| 
            
  God. ‘n Baie 
      bekende woord, ‘n baie bekende naam, ‘n baie bekende Persoon. Die mees 
      bekende Persoon op aarde, en in die hemele. Mense roep Hom aan, mense het 
      verskillende opinies oor Hom, mense verbind aan Hom uit verskillende 
      verwysingshoeke, ons probeer Hom peil en plot. Sy naam word soms as ‘n 
      skelwoord gebruik, sommiges betwyfel Sy bestaan, ander word kwaad vir Hom. 
      party soek hulle lewe lank na Hom, en kry Hom nooit. Ander beweer Hy het 
      Hom aan hulle openbaar, hulle kry drome waarin Hy met hulle praat .... 
      maar ek nooit. Waar kom Hy vandaan? Hoe lyk sy woonplek? Job 23:1-17Toe het Job weer gepraat: “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie 
      ophou kla nie. As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy 
      woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek 
      sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê. 
      Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie; Hy sal my dit 
      nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit 
      en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. Maar gaan ek na die 
      ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die 
      noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide 
      toe draai, ek sien Hom nie. Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer 
      soos goud.          Ek volg Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai 
      nie af nie. Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde 
      as aan my eie begeertes. Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan? Wat Hy 
      wil, doen Hy. Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen, wat sy planne met my 
      ook al is. Daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, 
      maar ek bly Hom vrees. God het my weerstand afgebreek, die Almagtige het 
      my met angs vervul. Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie, in 
      hierdie duisternis wat my oorval het.”
 Dis Job se 
      woorde; en so voel ek ook. Ek sit elke week hier in Rippel se ateljee en 
      praat oor Hom en bedien mense op verskeie plekke; ek was jare lank 
      betrokke met evangelisasiewerk, waar ek die evangelie met baie mense 
      gedeel het; daar is vrug op ons werk .... maar as jy my vandag vra om Hom 
      te verduidelik, Sy weë uit te pluis, Hom op ‘n manier in ‘n boks te plaas 
      sodat Hy en wat Hy doen kan sinmaak, dan kan ek nie. Want ek verstaan Hom 
      nie. Ek verstaan tonne dinge wat Hy doen en toelaat net eenvoudig glad 
      nie. Soos Job sê: “Ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees”. Maar 
      nogtans kan ek onomwonde sê: ek is werklik lief vir Hom. Hoe baie probeer 
      ons nie om in ons eie menslikheid formules aan Hom toe te ken en Hom te 
      probeer verduidelik nie. E=mc2 is Einstein se formule. Dit 
      verduidelik die son wat skyn, en hoe ‘n atoombom groot verwoesting laat 
      plaasvind. ‘n Klein bietjie massa word vernietig en onbeskryflik baie 
      energie word vrygestel. Ek verstaan die formule ... soort van. Maar watter 
      formule beskryf die Here? God = , God is gelyk aan wat?  
      Eks 3:13-14Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê 
      vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en 
      hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê 
      God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ 
      het my na julle toe gestuur.”
 “Ek is..”. Ek is 
      wie? Ek is wat? Dié beskrywing beskryf nie in verstaanbare taal wie Hy 
      regtig is nie. Verstaan jy Sy 
      werke? Ek bely vandag dat ek nie verstaan nie. Jy sien, dit is hierdie 
      ding van “on-verstaan”, wat maak dat ongelowiges vir Christene uitlag. 
      Want, ek moet self sê ek verstaan nie hoekom ek glo nie.  Heb 11:1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig 
      te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
 ... dit maak net 
      eenvoudig nie sin nie. Ek verstaan nie hoekom ek onwrikbaar glo in die 
      maagdelike geboorte, die kruisiging en opstanding en hemelvaart van Jesus 
      nie. Ek verstaan nie, maar ek GLO dit! Hoe maak dit sin....? Hoekom leef ons 
      so goed in Suid-Afrika, in hierdie lieflike sonskynland? Maar ‘n paar 
      duisend kilometer Noord gaan kinders dood van die honger. Hy is tog 
      sekerlik net so lief vir daardie mense as vir ons, of hoe? Hoekom raak ‘n 
      wonderlike, wedergebore egpaar se kind verslaaf aan dwelms, maar my 
      kinders nie? Hoekom bid ons intensief, in volle afhanklikheid van God, vir 
      ‘n kind met kanker en dan gaan daardie kind dood? Intussen sit ‘n 
      boemelaar, so vuil dat jy nie met ‘n tang aan hom kan vat nie, op die 
      sypaadjie en bedel; dalk voel hy niks eers vir die Here nie. Al sy organe 
      werk perfek - dit kan tog seker eerder vir iemand anders, ‘n goeie mens, 
      aangewend word?  Hoekom word mense gestremd gebore? God wat die mensdom 
      dan so volmaak geskep het. Maak Hy dan so nou en dan ‘n ou foutjie?  Maar... om een of 
      ander onverklaarbare rede, hou hierdie siekes, en gestremdes, en 
      getraumatiseerdes, hierdie mense wat soms so gebroke is, onwrikbaar vas 
      aan hulle geloof in God. So asof hulle hierdie “magic” formule ken, wat ek 
      nog nie ontdek het nie. Hoekom draai hulle nie hulle rug op Hom nie? Nee, 
      hulle vlug juis na Hom toe! En kry ongekende vertroosting. Ek verstaan 
      nie...? Uiteindelik kom 
      ek toe tot hierdie besef; en ek stel dit in ‘n vraag: sê nou maar ek hét 
      Hom verstaan, en ek hét Sy formule geken, sou Hy dan nog steeds ‘n God vir 
      my gewees het? Sou Hy nog majestieus en soewerein gewees het? Belangrikste 
      van alles: sou ek nog geloof nodig gehad het? Kom ek sê nou reguit hoe ek 
      voel: Ek kies honderd persent om nie te verstaan nie, maar om te glo. Nie 
      andersom nie. So weet ek dat die Heilige Gees in my woon. So verstaan ek 
      dat Jesus se kruisdood my heil is, en dan kan ek glo in ‘n ewige lewe saam 
      met Hom.   As ek hom 
      verstaan het, sou ek deurgaans kon eis vir verduidelikings; Hy sou altyd 
      moes “please explain” vir dinge wat Hy toelaat. Hy skuld my niks, maar tog 
      oorlaai Hy my met genade. Ek verdien niks, en tog leef ek in oorvloed. Wil 
      Hy nie dalk hê dat ek net so bietjie moet deel van hierdie oorvloed nie? 
      Goddank, Hy vat nie alles weg waaroor ek soms so kla nie. Sê nou maar net 
      ek het vandag nét dit gehad waarvoor ek gister dankie gesê het? Sê nou net 
      Hy vat jou kinders weg oor wie jy so kla? Of jou werk wat jy so 
      swaarmoedig doen? Of jou wederhelf wat net nooit goed genoeg is nie? Of 
      jou huis wat te klein geword het omdat jou goed so baie geword het? Of jou 
      gesondheid wat jy dalk opmors? Maar dit lyk my Hy doen dit nie sommer 
      nie.... en DIT verstaan ek regtig ook nie. Soms mors ek met Sy genade, 
      maar Hy onttrek dit nie.  .... daarom staan 
      ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees.
 |