| 
             
             
			
			 Kom ek vertel vir jou 'n storie: 'n
      Man loop in die veld en kom by 'n hoop droë bene, skelette van afgestorwe
      mense. Die bene lê in 'n oop gat, die son skroei al vir jare daaroor.
      Daar is geen vel, geen hare, niks - net bene. Wat dink jy? Sien die man
      enige lewe in die bene? Sal dit ooit weer mense kan word? En dan … begin
      hy met die bene praat. Ewe skielik is daar 'n gerammel, die bene skuif na
      mekaar toe, elkeen na die res van die oorspronklike liggaam toe. Die man kyk
      verstom hoe senings, vleis en vel oor die bene begin vorm, en skielik
      begin hulle opstaan! Skrikwekkend! Haarrysend! Klink soos 'n verhaal uit
      'n riller. Glo jy flieks waarin jy sulke goed sien? Natuurlik nie, maar
      dit klink na 'n lekker een vir 'n laatnag kampvuurstorie. Is dit moeilik
      om dié storie te glo? Wel, jy móét, want dit staan in die Bybel. 
      Esegiël 37:1-14 
      1 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van
      die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol
      bene. 
      2 Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie
      bene in die laagte en hulle is baie droog. 
      3 Toe vra Hy vir my: "Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe
      kom?" Ek het geantwoord: "Nee, dit weet net U, Here my
      God." 
      4 Hy sê toe vir my: "Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir
      hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 
      5 So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom
      sodat julle kan lewe: 
      6 Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan
      sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek
      die Here is." 
      7 Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen,
      hoor ek 'n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been
      toe wat by hom pas. 
      8 Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel
      bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 
      9 Toe sê die Here vir my: "Praat nou as profeet met die gees, tree
      op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die
      vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan
      lewe." 
      10 Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die
      gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was 'n baie groot
      menigte. 
      11 Die Here het vir my gesê: "Mens, al hierdie bene stel die hele
      Israel voor. Hulle sê: 'Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer
      nie, dit is klaar met ons.' 
      12 Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle
      grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring
      na die land Israel toe. 
      13 Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal
      julle besef dat Ek die Here is. 
      14 Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle
      in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het
      dit gesê en Ek sal dit doen," sê die Here. 
       
      … dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê, en Ek sal
      dit doen. Hierdie verhaal word nie vertel soos 'n gelykenis nie. Dit het
      regtig gebeur. 
      Dit is die  Gees van God wat lewe gee. Glo
      jy dat God die vermoë het om so iets letterlik te doen? Onthou jy nog dat
      die grafte oopgegaan het toe Jesus sterf? Matt 27:52: Grafte het oopgegaan
      en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte
      uitgegaan, waarna hulle aan baie mense verskyn het. Die Gees van God is
      só kragtig dat dit lewe in dooie bene bring. Glo jy dit? Dis dieselfde
      Gees wat in jou is. 
      Es 37:3 Mens, kan daar in
      hierdie bene weer lewe kom? 
      Wat sou JY antwoord? Esegiël sê: "nee, dit weet net U, Here my
      God". Goeiste, 'n man moet darem regtig baie geloof hê om dit te
      glo. Toe sê die Here vir hom om met die bene te gaan praat. En Esegiël
      doen dit! In vers 11 sê die Here: "Mens, al hierdie bene stel die
      hele Israel voor. Hulle sê: 'Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop
      meer nie, dit is klaar met ons.'" En net so, is ons land ook vol
      droë bene. Hooploos, vleisloos, Geesloos. 'n Volk / land vol droë bene
      is 'n land waar lewe ontbreek by baie mense. Geesloos, Goddeloos. Sjoe,
      dit klink neerdrukkend, maar dit is tog wel so op baie plekke in die
      wêreld. Dis die slegte nuus. Maar … die goeie nuus is, God kan lewe gee
      in droë bene, as Hy Sy Gees daarin blaas. Vir God is alles moontlik! Hy
      sê in vers 12: "Dan sal julle besef dat Ek die Here is"
      Het jy al gesien hoe roekeloos mense met God omgaan? So blasé, asof Hy
      tot niks in staat is nie. Eendag sal almal besef dat Hy God is - elke knie
      SAL voor Hom buig. Jy sien, al is 'n land die ene droë bene, gee God
      nooit op op Sy kinders en Sy volk nie. Al is die mens hóé uitgedroog en
      leweloos, kan God deur Sy Heilige Gees lewe daarin blaas, nuwe dinge doen,
      harte van klip vervang met harte van vlees. Hy kán weer Sy volk se land
      herstel, hy kán hulle weer oprig. Hy bring weer hoop, want waar hoop is,
      is lewe. Dit maak nie saak hóé droog die bene is nie, as die Gees van
      God daaroor waai, kom daar lewe. 
      Die Gees van God bring lewe! Daar
      staan 5 keer in hierdie gedeelte dat die Gees van God gaan maak dat
      hierdie bene lewe. Jy sien, die mens kan nie lewe skep nie. Maar, toe God
      vir Adam en Eva geskep het, het Hy die lewensasem in hulle ingeblaas. Net
      Hy bring lewe. Wat is lewe? Om net asem te haal, 'n polsslag te hê, te
      eet? Is dit lewe? Nee, as die Here in vers 12 sê "en Ek sal julle
      terugbring na die land Israel toe" beteken dit dat Hy hulle land
      gaan herstel. Hy wil die droë bene se status herstel, voorspoed gee.
      Hulle sal léwe, nie net bestaan nie. God kon mos sélf die bene weer in
      mense verander het, Hy gee egter vir Esegiël die opdrag om vir hulle te
      gaan profeteer. Kan jy dink hoe verspot dit moet voel om met 'n hoop droë
      bene te gaan praat? So, dink ek, gee die Here vir my en vir jou ook die
      opdrag om met die "droë bene" in ons samelewing te gaan praat -
      mense wat al só hooploos is, dat hulle soos lyke ronddwaal. Die volgorde
      is interesssant: Esegiël het eers net vir die bene gesê dat God die lewe
      in hulle gaan teruggee, en "dan sal julle besef dat Ek die Here
      is". Daarna praat Esegiël met die Gees, en roep die Gees uit die
      vier windstreke. Dan kom die lewe. 
      In vers 7 lees ons dat die bene na
      mekaar toe beweeg het, elkeen na die ander bene wat by hom pas. Dit laat
      my so dink aan die liggaam van Christus (Sy kerk hier op aarde) … daar
      waar die liggaam van Christus nie meer funksioneer nie, word die bene dor
      en droog. Ek glo die Here wil hê dat Sy kerk in eenheid voor Hom sal
      staan om as lewende eenheid Hom te aanbid. 
      Wat moet ek en jy vir die droë
      bene gaan sê? 
      1) Dat God lewe gaan bring in die droë bene, sodat daar hoop sal wees.
      Dan sal die bene besef dat Hy die land wil en gaan herstel. Nie om die
      volk te wees wat ons 5 jaar terug was, of voor 1994, of tydens die Groot
      Trek nie .. nee, Hy wil ons terugbring na Hom toe; naby aan Hom om die
      beste van die beste te beleef, om die melk en heuning te geniet. Om as 'n
      volk Hom te aanbid … dit is herlewing. 
      2) Dat Hy die enigste en ware God is. Hoe kwalifiseer ons dit? Wie is God?
      Wie is almal God? Net één. Hy het 'n Seun, Sy eniggebore, ons Verlosser.
      Geen Seun, geen God - punt. 
      3) Dat lewe net deur die Heilige Gees kan kom. Geen Gees, geen lewe -
      punt. 
      Miskien is ek en jy nie per
      definisie profete nie, maar hierdie opdrag is vir jou en my. 'n Land vol
      bene (of lyke) is 'n spookdorp. 'n Land vol lewe het hoop deur Christus
      wat in ons woon, deur die Heilige Gees. DIT is lewe. 
  
      					 |