| 
			
  Steve 
			Farrar skryf in sy boek “Finishing Strong” die volgende: “Men, it 
			doesn’t matter if you’ve had a great start in the Christian life. It 
			doesn’t matter if you’ve stumbled time and again – or even fall flat 
			on your face. What matters most is how you finish. The man who hangs 
			in for the long haul with his wife, his kids and his Lord is an 
			exception these days. Maybe only one man in ten will do it”. 
			Sjoe, dis skrikwekkend! Baie spring weg. Baie spring 
			selfs goed weg, maar min maak goed klaar. Ek dink in die wedloop van 
			die lewe spring almal met goeie bedoelings weg, baie selfs topfiks, 
			sommige se ouers staan langs die baan en moedig hulle aan. Sommige 
			het die beste denkbare afrigting gehad. Ander was minder gelukkig. 
			Hulle ouers was nooit langs die baan nie. Nog ander se afrigting was 
			heeltemal uit lyn met die resies. Maar so hol mense die lewensresies. 
			Party spring te vroeg weg, ander spring weer te laat weg, ander wíl 
			net nie uit die wegspringblokke kom nie. Maar … of jy lus het of nie, 
			die wedren vind plaas. Nou sê Steve Farrar: “Min gaan goed eindig”. 
			Nou wonder ek: as die wegspring omstandighede nie vir almal 
			dieselfde is nie, moet ons tog so iets van ‘n tendens kan voorspel 
			van hoe mense gaan eindig, of hoe? Maar tog lyk dit of die wegspring- 
			en eindig-omstandighede nie noodwendig by mekaar pas nie. Dit lyk 
			vir my die wedren word nie by die wegspring bepaal nie, en ook nie 
			by die einde nie, maar iewers tussenin.   
			‘n Baie goeie vriend van my vertel my van sy ouers. 
			Hy praat van “hulle”. Hy sê sy pa was sy “rolmodel” – hy moes net 
			besluit om álles anders as sy pa te doen. Drank het sy pa se lewe 
			oorheers, en die omstandighede was baie sleg. Maar, vandag is my 
			vriend ‘n wenner in baie opsigte. Hy is besig om sy lewenswedloop 
			uitstekend klaar te maak. Dan is daar ook vriend, Rudolph, ‘n 
			Rippel-luisteraar. Hy was op beide die Rippel-mannekampe. Rudolph is 
			liggaamlik gestrem, maar sjoe, hierdie man hol die lewensreisies 
			soos ‘n windhond. Hy is ‘n wenner! En dan kry mens so baie mense wat 
			alles in hulle guns gehad het. Die afrigting, ouers langs die veld, 
			die beste toerusting. En dan eindig hulle pateties.   
			As dit dan nie die wegspring is wat dit bepaal nie, 
			hoekom eindig sommige mense se lewenswedloop dan so sleg? Ek dink 
			baie mense het die “suksesresep” ontdek om hulle lewens te verwoes. 
			Dit lyk my baie se lewens word verwoes deur die plekke waar hulle 
			langs die pad aandoen, die stasies waar hulle stilhou.   
			Kom ons lees oor die eerste vernietigende stasie 
			waarby mense aandoen:   
			Spreuke 6:24-35My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat 
			jou met haar gladde tong wil verlei.
 Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou 
			vang met haar oë nie.
 Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou 
			lewe kos.
 Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou 
			klere aan die brand raak?
 Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?
 Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te 
			word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.
 'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te 
			stil,
 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos 
			dit hom alles wat hy besit.
 Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand 
			wat dit doen, verwoes sy lewe.
 Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit 
			uitgewis word nie.
 Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie 
			perke nie;
 hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.
 
			Wat ‘n slegte stasie is dit nie hierdie nie! Vers 32 
			sê: “Jy moet van jou verstand af wees”, vers 33: “Sy skande sal 
			nooit uitgewis word nie”. Nogal waar, né? Die koerante wag vir jou! 
			Nie almal wat by hierdie stasie aandoen, volg vers 26 se pad en gaan 
			na ‘n prostituut toe nie. Nee, dit begin sommer net met ‘n 
			koffietjie by die werk, ‘n kort e-possie, ‘n skelm oproepie, of ‘n 
			SMS-ie. Dan volg ‘n wit leuentjie. Later ‘n toevallige kuiertjie …. 
			En dit eindig in die bedjie! En dan sê jy: “Ek het nie gevra 
			daarvoor nie”, of : “Sy verstaan my so goed”, of:  “Daar kan mos 
			niks fout wees met ware liefde nie”. Woeps! Daar is jou 
			lewenswedloop opgefoeter. Om by stasie een te stop sal altyd 
			slegte gevolge hê. As hierdie verleidinge op jou pad kom is daar net 
			een stukkie raad: HOL! Hardloop vinnig en ver weg! 
			Die tweede stasie: 
			Spreuke 20:1Wyn maak jou ligsinnig, drank laat jou lawaai maak; niemand wat 
			van dronkenskap slinger, is verstandig nie.
 
			Kom ons kyk na elke stukkie van die teks en die 
			slegte, slegte gevolge van drankmisbruik: 
				
				Ligsinnig – 
				sinonieme vir ligsinnig kan wees verspot, naam weggooi, naam met 
				‘n plank slaan, skande maak, van jouself ‘n bespotting maak.
				Laat jou lawaai 
				maak – drank maak van jou iemand anders; jy raak buite beheer.
				Van dronkenskap 
				slinger – hoe hol ‘n ou wat slinger in sy lewensreisies? Hy kan 
				nie! En siestog, as hy val, sal hy lê en slinger!
				Onverstandig – dit 
				is hoe die drank by stasie twee jou maak. Jy kan nie logies en 
				reguit dink en optree nie. 
			Die derde stasie: 
			Spreuke 30:7-9Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; 
			daarna kan ek sterf:
 moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of 
			ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het,
 sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: "Wie is die Here?" nie, 
			en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen 
			nie.
 
			By hierdie stasie gaan dit oor ‘n onverstandige 
			gejaag (en gejag) na geld. Party ouens probeer hulle hardloop 
			broekies se sakke so vol geld prop, dat hulle net nie kan wegkom 
			nie. Jesus noem net een ander god wat teen Hom staan, en dit is 
			Mammon. Mammon vernietig huwelike op ‘n ander manier as stasie een. 
			Dit neem familietyd op. Dit verwoes pa-kind-verhoudinge. Dit bring 
			dikwels ongesonde begeerte en hebsug. Baie min superrykes kry ooit 
			genoeg. Oppas dat die geldgierigheid by stasie drie jou nie terughou 
			in die lewenswedloop nie.   
			Die vierde stasie: 
			Spreuke 24:30-34Ek het by 'n lui mens se land verbygestap, by 'n onverstandige 
			mens se wingerd:
 dit was heeltemal oortrek van die onkruid, toegegroei onder die 
			bossies, en die klipmuur was omgeval.
 Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink en daar iets uit geleer:
 nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie 
			handevou om te slaap,
 en daar kom jou armoede aangestap, daar oorval die gebrek jou soos 
			'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.
 
			Dié wat by stasie vier aftrek, is dié wat te lui is 
			om aan die resies deel te neem. Hulle is passief, lusteloos, vol 
			verskonings, gee net op, gee ander die skuld vir hulle tekorte. Nee 
			jong, die wedloop vra dat ons skouer aan die wiel sal sit. Ag, moet 
			tog nie smag na ‘n vroeë pensioen nie. Bly solank as moontlik aktief. 
			 
			Nou ja, om fiks te bly en aan te hou hardloop vra 
			deursettingsvermoë, al kom daar steil bulte. Dit vra dat jy opspring 
			as jy geval het. Dit vra om in die regte rigting te hardloop. Dit 
			vra vorentoe kyk. Toe Lot se vrou agtertoe gekyk het, het haar 
			wedren net daar geëindig. Nuttelose soutpilaar!   
			Waar moet ons dan aandoen in hierdie wedloop?
 Pred 12:1
 Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die 
			jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie."
 
			In ‘n marathon is daar baie waterpunte. Dis ‘n 
			lafenis, waar jy verfris word en asemskep. In die wedloop van die 
			lewe is dit die Geestelike op-top-punte. Ja, my vriend, dit IS nodig 
			om kerk toe te gaan, om ‘n Bybelstudiegroep by te woon, om saam met 
			ander Christene te wees. Dit is waar jy verfris word en geestelik 
			gestimuleer word.   
			Dan laastens: die suksesresep om uitstekend klaar te 
			maak:   
			Pred 12:13-14Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is 
			dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens 
			gevra word.
 God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die 
			geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.
 
			 Dit is hoe wenners hardloop! Toe, waar trek JY?
 |