| 
            
  Jy is nes jou pa! 
      Het jy dit al gehoor? Of gesê? Is dit 'n aanklag, of 'n kompliment? Dis 
      eintlik 'n ongelooflike waar stelling, want dit sal so wees. Jou pa laat 
      goed agter in jou lewe - goed of sleg – of jy wil of nie. En so sal jy ook 
      maak, en jou kinders sal dit ook doen. Ons noem dit invloed. Ons lees egter in 
      die Bybel 'n ongelooflike stuk hieroor, waar hier van goeie invloed 
      gepraat word, en wat ek en jy vir onsself kan neem. Joh 5:18-26Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy 
      het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem 
      en Hom so met God gelyk gestel. Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: 
      “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen 
      maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die 
      Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; 
      en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal 
      staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun 
      ook lewend wie Hy wil. Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die 
      oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die 
      Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook 
      nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle: Wie luister 
      na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy 
      word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe 
      oorgegaan. Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die 
      dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor 
      gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook 
      aan die Seun gegee om dit in Homself te hê.
 'n Pragtige 
      gedeelte. Jesus sê pertinent van Homself die volgende woorde:- “Dit 
      verseker Ek julle, die Seun kan niks uit Sy eie doen nie. Hy doen maar net 
      wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ookal doen, doen die Seun ook”. 'n Groot stuk 
      waarheid, wat vandag ook in my en jou lewe waar is. Jesus onderwerp 
      Homself, met alles wat in Hom is, aan Sy Vader en Hy doen niks uit Homself 
      nie, niks uit Sy eie krag nie, en niks sonder die Vader se seën nie.  Weet jy hoekom? 
      Want Sy Vader is volmaak en navolgenswaardig. As Iemand vir Jesus sou sê: 
      “Jy is nes jou Pa”, sal dit 'n onbeskryflike kompliment wees. Ons doen 
      dieselfde op aardse vlak, dis 'n gegewe, maar ons is nie volmaak nie en 
      ons het ook nie volmaakte aardse pa's nie. Daarom moet ons maar 'n bietjie 
      onderskeiding aan die dag lê en eerder doen soos Jesus gedoen het, want Hy 
      het gedoen wat Sy Pa gedoen het.  Eks 20:1-5Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: “Ek is die Here jou God wat 
      jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen 
      ander gode hê nie. “Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak 
      van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water 
      onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die 
      Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van 
      hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My 
      haat.
 Wat beteken dit? 
      “Ek reken kinders die sondes van hulle Vaders toe”. Beteken dit dat die 
      sondes van die vaders outomaties oordra na die kinders toe? In 'n mate is 
      dit SO waar! Of beteken dit dat ons gestraf word vir ons vaders se sondes? 
      NEE, nie binne die konteks van die verlossingswerk van Jesus nie. Daarom 
      is ek so bang vir oordrewe klem op voorvader-vloeke. Die Here handel mos 
      met my binne die raamwerk van my geloof in Hom, en Sy verlossingswerk in 
      my.  Hoe dit ook al 
      sy, ons ouers het ons beïnvloed, ons beïnvloed ons kinders en so sal dit 
      wees van geslag tot geslag. Maar is dit 'n verskoning om jou foute oor te 
      dra op jou kinders? Nee! My pa was 'n eenvoudige man wat net St 6 geslaag 
      het en sy kinderlewe was baie sleg. Maar hy het besluit om nie alles te 
      doen wat hy sy pa sien doen het nie. Vandag doen ek baie dinge wat ek my 
      pa sien doen het want my pa was 'n goeie voorbeeld vir ons. Hy was baie 
      lief vir my ma, hy het haar Kroon genoem en haar so behandel. Hy was goed 
      vir ons en het ons nooit sleg behandel nie. 'n Hardwerkende, eerlike man. 
      As ek dus slegte dinge doen, is dit verseker nie my pa se skuld nie. “Jy 
      is nes jou pa”, is dus vir my 'n kompliment.  As “Jy is nes jou 
      pa”, vir jou 'n aanklag is, kan jy dit verander, as jy wil. 'n Goeie 
      Rippel vriend, wat aan drank en dobbel verslaaf was, het 'n klompie jare 
      gelede op een goeie dag net met alles gestop. Totaal opgehou. Iemand wat 
      dalk eens as 'n “disgrace” gesien was, het verander in die held vir sy 
      gesin, en 'n staatmaker in sy gemeenskap en kerk. Vandag is sy gesin trots 
      op hom, want hy doen wat hy sy Geestelike Vader sien doen. Sy kinders kan 
      dus nou ook doen soos hulle hom sien doen, met trots. Die kringloop is 
      gebreek. Hoor hoe pas Eks 20:6 nou hierby aan: “Maar Ek betoon My 
      liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en My gebooie 
      gehoorsaam”.  Sien jy hoe maklik hierdie kringloop kan verander en 'n 
      verskil maak in geslagte wat kom?  Na wie kyk jy? Na 
      jou onvolmaakte pa? Dis nou as jy nie so gelukkig was soos ek nie. Na wie 
      kyk jou kinders? Wie, of wat, sien hulle as hulle na jou kyk? Sou hulle 
      soos Jesus kon sê: “Ek doen net wat ek my Pa sien doen”. Hulle gaan dit in 
      elk geval doen.  Maar sê nou maar 
      daar was nie 'n goeie pa-figuur in jou lewe nie? Dan is die veilige opsie 
      om alles te doen soos wat Jesus dit sou doen. Omdat Hy net gedoen het was 
      Sy Vader gedoen het.
 Joh 14:1-11“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die 
      huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie 
      vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek 
      gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle 
      na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg 
      na die plek waarheen Ek gaan.” Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie 
      waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”
 Jesus het 
      vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na 
      die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook 
      ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” Toe sê Filippus vir 
      Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” En Jesus sê 
      vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My 
      sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?       Glo jy 
      nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met 
      julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat 
      in My bly en sy werke doen. Glo in My omdat Ek in die Vader is en die 
      Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.    Pragtige gedeelte 
      wat jy gerus kan bestudeer. 'n Beter rolmodel is daar nie, ongeag of ons 
      aardse pa's goed gedoen het of nie. “As julle My ken, sal julle My Vader 
      ook ken”. Die Vaderhart van God kry ten volle gestalte deur Sy Seun,  
      Jesus Christus, tot wie ons nou volle toegang het, deur die Heilige Gees. 
      En as ek en jy wil weet hoe om die beste denkbare rolmodel te wees, dan 
      verbind ons onsself ten volle aan Jesus, en ons doen wat ons Hom sien doen 
      het in die Woord. 
      Die 
      grootste ding wat Jesus by Sy Vader gesien het, was liefde, want daar 
      staan “God is liefde”. En omdat Hy gedoen het was Sy vader gedoen het, is 
      Hy ook liefde. Ware liefde kom tot volheid in ons as God in ons is. As 
      iemand dus vir jou kinders sou sê: Jy is nes jou pa, wat sal dit van jou 
      reflekteer? Sien mense vir Jesus in jou en my, of nie?
 |