| 
            
  Wat 
			sien jy as jy in die spieël kyk? Wie sien jy? ‘n Moeiliker vraag: as 
			jy na ‘n foto van jouself kyk, wat sien jy eerste? Wat trek jou oog? 
			Party van ons manne kyk dadelik of die hangkas nog so ‘n element van 
			‘n six-pack oorhet, party kyk na hulle neuse (wat dalk te lank of te 
			kort of te plat is), vrouens loer onmiddellik of die plooitjies 
			sigbaar is, en ja, ons het maar almal op een of ander manier ‘n 
			stukkie onvergenoeglikheid oor ons gestaltes. Dis seker reg so, want 
			die liggaam is die enigste sigbare deel van my menswees wat ek aan 
			die wêreld, en aan myself, vertoon. Die liggaam is belangrik want 
			dit huisves die gees. God het dit goedgedink dat ons op een of ander 
			manier verskillend sal lyk. Maar ... dit is net waar vir die tydperk 
			wat ons op aarde deurbring. Hoewel ons vir hierdie tydperk verknog 
			sal wees (en moet wees) aan hierdie gestalte, moet ons besef dat hy 
			hier sal agterbly wanneer ons aanbeweeg na ons finale geestelike 
			tuiste. Iewers sal ons moet begin afskeid neem van die aardse 
			liggaam en as’t ware losmaak van hom, want ons gaan hom nie meer 
			nodig hê nie. Ons gaan ‘n opstanding liggaam kry, ‘n nuwe een, wat 
			van ander goeters aanmekaar gesit sal wees. Die kruks van hierdie 
			saak lê vir my daarin dat mens dit nie kan glo as Jesus se fisiese 
			opstanding nie vir jou ‘n werklikheid is nie. 
			1 Kor 15:12-19Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is 
			weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van 
			julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal 
			maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou 
			Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar 
			sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ‘n 
			klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê 
			julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood 
			is, beteken dit dat ons ‘n klomp leuens oor God ook vertel, want ons 
			sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense 
			lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus – dan is Hy mos 
			ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het 
			nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in 
			die sonde. Dan help dit niks meer dat julle glo nie. Dan is nie net 
			ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder 
			enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl 
			ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna 
			nie, is ons ‘n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan 
			voel.
 
			Vers 16: as God nie mense lewendig gaan maak nie, 
			geld dieselfde mos vir Jesus –dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak 
			nie.   
			Hoewel ons nie te verknog moet raak aan hierdie 
			aardse liggaam van ons nie, moet ons dit oppas, versorg, voed, nie 
			skade aandoen nie; ons moet dit in stand hou vir goeie 
			lewenskwaliteit. Maar... hy gaan agterbly.   
			Baie mense vra steeds die vraag of ek myself kan laat 
			veras. In hierdie gedeelte in 1 Kor. 15 sê die Bybel baie duidelik 
			dat dit nie die materiële gestalte sal wees wat opstaan nie. Daar 
			was al baie debat oor wat sal gebeur as die grafte opgaan. Kom ons 
			dink vir ‘n oomblik oor hierdie grusame werklikheid: met verassing 
			word die liggaam binne minder as 90 minute as/stof. Dan bly daar 
			bykans niks oor nie. In ‘n graf neem dit so 10 to 15 jaar totdat net 
			been oorbly wat dan baie lank neem om finaal te vergaan en stof te 
			word. In albei gevalle is “stof tot stof” waar en die mens se aardse 
			liggaam word weer deel van die natuur. In 1 Kor. 15 vanaf vers 35 
			sien ons duidelik dat hierdie liggaam onder die grond, of die 2kg as 
			na verassing, nie meer nodig is vir die opstanding liggaam nie. Wat 
			belangrik is, is om te weet dat hierdie liggaam vir hier se gebruik 
			is, maar dit wat hierna kom is nie meer afhanklik daarvan nie. Die 
			aardse tentwoning sal opgeslaan word en nie meer gebruik word nie. 
			Net so was dit met Jesus. Hy was nog altyd in die hemel, Hy het 
			afgekom aarde toe, en het vir 33 jaar ‘n menslike liggaam nodig 
			gehad. Na Sy opstanding het hy weliswaar in Sy gewone aardse 
			gestalte verkeer tot en met die hemelvaart. Maar ook Hy gebruik nou 
			nie meer daardie aardse gestalte nie.  
			Hoe gaan ons lyk wanneer ons uit die dood opstaan? 
			1Kor 15:35-58 (uit die Boodskap)Iemand onder julle mag dalk wonder: “Hoe op aarde kan iemand wat 
			dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?” Dis 
			darem ‘n dom vraag. Julle weet mos dat ‘n saad wat jy in die grond 
			saai ‘n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ‘n rukkie, kom 
			die lewendige plantjie uit. En verder, as jy byvoorbeeld ‘n mielie 
			plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. 
			Jy plant ‘n mieliepit. God besluit dan self hoe die plant moet lyk – 
			elke soort saad gee mos ‘n ander soort plant. Die diere en mense 
			verskil net so. ‘n Mens is mos anders gebou as ‘n dier of ‘n vis. 
			Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die 
			son is op ‘n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die 
			sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi. Die 
			prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit 
			wees wanneer ons uit die dood lewendig word.
 Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam 
			waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie. Die 
			liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam 
			sal ons maar net kan oorloop van trots. Die oue is swak, maar die 
			nuwe is vol krag. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan 
			lewendig word in ‘n nuwe geestelike liggaam. Soos daar ‘n gewone 
			aardse liggaam is, so is daar ook ‘n geestelike liggaam. In die 
			Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ‘n lewende mens geword 
			het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense 
			geestelik lewendig maak. Ons word dus eers met ons gewone aardse 
			liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later. Die 
			eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die 
			tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom. Die mense op aarde 
			is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos 
			Christus. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die 
			toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.
 My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: 
			ons, met ons aardse liggaam, kan tog nie in die nuwe wêreld van God 
			ingaan nie. ‘n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die 
			nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie. Laat ek 
			julle ‘n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. 
			Dié wat nog in hulle aardse liggaam lewe wanneer Hy kom, sal in die 
			plek daarvan ‘n nuwe geestelike liggaam kry. Wanneer daar 
			aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat 
			die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat 
			die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak 
			word met hulle nuwe liggaam; dié wat in daardie stadium nog op aarde 
			lewe, sal dadelik  ‘n nuwe liggaam kry. Hierdie liggaam wat ons nou 
			het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam 
			wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan 
			nie. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif 
			gesê het dit gaan wees: Die dood het nie meer enige krag of invloed 
			nie. God het al die krag as oorwinnaar.
 Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons 
			nog kan seermaak? Nee, vir seker nie. Sonde is die oorsaak dat ons 
			doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie 
			omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys. Maar 
			ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. 
			Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met 
			Hom wenners gemaak.
 My liewe boers en susters, dit gee julle alle rede om julle nie ‘n 
			duim te laat wegbeweeg van dit waarin julle glo nie. Staan vas. As 
			daar iets is wat julle vir die Here kan doen, doen dit en nog meer, 
			maar nie saak wanneer en waar nie. Julle twyfel mos nie een oomblik 
			daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie.
 
			Vir ons is hier ‘n onbeskryflike klomp hoop in 
			hierdie gedeelte opgeteken. Die swaarkry wat gepaard gaan met ons 
			aardse lewens hier, moet nie ons totale menswees definieer nie. Ons 
			aardse liggaam is die gereedskapstuk waarmee ons sonde doen. Jy het 
			jou liggaam nodig om elke sonde te doen (en dit sluit jou gedagte 
			wêreld in). Gelukkig bly hierdie liggaam agter en gaan nie saam na 
			die hiernamaals nie.   
			1 Kor 15:53(b) “Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, 
			sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie”. God het ons 
			aardse liggaam so geskep dat hy gemiddeld 80 jaar sal hou; maar Hy 
			het ons opstanding liggaam so gemaak dat dit vir ewig en ewig sal 
			hou. In daardie liggaam sal geen pyn betrokke wees nie, geen 
			gestremdheid, geen onvolmaaktheid, geen sonde, geen swaarkry, geen 
			agteruitgang, geen siekte, niks wat sleg is nie. Dit is iets om na 
			uit te sien. Moenie té verknog wees aan hierdie aarde liggaam nie, 
			en aanvaar dat jy iewers sal moet losmaak van hom. 
			1 Kor 15:19As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is 
			en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ‘n hopelose spul 
			mense vir wie ander net baie jammer kan voel.
 
			DIT is ons hoop!
 |