Daaglikse Heuningdruppels - medelye

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


JESUS HET HULLE INNIG JAMMER GEKRY

“Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie.” (Matt. 9:36) Op ’n hele paar plekke in die evangelies lees mens dat Jesus mense innig jammer gekry het. In die Engelse vertalings sê dit: He was moved with compassion. Dís wie Jesus is! Hy is liefde en net so ís Hy ook barmhartig, medelydend en vol meegevoel. As Hy na dié van ons kyk wat moeg, moedeloos, hartseer, eensaam, verstote, arm, siek of verlore is, dan krimp sy hart as’t ware ineen van jammerte, dan is Hy diep geraak deur ons swaarkry en probleme, dan identifiseer Hy uit die diepte van Sy wese met ons situasie. Ons weet Hy sien raak waarmee ons sukkel, ons weet Hy verstaan ons swakhede, ons weet Hy sien ons trane. “En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar ’n einde aan.” (Ps. 10:14) Hy het medelye met ons en dit loop uit op sy hulp, sy versorging en sy redding. “Hy laat reg geskied aan die verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm vreemdeling en help weeskinders en weduwees.” (Ps. 146:6-9) ~ Wilna Botha, 11/07/2019

“Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Hier is weer daai uitdrukking: “Hy het hulle innig jammer gekry.” In vers 13 lees ek dat Jesus juis weggegaan het na ’n stil plek omdat Hy alleen wou wees, dalk ’n bietjie wou rus, maar toe die mense daarvan hoor het hulle te voet agter Hom aangegaan. Hulle was in die nood om deur Hom aangeraak te word. Net soos daai vrou wat deur die skare gebeur het en net aan die soom van Sy kleed wou raak omdat sy só graag gesond wou word. Net soos daai verlamde man wie se vriende hom op ’n draagbaar na Jesus toe gebring het. Toe hulle nie by Hom kon uitkom nie, het hulle die draagbaar deur die dak laat afsak tot voor Jesus. Jesus sién siekes raak, Hy kry hulle innig jammer, Hy is diep geroer deur hulle pyn en hulle begeerte na genesing. Is jy dalk ook só desperaat vir genesing vir jouself, vir ’n familielid of ’n vriend? Is jy dalk ook só desperaat vir geestelike genesing van verwerping, misbruik of geweld? Is jy dalk ook só desperaat vir genesing van ’n gebroke verhouding? Is jy dalk ook só desperaat vir genesing van jou stukkende hart na die afsterwe van ’n geliefde? Kom na die Here – sy hart is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien jou desperaatheid. Stort jou hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir genesing, nog ’n keer vir Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.” Mag Hy dit vir jou ook doen. ~ Wilna Botha, 16/07/2019

“Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op die pad beswyk.” (Matt. 15:32) Weer ’n keer is dit Jesus wat innig jammer voel vir mense, vol medelye en jammerte , vol deernis en omgee. Ek weet nie van jou nie, maar vir my is dit ongelooflik bemoedigend om te weet dat Hy my nood raaksien en dat Hy omgee en dat Hy sorg vir ’n uitkoms. Dalk is die uitkoms nie altyd heeltemal soos jy gehoop het nie. Dalk is dit nie ’n yskas propvol kos nie, maar net ’n broodjie en ’n vissie, dalk net genoeg brood vir vandag, dalk ’n bietjie manna wat jy self moet gaan optel. Dalk is dit nie ’n bultende beursie nie, maar maak Hy net jou oë oop om ’n nuwe geleentheid raak te sien, dalk maak Hy jou net sterk om harder te kan werk. As jy leeg en met bedelende hande voor die Here staan, is Hy aangeraak deur jou nood en sal Hy jou nie sonder kos huis toe stuur nie. Dit geld natuurlik soveel te meer vir enige geestelike honger wat ons kan hê. Kom met jou honger hart na Hom wat die Brood van die lewe is. Kom eet verniet en word versadig. Hy sal jou nie honger wegstuur nie. ~ Wilna Botha, 18/07/2019

“Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.” (Matt. 20:34) Die twee blindes mans het langs die pad gesit en toe hulle hoor dat Jesus verbykom het hulle herhaaldelik hard geroep en gesmeek dat Hy hulle moet help. Jesus het by hulle gaan stilstaan om te hoor wat hulle behoefte is. Hy het hulle innig jammer gekry. Sy meegevoel vir hulle blindheid, sy deernis vir hulle afhanklikheid, sy omgee vir hulle nood het meegebring dat Hy hulle oë aangeraak het sodat hulle kon sien. Miskien tas jy ook in die duister rond, dalk lei jy aan geestelike blindheid, dalk sit jy ook verlore en roep hard en aanhoudend na die Here om jou oë oop te maak. Dalk begeer jy geestelike visie vir jou toekoms en keuses wat jy moet maak. Dalk het jy nuwe oë nodig om God se Woord beter te verstaan en in jou lewe toe te pas. Dalk moet jou oë oopgemaak word vir die hoër plan wat die Here met jou lewe het. Dalk moet jou oë aangeraak word sodat jy die lig kan raaksien aan die einde van die donker pad waarop jy jouself bevind. Hoe ook al ... as die geestelike blinde uitroep na die Here, sal Hy by hom kom stilstaan, sal Hy met deernis en jammerte na sy begeerte luister en sal Hy hom help. Ek bid dat Hy jou oë sal aanraak! ~ Wilna Botha, 23/07/2019


Daar is nog ’n keer waar ons lees dat Jesus mense innig jammer gekry het. Dié keer in Mark 6:34. “Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.” Ons is mos ook maar soms soos skape wat rigtingloos ronddwaal, elkeen op sy eie koers, elkeen op soek na sy eie weiding, elkeen op sy eie missie, besig met sy eie belange, besig om rond te hardloop op soek na sukses en erkenning. Dis wanneer die Here ook na my en jou kyk met meegevoel en jammerte en ons bietjie eenkant toe wil vat sodat Hy ons kan leer, sodat Hy vir ons wysheid en onderskeidingsvermoë kan gee, vir ons kan help om doelgerig vorentoe toe te beweeg, vir ons nuwe krag en insig kan gee, sodat ons binne ons lewensroeping en volgens Sy planne besluite kan neem, sodat ons vrede en rus kan beleef in Sy groen weivelde. Ons het ’n Herder! “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot eer van sy Naam.” (Ps. 23:2-3)  ~ Wilna Botha, 25/07/2019

“’n Melaatse kom toe na Jesus en terwyl hy kniel, smeek hy Hom en  sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!” (Mark 1:40-41, BDV) Jesus - gevul met deernis, vol jammerte, altyd gereed om genade te bewys! Die arme melaatse man - ’n uitgeworpene wat buite die stad moes bly, hy kon aan geen aktiwiteite van die samelewing deelneem nie, almal het hom vermy en hom selfs met klippe gegooi as hy sou waag om nader te kom. Hy was as onrein bestempel vanweë sy siekte.  Enige iemand sou hom weggejaag het, maar nie Jesus nie ... Jesus kyk na hom en kry hom innig jammer. Enige iemand sou draaie om hom geloop het, maar nie Jesus nie ... Jesus gaan staan stil by hom en raak aan hom en maak hom rein. Het daar dalk iets in jou lewe gebeur wat jou onrein en vuil, verwerp en onwaardig laat voel? Dalk word jy uitgestoot oor jou uiterlike voorkoms, dalk omdat jy gestrem is, dalk oor jou agtergrond, dalk oor jou sonde of een of ander onaanvaarbare leefwyse. Maak soos hierdie melaatse man en kom kniel en smeek vandag by die Here. Hy sal jou hoor. Hy sal jou innig jammer kry. Hy sal jou aanraak. Hy sal jou rein en nuut maak. Hy sal vir jou ’n nuwe begin gee. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Kor. 5:17) ~ Wilna Botha, 30/07/2019

Die weduwee se enigste seun is dood. Omtrent die hele dorp se inwoners is daar om haar te ondersteun. Jesus het haar óók raakgesien. “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”” (Luk. 7:13) Hy het haar innig jammer gekry. Sy hart was gevul met jammerte en deernis, omtrent dieselfde as toe Sy vriend, Lasarus, oorlede is en Jesus ook gehuil het! (Joh. 11:35). Is jy dalk vandag in daai hartseer bootjie? Jy huil omdat dinge nie vir jou uitgewerk het nie. Jy huil omdat jy ook ’n geliefde aan die dood moes afstaan. Jy huil omdat jy slegte nuus gekry het. Jy huil omdat jy alleen is. Jy huil omdat jy op die punt van ’n egskeiding staan. Jy huil omdat jou kind die pad byster geraak het. Die Here sien vandag jou trane, Hy weet daarvan, Hy het hulle getel en opgeteken, hulle opgevang in sy kruik sê Ps. 56:9. “Ú het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Ps. 56:9, OAV) Die Here sien jou hartseer en jy kan seker wees daarvan dat Hy jou innig jammer kry, dat Hy diep aangeraak is deur jou trane, dat Hy selfs sáám  met jou huil en dat Hy sê: “Moenie huil nie.” Hy is nou by jou, Hy droog jou trane af, Hy troos jou, Hy laat jou tot rus kom, Hy gee vir jou nuwe moed en ’n nuwe rede om voort te beur. “Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.” (Ps. 94:18-19) “Hy help mense wat hartseer is om weer met hulle lewe aan te gaan.” (Job 5:11)  “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt. 5:4) ~ Wilna Botha, 06/08/2019

Ek die afgelope rukkie bietjie stilgestaan by en nagedink oor dié uitdrukking wat mens heel dikwels in die evangelies raaklees: “Jesus het hulle innig jammer gekry.” Elke keer wanneer mens dit lees, word dit gevolg deur Jesus wat aktief optree en iets dóén vir diegene vir wie hy innig jammer voel. Hy het hulle gesond gemaak, kos gegee, hulle oë oopgemaak, hulle rein gemaak, hulle geleer en hulle getroos. Jesus betoon medelye en barmhartigheid oral waar Hy gaan en sy medelye gaan oor tot optrede en hulpverlening. Vandag is ek en jy ook aan die ontvangkant daarvan – altyd sonder dat ons dit verdien. As volgelinge van die Here sal ons ook dié wat rigtingloos, honger, eensaam, verwerp, siek, swak en hulpeloos is innig jammer kry en behoort dit ons aan te spoor om ons jammerte in dade om te skakel. “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word en dan in opregtheid.” (1 Joh. 3:18)  Ja, ek is baie keer teensinnig. Ja, ek is baie keer te lui. Ja, ek het gewoonlik honderd-en-een verskonings. Ja, ek is meestal te selfsugtig. Ja, ek verwag te veel kere ’n teenprestasie. Ja, my gesindheid laat veel te wense oor. Ek vra maar net weer die Here om my te help met my onwillige hart, met my veroordelende kyk, met my toe hande en harde gesindheid.  Ek lees hierdie aanhaling van John Wesley en neem dit ter harte, want ek dink dis wat die Here wil hê: “"Do all the good you can, by all the means you can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times you can, to all the people you can, as long as ever you can" ~ Wilna Botha, 08/08/2019

Ek het vir die afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 14/08/2019


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)