Matt
13:18-23
"Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken:
Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit
nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy
by wie daar op die pad gesaai is. Die man weer by wie daar op die
klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met
blydskap aanneem. Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en
hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en
vervolg word, word hy gou afvallig. Die man by wie daar tussen die
onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis
van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en
dit bly sonder vrug. Die man by wie daar op goeie grond gesaai is,
is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en
lewer `n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms
dertigvoudig."
Die welbekende gelykenis van die saaier: die saad val
op die pad, tussen die onkruid, op die klipbanke en dan uiteindelik
in goeie grond – daar ontkiem die saad, begin groei en dra
uiteindelik goeie vrug … dertig maal, sestig maal en honderdvoudig.
Kom ons kyk bietjie na saad, voordat ons kyk na vrug dra.
Saad is `n ongelooflike ding! Druk hom in die grond,
en hy groei. Of dit nou goeie saad of onkruid is. Onkruid groei
natuurlik net makliker en vinniger. Die grond het hierdie
bonatuurlike eienskap om saad se buitenste doppie af te breek, sodat
dit ontkiem en begin groei. Vat `n hand vol grond, en jy sal nooit
sê dat daardie klomp sandkorrels hierdie vermoë het nie. Watter
wonderlike kwaliteite lê in daardie hand vol grond opgesluit? Selfs
in woestynsand – as daar net `n bietjie vog is, groei daar iets.
Nou, kom ons dink `n bietjie: waarvan is ek en jy
gemaak? Wat sê Gen 2:7? “Toe het die Here God uit die stof van die
aarde die mens gemaak …”. Dit is heeltemal korrek bewys deur die
wetenskap. Stof tot stof. Dus is ek en jy `n stuk aarde (grond). Die
aarde “leen” as’t ware vir ons die atome, molekules en selle. Ons
het dit vir miskien so 80 jaar , en dan wil die aarde dit weer
“terughê”. In daardie 80 jaar sal hierdie stuk “wandelende aarde”
ook enige saad groei wat daarin geplant word. Goeie EN slegte saad.
Maar … miskien sal die slegte saad makliker groei!
Ons word gevorm deur die saad wat ons in ons lewens
toelaat, en so mettertyd, word ons bome (wat hopelik by die lewende
waters geplant is!), wat uiteindelik vrug dra … dertig, sestig of
honderdvoudig. En soms is dit net slegte vrugte, of dalk selfs glad
nie vrugte nie. Dit hang af van hoe goed jou grond is, maar ook hoe,
en deur wie dit gevoed word. Nogal interessant dat die Here vir
hierdie stuk wandelende aarde die keuse gee hoeveel, en of hy vrug
dra.
Wat se saad is in jou lewe? Onthou dat `n doringboom
se saad nie appels kan oplewer nie. Dis `n natuurwet wat deur
niemand verander kan word nie.
Die gelykenis van die saaier sê dat die saaier saai.
Hy sien tog seker waar die saad val, of hoe? Hy kan mos sien as van
die saad op die klipbanke val, of op die pad? Maar … hy saai
nogtans. Hoe lyk ons lewensgrond waarin die saad kan val? Is dit
miskien `n klip-hart, waar die saad nie kan ontkiem en groei nie,
waar die boom geen vrugte kan dra nie? Laat ons dalk `n klomp
onkruid in ons harte toe, sál dit uiteindelik die goeie saad
verdring. Val dit op die harde pad in ons lewens, pik die voëls dit
op. Iemand kom saai die saad in ons lewens, en ander kom vee dit weg
… doemprofete, vals leraars, verkeerde invloede – voëls pik dit op.
Maar, is ons lewens voorbereide, goeie, sagte grond, sal die saad
groei en die lieflikste, sterkste bome word wat vrug dra. Goeie saad
in goeie grond, bring goeie vrug.
Paulus sê in 1 Kor 3:6: “Ek het geplant, Apollos
het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het”. Die een
verkondig die Evangelie, `n ander een versorg die klein plantjie,
maar dis net God wat die groei teweegbring. Dan kom daar eintlik vir
ons `n opdrag: dra honderdvoudig vrug! Ons het goeie saad gekry, God
het dit laat groei … kom daar enige vrug van?
Wat beteken dit om goeie vrug te dra? Om dit wat jy
ontvang het terug te gee in God se Koninkryk. Kan jy sien dat `n
goeie vrug weer goeie saad bevat? Kan jy sien dat goeie vrugte
voedend en heilsaam is vir ander? Besef jy dat die boom absoluut
niks met sy eie vrugte kan doen nie? Kan jy sien dat die boom nie
kan teer op sy eie vrugte nie? Verstaan jy dat vrugte wat nie tot
ander se voordeel gebruik word nie, sy voedingswaarde verloor as dit
op die grond val en opvrot? En nog meer … as God nie die voedings
werk doen nie, word die vrugte vals vrugte. Dis soos iemand wat
honger in die veld stap en in die verte `n wonderlike lemoenboom
sien. Soos hy nader kom sien hy hoe die lemoene helder oranje aan
die boom hang – groot en sappig op die oog af. Hy begin al die soet
in sy mond proe, kan nie wag om te eet nie. Met `n dringende
drafstappie kom hy uiteindelik by die boom, steek sy hand uit en
pluk. Dan, met `n skok voel hy hoe lig die lemoen is ... dis
heeltemal leeg. Dan besef hy dit is net een van daardie plastiek
lemoene wat Ouma altyd in `n bak op die eetkamertafel gehad het.
Nutteloos, leeg, vals. Dra ons nie dalk sulke vrugte nie?
Gal 5:22-23 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is
liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die
wet niks nie.
Hier is nege elemente wat Paulus noem van vrug dra,
en dit is almal sigbaar, en almal op ons medemens gerig. Niks van
hierdie vrugte is vir die boom self bedoel nie. Almal is tot
voordeel van ander. As ons hierdie vrug dra, is ons besig om aan te
gee na ander. Dan is ons besig om saad te plant in ander se lewens,
lewens waar die Here reeds die grond voorberei het. Ander mense wat
ook vatbaar is vir onkruid, maar smag na goeie saad. Ander mense wat
dan deur God aangeraak word, sodat dié saad kan groei en vrug kan
voortbring – honderd maal, sestig maal of dertig maal. As ek en jy
dit NIE doen nie, sal daardie stukkie wandelende grond waarskynlik
onkruid dra … met verskriklike gevolge vir sy of haar familie,
kollegas, vriendekring, kinders, ens.
Hoe weet mense watse vrug ons dra? Meestal deur ons
te hoor, ons aksies en dade te sien, en ons gedrag in die algemeen
te sien. Gal 5:25: “Ons lewe deur die Gees,
laat die Gees ook nou ons gedrag bepaal”.
Die vrug van ons lewe kan:
-
Vrot word en op die grond val. Dis wanneer
ons weg van die Een beweeg wat die groei laat plaasvind. Daardie
voedingswaarde is vir ewig daarmee heen.
-
Baie goed lyk, maar vals vrugte wees – leeg,
lig en nutteloos. Dis wanneer ons die regte klanke maak,
selektief korrek optree, maar geen inhoud het nie. Eintlik `n
baie slegter scenario as die vrot vrugte… want dit laat mense
struikel.
-
Goeie vrug wees. Voedend, heilsaam, tot
voordeel van ander. Ja, ons is sondige mense, maar as
wedergeborenes kan ons dalk `n kolletjie op die skil hê, maar
binne volmaak en heilsaam wees; die saad wat daarbinne opgesluit
is, kan `n groot verskil maak. Kom ek vra jou só: hoeveel pitte
is in `n appel? Miskien so 6 tot 8. Maar hoeveel appels is in `n
pit? Dit kan nie eens getel word nie. So, ons aksies kan
miljoene vrot appels voortbring of miljoene goeies.
God het goeie saad in jou geplant,
my vriend. God laat dit groei. Mag jy goeie vrug dra – eenhonderd
maal.
|