Daaglikse Heuningdruppels

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)



“Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal.” (Fil. 1:3-4) Dis darem maar lekker as mens hoor iemand bid vir jou, nie waar nie? Dit moet vir ons ook ’n opdrag en vreugde wees om vir medegelowiges te bid. Ek leer hier in Fil. 1:3-11 by Paulus wat ons vir ons geestelike familie kan  bid: bid dat hulle sal volhard, dat hulle onberispelike lewens sal lei wat vir die Here aanneemlik sal wees; bid dat die Heilige Gees meer en meer goddelike liefde in hulle harte sal uitstort sodat hulle ’n verskil in hulle omgewing kan maak; bid dat hulle onderskeidingsvermoë sal hê tussen reg en verkeerd, waarheid en leuen, goed en sleg. Jak 5:16 sê ook dat ons vir mekaar moet bid en gee ons die versekering: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” Rom 12:12 sê “volhard in gebed” – nie net vir onsself, ons eie behoeftes en begeertes, ons eie mense nie, nee, kom ons volhard ook in gebed vir mekaar. Ek kan jou verseker daar is vandag mense wat jou gebede nodig het en staatmaak op jou voorbidding. Baie keer het hulle nie woorde en innerlike krag om self te bid nie en dit is dan wanneer ons vir hulle kan intree en hulle na die Here kan oplig met ons voorbidding. “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou God.” (Jona 1:6) ~ Wilna Botha, 08/06/2016

Om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins. 
Paulus uiter hierdie woorde in Fil 1:21 terwyl hy in die tronk is ter wille van die Evangelie van Christus. As jy lees in Fil 1:12 - 26 sien jy sy wroeging omdat hy graag sy Geestelike werk wil voorsit, maar nou is hy opgesluit. Aan die een kant is hy bly want sy gevangeskap het 'n groot getuienis uitgedra omdat almal besef het dat sy geloof in Christus sy "misdaad" was. Aan die ander kant wil hy graag by ande
r uitkom om verder te getuig oor Christus. 
Maar dan kom hierdie vreemde woorde: "Om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins". 
Ek lei af dat Paulus dalk moeg was vir die swaarkry, want hy was in sy tyd opgesluit, hy was 5 keer die gebruikelike 39 houe (195 sweephale op sy lyf) toegedien deur die Romeine, hy was met stokke bygedam deur die Jode, hy het amper op see omgekom, hy het baie baie kilometers gestap en hy is verguis waar hy gekom het. Ek neem hom nie kwalik dat hy gevoel het dat sy werk maar kan stop nie, en dat hy nou maar kan Huistoe gaan. 
Maar dan sê hy in vers 25 dat hy maar eerder sal bly, ter wille van die mense wat moet hoor van Jesus. Ai, wat weet ons van vervolging? Wat weet ons van swaarkry vir ons geloof? Hoekom glo ons dat dit altyd moet goed gaan omdat ons Christene is? Hoekom glo ons dat ons bonatuurlike seën moet geniet, en dit nogal in terme van die materiële? Hoekom het die Here hierdie goed in Paulus se lewe toegelaat, maar hy behoort dit nie nou in ons lewens toe te laat nie? Ek vermoed ek verstaan 'n paar dinge heeltemal verkeerd. 
Here, vergewe my dat ek nie Paulus se passie en deursettingsvermoë het nie. ~ Willem Botha, 09/06/2016

“Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen.” (Fil. 1:27) Hierdie is nie so ’n maklike opdrag nie en ’n “preek” wat ons dalk nie meer wil hoor nie. Ons kan nie net sê dat ons Christene is sonder dat ons lewenswyse dit bevestig nie, sonder dat ons anders lyk en praat en dink en doen as die res van die wêreld nie. As ek Fil. 1:27-30 reg verstaan lyk dit my dat dit inspanning van ons sal verg en dat dit dikwels ’n stryd sal wees. Ons moet onsself gereeld “toets” of ons in die geloof lewe (2 Kor. 13:5) en of ons vrugte dra wat bewys dat ons bekeer is (Matt. 3:8). Glo jy onwrikbaar in God se genade, glo jy vas dat Jesus vir jou sonde betaal het, glo jy beslis dat jy gered is en die ewige lewe as erfenis het, of word jy maklik van stryk af gebring deur ongelowiges se siening? Begin jy twyfel aan God se goedheid as dinge om jou moeilik gaan? Bevraagteken jy God se bestaan en die waarheid van die woord wanneer sg. geleerdes dit begin betwyfel? As jy volhardend bly glo, as jy met moed en hoop jou oë op die Here hou dán is jy ’n advertensie vir Christus. As jy vrede en vreugde behou ten spyte van moeilike omstandighede dán sal die mense om jou sien dat jy “iets” anders het en dit ook begeer. As jy kan aanhou om die regte dinge te doen, keuses te maak teen sondes en teen ’n leefstyl wat vir die wêreld aanvaarbaar geword het maar wat teen God se woord en wet is, dán sal jy uitstaan as ’n ambassadeur van Christus. Maatskappye doen baie moeite en gaan baie advertensie koste aan om hulle produk te bemark en bekend te laat word. Ons moet ook alles in die stryd werp sodat ons lewenswyse ’n groot advertensiebord vir Christus en vir die evangelie sal wees. ~ Wilna Botha, 12/06/2016

Eensgesindheid
Kyk, ons boerenasie sukkel met hierdie ding. Soos die mense sê, sit twee van onse manne alleen op 'n eiland en binnekort het jy twee (of meer) politieke parte en kerke. Paulus skryf hierdie woorde aan die Fillipense. 
Fil 2:1-4 "Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing –maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander."
Dink vir 'n oomblik hoe die wêreld sou wees as almal op die hele planeet in eensgesindheid kon leef. Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, geen misdaad, geen konflik in die werkplek, geen oorloë, geen egskeidings en geen armoede. Die wêreld sou werklik 'n volmaakte plek wees. Nou ja, dit is seker 'n droom wat net eenvoudig nie waar kan word nie.
Maar dis nie waarna Paulus verwys nie, hy praat nét met die gemeente in Fillipense, nét met mense wat in liefde saamgebind behoort te wees, en meer nog, hy praat met kinders van die Here! Hoe verskriklik is dit nie dat ons as mense al so selfsugtig geword het nie. Bure teen bure, broer teen broer, Christen teen Christen kan maar net nie die knie voor die ander buig nie! 
Ai, hoe kan ons die wêreld daar buite verander as ons nie eers hierdie eenvoudige beginsel van eensgesindheid kan toepas nie. Mag die Here ons help. ~ Willem Botha, 13/06/2016

“Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword.” (Fil. 1:7, Die Boodskap) Jesus was bereid om sy status, eer en posisie prys te gee, as’t ware sy kroon neer te sit en sy troon te verlaat om mens te word. “The Word became flesh and blood, and moved into the neighborhood,” sê Joh. 1:14. Hy het nie sy Godwees prysgegee nie – Hy was stééds God, maar Hy het Homself beperk tot ’n menslike liggaam, met menslike behoeftes; Hy was beperk t.o.v. tyd en plek.  Hy het Homself verneder om mens te word ter wille van ons, Hy het homself vrywillig aan lyding onderwerp, vrywillig as ’n vervloekte aan die kruis gesterf sodat ons kinders van God kan word. Dít was die offer wat Hy as Verlosser vir ons gebring het: vervloekte in ons plek, geslaan in ons plek, gely in ons plek, gesterf in ons plek. “Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5) Aanvaar dit. Glo dit. Bely dit. ~ Wilna Botha, 14/06/2016

Ligdraers 
Dit is darem maar aaklig om in stikdonkerte te loop, wanneer jy nie jou hand voor jou oë kan sien nie, en destemeer as jy jouself in 'n plek bevind wat jou boonop bang maak, soos 'n grot. O jitte, en wat nog van 'n stappie deur 'n begraafplaas as dit in die donker is. Dis in sulke tye wat jy naarstiglik soek na selfs die kleinste bron van lig. Die oomblik wat lig donkerte verdryf tree kalmte en gemoedsrus in, en dit kan gebeur deur die kleinste klein flitsie, of 'n vuurhoutjie. 
Paulus skryf in Fil 2:12-18 dat die mense gehoorsaam, eerbiedig en onberispelik moet lewe, te midde van ontaarde en korrupte mense. In Fil 2:15 - 16 staan "Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld, deur die woord van die lewe uit te dra".
Jy sien, korrupsie en slegte dinge was al in Paulus se tyd aan die orde van die dag en ons moet dit soveel te meer te wagte wees. As ek en jy meedoen aan verkeerde praktyk, raak ons net soos die wat in die donkerte lewe, en het ons 'n totaal destruktiewe invloed. Maar as ons daardie ligdraers is waarvan Paulus praat, oorwin ons daarmee die donkerte. Onthou, enige plek op aarde is donkerte outomaties aan die orde van die dag, maar 'n klein bietjie lig verander alles en verdryf die donkerste van donker in 'n oogwink. Die draer van lig loop altyd voor, want dan sien almal voor hulle uit. Daardie draer se lig moet 360 grade om hom uitsprei en nie soos 'n laserliggie wees wat net 'n klein kolletjie verlig nie. Daardie vorm van lig beteken nie veel nie. Lig lok mense, kom ek en jy word daardie bron van hoop vir ander, deur die woord van die lewe uit te dra. 
Christus is die Woord, en ek en jy het die taak om die draer van die goeie nuus te wees. ~ Willem Botha, 15/06/2016

In Fil. 2:19-30 lees ons van twee geestelike werkers wat vir Paulus en die gemeentes ondersteun het, nl. Timoteus en Epafroditis. Timoteus was ’n jong man,  ’n getroue werker, hy was nie bang vir vervolging en moeilikhede nie, hy het die belange van die gemeente bo sy eie belange gestel. As jy ’n geestelike werker is, of êrens ’n groep mense bedien met die evangelie of met liefdesdade wéét jy maar al te goed dat dit nie altyd maklik is nie, dat dit baie keer voel of jy nie waardeer word of nie erkenning kry vir wat jy doen nie. Die beste troos is om te onthou dat jy dit vir die Here doen, dat jou eie belange nie tel nie, dat die Here sien wat jy doen en jou daarvoor sal beloon. Gaan voort om te doen wat jou hand vind om te doen, doen dit met liefde en oorgawe en toewyding. “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.” (Heb. 6:10) Die ander van ons wat aan die ontvangkant staan van ’n geestelike werker se bediening, luister wat Paulus sê: “Ontvang hom met oop arms as ’n broer in die Here en bejeën manne soos hy met agting.” (Fil. 2:29) Sê vir slag dankie vir jou dominee, bid vir hom, bederf hom met ’n ete, verseker hom van jou ondersteuning en aanvaar hom soos wat hy is – nes jy, is hy ook nie volmaak nie, word hy ook moeg, het hy dalk ook probleme met sy kinders en het hy dalk ook bietjie aanmoediging nodig. ~ Wilna Botha, 16/06/2016

Al daai fieterjasies 
Mense hou nou maar eenmaal van goetertjies, goetertjies op die kaggel, goetertjies in 'n glaskas in die sitkamer en goetertjies op vensterbanke. Tot 'n grasperk op die dashboard in die ou dae. En ongelukkig, net so hou mense van goetertjies in hulle geloofslewe. Nuttelose uiterlike dinge wat dikwels gedoen word om ander te beïndruk en om hulle geloofslewe (of sal ek dit eerder godsdiens noem), ten toon te stel. In Fil 3:1-6 waarsku Paulus vir die mense in Fillipi teen dit en noem hierdie aanstigters dwaalleraars wat net loop en kwaad stig. Ek lei af dat die gemeentelede na hierdie mense toe gestroom het om ook aan hierdie dinge blootgestel te word, en Paulus noem dan ook hierdie betekenislose besnydenis by die naam.
 
Dan sê hy in vers 4: "Tog sou ek ook op hierdie uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer". Dan vertel hy van sy besnydenis, sy herkoms, sy opleiding in die wet, en selfs dat hy die kerk vervolg het.
 
Ons moet regtig baie versigtig wees waaraan ons onsself blootstel, want nie almal wat geestelik voorkom, of klink na kundiges, of so openlik roem op hulle kennis van God, is regtig waardig om na te volg nie. Paulus noem hulle prontuit dwaalleraars en kwaadstigters. En weet jy, die aarde wemel van hulle!
 
Luister na hierdie stukkie wysheid van Paulus in vers 3: "Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Jesus Christus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie".
 
Dis eenvoudig, daar is nie plek vir Jesus én die "aanbidding" van die nuttelose uiterlike dinge in ons lewens nie. ~ Willem Botha, 20/06/2016

Ek voel sommer skaam as ek in Fil. 3:7-16 lees hoedat Paulus sê dat hy geheel en al uitverkoop is aan Jesus en alles opoffer en inspan om Hom te volg en te dien. Hy sê dat alles wat eers vir hom belangrik was, nou heeltemal waardeloos geword het, dat om Jesus te ken nou sy eerste en enigste prioriteit is. Ek vra myself af of dit vir my persoonlik ook my nommer een prioriteit is, of ek voluit daarna streef en my inspan om meer en meer van die Here te leer en meer en meer te word soos wat Hy van my verwag en meer en meer gehoorsaam is en doen wat Hom behaag. Ek weet ek skiet te kort en ek kan saamstem met vers 13: “... ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.” Maar, ek wil graag probeer: “... ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” (:12) Ek moet doelbewus vorentoe beur en streef en glo dat êrens op daai pad sal die Here my ontmoet en my sleep en trek en my help om die wenpaal te bereik. Hy het my rééds syne gemaak. Hy het rééds sy intrek in my hart geneem. Hy het rééds die begeerte in my geplant om Hom nommer een te maak. Dis genade! ~ Wilna Botha, 22/06/2016

Burgers van die hemel 
Ek het al so baie keer die vraag gehoor: Nou van watter Botha's is jy? Mmm.. wel, sommer net van die Botha's, ons is so baie, dit help nie ek sê van die Vrystaat of van die Transvaal nie, ons wemel orals. Toe ek in die weermag was noem ek dat ek familie het van die een korporaal se tuisdorp en vra toe of hy my klomp neefs ken. Sy antwoord was : O jitte ja die vervlakste klomp messtekers! Sjoe, ek het skaam gekry want dit was so effe waar.
In Fil 3:
18 - 4:1 praat Paulus van die vyande van die kruis van Christus, en hy noem dat hulle tuiste eendag die verderf sal wees. In vers 20 sê hy egter: "Maar ons is burgers van die hemel, vanwaar ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag".
Jou herkoms sê iets van jou en baie mense leef tog volgens 'n lewenstyl wat daarmee geassosieer kan word, soos my neefs met hulle vreemde reputasie. Maar ons hoef nie gevangenisse te wees van ons herkoms nie, ons moet eerder 'n lewenstyl handhaaf wat pas by ons toekoms. Ons is burgers van die hemel, en mense moet dit in ons manier van lewe sien. Wat 'n wonderlike getuienis is dit nie as iemand van jou sê: "Daardie ou gaan reguit hemel toe". Dan sal dit ander mense ook kan saamsleep. 
Natuurlik is dit nie ons dade wat ons red nie, maar ons dade is immers ons getuienis, en daarom moet ons lewe soos burgers van die hemel. Ons kan, want as ons Christus as Saligmaker aangeneem het, het ons reeds die paspoort ontvang. ~ Willem Botha, 23/06/2016

“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil. 4:4) Mense sê dikwels dat dit ’n onmoontlike vers is om te doen. Hoe kan mens altyd net bly wees? Hoe kan mens altyd net positief wees? Ek dink hierdie tipe blydskap is nie iets wat deur omstandighede bepaal word nie, dit word nie bepaal deur jou bui of hoe lekker jou dag is nie. Dit is ’n blydskap wat diep in jou hart lê, ’n blydskap wat jy kies deur ’n wilsbesluit. Dis ’n blydskap wat jy nie kan keer nie, wat opborrel selfs al lyk dinge om jou donker en selfs al is die lewe nie ’n grap nie. Dis ’n blydskap wat spruit uit die Here se teenwoordigheid in jou lewe, wat ontstaan omdat jy weet dat Hy by jou is, wat gesetel is in wie die Here is en nie in wie jy is en wat om jou aangaan nie. Dis nie noodwendig ’n blydskap wat gepaard gaan met ’n skaterlag nie, maar wel met ’n tevredenheid en ’n rustige wete dat God in beheer is. Dis beslis ook ’n aansteeklike blydskap wat sal afvryf op diegene met wie jy in die loop van die dag te doen sal kry. Dis ’n blydskap wat ’n aangename geur in die wêreld sal versprei en ’n positiewe omgewing sal skep waarin mense kan ontspan omdat  hulle hul sorge aan die Here kan oorgee. ~ Wilna Botha, 26/06/2016

Ek is tot alles in staat... 
Hierdie is vir ons as Christene baie bekende woorde en ons haal dit graag aan. Dit kom uit die gedeelte in Fil. 4:10-14 waar Paulus dankbaar is teenoor die gemeente wat hom bystaan. Maar Paulus het regtig swaargekry vir sy bedieningswerk.
Kyk wat skryf hy in Fil. 4:12-13 "Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee."
Net soos ons vandag, het Paulus moeilike uitdagings in die gesig gestaar en hy noem dat hy weet van swaarkry en armoede. Soms was dit swaar en ander tye weer beter, want by tye het hy kos gehad en dinge selfs in oorvloed gehad, maar dit het verseker nie altyd goed gegaan nie. Dan sê hy hierdie woorde: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee". Wat is hierdie krag wat hy van God ontvang? Dis om vas te byt, voort te beur, uit te hou en aan te hou, totdat die deurbrake weer kom. 
Onthou hierdie stelling: As dit nou goed gaan, moenie dink dit gaan altyd goed gaan nie. Maar aan die ander kant, moenie dink as dit nou sleg gaan, dat dit vir altyd gaan sleg gaan nie. Daar kom weer tye van oorvloed soos vir Paulus, byt net vas. 
Hou ook in jou swaar tye aan hierdie woorde van Paulus vas: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Willem Botha, 27/06/2016

Het jy dalk ook al êrens langs die pad moeg geword om geldelike bydraes vir die kerk of sendelinge of welsynsorganisasies te gee? Het jy dalk ook al opstandig gevoel as jou dominee nóg ’n keer oor geld preek en jou aanmoedig om vrygewig te wees vir die werk van die Here? Wanneer ek in Fil. 4:17 lees: “Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan,” voel ek skaam oor my eie onwilligheid om ’n finansiële bydrae te maak. Ek besef maar net weer dat daar ’n baie groter en hoër doel en nut is vir my rande wat ek bydra. Wat is die vrug daarvan wanneer ons vrygewig is ten bate van geestelike werk?  In die eerste plek is dit natuurlik dat die Woord van die Here versprei en verkondig kan word en mense deel van God se koninkryk kan word. Verder is dit sekerlik ook dat dié wat alles opoffer vir diens aan die Here ’n lewe kan maak. Nog ’n vrug van ons mededeelsaamheid is dat dié wat aan die ontvangkant daarvan is God sal eer en prys en dank (lees 2 Kor. 9:11-13). ’n Vrug waaraan mens nie dikwels dink nie, is een wat hier in Fil. 4:17 genoem word: “... daardeur word julle self ryker.” Hoe kan jy ryker word wanneer jy van jou goed en jou geld weggegee het? Die Bybel sê: “God het die blymoedige gewer lief” en “om te gee is beter as om te ontvang” en “wat jy saai sal jy maai.” Wanneer jy van jou besittings en jou geld weggee, weet jy dat die Here dit as ’n offer aanvaar en dat Hy jou daarvoor sal beloon. Mag die Here ons “altyd in alles ryk genoeg maak om by elke geleentheid vrygewig te wees.” (2 Kor. 9:11) ~ Wilna Botha, 28/06/2016

“Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees,” so groet Paulus aan die einde van sy brief in Fil. 4:23. Om die waarheid te sê ons lees hierdie seëngroet aan die einde van elkeen van sy briewe. Dit is ook hierdie groet waarmee ons gewoonlik uit ’n kerkdiens uitgestuur word. As jy weer hierdie seëngroet hoor, ontvang dit met ’n oop hart en oop hande, want as jy die Here se genade ontvang het, het jy alles wat jy nodig het. As jy die Here se genade ontvang, ontvang jy ’n volledige porsie van Sy goedheid. As jy Sy genade ontvang, maak Hy jou sy kind, vergewe Hy jou sondes, verlos Hy jou uit die boosheid van die wêreld en vul Hy jou met Sy Heilige Gees wat jou lei en help. Onthou Sy genade is genoeg vir jou. Ontvang opnuut Sy genade en ervaar dit diep in jou binneste en in jou daaglikse lewe. ~ Wilna Botha, 29/06/2016

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)