GEE DIE STOKKIE OOR

In 'n aflos resies hardloop vier atlete in een span. Die atlete gee die aflos stokkie van een atleet na die ander oor, totdat die laaste atleet oor die wenstreep hardloop. Dan wen die hele span!!

So gee die pa die lewens stokkie oor na die volgende geslag. Dit wat die gesin se waardes, aksies, gewoontes, oorwinnings en verliese verteenwoordig, word van geslag na geslag oorgedra.

Is jy besig om die stokkie oor te gee na die volgende geslag? En…… hoe lyk daardie stokkie?

In die ou testament het die pa die hoofrol ingeneem in die gesin. Hy was 'n patriarg en alles in die gesin gaan hoofsaaklik oor hom. Vandag neem die kinders daardie rol in 'n groot mate oor. As gevolg van pa se afwesigheid gee pa sy rol as hoof (en koning, priester en profeet) oor na die ma.

Ma vestig die familie waardes, neem die gesagsrol in, en speel 'n baie groter rol in die huis as die pa. Pa gee dus nie meer die aflos stokkie aan nie, maar eerder die ma.

Die seën van die pa in die Bybel
· Pa seën die eersgeborene - en al die ander seuns
· Dra die familie gees oor
· Dra sy gesagsposisie oor
· Dra sy hoofskap oor
· Dra die familie se status in God oor

Esau verkoop sy reg as eersgeborene aan Jakob
(Gen 25 : 29 - 34), vir 'n pot sop, en is later spyt.
Rebekka en Jakob bedrieg vir Isak, en Jakob word in die plek van Esau geseën (Gen 27 : 1 - 29).
Isak en Esau besef dat hulle bedrieg is, maar dis te laat.
Esau pleit ook vir 'n seën, maar Isak weier. "Het pa nie nog 'n seën nie?" (Gen 27 : 36 - 40)

Die pa na seun rol baie belangrik in die tyd van Jesus
Jesus is gebore uit die geslag van Dawid. Geslagsregisters Matt 1 en Luk 3. Die geslagsregisters eindig egter by Josef, wat nie Jesus se beologiese pa was nie. Die status van die man is egter belangrik vir die Here. God wil steeds die stokkie laat oordra.

Jakob seën aan die einde van sy lewe sy seuns (Gen 49)
· Ruben - se gesag as eersgeborene word hom ontneem (saam met sy pa se vrou gelaap)
· Simeon en Levi - altyd reg vir geweld, en hy verwerp en vervloek hulle.
· Juda - sy broers sal hom eer. Sy pa spreek 'n wonderlike seën oor hom uit.
· Sebulon - woon by die strand, ontvang 'n mooi seën.
· Issaskar - sterk pakdier. Sy pa respekteer hom.
· Dan - handhaaf die reg.
· Gad - se krag word uitgelig.
· Aser - eet koningskos.
· Naftali - hy het 'n mooi nageslag. Sy pa is trots op hom.
· Josef - ontvang die wonderlikste seën van almal.
· Benjamin - verskeur sy prooi. Sy pa het agting vir sy krag.

Vers 28b "So het hulle pa met hulle gepraat toe hy hulle geseën het. Hy het hulle een vir een geseën, elkeen met sy eie seën".

Hoekom soveel klem op die seun?
Gen 2 : 24 "Daarom sal 'n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word". Die seun moet as hoof van sy huis die familiestatus gaan vestig. Die man is hoof van die huis.
Die huwelik is 'n instelling van God tussen een man en een vrou. Hoekom?
Maleagi 2 : 15 "Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat hy wil hê dat dat daar 'n nageslag moet wees wat Hom eer".

God spreek 'n seën oor Jesus uit.
By Jesus se doop
Matt 3 : 16 - 17 "Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: "Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My."
Die verheerliking op die berg
Matt 17 : 5 "Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom."

Besef jy jou verantwoordelikheid as man en pa?
Indien jy dogters het, berei jy hulle voor vir hulle rol as moeder en vrou van hulle huise? Besef sy dat haar man haar hoof sal wees? Leer jy haar om haar man toe te laat om sy korrekte rol in te neem?

Watse seën het jou pa oor jou lewe uitgespreek?
· Was jy altyd verkleineer deur jou pa?
· Emosioneel verwoes?
· Fisies aangerand?
· Was jou pa altyd afwesig?
Of
· Het jou pa jou opgelig?
· Ondersteun, bygestaan en aangemoedig?
· Net die beste oor jou uitgespreek.

Maak jy self klaar met die verlede, en vergewe waar vergewe moet word. Sodat jy 'n skoon stokkie kan oorgee.

Gee die stokkie oor aan jou seun
· Staan in 'n gesonde verhouding met hom.
· Leer hom van die lewe, van die Here, van verantwoordelikheid. Leer hom van man wees.
· Lei hom in sy rol as hoof van sy huis in.
· Maak hom betyds los en gee die stokkie betyds oor, sodat jy nie naderhand vir twee geslagte verantwoordelik sal wees nie.
· Gee 'n skoon stokkie oor. Verwyder die gemors uit jou eie lewe en stel 'n goeie voorbeeld. Drink jy, dan drink hy. Slaan sy ma, dan slaan hy sy vrou. En dan verwoes hy weer sy seun se lewe op die koop toe.
· Leer hom van standvastigheid.
· Wys hom ook dat 'n man steeds net 'n mens is. Moet hom nooit leer dat 'n man nie emosies mag hê nie. Deel jou hartseer, jou vreugde, oorwinnings en falings met hom.
· Leer hom om teleurstellings te oorkom.

Spreek 'n seën oor jou seun uit
Watter een van Jakob se seuns se seën sal die beste by hom pas?
Dis nie te laat om jou invloed so te laat geld dat dit 'n Josef seën kan wees nie.
Spreek daagliks 'n Ruben, Simeon of Levi oor hom uit, en hy sal daardie gemors in sy lewe uitleef.
Spreek 'n Josef seën oor sy lewe, en hy sal 'n Josef wees.

Neem hierdie teks vir jouself, en dra dit aan jou kinders oor.

Sefanja 3 : 17
DIE HERE JOU GOD IS BY JOU
HY, DIE KRYGSMAN WAT JOU RED,
HY IS VOL VREUGDE OOR JOU
HY IS STIL-TEVREDE IN SY LIEFDE
HY JUBEL EN JUIG OOR JOU

 

TERUG NA KAMP-ONDERWERPE