| 
  Wanneer 
			ons die datum en die tyd noem, gee ons erkenning aan hierdie element 
			van die lewe wat so baie invloed op ons uitoefen. Tyd. Moeilike 
			begrip. Hierdie ontasbare ding waarom alles draai. Hierdie iets 
			waarteen ons die verloop van elke dag slaafs meet, en waarteen ons 
			dag vir dag beur. Net om vannag iewers, ons weet eintlik nie wanneer 
			nie, te "reset", om more-oggend net weer voor te begin. Tyd is 'n 
			vreemde ding. Hy bestaan net op aarde, en is net eintlik meetbaar op 
			aarde. Omdat die aarde om sy eie as draai, ten opsigte van die son, 
			kry ons hierdie ding wat ons dag en nag noem. Die maan wentel om die 
			aarde in 30 dae, en ons noem dit maand. En hierdie aarde-maan 
			samestelling wentel om die son in 365 dae en dit dui vir ons 
			konstant aan hoe oud ons is. In hierdie proses het God vir ons 'n 
			wonderlike ritme geskep om so 'n bietjie orde in ons lewe te gee. 
			Die Here het dit inderdaad so presies geskep dat die seisoene en die 
			lengte van 'n dag en 'n nag, dit vir ons moontlik maak om aan die 
			lewe te bly. Ja, die Here het tyd geskep saam met die skepping. Tyd 
			het nie voor die skepping bestaan nie. Daarom begin Gen 1 : 1 in die 
			boodskap met "In die begin van alle tye het God die hemel en die 
			aarde gemaak". Die Here het wonderlike orde, ritme en balans in 
			die heelal in geskep. Die vraag is nou net, "Wat maak ons met ons 
			tyd?"
 In die skeppingsverhaal lees ons van die 
			skeppingsdae en na elke dag wat God geskep het, staan daar: "En dit 
			was aand, en dit was môre." God verwys na tyd en dan, op die sewende 
			dag, sê God, was dit tyd om te rus. Pragtig. Die Here skep die mens 
			om te heers oor sy skepping, maar ongelukkig kry die mens nie 
			geheers oor tyd nie. Tyd heers oor die mens. Prediker 3 : 1 - 9 (Die Boodskap)Alles gebeur op 'n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf 
			bepaal:
 daar is 'n tyd om gebore te word en daar is 'n tyd om dood te gaan;
 daar is 'n tyd om te plant en daar is 'n tyd om weer die plante uit 
			te trek;
 daar is 'n vasgestelde tyd om dood te maak en daar is ook 'n tyd om 
			gesond te maak;
 daar is 'n tyd om dinge af te breek en 'n tyd om dit te herstel;
 daar is 'n tyd wanneer 'n mens hartseer is en dan is daar ook weer 
			'n tyd vir vreugde;
 daar is 'n tyd om te huil en 'n tyd om weer gelukkig te wees;
 daar is 'n tyd om mekaar lief te hê en 'n tyd om weg van mekaar te 
			wees;
 daar is 'n tyd om mekaar te liefkoos en 'n tyd wanneer liefkosing 
			nie pas nie;
 daar is 'n tyd om te soek en 'n tyd om goed te laat wegraak;
 daar is 'n tyd om op te gaar en 'n tyd om weg te gooi;
 daar is 'n tyd om iets te skeur en 'n tyd om dit heel te maak;
 daar is 'n tyd om te praat en 'n tyd om stil te bly;
 daar is 'n tyd vir liefhê en 'n tyd vir haat;
 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede.
 Watter voordeel kry 'n mens dan op die ou end uit al sy harde werk?
 
 Baie interessant dat die opskrif van hierdie gedeelte sê "Magteloos 
			uitgelewer". En dan eindig dit met die woorde "Watter voordeel kry 
			'n mens dan op die ou end uit al sy harde werk?" Goeie vraag, want 
			heel waarskynlik is jy ook op hierdie oomblik besig om baie ernstig 
			aandag te skenk aan voorbereiding vir vandag se harde werk. Hierdie 
			een element van ons lewens wat die meeste prioriteit in ons lewens 
			kry. Meer as enigiets anders. Maar ook die ding - en plek - wat vir 
			jou die minste plesier en blydskap bring, wat ons weghou van 
			sinvolle gesinslewens, wat ons kinders drasties verwaarloos, en waar 
			baie mense skandelik misbruik word.
 Het jy ook die probleem? Werk jy dikwels oortyd 
			sonder betaling? Moet jou kinders elke dag hoor: "Pappa het nie tyd 
			nie?" Sê ons nie maar eintlik hiermee net: "My kind, jy is nie 
			prioriteit nie. Jy - of jou rugbywedstryd, is minder belangrik as my 
			dagtaak". Prediker probeer om so 'n bietjie balans in te 
			bring, deur te sê: "Daar is tyd vir dit, en vir dat." Een aktiwiteit 
			kan nie al die tyd kry nie, of al die prioriteit nie. Ek hoor van 'n 
			man wat vertel dat hy die lekkerste dag van sy lewe so goed onthou, 
			as die dag wat sy pa saam met hom gaan visvang het. Die lekkerste 
			dag van sy lewe. Na sy pa se afsterwe lees hulle deur sy stapels 
			dagboeke en kom op die spesifieke dag af, die dag wat die lekkerste 
			van Johnny se lewe was. Die inskrywing van die pa het gelees: 
			"Another day wasted, went fishing with Johnny". So tragies en 
			hartseer. Wat gaan aan met ons? Sien ons nie wat ons doen nie? Ons 
			maak so maklik tyd vir werk, vir sport, ja selfs die getroue ou 
			sepie saans, maar die gesin kom tweede laaste. Ek sê tweede laaste, 
			want ek glo gewoonlik kom die Here heel laaste. En dis hoekom daar 
			so min vervulling in ons lewens is. Die meeste tyd word in beslag 
			geneem deur dit wat soveel van ons met 'n passie haat. Jy sien, jy 
			is waarskynlik bang dat jy jou werk gaan verloor. Probleem is net, 
			dis makliker om 'n ander werk te kry, as 'n ander gesin. Ons vrouens/mans 
			en kinders en God hoor daagliks, ek kan nie nou nie, maar die baas 
			hoor dit nooit. Daar is 'n tyd vir werk, en 'n tyd om te rus. Daar 
			is 'n tyd om te verdien, en 'n tyd om te spandeer. Daar is 'n tyd om 
			vir die werk nee te sê, en vir die kinders ja. Daar is 'n tyd vir 
			laat werk, maar 'n tyd vir die gesin. Daar is 'n tyd vir vriende, 
			maar ook 'n tyd om aan jouself te spandeer. Daar is 'n tyd vir 
			oortyd, maar ook 'n tyd vir speeltyd.... So kan ons aangaan.
 Daar is iets soos tyd, maar iets groter, wat ons prioriteit 
			(priori-"TYD") noem.
 Die vraag is net: "hoekom is dié wat die kosbaarste 
			in ons lewens is, nie meer tyd werd nie?”  As jy Saterdag vir die baas kan sê, nee jong, vandag 
			kom my seun se sportwedstryd eerste, sal jou kind dit nooit vergeet 
			nie. Ons leer ons kinders ook om soos ons te wees. Om te buig voor 
			die tydgod. Dit was nie die Here se bedoeling toe Hy tyd geskep het 
			nie.
 Lewensgeluk kom as ons meer tyd maak vir belangrike dinge:
 Stiltetyd - om God se aangesig te soek. Gesinstyd - om jouself totaal vir jou geliefdes te 
			gee. Speeltyd - om af en toe tyd vir jouself te gebruik. Bedientyd - om ander se lewens positief te beïnvloed. Ons hoef nie tyd te máák nie. Die Here het dit klaar 
			gemaak. Ons moet net besluit hoe ons die tyd gaan aanwend.
 |