly gesond. Jy betaal belasting en dan steel die amptenare dit. Jy en jou kinders word gestraf omdat jy van die verkeerde groepering in ons bevolking is. Jy hou naarstiglik aan tekste en beloftes uit die Bybel vas, maar dinge werk nie altyd uit nie. Dit lyk my die lewe is nie "fair" nie.
Wel, die punt is, die lewe IS nie regverdig nie. Hier is vir jou 'n teks om dit te bevestig.
"Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval." (Pred. 9:11-12)
En kyk hoe staan dit in Die Boodskap. "Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal. Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens."
Aanvaar dit, dis die lewe. ~ Willem Botha, 17/05/2021


“ ... waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” (Hand. 1:11) Dis vandag Hemelvaartdag en ek wonder of jy dalk ook bietjie vandag opgekyk het na die wolke en gewonder het wanneer Jesus weer sal terugkom en of jy dit wel sal sien in jou lewe. Wel, ons weet nie wanneer nie, maar dat Jesus wel weer terugkom is gewis. Voor sy hemelvaart het Jesus sy hande oor sy volgelinge uitgestrek en hulle geseën. “Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” (Luk. 24:50-51) Jesus laat sy volgelinge met ’n  seën agter voordat Hy opvaar na die hemel. “... waarom staan julle so na die hemel en kyk?” Staan vandag met oop arms en kyk op na die hemel om die Here se seën te ontvang. Kyk op na die hemel en weet en glo dat Jesus weer gaan terugkom op die wolke en dat Hy sélf elke dag by jou is tot dan (Matt. 28:20). Kyk op na die hemel en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige Gees gegee het, dat Hy in jou woon en jou lei en leer.  Kyk op na die hemel en weet dat Jesus  vir ons ’n plek gaan voorberei het . Hy sê in die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou ook! Kyk op na die hemel en weet dat Hy aan die regterhand van God sit, dat Hy daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar is. Kyk op na die hemel en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as Koning van die heelal. Kyk op na die hemel en aanbid en eer en prys Hom met groot blydskap! ~ Wilna Botha, 13/05/2021

As jy op die water wil loop, klim uit die skuit uit.
"Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: Dis 'n spook! Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie. Toe sê Petrus vir Hom: Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom. Kom! sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: Here, red my! Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel? Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê." (Matt 14 : 22-32)
Ons almal roei maar soms in die riete rond en sukkel met ons dag tot dag probleme, soms klein goedjies en soms erger dinge. Punt is, iets moet hieraan gedoen word want gewoonlik gaan dit nie vanself weg nie. Hier is sulke wonderlike lewenslesse in hierdie gedeelte in Matt. 14 en ons kan so baie hieruit leer. Dalk is jy vandag in 'n erge storm en soek naarstiglik na die Here en kry Hom nie. Wel, weet vir seker, as jy na Hom toe uitroep gaan Hy kom, Hy is op pad en Hy gaan jou help. Dalk verwag jy Hom by die voordeur, maar miskien moet jy kyk na die stormwater, want Hy word nie gekeer deur die gevaar van golwe nie, Hy loop op dit, en Hy is altyd betyds. Die dissipels het geskrik en gedink Hy is 'n spook, jy moet ook verwag dat Hy dalk nie in die gestalte opdaag van die prentjie wat by jou pas nie. Petrus wou Hom toets en wou ook op die water loop, en Jesus het gesê: kom. Dalk is jou storm ook so groot dat jy nie kans sien vir die boot nie. Klim uit! Hy nooi jou ook vandag uit om die "veiligheid" van die boot te verlaat. Klim net uit. Miskien is jou probleem juis dat jy nie besef dis beter in die storm saam met Jesus, as in die oënskynlike veiligheid van die boot nie. Jesus het genoeg vertroue in Petrus se geloof gehad dat Hy hom uitgenooi het om uit te klim. Ja, dis een ding om die Here te vertrou om daardie stap te neem, maar Hy het ook genoeg geloof in jou om te sê: kom! Dit lyk uit die teks dat Petrus 'n hele ent geloop het op die water, maar toe word hy bang. Dis normaal om bang te wees, en ek weet, want ek was ook al daar, en dis ook normaal om die golwe te vrees. Dís wat Petrus laat sink het, maar Jesus se hand was daar. Moenie te bang wees om die boot te verlaat nie, want Sy hand is daar, altyd. Die Here verwag van ons om soms daardie brawe stap te neem, so neem dit. Klim uit! Sukkel jy in jou huwelik? Klim uit die boot uit. Nee, nie uit die huwelik uit nie, maar gaan doen wat nodig is om dit te probeer red. Moeilikheid by die werk? Ja, dalk moet jy die storm trotseer en uitklim, en al slaan daai golwe woes, is sy hand naby. Slegte verhoudinge? Klim uit en gaan maak reg. Die boot voel dalk knus maar dit los nie die probleme op nie.
Al gewonder hoe Petrus teruggekom het in die boot? Ek glo hy het op die water geloop, want Jesus was by hom. Jy het self 'n reuse verantwoordelik in elke saak, en om in die boot weg te kruip is die verkeerde ding om te doen. Loop daardie storm trompop en gaan doen wat jy moet. Dit gaan dalk moed vra, maar doen dit net. Dis so bevrydend soos om op water te loop. ~ Willem Botha, 12/05/2021

“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Wat ’n wonderlike vraag is dit nie wat Jesus hier in Mark. 10:51 vra nie. Ek verbeel my dikwels ek hoor Hom dit vir my ook vra en dan stort ek my hart voor Hom uit, sing my klaagliedere en spel al my begeertes vir Hom uit met die verwagting dat Hy my sal help en alles wat ek vra vir my sal gee. Die Bybel sê mos: vra en vir julle sal gegee word. As Jesus vandag vir jóú sal vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”, wat sal jou antwoord wees? Wat het jy nodig? Wat begeer jy? Wat gaan jou lewe makliker maak? Wat gaan jou geloof laat groei en jou verhouding met die Here verdiep? Jesus vra dié vraag in Mark. 10 vir die blinde bedelaar wat onophoudelik uitroep na Jesus en vra: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my?” Toe Jesus vra wat Hy vir hom moet doen, het hy nie gevra vir geld, ’n gerieflike huis en beter omstandighede nie, nee, hy vra net: “Dat ek kan sien.” Hy vra dit in nederigheid en afhanklikheid, uit desperaatheid. Hy weet Jesus is die enigste een wat hom kan help. “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered” (Luk. 18:42), was Jesus se antwoord. Hy kon dadelik sien en Hy het Jesus gevolg. Enkele verse terug in Mark 10:36 vra Jesus dieselfde vraag aan twee van sy dissipels, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle het aangedring dat Jesus moet doen wat hulle gaan vra. Wat vra hulle? Nie groter geloof of dieper geestelike insig of nuwe wysheid of genesing nie. Nee, hulle vra om die ereplekke langs Jesus te hê wanneer Hy as koning gaan heers. Hulle kry egter nie wat hulle vra nie. Hulle versoek het oor hulle eie begeertes, hulle eie ek, eie belangrikheid, eie eer gegaan. Al wat hulle kry is ’n “preek” van Jesus: Hy sê die een wat groot wil word, wat eerste wil wees, moet die dienaar wees. Die belangrikste persoon moet die minste wees, die een wat ander dien en nie meeding vir die beste plek nie. Ek dink ook aan Salomo vir wie die Here in ’n droom gevra het: “Wat wil jy hê moet ek vir jou gee?” (1 Kon. 3:5) Ek wonder wat sou ek vra ... nuwe geleenthede, groter sukses, voorspoed in alles wat ek aanpak, rykdom? Nee, Salomo  vra vir gehoorsaamheid aan die Here, vir wysheid en insig om die volk reg te regeer. En die Here gee hom dit alles en óók wat hy nié gevra het nie: rykdom en aansien. Wat wil jý van die Here vra? Is jou begeertes vir geestelike groei, vir insig, vir gehoorsaamheid, vir die uitbreiding van God se koninkryk, of gaan dit net oor jouself, jou selfsugtige begeertes, jou aansien en sukses? Of wil jy ook net soos ’n eenvoudige bedelaar vra: Dat ek kan sien. Dat ek nie blind is vir my foute nie, dat ek nie blind is vir ander se behoeftes nie, dat ek nie blind is vir nood en swaarkry om my nie. Dat ek nie blind is vir God se woord nie. Dat ek die wonderdade van God sal sien. Dat my geestesoë oop sal wees. ~ Wilna Botha, 11/05/2021

“Hoeveel brood het julle?” (Matt. 15:34) Dis wat Jesus vir sy dissipels gevra het toe daar ’n skare van duisende honger mense voor Hom gesit het. “Sewe brode en ’n paar vissies,” was hulle antwoord. Toe vermeerder dit in Jesus se hand sodat almal kon eet en daar nóg sewe mandjies vol oorgebly het. Dis die verhaal in die Bybel, maar as Jesus vandag vir my en jou sou vra: “Hoeveel brood het julle?”, kon dit dalk net sowel gewees het: hoeveel vleis het julle, hoeveel melk het julle, hoeveel geld het julle? Ek is seker die meeste van ons het iets. Die vraag wat ek vandag oordink het, is, sal ek daarvan weggee of klou ek vas aan dit wat ek het? Sal ek, selfs al het ek min, daarvan weggee sodat die Here dit dalk kan vermeerder en iemand daarmee kan voed? Soos die weduwee wat haar laaste sente gegee het en Jesus gesê het sy het meer as almal gegee. Sal ek klein bietjie minder aan my eie gerief en plesier dink en ietsie weggee sodat iemand anders ’n klein bietjie vreugde kan ervaar? Ek sukkel met my antwoord! Of sal ek sê ek weet wat die regte antwoord is, maar ek sukkel om dit te doen. Weet jy op hierdie oomblik presies hoeveel brood of vleis of geld jy het? As die antwoord nee is, behoort dit mos maklik te wees om daarvan weg te gee, of hoe? As Jesus vandag vir my vra: “Hoeveel brood het jy?”, dan is dit nie net sodat ek dalk daarvan kan weggee nie, ek dink dit is ook sodat ek met dankbaarheid ’n slag my seëninge moet tel en dat ek sal erken dat alles wat ek het ’n gawe uit die Here se hand is. “Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.” (Deut. 8:17-18) As Jesus vandag vir my vra: “Hoeveel brood het jy?”, kon Hy net sowel gevra het: hoeveel tyd het jy, hoeveel kennis het jy, hoeveel geduld het jy, hoeveel liefde het jy? En is jy bereid om iets daarvan weg te gee, sodat Ek dit kan vermeerder en gebruik?  Jesus het gesê dat Hy die brood is wat lewe gee. Hoeveel van dáárdie brood het jy? En sal jy daarvan weggee sodat duisende gevoed kan word? ~ Wilna Botha, 06/05/2021

Toe ons kinders was het ons dikwels skop, skiet en donderweer flieks gekyk. Daar was altyd die slegte ouens, maar ook die goeie ouens aan wie se kant jy was. Clint Eastwood was altyd goed en Lee van Cleef was altyd sleg. So het daar later jare video speletjies uitgekom wat ook net skop, skiet en donderweer was, en jy het baie punte versamel as daar net bloed en dood was, waarvoor jy self verantwoordelik was. Ons het nie toegelaat dat ons kinders dit speel nie, want ek glo dit rig geweldig baie skade aan.
Maar kom ons gaan weer fliek toe, ek en jy. Ons gaan staan in die foyer met ons popcorn en Coke en bekyk die advertensies van die films wat tans wys. Daar is plakkate op en daar speel ook op televisie skerms voorprente af van films wat tans draai. Die een is net verwoesting, dood, klippe wat trek, mense wat woedend is en vreeslike goed eis en alles word aan die brand gesteek. Nie te praat van bedrog en diefstal nie. Die mense is kwaad, hulle "demand".
Die ander film straal iets van positiwiteit uit, mense wat nie meegesleur word deur die woede nie en eerder 'n ander pad inslaan. Hulle kies om eerder te bou as om te breek, en te werk as om te eis.
Nou ja, jy weet waarna ek verwys.
Wel, die een vraag is of die eerste film regtig die hele prentjie wys en dat mense dalk goeie redes sou hê vir wat hulle doen. Wel, ek weet nie van één wat 'n huis gekry het deur anargie te pleeg nie. Die ander vraag is of die tweede film nie dalk 'n leuen is en 'n verwronge beeld van die werklikheid is nie. Is dit moontlik in 'n land wat nou al oor die afgrond bestuur is?
Probeer om vir 'n oomblik net te dink na watter fliek jy eerder wil kyk, want jy is nie net 'n fliekflooi nie, jy is ook 'n akteur in beide hierdie films.
Indien jy nou wonder of hierdie boodskap iets geestelik om die lyf het, herinner ek jou aan 1 Kor.13:13 "En nou: Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!"
Het jy nog Geloof, Hoop en Liefde?
Geloof in God, geloof dat Hy steeds in beheer is, geloof dat Hy hierdie eerste film ook positief kan laat draai. Geloof dat Hy nie sy gesig van ons af wegdraai nie.
Hoop, hoop vir 'n toekoms, soveel hoop dat jy jou kinders aanmoedig om hier te bly en met harde werk en innovasie 'n nuwe lewe uit te kap. Soveel hoop dat jy die naweek 'n boom sal plant met die verwagting dat jy en jou kinders en kleinkinders nog eendag in sy skaduwee sal sit.
Liefde vir mense, soveel liefde dat jy nie net wil wraak neem oor al die onreg wat saam met die eerste film gaan nie, maar ook hard werk om die tweede film 'n werklikheid te maak.
Geloof, hoop en liefde...
Jy sien, jy sal maar moet dink oor jou keuse van 'n fliek. Wat kyk jy eerder, en waarna laat jy jou kinders kyk? Fliek nommer een se voorprente is die hele tyd "in your face", elke keer as jy nuus kyk, en elke keer wat jy na sosiale media kyk, is dit omtrent AL wat jy sien.
Fliek nommer twee se voorprente sal jy moet gaan soek, want die nuus op televisie hou nie daarvan nie, net slegte nuus verkoop. Ek sit onlangs nuwe bande op ons motor en ek is vroeg daar en sien hoe jong mense van alle rasse verby my stroom na Sol-tech se pragtige nuwe opleidingsentrum toe. Die outjies gesels en skerts en is in 'n vrolike bui. Hulle het almal besluit om heel onder te begin en wil opgelei word om met harde handewerk 'n toekoms te bou. Hulle is akteurs in fliek twee, en het besluit om teen alle teenstand in staande te bly. Dit was SO mooi om hierdie voorprent te sien. Ek hou van daai fliek, dis mooi en positief. Kyk na hierdie volgende teks wat eintlik 'n gebed is.
"Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir 'n paleis." (Ps 144:12)
Los tog maar daai goor fliek wat jou net sleg beïnvloed, en sien die goeie fliek raak, jy sal hom kry as jy hom soek. Hoe kan ons hoop verloor terwyl ons wéét dat niks buite die Here se beheer is nie? Inderdaad, Geloof Hoop en Liefde bly. ~ Willem Botha, 05/05/2021

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (Matt. 7:3) Soos wat ek die vrae wat Jesus in die evangelies vra opsoek en oordink, het ek dié een bly uitskuif. Ek moet bely dat ek eintlik hierdie vraag van Jesus heeltemal wou oorslaan. Ek was nie regtig lus om iets hieroor te sê nie. Ek is skaam omdat ek een van dié is wat met ’n yslike stuk hout in my oog rondloop en wat sal ek sê as Jesus dié vraag vir my moet vra? Moenie oordeel nie, sê  vers 1. Hoekom zoom mens dan so in op die splinter in jou man, of jou vriend of jou suster se oog, hoekom soek jy so graag na splinters in bekendes, politici en ander hoëlui se lewens (en dan verlekker jy jou as jy iets kry)? Ek het nou vandag baie hieroor gewonder. Is dit ons gebrek aan genade en meegevoel? Is dit omdat ons geen deernis en jammerte het nie? Is dit omdat ons onsself hoër ag as iemand anders? Is dit omdat ons hoop dat die fokus op ander se foute en flaters dalk die aandag so bietjie van die balk in my eie oog sal aftrek? Kom dit dalk uit ons eie minderwaardigheid of jaloesie? Is dit omdat ons vir onsself ’n regters-troontjie opgerig het van waar ons oordeel en vinger wys en wraak neem? Kyk ’n bietjie na daai balk in jou oog. Hy maak jou blind. Hy verhoed dat jy dinge sien vir wat dit is. Hy verhoed dat jy jou eie lewe beoordeel, ondersoek en toets. Hy maak dat jy geveinsde, skynheilige, huigelaar genoem word. As jy dalk, soos ek, skuldig is, kom ons klim van daai troontjie af, ondersoek ons eie doen en late, ons eie motiewe, ons eie foute en sondes. Kom ons bely, laat staan en maak reg. Kom ons gaan dan versigtig nader en help ons broer sagkens en met groot sorg, met baie meegevoel en empatie, met ’n “spirit of meekness” (soos wat Gal 6:1 sê) om die splinter uit sy oog te verwyder. “Council him and help him, but do not judge him”, het iemand gesê. Mag die Here ons daarmee help. ~ Wilna Botha, 04/05/2021

Monopoly
Ek was nooit goed hiermee nie. Die dobbelsteen het gedurig maar vir my 'n streep getrek, want as daai steen verkeerd val, kan jy nie huise of hotelle opsit nie, en jou kontant vloei uit jou vingers uit omdat ander se goeie spel (of selfs geluk) maak dat jy gereeld op hulle eiendom beland en gou-gou bankrot is.
Maar jy kan 'n goeie dag hê en alles val reg, en jy het naderhand ál die geld op die tafel en al die huise en hotelle en jy is skatryk en jy wen, maar dit help min. Jy sien, jy kan álles hê, maar dan pak jy weer alles terug in die boks! Dan het jy net so min as voor die spel.
Weet jy, die lewe is presies dieselfde. Jy word gebore en jy begin vroeg in jou lewe die (lewens)spel speel, en jy word so ietsie uitgedeel om aan die gang te kom. Daardie iets is talente en vermoëns om iets van hierdie spel te maak, en ons almal kry dit gratis. Diegene wat hard werk en nie daardie talente onder die emmer sit nie, begin die huise en hotelle opsit en sommer gou word welvaart deel van die spel. Jy speel jou lewe lank die spel en goeie én slegte dinge word deel hiervan, en eventueel mag jy dalk "alles" hê en dit voel goed. Maar o wee, dan word alles teruggepak in die boks! Op die einde word jy self ook in 'n boks gepak, en jy, en nét jy, is in daardie boks, niks gaan saam nie. Behalwe jou siel. Dié gaan terug na die Here toe.
"... die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het." (Pred. 12:6-7)
Die een deel van hierdie spel wat ons speel, is die feit dat dit vanself tot 'n einde kom. Maar daar is iets anders verskriklik hartseer in hierdie spel, en dis dat mense te vroeg alles in daardie boks begin terugpak en ophou lewe, al haal hulle nog asem vir baie jare. Vir sommige mense raak die spel te moeilik, vir ander val die dobbelsteen aanhoudend verkeerd, maar daar is ongelukkig vele wat sommer net oppak.
Sommige mense laat 'n vol boks agter, maar ander geniet die opbrengs daarvan, maar ook dít sal weereens in 'n boks beland.
Daar is egter tog wel 'n paar dinge wat nie in jou boks hoef te beland nie, en dis die liefde wat jy deur jou lewe uitgestraal het, dis die omgee vir ander, die tye wat jy ander raak geleef het met die liefde van en vir Jesus. Dis die dinge wat ewigheidswaarde het, daardie dinge wat die geld op die bord nie kan koop nie. Jy sien, op die einde was alles in die lewe wat jy besit het, maar net Monopoly geld waarvan jy vir 'n beperkte tyd waarde gehad het. Ongelukkig het vele mense hulle siel verkoop vir daardie stukkies papier, daardie tye toe Mammon voor die Here gekom het. Dan verloor jy daardie Monopoly geld, sowel as jou saligheid.
Stof tot stof, so sê die Bybel.
Moet jy nooit aan daardie boks se inhoud werk nie? Nee, inteendeel, speel die spel tot op die einde, speel hom skoon en eerlik en laat dinge na wat nooit eers uit die boks gekom het nie, en wat nie in die boks gepak kan word nie.
Leef liefde. ~ Willem Botha, 03/05/2021

“Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Matt. 6:27) Hier is nog een van daai retoriese vrae wat Jesus vra. Hy wag nie vir ’n antwoord nie, want die logiese antwoord sal wees: “Niemand nie, Here”. Dis ’n vraag wat ons dwing om ons eie lewe te ondersoek, wat ons kommer-gedagtes in hulle spore stuit en wat ons laat besef dat bekommernis geen positiewe uitkoms kan hê nie. Bekommernis het gewoonlik met iets in die toekoms te doen, nie waar nie? Gaan ek my werk verloor? Gaan ek siek word? Gaan ek genoeg geld hê vir my oudag? Gaan my kinders bly staan by die waardes wat ek hulle geleer het? Gaan ’n skelm my oorval en beroof? Gaan my man se oë dalk dwaal? Gaan ek die eksamen slaag? Gaan ek uitgevang word vir dit wat ek verkeerd gedoen het? Ag julle kan die lys aanvul want julle ken seker ook al daai alledaagse bekommernisse. Op die ou einde het jy hoofpyn of maagpyn of ekstra plooie of dalk word jy totaal uitgeput en depressief en dít terwyl nog nie een van daai goed waaroor jy jou bekommer al gebeur het nie en heel waarskynlik gaan dit ook nie gebeur nie. As jy jou vandag bekommer oor wat môre gaan gebeur en dit gebeur nie, het jy jou onnodig bekommer. As dít waaroor jy jou bekommer het, wel gebeur dan is jou bekommernis onnodig verdubbel. Ek voel altyd skuldig teenoor die Here wanneer bekommernis al weer die oorhand kry. Jesus sê juis in Matt. 6 dat dit ongelowiges is wat hulle bekommer. Ek behoort nie, want ek weet mos Hy is in beheer, niks sal my uit sy hand ruk nie en Hy sal alles vir my ten goede laat meewerk. “Moet julle dus nie oor more bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Matt. 6:34) Ai, dis seker een van die moeilikste opdragte. Ons moet probeer, want bekommernis steel vreugde, lewenslus, moed en hoop by ons. Bekommernis ontsluit ander emosies soos angstigheid, frustrasie, vrees, onsekerheid, wanhoop en ontevredenheid. Bekommernis maak ’n skaduwee oor my geloof en vertroue in die Here. Wat kan ons doen aan die bekommernis-skaduwee? Vra jouself af wat is die ergste wat kan gebeur en berei jouself daarvoor voor. Kry feite oor die situasie waaroor jy bekommerd is. Vra jouself of die situasie regtig so erg is as wat dit in jou kop is. As jy iets kan doen aan dit waaroor jy jou bekommer, doen dit en moenie uitstel nie. As jy niks daaraan kan doen nie, probeer om dit te aanvaar en om nie meer die hele tyd daaraan te dink nie. Vul jou gedagtes met positiewe dinge. Hou jouself besig met iets opbouend. Dalk kan jy die energie eerder aanwend om na iemand anders uit te reik en iemand te help. Soek eerder die silwer randjie as om te fokus op die donker wolke. Pak jou bekommernisse af by die Here –  kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, is Jesus se uitnodiging. Doen dit in geloof en ontvang sy rus en vrede.  "Pile your troubles on God's shoulders-- He'll carry your load, He'll help you out" (Ps 55:22 MSG). En bid! “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:6-7) ~ Wilna Botha, 29/04/2021

Kyk, Adam en Eva het álles gehad waarvoor hulle kon vra. 'n Heerlike lewe in die paradys, hulle was naby aan God, hulle kon na willekeur eet van die vrugte in die paradys, hulle was sondeloos en ek dink daar was geen element van spanning nie. Wel, hulle het AMPER alles gehad, maar nee, dit was wraggies nie genoeg nie. Die Here het net EEN boom uitgesluit wat taboe was, net een enkele boom, waar Hy 'n pertinente opdrag gegee het dat hulle daar moet wegbly. Maar toe kom daardie vreeslike woord in werking wat alles vernietig, die woord "begeer". Al wat hulle toe nodig het om die appelkar (no pun intended) totaal om te gooi, was iemand wat hulle oor die erns van hierdie saak kon laat twyfel, nl. die slang.
"God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons."
Toe sê die slang vir die vrou: "Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet, en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken” (Gen. 3:3-4)
En daar vlieg die volstruis in die windpomp in. Deur EEN vrug te eet, net een, verloor hulle alles. Jy sien, dis hoe die mens leef, genoeg is net nie genoeg nie. 'n Baie welgestelde man het eendag gesê dat hy tussen die rykstes van die rykes beweeg, en hy ken nie één wat genoeg het nie. Ek dink nogal jy sal met hierdie volgende stelling saamstem: as jy iets genoeg begeer sál jy dit kry, al moet jy steel of bedrog pleeg. Kyk net wat sê hierdie teks.
"‘n Mens wy sy lewe aan wat hy begeer, maar dit is beter om arm te bly as om te bedrieg." (Spr. 19:22)
Is dit nie SO waar nie?
"Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.” (Eks. 20:17)
Ek sê jou nou, begeer hierdie goed en jy sál 'n plan maak, en op die koop toe ongelooflik baie skade doen en baie verloor. Hoeveel druk sit sommige mans en vrouens nie op hulle gesinne se lewensmiddele t.w.v. status simbole nie!
Dis geen geheim dat bykans alle mense wat die Lotto wen, eventueel minder het as voordat daardie meevaller gekom het. Dieselfde welgestelde man van wie ek gepraat het, het by dieselfde manne ontbyt gevra dat ouens wat onder finansiële druk verkeer moet opstaan. Ek het gedog hy gaan dalk so iets van voorspoedteologie aanraak en bid vir rykdom (jy weet mos, Christene wat reg glo kry mos nie swaar nie), maar toe sê hy iets wat my totaal om geboul het, nl. "Ek weet nie hoe sleg dit met jou gaan of hoe min jy het nie, maar leer om tevrede te wees met dít wat jy wel het en leef daarmee saam, dan sal jy gelukkig wees." Wyse woorde wat ek probeer toepas in my lewe.
Nou ja toe, daar het jy dit, maar dis nou ook nie asof jy níks mag begeer nie.
"Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U Woord is my hele lewe." (Ps. 40:9) ~ Willem Botha, 28/04/2021

“Wie het nou net aan My geraak?” (Luk. 8:45) ’n Klomp mense het rondom Jesus saamgedrom, ook ’n vrou wat al baie lank siek was, wat al haar geld op dokters spandeer het en nou desperaat is om by Jesus uit te kom. Sy het van agter af aan die soom van sy klere geraak en onmiddellik gesond geword en Hy het dit gewéét! Hy weet as ons desperaat is vir sy hulp. Hy weet as ons na Hom toe vlug wanneer ons radeloos is. Hy weet as ons uitreik om aan Hom te raak sodat sy krag na ons toe kan vloei – krag om te genees, krag om te red, krag om te troos, krag om ons verleentheid weg te vat, krag om ons moed en hoop te gee. Toe sy aan Hom raak, het Jesus gaan stilstaan. Hy het haar uitgesonder tussen almal. Hy wys dat die individu vir Hom belangrik is, dat Hy nege-en-negentig skape sal los om een te help, dat Hy sal stop en opkyk in ’n boom om ’n sondaar raak te sien. Baie mense moes aan Hom geraak het daar in die gemaal van die skare, maar toe Hy vra: “Wie het nou net aan My geraak?”, was almal doodstil. Hulle was só naby aan Hom, maar tog het hulle Sy krag gemis wat ook tot hulle beskikking was. Of dalk het hulle nie met desperate geloof en hoop alle hindernisse ontsien om na Hom uit te reik nie. As ons in geloof na Jesus soek, met Hom kontak maak, uitreik na Hom, gaan Hy dit wéét en gaan Hy reageer. Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede. (Luk. 8:48, Die Boodskap) Genesing, vrede, vergifnis, vryheid – dis die uitvloeisel daarvan as ons met Hom kontak maak. Dis vir my só mooi hoedat Jesus haar hierna aanspreek as “dogter”. Ja, as jy na Jesus kom en glo dat Hy bestaan, , as jy na Jesus kom en Hom aanraak, as jy na Jesus kom en Hom aanneem as Verlosser, het jy die reg om sy dogter of sy seun genoem te word. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh. 1:12) ~ Wilna Botha, 27/04/2021


"As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word." (Jak. 5:14-15)
Ek sukkel met hierdie vers, want dit klink of mens nooit hoef siek te wees nie, want die stappe hier is eenvoudig en daar is selfs 'n belofte by. Vriende het onlangs 'n uiters onwelkome en ongenooide gas gekry, die Groot K het hom kom inwurm en by hulle kind kom kuier. Hoe voel 'n ma en 'n pa? Dit voel of my bors die heeltyd toetrek, beskryf die ma hierdie gevoel. Dalk hanteer die pa dit anders, ek weet nie. Dalk 'n geval van "suffer in silence". 'n Ander man het eendag die volgende gesê toe hy deur 'n donker tyd is: Dit voel of 'n olifant op my sit.
Wat sê mens, wat is die trooswoorde? Pas Jak. 5:14 toe en alles is verby? Of hou net aan die Here vas en bid en glo? Of kry 'n groot gebedsketting aan die gang? Of hoor presies hoe jy moet bid? Dalk moet die siekte bestraf word, en ook die duiwel daarmee saam.
Ek het regtig al van groot wonderwerke gehoor waar die Here op 'n dramatiese manier ingegryp het, en dit gebeur elke dag. Soms in toestande wat jy nie as ernstig beskou nie en soms in "ongeneeslike" siektes. Wat sê mens? Daar is nie 'n klinkklare waarborg nie, en die Here laat soms dinge sy gang gaan, maar weet vir seker, die Here is daar, en die Here openbaar Homself aan diegene wat daarna soek. "Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal my hulp kom?" Ja, hulp is by die Here.
Gaan olie 'n wonderwerk laat gebeur? Nee, die Here is die Een wat die wonderwerk laat gebeur. Gaan mens altyd net rustig en vol vrede voel as jy terugleun in die Here se arms? Waarskynlik nie, maar leun in elk geval terug in sy arms. Gaan die pad vorentoe net gelyk wees? Dalk nie, maar stap in elk geval saam met Hom. Gaan al jou gebede presies verhoor word soos wat jy dit bid? Miskien nie, maar bid steeds onophoudelik. Gaan jy elke dag sy stem hoor en wéét dat Hy daar is? Gewis nie, maar praat steeds onophoudelik met Hom. Gaan jy altyd lus wees om Hom te prys te midde van omstandighede? Nee, definitief nie, maar prys Hom in elk geval. En dan, wanneer daardie deurbraak kom, weet vir seker dat dit nét sy genade is, en dat deurbrake nie afhanklik is van jou goeie dade nie. Dis nét genade, en plaas jou hoop op daardie genade, en hou vas aan sy sterk hand wat Hy in joune plaas. Dan kry mens dalk 'n ander perspektief op alles, en dan kan jy weet dat Hý in beheer is. Wie anders? ~ Willem Botha, 26/04/2021

“Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie?” (Matt. 26:40) Jesus is in doodsbenoude oomblikke besig om te bid en te pleit by sy Vader. Hy het sy dissipels saamgeneem en gevra: bly hier en waak saam met My. Maar helaas, hulle kon nie wakker bly nie. Hulle kon nie vir Jesus help om sy las te dra in Sy tyd van verdriet en angs nie, hulle kon nie saam met Hom bid nie, hulle moegheid en menslikheid het die oorhand gekry. En ek en jy? As Jesus ons vanaand vra vir ’n uurtjie uit ons dag, ’n tyd om saam met Hom te wees, ’n tyd om te bid en op Hóm te fokus, ’n uurtjie om met die Woord te spandeer? Sou jy bereid wees? Sou jy dalk liewer kies om iets anders te doen, of sou jy dalk aan die slaap val? Ek vra myself af: wat is ek bereid om op te offer ter wille van Jesus? Sal ek bietjie die TV afsit, my selfoon neersit, my stokperdjie laat staan, my tyd saam met my vriende opgee om eenkant saam met Hom te “waak”? Ons moet natuurlik ook hoor en raaksien wanneer ons vriende en familie dalk ’n uur van ons tyd nodig het om saam met hulle te waak. Daar is tye dat ons ons eie behoeftes en beplanning opsy behoort te sit om iemand te help, om saam te bid, te luister, raad te gee, hand by te sit met take. “Dra mekaar se laste”, sê  die Bybel mos vir ons. Om saam met iemand te waak, beteken jy sal dalk moet wakker bly om hom op te pas en te versorg. Om saam met iemand te waak, beteken jy moet oplettend wees en aandag gee aan sy behoeftes. Om saam met iemand te waak, beteken jy sal dalk moet geld spandeer om te help kyk dat sy sake reg verloop. Om saam met iemand te waak, beteken jy moet dalk jou eie planne vir ’n rukkie eenkant toe skuif. Ek is ongelukkig skuldig want dis makliker en lekkerder om na my eie belange om te sien, my eie selfsugtige dinge te doen, met my voete op te sit en rus, of vroeg onder die komberse in te kruip as om vir ’n uur saam met iemand te waak.  As jou vriend vra: Bly hier en waak saam met my, sal jy? As Jesus vra: Bly hier en waak saam met My, sal jy?  ~ Wilna Botha, 22/04/2021

"Dan begin ek bewe en gaan my hart aan die ruk. Hoor hoe bulder die stem van God, hoe dreun dit uit sy mond! Hy laat dit losbreek in die hemelruim, Hy laat dit blits tot by die uithoeke van die wêreld, en dan kom die donderslag. God laat sy magtige stem hoor, Hy stuur die onweer in volle krag wanneer Hy sy stem laat hoor. Met sy stem laat God magtige dinge gebeur." (Job 37:1-5)
Wow, hoor hoe bulder en blits dit, hoor die donderslae as God praat! Hierdie almagtige God wat in een oomblik die hele heelal met biljoene galaksies, wat bestaan uit biljoene sterre, met die spreek van 'n woord laat ontstaan het, hierdie God wat aardbewings met onberekenbare energie die aarde laat skud, hierdie God wat bestaan het voor enigiets anders bestaan het, en wat dinge gedoen het en steeds doen wat die mens nie kan verklaar nie. Hierdie God wat kragte daar gestel het wat die hele heelal perfek in ewewig hou, hierdie God wat die wetenskap geskep het wat die mens nie kan begryp nie, al probeer hy hoe hard. Oppermagtig is 'n klein woordjie, dit beskryf nie genoeg van Hom nie.
Dis hierdie God teenoor wie die mens, wat sy asem so maklik uitblaas, arrogant wil opstaan en tot verantwoording roep, dis hierdie God wat deur die mens in die getuiebank geplaas word en dan moet Hy aan die mens verduidelik as die mens ongelukkig is oor goed. Dis Hy wat aan die mens moet rekenskap gee oor dinge wat nie by die mens se gemaksone pas nie. Dis Hy wat moet verduidelik hoekom Hy dinge in Sy Woord geskryf het wat vir die mens effe moeilik is. Dis Hy wat moet verduidelik hoekom Hy sê meer mense sal in die hel beland as in die hemel. Hy is tog immers 'n liefdevolle God, of hoe? Hoe durf Hy. Die mens het so groot en magtig in sy eie oë geword (ja ek ook), dat God die knie moet buig voor ons. Maar weet jy, as hierdie dinge so is, is Hy nie God nie. As ons die Bybel maar rustig kan verdraai soos dit ons pas, is Hy nie die outeur van die Bybel nie. As Hy sê Hy HAAT sekere dinge (en daar is baie), en ons is ongemaklik daarmee, en ons probeer dit in die watte van sogenaamde "liefde" toedraai, kan ons net sowel ons Bybels weggooi. Die mens hou mos van leermeesters wat vir hulle vertel net wat hulle wil hoor (2Tim. 4:3), maar daar kom 'n dag wat daardie geleerdes 'n reuse verrassing gaan kry, want die toets lê by die regterstoel. Dis daar waar hierdie dwalende geleerdes se volgelinge gaan besef dat hierdie leermeesters derduisende saam met hulle in die verderf in gesleep het. Jy sien, ons wil hê die Pottebakker moet ons vorm, maar dit lyk my die mens vat soms die klei en maak hulle eie god, een wie sy knie buig voor die mens.
Mens, ken jou plek! Nee ek verstaan min, maar ek glo baie. Ek is skuldig aan al hierdie dinge, maar soms kyk ek op na Sy grootsheid en almagtige figuur, dan sidder ek.
Ja hierdie onbeskryflike groot God, buig ook vandag af na jou en my en sê: Ek is lief vir jou. Volg My. ~ Willem Botha, 21/04/2021

“Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie?” (Luk. 12:57) Die opskrif by dié Bybelgedeelte waar Jesus hierdie vraag vra, is: “Vroegtydige versoening”. Hy sê vir die mense (en vir ons ook!) om moeite te doen om jou saak met jou teenstander te skik terwyl jy op pad is hof toe. Doen moeite om vroegtydig te versoen, moenie uitstel nie, moenie wag tot in die hof of voor ’n regter nie. Moenie uitstel totdat een party verneder en vertrap is en alles verloor nie. Maak vir jouself uit wat die regte ding is om te doen. As jy skuldig is, erken dit en dra die gevolge. As jy skuldig is bely dit en pleit vir vergifnis. As jy skuldig is, doen wat jy kan om die saak reg te stel, maak vroegtydig vrede. As jy onskuldig is, moenie ten alle koste wil wraak neem en die ander een aan die pen laat ry nie, moenie met alles in jou op jou regte staan en probeer vergeld nie. Maak vir jouself uit wat die regte ding is om te doen. Ons weet watter pad Jesus voorstel: draai die ander wang, moet jou nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie, as iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer, vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” (Rom. 12:20) Dis die regte dinge om te doen. Ek kan nie help om te dink dat hierdie paar verse ook ’n verdere betekenis het nie. Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie? Ons is op pad na God se hofsaal, waar die ewige Regter ons gaan beoordeel. “Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel”, sê  Hand 17:31. Vriende, ons het die voorreg om op pad na die Regterstoel die saak uit te maak met God. Ons het nóú die geleentheid om Jesus as Verlosser aan te neem, ons het nóú die geleentheid om ons sonde te bely en volkome vergifnis te ontvang. Ons wéét wat die regte ding is om te doen. Ons kan vroegtydige versoening ontvang en die oordeel van die Regter vryspring. “Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.” (Rom 3:26) Maak vir jouself uit wat die regte ding is om te doen en doen dit. ~ Wilna Botha, 20/04/2021

Die sondes van die vaders.
"Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: ‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’ " (Num. 14:17-18)
“Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.” (Eks. 20:5-6)
Hierdie twee tekste is vir my nogal moeilik om te verstaan en ek het nie die teologiese kennis om dit tot op die been oop te breek en te verklaar nie. Ek glo egter nie dat die Here ons straf oor dít wat ons ouers verkeerd gedoen nie, want dit pas nie vir my by die liefdevolle beeld wat ek van God het nie. Hy sê immers dat jy jóú sondes moet bely en Hy sál dit vergewe. Ek wil egter van 'n ander kant af hierna kyk, want ek het net weereens besef dat mý foute my kinders beïnvloed en hulle a.g.v. dit kan ly. En hoeveel foute het ek nie gemaak nie, hoofsaaklik met woorde. Hoe ongelooflik sleg is dit nie om te sien hoe kinders in die lewe teruggehou word oor dinge wat hulle ouers oor hulle uitgespreek het nie. Ja, dit loop geslagte ver, want ongelukkig word kinders dikwels juis dít wat en wie hulle ouers is, terwyl hulle dit gehaat het. Ons almal het dit al gesien.
Maar genoeg van die negatiewe. Aan die ander kant is dit ongelooflik hoe kinders wat in liefde grootgemaak is, dit vir geslagte ver oordra. Opbouende woorde, soos die woorde "ek is lief vir jou", ouers wat vinnig vergewe, ouers wat kan sê "ek is jammer", ouers wat ondersteun al stem hulle nie altyd heeltemal saam met die kinders se keuses nie. Nee ek praat nie van droogmaak nie, ek praat van dinge soos beroepskeuses en keuses van 'n lewensmaat. Ai, ek het al soveel gesien dat ouers déúr hulle kinders wil leef en hulle eie onvervulde drome deur hulle kinders wil uitleef.
'n Ouer se verhouding met die Here steek vir seker in 'n kind se onderbewuste vas, al lyk dit soms of hulle dit nie uitleef soos die ouers dit sou wou hê nie.
Dan laastens, dít wat ons voor ons kinders uitspreek oor die land en die land se probleme, en ons toekoms hier, kan maak dat hulle óf totaal opgee met alles, óf skouer aan die wiel sit en hard werk om dit 'n beter plek te maak.
Woorde, opbouende woorde, liefdevolle sagte woorde, of dolke wat vernietig en geslagte lank 'n negatiewe impak het. Ses en twintig letters in ons alfabet, met onbeskryflik baie mag en krag. Hang net van jouself af hoe jy dit skommel en gebruik. ~ Willem Botha, 19/04/2021

“Wat raas en huil julle so?” (Mark. 5:39) In ander vertalings klink die vers só: Vir wat gaan julle so te kere? (Die Boodskap) Why all this confusion? Why are you crying? (GNB) Why are you making a commotion and weeping? (ESV) Jesus praat hier met die roubeklaers voor Jairus se huis waar sy dogtertjie gesterf het. Dis nie vir hulle nodig om te rou nie, want daar is ’n groter prentjie wat hulle nog nie raaksien nie. Kom ons dink ’n bietjie oor dié tye en situasies in ons lewe waar ons raas en huil en te kere gaan en ontsteld en vies is as ons voel dinge is buite beheer. Daai geleenthede waar ons ’n “scene” maak as dinge skeef loop, paniekerig rondtas as ons iets verloor of iets moet prysgee, uitbars in trane as ons teleurgestel word, ineenstort van verdriet wanneer ons slegte nuus kry. Wat raas en huil julle so, kan Jesus sekerlik vir ons ook vra. Ons hét mos hoop, ons hét mos die Here aan ons kant, ons wéét mos alles (goed en sleg) sal ten goede meewerk, ons wéét mos ons is nie alleen nie, ons wéét mos waar ons hulp vandaan kom, ons wéét mos ons is tot alles in staat deur Hom wat vir ons krag gee, ons weet mos Hy droog al die trane af, ons wéét mos Hy is in beheer en daar ís ’n groter, Goddelike prentjie. Dis natuurlik nie te sê dat ons nie mag huil en treur, hartseer of bekommerd wees nie. Dis menslik en ons mag. Jesus misken ook nie ons hartseer en trane nie! Maar ons moenie met ons gehuil en geraas só op ons hartseer fokus dat ons, soos die roubeklaers in Mark 5, mis dat Jesus opdaag, dat Hy ’n plan het, dat ’n wonderwerk op die punt is om te gebeur nie.  Ek dink daaraan dat Jesus self in die tuin van Getsemane doodsbenoud was en bloed gesweet het. Maar hoe het Hy dit hanteer? Hy het gebid, op sy vriende se ondersteuning staatgemaak, weer en weer gebid en toe gelate oorgegee omdat Hy geweet het dat sy Vader se wil nou verder sal geskied. Ons is nie bekommerd soos mense wat nie ’n goeie uitkoms verwag nie, ons nie bang soos mense wat nie weet waar hulle hulp en vertroosting vandaan kom nie, ons treur nie soos mense sonder hoop nie (lees 1 Tess. 4:13) Ons kan kalmeer en rustig word  - Jesus is hier! “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo.”(Mark. 9:36) ~ Wilna Botha, 15/04/2021

Ek het vanoggend 'n vreeslike mooi boodskap gekry van 'n vriend af, waarvan ek die gedagtes daarvan graag met jou wil deel. Ek wil egter eers begin met 'n vraag: Is jy gelukkig? Voel dit of elke dag vir jou 'n lied is en voel dit of jy die heeltyd wil saam sing? Of maak jou werk jou dood en is elke dag 'n marteling wat veroorsaak dat jy net vir naweke leef? En die belangrikste vraag is of jy vrede het? Daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan. Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede" en my mening is dat jy nie vrede kan hê as jy nie tevrede is nie. Hoe lyk dit anderkant die draad? Daar by die mooi groen grasperk van die familie Jones. Daar by die deftige motor, pragtige woning met duur gordyne en luukse vakansies. Daardie lewe wat almal (op die oog af) begeer, en nie te praat van mev. Jones se perfekte voorkoms en gestalte nie.
Ons jaag ons morsdood omdat ons nie tevrede is met minder nie, en jou siel sal verkoop ter wille van meer besittings om beter te kan kompeteer.
Ek deel graag die beeld wat ek vanoggend gehoor het. 'n Afgetrede Professor nooi 'n klomp oud studente na sy huis toe en almal kla steen en been oor werksdruk en stress. Hy bied toe vir hulle koffie aan in 'n groot pot, en sit verskillende koppies uit waarin hulle kon skink. Mooi porselein, duur koppies, pragtige bekers, maar ook 'n paar papier koppies. Almal het so gou moontlik die mooi koppies opgeraap, en niemand het die papier koppies gebruik nie.
Toe leer hy vir hulle 'n wonderlike lewensles. Hy het gesê die lewe is die koffie en nie die koppie nie, maar vir almal was die koppie vreeslik belangrik, daardie koppie wat geen duit verskil maak aan die smaak van die koffie nie. Die kruks was, mense geniet nie die koffie (die lewe) nie, want die koppie (besittings en welvaart) is te belangrik. Mense sien nie meer die Here se hand in die koffie nie, want mense meet hulle seëninge aan die mooi van die koppie. Mense sal alles oorboord gooi, hulle totale lewenskwaliteit inboet t.w.v. 'n koppie so mooi soos die familie Jones se ingevoerde koppies.
Ek en vroulief het destyds besluit dat sy self ons kinders sal grootmaak en nie weer gaan werk nie, en ons moes derduisende mooi koppies inboet, maar die kwaliteit van die koffie was (en is natuurlik steeds) só die moeite werd. Maar ons het steeds die koppies ook gehad. Mr Price se goedjies is oulik hoor! Die Here belowe nié 'n mooi koppie nie, maar Hy belowe die heerlikste koffie in oorvloed.
Geniet daai koppie boeretroos, of dit nou in 'n blikbeker is en of die koppie se oor af is. Geniet net die koffie! ~ Willem Botha, 14/04/2021

“Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” (Luk. 10:26) “Julle het tog al in die Skrif gelees...” (Matt. 21:42) Wat lees jy daar in jou Bybel? Dis wat Jesus vir ons ook kan vra. Ons wonder tog so baie kere wat is sy wil? Is iets reg of verkeerd? Mag ek dit of dat doen? Hoe moet ek in die of daai situasie optree? Jesus stuur die wetgeleerdes terug na die wet om antwoorde te vind. Hy stuur sy volgelinge terug na die Skrif vir insig en om situasies te beoordeel. Wat lees jy daar in jou Bybel? Of dalk kan die Here vandag vir ons vra: lees jy jou Bybel? Glo jy wat jy lees? Laat jy toe dat dit jou lewe beïnvloed? Maak ons staat op die inhoud om vir ons die koers aan te dui en vir ons antwoorde vir elke situasie te gee, of volg ons ons eie kop, of ander se raad? Daar is báie geestelik boeke en báie geestelike stukkies op Facebook en jy kan vir enige geestelike vraag ’n antwoord op Google kry, maar al daai inligting moet getoets word en geweeg word teenoor die Bybel. So, wat lees jy daar in jou Bybel? “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.” (2 Tim 3:16) En natuurlik, die heel belangrikste is dat die Bybel vir ons die pad van redding en verlossing deur Jesus Christus leer, vir ons die pad na ewige lewe wys. Jy kan dit daar lees, maar gló jy dit? “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskapper in die Bybel sê nie?” (Luk. 24:25, Die Boodskap) Lees en glo jy die Bybel selektief of aanvaar jy alles as God se Woord en van toepassing in jou lewe vandag? Kyk net hoe mooi sê Ps. 19: die Woord dui die regte koers aan, dit bring blydskap, gee insig, staan altyd vas, is kosbaarder as goud, soeter as heuning. “Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.” (Ps. 19:12) ~ Wilna Botha, 13/04/2021

12 April 2021

Is jy ook lief vir 'n stukkie brood? Ek bak elke naweek van hierdie ciabatta brode en behalwe dat dit vreeslik maklik is, smaak dit heerlik. Jy sal ook saam met my 'n lang lys van vorme, smake en disse van brood kan opnoem. En as jy nou die seuns van die mans wil skei, laat jy hulle 'n braaibroodjie maak!
"Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”
Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie." (Joh. 6:31-35)
Inderdaad né, Jesus is ons stapelvoedsel, die brood wat lewe gee, die brood wat jy elke dag kan eet, die brood wat nooit klaar raak nie. Jy onthou hoe die brood vermeerder is en hoe duisende dit nie kon opeet nie. So kan ek en jy ook nie die Brood wat lewe gee, klaar eet nie. Die "dis" wat jy elke dag maak sal elke dag anders proe, en jou resepte en idees sal nooit opraak nie, en jy sal elke dag gevoed word. Jy hoef nooit in jou lewe weer geestelik honger te wees nie, die spens is oorvol met nuwe kraakvars brood, elke liewe dag, en dis daar vir jou, verniet. Geniet dit, nuttig dit, en dink elke keer wat jy 'n stukkie brood eet aan Jesus se liggaam wat vir jou gebreek is. En vier sommer soms so by jouself nagmaal as jy brood eet. Sommer so by jouself, of saam met jou gesin. Dalk sommer ook as jy en 'n vriend tydens etenstyd 'n broodjie nuttig. Wat 'n eenvoudige maaltyd is 'n toebroodjie nie, en hoe eenvoudig is die evangelie ook nie, selfs 'n kind kan dit verstaan. Neem daardie Brood wat lewe gee en maak Hom jou eie. Dis elke dag vars. Geniet dit. ~ Willem Botha, 12/04/2021


“Het jy my lief?” So het Jesus drie maal vir Petrus gevra in Joh. 21:15-17. Toe ek vandag oor dié vraag gedink het en gewonder het wat ék sou antwoord as Jesus dit vir my sou vra, het ek gedink dat ek, nes Petrus, dadelik sou sê: “Ja, Here, U weet dat ek U lief het.” Dis mos logies. Dis kan mos nie anders nie. Hy het my lief en ek het Hom lief. Hy het my eerste liefgehad en daarom het ek Hom lief. Hy het sy lewe vir my afgelê, daarom het ek Hom lief. Hy het al die antwoorde en die woorde wat lewe gee, daarom het ek Hom lief. Hy ken my, daarom het ek Hom lief. Hy versorg, beskerm en help my, daarom het ek Hom lief. Uitgemaakte saak. Daai ou-ou liedjie sê mos: Jesus loves me, this I know... Ons sing egter hierdie mooi versie ook by: I love Jesus, does He know? Have I ever told Him so? Jesus loves to hear me say, that I love Him every day. Hy wil ook uit jou mond hoor dat jy Hom lief het. Hy wil ook hoor dat jy voor ander sê dat jy Hom lief het. En ja, ons weet tog dat liefde nooit net lippetaal is nie. Dit moet in aksie kom. Dit moet in dade oorgaan. Liefde sonder dade om dit te bewys is nie liefde nie. Ek dink ons liefde vir Hom het drie fasette: volg Hom, vertrou Hom, gehoorsaam Hom. Dit begin met ’n keuse vír Hom, dit behels ’n neerlê van jou eie begeertes, jou eie ambisie, sodat niks belangriker is as Hy nie, sodat jy net oë het vir Hóm. As ek Hom lief het, kan en sal ek Hom vertrou met alles en vir alles. "Om God lief te hê, beteken om Sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer". (1 Joh. 5:3) As ons sê dat ons Hom lief het, moet ons doen wat Hy sê. Dit is ongelukkig só dat as ons die Here Jesus lief het, moet ons ook sy ander kinders liefhê, al is dit moeilik, al wil ons nie, al soek ons allerlei verskonings om dit nié te doen nie. Petrus het vantevore sy liefdes-toets gedop toe Hy Jesus verloën het en selfs gevloek het en gesweer het dat hy Hom nie ken nie. En ek - hoe diep lê my liefde? Hoe gou kwyn dit as daar moeilikheid opdaag? Hoe maklik weier ek om ander lief te hê? Hoe gou stel ek iets anders bo my Groot Liefde? Ongelukkig moet ek bely dat ek knaend my liefdes-toets dop. Petrus het weer ’n kans toe Jesus hom drie maal vra: Het jy my baie lief? “Ja, Here, U weet dat ek U lief het.” Vanaand het ek en jy ook weer ’n kans. Wat is jou antwoord? ~ Wilna Botha, 08/04/2021

Dankie meneer, jy is goed vir my meneer, die Here sal jou seën meneer. Jip, vir 'n R5 kontantjie kan ek seker wees van die Here se seën.
Ag mevrou help my groot asseblief (met 'n erg betraande gesiggie), ek moet medisyne koop vir my kinders mevrou. Nee regtig mevrou, kyk hier is die voorskrif mevrou, ek het regtig nog net so 'n vyftig randjies nodig mevrou. Die Here sal jou seën mevrou. Dankie dankie, dankie mevrou.
Jip, vir R50 kry jy blykbaar baie seën.
Ag master, ek het nog net so R30 nodig vir die taxi master, ek het kom piece job soek vir die dag maar niks gekry nie, en die drie kindertjies daar in Limpopo is honger master. Kyk gou hierdie foto'tjie master , kyk hoe gehawend is hulle master! En die vrou is weer in die ander tyd master. Daar is net 'n paar patats in die huis master. Die Groot Man daar bo sal jou bless master. Nee master, nooit in der ewigheid sal ek loop dop koop met hierdie geldjie nie master, en nee master ek koop ook nie siegrets nie master, iemand by die robot het hierdie skyf vir my gegee master. Nee genuine! Die Here gaan jou groot seën master!
En dan die ietwat verwaarloosde vrou met die blikkie en tafeltjie voor die Spar: Dalk iets vir ons weeskinders meneer? Die Here sal jou seën meneer!
Ja jy ken dit, net so goed soos ek. Dis orals, en soms probeer jy op 'n manier wegvlug of net oogkontak vermy. Of spoed verminder voor die robot om die robot groen te vang nes jy by hom is. By die robot spring en dans 'n spannetjie met hulle wit geverfde gesigte en Coke kaste 'n dans wat perfek ge-choreografeer is, en by die parkeerterrein swaai al wat 'n Jan Rap en sy maat is lap.
Ai, waar los dit ons? Wat verwag die Here van my? Moet ek elke keer help? Of soms? Of glad nie, want ek help om hierdie kanker van ons samelewing te onderhou. 'n Klompie tekste kom by my op.
"As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde." (Jak. 4:17)
"Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toe kom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie." (Spr. 3:27)
Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tess. 3:10)
" Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word." (Matt. 7:7-8)
Wat is jou beleid hieroor? Ek vra weer, wat verwag die Here van jou en my? Ek weet nie, maar as ek dalk vanaand vir jou 'n antwoord gee, mag daar dalk volgende week 'n ander antwoord wees. Die Here sal jou seën... ~ Willem Botha, 07/04/2021

“Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” (Luk. 24:17) Op die dag van Sy opstanding verskyn Jesus aan twee dissipels wat op pad is na Emmaus. Hulle was hartseer en ontnugter oor die veroordeling en dood van hulle Leermeester en het oor al dié dinge wat gebeur het geloop en praat. Hulle was ook ontsteld oor die stories dat Jesus uit die dood opgestaan het, omdat hulle dit glad nie verstaan het nie. Jesus kom nader, stap saam met hulle en vra: wat bespreek julle so ernstig? What are you talking about, so sad and gloomy? (volgens The Passion Translation) Net daar en dan pak hulle alles uit wat hulle so pla en waaroor hulle wonder en wat hulle so somber en terneergedruk maak. Weet jy, Jesus hét opgestaan, Hy leef en Hy val vandag ook daar langs jou in op jou lewenspad om uit te vind waaroor jy praat, waaroor jy kla, waaroor jy bekommerd is, wat jy nie verstaan nie, wat nie vir jou sin maak nie, wat vir jou onmoontlik lyk. Jy kan, nes die Emmausgangers, jou hart uitpak en uitpraat teenoor Jesus. Dan sal Hy, soos vir hulle, die Skrif oopmaak en sy woord laat lewe kry, dan sal jy antwoorde vind, rustigheid kry en tevredenheid ervaar. “Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.” (Fil. 4:6, Die Boodskap) “Hulle sê toe vir mekaar: Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk. 24:32) ~ Wilna Botha, 06/04/2021

Ek is geen regskenner nie, maar daar is basiese beginsels in die regstelsel wat eintlik baie logies is. Enige Jan Rap en sy maat kan jou nie sommer van enige ding beskuldig en aankla en daarmee wegkom nie. Jy moet getuienis het wat jou saak ondersteun om jou punt te bewys. Een ding wat egter 'n doodsteek is vir enige party wat iemand onskuldig wil te na kom, is as jy 'n betroubare getuie gebruik. Ons weet egter dat die ander party sal probeer om jou getuie in diskrediet te bring, maar as hy dit nie regkry nie, sal jou getuie die sterkste element in jou guns wees. Hoeveel betroubare getuies het jy nodig? Net een natuurlik!
En so staan Jesus op uit die dood en die owerhede versprei leuens oor Hom, deur te beweer dat sy liggaam gesteel is deur die dissipels. Die rede hoekom hulle dit so fanaties wou toesmeer, is omdat Jesus voor baie mense gesê het dat Hy gaan opstaan, en dit sou hulle hele rede om Hom te vervolg tot niet maak. Maar toe kom daar BAIE getuies op die toneel.
"Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels." ( 1Kor.15:3-6)
Meer as vyf honderd! Goeiste man, jy het geen kans teen so baie getuies nie! Hy het aan ander vroue verskyn, aan die twee Emmaus-gangers en aan die dissipels. Of liewer, die 11 wat oorgebly het nadat Judas selfmoord gepleeg het. Die owerhede het net eenvoudig geen kans gehad met hulle leuens nie, en indien hulle so 'n saak hof toe sou neem, sou daardie saak in minute gesneuwel het. Maar dis nie al nie, soos wat die apostels vervolg is, het hulle gevlug en die evangelie versprei so ver as wat hulle gegaan het, en elkeen het gesterf vir hulle saak.
Weet jy dat net Matteus en Johannes dissipels was, en nie Markus en Lukas wat twee van die evangelies geskryf het nie? Waar pas Lukas (die dokter) in die prentjie in? Hoekom doen hy die moeite om hierdie dinge (leuens?) te verkondig? Kom ons laat hom self antwoord.
"Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is." (Luk. 1:1-3)
Daar het jy dit! Is dit vir jou genoeg? Nee wag, nog nie klaar nie. Paulus, die vervolger van Christene, het op 'n totale ander vlak met die opgestane Jesus te doen gekry op pad Damaskus toe.
"Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het." (1 Kor. 15:8)
Ja, dis daardie Paulus wat 13 van die 27 boeke(briewe) van die Nuwe Testament geskryf het.
Nee geliefde owerhede, julle saak se bodem het nou heeltemal uitgeval! Met soveel uiters betroubare getuies kan ek net luidkeels uitroep: Hy het opgestaan, Hy het WAARLIK opgestaan! ~ Willem Botha, 05/04/2021

Ek het 'n jaar gelede hierdie boodskap geskryf en deel dit graag weer. Die predikant het vanoggend in die kerk die spyker op die kop geslaan toe hy sê: die opstanding is die heel belangrikste dag op ons kerklike kalender. Hier word jou geloof tot op die been getoets. As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy al die res maar los.

Die Opstanding - en fopnuus
Ek dink jy is in hierdie tyd net so moeg vir fopnuus soos ek. Dit voel of jy net mooi niks meer kan glo wat jy lees nie en dis ongelooflik dat mense net eenvoudig nie drie minute sal spandeer om eers die waarheid te toets nie. Maar daar is een ding wat fopnuus nie kan teenstaan nie en dis tyd. Met tyd word alle fopnuus ontbloot as strooi omdat die waarheid altyd seëvier.
Nou ja, wat op aarde het hierdie negatiewe gedagte met die Opstanding van Jesus te doen? Wel, fopnuus is stokoud en ons lees al in die Bybel daarvan. 'n Reuse gebeurtenis vind plaas en onmiddellik word fopnuus daaroor versprei en volgens die Bybel word dit vandag nog versprei, en ook in die gedeelte wat jy netnou hieroor gaan lees sal jy sien hoe korrek die Bybel is.
Maar voor ons daarby kom, kom ons lees net eers oor dít wat plaasgevind het wat mense genoodsaak het om leuens te versprei.
 Joh. 20:1-2 "Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
Ja, Jesus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan, net soos Hy gesê het. Regtig regtig, waarlik, vir seker, sonder twyfel, was die graf leeg. Ons weet vandag wat alles daarna gebeur het want ons het die feite in die Bybel. Iets wat 'n onbeskryflike wonderwerk was, was vir ander 'n totale ramp en wat ten alle koste verswyg moes word! Kyk, die priesterhoofde en die familiehoofde het 'n bloutjie geloop soos nog nooit tevore nie. Toe kom hulle met 'n plan vorendag: Fopnuus!
Matt. 28:11-15 "Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel."
 Kyk net hoe akkuraat stel die Bybel dit: tot vandag toe!
 Maar fopnuus kon nie die toets van tyd deurstaan nie. Jesus verskyn aan hordes mense, daar word daaroor geskryf, gepraat, gejubel en mense kom in duisende tot geloof in Hom en die Heilige Gees word op duisende (nee miljoene) uitgestort, tot vandag toe. Daardie fopnuus kon net eenvoudig nie hou nie. As Hy nié opgestaan het nie, het die hele episode wat 2000+ jare gelede afgespeel het platgeval, alles, elke ding wat gesê is, geskryf is en gedeel is. Niks sou hou nie.
Maar ek en jy weet vandag dat Jesus leef en werk in mense se harte, nog net soveel soos altyd. Die grootste enkele ding wat moes gebeur rondom die kruisiging, is die opstanding. Die "fopnuus" is as leuens ontbloot, en die waarheid seëvier! Halleluja.
Matt. 28:6(a) : "Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het." (1953 vertaling) ~ Willem Botha, 04/04/2021


“Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?” (Joh. 13:12) So vra Jesus by die Paasfees-tafel vir sy dissipels nadat Hy die ongewone ding gedoen het om hulle voete te was. Verstaan hulle dat Hy gekom het om te dien, dat Hy homself nie so belangrik ag, dat Hy nie bereid is om sy bokleed uit te trek en sy handdoek as voorskoot om te bind en sy volgelinge se voete te was nie. Verstaan hulle dat Hy Sy Goddelike bestaan prysgegee het om ’n mens tussen mense te word, om die pad van vernedering, gehoorsaam enduit te loop tot by die kruis. (soos wat ons lees in Fil. 2:6-8). As Jesus vandag op hierdie donker, benoude, bebloede, verlate, verguisde, verbryselde, mishandelde, deurboorde, kruisiging-Vrydag vir ons sou vra: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?”, sou jy “ja” kon antwoord? Verstaan jy dat al die lyding en verwerping en pyn wat Jesus moes verduur namens jóú was? Verstaan jy dat ál jou sonde daar op die kruis op Hóm afgekom het, dat Hy gesterf het in jóú plek? Dat Hy jou sondeskuld-rekening betaal het deur dit aan die kruis vas te spyker? Dat Hy jou sondelas op Hóm geneem het?  Verstaan jy dat jy nou vry, vergewe, skoon en kwytgeskeld is, dat daar geen veroordeling meer is vir jou nie, dat jy nou die reg het om God se kind genoem te word, dat daar vir jou genesing gekom het deur Sy wonde? Verstaan jy dat jy nou die ewige lewe het? Verstaan jy wat Hy vir jou gedoen het en glo jy dat dit vir jóú persoonlik is? As jou antwoord “ja” is, dan sal jy ook verstaan hoekom hierdie Vrydag ’n “Goeie” Vrydag geword het. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5) Verstaan jy wat Hy vir jou gedoen het? ~ Wilna Botha, 02/04/2021

Daar was drie kruise op Golgota, daar het drie mense gehang, hulle is saam daar vasgespyker en hulle gaan saam sterf. Al drie was skuldig aan iets en al drie het die doodstraf gekry. Die vraag is: was al drie wel skuldig? Was al drie skuldig bevind?
“Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!" Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie." Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom." Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."” (Lukas 23:32-33; 39-43)
Ek dink daar kan boeke geskryf word oor dít wat hier afspeel, en elkeen se situasie is drasties anders as die ander twee s'n.

Die Redder:
In die middel het die Redder gehang, die Een wat ek en jy sê onskuldig daar gehang het, maar ons maak 'n fout, Hy wás skuldig. Eerstens skuldig daaraan dat Hy Homself 'n koning genoem het, maar Pontius Pilatus het Hom egter tog steeds onskuldig bevind en Hom nié ter dood veroordeel nie, die mense het dit gedoen. Die ek en jy van hierdie wêreld. Maar Hy wás "skuldig", aan moord, owerspel, kinders se lewens verwoes, dronkenskap, diefstal, leuens, alles waaraan jy kan dink. Nee, Hý het niks daarvan gedoen nie, ek en jy het, en aangesien Hy ons skuld op Hom geneem het, was hy eintlik skuldig aan elke verfoeilike daad waarmee ons besig is, en nog sal wees. Daarom was Hy die Redder, sodat ek en jy "onskuldig" bevind word deur die Vader.

Die verlorene:
Dit was die een wat Hom gespot het en gesê het dat Hy Homself en vir hulle moet red. Jy sien, daardie woorde het gespruit uit spyt vir wat hy aangevang het, maar hy wou 'n kortpad na "redding" vat, redding van die fisiese dood. Hy was egter verlore.

Die geredde:
Dit was die een aan die ander kant en hy het die ander een berispe en erken dat hulle die doodstraf verdien. Dan roep hy net hierdie enkele sin uit: “Jesus, dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom”. Net dit, tien woorde en daar verander sy hele "lewe" tot in lengte van dae. In die ewigheid saam met Jesus. Jy sien, daar is 'n reuse verskil tussen die twee, die een was spyt en die ander een het berou gehad. Daarom is hy gered.

Ek en jy bevind ons by wyse van spreke op een van hierdie drie kruise.
Kan jy die Redder wees? Sekerlik nie, daardie posisie kan net deur Jesus beklee word. Ons dink soms egter ons kan ons eie redder wees, dis wanneer jy nie die genade aanvaar nie en jouself deur werke probeer red. Nee, daardie kruis is nie vir jou nie en daar bly twee oor.
Die verlorene? Wel, net jy weet self of jy al daardie laaste stap geneem het. Ons almal is spyt oor verkeerde dinge, want jy kom in die moeilikheid daaroor, maar dit red jou nie.
Die geredde? Ek hoop dat daardie spyt al in opregte berou oorgegaan het, want dis al wanneer jy werklik tot die besef kom dat jy die Man daar in die middel bitter nodig het. Dis daardie tyd wat ons ook uitroep: “Jesus, dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom”.
Daardie versoek word NOOIT van die hand gewys nie. Drie kruise, drie situasies, een keuse. ~ Willem Botha, 31/03/2021


“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8) Sê nou maar Jesus vra vandag vir jou of daar nog geloof in jou hart oor is, wat sou jou antwoord wees? Dalk kan jy sê ek het geglo toe ek ’n kind was, maar nou laat my verstand en geleerdheid nie meer ruimte vir geloof nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nadat my kind dood is en ek met kanker gediagnoseer is, kan ek nie meer glo nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nou voel die Here vêr, ek twyfel of Hy bestaan en ek kan nie meer bid nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nadat ek my werk en my huis en al my goed verloor het twyfel ek of die Here my kan help, my geloof is te min. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar die kerk en ander gelowiges het my seergemaak en my geloof vernietig. Of dalk kan jy sê ek het geglo, maar ek het alles wat ek nodig het, ek het hard gewerk, ek is suksesvol, ek het nie meer geloof in ’n onsienlike God nodig nie. Die Here antwoord ons gebrek aan geloof met nóg ’n vraag: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt. 14:31) Petrus het Jesus geglo en kon op die water loop, maar toe hy na die storm en die omstandighede rondom hom kyk en sy oë van Jesus afhaal, het hy gesink. Ek herinner myself vanaand daaraan om nie te begin twyfel en soos ’n brander deur die wind heen en weer gedryf word nie, soos wat Jak 1:6 sê. Ek herinner myself om te glo ten spyte van omstandighede, ten spyte van hoe dinge lyk en voel en klink, om te glo in die Here al is dit ten koste van myself, vriendskappe of wat ook al.  Onthou geloof is “om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb. 11:2) Geloof is die onwrikbare wete en vaste sekerheid dat die Here is wie Hy is en dat Hy kan en sal doen wat Hy sê. “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” (Heb. 11:6) Ek pleit soos die apostels in Luk. 17:5: “Gee ons meer geloof”, of soos die man in Mark 9:24: “Ek glo ... help my in my ongeloof.” ~ Wilna Botha, 30/03/2021

Ek het verlede jaar iets geskryf oor die doodstraf, en dan dít wat met Jesus gebeur het, vir ons. Oor 'n paar dae van nou af herdenk ons Goeie Vrydag, en dus Jesus se kruisiging. My gedagtes loop elke jaar in hierdie tyd oor die verskrikking daarvan, en hoe meer ek daaraan dink, hoe meer word ek met dankbaarheid gevul.
Jy ken seker die term "death row", dis die aanloop na 'n gevonniste persoon se finale teregstelling. 'n Skrikwekkende tyd waar jy die dae, minute en sekondes aftel. In werklikheid is ons almal enige tyd in ons lewens in dieselfde bootjie, of hoe? Maar by ons is daar geen skande betrokke nie, en jy weet nie wanneer dit gaan gebeur nie.
En dan, die laaste aand, kan jy kies wat jy wil eet, jou laaste maaltyd. Wat sal jy eet? Ek wonder maar net.
Dis nie lekker dinge om aan te dink nie. Dit bring my by ’n vraag: Hoe lank het Jesus geweet Hy is op "death row"? Hy is weliswaar die aand voor die tyd gevonnis, maar Hy moes tog al baie lank geweet het dat dít die pad sal wees wat Hy moes loop? Het Hy dit ooit vir sy ma en vir Josef vertel? Ons lees hoe Hy in doodsweet die aand voor sy dood voor sy Vader neergeval het en gevra het dat daardie beker by Hom moet verbygaan. Maar Hy moes dit sekerlik altyd geweet het, want Hy het dit tog aan sy dissipels bekendgemaak.
Luk. 9:22 “ ... die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”
Volledig Mens, asof Hy nooit God was nie, volledig God, asof Hy nooit mens was nie. Ek kan my nie indink wat deur Jesus se kop moes gaan nie, behalwe die vrees wat elke mens op "death row" ervaar. Uit liefde vir ander. Dis nogal iets om te herdenk, of hoe?
Wat sal jou laaste maal wees? Ek wonder maar net. ~ Willem Botha, 29/03/2021

Ek het onlangs 'n vreeslike oulike kort video gesien waar 'n persoon 'n klomp lewenswaarhede genoem het. Ek deel graag 'n paar van daardie punte, en ook 'n paar van my eie gedagtes wat vir my belangrik is, met jou.
* Maak tyd vir vriende, klasmaats, vriende uit jou verlede en mense wat jou pad kruis. Die lewe is kort en "ek sal nog" gaan dalk te laat wees.
* Geniet jou besittings, en jou geld, of dit baie of min is, en spandeer ietsie op jouself, jy gaan vir baie lank dood wees. Leef soveel as moontlik in die oomblik.
* Jou kinders sal vir hulle eie welvaart sorg, moenie jouself tekort doen om jou harde arbeid se opbrengs vir ander na te laat nie.
* Sit genoeg weg vir die toekoms sodat jy nie eendag 'n las vir ander is nie, maar oppas dat jou raadgewer nie meer uit jou geld verdien as wat jyself daaruit verdien nie. Die spreekwoord lui dat dit ideaal is as daar R10 in jou rekening oor is as jy tot sterwe kom.
* Eet gesond, eet genoeg en eet gereeld dít wat goed is vir jou liggaam, maar moenie jou totaal van die lekker dinge ontneem nie. Eet soms koek as jy dit kan bekostig, maar doen alles met matigheid voor oë, maar ook ... Jy het net een liggaam en een lewe. Die drie grootste dinge waarmee jy jou gesondheid kan verwoes, gaan deur jou mond in. Dit is dít wat jy kou en insluk, dit wat jy insuig en dit wat daar invloei. Jy kan selfmoord pleeg deur hierdie dinge weet jy? Dit vat soms lank en die gevolge kan jou lewe vir jare versuur.
* Oppas wat by jou mond uitvloei. En ja, dit is woorde. Woorde wat vloek en skel, woorde wat skinder, woorde wat jok en woorde wat slegsê, doen jóú meer skade aan as diegene wat dit aanhoor. Woorde wat van liefde straal, bou almal op.
* Almal gaan deur die fases van geboorte, oudword, siekte en sterwe. Beleef siekte met optimisme en waardigheid, almal sal deur dit gaan.
* Laat die dokters toe om na jou gesondheid te kyk, maar laat God jou lewe beheer en neem self verantwoordelik vir jou geluk en vreugde.
* Maak betyds reg met ander, vernaam met familie, dis te laat as jy onder die grond is.
* As bekommernis jou siektes genees, of jou lewe verleng, of jou gelukkig maak, wees dan bekommerd en kyk of dit help. Nee, druk dit eerder weg, statistieke bewys dat minder as 5% van dinge waaroor jy jou bekommer, waar sal word.
* Sê meer "nee" vir jou baas as vir jou gesin. Jy kan nie weer na daardie bulletjie-rugbywedstryd, of balletkonsert van jou kind kyk na tien jaar nie. Wat verby is, is verby.
* Spandeer báie tyd met jou wederhelf as julle ouer word, daar gaan eendag een wees wat alleen agterbly. Spog eerder met wat julle saam gedoen hét, as om te vertel wat julle nog wíl doen.
* Lag gereeld, lag uitbundig, lag saam met jou wederhelf, lag vir die lawwe politieke kaskenades, lag vir die narre wat jou lewe soms versuur.
* Glimlag vir mense wat verby jou loop, dit sit jou én hulle in 'n goeie bui.
* Geniet jou verhouding met God, beoefen jou Christenskap ongekompliseerd, moenie dat ander jou verstrengel in dogma en hulle eie gelofies en bygelofies nie, moenie dat ander jou meesleur in hulle "openbarings" nie, en moenie dat ander laste op jou sit soos die Fariseërs nie. Bid, lees die Skrif, meng met ander wat soos jy glo en klets soms sommer lekker met die Here.
* Wat sal jou grafskrif eendag sê?
Myne moet lui: Hy het nie geleef om dood te gaan nie, hy het GELÉÉF tót hy dood is. ~ Willem Botha, 24/03/2021

“Wil julle nie ook weggaan nie?” Dis wat Jesus in Joh. 6:67 vir sy dissipels gevra het, nadat ’n klomp van sy volgelinge omgedraai en huis toe gegaan het. Hulle het nie gehou van wat hulle gehoor het nie. Sy lering was nie meer vir hulle opwindend genoeg nie, dit het nie meer voordeel vir hulle ingehou nie, dalk het hulle nie meer genoeg wondertekens gesien of genesings beleef nie, dalk was die nuutjie vir hulle verby. Sy lering het hulle nie “gepaai” en goed laat voel nie, inteendeel, dit het hulle voor keuses gebring, dit het iets van hulle gevra. Jesus het gesê: “Wie My liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (vers 54), “Daar is party van julle wat nie in My glo nie.” (vers 64), “Skrik dit julle af...?” (vers 61) Dit het! En hulle het omgedraai en Hom nie meer gevolg nie. Die wêreld wil ’n “gemaklike” geloof hê wat altyd sin maak, nie moeilike keuses het nie, min eise stel, onmiddellike resultate het en net gladde paaie sonder opdraandes of storms het. Het jy al êrens in jou lewe oorweeg om om te draai en nie meer vir Jesus te volg nie? Die feit dat Jesus vir die dissipels (en vir ons) vra: “Wil julle nie ook weggaan nie”, is ’n bewys daarvan dat Hy niemand dwing om Hom te volg nie, dat ons altyd die keuse het of ons Hom aanvaar en volg of nie. Ons het ’n keuse of ons bereid is om Hom ten volle deel te maak van ons bestaan (sy liggaam te eet en sy bloed te drink). Jesus was nie ontsteld omdat sy volgelinge Hom verlaat het nie, Hy het dit verwag. Hy het immers van die begin af geweet dat die poort wat na die lewe lei nou is en die pad daarheen smal en dié wat dit kry is min. (Matt. 7:14) Dié wat Hom enduit volg, is dié wat hulle oog op die ewige waarde van ’n verhouding met Jesus hou en nie op tydelike, selfsugtige, sigbare dinge nie. Dié wat nie omdraai nie is dié wat weet dat daar nêrens anders is om ware vrede te kry nie, wat weet dat Hy die woorde het wat ewige lewe gee. Ek hoop as Jesus vandag vir ons sou vra: “Wil julle nie ook weggaan nie?”, ek en jy saam met Petrus onomwonde sal antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” (Joh. 6:69) ~ Wilna Botha, 23/03/2021

Ef. 4:31-32 "Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het."
Hoekom is die wêreld se kwaad? Hoekom is ék so kwaad? Hoekom sê ek so maklik ek haat? Mense, instansies, dalk die regering, belasting betaal, mense wat klippe gooi, misdadigers...?
Ek hoop werklik, uit my hart my hart uit, dat jy beter selfbeheersing aan die dag lê as ek. Nee ek is glad nie trots daarop nie, en daarom vra ek dat jy hierdie sal sien as 'n belydenis. Daar is soveel "triggers", insidente wat my vreugde in 'n oogwink verwoes. Waar is daardie sielsalige gevoel wat jare gelede in my binneste geheers het? Het die wêreld werklik só sleg geword? Weet jy, ek ken natuurlik al die verskonings in die boek om hierdie optrede van my te regverdig, maar wat bereik ek daardeur? Ek ken eintlik die antwoord, dis omdat ek toegelaat het dat hierdie hart van vlees 'n hart van klip geword het. Gisteraand terwyl ek vleis braai stap ek 'n draai deur die tuin en verlustig my aan ons lewensomstandighede wat so perfek is. Gesondheid, 'n wonderlike huwelik, wonderlike kinders, materiële oorvloed en 'n totale gebrek aan onnodige (redes vir) spanning, maar vanoggend kom daardie snellers en dop daai vreugdevolle gevoel binnekant buitentoe.
My gebed is dat die Here my sal help om hierdie paar woorde uit die teks hierbo na te jaag: "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het." Ai, kan dit so moeilik wees?
Ja Here, ek bid ook dat U hierdie hart van klip sal uitruk en my weer dít maak wat U vir my bedoel het, en nie dít wat ek geword het nie. ~ Willem Botha, 22/03/2021

“Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?” Ek kry só skaam om te dink dat Jesus net sowel vandag hierdie vraag vir my kon vra. Of as enige iemand met wie ek vandag in aanraking was dit vir my sou vra. Daar was veroordeling, opstandigheid, negatiwiteit, spot, verwensing, ja selfs ’n bietjie haat  – en nog ’n hele klomp ander goed in my gedagtes!  Matt. 15:19 vul die lysie aan: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery ...” Mens sê mos maklik: ek kan dink wat ek wil, solank ek dit nie sê of doen nie. Die ding is net, as mens eers iets dink, beïnvloed dit jou gesindheid en is dit nou-nou in woorde en kort voor lank word dit dalk net dade.  Die Here ken ons gedagtes, vriend. Ons kan dalk ons gedagtes vir mekaar wegsteek, maar nie vir Hom nie. Ps. 139:2 sê hy ken ons gedagtes nog voor dit by ons opkom! Juis hier in Matt. 9:4 sê dit Jesus het gewéét wat die skrifgeleerdes dink, daarom vra Hy vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?” Dis vir my nogal interessant dat Hy praat van slegte gedagtes wat in hulle “harte” is. Ek sou wou sê die gedagtes is in my kop. Ek dink hierdie wys net weer dat die hart eintlik die plek is waar alles begin – goeie voornemens, vernuwing, drome,  verlangens, liefde, die wil om te vergewe begin as ’n gedagte in die hart, maar so ook elke sonde, elke verkeerde begeerte en negatiewe emosie. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor, sê die Bybel. Daarom moet ons ons harte en ons gedagtes bewaak en bewaar. As ek Jesus se vraag hoor, weet ek dis tyd om my ou gedagtes uit te vee en my hart met nuwe gedagtes te herprogrammeer. “Julle hart en gedagtes moet nuut word”, sê  Ef. 4:23. Hier is ’n moontlike  3-punt plan vir daai vernuwing: laat God julle verander deur julle denke te vernuwe (Rom 12:2), neem elke gedagte gevange en maak dit aan Christus gehoorsaam (2 Kor. 10:5), rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is (Kol 3:2). ~ Wilna Botha, 18/03/2021

Dit het die Here behaag... dat sus of so sterf.
Ek kon nog nooit verstaan hoekom mense dit op 'n begrafnisbrief gebruik nie, en ek het dit eerder weggelaat toe my ma oorlede is. Volgens my beteken die woord "behaag" iets soos vreugde, genot, plesier en lekkerte. Soos wat ek saans behaaglik op die bed neerval. Gee dit die Here dan plesier as Hy toelaat dat mense sterf? Kyk wat staan in hierdie volgende teks in verskillende vertalings.
Ps 116:15 (1953 vertaling) "Kosbaar is in die oë van die Here die dood van sy gunsgenote."
Ps 116:15 (1983 vertaling) "Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie."
Ps 116:15 (Die Boodskap) "Sy kinders is vir Hom baie werd, daarom laat Hy nie maklik toe dat een van hulle doodgaan nie."
Ps 116:15 (KJV) "Precious in the sight of the LORD is the death of his saints".
Ek weet nie wat om werklik hiervan te maak nie. Wel, sterf gaan ons sterf, dis 'n feit van die lewe, maar waar staan die Here in hierdie prentjie? As die Here 100% betrokke is by jou lewe, is Hy sekerlik ook 100% betrokke by jou afsterwe, en dan maak hierdie teks meer sin. Jou en jou geliefdes se dood is geen geringe saak by God nie, Hy oordink dit, Hy treur saam met dié wat agterbly (ek dink aan Jesus wat gehuil het toe Lasarus dood is) en Hy laat dit soms teen sy sin toe. Maar, ek dink ook dat Hy die dood as uitkoms gee wanneer daar nie meer lewenskwaliteit is nie, al is daar hartseer by geliefdes. Soms oordink ek en jy dinge wat moet gebeur, ons oorweeg allerlei opsies, en maak dan tog 'n besluit daaroor. As die dood vir die Here nie 'n geringe saak is nie, het Hy dit ook oordink en oorweeg, en laat dan die ongewilde ding (in ons oë) gebeur. Ek moes ook al dinge wat geen geringe saak is nie oorweeg, en dan 'n besluit maak, en dan was ek dikwels nie gewild nie.
Wanneer die Here dus ons lewe tot 'n einde laat kom, is Hy tot op die laaste asemteug by ons betrokke, en staan definitief nie apaties teenoor dit nie. Inteendeel, Hy verwelkom jou die volgende oomblik is sy Koninkryk by Hom. Ek dink nogal dat hierdie laaste deel Hom sou behaag. ~ Willem Botha, 17/03/2021

“Waarom is julle bang?” (Matt. 8:26) Is dít dalk ’n vraag wat die Here vandag vir jou en my kan vra? Is daar bangheid in jou hart? Vrees wat jou verlam? Angs wat jou keel toedruk en jou in koue sweet laat uitslaan? Ek lees hierdie vers in The Passion Translation en dit sê: “Why are you gripped with fear?” Jy ken dit dalk: omknel, vasgedruk, geklem, geboei, uitgemergel deur vrees. Dikwels is ons bang vir die onbekende en vir dít wat met ons kan gebeur waaroor ons geen beheer het nie – bang vir ’n ongeluk, siekte of ramp wat op die dood kan uitloop. Dikwels is ons bang vir verlies – bang om jou werk te verloor, of jou geld en besittings te verloor,  bang ’n verhouding kan verkrummel of bang om verwerp te word. Dikwels is ons bang vir iets wat ons moet doen – bang vir ’n eksamen of werksonderhoud, bang om standpunt in te neem, bang om ’n moeilike besluit te maak. In Matt. 28 vra Jesus dié vraag vir sy dissipels toe hulle Hom doodsbenoud wakker maak omdat hulle skuit in ’n hewige storm op die see beland het. Hulle skree: Here, red ons! Ons vergaan. Hulle het geweet na Wie om te roep in hulle bangheid. Hulle het geweet dis net Hy wat hulle kan red. Hy was al die tyd dáár by hulle. As die bang jou vannag wakker hou, of jou maag op ’n knop laat trek, hardloop na die Here in die geloof dat Hy dáár is en dat Hy jou sal help. Roep na die Here met die sekerheid dat Hy die wind en die see en die storm sal aanspreek en jou gemoed sal laat stil word. Hoor vandag die Here se stem as Hy vir jou sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10)  Daar in jou stresvolle oomblik, probeer in jou geestesoog sien hoe die Here by jou is en jou aanmoedig om te doen wat jy moet doen. Die beste raad vir vrees en bekommernis is die wete dat jou God by jou is. Aanvaar dit in geloof. ~ Wilna Botha, 16/03/2021

Op wie sal jy vertrou as die Here nie daar was nie? Hoe sou jou lewe wees as jy nie kon "opkyk na die berge" nie? Teenoor wie is jy dankbaar as jy nie dankbaar is teenoor die Here nie?
Ons is steeds in die greep van hierdie pandemie, en vele mense het dit nie gemaak nie, maar BAIE mense het wonderbaarlik goed hiervan afgekom.
Ek het só hieroor gedink:
As Jesus deur 'n maagd in hierdie wêreld kon kom, is niks mos vir Hom onmoontlik nie, of hoe?
As Jesus op water kon loop, kan Hy jou keer om nie te "sink" nie, en kan Hy jou hand vat en jou uithelp waar jy besig is om te verdrink in jou slegte omstandighede.
As Jesus water in wyn kan verander, kan Hy vir jou wonderbaarlik voorsien met die geringste middele.
As Jesus 'n mens se sig kon herstel met 'n bietjie modder op sy oë, kan Hy jou op 'n bykans onmoontlike manier genees.
As die weduwee se kruik net aanhou en aanhou oorloop het, kan Hy jou ook op 'n vlak ontmoet vêr bo jou verwagtinge.
As Jesus uit die dood kon opstaan, kan Hy jou ook opwek uit die doodsheid wat jy dalk tans ervaar, daar waar lig ophou skyn het.
As Jesus gravitasie kon oorwin en opvaar na die hemel, voor baie getuies, kan Hy op dieselfde manier terugkom en ons kom haal vir 'n ewige lewe saam Hom.
As Hy die Bybel kon saamstel op 'n onbegryplike manier, kan ek en jy dit gerus lees en krag, hoop en vreugde daaruit put. ~ Willem Botha, 15/03/2021

“Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik?” – ’n vraag wat Jesus in ’n stadium vir sy dissipels moes vra. Sonder om te wonder waar in die Bybel dié teks staan en wat die konteks is of wat die vrou gedoen het, dink gou bietjie waar die Here al vir ons kon vra: waarom maak jy dit vir dié persoon moeilik? Ek weet ek sou al by vele geleenthede met ’n mond vol tande moes staan, want ek sou nie weet wat om die Here te antwoord nie. Ek maak dikwels dinge vir ander mense moeilik wanneer ek te veel van hulle verwag, wanneer ek wil hê hulle moet dink soos ek, wanneer ek hulle veroordeel en beoordeel sonder dat ek hulle hele prentjie verstaan, wanneer ek meerderwaardig neerkyk op hulle omdat hulle “anders” is, wanneer ek onnodig kwaad word, wanneer ek lelike dinge vir en van hulle sê, wanneer ek hulle niks gun nie en jaloers is op wat hulle het, wanneer ek ongeduldig, ontoegeeflik, hard en liefdeloos is, wanneer ek weier om genadig teenoor hulle te wees en te vergewe. Dié lys kan nog lank word en ek is seker jy kan dalk ’n paar dinge byvoeg. Jesus vra dié vraag in Matt. 26:10. ’n Vrou het ’n hele fles kosbare reukolie op Jesus se kop uitgegooi. ’n Opofferende liefdesdaad. Sy het haar beste gebring en dit aan Jesus geoffer. Sy het nie die koste ontsien van dit wat sy vir Jesus wou aanbied nie.  Sy het moed aan die dag gelê om deur te druk met dié daad wat sy haar voorgeneem het om te doen, al het sy dalk geweet sy gaan veroordeel word. Die dissipels was egter verontwaardig en het haar beskuldig van vermorsing van geld wat armes kon help. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik?” (Mark 14:6) As mens dié teks in Die Boodskap lees, dan sien mens bietjie meer van die gesindheid waarmee hulle haar aangevat het: “Los haar! Waarom kraak julle haar so af?” Ek dink die les wat ek uit hierdie vraag leer, is dat ons elkeen ons eie unieke manier het waarop ons die Here aanbid en ons moet mekaar die vryheid gun om dit te uit te leef. Ons moenie verwag dat dieselfde goed vir ons almal belangrik is nie. Moenie verwag as jý die roeping het om bv. vir armes te sorg, dat almal dieselfde dringendheid daarvoor moet hê nie. Moenie as dit jóú gawe is om bv. die evangelie met vreemdes te deel of vir mense te bid, ander veroordeel wat nie die vrymoedigheid het om dit te doen nie. Moenie as jý bv. iets goed vir iemand gedoen het ander se toewyding aan die Here betwyfel as hulle nie sulke goeie dade doen nie. Ek het ook besef dis belangrik om altyd my hart en motiewe te ondersoek wanneer ek iets “vir die Here” doen. Jesus sê van dié vrou: wat sy kon het sy gedoen, sy het ’n goeie daad aan My gedoen. M.a.w. sy het haarself gegee sáám met die olie. Wat sy gedoen het, was ’n goeie daad aan Jesus sélf en nie om deur mense gesien te word of mense se goedkeuring te ontvang nie. Ek wil maar net weer die Bybelse raad probeer volg wat sê: behandel ander mense soos julle self behandel wil word. ~ Wilna Botha, 11/03/2021

'n Stukkie getuienis...
Ps. 121:7-8 (1953 vertaling) "Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid."
Ons ken hierdie deel so goed, en die opskrif in die Bybel sê: Op pad, 'n Bedevaartslied. In die 1983 vertaling sê dit: 'n Pelgrimslied.
Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, waar jy gaan, waar jy is, waar jy reis, waar jy vertoef en waar jy bly.
Ons gesin het die gewoonte om saam te bid in die motor voor ons die lang pad vat op vakansie, dan bid ons dat die Here ons op die pad sal beskerm, dat Hy sal help dat ons nie teenspoed optel nie en dat Hy ons huis en besittings sal beskerm. En ja, dinge gebeur, maar Hy het ons nie noodwendig altyd téén alles beskerm nie, maar wel altyd te midde van dinge. So vertrek ons Saterdag Tonteldoos toe (ja daar is so plek naby Dullstroom) om nog bietjie verder te gaan delf in my voorouers se voetspore.
Weet jy, dit maak tog net 'n verskil om hierdie dinge aan te pak onder die Here se beloftes in die Woord, en te weet dat Hy saam met ons reis. Ons het omtrent "bundu-bashing" gedoen om by familie se grafte uit te kom, deur bosse baie hoër as my kop, en ek was elke oomblik bevrees dat ek en 'n slang gaan kopstamp, maar dit het nie gebeur nie. My dogter se vriend is allergies vir bysteek, en toe klits 'n by hom. Vol vrees het ons hulp gesoek en gebid, en die baie slegte grondpad met 'n spoed aangedurf, en hy is toe op die einde okei. Op pad terug huis toe het 'n band op die motor gelol, maar ons kon veilig by die huis kom. Na 'n naweek waar baie dinge kon skeefloop, het ons die krag van Ps. 121 (en natuurlik vele ander tekste) ervaar. Of nee, eerder die krag van die God van Ps. 121.
Ps. 121:7-8 (1983 vertaling) "Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd."
In die 1953 vertaling staan "Jou siel sal Hy bewaar" en die 1983 vertaling sê: Jou léwe sal Hy beskerm. Inderdaad, Hy sal jou ingang en jou uitgang bewaar, van nou af tot in ewigheid. ~ Willem Botha, 10/03/2021

“Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?”” (Joh. 1:38) Ek het by myself gewonder: ek volg Jesus, sê nou maar Hy kyk vandag om en vra vir my: Wat soek jy? Wie soek jy? Wat wil jy hê? Wat sal my antwoord wees? Wat sal jóú antwoord wees? Soek jy ’n leermeester, iemand wat die Skrif vir jou kan uitlê en kwelvrae oplos? Soek jy na kennis en wysheid? Soek jy dalk ’n vriend, iemand wat jou kan help in tye van nood? Soek jy dalk vis en brood en wil jy wonderwerke beleef?  Volg jy Hom omdat almal anders dit doen of omdat jy so groot geword het, omdat dit die “regte” ding is om te doen?  Soek jy ’n gemaklike lewe, vry van probleme en bekommernisse? Volg jy Hom sodat Hy in al jou behoeftes kan voorsien en aan al jou eise kan voldoen en jou gebede verhoor? Volg jy Hom dalk net uit nuuskierigheid? Of dalk sodat jy kan kyk waar jy Hom kan “uitvang”, soos ’n Fariseër of Skrifgeleerde? Dié twee waarvan Joh. 1:38 praat, was volgelinge van Johannes, maar hy het na Jesus gewys en vir hulle gesê: “dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29) Toe hulle dít hoor het hulle Jesus gevolg. Volg jy Hom omdat jy ’n Verlosser soek, Iemand wat jou sonde kan wegneem, Iemand wat jou die ewige lewe kan gee? Soek jy God se guns en genade? Soek jy aanvaarding en ’n nuwe geestelike familie? Volg jy Hom omdat jy so desperaat is vir Sy aanraking soos die vrou wat net aan die soom van sy kleed wou raak? Dié twee van Joh. 1:38 se antwoord was: waar gaan U tuis? Miskien wou hulle nie sommer net so in die verbygaan met Hom praat nie, hulle wou lang en diep gesprekke met Hom hê, hulle wou in sy binnekring kom. Jesus nooi hulle uit na sy woonplek waar hulle sommer ook kon oornag. Dit het my laat dink aan die teks in Jak 4:8 wat sê: nader tot God en Hy sal tot julle nader. Volg Hom en Hy sal omdraai en sê: kom bly by My! Dié twee was natuurlik die eerste dissipels en hulle het nooit opgehou om Hom te volg nie. Om Jesus te volg vra ’n prys, dit vra opofferings, dit vra toewyding, dit vra deursettingsvermoë. Jesus sê self in Matt. 16:24: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld.” Bereken weer die koste en besluit of jy Hom enduit sal volg en wat jou antwoord sal wees as Hy sou vra: Wat soek jy? ~ Wilna Botha, 09/03/2021

Dis maklik om te twyfel, en dis maklik om deurmekaar gepraat te raak deur iemand wat nie glo nie. Al wat hulle doen is om selektief dinge uit die Bybel te kies (en daarop te hamer) wat so bietjie "vergesog" klink. En ja, ek het al honderde kere onder dit deurgeloop. Maar hier sit ek nou steeds as 'n gelowige, en ek het steeds geloofsekerheid en ek glo wat die Bybel sê, al is daar baie dinge wat ek nie verstaan nie. Kom ons speel bietjie met 'n gedagte of drie.
Sê nou maar:
*Die skepping was nie in 6 dae afgehandel nie, maar eerder ses "tydperke".
*Daar was nie regtig 'n slang en 'n boom met 'n vrug nie.
* Daar was nie 'n groot vloed en 'n Noag met 'n ark nie.
* Daar was nie 'n groot trek deur die woestyn nie.
* Dawid het nie vir Goliat doodgegooi met 'n klip nie.
* Jona is nie deur 'n vis ingesluk nie.
* Groot weermagte is nie deur 'n paar manne van God verslaan nie.
* Job het nie geleef, alles verloor en weer alles teruggekry nie.
So kan ek aangaan. Sê nou maar hierdie was nie ware gebeure nie, en eerder amper iets soos 'n "gelykenis" gewees. Sou my geloof skade kry as daardie goed as slegs 'n storie ontbloot word? Nee my vriend, dit sou nie, want my geloof in Christus is nie per definisie daarvan alleen afhanklik nie. Soos gesê, dis hier waar die ongelowige soms die oorhand kry. Maar daar is iets ongelooflik kragtig, waarteen dié wat nie glo nie hulle vasloop, en dis waar die Heilige Gees werk. Die Gees wat jou kom vol maak met iets wat nie beskryf kan word nie, maar tog word ongelowiges reg deur die wêreld op presies dieselfde manier getransformeer sonder Sondagskool, of kerk toe gaan.
Daar is egter dinge in die Bybel wat ononderhandelbaar is, nl.:
* Die Maagdelike geboorte.
* Jesus se wonderwerke.
* Jesus se kruisiging.
* Sy opstanding uit die dood.
* Die Hemelvaart.
* Bekering wat ons werklik totaal verander.
* Die geloof dat Hy weer kom.
Hierdie goed, sê die Bybel, kan jy net verstaan (en glo) deur die werking van die Gees. En daardie dinge gebeur in 'n ander realm as 'n fisiese iets soos 'n ark (wat ek terloops glo bestaan het).
1Kor. 2:14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." ~ Willem Botha, 08/03/2021

“Wil jy gesond word?” Wie van ons sou nie met ons hele wese ja antwoord op dié vraag wanneer jy siek is, in pyn verkeer, as behandeling nie vinnig genoeg help nie, as die dokter self raadop is, as daar geen ander hulp is nie? Hoeveel te meer as dit Jesus sélf is wat dié vraag  vra. Jesus, die Groot Geneesheer, Wonderwerker, Helper, Redder. In Joh. 5:6 vra Jesus dié vraag aan ’n man wat al agt en dertig jaar lank siek was en elke dag by die bad van Betesda saam met vele ander siekes gewag het op genesing. Soms vind genesing plaas deur ’n wonderwerk, soms gebeur dit terwyl ons bid, soms gebeur dit wanneer iemand sy hande op jou lê en jou met olie salf, maar meestal gebeur dit deur die hulp van ’n dokter, deur ’n operasie, dalk chemoterapie, dalk ’n inspuiting, pilletjie of stropie, salf of pleister. Ek glo die Here wil ook hê dat ons ons liggame moet oppas en voorsorg tref om nié siek te word nie, soos bv. om beskikbare entstowwe te gebruik. Ek weet daar is deesdae lang debatte en meningsverskille oor die Covid-entstowwe, maar tog vertrou ek dat dit ’n hulpmiddel uit die Here se hand is. Hoe dit ook al sy, alle genesing kom áltyd van die Here af, al is dit deur medisyne of watse mediese hulp ook al. Hou daarom voortdurend jou oog op die Een wat genees en nie die geneesmiddel nie. Ons lees dikwels hoedat Jesus mense met die spreek van ’n woord genees het, maar tog wel ook op ander maniere. So  bv. het Hy spoeg aan die doofstom man se tong gesmeer (Mark 7:33) of klei gemaak van spoeg en grond om aan ’n blinde se oë te smeer (Joh. 9:6). Heel dikwels het genesing oombliklik plaasgevind, maar tog het die tien melaatses eers gesond geword toe hulle op pad is om hulleself aan die priesters te wys. (Luk. 17:14) Meestal kom genesing nie in ’n oogwink nie en vereis dit uithouvermoë en geduld van ons kant af. Dikwels moet ons weer en weer bid en nog ’n keer pleit vir die Here se aanraking. En ja, soms kom daar nie genesing nie. Ons ken al almal iemand wat dood is aan kanker of Covid, ons weet almal van iemand wat met een of ander ongeneeslike siekte saamleef. Ons verstaan dit nie en ons kan dit nie verklaar nie, dit ís egter ’n realiteit. Ons rus en troos lê daarin dat ons nie alleen is nie en dat die Here se arms altyd rondom ons is ... selfs al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee. Kom altyd na die Here met jou pyn – sy hart is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien jou desperaatheid. Stort jou hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir genesing, nog ’n keer vir Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Mag Hy dit vir jou ook doen. ~ Wilna Botha, 04/03/2021

Spr. 9:10 "Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig."
Salomo was 'n wyse man, en het baie oor wysheid geskryf. Jy ken seker ook mense uit wie se monde bonatuurlike wysheid vloei, ja nie net ou mense nie, selfs jongmense en kinders. Ek het vanmiddag gewonder wat ek vir die Here sou vra as ek moes kies tussen welvaart en wysheid, en baie gou het ek besef dat wysheid die mees besonderse kwaliteit is wat mens kan hê. 'n Dwaas klink soos 'n leë blik, hy raas so baie soos een en dwing geen respek af nie, maar 'n wyse man kan jy onmiddellik tussen duisende ander uitken. Hoe wonderlik sou dit wees as die regering van 'n land deur wyse mense gelei is, hoe wonderlik sou dit wees as al jou kliënte wyse mense was, en as jou baas 'n wyse persoon is. Daar is so baie dinge in 'n wyse persoon se mondering ingeweef: kennis, integriteit, eerlikheid, regverdigheid en inbors. Sê nou maar elke pa het net met wysheid opgetree, en dit by sy kinders ingeplant. Die wêreld sou 'n beter plek wees. Jesus het nie een woord gespreek wat nie die ene wysheid was nie. Ja, wyse mense is nie volmaak nie, maar hulle maak 'n verskil. Kyk net wat 'n wyse man kan vermag:
Spr. 21:22 " 'n Wyse man kan selfs 'n stad vol dapper verdedigers oorwin en die vesting waarop hulle vertrou, laat val." ~ Willem Botha, 03/03/2021

Gen. 1:1 "In die begin het God die hemel en die aarde geskep."
Gen. 1:20 "Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”
Gen. 1:31 "Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed."
Wilna het nou die dag 'n pragtige stukkie geskryf oor 2 mossies vir 'n sent, en dat jy baie meer werd is. 'n Paar maande gelede het ek geskryf oor die voëltjie wat met my gepraat het. Oftewel, ek het 'n baie sterk boodskap gekry uit 'n insident wat ons gehad het met 'n klein Jan Frederik. Sedertdien kry ek dag vir dag die mees kragtige boodskappe uit hierdie pragtige skepseltjies wat die Here met soveel sorg gemaak het, en wat vir ons soveel plesier verskaf. Hier in ons tuin is soggens 'n vreeslike geskarrel van aktiwiteite wanneer ons die voëls om sesuur voer. Die Here het so 'n iets van 'n klok in hulle ingebou en hulle wag geduldig vir voertyd. Daar is 'n klompie voerplekkies waar soggens vrugte en saadjies uitgesit word. Daar is Wilna se platform, Thinus se restaurant, die ou platform, die huisie, die vrugtestok en dan die nuutste toevoeging, nl. die skip. Die goed het nou maar met tyd name gekry sodat ons weet waar om te kyk as 'n nuwe tipe voël sy opwagting maak. Die duiwe kry op die grond kos want hulle is effe groot. Hoe wonderlik het die Here hulle nie gemaak nie, elkeen na sy aard, volgens die Bybel. Suikerbekkie het onlangs die waterbottel met suikerwater ontdek, en die Here vir hom 'n lang snawel ontwerp om nektar uit plante te suig, die Jan Frederik sit eerder op die grond, die piepklein Glasogies is ook nuut hier en verskaf vir ons tonne vreugde want hulle is bondeltjies energie. Toe gebeur die verstommende ding waarvoor ons so gehoop het, die Kuifkophoutkapper begin kap aan die sisalstomp wat ons opgehang het. Hoe weet hy dat hy dit kan doen? Wie anders as 'n Ontwerper kon dit in hom inbou? Daar is nie veel voëls wat so huisbou nie. Gister het Kuifkop en die Rooikophoutkapper beide aan dieselfde gat kom kap. Ek weet nie hoekom nie. Die Here het vir die vinkie die vermoë gegee om 'n huis te bou met grassies wat hy vleg, net met sy bek. Ek en jy kan dit net eenvoudig nie doen nie, maak die saak hoeveel vermoëns ons het nie. Elke kleine voëltjie, die ou groot duif en die reuse Hadida wat so vreeslik raas kom kuier. Elkeen is anders, elkeen na sy aard geskape, elkeen sy eie gewoontes, geluide, dieet, alles uniek, net soos wat die Here in Genesis beskryf. Twee mossies vir 'n sent, jy is meer werd. Elke voël, hoe hy ook al lyk is uniek en baie spesiaal vir die Here. Die Here sê hy sal vir ons sorg, net so moet ons ook vir die natuur sorg. 'n Bietjie saad en vrugte soggens, en die Here skuif die gordyne oop sodat ons die meeste indrukwekkende teateropvoering kan sien, elke dag. Kyk hoe wonderlik openbaar die Here nie sy grootheid aan ons nie. So baie pragtige voëls, elkeen na sy aard. Nee, nie geëvolueer uit een of ander eensellige dingetjie nie, nee, elkeen na sy aard. Hoe wens ek ek kon vlieg, maar ek kan nie, want dis nie wat die Here in gedagte het vir my nie, ek het 'n ander doel. Die voëltjie maak staat op die Here se versorging, ek en jy kan ook maar. Hoe geniet ons nie elke dag hierdie klein vlieënde wonderwerkies nie! Dis die Here se handewerk. Elkeen na sy aard. ~ Willem Botha, 01/03/2021

“Waar is jy?” (Gen. 3:9) Dis die heel eerste vraag wat die Here vra. Die Here soek na Adam en Eva, nie omdat Hy nie weet waar hulle is nie, maar omdat Hy weet dat hulle vir Hom wegkruip en Hom vermy en Hom eintlik nodig het om hulle te help. As die Here vandag vir jou vra: Waar is jy? Waar gaan Hy jou kry? Êrens op jou eie pad? Alleen en verlate? Op plekke waar jy nie veronderstel is om te wees nie, waar niemand anders mag weet waar jy is nie? Besig met verkeerde dinge? Of gaan Hy jou vind besig om jou medemens te help, soos die barmhartige Samaritaan, of besig met jou eerlike dagtaak soos die vissermanne langs die See van Galilea, besig om jou gesin te versorg soos Marta, besig om Sy Woord en liefde te deel soos Petrus? Of gaan Hy jou dalk vind langs die sterfbed van ’n geliefde, soos Lasarus se familie, of op jou siekbed in afwagting van ’n wonderwerk, soos die man by die bad van Bethesda, of uitgewerp soos die besetene in Kapernaum? Of gaan Hy jou dalk op jou knieë vind waar jy jou hand uitsteek om aan die soom van sy kleed te raak of in ’n skare gereed sit om te luister na sy leringe? Weet vir seker dat daar nie ’n plek is waar die Here jou nie kan raaksien nie.  Jy kan nie vir die Here wegkruip nie. Hy sal jou altyd weer kom soek en kom haal en kom help. Hy sal 99 skape los om jou te kom roep: waar is jy? Ons is dalk verlore, verdwaal en skaam soos Adam en Eva oor dit wat ons aangevang het, maar hoor vanaand dat die Here na jou kom soek en vra: My kind, waar is jy? “Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou u regterhand my vas.” (Ps. 139:7-10) ~ Wilna Botha, 25/02/2021

Ek het onlangs met 'n persoon gepraat wat regtig totaal lewensmoeg is. Niks maak meer sin nie, hy glo die Here kan nie lief wees vir hom nie, want hy is nie meer lief vir homself nie. More is net nog 'n donker gat en daar is niks om voor te lewe nie.
Hierdie is nie 'n uitsondering nie, baie mense voel waarskynlik dat die lewe nie meer genoeg inhou om vorentoe te beur nie. Vandag wil die Here vir jou en my uitnooi om net by Hom tot rus te kom, by waters waar rus is.
Ps 23:2 "Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen."
Ek dink jy ken hierdie BAIE bekende woorde uit Ps 23 in die 1953 vertaling baie goed, en dalk laat net hierdie enkele teks vir jou ook sommer rustig voel na 'n moeilike dag. Die wêreld van vandag is 'n harde plek, die meeste mense werk nie lekker nie, en huistoekomtyd het soms ook sy eie uitdagings. En dan voel mens soms jy wil net so bietjie wegvlug.
Dis die Here se uitnodiging vir jou, en dalk het jy dit nou baie nodig. Lê so bietjie terug in Sy arms, sluit net jou kop af vir 'n rukkie, en herinner jouself daaraan dat die Here sommer baie lief is vir jou. Rus in sy arms en sê vir jouself : Alles gaan okei wees. ~ Willem Botha, 24/02/2021

Ons peper mos graag die Here met vrae: Hoekom Here? Hoe lank nog? Wanneer Here? Waar is U? Het U my vergeet? Luister u nie meer na my nie? Ek is seker jy ken dit baie goed. Of ons vra vir mekaar of onsself vrae oor die Here net soos Asaf in Ps. 77: Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ’n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek? Ek is seker jy ken dít ook maar alte goed. Al hierdie vrae het my daaraan laat dink dat die Here sekerlik ook vrae het vir ons. In die Bybel is daar heelwat en ek glo Hy vra daardie selfde vrae nog steeds vir ons ook en ek is nie altyd gereed of bereid om te antwoord nie! Ek dink bv. aan Job wat baie vrae gehad het en toe die Here hom antwoord, toe is dit met ’n rits vrae – moeilike vrae. Lees dit gerus vanaf Job 37. Job moes die aftog blaas en erken: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie ’n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.” (Job 39:37-38) Baie van die Here se vrae is retoriese vrae. Die antwoord lê reeds in die vraag, dis voor die hand liggend, Hy vra die vraag, maar verwag nie eintlik ’n antwoord nie, Hy verwag eerder dat die vraag ons moet laat dink en besin. Het jy al agtergekom dat Jesus baie keer vrae wat aan Hom gevra is, met ’n teenvraag geantwoord het? Dit lyk vir my asof Jesus met Sý vrae ons wil lei om ons harte te ondersoek, om standpunt in te neem, om ons sondes en foute te besef, om ons te laat terugdraai na Hom.
As mens die Evangelies lees en bedag is daarop, dan is dit opvallend hoeveel vrae gevra word. Hulle sê in die Evangelies is daar 307 vrae wat Jesus gevra het. Ek het dit nie getel nie, ek glo maar wat “hulle” sê! Iets wat ek nou begin doen het, is om die Evangelies te lees en elke keer as Jesus ’n vraag stel, dan stop ek daar en antwoord eers die vraag asof Hy dit nóú vir my persoonlik vra. Die meeste daarvan ís vrae wat Hy vir ons ook kan vra en wat nóú op ons van toepassing is. As jy dalk sulke vrae in die Bybel teëkom, laat toe dat die vraag jou ontmoet waar jy op die oomblik in jou lewe is, waarmee jy vandag worstel, wat jy nou dadelik nodig het. Antwoord uit jou hart uit en kyk hoe dit dalk jou ingesteldheid kan verander, hoe dit jou siening van die Here en van mense kan beïnvloed, hoe dit jou geloof kan versterk.
Ek het so stuk of 10 vrae uitgekies waaroor ek in die volgende dae bietjie dieper wil dink en ietsie oor sê wanneer dit my beurt is om hier te skryf. ~ Wilna Botha, 23/02/2021


Pred. 11:1 "Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug."
2 Kor. 9:6 "Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; wie volop saai, sal volop oes."
Gal. 6:7(b) "Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes."
Job 4:8 "Ek het dit ondervind; dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit ook."
Hos. 10:12 "Ek het gesê: Saai volgens My wil, en julle sal my liefde oes."
Gal. 6:9 "Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel."
Spr. 14:12 & Spr. 16:25 "Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood."
Hierdie tekste het almal dieselfde strekking: wat jy saai, sal jy maai.
Ek wil dit uit verskillende hoeke bekyk:
*Iemand met ‘n toe hand kan nie gee nie, en ook nie ontvang nie.
*Sit niks in die grond nie, en jy hoef nie tyd te mors om te probeer oes nie. ‘n Mielie kan nie groei as jy nie saad in die grond druk nie.
*Moet niks verwag as jy nie werk nie. (indien jy natuurlik fisies in staat is om te werk).
*Die lewe wat jy lei, gaan vir jou ‘n opbrengs gee wat by die arbeid pas.
Die Bybel sê hierdie dinge baie duidelik, maar haal vir 'n oomblik die Bybel uit die prentjie uit, dan sien jy hoe waar al hierdie dinge in elk geval is. Jy kan dit dan ook natuurlik buite verband beskou en eindig by sogenaamde voorspoed-teologie en glo dat jy móét terugkry OMDAT jy gee, maar ek dink dis gevaarlik, want jy gaan dalk net probeer om van die Here rekenskap te eis omdat jy vrygewig is. Maar... Jy sal hierdie beginsel van saai en maai orals sien. Dit werk maar net so.
Maar kyk net gou verby die materiële opbrengste, en sien weer hiérdie raak:
Hos. 10:12 "Ek het gesê: Saai volgens My wil, en julle sal my liefde oes."
Sjoe, is dít nie 'n wonderlike opbrengs nie? God se liefde!
Sien egter ook hierdie volgende teks weer raak, wat twee maal in Spreuke woord vir woord herhaal word. "Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood”. Hierdie teks hou ‘n baie groot waarskuwing in, en verwys baie ernstig na: "Wat jy saai sal jy maai". Jy sal sterwe soos jy gelewe het, is ‘n uitdrukking wat mens dikwels hoor.
Kom ons probeer om te alle tye goed te doen, "pay it forward", bedien mekaar met wat jy het, saai liefde en leef meer vir ander as vir jouself, en maai God se liefde. ~ Willem Botha, 22/02/2021

“Nuwe normaal ...” is ’n uitdrukking wat mens deesdae nogal baie hoor. Ongelukkig nè! Ongelukkig het ons lewe en ons gewoontes en ons vooruitsigte en ons beplanning verander soos wat die Corona virus hom in die afgelope jaar in ons lewens kom tuismaak het. Ek sou graag wou hê dat alles weer moet wees soos wat dit was. Ek sou graag weer in ’n vol kerk wou sit, wou gaan fliek, ’n teateropvoering bywoon, ’n vakansie beplan, ’n familie byeenkoms bywoon. Ek sou graag weer sonder ’n masker wou loop, nie wantrouig kyk na iemand wat hoes nie, nie bang wees ek steek aan nie, nie hande vol vitamiene drink vir “in geval” nie. Ja, ek verlang terug na die “goeie ou dae”. Ek hardloop soos ’n graad-1 atleet wat heeltyd agtertoe kyk. Ek bestuur soos iemand wat die hele tyd in sy truspieëltjie kyk. Ek kyk terug soos Lot se vrou vir nog ’n kykie na hoe dinge was omdat ek bang is vir die pad vorentoe. Toe lees ek: Pred. 7:10 “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie.” Hoekom nie? Die ou dae het ook maar hulle eie siekte en probleme en kwellinge gehad, ons het net daarvan vergeet toe dit weer beter begin gaan het. Die ou dae het ook maar baie foute gehad en ons het baie foute gemaak in die ou dae. Maar nou is die ou dae verby. Ons het vandag om te lewe en te werk en te geniet wat ons uit die Here se hand ontvang. Wat ons wel kan onthou van die ou dae is dat die Here ons gehelp het, ons gered het uit ons nood, ons vergewe het, ons gehelp het met ons probleme, ons gedra het toe ons nie meer kon nie. Hy sal dit weer en weer doen. Ek lees hierdie aanhaling: “There are better things ahead than what we leave behind.” En ek onthou een van my 2021 woorde is juis “aanpasbaarheid”. Pas aan by vandag se omstandighede en kyk vorentoe en verwag dat daar iets mooi en goed in die toekoms wag en dat daar ’n punt sal kom waar ek vir myself gaan sê: dis nou beter as wat dit was! Ek aanvaar die teks in Jes. 43:19 as die Here se belofte vir ons vir nóú: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” “We must let go of the life we have planned, so as to accept the one that is waiting for us”, sê iemand. Ons planne is nie altyd die Here se planne nie, daarom kan ons laat gaan van wat ons beplan het en met verwagting uitsien na wat voorlê. Die Here gaan vir ons ’n pad maak in die woestyn. Volg Hom daardeur, bly in sy voetspore. Die Here gaan ’n rivier laat ontspring. Volg Hom daarheen, volg Hom na die groen weivelde van rus. “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13) ~ Wilna Botha, 18/02/2021

Vasbyt
Ek gaan weer gelukkig wees, regtig. Ek gaan binnekort weer gelukkig wees, en daar gaan 'n dag kom wat ek weer hoop het vir die toekoms, en ek gaan weer drome droom en vir die toekoms beplan en ek gaan weer daagliks opstaan met 'n lied in my hart. Ek gaan ook dan weer moed hê, en boonop gaan ek weer glo en vertrou soos op 'n tyd in die verlede. Ja, hierdie dinge gaan gou weer gebeur en dan gaan ek heeltemal vergeet van die tyd toe ek nie so goed gevoel het nie.
Jitte, as hierdie pandemie net eers verby is sal my lewe weer 100% klopdisselboom wees, die virus moet net verbygaan. En boonop gaan Suid-Afrika weer vir my mooi wees en ek gaan weer lief wees vir al die mense. Sommer gou-gou, sodra hierdie ding verby is. Nee regtig, dit kom binnekort.
Wel, ek dink hierdie woorde beskryf nogal 'n paar mense se gedagtegang, al besef hulle dit nie. Dis hoe dit in die lewe is, as jy swaarkry verloor jy hoop en moed. In die weermag (ja ons wat daar was hou nooit op om daaroor te praat nie) het jy baie dinge geleer, maar die grootste en belangrikste element was vasbyt. Nog net 'n paar minute met jou "buddy" en julle "kit" op jou maer skouers, dan gaan dit weer beter. Nog net 'n paar ure van rondhardloop in die middel van die nag, dan gaan dit weer beter, dan gaan klim jy in jou koue bed. Nog net 6 maande dan klaar jy uit en 'n nuwe lewe begin. Vasbyt, beter dae kom. Mense moes vasbyt in die oorlog, vasbyt met die Groot Trek van ons voorouers, vasbyt deur resessies, vasbyt as jy jou werk verloor het. Vasbyt vasbyt vasbyt.
Nee vriend, ons gee nie op nie, opgee is nie in ons DNA nie, al tref die ergste ons. Ek glo jy sal met my saamstem as ek sê swaarkry maak mens altyd 'n sterker mens. Altyd. Dit staan ook in die Bybel.
Rom. 5:3-5 "Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. " ~ Willem Botha, 17/02/2021

Ek het nou die dag so ’n wonderlike ervaring gehad. ’n Man (wat ek toe pas ontmoet het) sit iets klein in my hand, vou my hand toe sê: gaan lees Matt. 10 en Ps. 8, dan sal jy weet hoe spesiaal jy vir die Here is. Ek maak my hand oop en sien ’n klein 1c-stuk. Ek ken die teks, sê ek vir hom. Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie ... en ... wat is die mens dan dat U aan hom dink .... En net daar het ek weer die fout gemaak wat ek baie keer maak. Ek dink ek ken mos die verse, ek weet wat daar staan, maar ek “vergeet” dat die Woord van God lewend en kragtig is en weer en weer met ’n mens se hart praat en oor en oor bevestig wie God is en wat Hy doen. Gelukkig het ek besluit om dié twee skrifgedeeltes weer aandagtig te gaan lees en dié keer in Die Boodskap. “As ek opkyk na alles wat U in die hemelruim gemaak het, al die planete, Melkwegstelsels en miljoene sterre, snak ek na my asem as ek sien hoe piepklein die mens regtig is. En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie! Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U baie belangrik.” (Ps. 8:4-5) Daai piepklein, onbenullige, sondige, ongehoorsame mensie is ek! En dis jy! Die Here laat vaar nie die werk van sy hande nie. Hy los ons nie alleen nie. Hy draai nooit sy rug op ons nie. Hy omhels, vertroetel en versorg ons soos die appel van sy oog (so sê Deut. 32:10) Niks wat ek doen of nie doen, sal maak dat Hy ophou om vir my te sorg nie. As die mens piepklein is teenoor alles in die skepping, hoeveel te meer die mossies waarvan Matt. 10 en Luk. 12 so mooi praat. Sal iemand ooit iets vir ’n mossie betaal? Seker nie in ons tyd nie. Dis een van die tuinvoëltjies wat die meeste voorkom (dalk wen duiwe in ons tuin!) Matt. 10:29 vra: is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? In Luk. 12:6 is mossies selfs nóg goedkoper (of dalk is dit op ’n koop-vier-kry-een-verniet aanbod 😊): word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Hoe ook al, ’n mossie is nie baie werd nie, sê die tekste, tóg word geeneen van hulle deur God vergeet nie. Hy sorg vir hulle. Lees ook maar in Matt. 6:25-34 hoedat die Here vir die wilde voëls sorg. Is julle nie meer werd as hulle nie, vra vers 26? “Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om.” (Matt. 10:29-30) Kan ’n mossie se waarde aan geld gemeet word? Nee! Sal ’n mossie iets kan doen wat die Here van plan sal laat verander? Nee! Dieselfde geld vir ons.  Daar is natuurlik ook ’n ander kant van dié muntstuk. Kan dit gebeur dat ’n kat ’n mossie vang? Kan dit gebeur dat een of ander outjie die mossie met sy windbuks klits? Kan dit gebeur dat ’n mossie se eiers uit die nessie val? Ja, natuurlik. Maar onthou asb. Matt. 10:29: “En tog sal geeneen van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.” Dieselfde geld vir ons. As onvoorsiene dinge gebeur, as probleme opduik, as siekte aan jou deur klop of jou baas jou inroep met slegte nuus wéét die Here daarvan, is sy sorg steeds dáár vir jou. Moenie bang wees nie. Jy ís kosbaar vir God. Luk. 12:6-7 (Die Boodskap): “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.” Ek het my 1c-stuk vasgeplak waar ek hom gereeld kan sien en waar ek gereeld herinner kan word aan dié boodskap. En nou kyk ek ’n bietjie anders na die mossies in ons tuin. ~ Wilna Botha, 16/02/2021

Dit moes iets verskriklik wees, hierdie vloedwaters van Genesis 6. Die mense op die aarde versleg en raak verdorwe en die Here besluit om elke mens op aarde (behalwe Noag en sy gesin) om die lewe te bring. Elke enkele een, asook die diere en voëls, met die uitsondering van dié wat Noag in die ark moes neem. Nadat Noag die detail van die Here ontvang het begin hy die ark bou van goferhout. Man, en dit was 'n GROOT skip, omtrent 30 meter langer as 'n rugbyveld! Nou, dink jou in hierdie situasie in: jou buurman begin bou aan hierdie monstrositeit en hy waarsku jou om dieselfde te doen anders sterf jy. Sal jy hom dalk spot en uitlag? Ek dink Noag was die bespotting van die plek, en mense het hom sekerlik belaglik probeer maak, maar uiteindelik was die ark gebou (dit was 'n reuse wonderwerk) en Noag en sy mense en diere is daarin, en die Here het die deur toegemaak. Lees gerus die hele gedeelte in Genesis 6. Ek glo die spottery van buite af het nog erger geraak toe hulle almal in die ark in is. Toe begin dit drup, later het reën geval en dalk hael ook, en toe bars die grootste storm denkbaar los, en toe begin die mense paniekbevange raak. Ek glo die mense het op die ark toegesak, aan die deur gehamer en selfs probeer om tot op die dek te klim, maar dit was bykans vyf verdiepings hoog. Ek hoor in my gedagtes die mense se angs gille en absolute paniek, en uiteindelik het daar liggame begin ronddryf nog voordat die waters die ark begin oplig het. Daar staan in Gen. 6:16 "... en toe het die Here die ark agter Noag toegesluit." Die mense het sekerlik in die bome begin opklim, tot by die hoogste toppe, maar uiteindelik het die storm hulle daar verswelg. Die paniekgille moes verskriklik wees, en mense het met magteloosheid toegekyk hoe hulle kinders en geliefdes om hulle verdrink. Dalk het die Here die deur gesluit om te keer dat Noag die mense uit jammerte sou inlaat. Almal op aarde het gesterf!
Het mense jou al gespot omdat jy die Here glo as Hy sê daar is 'n hel? Lag mense jou af as jy hulle waarsku oor die feit dat nie almal hemel toe gaan nie? Kom jy ook agter dat mense die gedagte van bekering as belaglik en onnodig beskou, want God is mos liefde? Vind jy dit ook moeilik om, soos ek, nie soms te twyfel nie? Maak jy ook dalk vir lang tye nie jou geloof-potlood skerp nie en raak jy ook blasé oor die Here se waarskuwings oor bekering? Jy sien, toe daai ark begin lig, het vele dalk probeer om gou dinge reg te maak, maar dis was te laat. En toe sterf hulle. Dink jy mens kan spyt wees as jy reeds gesterf het? Hoeveel mense is in die hel wat steeds nie in God glo nie? Ek dink nie daar is één nie, want daar staan geskrywe: "Élke knie sal buig en élke tong sal bely..."
In Lukas lees ons van Lasarus en die ryk man, waar Lasarus in die hemel is en die ryk man verskriklik ly in die vuur van die hel, en die ryk man roep om hulp tot vader Abraham.
Luk. 16: 25-29 "Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte? Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’"
Ek en jy het ook die wet en die profete (die geskrewe Woord en die leraars) wat ons waarsku. Toe daai ark se deur toe is, was hy toe. As ek en jy sterf is daardie deur toe, en jy is binne of buite. Of jy dit glo of nie. ~ Willem Botha, 15/02/2021

As jy weet ...
So paar weke gelede is ons seun positief getoets vir COVID-19. Ons het nogal geskrik vir die uitslag want mens weet nooit hoe dié siekte kan verloop as mens dit eers opgedoen het nie. Genadiglik het hy weinig simptome gehad en soos normaalweg voortgegaan, behalwe natuurlik dat hy hom moes afsonder en vir twee weke binne moes bly en geen kontak met ander moes hê nie. Omdat ons ’n paar dae tevore in kontak was met mekaar het dit toe beteken dat ons óók vir ’n tydperk moes isoleer vir ingeval ons aangesteek het en die virus weer onwetend na iemand anders kan oordra. Ons het ook, deur die genade en beskerming van die Here, nié siek geword nie. Hy moes ook almal met wie hy die vorige paar dae in kontak was in kennis stel, sodat hulle ook kon let op moontlike simptome. Nou ja, dié is nou maar deesdae die storie van baie van ons se lewe, nè! Ek het net besef, as hy homself nie laat toets het nie en nie geweet het dat hy die virus het nie, sou hy homself nie eenkant gehou het nie en kon hy ander mense siek gemaak het. En dieselfde vir ons. Omdat jy wéét rus daar ’n verantwoordelikheid op jou om ooreenkomstig jou inligting en kennis op te tree. Dit is mos sommer ook ’n geestelike- en lewens-beginsel. As jy weet van iets, dan word dit as’t ware ’n realiteit. As jy weet wat die regte ding is om te doen, dan moet jy dit doen, anders gaan daar gevolge vir jou en vir ander mense wees. As jy weet wat die regte keuse is om te maak, dan sou dit dom wees om iets anders te doen. As jy weet wat verkeerd is, wat sonde is, wat ander gaan seermaak, wat die verkeerde reaksie gaan uitlok, ens. dan sal jy dit tog vermy, nie waar nie? “Isoleer” jou eie ek, plaas jou verkeerde gedagtes en woorde en optrede liewers “in kwarantyn” om sodoende verhoudings te beskerm en ander bo jouself te stel. As jy iets weet van iemand wat niemand anders moet weet nie, “ontsmet” liewers jou gedagtes en vee dié kennis uit, sit liewer ’n “masker” oor jou mond, sodat jy dit nie dalk later deel en sodoende iemand se lewe vernietig met skinderstories nie. As jy weet van iemand wat eensaam is, siek is, met iets sukkel of in die een of ander nood is, dan het jy kennis en inligting wat jy nie kan verontagsaam nie. As jy iets weet wat iemand anders kan red, kan help of kan beskerm dan moet jy dit deel. Dink ook bietjie aan die ander kant: as jy weet dat die Here jou lief het en alles ten goede vir jou sal laat uitwerk, as jy weet dat Sy Gees in jou is, as jy weet dat Hy altyd by jou is en jou nooit alleen sal los nie, hoe beïnvloed dit jou gemoedstoestand en jou hantering van jou alledaagse probleme? Ek het in die week weer dié gedeelte gelees in 2 Kon. 6 van Elisa se slaaf wat beangs geword het toe hy die vyand se strydwaens en perde sien. Elisa het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” (vers 16) Toe het die Here die slaaf se oë oopgemaak en hy het ’n ander prentjie gesien. As jy wéét die Here se beskerming is rondom jou, as jy wéét “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle”, soos wat Ps. 34:8 sê, dan kan jou vrees bedaar en jou vertroue toeneem en kan jy gemoedsrus en vrede ervaar. As jy weet ... ~ Wilna Botha, 11/02/2021

Wag wag wag
Kan jy nog wag? Soos in die ou dae. Wag vir die bus, wag vir 'n brief in die pos, wag by die dokter se spreekkamer, wag vir die uitslag (per pos) vir 'n werksaanbod. Wag in die ry by die bank. Kyk, in die weermag kon jy wag, maar jy het selde geweet waarvoor jy wag!
Nee, niemand kan meer wag nie, jou selfoon is te stadig, jou internet konneksie is te stadig, die tou in die winkel is te stadig, alles is te stadig. Ons het nie meer geduld nie, ons kan dit nie verdra as die ou voor jou by die robot nie onmiddellik wegspring as dit groen word nie. Selfs ons kitskos bestelling is nie kits genoeg nie.
Ons kan ook nie meer wag op die Here nie. As Hy nie vinnig genoeg 'n gebed verhoor nie spring ons op Google en soek 'n gepaste vers in die Bybel, en neem dan sommer ons eie besluit. Hoe lank het Abraham en Sara nie gewag vir die Here om sy belofte na te kom nie? En uiteindelik, toe hulle al moed opgegee het, vervul die Here sy belofte. Hoe lank wag jy al vir die belofte wat die Here vir jou gegee het? Hoe lank sal jy vashou aan 'n belofte uit die Woord voordat jy 'n ander een gaan soek? Gaan besoek jy "profete" om God se stem te hoor omdat Hy nie vinnig genoeg reageer nie? Of nog meer, ons gaan soek ander antwoorde as wat ons van God verwag, dan dink ons Hy besluit nog, maar intussen was daardie ongewilde antwoord sy wil. Ek gebruik graag hierdie volgende gedagte: Die Here antwoord met 'n klinkklare ja, nee, of wag. Ek dink egter ons verwag 'n antwoord vinniger as wat McDonald's jou hamburger kan maak.
Ps. 130: "Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes."
Kyk hoe mooi stel die Psalm dit: ... ek wag op die vervulling van sy Woord.
Hoe wonderlik is die Here se Woord nie! Uit dieselfde teks kry duisende mense verskillende antwoorde op verskillende tye op hulle eie unieke probleme, asof elkeen voel dat dit nét vir hom geskryf is. So getrou is die Here met sy beloftes, Hy vergeet dit nooit nie. Al voel dit stadig vir ons, Hy is altyd op tyd. Wag nog bietjie, dalk is jou antwoord net om die draai. ~ Willem Botha, 10/02/2021


Het jy ook al langs ’n rivier, of op ’n berg gekom en ’n stapel klippe gesien? Ek wonder altyd wie het die stapel begin en hoekom hou mense aan om klippe by te pak. Dalk sit hulle ’n klip neer as simbool dat hulle een of ander las daar onder by die rivier of bo-op die berg los. Dalk gaan dit gepaard met ’n gebed vir iemand se nood. Dalk sit hulle die klippe neer uit dankbaarheid vir verhoring van gebede. Dalk sit hulle ’n klip neer om te wys dat hulle die berg “oorwin” het. Die klipstapel op die foto het ek onlangs afgeneem bo-op die Brandwag-rots in Golden Gate. Ek het opgeklim tot bo en ook ’n paar klippe daar op die hoop neergesit en ek het gedink aan Dawid se vyf klippe wat hy opgetel het toe hy voor Goliat te staan gekom het. Ek het een neergesit en gesê: ek sal, ek kan. Net soos ek die taamlike steil paadjie opgestap het tot bo, weet ek dat geen lewens-berg (of Goliat) groter sal wees as die krag wat die Here vir my gee om te volhard en tot bo deur te druk nie. Die pad tot bo-op daai lewens-berg is steil en moeilik en jou voete kan gly,  maar die Here is daar om my hand te vat, die volgende tree vir my te wys, my op te help as ek struikel, my selfs te dra tot bo. “Deur U goedheid het U my op ’n veilige berg laat staan, Here.” (Ps. 30:8) Ek het ’n klip neergesit en myself herinner om in alle omstandighede kalm te bly en by die Here te rus, om nie na die donker wolke om my te kyk nie, maar my fokus te hou op dié dinge wat daarbo is. Ek het geweet die pandemie-tye wat voorlê is onseker en kan nog lank en moeilik raak, daarom het ek ’n klip neergesit en gebid vir moed om regop te bly en nie negatief of depressief te raak en in ’n donker hoek te gaan wegkruip nie. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr. 18:14. “Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry red.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Toe sit ek ’n klip neer en sê vir myself: Vertrou net op God. Gee alles aan Hom oor. Sit neer die klippe waaraan jy dra. Let go and let God... Daar op die groot rots het ek ’n klip neergesit en bely: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3) en in my hart het ek gesing: we shall not, we shall not be moved. ~ Wilna Botha, 09/02/2021


Wie sal vir die bidder bid? Wie sal die berader beraad? Wie sal uitkyk vir die pastoor en predikant wanneer dinge net te veel raak? Waar kan die leraars 'n gewillige oor kry as mense hulle (en die kerk) net beskinder en sleg praat? Daar is soveel ongelooflike, wonderlike bedienaars wat net altyd daar is, wat altyd tyd maak, wat altyd 'n oor het om te luister, en 'n skouer het om op te huil. Jy sien, hoe groter so iemand se hart is, hoe meer trek hulle ander se probleme aan, en lê snags wakker daaroor. Hoeveel van hulle val dag en nag voor die Here se voete neer en smeek dat Hy ander sal help, maar self het hulle nie tyd om vir hulleself te bid nie? Weet jy hoeveel leraars neem hulle eie lewens omdat dinge te veel raak? Weet jy hoeveel beraders help mense op bonatuurlike manier, maar het nie raad vir hulle eie sorge en probleme nie? Wie sal daar wees vir hulle? Ek hoor van 'n dame wat vir jare mense se berge probleme op haar skouers gedra het, maar toe self nie meer kon nie, bykans met katastrofiese gevolge.
Eks. 17:10-13 "Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim. Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan."
Ek gebruik dalk hierdie gedagte uit konteks uit, maar dit sê vir my baie van tye waar mense ondersteuning nodig het om werk vir die Here te doen, en ander net die steunpilaar moet wees. Weet jy wat maak my verskriklik hartseer? Dis wanneer mense die goedheid en groothartigheid van mense wat dien, tot hulle eie voordeel gebruik, selfs finansieel. Ek het hierdie sêding gehoor: If you're a giver, know your limits (to what you can give), because the takers don't have any.
Is dit nie waar nie? ~ Willem Botha, 08/02/2021

Ek dink toe Dawid buk om die vyfde klippie op te tel, het hy geweet dat dié een dodelik sou wees (onthou net – die Bybel sê nie so nie, ek “sien” dit sommerso in my geestesoog!) Dit moes die grootste, swaarste klip wees want dit moes klaarspeel met die arrogante, selfversekerde Filistyn wat Israel verkleineer en met vrees gevul het. Die klip wat vir Goliat getref het, wat die oorwinning bewerk het, wat Goliat laat val het en Israel vrede gegee het, was “Die Rots”. “Dawid sê vir die Filistyn: Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige.” (1 Sam. 17:45) Hy kom in die Naam van die Here, die Naam bo alle name (Fil. 2:9), die Naam waardeur almal gered word (Rom 10:13). Moses het in Eks. 3:13-14 vir die Here gevra: as hulle vra wie het my gestuur, wat is Sy Naam, wat moet ek  sê? “Ek is” het my na julle toe gestuur, was die Here se antwoord. As Goliat vir Dawid sou vra: wie het jou gestuur, sou Dawid kon sê: Die Rots. Die volmaakte, finale oorwinnaars-klip. Hy sou kon sê: “Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.” (Deut. 32:4). Hy sou kon sê: “... daar is geen rots soos ons God nie” (1 Sam. 2:2) Hy sou kon sê: ek kom na jou toe in die Naam van Die Rots, my skuilplek en my redder, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder (2 Sam. 22:2-3). Staan daar vandag ’n Goliat en grynslag voor jou? Is jy bang en bevrees? Is jou planne op? Is jou moed weg? Wil jy oorgee? Gaan staan agter jou Rots (en blý daar!), laat Hy vír jou veg. As jy jou Goliat pak in die Naam van die Here, beteken dit Hý veg namens jou, beteken dit jy staan fisies daar, maar Hy bewerk die oorwinning vir jou. Lees weer ’n keer Dawid se woorde in Ps. 18 en kry moed om jou gevreesde Goliat aan te pak. Ek haal ’n paar sinne aan: Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was. Hy het my in vryheid laat uitgaan. My God gee lig as dit donker is om my. Met U hulp loop ek ’n oormag storm. Elkeen wat by Hom skuiling soek beskerm Hy. God omgord my met krag. Hy maak my pad voorspoedig. U regterhand het my ondersteun. Deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee. U het my teëstanders voor my laat vlug. Die Here leef! Ek loof Hom wat my Rots is. ~ Wilna Botha, 04/02/2021

Gen. 2:4b-5 "Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie."
Reën, reën lieflike reën, val in die laning val om ons heen... Ai bring hierdie liedjie nie ongelooflike herinneringe nie? Reën, wonderlike, lieflike, lewegewende reën, wat gratis bykans oral oor ons land val. Op so baie plekke het boere gebid, ons damme se vlakke was laag, en toe skielik, maak die sluise oop. En net een Iemand het beheer oor daardie sluise, Hy wat dit alles fyn ontwerp het.
God, die Skepper van alles, ook die skepper van reën, het daar in Genesis 2 (die tweede skeppingsverhaal) reën laat voortkom om lewe moontlik te maak. Kan jy reën maak? Ken jy iemand wat kan? Het ons die formule of die toerusting, of is daar 'n handleiding wat dit beskryf? Nee!
Job 38:25-28 "Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal sodat dit reën in 'n land waar nie mense is nie, in 'n woestyn waar niemand woon nie en 'n droë, dor land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit? Het die reën 'n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?"
Hoe mooi verduidelik die Here hierdie konsep vir Job, en ons kan dit ook verstaan en insien.
Ja, die weerpatrone is in 'n mate voorspelbaar sodat boere kan voorberei om te plant. En ja, soms is daar droogtes, maar een of ander tyd reën dit weer. Soos nou.
Lev. 26:3-4 “As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra." Daar is inderdaad ook voorwaardes.
Die dwaas glo dat daar nie 'n God nodig is om reën te bring nie, maar daardie selfde dwaas geniet die seëning van God, al bid hy nie daarvoor nie. Die gelowige weet wat die krag van gebed is, en God antwoord met reën wanneer die mens dit nodig het. En weet jy wat? Ek glo die Here skep ongelooflike behae daarin as die mens uit dankbaarheid vir Hom die eer gee. Is dit nie vir jou lekker om iets vir iemand te gee nie? So vind Hy vreugde wanneer Hy wonderwerke laat plaasvind, en vir die mens gee wat hy vra. Dalk is hierdie reën wat tans val ook die Here se manier om te sê dat Hy vir ons sorg, ten spyte van die moeilike tye waarin ons is. Hy bly in beheer. ~ Willem Botha, 03/02/2021


“Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” (1 Sam. 17:37) Wanneer Dawid voor Goliat te staan kom, is dit vir my duidelik dat hy sy vertroue in die Here plaas en nie in sy slingervel of die klippies in sy sak nie of sy eie vaardigheid nie. Dawid het geweet om nie op Saul se raad of oorlogsklere en wapens te vertrou nie. Hy herinner homself aan die kere in die verlede wat die Here hom gehelp het. Hy bely dat die Here se krag in hom werk. Uit ervaring wéét hy dat die Here hom nie alleen sal los nie. Hy weet dat hy alreeds uitgekies en gesalf is as koning van Israel, al was Saul nog die koning. Hy het die sekerheid dat die Gees van die Here kragtig in hom werk (1 Sam. 16:13) Ek kan nie anders as om te dink dat een van die vyf klippies wat Dawid opgetel het vir “vertroue” was nie. Die Here sê in Jes. 49:23 “... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” Dawid het dít ervaar en ek wil ook vandag daai vertroue-klip optel en koester. Wat beteken dit vir my om op die Here te vertrou? Ek dink dit vra kennis van wie Hy is, hoe Hy oor my  voel en wat Hy wil en sal en kan doen. Dit is iets wat mens, soos Dawid, deur ervaring leer, maar beslis ook uit ander mense se vertroue - en oorwinningsverhale en natuurlik uit die Woord. Vertroue beteken ’n mens moet jouself bewustelik in die Here se hande plaas en met geloof oorgee aan sy leiding en sorg. Vertroue vra dat jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet, dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Vertroue kom in aksie wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het.  Vertroue is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie, maar steeds hoop en glo. Vertroue is nie net iets passief nie. Jy sit nie net agteroor en wag dat die Here iets moet doen nie, nee, soos Dawid rivier toe gegaan het en gaan klippies optel het, moet ons iets dóén, ons moet ons kant bring. Wanneer ek daai vertroue-klippie sien, dan wéét ek vertroue in die Here vat bekommernis en vrees en angstigheid weg. Dan wéét ek vertroue in die Here bring vrede wat alle verstand te bowe gaan.  Dan wéét ek vertroue in die Here bring oorwinning. Dan wéét ek “... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” ~ Wilna Botha, 02/02/2021

Ek ken ook nou 'n paar mense wat aan hierdie aaklige virus oorlede is, en hulle geliefdes het deur die bank getuig dat die oorledenes baie lief was vir die Here en tot op die einde aan Hom vasgehou het en gebid het vir genesing, en hulle naasbestaandes het ook daarvoor gebid. En tog het die einde ongevraag gekom. Dalk kan jy ook daarvan getuig. Toe 'n vriend se dogter onlangs sterf het hy getuig dat net die Here vir hulle die krag kon gee om deur dit te kom. Maar hoe werk dit? Jy bid en glo vir genesing, jy proklameer dat God kan genees, jy glo met jou hele hart dat genesing sal kom, jy verkondig dit en weier om vir die teendeel voorsiening te maak, en dan gebeur die ergste. Hoekom hou mense dan nie op glo nie? Ek het nog selde gesien dat mense weggaan van die Here af as dit gebeur. Ek sien telkens dat die volgende fase inskop, en dit is dat mense 'n ongekende nabyheid van die Here ervaar, en soos my vriend te midde van die diepste pyn en smart getuig dat hulle nie hierdie bitter beker sou kon drink sonder Sy bystand en hulp nie. Die volgende fase wat ek sien is berusting, daai gelatenheid waar mense oorgee en sê: Hy weet beter. Dis ook waar 'n vriend eendag gesê het, ons het die vrede van God gekry wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7). Ek sien dan nog fases waar mense soveel vrae het, dan later antwoorde kry, dan meganismes ontwikkel om te "cope" met daardie verlies, dan uitreik na ander wat in dieselfde bootjie is. En dan, deur die bank, getuig mense dat hulle NET liefde van die Here ervaar het, en dat NET die Here daardie vrede kan gee, ten spyte daarvan dat pyn en smart nooit regtig heeltemal weggaan nie.
Maar dis nooit maklik nie, en soms vat dit lank voor mense weer begin LEWE, en soms vat dit lank om weer van daardie ashoop af te klim. Die dood is wreed vir dié wat agterbly, en in my eie selfsug bid ek dat ek eerder eerste moet gaan in my gesin, maar dis gelukkig nie my keuse nie. Een ding weet ek, en dis dat dit bitter moeilik is om hierdie pad sonder Hom te stap. Weet jy dat Jesus gehuil het toe Lasarus dood is? Onthou jy dat Jesus diep bedroef was toe Johannes die doper se kop afgekap is? Die dáárdie empatie wat Jesus het met mense wat swaarkry, en Sy trane vloei sekerlik ook as Sy kinders sterf. Soms gryp Hy met wonderwerke in, en soms nie, en al verstaan ek dit nie is ek bereid om eerder saam met Hom te stap as sonder Hom. Hy is die groot Geneser, Hy is die anker wat ons vashou in storms, Hy is die fondament wat maak dat ons nie net summier omval nie en Hy droog trane af, omvou jou in Sy sterk arms en maak die pad weer gelyk. Hy is wie Hy sê Hy is, Hy is liefde. ~ Willem Botha, 01/02/2021

“Ek sal gaan en teen die Filistyn gaan veg.” (1 Sam 17:32) Dalk is een van Dawid se vyf klippies, wat hy gaan optel het om teen Goliat te veg, sy bereidheid - “ek sal.” Niemand anders wil nie. Niemand anders kan nie. Niemand anders sien kans nie. Maar Dawid sê: Ek sal! Hy weet hy is sterk genoeg. Hy weet hy is nie bang nie. Die vrees wat almal vir Goliat het, het nie op hom afgevryf nie. Hy is toegerus met sekere vermoëns en het vertroue in homself. Lees bietjie in 1 Sam 17:34-36 hoe hy eintlik al lankal “voorberei” was vir hierdie geveg. Terwyl hy skape opgepas het, moes hy al ’n lam uit ’n beer of ’n  leeu se bek red. “Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word.” (vers 36). Soos wat hy in die verlede kans gesien het om ’n leeu en ’n beer aan te pak om sy skape te red, so het hy kans gesien om dié reus aan te pak om Israel te red. Die ander kant van die “ek sal”-klip is “ek kan”. Is dit nie so in die lewe nie – wanneer jy bereid is om ’n taak aan te pak, om iets moeilik te gaan doen, dalk iets wat niemand anders wil doen nie, as jy daai gewillige tree gee, ontvang mens dikwels buitengewone wysheid, nuwe vermoëns en gawes op die regte tyd. As jy sê: “ek sal” gee die Here vir jou insig, wysheid, moed en krag wat jy nodig het vir jou taak. “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen.” (Jes. 49:5) – dit het gegeld vir Jesaja, dit het gegeld vir Dawid en dit geld ook vir my en jou. Wees gewillig, wees bereid, wees beskikbaar en die Here sal jou bekwaam maak vir dit wat jy moet doen. Wanneer daar ’n moeilike “Goliat”-projek vir jou voorlê, gaan tel vir jou ’n “ek sal”-klip op en weet dat die Gees van die Here jou sal toerus, dat die krag en die kennis sal volg. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Fil. 4:13) ~ Wilna Botha, 28/01/2021


WWJD
'n Klompie jare gelede was die "What Would Jesus Do" armbandjies baie gewild, en dit het eenvoudig gevra hoe jy sou reageer in ongemaklike situasies.
'n Vriend stuur vir my 'n video wat vra: Wat kry jy as jy 'n lemoen uitdruk? Die antwoord is natuurlik voor die hand liggend, jy kry lemoensap, want dis wat ín hom is. En toe kom die vraag: wat gebeur as iemand of iets jou en my kassie skud? Wat kom uit jou binneste uit? Daar kan immers niks anders uit jou kom as wat reeds daar is nie. Kom daar woede uit? Aggressie? Haat? Of dalk liefde, sagtheid, vrede of iets anders wat mooi is? Dalk dink jy ook nou onwillekeurig aan die vrug van die Gees. Ek ken myself baie goed, en ek bely dat daar nie net mooi goed uit my kom nie, ek dop daardie WWWD toets elke dag. What Would Willem Do?
Ek as pa sal sekerlik ook eendag na my afsterwe moet pa-staan vir die voorbeeld wat ek vir my vrou en kinders gestel het. Wat sou my kinders antwoord as hulle in moeilike tye vra: Wat sou pa doen? En as my vrou sou vra: Wat sou my man doen? Of 'n vriend vir wie ek dalk 'n mentor moes wees: wat sou hierdie vriend van my doen? So sou daar vrae kon wees van kollegas, kliënte, medegelowiges, bure, vriende en ja, dalk selfs vyande. Die antwoord op hierdie vrae sal wys wat my nalatenskap is, dis die dinge wat mense sal onthou en dis die "lemoensap" in my binneste. Hoe sleg sou dit wees as daardie antwoorde iets sou wees soos: die vuiste sou klap, hy sou na die bottel gryp, hy sal jou uit jou skoene uit skel, hy sou jou finaal afskryf en wegstap, hy sou die familie mishandel, hetsy emosioneel of fisies. Ai, hierdie dinge is só die teenpool van die vrug van die Gees. Hoe wonderlik sou dit wees as daar net liefde sou uitstroom, soos daardie lemoensap as die lemoen uitgedruk word. Ek kan dit ongelukkig nie sê nie, en ek voel sleg daaroor. Jy sien, as mense blindelings agter jou sou aanloop en jou voorbeeld volg en dit goeie vrug dra, kan ons die antwoord van WWJD kry.
Joh. 5:19b “... dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. "
Dít Sou Jesus Doen! ~ Willem Botha, 27/01/2021

Dawid kon dit nie verdra dat Goliat die Israeliete so verkleineer en op hol jaag nie. Daarom het hy homself aangemeld om iets daaraan te doen. Van Goliat sê hy: “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie.” (1 Sam. 17:32) En ek dink: dáár is die tweede klippie wat Dawid in sy slingersak dra: moed. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr. 18:14. Hoe waar is dit nie. As jy moed het, sien jy kans om met die reus voor jou te veg. As jy moed het, het jy krag om die berg voor jou te klim. As jy moed het, het jy uithouvermoë om te beur teen die storms van die lewe. As jy moed het, maak die onbekende jou nie beangs en paniekerig nie. As jy moed het vlieg jy met arendsvlerke, ontvang jy vrede wat alle verstand te bowe gaan, kry jy ongekende wysheid, sien jy reeds die uitkoms en oorwinning in jou geestesoog. En sê nou maar daar staan vandag ’n reus voor jou wat jou moed in jou skoene laat sak, wat jou knieë laat swik en jou arms verlam en jou keel laat toetrek? Hardloop na die Here toe en skep moed by Hom, vriend. Hy sê: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedeloses weer vol moed.” (Jer. 31:25)  In Hag. 2:4-5 is daar so ’n mooi gedeelte oor moed. Serubbabel kry die opdrag op die tempel herbou – ’n groot taak, ’n “Goliat” om aan te pak. Die Here sê egter vir Serubbabel en die hele volk om moed te skep en dan gee Hy vier redes waarom hulle moed kan hê vir dié werk: (1) die Here is self by hulle, (2) die Here sal sy beloftes nakom, (3) Sy Gees sal by hulle wees om hulle toe te rus vir die werk, (4) hulle hoef vir niks bang te wees nie. Wat moet jy vandag doen waarvoor jy dalk nie kans sien nie, omdat die taak te groot, te moeilik, te gevaarlik is? Kom, tel vir jou ’n moed-klip op en skryf jou naam in hierdie teks en skep moed vir dit wat voor jou lê: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” (Hag. 2:4) ~ Wilna Botha, 26/01/2021

Verbeel jou:
'n Dag sonder politiek en alles wat daarmee saamgaan.
'n Dag sonder misdaad.
'n Dag sonder om die woord "virus" te hoor.
'n Dag sonder werk stress.
'n Dag sonder slegte verhoudinge.
'n Dag sonder angs oor geld.
'n Dag sonder 'n nuwe pyn, of ander gesondheidsprobleme.
'n Dag sonder samesweringsteorieë.
'n Dag sonder vrees vir die toekoms.
'n Dag sonder hooploosheid omdat niks uitwerk nie.
'n Dag sonder liefdeloosheid.
'n Dag sonder 'n gejaag.
'n Dag sonder afstand of afsondering van jou geliefdes.
'n Dag sonder aanvalle op jou karakter, en om onregverdig swartgesmeer en beskinder te word.
'n Dag sonder dood van geliefdes of vriende.
'n Dag sonder padwoede.
'n Dag sonder jaloesie.
'n Dag sonder magmalheid van die owerhede, of meerderes by die werk.
'n Dag sonder onregverdigheid.
'n Dag sonder ondraaglike moegheid.
'n Dag sonder onaangename herinneringe oor iets in jou verlede.
'n Dag sonder daardie gevoel dat swaarkry jou tot op die nippertjie van oorgee dryf.
'n Dag wat jy nie meer dink dat die dood beter as lewe is nie.
Ja, verbeel jou dit. Daardie dag kom seker eers as jy jou kop hier op aarde neerlê, en daarom moet ons seker maak ons eindig daar, in die hemel, saam met die Here. Dán is die seer, swaarkry, moeilikheid, teleurstelling en vrees vir altyd verby.
Openb. 21:4-5 Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” ~ Willem Botha, 25/01/2021

Ek het bietjie verder gelees oor Dawid in 1 & 2 Samuel en weer gedink oor die hele Goliat-storie en die vyf klippies wat Dawid opgetel het. Ek het gewonder hoekom word dit pertinent genoem dat hy vyf klippies opgetel het. Hoekom het hy vyf klippies uitgesoek as een genoeg was? Het hy nie vertroue gehad in sy vermoë om te tref nie, dié dat hy gesorg het vir genoeg klippe? Hy het tog as’t ware net een kans gehad want as hy met die eerste slinger gemis het, was dit sekerlik neusie verby met hom. Die antwoord word nie gegee nie, maar soos ek gelees het deur 1 Sam 17, het daar vir my vyf goed uitgestaan in die verhaal – een vir elke klippie! Ek beoog om oor die volgende paar kere, ietsie te deel oor elke klippie – let wel, dis sommer net mý gedagtes, niks teologies, dogmaties of eksegeties nie. Die eerste klip is een wat ek self vandag nodig gehad het: kalmte. Saul het gedink Dawid het hulp en beskerming nodig om teen Goliat te veg want hy was mos jonk en onervare in vegkuns, hy was immers net ’n skaapwagter. Daarom laat hy vir Dawid sy eie gevegsuitrusting aantrek, maar arme Dawid kon nie eens daarmee loop nie. Hy het dit uitgetrek en met net sy kierie in sy hand het hy rustig afgestap na die spruit toe en vyf klippies gaan uitsoek. As mens in ’n moeilike situasie kom is daar mos altyd ’n klomp mense gereed met húlle raad en voorskrifte van hoe jy jou probleem moet hanteer. Hulle reken wat vir hulle gewerk het, moet vir jou ook werk. Dis natuurlik goed en reg so, want ons kan baie leer uit mense se ervaring en opregte raad – verstaan mooi, ek slaan dit geensins in die wind nie, maar partykeer kan dit ’n mens juis paniekerig laat rondhardloop agter oplossings aan, jy gryp hier en los daar en later is jy so deurmekaar en op-gestres jy weet nie watter kant toe nie en dan maak jy dalk net die verkeerde besluite. Ek dink dis in sulke tye wat mens die “geleende gevegsuitrusting” moet uittrek en net rustig raak. Haal diep asem. Kyk objektief na die situasie. Konsentreer op die positiewe. Moenie die slegste uitkoms van die situasie verwag nie. Visualiseer dat alles ten goede gaan uitwerk. Rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat hier rondom jou is nie, sê Kol. 3:2. Gee gehoor aan Jesus se uitnodiging: Kom na My toe ... en Ek sal julle rus gee (lees Luk. 11:28). Let go and let God, soos die spreekwoord sê. Gaan dalk fisies na ’n stil plek toe ... dalk af na die rivier toe waar jy ’n paar klippies kan optel en waar jou gemoed kalm kan word en die Here vir jou perspektief, kalmte en vrede kan gee. Dan kan jy, soos Dawid, rustig terugstap en jou Goliat gaan aandurf. ~ Wilna Botha, 21/01/2021

Dit was die jaar 1982, pas nadat ek en Wilna getroud is en in 'n woonstel in Pretoria woon, wat iemand een aand aan die deur klop. Daardie dae was deur tot deur verkopers volop en dit was veilig om vreemdes in jou huis toe te laat. Hierdie persoon het Wêreldspektrum ensiklopedieë verkoop, en sy invalshoek was: het julle kinders? Nee meneer, ons is pas getroud. Maar julle gaan seker eendag kinders kry? Ja meneer, hopelik. Wel, jy kan nie jou kinders die wêreld instuur sonder hierdie stel van 30 volumes nie, want alles wat daar te wete is in en van die wêreld, is daarin opgeskryf. En elke jaar sal 'n nuwe jaarboek beskikbaar wees om nuwe kennis in die stel by te hou. En voorts, as daar iets is wat jy nie daarin kry nie, stuur jy 'n brief vir ons (epos het nog nie bestaan nie), en ons sal vir jou die inligting kry. Maar mense, julle sal sien dat ons vir julle net die bladsynommer sal gee, want jy het dit misgekyk. Nou ja toe!
Ek glo jou stel Wêreldspektrums is iewers in die Wendyhuis in 'n boks (met dalk net so twee jaarboeke), en totaal nutteloos. Maar ek moet egter sê, die kinders het pragtige take daaruit gedoen.
Nou kom ek by die Bybel en ek sit so en wonder oor die Bybel se inhoud, die kennis wat daarin opgeteken is, en ek wonder hoekom het die Bybel nie dieselfde pad gestap nie. Of het dit?
Oor 'n tydperk van 1600 jaar geskryf, meer as 40 skrywers, in drie tale en op drie kontinente. En in die jaar 397 na Christus word die Bybel saamgestel soos ons hom vandag ken: apokriewe boeke uitgelaat en die inhoud wat ons vandag sien word saamgestel, insluitende die volgorde soos ons dit ken. Hoekom bly die Bybel dan staande? Het die kennis wat ons daar van lees nie ook irrelevant geraak soos die Wêreldspektrum nie? Is dit nie oudmodies en uitgedien nie? Hoekom dit hoegenaamd nog lees? Laat mens nogal dink of hoe?
Wel, ek het daardie vraag vir myself as volg geantwoord. Die inhoud van die Bybel is vas, God is wie Hy is en dis vas, daar hoef niks weggelaat of bygevoeg te word nie, maar tog bly dit nuut, tog is jy dikwels verstom oor hoe relevant die Bybel vandag is en bly. Hoe werk dit? Ek dink die antwoord lê daarin dat die Here bykans elke dag nuwe dinge aan jou openbaar uit daardie "stokou" Boek. Jy kan 'n teks lees wat jy al 'n honderd keer gelees het, en dis VANDAG vir jou nuut. Wanneer die Here vir jou 'n spesifieke boodskap wil gee, laat Hy nie 'n nuwe "jaarboek" skryf om die Bybel aan te vul nie. Hy gebruik daardie "ou" Boek, en maak dit splinternuut, vir jóú, vir vandag, vir jóú omstandighede. 66 boeke in die Bybel is genoeg, dit dek alles wat gedek moet word, dis allesomvattend, en dit bly waar. Elke dag. Dus, al het jy die Bybel hoeveel keer deurgelees, sal daar elke keer meer inligting en kennis aan jou geopenbaar word, hetsy deur dit net te lees, of ander mense wat die nodige insig het wat dit met jou deel.
As jy nou die Wêreldspektrum ensiklopedieë lees, is dit oud, vervelig, meesal inligting wat nie meer van toepassing is nie, en dus so effe nutteloos. As jy die Bybel lees is dit vars, relevant en het GROOT waarde.
2 Tim. 3:16 "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek." ~ Willem Botha, 20/01/2021

In die Ou Testament lees ons hoedat die Filistyne en die Israeliete gedurig aan die veg was om dit uit te spook vir mag en eer en beheer. In 1 Sam 17 lees ons van een so ’n episode. Dié keer het die Filistyne al hulle vertroue op hulle baasvegter, Goliat, gesit. Hy was 3 meter lank, gepantser met ’n bronshelm op sy kop, ’n sewe en vyftig kilogram harnas met skubbe, bronsskerms voor sy bene en ’n bronsswaard oor sy skouer. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Dit was vreesaanjaend! En hy was arrogant en uitdagend. Vir veertig dae lank het hy elke dag teenoor die Israeliete gaan staan en hulle verkleineer en uitgedaag.  En die Israeliete het geskrik, hulle was mismoedig en bang en het vir hom gevlug. Stop nou net hier vir ’n oomblik en dink bietjie oor jou lewe vandag: wat is daar wat jou só bang, mismoedig, moedeloos, vreesagtig, verneder, verkleineer en oorweldig laat voel? Watter Goliat staan nou al vir 40 dae (of langer) voor jou en bedreig jou, spot jou of lag jou uit? Dalk is dit die Corona-pandemie of ’n ander siekte. Dalk jou finansies of bekommernisse oor jou kinders en hulle toekoms. Dalk depressie of donker gedagtes. Dalk verslawing of ’n swak selfbeeld. Dalk mishandeling of misbruik. Dalk boelies, slegte verhoudings of ’n egskeiding. Dalk politieke kwellinge of skelms. Dalk slegte nuus. Dalk is dit nou tyd dat die Dawid binne jou opstaan, rivier toe stap en vyf klippies optel en met vertroue verklaar: “Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap.” (1 Sam 17:46) Vandag - nou, hierdie week, hierdie jaar, binnekort. Sal – dit is ’n gegewe feit. Die Here  - Hy kan, niks is vir Hom onmoontlik nie. Ek kan – wanneer ek swak is, is ek sterk want God se krag werk in my. Jou verslaan – oorwin, oorkom, verbreek die greep. Mag die Here ons hiermee help. Mag Sy vrede van ons besit neem. ~ Wilna Botha, 19/01/2021

Daar is baie vrae in my gemoed. Ek kom egter agter dat ek skuldig voel om my moeilike vrae vir die Here te vra, so asof ek eerder nie as 'n swakkeling wil oorkom nie. Ek het dan soveel geloof, ek glo dan dat die Here altyd in beheer is en ek durf Hom nie bevraagteken nie, maar as ek deesdae na die lewe om my kyk wil wil my kop neig na onsekerheid toe. Ek het vandag nogal so effe geworstel met negatiewe gedagtes en ek wonder hoekom dit voel of my vreugde gesteel word deur een of ander onsigbare vyand. Toe besef ek, ek is ge-"ground", soos 'n vliegtuig. Ek kry nie opgestyg nie en dit voel of my wiele aan die aanloopbaan vassit.
Hier is 'n storie agter die gevliegery, soos in rêrig rêrig. Ek het al vir baie jare, male sonder tal, gedroom ek kan vlieg, regtig meer kere as wat ek kan tel. Soms sou ek my voete oplig en net begin sweef, en as gevare dreig vlieg ek eenvoudig daarvoor weg. Ek het ALTYD gedroom ek is die enigste wat dit kan doen, en almal was altyd verwonderd oor hierdie bonatuurlike vermoë wat ek het. Soms kon ek net in die lug spring en so hoog opstyg as wat ek wil, en dis die mees ongelooflike gevoel van vryheid en oorwinning. Maar tans sit ek op die grond vas, en ek het besef dat daar deesdae te veel onsekerheid in die lug hang, en dis dalk hoekom ek nie 'n aks kan beweeg in my drome nie. Ek verlang so na hierdie heerlike ligte gevoel wat ek gehad het as ek dit droom, maar dit wil net nie gebeur nie.
Vandag het ek myself egter weer herinner aan iets wat iemand eendag vir my gesê het, en ek het die volgende boodskap destyds op Heuning se dagstukkies geplaas. Dit het vandag vir my weer bietjie perspektief gegee, en ek deel dit graag weer met jou.
En tog skyn de son.
Ek loop 'n paar dae gelede een van my kliënte raak en ons praat oor die sukkelende ekonomie en die onsekerheid oor alles wat in die land gebeur en hy sê : Ons Belge het die spreekwoord "En tog skyn de son". Is dit nie waar nie? Ten spyte van alles, hoe moeilik ookal, skyn die son steeds oor ons almal.
Dis soveel te meer waar as ons weet wie ons bron van lig en krag is.
Jes. 60 :20 "Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby."
Tog skyn de son... Die Here jou God sal jou pad verlig, die warmte wees in koue tye, Hy sal sorg dat jy nie struikel oor die klippe op die pad nie, Sy warm strale sal jou toevou en jou koester en beskerm. ~ Willem Botha, 18/01/2021

Jy het seker ook die afgelope week of twee baie seënwense ontvang en uitgespreek – (ek nog meer, want ek het boonop nog verjaar ook!). Ons het seënwense oor mekaar uitgespreek vir ’n nuwe jaar, gebede dat die Here sy goedheid en guns en genade oor ons sal uitstort. Ons het dít nou meer as ooit nodig, nie waar nie.  Ps. 115:12 is vir my baie kosbaar: “Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot”. Hy dink aan ons! Dís die seën wat ons nodig het! Nie noodwendig om goeie gawes uit sy hand te ontvang nie, nie noodwendig dat alle slegte goed van ons weerhou sal word nie, nie noodwendig dat ons lewenspad net glad en met rose besaai sal wees nie, nie noodwendig dat ons nie hartseertye sal beleef nie, maar dat ons in Sy gedagtes is.  As die Here aan ons dink, weet ek dat ek goeie dinge sal ontvang al verdien ek dit nie nie, weet ek dat niks wat met my gebeur vir Hom ’n verrassing is nie, weet ek dat die hare op my kop getel is, weet ek dat Hy groter is as enige probleem wat mag opduik, weet ek dat Hy my trane sal afdroog, dat Hy my sal regop hou al voel dit of my knieë knak en my voete gly, weet ek dat ek tot alles in staat is, weet ek dat niks my van Sy liefde kan skei nie. Die Here dink aan jou, vriend en Hy seën jou. ~ Wilna Botha, 14/01/2021

Jona-sindroom
Ai, dié Jona was 'n koddige knaap, gaan lees gerus die 4 hoofstukke van Jona. Die Here stuur hom vir 'n taak, hy besluit om weg te vlug van die Here af en beland op 'n skip, waar hy oorboord gegooi word omdat die boot amper in 'n storm vergaan het. Dan stuur die Here 'n vis (ja regtig) wat hom insluk en op die land uitspoeg. Dan doen Hy tóg waarvoor hy gestuur is, die Here red Nineve en dan is Jona kwaad en gaan bou 'n skuiling. Die Here laat 'n komkommerplant opkom wat weer die volgende dag verdroog, en dan wil hy kwansuis eerder sterf. Hy is kwaad, g'n mens weet hoe hoekom nie, die Here weet ook nie, aldus hoofstuk 4. Maar vroeër, in Jona 2, nadat die Here hom gered het, besing Hy die Here se eer met 'n wonderlike loflied.
Jona 2:2 - 10 Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. U het my die diepte in gegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit.
Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af. Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg."
Maar o wee, in hoofstuk 4 is hy kwaad, soos ek soms, en dalk jy ook.
Ja Jona, skuif bietjie op man, ek soek ook 'n sitplek onder daai plant, want ek is ook lus vir kla. Skuif ver op man, ons is baie wat moet sit kry langs jou. Ek en 'n klompie vriende, nee, ons hele dorp, nee nee skuif verder, ons hele land moet in. Nee Jona NÓG, ons hele wêreld soek 'n kla-plekkie!
Ai, eendag is die Here SO goed, en die volgende dag stel Hy teleur. Die Here red ons vandag van iets erg, ons is baie bly, more is dit vergete, dan kla ons.
Op die oomblik hang daar so 'n swaar donker kombers oor ons, almal is onseker, vele mense is ongelukkig, daar is min vreugde in die lug, die jaar lyk nie te goed nie, en "doom and gloom" is aan die orde van die dag. Nou klink hierdie storie van Jona nogal bekend. Verlede jaar, wat nie 'n goeie jaar was vir baie mense nie, het die Here ons bygestaan, wonderwerke het gebeur en ons was vreeslik dankbaar vir die genade van 2020, maar nou sit ons weer soos Jona onder daai komkommerplant. En kla! Ja ek ook. En net soos Jona, vergeet ons dat die Here die spreekwoordelike vis vir ons gestuur het om ons te red. Hoe jammer is dit dat ons geheue so kort is! Hoe sleg is dit nie dat ons die Here STEEDS nie ten volle vertrou nie. Sy "track record" is so goed, Sy uitkoms so getrou, en ja selfs toe die ergste gebeur, het Hy 'n komkommerplant laat opkom waaronder ons kon skuil. Die komkommerplant gaan dalk verdroog, dan kom daar 'n nuwe een op, dit was nog altyd so. Kom ons onthou die tye onder op die seebodem, kom ons onthou die wonderwerke, en kom ons loof Hom en vertrou Hom. Volgende jaar het sy eie woestyne, en die jare daarop ook, maar daar sal altyd komkommerplante wees. Daar was nog altyd. Wie anders as die Here kan SO vertrou word? ~ Willem Botha, 13/01/2021

Aangesien dit my eerste Heuning-skrywe is vir 2021, wil ek darem ook net vir almal ’n mooi jaar toebid en vars genade en nuwe hoop vir ons almal vra by die Here. Aan die einde van 2020 het ek baie mense se nabetragting en terugskouing oor die jaar gesien en gehoor en dit was deurspek met woorde soos: vreemd, uitdagend, veeleisend, vreesaanjaend, moeilik, onstuimig, teleurstellend ens.  Ons sou graag daai woorde in 2020 wou agterlaat nè, maar realisties gesproke weet ons hulle gaan ongelukkig saam in 2021 in. Ek het my voorgeneem om egter nie toe te laat dat daai negatiewe, vrees-woorde my gaan beheer in 2021 nie, daarom het ek vir my 4 nuwe woorde gekies om my te help positief bly, my gedagtes te fokus op dié Een wat groter, sterker en beter is as enige iets, om my hulp te soek by dié Een wat alles ten goede sal laat meewerk. My 2021 woorde is: gerus, tevrede, vasberade, aanpasbaar. GERUS: As Jesus in Matt. 11:28 sê kom na My toe, Ek gee rus, dan weet ek ek kan as’t ware terugleun in sy arms vanwaar ek kan asemskep en dinge in perspektief kan sien. Die woord sê julle krag lê in stil wees en vertroue hê (sien Jes. 30:15) en dis presies wat ek wil doen – nie arms swaai en hard skree en protesteer oor die omstandighede nie, maar stilweg bid en hoop en vertrou. Wees stil en weet... TEVREDE: Ek gaan werk daaraan om tevrede te wees met dít wat die Here vir my uitgemeet het – hetsy goed of sleg, maklik of moeilik, want wanneer ek tevrede is, sal Sý vrede oor my hart en gedagtes kom waghou. “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:7) VASBERADE: Ek hoor dat die Here vir my sê, soos vir Josua: Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. (Jos. 1:9) Ek sal die groter prentjie, die wenpaal voor oë hou en vasbyt en deurdruk. Ek sal die Here se hand vashou en vasstaan. AANPASBAAR: Ek gaan bereid wees om aanpasbaar en buigsaam te wees. As dinge gebeur waaraan ek niks kan doen nie, sal ek berus en aanvaar. As dinge anders verloop as wat ek gehoop en gedroom en beplan het, sal ek my verwagting aanpas, sal ek my doelwitte op ys sit en kyk of die Here nie dalk vir my ’n hoër plan, ’n dieper doel, ’n nuwe droom het nie. “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” (Jes. 43:19) Dis dag 12 van die nuwe jaar en ek het alreeds gesukkel met my vier woorde, maar hulle staan hier op my bordjie voor my – hulle herinner my en ek sal aanhou probeer ... ~ Wilna Botha, 12/01/2021

Hy is orals, absoluut orals, hy skuil in jou huis, in jou kamer, in die televisie, die fliek, in jou langspeelplate, hy kom maak selfs 'n draai by jou daar waar jy in die kerk sit, hy skuil in dinge wat jy op jou mure hang, selfs in 'n lappie wat jou oumagrootjie gehekel het in die jaar toet. Deesdae skuil hy selfs in selfoontegnologie, in 'n spuitnaald met entstof, en ja blykbaar ook in karate.
Nou ja, jy is seker net so verward oor hierdie goed soos ek. Ek praat natuurlik van die bose, ook genoem die duiwel en natuurlik sy mees bekende en gevreesde naam: Satan.
Ek voel egter om my stelling anders te fraseer. Jy sal hom oral kry waar jy hom soek. Hy sal vir jou 'n werklikheid word daar waar jy hom vrees. Die volgende teks is baie bekend, en natuurlik ook baie waar want dit staan in die Bybel. Jip, hy is inderdaad gevaarlik.
1 Pet. 5:8 "Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind."
Maar dis 'n nuwe jaar. Gun my egter gou die geleentheid om myself in die rede te val en effe af te dwaal van my punt af. Hierdie jaar skop af met geweldige onsekerheid en dit gaan definitief gepaard gaan met vrees vir die onbekende, en natuurlik ook vir die meer onlangse, nuwe, aaklige bekende. En soos die mens nou maar is probeer ons sin maak van hierdie nuwe kalant in ons midde. Nou gebeur daar snaakse dinge, sommige ontken dit, sommige verval in samesweringsteorieë, sommige aanvaar dit as deel van die samelewing, en dan is daar diegene wat die duiwel ook in hierdie dinge soek, en hom selfs daar kry.
Vriend, in hierdie tye, in hierdie jaar, wil ek my oë gerig hou op Jesus, Hy wat die bose oorwin het, wat steeds die wêreld met al die goed én sleg in Sy hand hou. Ek aanvaar dat God my teen hierdie virus kan beskerm, maar ek aanvaar ook dat Sy kinders daarvan kan omkom, soos 'n vriend van my verlede week. 'n Uitgesproke, wedergebore Christen.
Terug na die duiwel toe. Ek gaan myself telkens herinner dat Jesus hom klaar oorwin het aan die kruis, en ek gaan hom ook daaraan herinner. Ek gaan myself herinner dat geen aardse "merk", wat deur die mens geskep is (inenting?) die merk wat God op my plaas kan vernietig nie. Ek en jy is deur die Here in ons harte gemerk as Sy eiendom, en ek staan daarop in hierdie jaar. Hoe erg probeer die duiwel ons nie met vrees oorrompel nie! Hoe hard werk hy nie aan sy "copycat" tegniek nie! Lees weer daardie eerste teks, hy loop rond SOOS 'n brullende leeu, maar Jesus IS die Leeu van Juda.
Openb. 5:5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”
Ek weet nie of ek of my familie hierdie jaar gaan deursien nie, maar ek stap hierdie pad saam met die Here. Ek distansieer my van al die sinnelose gekwetter wat die rondte doen, en fokus eerder op Hom. Die Bybel is baie kragtiger as Facebook en ander sosiale media. Dis baie beter leesstof, gebaseer op feite en die Outeur is altyd in beheer.
Voorspoed vir 2021, mag die Here ons heel anderkant uitbring. ~ Willem Botha, 11/01/2021

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)