|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2025
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
As ek maar
net....
Ek dink ons
almal ly maar so effe aan hierdie sindroom. As ek maar net.... Dan
wat? Dan sal ek gelukkig wees? Dan sal ek my lewensvreugde terugkry?
Dan sal die Here vir my lief wees? Dan sal ek ook iets kan doen wat
die Here behaag? Dan sal mense van my hou? Dan sal ek lekker kan
werk in my beroep?
Ai, ons mense
sukkel maar met onsself en ons omstandighede.
As ek maar
net.... 'n paar kilo's kan afgooi, dan sal mense my nie snaaks
aankyk nie. Weet jy wat? Niemand gee 'n blou duit om nie, want
elkeen wat (volgens jou) vir jou so aankyk, ly aan presies dieselfde
sindroom.
As ek maar
net.... by die werk meer aanvaarbaar kan wees, sal mense ophou
skinder van my. Ai tog mens, mense skinder nie omdat daar fout is
met jou nie, mense skinder omdat daar fout is met hulle. Jy kan
hulle nie verander deur jouself te probeer verander nie.
As ek maar
net.... so bietjie hoër salaris gekry het, sou ek ook dit of dat kon
koop om beter te voel oor my leefwêreld. Wel, hoeveel meer? Daar is
'n opvatting dat elkeen sou kon doen met so 10% meer. Jip, elkeen,
almal wat báie minder as jy verdien, maar ook almal wat báie meer as
jy verdien. Die prys om net agter aardse dinge aan te hardloop, is
te hoog, en jy gaan dit nooit haal nie. 'n Baie ryk man het eendag
by 'n manne ontbyt die volgende gesê: Ek beweeg in die kringe van
die rykstes van die rykes, en ek ken nie één wat genoeg het nie.
As ek maar
net... ook in 'n mooi huis in 'n estate kon bly. As ek maar net....
ook 'n mooi motor kon koop. As ek maar net.... vir my kinders super
geleerdheid kon gee. As ek maar net.... so geestelik soos daardie ou
kon wees. As ek maar net.... in 'n beter huis kon grootword. As ek
maar net.... ook 'n goeie geleerdheid kon hê.
Dan wat? Die
probleem is dat niemand van ons met nét een van hierdie bogenoemde
uitdagings stoei nie, dis sommer omtrent álles, en nog vele meer.
Hierdie goed
laat mens soms nogal misrabel voel, en hoe meer jy toelaat dat
hierdie kop-goggas jou denke oorheers, hoe erger raak dit. Wat is
die antwoord? Hoe sal ek vrede kan kry met my lewe?
Ek het eendag
besef dat die "vrede" voorkom in die woord "tevrede". Mense wat
tevrede is met hulle omstandighede, hoe sleg dit ookal mag wees, se
lewe is baie meer sinvol as ander mense wat nooit ophou jaag agter
beter omstandighede aan nie.
Daarom is my
gebed vandag vir jou (en vir myself) die volgende:
Heb. 13:5 "Hou
julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het.
God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die
steek laat nie.”
En daarmee
saam...
Fil. 4:7 "En
die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle
harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." ~ Willem Botha,
30/08/2025 |
|
My broer
sterf sowat twee weke gelede eensklaps, totaal onverwags, sonder
waarskuwing, sonder enige slegte mediese toestand. Een oomblik
lewend, die volgende oomblik oorlede. Dit word uit die aard van die
saak weens natuurlike oorsake aangedui.
En toe, soos
duisende kere tevore, wonder ek wat die definisie van "lewe" is.
Nadat 'n persoon só sterwe is elke atoom, molekule, sel ens. steeds
teenwoordig in die liggaam, daar is absoluut niks "weg" nie, behalwe
dit wat ons "lewe" noem.
Ek het vir
ChatGPT gevra om dit vir my te verduidelik, maar ook daar is geen
klinkklare verduideliking wat sin maak nie. Gaan lees gerus daaroor.
Indien iemand
so sterf kan die persoon se lewe dalk gered word met drastiese
mediese ingryping, maar die tyd venster is baie baie kort. Jy het
enkele minute, indien dit enigsins suksesvol sou wees, het, daarna
is jou kanse verby. Die sukses syfer om iemand se lewe hoegenaamd te
red is in elk geval baie skraal.
Nou vra ek 'n
moedswillige vraag. Daar is wetenskaplikes wat beweer dat hulle kan
verklaar wat lewe is, en selfs "lewe" op 'n baie elementêre vlak kan
skep, maar dis hoegenaamd nie waar nie. Daarom moet ons immers op
een of ander manier 'n sinvolle antwoord kry op die vraag na die
oorsprong van lewe. Wat 'n absolute dwaas kan glo dat dit net
vanself, toevallig ontstaan (het).
Die Bybel
verklaar onomwonde dat God lewe skep en in stand hou.
Maar kom ons
vat die uitdaging 'n bietjie verder. Kom ons neem daardie liggaam
wat 10 minute gelede gesterf het, en ons kry die mees briljante
wetenskaplikes bymekaar en vra dat hulle die lewe moet terugsit in
daardie liggaam, en niemand sal weet wat om te doen en waar op te
begin nie. Dis totaal hopeloos!
En tog is
daar derduisende getuienis van mense wat dood verklaar was (soms
baie lank) en die lewe kom terug. In bykans alle gevalle getuig
daardie persone van 'n ontmoeting met die Here, dikwels 'n ervaring
van die hemel, 'n wit lig, Jesus in 'n menslike gestalte en selfs
dat hulle van hulle gestorwe geliefdes gesien het.
Kom ons bly
by die wetenskap. Geen dooie wese kan geboorte gee nie (behalwe met
drastiese mediese ingrype wanneer die moeder sterwend is). Geen
dooie stuk materie kan skielik begin lewe nie.
Dus kan ons
aflei dat daar 'n eerste lewende wese moes wees.
Gen. 2:7 "Die
Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en
lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword
het."
Hoe hard die
wetenskap ook al 'n ander verklaring mag uitdink, en hoe min jy ook
al mag gló, daar is niks wat by hierdie teks kan kers vashou nie.
Dit sluit die mens se vermoë om lewe te skep heeltemal uit en die
wetenskap se hande bly afgekap.
Maar hoe
verlaat die lewe dan die liggaam? Wel, daar het die Bybel steeds die
enigste sinvolle antwoord.
Pred. 12:7
"... die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit
was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het."
"Stof tot
stof", soos in die Bybel beskryf, word in elke enkele opsig deur die
wetenskap ondersteun en aanvaar. Terloops, elke enkele atoom in jou
liggaam is dood, jy is 'n heelal van dooie atome, maar steeds lewe
jy! Dink bietjie hieroor.
Wat is lewe?
Wel, as jy nou hier kan lees lewe jy, en ek hoop jy is uiters
dankbaar daaroor, en ek hoop jy maak die beste van elke oomblik.
Vernaam as jy dit saam met jou geliefdes kan geniet.
Gee elke dag
vir God die eer vir nog 'n dag van lewe, en laat jou lewe 'n verskil
maak aan ander.
Maar lewe so
dat jy vir ewig die Ewige Lewe by God kan hê ~ Willem Botha,
13/08/2025 |
|
Verbeel jou jy stap in God
se troon kamer in, en Hy is daar op sy troon vanwaar Hy heers. Wat
sien jy in jou geestesoog? Ek probeer natuurlik nou om iets te "sien"
uit 'n menslike perspektief. Wat sien jy? Hoe lyk Hy? Hoe groot is
die beeld wat jy in jou gedagtes optower? Hoe lyk sy gesig? Eintlik
is dit 'n sinnelose gedagte, maar ek probeer steeds om iets hiervan
te maak. Hoe meer ek hieraan dink, hoe groter word hierdie beeld wat
ek vir myself probeer optower.
En nou, as Hy vir jou kyk,
hoe verander sy gesig? Lyk Hy stroef? Dalk so effe ongenaakbaar?
Glimlag Hy en gooi Hy sy arms oop om vir jou 'n stywe druk te gee?
Of is Hy dalk vies vir jou oor wat jy vandag verkeerd aangevang het?
Wel, definitief nie
laasgenoemde nie!
En toe wonder ek, het Hy
'n sin vir humor? Kan Hy heerlik saam met jou lag en vrolik wees? Is
daar tye wat Hy (verskoon maar as dit oppervlakkig klink) uit sy
maag uit lag saam met jou? Of dalk 'n grappie deel?
Wel, ek het so gedink aan
'n paar insidente wat regtig snaaks was, en ek glo die Here het
heerlik saamgelag oor dit. Hy het dalk met sommige van hierdie goed
net met deernis geglimlag.
Jare gelede was die
kinders by die kinderkerk in die saal bymekaar en hulle het toe die
kinders geleentheid gegee om hardop in die groep te bid. Dit was op
'n tyd toe Amerika weer in een of ander sinnelose oorlog betrokke
was. Vriende van ons se seuntjie het toe opgestaan en ernstig gebid
dat die mense in Amerika lekker sal oorlog hou.
In 'n ander insident was
'n vrou saam met Wilna by die vroue gevangenis met bediening
betrokke. Die vrou se Engels was nie te goed nie, en toe sy tot die
Here bid, het sy gesê: God you are such an awful God! Dit moes wees:
You are such an awesome God!
Ek lees in 'n boek van
iemand wat in diensplig die oggend parade moes open met skriflesing
en gebed, in Engels nogal. Die arme man was woes op sy senuwees en
Hy besluit toe om die Onse Vader gebed te bid. Hy het dit toe baie
klein op 'n papiertjie uitgeskryf en in se beret gesit. Toe almal
die hoofde buig het hy probeer lees, maar hy kon nie mooi sien nie.
In plaas van om te bid:
Our father who art in heaven, hallowed be Thy name, bid hy toe: Our
father who art in heaven, how do you do?
Nodeloos om te sê die
parade was toe nie wat dit moes wees nie.
In 'n ander insident moes
'n Advokaat hardop bid (dalk by 'n ete) en begin hy toe die gebed
met: U edele, soos wat hy die regter in die hof aanspreek.
My suster se dogter loop
en sing: Jesus min my salig lot. In plaas van om te sing: Al is ek
ook swak en blind, sing sy: Al is ek ook swart en blink.
Toe my seun nog 'n klein
knapie was is dit sy beurt om te bid voor ons eet. Jy weet mos die
klank wat mens met jou mond maak as jy jou tong tussen jou lippe
vasklem en verby jou tong die lug uit jou mond uitblaas. Hulle noem
dit 'n raspberry klank. Mense skryf dit as pffft, weens 'n gebrek
aan 'n beter spelling.
Toe my seun moet bid, bid
hy as volg: Liewe Jesus, dankie vir die kossies, wielie walie, pffft,
amen! En hy val weg aan die kos.
Nodeloos om te sê ons
giggel nou nog daaroor.
En so het ons almal al
vele sulke komiese oomblikke beleef.
Nou ja, het die Here 'n
sin vir humor? Ek glo dat Hy daagliks met sy kinders ligte oomblikke
beleef wat regtig snaaks is.
'n Ernstig, stroewe God?
Nee wat, ek dink nie so nie. Daar is vele situasies in die Bybel
waar Jesus vrees en angs beleef het, wat 'n menslike emosie is, en
daarom kan ek nie anders as om te dink dat Hy ook ander menslike
emosies aan die dag lê nie.
As Hy vir ons 'n humorsin
gegee het, glo ek dat Hy dit ook het. Dis seker logies.
Geniet jou lawwe oomblikke
saam met die Here, ek dink ons laat Hom gereeld glimlag. ~ Willem
Botha, 22/07/2025 |
|
As more nie kom nie
Kom nou, julle wat sê: "Vandag
of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly;
ons sal sake doen en geld maak." Julle wat nie eers weet hoe julle
lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn
en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal
ons lewe en sal ons dit of dat doen." Maar nou is julle te seker van
julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.
Hier in Jakobus waarsku
die Here ons eintlik ernstig. Jy weet nie hoe lyk more nie, en jy
weet nie eers of more gaan aanbreek nie. Sê liewer “as die Here wil”,
want dis tog net Hy wat die toekoms ken.
Hierdie boodskap kan of ‘n
bietjie fatalisties klink, of dit kan jou by ‘n besluitneem-punt
bring. Verseker leef ons as Christene met ‘n verwagting vir more, en
omdat ons kinders van die Here is glo ons in ‘n toekoms. Maar more
kan dalk nie aanbreek nie, ons weet nie.
Kom ons speel gou ‘n
bietjie “sê nou maar...”. Sê nou maar vandag is jou laaste dag op
aarde...
... wat het jy gedoen wat
jy nie moes doen nie?
... wat moes jy doen, wat jy nie gedoen het nie?
... waaroor sou jy spyt wees?
... wat kan jy vandag nog doen?
... is daar nog iets wat gesê moes word?
... wat sou jy met jou geld en jou besittings doen?
... hoe sou jy jou gesin hanteer?
... wat sou jy op jou laaste dag by die werk doen?
... sou jy dalk nog ‘n goeie klompie lewe uit hierdie 24 uur kon
druk?
Lees hierdie woorde van
die Nickelback liedjie “If today was your last day”
My best friend gave me the
best advice
He said each day’s a gift and not a given right
Leave no stone unturned, leave your fears behind
And try to take the path less travelled by
That first step you take is the longest stride
If today was your last day
and tomorrow was too late
Could you say goodbye to
yesterday?
Would you live each moment like your last?
Leave old pictures in the past
Donate every dime you have?
If today was your last day
Against the grain should be a way of life
What’s worth the prize is always worth the fight
Every second counts ’cause there’s no second try
So live like you’ll never
live it twice
Don’t take the free ride in your own life
If today was your last day
and tomorrow was too late
Could you say goodbye to
yesterday?
Would you live each moment like your last?
Leave old pictures in the past
Donate every dime you have?
Would you call old friends
you never see?
Reminisce of memories
Would you forgive your enemies?
Would you find that one you’re dreamin’ of?
Swear up and down to God
above
That you finally fall in love
If today was your last day
If today was your last day
Would you make your mark
by mending a broken heart?
You know it’s never too late to shoot for the stars
Regardless of who you are
So do whatever it takes
‘Cause you can’t rewind a moment in this life
Let nothin’ stand in your way
Cause the hands of time are never on your side
If today was your last day
and tomorrow was too late
Could you say goodbye to yesterday?
Would you live each moment like your last?
Leave old pictures in the past
Donate every dime you have?
Would you call old friends you never see?
Reminisce of memories
Would you forgive your enemies?
Would you find that one you’re dreamin’ of?
Swear up and down to God above
That you finally fall in love
If today was your last day
As vandag jou laaste dag
was ... dis moeilik om daaraan te dink, maar miskien is dit nodig om
so bietjie daaroor te peins.
Kom ons begin by geld en
besittings. Sou die waarde wat jy aan geld heg eensklaps verander?
of nie? Hoeveel sou jy uitdeel? Sou jy hierdie laaste 24 uur kyk
hoeveel jy vir oulaas kan maak? Of hoeveel jy vir oulaas kan weggee?
Daai ou wat jou R500 skuld, sou jy hom vir oulaas gaan wurg, of sou
jy die skuld afskryf? Of nog ‘n moeiliker vraag: sou jy jou
beskikbare kontant gebruik om jou skuld af te betaal, of sou jy sê:
ag nee wat, vergeet van hom, hy sal nou in elk geval niks meer aan
my kan doen as ek nie betaal het nie. Ek dink nogal hierdie vrae
toets ons waardes so ‘n bietjie. Geen wonder dat God praat van
Mammon nie, en dit as ‘n god – geld en goed neem so maklik die Here
se plek in ons lewens in. Miskien moet ons net gou bietjie stilstaan
en ons eie posisie teenoor geld en besittings in oënskou neem. In
die Onse Vader – gebed lees ons: “gee ons vandag ons daaglikse
brood”, nie ons weeklikse, of jaarlikse brood nie. Sou jy gelukkig
gewees het as jy net brood vir een dag gehad het? Baie mense het nie
eens dit nie. Maar ... ek vra weer: sou jy gelukkig kon wees? Lyk my
dit hang net af hoeveel dae jy oor het. Lyk my geld is ‘n tyd-ding.
Voordat mens op ‘n lang
vakansie of ‘n sakereis gaan, is daardie laaste dag ver by mal verby.
Alles moet gebeur – paspoort, visa, padkos, admin, ens ens, Alle
sake moet in orde kom, alles moet reg gelos word by die huis. Maar,
as dit nou die laaste, laaste dag op aarde was – sou jy dalk vir
oulaas vir ma of pa in die outehuis gaan kuier het? Sou jy dalk ‘n
paar verhoudinge gaan regmaak het? Daardie wat jy nou al so lankal
uitstel. Jy wil tog nie die aarde verlaat terwyl mense sleg van jou
dink nie? As vandag jou laaste dag is, sou jy eerder ekstra tyd aan
verhoudinge spandeer het, of sou jy nog bietjie goed wou opgaar? Sou
jy gaan ekskuus sê, vir oulaas ‘n tydjie saam met iemand gaan
spandeer? Sou jy tyd saam met die Here gaan deurbring? Dalk nog
iemand van die Here gaan vertel, terwyl daar nog tyd is? Eenvoudig
gestel: sou jou laaste dag oor jouself of oor ander gaan?
Onthou: jy HET nog vandag.
Wat gaan jy daarmee maak?
As vandag jou laaste dag
was ... hoeveel tyd het jy nodig om regtig te lewe? As jy weet jy
het nog 20 jaar, is dit maklik, mens kan nog baie doen. 10 jaar is
ook nog okei, selfs miskien 5 jaar kan nou nog lank klink. Ek kry
soms die idee ons dink ons lewenskwaliteit moet afneem hoe minder
dae ons oorhet. Ek sien dit nogal by bejaardes – hulle voel die lewe
kan nou maar stop en klaarkry. Dis verkeerd. Dink liewer saam met my
hoeveel ware lewe kan jy nog inpas in 24 uur se lewe, of in 10
minute se lewe. As mens nie tonne kwaliteit kan inpak in een dag se
lewe nie, sal jy geen kwaliteit kan inpak in ‘n honderd jaar nie.
Hou op sterf, want jy lewe
nog! Moenie leef om te sterf nie, leef totdat jy sterf.
As vandag jou laaste dag
was.... sorg dat daar geen slegte verhoudinge of onafgehandelde sake
is nie, sorg dat daar balans en kwaliteit in elk dag se lewe is! As
jy dit vir één dag kan regkry, en dan vir nog ‘n dag, en nog ‘n dag
..... leef een dag op ‘n slag.
Ps 118:24 “Dit is die dag
wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees” ~ Willem
Botha, 22/07/2025 |
|
Dink 'n bietjie mooi oor
hierdie volgende vraag, en laat jou gedagtes lank loop voordat jy
dit antwoord vir jouself. Vra dit ook vir andere en kry 'n paar
opinies.
Dink jy jy is 'n
radiobeheerde karretjie en die Here het die stuur meganisme in sy
hand? En stuur Hy jou elke oomblik van elke dag rond presies soos
wat Hy wil?
As jy my opinie vra kan ek
net sê ek weet nie. Soms ja en soms nee.
Hierdie volgende teks het
my al SO lank besig gehou. Lees dit rustig en dink diep daaroor.
"Verder het ek in hierdie
wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie,
nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat
kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met
kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en
geleentheid." (Pred. 9:11)
Alles word bepaal deur tyd
en geleentheid...
Ek weet nie regtig wat om
van hierdie laaste paar woorde te maak nie, maar ek het ál hierdie
goed al gesien en ervaar in my lewe. Tydens diensplig het daar soms
van die mees onwaarskynlike manne jou verstom met vasbyt. Maer,
nie-atletiese manne wat net vir ewig kon aanhou, en dan ook die
teendeel waar spiertiere net niks werd was nie. Ek het gesien hoe
jong mense uit die wonderlikste huise kom, met die beste opvoeding
denkbaar, maar net nooit uit die blokke kom nie en net 'n
teleurstelling bly.
Ek het gesien hoe mense
wat alles verloor het, op wonderbaarlike maniere hulle voete vind en
tot groot hoogtes uitstyg. En die teendeel is waar, waar uiters
begaafde mense net skielik in die "gutters" beland. Ek het gesien
hoe mense hulle huwelike verwoes deur een ondeurdagte stap, terwyl
hulle rolmodelle was in die samelewing.
Alles word bepaal deur tyd
en geleentheid...
Jy kan op die verkeerde
tyd op die verkeerde plek wees weet jy? Slegte goed tref goeie én
slegte mense weet jy? Die mat kan eensklaps onder jou voete uitgeruk
word, weet jy? Jy kan ook dalk voel of die grootste ramp denkbaar
jou getref het, en dan later jare prys jy die Here uit jou hart uit
daarvoor, want die grootste wonderwerke denkbaar het voortgespruit
uit dit. Ek kan persoonlik hiervan getuig. Alles bepaal deur tyd,
plek en geleentheid.
Maar waar pas die Here in
dit in? Ek weet nie altyd nie, maar alles hang nie nét van jou eie
vermoëns af nie, "tyd en geleentheid" is deel van elke mens se lewe.
Voorts is die lewe nie altyd regverdig nie, maar hier is iets om oor
na te dink. As dit nou goed gaan, moenie dink dit gaan altyd goed
gaan nie, maar nog meer, as dit nou sleg gaan, moenie dink dit gaan
vir altyd sleg gaan nie.
Tyd en geleentheid...
Dank die Here vir elke
geleentheid, al lyk dit ontydig, vra die Here om vir jou vrede te
gee in elke omstandigheid. Moenie dink die Here hoor jou nie as jou
gebede nie dadelik verhoor word nie, soms moet jy wag vir die regte
geleentheid. Maar moet om vadersnaam nie op die stoel gaan sit en
krepeer terwyl jy wag nie. Gaan voel aan elke deur wat toe is, dalk
is daar een of meer wat nie gegrendel is nie. Soms moet jy 'n groot
geloofstap neem, en weet dat die Here dít ook sal seën.
Dalk is jy nie die
vinnigste nie, maar hou aan hardloop, miskien is jy nie die rykste
nie, maar woeker met jou talente en maak die beste met wat jy het.
Dalk is jy nie die slimste, mooiste, mees begaafde of die grootste
uitblinker nie, maar gebruik elke geleentheid na die beste van jou
vermoë.
Stap saam met die Here en
vertrou Hom vir die regte "tyd en geleentheid" wat doelgemaak is vir
jou ~ Willem Botha, 08/07/2025 |
|
Ek
het vanoggend hierdie lekker piesangbrood gebak en ek moet sê, hy
smaak heerlik! Met dik botter en 'n koppie koffie daarmee saam
natuurlik. Ek hou van bak, dis kreatief en dis lekker om aan gebak
te kan smul. Daar is 'n klomp bestanddele in so 'n broodjie, o.a.
melk, 'n eier, margarien, piesangs, bakpoeier, gemmer, kaneel en nog
'n klompie ander goed. Toe die beslag klaar aangemaak is besef ek
dat ek géénsins lus is om 'n hap te vat van daardie rou deeg nie!
Jêg!!!! Dit klink sleg! In die pan en in die oond en daar gebeur
iets ongelooflik. Na so halfuur kom daardie warm broodjie uit die
oond en ek kan nie wag vir 'n snytjie met DIK botter nie. Maar wat
het gebeur vandat daardie oneetbare deeg in die oond beland het, tot
die broodjie uiters smaaklik gebak is? Wel, net een enkele ding, en
dis hitte. Niks niks anders nie, net hitte, 180 grade Celsius.
Baie min van daardie bestanddele is op hulle
eie eetbaar, net die piesangs, strooisuiker en melk sou ek in my
mond kon sit. 'n Wonderwerk vind plaas as ek die deeg aan hitte
blootstel.
Net so is die lewe nie aldag maklik nie, en
soms voel dit of ons gelouter word deur vuur in ons lewens, en dis
niks lekker nie. Soms voel dit of die Here sy rug op ons draai en
slegte goed met ons gebeur, aanhoudend.
"Iemand wat silwer smelt, weet daar is vuilgoed
in die silwer. As hy dit warm genoeg maak, dryf die vuilgoed
naderhand bo-op. Al wat hy dan hoef te doen om die silwer skoon te
kry, is om die vuilgoed af te skep en weg te gooi." (Mal. 3:3)
En so word ons gesuiwer met hitte, want dis al
hoe ons werklik bruikbaar en nuttig kan word, want dit maak ons
skoon en sterk. Gaan kyk gerus na mense wat nooit swaargekry het en
gelouter is nie, hulle het nie daai vasbyt nie.
Maar laastens, laat die hitte ons liewer nou
laat swaarkry en beter word, anders gaan ons dalk in die lewe hierna
vir ewig vrek warm kry! En hulle sê dis nie vir sissies nie!
Lus vir 'n stukkie piesangbrood? ~ Willem Botha,
13/05/2025 |
|
Kan jy sê dat
dit jou hele hele lewe lank nét met jou goed gaan? Sonder enige
slegte dae? Ek twyfel.
Aan die ander kant, kan jy sê dat dit jou hele hele lewe lank nét
met jou sleg gaan? Geen goeie dag nie? Ek twyfel, en ek sal jou nie
glo nie.
So het ek toe eendag hierdie woorde uitgedink: Moenie dink dat as
dit goed gaan, dit vir áltyd goed sal gaan nie.
Maar aan die ander kant, moenie dink dat as dit sleg gaan, dit vir
altyd sleg sal gaan nie.
En so kom ek vanaand op hierdie teks af.
"Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed
kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat
die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie." (Pred.7:14)
HOU MOED! ~
Willem Botha, 10/05/2025 |
|
Ek wonder wie
sukkel ook om ná al die vakansiedae van die afgelope tyd, deur
hierdie lang week te gewerk te kry? Dalk voel jy ook so negatief (soos
die Prediker in Pred. 3:9) dat jy wil vra: wat kry die mens vir die
werk waarmee hy hom vermoei? Ek het in my nostalgie-reis met die “ou
dae” se kerkliedjies in dié tyd aan ’n hallelujalied gedink wat ek
my ouma dikwels hoor sing het. (Ek het in die Hervormde Kerk
grootgeword en dáár het ons nie Hallelja’s gesing nie!) As Google
reg is, is dit lied 231 – gaan luister gerus daarna. Die woorde is
soos volg:
Werk, want die nag kom nader,
Werk in die vroeë dag;
Werk as die dou nog glinster
In die blommeprag!
Werk in die helder môre,
Al is die son ook heet;
Werk, want die nag kom nader;
Werktyd’s afgemeet
Werk, want die nag kom nader,
Werk deur die hele dag!
Vul elke uur met arbeid;
Eenmaal rus ons sag.
Laat elke korte oomblik
Iets vir hierna bewaar;
Werk, want die nag kom nader,
Dan is die werktyd klaar!
Werk, want die nag kom nader;
Vêr het die son gedaal!
Werk in die awendskadu,
Wyl die daglig faal!
Werk in die laaste strale,
Nooit daag die son hier weer;
Werk, want die nag word donker,
Dan geen werktyd meer.
Kyk, dié lied noem nie die Here se naam nie, dit besing nie sy
grootheid of aanbid Hom met mooi woorde nie; dit lyk eintlik op die
oog af nie eers na ’n geestelike lied nie, maar dit handel beslis
oor ’n Bybelse beginsel en dit is dat ons moet werk! Die Bybel sê
mos in 2 Tess. 3:10 as jy nie werk nie, moet (en kan) jy nie eet nie.
Ons moet werk om te oorleef. Ons moet werk omdat dit God se opdrag
aan ons is. Ja, dis nie ’n straf soos baie mense dink nie. Om te
werk (die aarde te bewoon en bewerk en daaroor te heers, soos Gen.
1:28 sê) was God se opdrag nog voor die sondeval. Die gevolg van die
sondeval was net dat ons nou met bietjie meer sweet en gesukkel en
swaarkry ons werk sal doen. “... net deur harde werk sal jy kan eet.”
(Gen. 3:19) Dit beteken sekerlik nie dat ons nie ons werk kan geniet
nie. Ek dink as ons vrede gemaak het met die feit dat ons móét werk
en dat dit nie altyd maklik gaan wees nie, kan ons dalk met bietjie
meer lus en vreugde werk. Dan kan ons werk asof ons dit vir die Here
doen en nie vir mense nie, dan kan ons werk tot sy eer, soos die
Bybel ons elders aanspoor. Dan kan ons ons werk as ’n seën en nie ’n
las sien nie. “...doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie
vir mense nie.” (Ef. 6:7) Woon en werk rustig voort, sê Ps. 37:3 en
dís wat ek as my motto wil aanneem. “God laat die mens sy deel
ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ’n gawe van God.” (Pred.
5:18) Om jou werk met vreugde te doen, is ’n gawe van God, iets wat
Hy in sy genade vir jou kan en sal gee! So ... Werk, want die nag
kom nader, werk deur die hele dag, vul elke uur met arbeid ...
werktyd’s afgemeet! ~ Wilna Botha, 08/05/2025 |
|
Maar jy... Wat sê jy?
Baie mense sê die Bybel is 'n historiese Boek, en kan net as 'n
antieke geskrif gelees word, en dis nie vir jou vir vandag geskryf
nie. Dus, buite die konteks van die tyd (meer as 1600 jaar wat dit
geneem het om te skryf), hoef jy dit nie te ernstig op te neem nie.
Maar jy, wat sê jy daarvan? Het die Here nie al op wonderbaarlike
maniere deur sy Woord met jou gepraat nie? Is Spreuke en Prediker,
wat ongelooflike dag vir dag waarhede bevat, vir jou waardeloos? Het
die Here nie sy beloftes tot op die letter gehou vir sy kinders nie?
Het jy dit nog nooit ervaar nie? Wat sê jy?
Baie mense sê God kan nie die enigste God wees nie, en dat Allah (en
ander gode) maar almal god is, dit hang af wat jy van hom/Hom wil
maak. Dis wat mense sê. Maar jy? Wat sê jy? Wie is Hy vir jou? Hy
wat sy enigste Seun vir ons laat sterf het sodat ons kan Lewe. Kan
Hy regtig vir een geloof 'n Seun gehad het, en vir 'n ander geloof
nie? Wat sê jy? Wie is Hy vir jou?
Baie mense sê die hemel is vir almal beskore, en dat sekere
groeperinge nie alleen daarop kan aanspraak maak nie.
Maar jy? Wat sê jy daarvan? Indien die Bybel die fondasie is waarop
jou geloof staan, is dit baie duidelik dat Jesus die enigste Deur na
die Lewe (die hemel saam met God) is. Maar wat sê jy? Wil jy dalk
tog probeer om by 'n ander deur in te gaan? Wel, daar IS nie nog 'n
deur nie. Wat sê jy daarvan?
En jy, wat sê jy van Jesus? Bykans die hele wêreld aanvaar dat daar
so Iemand geleef het ongeveer 2000 jaar gelede, en dat hy/Hy deur
die Romeine en die Jode gekruisig is omdat Hy hulle geloof uitgedaag
het, en dat Hy gekruisig is en begrawe is en dood is. Baie
hedendaagse "skrifgeleerdes" en vele afvalliges, verwerp Hom en sy
leringe, want dit daag hulle sieninge uit, en hulle maak vir hulle
'n gevolg bymekaar wat agter hulle aanloop.
Hulle glo nie in die opstanding is, en belaster Hom oop en bloot.
Maar die Bybel sê dit sal so wees, en hulle bewys die Bybel dus as
die waarheid.
2 Tim. 4:3-4 "... want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die
gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes
volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle
graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot
verdigsels wend."
Maar jy, wat sê jy? Wie is Hy vir jou?
Mat. 16:13-17
Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy
dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”
Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party
Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie,
sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus,
die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het
Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou
geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is."
Maar jy, wat sê jy van al hierdie dinge? Het jy al besluit of dit
vir jou die waarheid is? Of is so tussen die boom en die bas vir jou
goed genoeg? Kan jy sê jy is lief vir die Here?
Wat sê jy? ~ Willem Botha, 04/11/2025 |
|
He ain't heavy, he's my brother...
Jy het waarskynlik ook grootgeword met hierdie lied van The Hollies,
wat in 1969 uitgereik is. Ons het altyd gespot en gesê: hy's nie my
swaer nie, hy's my boetie. Hoeveel keer het ek nie hierna geluister
nie, en vanoggend vra ek toe my goeie vriend ChatGPT vir die
betekenis van hierdie lied.
In 'n neutedop beteken dit dat iemand vir wie jy oneindige liefde en
deernis het, se laste nie vir jou ondraaglik swaar is nie. Dit is
immers 'n opdrag in die Bybel.
Gal. 6:2 "Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan
die wet van Christus."
Hordes mense wat deur bitter moeilike tye gegaan het weens siekte,
armoede, egskeiding, werksverlies, dood van 'n geliefde en vele
ander traumas, kan getuig dat daar mense om hulle was wat hulle
laste help dra het, en sonder wie hulle nie deur dit sou kom nie.
Dra mekaar se laste...
Daar is 'n verhaal opgeteken oor hierdie woorde, wat dalk die
waarheid kan wees.
In 1918, a young boy suffering from polio had to be regularly
carried up and down the stairs at Boys Town. Father Flanagan asked
one of the older boys if carrying the young boy was difficult. He
responded, "He ain't heavy, Father. He's my brother."
Net so glo ek dat elke persoon wat hier lees al sulke ONBAATSUGTIGE
liefde en hulp gekry het, maar ook vir ander aangebied het.
Dalk is jy vandag die persoon wat die naaste aan Jesus se beeld sal
wees, vir iemand wat swaarkry.
Dis wat die tweede deel van Gal. 6:2 sê "... en gee op dié manier
uitvoering aan die wet van Christus."
Gaan lees gerus die lirieke van hierdie lied. ~ Willem Botha,
29/04/2025 |
|
Paasfees is verby. Jesus het opgestaan, Hy het
waarlik opgestaan! En nou? Kan ek nou net weer gewoon voortgaan met
my lewe? Nee! Want elke ontmoeting met die kruis, elke oordenking
van die kruisgebeure, elke nuwe besef van God se genade en liefde
wat daardeur vir my bewys is, elke verwondering oor die leë graf,
laat my geloof groeispronge maak. Dit laat my verdiep in my
verhouding met my Here. Dit herskep my hele wese. Dit gee my “nuwe
woorde” vir my getuienis. Dit maak my hande en my hart oop vir my
medemens. “Na die kruis van Jesus, hoe sal ons kan hande vou en swyg
.... want daar was ’n houtkruis, ja, ’n Redder aan ’n houtkruis
vasgeslaan” ~ Wilna Botha, 21/04/2025 |
|
Toe staan Hy op...
Josef van Arimithea het vir Pilatus gevra of hy
Jesus se liggaam kan begrawe, en Pilatus het ingestem. Hy het doeke
en 'n groot hoeveelheid olie gekoop, en Jesus se liggaam is gebalsem
en in die doeke toegedraai en in die nuwe graf neergelê en 'n klip
is voor die opening gerol. Weet jy hoe moeilik is dit om 'n slap,
dooie liggaam te hanteer? Dis bykans onmoontlik. Kon jy regop staan
in daardie graf? Kon jy vrylik rondbeweeg daarbinne?
Dink saam met my hoe die liggaam gelyk het?
Heeltemal verwoes omdat Hy gegesel was, stukke vel en vlees wreed
uitgeruk en waar die dik spykers deur die gewrigte en voete geslaan
was, was dit waarskynlik uit die vlees en been uitgebreek. Hy is met
'n stok op sy kop geslaan terwyl die doringkroon op sy kop was. Daar
was bitter min bloed in die liggaam oor en sy hele liggaam was
totaal verwoes en vermink. Ek dink die realiteit was baie erger as
wat ek en jy ons dit kon indink. Dit was wreed!
Wat het toe gebeur in die ure wat gevolg het
nadat die klip voor die graf gerol is? Daar word bespiegel dat Hy
tussen 36 en 72 ure in die graf was.
Wanneer het die lewe teruggekom? Wanneer het sy
hart weer begin klop? Wanneer het nuwe bloed begin vorm en vloei?
Wanneer het Hy weer begin asemhaal? Het Hy eensklaps, in een oomblik
begin lewe? Na hoeveel ure in die graf het sy oë oopgegaan in die
donker?
Wat het in die geeste realm gebeur toe Hy die
Satan finaal gaan verslaan het? Was dit die grootste oorlog nóg?
'n Groot vraag bly nou by my. Het sy liggaam
heeltemal herstel nadat Hy wakker geword het? Was sy vel skoon van
bloed en wonde? Het daar slegs merke (soos littekens wat genees het)
aan sy polse en sy sy sy oorgebly? Dis tog immers wat Hy vir Tomas
gewys het. Watse klere het Hy aangehad?
En dan wonder ek, wat het Hy gedink daar in die
donker? Het Hy dalk 'n loflied gesing omdat Hy gedink het aan die
miljoene gelowiges wat oor die volgende duisende jare gered sal wees
deur hierdie gebeure? Het Hy dalk my en jou name geprewel daar in
die donker? Het Hy dalk in 'n versugting gesê: Willem, hierdie was
ook vir jou. Jou sondes is nie groter as hierdie gebeurtenis nie. 'n
Paar dae tevore het Hy in die tuin tot die Vader gebid dat hierdie
beker by Hom verby sal gaan. Ek glo Hy het nou die Vader uit sy hart
uit geloof en geprys dat Hy wel hierdie beker gedrink het.
En toe, op die Sondag môre, rol die engele die
groot klip voor die graf weg, die oggendson se strale spoel oor sy
volmaakte liggaam, en Hy staan regop buite daardie graf, en Hy stap
na die stad toe. Hy het dalk net soos enige van die dorp se mense
gelyk, almal vriendelik gegroet en 'n huppel in sy stap gehad?
Ek dink Hy het gejubel oor nuwe Lewe, ek glo Hy
was angstig om weer saam met sy mense te wees. Dalk was Hy oorweldig
deur emosies en dalk het trane van dankbaarheid uit sy oë gekom en
oor sy wange geloop.
Ek dink Hy kon nie wag om vir sy dissipels te
wys dat die kruisiging nie die einde was van hierdie hoofstuk nie,
maar die begin van Lewe. Die ewige lewe, vir dié wat glo in Hom en
dié wat aanvaar dat Hy opgestaan het.
Sonder die opstanding was sy aardse bediening
dood, maar na sy opstanding is daar LEWE.
"Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos
Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het... (Mat.
28:6)
Vandag kan ek en jy dit uitjubel: Hy het
opgestaan, Hy het waarlik opgestaan! Juig, dans en wees vrolik, Hy
het opgestaan! Vertel vir almal: Hy het opgestaan! Leef in hierdie
wete: Hy het waarlik opgestaan! ~ Willem Botha, 20/04/2025 |
|
Hierdie
reëltjie uit ’n ou gesang draai die afgelope tyd in my kop: “Jesus,
rots vir my geslaan...”. Ek het hom toe gesoek in my her-ontdekte
Psalm-en Gesangeboekie wat ek in 1968 vir my verjaarsdag gekry het,
maar dit lyk my hy het eers in die 1978 weergawe verskyn as Gesang
192 (dit is nou lied 239 in die (ou) nuwe Liedboek). Ons nader
Paasfees en die herdenking van dáárdie Vrydag toe hulle Jesus
geslaan, gespoeg, gespot en gekruisig is. Toe hulle dié Rots, óns
Rots geslaan, gepynig, mishandel, deurboor en verbrysel het. “Hy
is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy
is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.”
(Deut. 32:4) Jesus, die volmaakte een, sonder sonde, sonder gebrek.
Hy word in my plek geslaan en verwerp, in my plek deur God verlaat,
in my plek betaal Hy vir elke oortreding, elke verkeerde daad, elke
onrein gedagte. “En ek self - wat
kan ek doen om my sonde te versoen ?” Niks. Geen goeie daad. Geen
mooi lewe. Geen mooi woorde. Geen kerkbywoning. Op my eie is ek
verlore. Ek het Jesus as Verlosser nodig! Ek het Hom as Rots nodig.
Ek het Hom as Heilsfontein nodig.
Toe Moses in die
woestyn die rots geslaan het, het lewegewende water uitgevloei vir
Israel. Toe Jesus geslaan is, het ons lewende water ontvang wat ons
skoon was, wat ons lewe in oorvloed gee en vir ons die ewige lewe
verseker. Dis Paasfees - Jesus, Rots vir my geslaan...
1. Jesus, rots vir
my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
laat u lyding, sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en mag.
2. En ek self - wat
kan ek doen
om my sonde te versoen?
sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei -
nog gebede, nog geween
kan my red, Heer; u alleen.
3. Leeg, net met my
sondelas,
hou ek u verdienste vas
ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was my, heiland, maak my rein!
4. Heer, my rots,
bo almal groot
staan u vas in elke nood.
trou van mense kom en gaan,
maar u bly onwrikbaar staan.
eewge rots, u laat ook my
veilig, ewig in u bly!
~ Wilna Botha, 15/04/2025 |
|
Onsin!!!
Ek is seker jy was ook half moedeloos as mense nie verstaan hoekom
jy in God glo en die Bybel vir soetkoek opeet nie. Hoe meer jy
verduidelik hoe minder impak maak dit. Wel, uit die aard van die
saak het die Bybel ook daarop 'n klinkklare antwoord.
1 Kor. 1 : 18 "Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin
vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die
krag van God."
Dis so eenvoudig, as jy nie die Gees van God het nie is dit onsin en
onmoontlik om dit te verstaan. Ek voel 'n mens is heeltemal van sy
sinne beroof as hy met 'n valskerm uit 'n vliegtuig spring, maar dis
net omdat ek dit nog nooit probeer het nie en daarom kan ek dit nie
verstaan nie. Maar dit lyk my ek is dalk verkeerd.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom jy
kan bid tot 'n God wat jy nie kan sien nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe jy kan
bid vir genesing terwyl daar geen hoop meer oor is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom
mense gestremd gebore word, en dan boonop die Here dien met hulle
hele harte nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan
dankbaar wees teenoor die Here vir dinge wat in elk geval waar sou
word nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe boere
bid vir reën, terwyl die weerpatrone wys dat dit totaal onmoontlik
is.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy
dinge vir ander doen wat net totaal onlogies is, en wat vir jou geen
voordeel bring nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy
dankbaar kan wees as slegte dinge op jou pad kom nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan
uitsien na 'n hiernamaals wat onsigbaar is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy kan
glo in die Woord van God, wat eeue gelede geskryf is deur gewone
mense, en boonop glo dat dit alles vandag nog steeds van toepassing
is.
Jy sien, as daardie reuse voorwaarde van Geesvervulling nog nie
gekom het nie, is geloof net totaal onmoontlik. Maar moet tog nie
die fout maak om mense af te skryf wat dit nie het nie, want Paulus
het ook nie geweet dat hy een goeie dag op pad Damaskus toe die Gees
ongevraag gaan ontvang nie. ~ Willem Botha, 06/04/2025 |
|
Slegte mense!
Ai, hulle bewandel die aarde in hulle duisende, hulle moor, roof,
steel, belieg en bedrieg enigeen wat voor kom. Selfs hulle "eie
mense", ja selfs hulle eie familie en ook hulle eie vriende. Jy kry
hulle in elke enkele beroep op aarde, in die regering (hulle is
volop daar), jy kry hulle in elke land, en ja, selfs in die kerk. Jy
beweeg tussen hulle, daagliks, en dis selde dat jy met een oogopslag
hulle kan opsom as sleg en skelm. Hulle kry mense in 'n oogwink in
hulle mag, vernaam waar geld betrokke is. Of eerder, beloftes van
geld. Ek sien dié titel van 'n boek "The price of God". Dit gaan oor
hoeveel mense bereid is om vir sommige van hierdie teoloë te gee in
ruil vir die guns van die Here. Maar hulle self word skatryk en die
arme donateur word teleurgestel in die Here.
Kyk of jy met my saamstem oor die volgende gedagte. Ek het nog nóóit
iemand ontmoet wat vertel hoe hy sy vennoot besteel en verneuk het
nie. Niemand het nog ooit vertel hoe hy die besigheid se rekeninge
kaalgestroop het nie. Nee, ek het nog altyd net die goeie vennoot
ontmoet, wat vertel hoe die ander ou alles verwoes het.
Ek het nog nóóit iemand ontmoet wat openlik vertel het hoe ontrou hy
(of sy) aan sy huweliksmaat was nie. Nog nooit! Niemand het nog ooit
vertel hoe hy met poppie by die werk skelm besig was sonder dat sy
vrou weet nie. En dan kom die egskeiding, maar dis sy vrou se skuld.
Ek het nog nóóit 'n finansiële raadgewer ontmoet wat erken dat hy
met leuens sy kliënte besteel het vir eie gewin nie. Jy weet mos,
soms hoef jy nie te jok nie, jy verswyg net 'n paar feite.
So kan ek aangaan, en soos jy nou hier lees, het daar waarskynlik
vele name in jou gedagtes opgekom van hierdie skelms wat jou pad
gekruis het.
En boeta, vele van hierdie mense kom met die mooiste geestelike
praatjies en Bybelversies saam met hulle bose woorde.
Ek lees die volgende statistiek raak. Van die hele wêreld bevolking
is omtrent net 5% van die mensdom regtig boos. Dis nou die slegste
van die slegste. Ek is egter redelik seker dat die mense wat ek
hierbo genoem het nié só sleg is soos die 5% in hierdie statistiek
nie. Maar wat van die res van die mensdom? Wel, hier is nog 'n
bietjie van 'n skok. Dieselfde navorsing het gewys dat slegs 5% van
mense in die wêreld in alle opsigte nét goed is. Slegs 5%! Dis mense
wat regtig niks, maar niks verkeerd doen nie. Bestuur nie met die
selfoon op die oor nie, hou presies by die spoedbeperkings, doen net
nooit iets wat hulle hoef weg te steek nie. Ongelukkig moet ek bely
dat ek nie naastenby daar bo in hierdie 5% groep val nie. En die res?
Die ander 90%? Wel, hulle (of dalk eerder ons), probeer hoofsaaklik
om in 'n mindere of meerdere mate die reguit pad te loop. Maar met
'n miljoen uitsonderings.
Daar is net een vraag in hierdie hele affêre. Wat gaan in jou hart
aan? Die Bybel sê dit bepaal jou hele lewe. Hoe gaan jy jou kinders
help om so goed as moontlik te doen? Moet jy nie dalk, soos ek,
eerder verander nie?
What would Jesus do? Jy onthou daardie armbandjies. Ek was te bang
om dit te dra!
Die wêreld is nou maar een maal onvolmaak, maar by verre die meeste
mense is goeie mense. Dis daardie 5% wat só opgeblaas word in die
media dat mense glo almal is sleg. Die goeies word nooit genoem nie,
want sensasie verkoop soos soetkoek.
Bly ons steeds in 'n goeie land? Ja, ek wil nêrens anders woon nie.
SO, pas maar daai hart van jou op.
"Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie
dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn
uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die
mond van oor.” (Luk. 6:45) ~ Willem Botha, 09/04/2025 |
|
Jy kan nie....
Die spreekwoord "tit for tat" laat my dink aan Newton se derde wet
wat sê: "vir elke aksie is daar 'n gelyke, maar teenoorgestelde
reaksie."
Jy kan nie doen wat jy wil, en nie besef daar is 'n reaksie op elke
enkele een van jou aksies nie. Ek dink aan so baie dinge:
Jy kan nie verwag dat ander jou moet liefhê as jy nie vir jouself
lief is nie. Jy kan nie dink mense moet jou respekteer as jy nie
selfrespek het nie. Jy kan nie dink die Here hou nie van jou omdat
jy nie van jouself hou nie. Jy kan nie 'n wenner wees as jy nie aan
die wedloop deelneem nie.
Meneer, jy is die spieël waarin jou vrou haarself sien. Jý bepaal in
'n groot mate haar selfwaarde.
Jy kan nie haar afkraak en goor behandel en verwag sy moet die
volmaakte vrou wees nie. Jy kan nie haar daarop wys dat sy nie meer
so goed lyk as in haar jong dae, en vanaand gunsies soek nie. Jy
weet mos, daardie klein dolkstekies en sarkastiese opmerkings wat so
geweldig seermaak, wat dan met 'n goor laggie gepaardgaan omdat jy
kwansuis net 'n grappie maak. Man, sarkasme is in elk geval siek en
ongevraag. Jy kan nie dit doen nie.
Jy kan nie jou kinders onder geweldige druk sit om jou eie drome vir
hulle uit te leef, en dan verwag dat hulle gelukkige volwasse mense
moet wees nie. Nie almal is gemaak vir eerste span rugby of uiters
suksesvolle korporatiewe reuse met groot salarisse nie, weet jy?
Jy kan nie jou kinders kwalik neem as hulle jou teleurstel terwyl jy
'n uiters swak voorbeeld stel nie. "Maak soos ek sê en nie soos ek
maak nie", is 'n ramp.
Die sondes van die vaders.... Dit laat mens dink né.
Maar, "it takes two to tango". Mevrou, jy kan nie jou man kwalik
neem as hy onmenslike ure werk, terwyl jy ondraaglike finansiële
verwagtings en laste op hom sit nie. Miskien is 'n landgoed leefstyl
nie vir jou beskore nie.
Jy kan ook nie bonatuurlike dinge van die Here verwag as jy nie jou
kant bring nie. Jy kan nie bid vir genesing as jy jou eie liggaam
verwoes nie.
Jy kan nie jouself in die hemel in toi-toi omdat dit na so lekker
plek klink, terwyl jy nie die Here se voorwaardes (wat Hy so
duidelik in die Bybel uitspel) aanvaar nie.
Jy weet mos, mense sê maklik 'n God van liefde sal jou nie in die
hel laat beland nie. Wel, verrassing verrassing, die Bybel stip die
teendeel in detail uit.
Jy kan nie... klink so wetties, maar dis net blote "common sense".
Jy kan eerder streef daarna om goed te doen, en dan kan jy nogal
verwag om 'n gelukkiger mens te wees.
Jy kan baie meer vrede beleef as jy sagtheid uitstraal. Jy kan
verder kom in die lewe deur 'n klomp "jy kan nie" elemente om te
swaai.
Jip, jy kan...
As jy wil. ~ Willem Botha, 06/04/2025 |
|
Verlede week toe al ons kinders en hulle gades weer vir ’n slag om
ons tafel sit en saameet, kom dié woorde (uit my her-ontdekte
Psalms-en-Gesangeboek) by my op: “Soos jong olyfboomplante, wat
uitspruit sterk en fris, so bloei aan alle kante jou kinders om jou
dis. O wie van die getal is, hy wat die Here vrees, vir wie God een
en al is - hy sal geseënd wees.” Dis uit Ps. 128. Interessant genoeg,
is hierdie lied op ons troue gesing (ja, sowaar, in daai dae was
daar samesang op ’n troue!) Dit was seker as ’n seën gesing, want
die laaste vers sê: “Mag ryke seëninge uit Sion jou bedou...”Die
tweede vers sing ook oor die vrou van jou jeug wat vir haar man
volheid gee en vreugde bring in die huis – ek hoop na amper 44 jaar
se getroude lewe sal my man voel dat daai seënwens wat op ons
troudag gesing is, waar geword het. Maar terug na die kinders om die
tafel wat aansit vir die dis wat met liefde voorberei is – ons
“olyfboomplante” – sterk, fris, vol drome, vol verwagtinge en ek bid
(in my hart sing ek dit!) die derde vers van hierdie Psalm oor hulle.
Ek bid dat hulle die Here sal dien, dat hulle sy wil sal navolg, Hom
voor oë sal hou, dat hulle voorspoed en diep vrede sal ervaar, dat
die Here se seën in alle opsigte op hulle sal rus. Ek bid dat ons
olyfboomplante sal blom en vrugte dra. En o ja, moenie vergeet nie,
die laaste vers van die lied sê, “mag jy nog, op jou bede, 'n
nakroosseën verkry” – ons bid en wag nog vir dié seën om ons
kindskinders te mag sien! Hier is die woorde van Psalm 128:
Psalm 128
1. Wie deur Gods vrees bewoë,
trou op die weg wil gaan,
waar hom Gods wil voor oë
en klaar getekend staan -
die arbeid van sy hande
sal hy met vreug geniet
wanneer die koringlande
met seen hul opbrings bied.
2. Soos ons met welgevalle
die wingerdstok aanskou,
en tel die trossetalle
wat ons die blare ontvou
so sal sy in jou lewe,
die huisvrou van jou jeug,
aan jou die volheid gewe
van huiselike vreug.
3. Soos jong olyfboomplante,
wat uitspruit sterk en fris,
so bloei aan alle kante
jou kinders om jou dis.
O wie van die getal is,
hy wat die HERE vrees,
vir wie God een en al is -
hy sal geseënd wees.
4. Mag ryke seëninge
uit Sion jou bedou;
mag jy dié goeie dinge
van Sionstad aanskou!
mag jy nog, op jou bede,
'n nakroosseen verkry!
En, God van alle vrede,
mag Isr'els vrede bly!
~ Wilna
Botha, 02/04/2025 |
|
Pa
Is dit nie skokkend hoeveel enkelouers daar is nie, oftewel hoeveel
kinders net deur een ouer grootgemaak word nie, gewoonlik 'n ma, en
baie dikwels (natuurlik nie altyd nie) die pa wat totaal afwesig
raak. Goeiste, kan ons ons jeug kwalik neem vir al die slegte dinge
wat gebeur? Toe ons eie kinders in die laerskool was het hulle al
vertel dat daar hordes kinders is wat net deur een ouer grootgemaak
word. Sonder om hoegenaamd te veroordeel wil ek sê die wêreld het
siek geword, terminaal siek! Hoekom op aarde trou mense nog met 'n
huweliksbelofte voor God? Wie trou nog binne gemeenskap van goedere?
Want die redenasie is eenvoudig, mense trou met die agterdeur oop,
en begin met 'n gesin binne daardie raamwerk. Ek het baie begrip dat
daar egskeidings plaasvind en wil geensins iemand probeer slegmaak
wat daardeur gaan nie, maar ek pleit dat ouers nie hulle kinders
vernietig nie. Die vet weet, dis 'n slagveld daarbuite!
Kan 'n pa nie maar ten minste 'n goeie pa wees as daar wel skeiding
plaasgevind het nie? Kan bloed nie maar dikker as water wees nie?
Kan die woorde "Ek is lief vir jou" nie maar bedoel word nie?
Ek is seker jy ken hierdie stukkie maar ek deel dit graag weer.
1 Kor 13 vir pa's:
Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry,
maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid
nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente
kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die
liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al
besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al
die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het
nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs
die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het
ek niks bereik nie.
Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek
in elke liefdadigheids raad op my dorp dien en vakansies my
gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek
is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die
veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel
nie,
Hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders
nie,
Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
Is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek
nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper
hulle nie met verwyte nie.
'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot
hulle eie nadeel.
Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
In hulle glo,
Die beste vir hulle hoop,
En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n
kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou
skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd
nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en
besittings gerelativeer.
Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en
my geleerdheid,
Maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
Maar eendag as hulle groot is,
Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
En wat God ons almal leer.
En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!
~ Willem Botha, 30/03/2025 |
|
Hoe
weet jy jy raak dalk oud? Jy staan in die kerk vir lofprysing en jy
ken nie die wysies en die liedjies nie, elke Sondag s’n klink nuut
en asof jy dit vir die eerste keer hoor en skielik verlang jy terug
na die Psalms-en-Gesange-boekie waarmee jy grootgeword het. Jy
verlang selfs na die trekkerige orrelmusiek! Nee, dalk moet ek nou
maar hier net vir myself praat en nie namens jou ook nie! Kyk,
verstaan my nou mooi: daar is niks fout met nuwerwetse kerkmusiek
nie. Die woorde is wonderlik, die wysies bly draai in jou kop en
daar is ongelooflik baie liedjies en daar kom nog die hele tyd nuwes
by. Maar nogtans verlang ek na vroeër jare se singery, soveel dat ek
my ou Psalms-en-Gesange-boekie gaan uithaal het. My pa se handskrif
voorin: 8 Januarie 1968. Dit was ’n geskenk vir my 8ste verjaarsdag.
Ek kon al mooi lees en ek onthou hoe ek nie kon wag tydens die
kerkdiens dat dit weer tyd is om in my boekie te blaai en uit volle
bors te sing nie. Dat die woorde moeilik was en ek nie eintlik mooi
geweet het wat beteken “O goedheid Gods hier nooit volprese, wie
word daardeur nie diep getref...”, het my nie gepla nie en ek het
ook nie gevra nie! Geen wonder dat daar grappies is oor “oom Bêrend
se sandale”, i.p.v. “Op berge en in dale” nie. Willem het glad
gedink hulle sing vir die dogtertjie “Yvette” in hulle klas, toe
hulle sing “en só U wet bewaar” en hy sing “en só Yvette bewaar”.
“As die lewensstorme woedend om my slaan...” het iemand vertel hulle
het altyd gesing “As die leeu my storm sal ek woedend slaan!” Ons
het egter in daai “ou dae” hierdie liedere daagliks in die skool
gesing en vir Sondagskool moes jy elke week nie net ’n Bybelvers
memoriseer nie, maar ook ’n vers van een van die Psalms of Gesange.
Geen wonder dat dit só diep in my hart ingeskryf is dat ek nou weer
daarna verlang nie! Ek weet daar is mense wat daai woorde as argaïes
beskryf, of hoogdawerend en skynheilig, outyds, aanstellerig en
kansel-Afrikaans en dit wys maar net vir my dat ons almal
verskillende verwagtinge en belewenisse het van ons lofprysing. So,
vir myself moet ek vandag sê: waar en wanneer ek deelneem aan enige
vorm van lofprysing, onthou dat dit nie oor my gaan nie, maar oor
die Here. As ek nie kan saamsing nie, fokus op die woorde. As ek nie
die wysie ken nie, luister net. As ek nie daarvan hou nie, moenie
kla en kerm nie, moenie kritiseer nie, moenie geïrriteerd raak nie,
daar is beslis iemand wat daarvan hou en uit volle bors die Here
loof – gun hom om dit te doen. As ek voel ek het uitgemis op lekker
saamsing in die kerk, gaan huis toe en sing saam met my gunsteling
lofprysingsliedere op YouTube, of vat daai boekie van 1968 en sing
weer soos die agtjarige klein dogtertjie! “Laat voor die Heer ’n
lofsang rys! Hoe goed is dit om God te prys! Hoe lieflik om die lof
te sing. Die lof wat ons aan Hom moet bring!” (Ps. 147), of te wel:
“Prys die Here! Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is
’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” (Ps. 147:1) ~ Wilna
Botha, 24/03/2025 |
|
As jy nie meer lus is vir die Here nie kan jy maar net omdraai en
loop. Dis maklik, jy draai net weg van sy aangesig af en stap net in
'n ander rigting. Jy hoef nie te groet nie, of te verduidelik nie.
Maar o wee vriend, dis nie so maklik nie, jy gaan die heeltyd wéér
in Hom vasloop, oor en oor en oor. Jy sien, Hy is ook op daardie
nuwe pad wat jy begin loop, Hy is in elke hoekie waarin jy gaan
probeer wegkruip, jy gaan sy stem hoor roep, en as jy van die ander
99 af wegbreek gaan Hy jou weer kom haal. Jy gaan Hom méér raaksien
as voordat jy jou rug probeer draai het.
Dink maar aan die koddige Jona, die Here het tot 'n vis gestuur om
hom te gaan haal.
Jona1:1-3 "Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai
gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom
aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na
Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en
daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir
die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis
toe te gaan, weg van die Here af."
Ek loop onlangs verby 'n groot foto op 'n advertensiebord en kyk na
die oë van die persoon op die foto. Jy weet mos, as daardie persoon
vir die kamera gekyk het toe die foto geneem is, sal daardie oë jou
die heeltyd volg, ongeag van die hoek waarteen jy na die foto kyk.
So is dit met die Here, jy kan probeer wegvlug, maar sy sagte oë sal
glimlaggend vir jou kyk, waar jy ook al is. Ongeag van hoe jy oor
Hom voel, sy oë sal liefderik en glimlaggend vir jou kyk. As jy
eenmaal die pad saam met Hom gestap het, sal Hy op elke pad wees
waarop jy probeer om van Hom weg te vlug. Hy is net eenvoudig orals,
jy sal Hom NOOIT weer kan miskyk nie. Hy gaan jou nie los nie, en as
jy soos die verlore seun terugkom, sal sy arms oop wees vir jou.
Altyd. ~ Willem Botha, 13/03/2025 |
|
Sê nou maar net...
Sê nou maar net dit gaan regtig so sleg met ons land
as wat soveel negatiewe mense die heeldag op sosiale media uitblaker.
Sê nou maar net die sogenaamde "nag van die lang messe" het gebeur,
soos wat oom Siener jare gelede voorspel het. Sê nou maar net die
land het toe wel in vlamme opgegaan soos wat ons gevrees het voor
die 1994 verkiesing. Sê nou maar net vigs of Covid het die hele
wêreld bevolking bykans uitgewis.
Sê nou maar net die sogenaamde "gat in die osoonlaag"
het veroorsaak dat ons doodgebrand het van die ultraviolet strale.
Terloops, dit was jare terug SO 'n groot besprekingspunt dat almal
in paniek gegaan het. En toe stop die praatjies heeltemal. Nou is
dit natuurlik aardverwarming. Dalk stop daardie vrese ook eendag. Sê
nou maar net dit gaan só sleg soos wat vele mense wat die land
verlaat het, so graag op elke moontlike platform deel. Sê nou maar
net jy is eendag uit jou huis geboender, en dis vir iemand anders
gegee. Sê nou maar net elke groot onderneming het die land verlaat
en niemand het meer werk nie.
Vriend, hierdie stories word elke liewe dag vir jou
opgedis, en mense glo elke stukkie snert wat hulle op Facebook lees,
en deel hordes van hierdie negatiewe goed met mekaar, en gebruik
elke denkbare stukkie nuus om te vertel hoe sleg die lewe is.
Hou op om deel te neem aan hierdie goed, en sien weer
raak hoe goed die lewe is.
En sê nou maar net die Here het ons ook verlaat en
opgehou om met ons besig te wees. Ek het eendag vir iemand gevra om
op te hou om hierdie negatiewe goed vir my aan te stuur, en toe is
hy briesend vir my. Kan jy dit glo? Ek kan net jou maatjie wees as
ek ook so 'n smartvraat en swartgallig is as jy.
Ag nee regtig! Gelukkig het hy elders in 'n donker
gat gaan kruip.
Ek wonder of ek ooit in staat sal wees om al my
seëninge te tel? En as ek elke dag nét vir die Here sou dankie sê
vir al die mooi van die lewe, sal ek báie besig wees.
Sê nou maar net ek besit nét dit waarvoor ek vandag
vir die Here dankie gesê het? ~ Willem Botha, 05/03/2025 |
|
Wat sal jou gelukkig maak? Kom ons sê jy kan 'n
towerstaf swaai en woep, daar is jy gelukkig, wat sou die inhoud van
daardie wens wees?
Antwoord eers vir jouself baie eerlik of jy regtig
gelukkig is met jou lewe soos wat dit nou is. Ek twyfel of veel
mense onomwonde ja sal sê. So, what would it take?
Dalk iets soos die volgende, en dalk ook min of meer
in hierdie volgorde. Geld, so bietjie meer geld (of dalk báie meer
geld). 'n Ander werk, waar alles net klopdisselboom loop, sonder
enige druk of negatiewe goete. Of dalk minder stress, en minder goed
wat jou woedemeter die heeldag in die rooi indruk. Of dalk is jy nie
meer so gemaklik in jou liggaam nie. Jy weet mos, as jy na 'n foto
van jouself kyk spring jou oog onmiddellik na daardie deel toe wat
vir jou soveel aanstoot gee.
Miskien is jou gesondheid nie soos wat jy dit wil hê
nie. Dalk is verhoudinge nie meer lekker nie, selfs met diegene wat
die heel naaste aan jou is.
Dalk is die Here vêr weg en het Hy jou vergeet (of
liewer, dit voel so).
Ja kyk, daar is baie dinge wat haper in ons lewens.
Nou ja, hou aan lees, ek het ál die antwoorde vir jou
en binne 'n paar minute is alles weer 100% reg. Jy weet mos, 'n
lekker Bybelteks of twee en siedaar, jy glimlag van oor tot oor. Of
dalk moet jy net beter bid, miskien spreek jy nie die probleme reg
aan nie en die duiwel maak dat daar geen deurbrake is nie.
Ai, hoe lekker sou dit wees as die lewe so eenvoudig
was. Wel, goeie nuus het ek inderdaad nie, net 'n wrede realiteit
oor die lewe.
Hier is die kruks van alles. Jy sál teleurgestel
word, dis hoe dit is.
Jy sal teleurgestel word deur mense, elke dag van jou
lewe, want mense is feilbaar. Slegte mense sal jou teleurstel, én
goeie mense sal jou teleurstel.
Jy sal teleurgestel word deur jou wederhelf, want jou
mooi verwagtinge vlieg soms by die agterdeur uit.
Jy sal soms ook teleurgestel word deur jou kinders,
en ook jou ouers, dis nou maar so.
Jy sal teleurgestel word deur die Bybel, want ons
lees mos net die dele wat handel oor voorspoed.
Jy sal teleurgestel word deur die kerk en ander
Christene, want ook hulle is steeds net mense.
Jy sal teleurgestel word deur jou vriende, vernaam as
jy agterkom daar word oor jou geskinder.
Jy sal teleurgestel word deur die regering, want
politici voel NIKS vir jou nie, dit gaan nét oor mag en eie gewin.
Jy sal teleurgestel word deur jouself, want jou goeie
voornemens om beter te lewe val elke dag deur die mat. Het ons nie
VREESLIK baie dinge waaraan ons moet werk in onsself nie? Hoekom
voel ons so maklik ons faal net die hele dag?
En laastens, 'n baie moeilike een.
Jy sal teleurgestel word deur die Here. Dink net baie
eerlik of jy nie dit ook al ervaar het nie. Dit lyk dikwels of Hy
jou nie hoor nie. Dit voel dikwels of Hy altyd laat is. Dit voel
dikwels of Hy net eenvoudig nie jou probleme verstaan nie. Dit voel
dikwels of Hy aan die verkeerde mense se kant is. Dit voel of Hy net
nie omgee nie. Dit voel dikwels of Hy die hele dag jou geloof wil
toets, en jy druip net aanhoudend die toets.
Wel, hier is jou antwoord op al jou probleme.
Die antwoord is eenvoudig, daar IS nie 'n antwoord
nie! En as jy dink jy gaan alles geestelik kan verklaar, of as jy
dink die Bybel kan alles verklaar, gaan jy BAIE teleurgesteld wees.
Miskien verwag ons te veel van mense, of die beloftes van die Bybel.
Wel, die Bybel (en die Here) belowe nie nét voorspoed nie. Die lewe
is hard, verwag dit. Mense is onbetroubaar, verwag dit. Die Here se
planne is anders as joune, verwag dit. Jy sal soms stoksielalleen
deur hierdie oorlog worstel, verwag dit!
Maar... ek volstaan by hierdie volgende punt:
Ek gaan steeds eerder saam met die Here deur hierdie
stryd, as sonder Hom.
Ek veg eerder saam met my mense vir wie ek lief is,
as sonder hulle.
Ek wend my eerder tot die Bybel vir antwoorde, as om
sonder die Bybel te probeer veg.
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik
die laaste asem uit. Hulle is min werd." (Jes. 2:22)
Maar nie almal is so nie, jy kry ongelooflike goeie
mense, en mense sal dikwels vir jou deur die vuur loop, soms selfs
onbekende mense.
En die Here is elke oomblik daar, en ek dink jy kan
ook getuig dat Hy jou al miljoen keer méér verras het as
teleurgestel het. Stap saam met Hom, deur hierdie moeilike lewe, tot
by die heerlikheid van die lewe hierna. ~ Willem Botha, 26/02/2025 |
|
Wat van die ander gelowe? Wat van dié wat nog nie
gehoor het nie? Hoe kan julle sê julle is alleen reg? Wie sê daar is
net een God? Wie sê Allah en God is nie dieselfde God nie? Hoekom
kan daar nie vele roetes na die hemel toe wees nie? Wat van die
Koran? Is hy nie ook reg nie? Hoekom dink julle die hemel is
eksklusief vir Christene wat gered is?
En so kan ek honderde vrae vra, en jy as Christen is
weerloos teen hierdie vrae as die ongelowige/anders-gelowige/ex-gelowige
vir jou aanval. En woeps, net daar twyfel jy tot op die been in jou
eie geloofslewe.
Kom ek help jou reg, jy is hoegenaamd nie reg as jy
dink jy is weerloos nie, want jy het die kragtigste dokument (die
Bybel) aan jou kant, dié dokument wat jou in detail alles gee wat jy
oor hierdie saak wil weet.
Ek gaan nie in hierdie boodskappie tekste aanhaal nie,
dalk later, want as jy argumenteer met ongelowiges gaan die tekste
nie help nie want hulle verwerp die Bybel in elk geval, en ál waarop
hulle hamer is hulle "is - is nie" taktiek. As jy dink jy het nie
antwoorde op hierdie strydvrae nie, weet net hulle het nog minder
antwoorde.
Maar kom ek sê vir jou waar ek staan rondom hierdie
dinge.
Eerstens, ek aanvaar die Bybel as die Woord van God,
en ek aanvaar hierdie God as die enigste God, want daar word vir
geen alternatiewe "lewende gode" voorsiening gemaak nie.
Hierdie Bybel was in sy totaliteit kant en klaar
afgehandel in sy huidige formaat, 397 na Christus. 40 Skrywers, 3
tale, op drie kontinente geskryf oor 'n tydperk van 1600 jaar.
Die Koran daarenteen, is eers 200 jaar later deur één
mens (Mohammad) geskryf. Bykans al die karakters en verhale van die
ou Testament kom daarin voor, en Maria en Jesus word ook genoem. Nou
wonder ek, wat was sy bron vir die Koran? Die Bybel natuurlik.
Kom ons praat oor die hemel. Die hemel (waarnatoe
Jesus opgevaar het), word in die Bybel beskryf. Maar tog wil ander
gelowe (en selfs ongelowiges) dit kaap om tog net ook deel wees
daarvan, sonder om Jesus (wat die enigste weg is volgens die Bybel)
as Verlosser te aanvaar.
My volgende punt gaan oor ons as Christene se
verhouding met God, deur die werk van die Heilige Gees. Hoekom is ek
en my vrou in 'n verhouding aanmekaar gebind? Net omdat iemand
anders dit eeue terug as 'n huwelik beskryf het? Of omdat daar
geskrifte bestaan oor 'n huwelik? Nee, dis omdat ek haar ken, en
myself permanent aan haar verbind het. Dis persoonlik, dis deel van
my wese. Net so is ons verhouding met die Here. Moenie dit gering
skat nie. Die ongelowige wat nie die Gees het nie wil jou laat
struikel. Die Bybel sê dat dié wat nie die Gees het nie dit nie kan
verstaan nie, dis vir hulle onsin.
Die hemel kan nie gekaap word deur mense wat nie die
hele Bybel wil aanvaar nie. En die feit dat ek nie alles verstaan
nie, maak nie dat ek daaraan moet twyfel nie.
Steeds by die "enigste" Bybel, wat die woord is van
die enigste lewende God. Hierdie Bybel wis alle ander paaie na die
ewige lewe uit, daar word net eenvoudig nie daarvoor voorsiening
gemaak nie. En as ander mense met ander kulture oor die wêreld,
ander gelowe en gebruike wil aanhang, is die "model" van die Bybel
nie vir hulle beskore nie. Maar tog vind jy in elk geval wedergebore
Christene onder al daardie verskeie kulture, dikwels mense wat nog
nooit tevore van die Here gehoor het nie, en tog tot bekering kom.
Dus, as jy die Bybel in twyfel wil trek omdat ander kulture en
groeperinge ander goed aanhang, hoef jy nie vir my te vra "hoekom"
nie, gaan vra dit vir daardie Christene van daardie groeperinge.
Hulle sal vir jou kragtige getuienisse gee, wat jou sal verstom.
Is Allah ook God? Wel, daar is 'n maklike toets. As
hy 'n seun gehad het met die Naam Jesus Christus, is hy inderdaad,
maar die geskrif wat jou van Allah vertel (die Koran) verwerp dit
totaal.
Allah is nie God nie!!!
En nou 'n tameletjie. Wat van dié wat nie gehoor het?
Weereens terug na die Bybel toe. Paulus (en ook die dissipels) het
onder die heidene gaan werk, en daar was duisende wat tot bekering
gekom het. Maar daar staan hoegenaamd nêrens in die Bybel dat álmal
gehoor het nie. Ek kan dus ook nie daardie vraag antwoord nie, maar
vra self vir die Here as jy die dag in die hemel kom. Dalk sien jy
wel vele van dié "wat nie gehoor het nie". Dalk is God se genade
miljoen keer groter as wat ek verstaan.
Moenie dat afvalliges jou laat struikel en twyfel nie,
hulle het in elk geval ook nie antwoorde nie, hou jy net vas aan die
woord van God. Moenie ophou glo nie, lees die Woord en vra die Here
om dinge aan jou te openbaar. En moenie dink jy moet (of sal) alles
verstaan nie. Maar ken Hom, en niks van daardie onbenullige
argumente sal saakmaak nie.
My pa was 'n treindrywer, en het alles van 'n trein
geweet, maar ek het nie. Ek het dus nie saam met hom in die trein
gery omdat ek alles verstaan het nie, ek het saamgery omdat ek my pa
geken en hom vertrou het, en hý alles verstaan het.
Hoekom sal ek my saligheid weggooi oor ander se
strikvrae? As hulle dink ek is 'n dwaas is dit oukei, maar die Bybel
sê pertinent hulle is dwase.
Is ons dus alleen reg? Wel, wat bedoel jy met "reg"?
Mense wil so graag flentertjies uit die Bybel aanhang net in geval
die Bybel waarde het. As jy dit wil doen kan jy maar alles los, want
met die Bybel is dit alles of niks.
Ja, ons is alleen reg, indien die vraag gaan oor dít
wat die Bybel as die waarheid beskryf word. Diegene wat dit nie wil
aanvaar nie moet dan maar op dít staatmaak wat hulle pas, maar
ongelukkig gaan die Woord van God nie daarby aanpas nie.
Ek en jy? Bly by die waarheid, en weet vir seker,
daar is net één waarheid, of andere dit wil aanvaar of nie. Jy hoef
dit nie vir ander te verduidelik nie, want dit gaan nie help nie.
"Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God,
glo ook in My." (Joh. 14:1) ~ Willem Botha, 11/02/2025 |
|
En skielik... , besef jy jy het nou die
ouderdom bereik van ou mense. En dat 15 jaar soos mis voor die son
verdwyn het. Net skielik, en dis onmoontlik om rekenskap te gee
daarvan. Waar is die jare heen? Mense sê ouderdom is net 'n nommer,
maar so 'n hoë nommer is moeilik. Die aantal pille se getal is ook
hoog. So ook die bloeddruk syfer, en die cholesterol syfer, alles
net 'n nommer, maar 'n hoë nommer.
En skielik is jou kinders op 'n nuwe pad in hulle eie lewens, en
dalk is daar skielik pienkvoetjies, maar skielik begin jy kwesbaar
voel as almal wat óm jou was, nou ook vêr kan wees, dalk duisende
kilometers weg. En skielik begin jy besef dat die weersiens miskien
afgetel kan word op 'n hand of twee, en skielik besef jy dat die
gevegte destyds in die huis, nou so sinneloos voel. Was jy dalk te
veel kort van draad? Onnodig? Was die gevegte oor die tandepasta se
doppie regtig só belangrik?
En skielik wonder jy of jy weer so hard sou werk en soveel kere die
werk voor die familie sou stel sal as jy voor kon begin? En skielik
besef jy dat dit absoluut geen langtermyn voordeel ingehou het om
altyd net die baas gelukkig te hou nie, want jou pensioen is steeds
te min.
En skielik besef jy dat mediese sorg onbekostigbaar geword het, juis
nou dat jy dit nodig het, en dalk is jy spyt daaroor dat jy nie
vroeër agter jou gesondheid gekyk het nie, en 'n slegte lewenswyse
nou sy tol eis.
En skielik besef jy ook dat die mense in jou binnekring al hoe
minder word, want daar word nou bome in jou eie bos uitgekap. Maar
dalk moet jy minder tyd mors aan sommige van dié wat wel in jou
binnekring is, wat miskien toksies geword het, en dat sommige van
daardie verhoudinge net een rigting was al die jare, en dat jy
uiteindelik bevry kan word daarvan.
Skielik besef jy ook dat dit goed is om vriende se verhoudinge baie
hoog op prys te stel.
"Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou
broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: 'n buurman wat naby is,
is meer werd as 'n broer wat ver is." (Spr. 27:10)
En skielik besef jy dat die jare se vasbyt aan jou geloof, goud werd
is, al het daar dalk tye van twyfel gekom, en waar jy gewonder het
of al hierdie geloof-dinge nie maar net Sondagskool praatjies was
nie. Skielik besef jy (hopelik) dat daar nét een van twee deure kan
wees waardeur jy kan gaan na die ewigheid toe. En eventueel besef jy
dat die streng God van die ou Testament, 'n nuwe Lewe moontlik
gemaak het deur sy Seun Jesus Christus. So dring die besef ook deur
dat jy self die sleutel vir daardie Deur in jou hand hou.
En skielik, werklik oornag, besef jy dat Prediker 12 jou lankal
gewaarsku het oor die tye wat kom, daardie tye wat jy nie gedink het
jou ooit sal tref nie. Lees dit asseblief.
"Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die
jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” (Pred
12:1)
Maar dan, hopelik, begin jy besef dat daardie vasbyt aan belangrike
dinge, en jou naastes, elke dag gekoester moet word.
Skielike besef jy ook dat daar soveel mooi in die lewe is wat jy
nooit raakgesien het nie. Die mooi sonsopkoms met wolkies wat
kunstig slegs deur die Groot Kunstenaar geskilder kan word. En die
uniekheid van elke blom wat wonderbaarlik mooi gemaak is, vir jou om
te geniet.
Hoe heerlik om te besef dat nuwe wysheid gekom het saam met die
grysheid, en hoe lekker as jou naastes graag daarvan wil hoor, want
dit laat jou tog besef dat jy steeds 'n doel op aarde het, en dat jy
'n goeie nalatenskap kan oorgee aan die volgende geslag.
“Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare." (Job
12:12)
Elke dag is so ongelooflik kosbaar, maak die beste daarvan. Die
materiële dinge wat jy nalaat, sal blitsig deur ander opgebruik en
vergeet word, maar die liefde wat jy nalaat, sal deur vele
nageslagte onthou word ~ Willem Botha, 18/01/2025 |
|
Die Here sal jou help
Jes. 41:13 "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou:
Moenie bang wees nie, Ék help jou."
Is hierdie nie 'n pragtige belofte van die Here nie? "Ék help jou!"
Wie anders? Ja, ons as mense help mekaar en dis reg so, want die
Here help ons dikwels deur ander mense te gebruik.
Wat beteken dit om te help? As ek vir iemand vra om my te kom help,
dan beteken dit dat ek self doen wat ek kan, en jou hulp gebruik vir
dit wat ek nie alleen kan doen nie. Ek dink dit werk so met die Here
ook, as ek in nood is doen ek alles wat ek kan, en maak dan staat op
die Here se hulp vir dit wat ek nie kan nie. Hierdie teks sê Hy WIL
, en GAAN jou help.
Soms voel dit of die Here net so bietjie te laat gaan opdaag met Sy
hulp, soms voel dit of Hy nie jou hulpkreet hoor nie, en soms dink
ons Hy weet nie hoe om ons te help nie, maar Goddank dis nie waar
nie.
Lees weer die teks: "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê
vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou." ~ Willem Botha,
16/01/2025 |
|
Vrees
Ek wonder so, wat is die verskil tussen vrees, bekommernis,
besorgdheid en stres (spanning)? Daar is tekste wat oor elkeen van
hierdie dinge praat, soos hierdie een oor bekommernis.
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie
bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Mat
6:34)Weliswaar 'n ongelooflike moeilike teks om na te volg.
Paulus praat ook oor besorgdheid:
"Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die
besorgdheid oor al die gemeentes." (2 Kor. 11:28)
Ek het besef dat ek bekommernis, spanning en besorgdheid kan hanteer,
maar vrees is iets anders.
Ons is nou op daardie ouderdom wat mense in ons ouderdomsgroep soms
net skielik tot sterwe kom en 'n buitengewone vrees oorval my!
DAARDIE tyding, daai een wat so finaal is, daardie een wat jou hele
wese uitmekaar ruk, daardie woorde wat jou hele lewe in 'n oogwink
verander, daardie tyding wat sê dat geen dag OOIT weer dieselfde as
gister sal wees nie. Die dokter wat 'n verdoemende uitspraak maak
oor jou gesondheid, daai dag wat jou laat voel dat alles in 'n
oogwink buite beheer geraak het. Of daardie woorde: "Daar is iemand
anders, ek wil jou nie meer hê nie."
Dan sterf jy in jou binneste. Dan maak teksverse nie meer sin nie,
gebed klink leeg en al die geld in die wêreld is waardeloos.
Maar kommer en vrees is 'n snaakse ding. As daardie gedagtes jou
soms skielik beetpak, glo jy net eenvoudig dat die ergste van die
ergste gaan gebeur, maar nie eers 5% van daardie goed gebeur ooit
nie. Dis net jy wat dit lewendig hou. Jy weet mos, as jy eers begin
met die selfgesprekke, word daardie molshoop 'n reuse berg.
Alles gewoonlik onnodig.
Maar kom ons wees ook realisties, iewers gaan die volstruis tog in
die windpomp invlieg, dis nou maar eenmaal die lewe. Dit help nie om
al die gebeure wat in die toekoms gaan plaasvind nou al te hanteer
en verwerk nie, dis die toekoms se probleem. Maar wanneer dit kom,
weet ons mos darem dat ons dit nie alleen gaan hanteer nie.
Daardie dag bly net die Here oor, daardie dag is dit jou enigste
toevlug, want waar die mens nie meer kan nie, werk die Here.
"God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my
toevlug." (Ps 62:8) ~ Willem Botha, 09/01/2025 |
|
Die trein het
net nou die dag op platform 2024 ingekom, stadig, kruipend, en die
laaste stoom het met 'n sug uit die lokomotief se skoorsteen
uitgeblaas. En daar staan hy toe vir 'n paar dae.
Maar toe begin die Drywer weer om die lokomotief aan die beweeg te
kry. Die kole word in die vuurkas gegooi en die Drywer kry hierdie
kolos weer stadig maar seker aan die gang, en daar gaan hy. Hy vat
lank om op spoed te kom, maar eventueel hoor jy die byna eentonige
ketik-ketik, ketik-ketik soos wat hy op die spore loop.
Ek het heerlike herinneringe van 'n stoomtrein; my pa was 'n
stoomtrein drywer (later elektries) en ons het vele kere trein gery.
En as ons saamgery het as hy langpad gery het (soos Pietersburg
toe), het my pa tussen niks en nêrens die trein gestop, en dan het
ek en my broer saam met hom voor in die lokomotief gery. En ook die
kans gekry om die kabel te trek wat die trein se fluit laat blaas
het. So so kosbaar! Pure nostalgie.
So sien ek in my geestesoog dat die Drywer (die Here) met ons op pad
is na die volgende stasie toe. Ten volle in beheer, weet Hy presies
waar my en jou trein sal aandoen, by watter stasies hy sal stop en
wat langs die pad sal gebeur. 'n Trein het nie 'n stuurwiel waarmee
hy na willekeur kan draai nie, hy ry waar die spore hom vat. En so
is die Drywer van hierdie lewenstrein waarop ons is, ten volle in
beheer, en jy en ek kan óf afklim by een of ander stasie, óf ons kan
Hom vertrou en aanvaar dat Hy die beste weet. Ons kan ons eie
eindbestemming kies deur te swerf tussen al die verkeerde stasies,
of ons kan saam met Hom gaan en die regte eindbestemming behaal.
Oe treinry was lekker, ek onthou nou nog die reuk van die leer
waarmee daardie banke oorgetrek was. My ma het gewoonlik vir ons
padkos ingepak waaraan ons heerlik gesmul het. En kan mens lekkerder
slaap as op 'n trein wat so ritmies wieg?
Ek het altyd ten volle op my pa vertrou as hy daardie kolossale
staal monster beheer het, want hy het presies geweet wat hy moes
doen om sy passasiers veilig by hulle eindbestemming uit te bring.
Ongelooflik om te dink dat die drywers nie geleerde mense was nie,
vele van hulle (soos my pa) het nooit naastenby by matriek uitgekom
nie en standard 6 was 'n algemene kwalifikasie. Maar hulle het
geweet wat hulle doen. My pa was gekwalifiseerd as treindrywer
voordat hy 'n motor lisensie gehad het.
Jesus was (net) 'n timmerman, maar sy Vader het Hom ten volle
toegerus om almal wat kies om op sy trein te klim, by die regte
Bestemming uit te bring.
Vertrou op Hom, want Hy is aan die stuur van hierdie lewenstrein, en
Hy sal jou beskerm op hierdie reis en jou veilig bring waar Hy jou
wil hê.
Ry saam, geniet die rit en ontspan, 'n trein het net een Drywer. ~
Willem Botha, 04/01/2025 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|