| 
              
			
			 In 
			1948 het 'n boek uitgekom met die titel "1984", geskryf deur George 
			Orwell. Hierdie boek het gehandel oor 'n tyd wat sal kom waar die 
			mens nie meer privaatheid sal hê nie. Alles van jou sal iewers op 
			rekord wees. Alles wat jy doen, alles wat jy besit, alles oor jou 
			verlede, al jou bewegings, jou finansiële status, jou kontak met 
			ander, jou gewoontes … al hierdie inligting sal gedokumenteer word, 
			en sal soms téén jou gebruik word. Sjoe, dit klink erg, of hoe? En 
			dit klink bekend, of hoe? 
			
			Inderdaad, dit is toe so: in meer as een opsig word 
			ek en jy fyn dopgehou. Kameratjies hou jou in jou huis dop, 
			mikrofoontjies is oral … in die meeste huise. Alles wat jy doen, 
			oral waar jy gaan, alles wat jy sê, elke beweging, word waargeneem, 
			gedokumenteer en teen jou gebruik. Dit word gestoor, oorgedra, ge-"copy", 
			aangestuur vir ander. Klink erg! 
			
			George Orwell gebruik die uitdrukking in sy boek: "He 
			who controls the past, controls the future". Wat gesien is, is 
			gesien, wat gesê is, is gesê, wat waargeneem is kan nie uitgevee 
			word nie…. "big brother is watching you". 
			
			Die waarheid is: ons as Christene word dopgehou. Die 
			wêreld soek fout in ons mondering, daar word fyn gekyk na ons 
			bewegings, fyn geluister na ons taalgebruik - en dit word deur 
			verskillende partye gedoen: 
			
			1. Ons kinders: 
			Spreuke 4:20-27: My seun, hoor wat ek vir 
			jou sê, luister goed na my woorde! Moet dit nie vergeet nie, hou dit 
			altyd in gedagte, want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister, 
			'n volle lewe vir hom wat dit besit. Wees veral versigtig met wat in 
			jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Weerhou jou van 
			leuens, moenie mense mislei nie Weerhou jou van leuens, moenie mense 
			mislei nie. Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. 
			Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie 
			links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers. 
			
			Hier leer Salomo ons om ons kinders te leer, om hulle 
			te onderrig in die lewe. Ons vertel hulle elke dag wat reg en 
			verkeerd is. Ons raas, ons skree, vertel, slaan … alles om 'n goeie 
			opvoeding te probeer verseker. En dan .. kom die kameratjies uit 
			(die oë), en die mikrofoontjies (die ore), en elke beweging wat ons 
			maak, elke woord wat ons sê word opgeneem en op 'n harde skyf 
			gestoor … in hulle breine, van kleins af. Hulle hou ons dop: hulle 
			hoor hoe ons praat in die motor, en op die telefoon, daar tussen ons 
			vriende. Hulle sien waarna ons kyk op die TV, sien hoe ons op ons 
			selfoon praat terwyl ons bestuur, sien as ons nie by die stopstraat 
			stop nie - hulle neem alles waar, en die volgende word dalk waar: 
			"He who controls the past, controls the future". En weg is ons 
			magsbasis; die kinders sê: "Maar Pa, jy doen dit dan"… die inligting 
			wat hulle oor jou bymekaar gemaak het word teen jou gebruik, en jy 
			het jou opvoeding met 'n plank geslaan! If jou don't walk the talk, 
			watch out, little Jannie's watching you". Hy ken jou verlede, hy kan 
			jou toekoms beheer. 
			
			2. Die wêreld: 
			Die volgende party wat jou dophou is die wêreld. Om een of ander 
			rede is die ongelowige wêreld vreeslik begaan oor jou heiligheid. 
			Daardie skewe woord of onsmaaklike grappie of wit leuentjie word op 
			'n harde skyf opgeneem. 'n Christen wat in sy swakheid gefaal of 
			gefouteer het, word nie maklik deur die wêreld vergewe nie. Verklaar 
			vandag dat jy tot bekering gekom het, en more is die kameratjies en 
			mikrofoontjies uit en jy word dopgehou, krakies gesoek. Ons swakhede 
			word die wêreld se verskoning om nie vir Jesus na te volg nie. 
			Daarom moet ek en jy BAIE versigtig wees hoe ons lewe. 
			
			Spr 14:12: "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens 
			reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood." Daarom gee 
			die Here vir ons riglyne wat onfeilbaar is: 
			Gal 5:19-24: Die praktyke van die sondige 
			natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 
			afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, 
			verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al 
			dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku 
			het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van 
			God as erfenis verkry nie. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is 
			liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, 
			getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die 
			wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige 
			natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 
			
			As ons nie só leef nie, neem die wêreld kennis en dan 
			word hierdie waar: "He who controls the past, controls the future" 
			
			3. Satan 
			Die verleier, die engel van die lig, die aanklaer - hy hou jou ook 
			fyn dop. Hy is mal oor Christene se swakhede. Hy herinner jou 
			aanhoudend aan jou verlede .. die foute van laas jaar, laas week, 
			gister, netnou. Hy probeer sy tande inslaan in jou onvolmaaktheid, 
			en hy probeer die volgende waar maak: "he who controls the past, 
			controls the future" . Hoe kry hy dit reg? Dit is ek en jy wat dit 
			toelaat. Dit gebeur wanneer ons nie Jesus se vergifnis verstaan en 
			aanvaar nie. Die punt is egter, ons kan nie maak wat ons wil as ons 
			gered is nie. My onvolmaaktheid kan nie as verskoning gebruik word 
			wanneer ons 'n slegte voorbeeld by die huis is nie; en by die werk 
			moet ons die vrug dra wat by bekering pas. Berou oor foute beteken 
			dat ek daarna streef om dit te laat staan. Heiligmaking is om meer 
			en meer soos Jesus te leef. 
			Ef 4:27: "Moenie die duiwel vatkans gee nie" 
			
			Wat is die oplossing dan? Wel, dis maklik. As ons ons 
			hele lewe en lewenswandel vir Jesus gee, gebeur 'n wonderlike ding! 
			Toe Jesus aan die kruis gesê het: "Tetelestai", het Hy die hele 
			verlede uitgewis, alles wat ek en jy ooit verkeerd gedoen het, is 
			met "Tetelestai" uitgevee, die harde skyf is ge-"format". Jesus kyk 
			nie terug nie, onthou nie die verlede nie …. Hy kyk vorentoe. Hy 
			verander Orwell se uitdrukking na "He who controls the future, 
			forgets the past". Hy het reeds met die verlede klaargemaak, dit aan 
			die kruis afgehandel … "dit is volbring". Niemand kan jou oor jou 
			verlede by Hom aankla nie. 
			
			Maar nou: liefde, vreugde, vrede, geduld, 
			vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en 
			selfbeheersing - teen sulke dinge het Jesus niks nie. 
  |