| 
  Die einde kom! Is jy reg daarvoor? Die einde waarvan ek hier praat, 
			is die einde van ons lewens. Is jy reg daarvoor of ignoreer jy dit?
 Prediker 12 : 1 - 7
			Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die 
			jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie. 2 Dit is 
			die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan 
			en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën. 3 
			Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk 
			manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, 
			die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk, 4 
			wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van 
			die meul dof word, die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls 
			begin sing al hoor hy geen lied meer nie. 5 Dit is die tyd wanneer 
			hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd 
			wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself 
			moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd 
			wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die 
			straat rondgaan, 6 die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en 
			die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die 
			wiel by die put stukkend val, 7 die tyd wanneer die stof na die 
			aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat 
			dit gegee het. Die mens se lewe het 
			'n begin en 'n einde. Ek en jy is sterflike wesens - of ons dit wil 
			weet of nie. Hierdie gedeelte in Prediker beskryf die lewensproses 
			so ongelooflik mooi. Vers 1 sê daar kom 'n tyd wat ons gaan sê: Die 
			lewe is nie meer lekker nie. Die vraag is net: Het jy hierdie feit 
			al aanvaar, of stoot jy dit net uit jou gedagtes uit? Of jy nou 80 
			of 60 of 40 jaar oud is, weet dit kom. En maak voorsiening daarvoor. Ek lees 'n verhaal 
			uit Max Lucado van twee persone wat kastele bou. Een 'n klein 
			seuntjie wat 'n sandkasteel op die strand bou. Die ander 'n 
			"executive" wat 'n "empire" bou. Die seuntjie weet dat sy kasteel 
			met hoogwater weggespoel gaan word - en hy is heel gelukkig daarmee. 
			Die volwassene begin te laat agterkom dat hy nie voorbereid is nie, 
			en raak angsbevange en paniekerig. Wat is die verskil? Die seuntjie 
			verwag dit en maak vrede daarmee. Die volwassene storm die einde 
			tegemoet uit paniek, verwring sy prioriteite en verloor later alles. "Dink aan God in 
			jou jong dae, voor die swaar dae kom". Tot nou het ek vir 
			jou 'n redelike donker prentjie geskep, maar ons gaan dit regstel. 
			Eers 'n bietjie wetenskap. In vers 7 staan: "Dan word mens weer 
			stof soos vroeër, en sy lewensasem gaan terug na God toe waar dit 
			vandaan gekom het". Ek en jy is van 
			atome gemaak, wat van die begin van die skepping af bestaan en kan 
			nooit weer vernietig word nie, maar wel van samestellings verander. 
			Wat Prediker sê, "stof tot stof", is wetenskaplik korrek. As ons 
			sterf, verval die liggaam terug na sy basiese elemente (stof) en dit 
			sal weer iewers gebruik word. Klink of ons "ge-recycle" word. Nie 
			re-inkarnasie nie. My en jou gees (of siel) word egter deur God 
			geskep vir ons lewe op aarde, en gaan dan terug na of God toe, of 
			die verderf toe as ons sterf, en dit kan nie vernietig word nie. Dan 
			kom Prediker en hy skets ons lewe se einde op 'n treffende manier. 
			Ons sal moeiliker sien, hoor, loop, beweeg, en dis alles deel van 
			God se plan. Nog 'n wetenskaplike 
			feit: die dood is 'n voorwaarde vir lewe!! Vul hierdie gedagte 
			jou met vrees (vir die dood), of glo jy dat God sê: "Jou siel kom 
			terug na My toe?" Maak jou saak met God reg - dan is dit net 'n 
			oorgang na 'n beter plek toe. Wat maak ek en jy 
			met ons lewens? Hoe lyk jou prioriteite? Wat se waarde voeg ek en jy 
			toe tot die samelewing? Dalk net 'n woeste gejaag in die rotresies, 
			sonder om te sien hoe die golwe hoër en hoër begin aanstorm na ons 
			ou wankelrige kasteeltjie toe? Ek lees nog 'n 
			storie van 'n man wat 'n berekening maak en sê: Ons word ongeveer 75 
			jaar oud. Maal dit met 52 weke en ons kry 3900 Saterdae (of weke). 
			Toe die man 55 jaar oud word, gaan koop hy vir hom 1000 albasters en 
			gooi dit in 'n bottel. Dis ongeveer hoeveel Saterdae hy oor het. 
			Elke week het hy een albaster uitgehaal en weggegooi. Hoe leër die 
			bottel geword het, hoe meer het hy besef hoe kosbaar tyd is. Tyd 
			saam met sy familie, tyd vir homself en tyd om lekker dinge te doen. 
			Tyd vir God. Jy sien, ons wag tot ons lewens bottel leeg is voor ons 
			die lyke van gebroke verhoudings en verlore geleenthede raaksien. Jy 
			sien, ek en jy probeer alles in ons vermoë doen om die korporatiewe 
			druk gelukkig te hou, om die sakke van ander vol geld te kry, voor 
			ons wakker skrik en sien watter skade ons doen. Hoeveel albasters is 
			in jou bottel oor? Miskien min, maar dis nie te laat nie. Kry jou 
			prioriteite reg. Maak tyd om die lewe te geniet. Pak iets lekker 
			aan, want jy verdien dit. Jy sien, die laaste dae waarvan die 
			Prediker praat, kan òf vir jou 'n verskrikking wees, òf 'n tyd waar 
			jy nuwe geleenthede benut. Kry nou al 'n stokperdjie, 'n sport, of 
			enigiets wat jou jonk hou. Maar bo alles, maak tyd vir jou 
			geliefdes, vir jouself, en jou Koning.
 |