'N REGUIT HOU MET 'N KROM STOK


Jak 2:14-26
Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?
Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly,
en sê nou een van julle sou vir hulle sê: "Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg," maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?
So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
Maar iemand kan miskien sê: "Die een het die geloof en die ander het die dade." Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.
Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook - en hulle sidder van angs.
Jou dwaas, wil jy 'n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is?
Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie?
Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.
So is die Skrif vervul wat sê: "Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,"
Julle sien dus dat 'n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.
Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met 'n ander pad laat ontkom het nie?
'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Geloof sonder dade is nutteloos. Dood. Nikswerd. Jakobus kom plaas die klem op die ander kant van die muntstuk as Paulus. Paulus sê "glo", Jakobus sê "doen". Twee uiteenlopende standpunte? Nee, verseker nie. Dit is twee kante van een muntstuk. 'n Muntstuk het verseker nie twee kopkante, of twee stertkante nie. Paulus sê "geloof red jou", Jakobus sê "dis reg, solank jou dade dit bevestig". Anders beteken dit niks. Nou ja, hier lê nou die probleem. Wat moet ek DOEN? Waar moet ek dit doen? Hoe gereeld moet ek dit doen? Moet ek by bedieninge betrokke raak, geld weggee, hulp verleen, preek, ens. ens. En as ek dit nie doen nie, kom die skuldgevoel, selfverwyt, onsekerheid oor myself, en die duiwel kom vertel my ek is nutteloos, dra niks by tot Koninkrykswerk nie, en dan natuurlik - einde ten laaste - ek slaag nie die Jakobus 2 - toets nie.

Wel, ons weet tog almal dat ons nie ons plekkie in die hemel verdien nie, en kan werk om daar te kom nie. Vanoggend gaan ons nou nie op daardie pad stap nie. Ons gaan die klem bietjie skuif, weg van werk vir redding, om my geloof te bewys, na die lekker van 'n bydrae lewer.

Ek dink egter die grootste probleem is om verby om gevoel van geestelike minderwaardigheid te kom. Jy is tot baie in staat, weet jy?

Kom saam met my golfbaan toe … jy moet my nou asb. verskoon, want ek weet absoluut niks van golf nie! Ek hoor egter as my vriende so praat. So, stap in jou gedagtes saam met my. Hier by die afslaan punt staan twee ouens. Kom ons noem hulle Niek, en Mnr. Golfer (meneer met 'n hoofletter!). Niek is uitgedos in die nuutste uitrusting denkbaar. Duur, "brand name" hemp, die regte skoene, hoed, handdoekie, en hy speel natuurlik met 'n Titleist golfstel (wat natuurlik so R15 000 kos). Mnr. Golfer, daarenteen, speel sommer met sy sandale, dra so los T-hemp, en lyk totaal uit plek uit. Hy pas net nie daar nie. En in plaas van 'n sak op 'n selfaangedrewe karretjie, het hy so 'n boks met goed wat soos gemors lyk. Niek kyk die spulletjie so, en hy begin onbedaarlik lag. 
Dan vra hy: "Wat maak jy hier?" Mnr. Golfer sê niks, en haal ook 'n balletjie uit sy sak uit. Niek plaas sy balletjie noukeurig op daardie plastiese dingetjie, haal 'n no 2 dryfhout uit, lê aan en slaan die bal "potshot", tot op die "greens". Nou is dit Mnr. Golfer se beurt. Hy sit die balletjie neer en begin krap in sy boks. Uiteindelik kom hy met 'n stok te voorskyn, maar die ding was duidelik om 'n lamppaal opgekrul - lyk soos 'n spiraal, dis gebuig en die kop van die stok is sommer so binnetoe gebuig. Niek begin weer lag, só dat hy amper omval. Maar Meneer lê aan en slaan. Die bal trek net so die helfte van Niek se afstand, en val êrens in die lang gras. Op hierdie stadium kruip Niek omtrent op die grond rond, en hy brul soos hy lag! Maar, Meneer stap rustig vorentoe en soek die bal. Jy weet mos, die 99 het Hy gelos en die een het Hy gaan soek…. Hy weet presies wat Hy doen.

So speel die twee hulle wedstryd. Keer op keer slaan Niek die perfekte hou met sy perfekte toerusting, en Meneer se spel lyk redelik lomp. Wanneer Niek 'n no 9-yster uit die sak haal, grou Meneer 'n stukkende stok uit sy boks uit… party se koppe is afgebreek, ander het skaars nog 'n steel oor. Nog ander is vrot geroes, maar Meneer speel. Op die oog af lyk sy spel na 'n ramp. Maar toe gebeur 'n snaakse ding: Niek vul albei se telkaarte in, en dan, hier aan die einde van die spel, tel Niek die punte op. Skielik vervaag sy glimlag, en hy frons in ongeloof. Meneer vra vir hom: "Wat's fout?" Dan sê hy: "Hier moet groot fout wees … jou punte is dan beter as myne! Ten spyte van die hoop gemors waarmee jy speel, is jou telling beter."
Dis dan wanneer Meneer vir hom sê: "Niek, jy verstaan iets nie mooi nie. As hierdie krom stok eers in My hande kom, slaan Ek perfekte houe. Ek slaan 'n penreguit hou met 'n krom stok. By My tel die naam van die golfstel anders as by jou. My golfstokke se name is in My handpalms gegraveer. Jy Niek, vertel vir my kinders, my stokke, dat hulle net iets werd kan wees as hulle volmaak is. Jy verstaan egter nie dat Ek anders as jy meet nie. As Ek die stok swaai, slaan Ek sekuur. Al val die bal wáár ook al. Ons meet verskillend." 

Jy sien my vriend, ek en jy wil Titleist en Callaway - stelle wees om iets vir die Here te beteken, en Hy sê: "Kom net soos jy is - kom net, Ek wil jou gebruik, nes jy is!"

'n Reguit hou met 'n krom stok, só werk die Here met jou en my. Ons voel ons kan nie, want ons is te sondig, het geen vermoëns nie, talente ontbreek, en ons steek af teen ander. Maar, die Here sê: "Kom, Ek gebruik jou soos jy is, want Ek slaan die bal, Ek hou die stok (vir jou), in My hand. Ek sal die onmoontlike doen as jy net bereid is om te kom. En meer nog, Ek sal jou aanwend waar jy die beste pas." Onthou jy nog die liggaam met baie lede? Die Here het gesê dat nie almal oog is nie, en nie almal hand, of voet nie. Dit is só, maar daar staan ook nie dat al die ledemate volmaak is nie. Natuurlik geniet die duiwel die golfspel, want hy gee voor dat hy die beste vaar in die spel. Jy weet mos, ons vra partykeer hoekom dit klaarblyklik so goed gaan met die goddelose. En hoekom werk hulle geldsake altyd uit? En hoekom is hulle so suksesvol? Wel, die antwoord is eenvoudig. Die telkaart se punte is nog nie opgetel nie. Want soos Niek op die golfbaan die heeltyd gedink het hy wen, het hy nie besef die uitslag is laaank terug al bepaal nie. Daar by die kruis van Jesus - daar is die uitslag in ons guns vasgemaak. Daarom vertel die duiwel vir ons ons gaan dit net maak as ons perfekte houe speel met perfekte toerusting. Intussen is dit nie nodig nie, want ons speel nie meer vir 'n "wen" nie. Ons het klaar gewen. Nou speel ons sodat ander ook kan wen. Daarom wil die Here nie 'n sak vol Titleist stokke hê nie. Hy gebruik sommer dit wat in die boks is. Ons moet net ontslae raak van ons persepsie van 'n volmaakte stok. Jy sien, dis nie die volmaakte stok wat die spel wen nie, dis die volmaakte hou - en dis Jesus wat die hou slaan. Reguit, volmaak, vol punte, ongeag die krom stok.

Waar pas jy in? Sommer so in die alledaagse lewe - laat die Here toe om jou te gebruik, nes jy is!


 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)