| 
  Dankie 
			Jesus! Het jy dit al gesê? Iemand sê eendag: die slegste dag vir ‘n 
			ateïs is as hy dankbaar voel, maar daar is niemand om voor dankie te 
			sê nie. Wanneer ons dink aan Jesus se 
			kruisdood, is ons dankbaar vir wat Hy vir ons gedoen het, en ons 
			sê: dankie! Ons dink daaraan dat ons nie meer sal sterf vir ons 
			sondes nie, en ons sê: dankie! Ons glo dat Jesus in beheer is, en 
			ons sê: dankie! En dan kom die daaglikse dingetjies wat die Here vir 
			ons doen, en ons sê: dankie! Dan kom die wonderwerke... groot 
			wonderwerke, en ons sê: dankie! ... en dan gaan ons voort en vergeet 
			wat die Here gedoen het. Môre bekommer ons weer; môre maak ons weer 
			ons eie planne. Soms doen die Here iets gróóts in ons lewe, ons 
			getuig van ‘n bonatuurlike wonderwerk, ons is bly dat daar ‘n 
			lewende God is, ons sê dankie, en getuig van verhoë af van hierdie 
			wonderwerk en God se grootheid, en dan .... môre twyfel ons weer. 
			Wanneer moeilikheid kom (dalk kleiner as ons vorige probleme) 
			vergeet ons van die groot dinge wat God gedoen het, en ons vergeet 
			van “dankie” ... soos hierdie ouens van wie ons hier lees:
 
			Luk 17:11-19Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen 
			Samaria en Galilea langs gegaan. Net toe Hy ‘n sekere dorp wou 
			binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ‘n 
			afstand staan en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Toe Hy 
			hulle sien sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad 
			daarheen het hulle gesond geword. En een van hulle het, toe hy sien 
			dat hy genees is, omgedraai en God hard-op geprys, Hy het voor die 
			voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ‘n 
			Samaritaan. Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is 
			nie” Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat 
			omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 
			‘n Jood is nie?” En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou 
			geloof het jou gered.”
 
			Baie dankbaar – maar nie vir baie lank nie. Jy sien, 
			hierdie 9 ouens se geloof was wat ons noem tydelike geloof, of dalk 
			spaarwiel geloof, geloof wat vir Jesus misbruik het. Ek dink ons 
			almal was al in hierdie misbruik-skoene, veral as jy kinders/tieners 
			het. Hierdie ouens was deeglik bewus van Jesus se mag en 
			wonderwerke. Hulle het verseker geglo in Jesus. Toe Jesus sê: gaan 
			wys julle vir die priesters, het hulle dadelik geloop; hulle het 
			gesond geword, en nege hou aan loop. Net een draai terug na die Bron 
			van hulle genesing. Net een is bly genoeg dat hy genees is. Is 
			hierdie 1 uit 10 verhouding dalk vandag van ons ook waar? Ek hoor 
			nou die dag van ‘n persoon wat glad nie in die Here glo nie, want, 
			sê sy: die Here het nog nooit iets vir haar gedoen nie...... wat van 
			die suurstof wat jy elke dag gratis inasem?  
			Jy sien, ons sien graag die buitengewone wonderwerke 
			raak, maar besef nie dat wonderwerke elke dag om ons is nie. Onthou 
			jy toe ons nou die dag gepraat het oor mense met gestremdhede? Is jy 
			dankbaar dat jy self toilet toe kan stap en die deksel kan oplig? 
			Net dit! Of het jy ook (soos ek) nog nooit daaraan gedink dat dit ‘n 
			voorreg is nie?  
			Hier in Lukas 17 is dié een, die werklike dankbare 
			een. Ek dink egter hierdie ou het meer gekry as waarop hy 
			ge-“bargain” het. Hy kry nie net fisiese gesondheid nie, hy kry ook 
			ewige gesondheid. Jesus sê vir hom: jou geloof het jou gered. Nege 
			ouens kry fisiese gesondheid, en dit lyk of Jesus hulle laat begaan 
			maar kry (so lyk dit) nie ewige gesondheid nie. Hulle word nie gered 
			nie. Vir hulle werk net een deel van hulle geloof, die geloof vir 
			hier en nou. Hierdie nege ouens staar hulle blind teen hulle 
			liggaamlike gesondheid, en besef nie dat hierdie nuwe, gesonde 
			liggame hulle niks gaan help in die ewigheid nie. Hulle tydelike 
			geloof se opbrengs is maar van korte duur.  
			Die dankbare persoon is eerstens nie ‘n Jood nie, 
			maar ‘n Samaritaan – ouens wat tradisioneel as heidene beskou is. Hy 
			doen ‘n paar goed: 
			1)     Hy draai om en gaan terug na Jesus toe 
			2)     Hy prys die Here hardop 
			3)     Hy val voor Sy voete neer 
			4)     Hy bedank Hom  
			En toe, op die koop toe, verkry hy sy saligheid. Ware 
			geloof in aksie. Geloof wat ‘n groter opbrengs gee as hier en nou.  
			Dankbaarheid is dalk iets waarmee ek ook nie so goed 
			is nie. Ek is baie bly as iets goed gebeur, en vergeet dit maar ook 
			weer baie gou. Ons roep die Here aan in ons dag van benoudheid, en 
			glo dan regtig opreg. Ek dink ons moet net bietjie verder gaan met 
			dankbaarheid; laat dit oorgaan in geloof. Moenie dinge as 
			vanselfsprekend vat nie.  
			Goeie gesondheid is iets waaraan baie mense “ly”. 
			Maar ons vergeet van dankbaarheid solank daar goeie gesondheid is. 
			Kyk hoe ironies hierdie hele situasie is. Ons sê nie sommer dankie 
			as dit goed gaan en ons gesondheid goed is nie. Wanneer ons egter 
			hierdie goeie gesondheid verloor, is ons vinnig om by die Here te 
			pleit vir genesing. Dan kom die genesing, en ons sê so ’n vinnig 
			dankie (of glad nie)... en dan vergeet ons maar weer.  
			In vers 12 lees ons: “... maar hulle bly op ‘n 
			afstand staan en roep hard: Jesus, Here, ontferm U oor ons”. Ek 
			dink nie die Here wil hê ons moet op ‘n afstand staan en uitroep vir 
			gunsies nie. Ek dink Hy soek ons by Sy voete, in ‘n intieme 
			verhouding. Verseker nie vir spaarwiel geloof nie, maar ‘n naby 
			vriendskap. Ek dink die Here hoor nogal gereeld dankies vir die 
			bonatuurlike, maar selde vir die alledaagse wonderwerke, soos 
			asemhaal, soos om iets te ete te hê, soos liefde van vriende, soos 
			gemak by die huis, ‘n motor, ondersteuningstelsels, ens.   
			“Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom 
			gedank” .... wees vandag dankbaar!
 |