Daaglikse Heuningdruppels

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)



Die Woord wat die Lewe is
Hierdie is die opskrif van die eerste perikoop in 1 Joh1: 1-4 en ons lees in vers 1-2 "Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is."
Wat 'n onbeskryflike getuienis: Ons het Hom
 self gehoor, Hom gesien en aan Hom gevat. In enige hof sal so 'n sterk eerstehandse getuienis geweldig baie gewig dra, want dis nie gebaseer op hoorsê, of woorde op 'n afstand nie. Johannes het selfs aan Hom gevat, en daarom hierdie dringende getuienis wat hy ten alle koste wil uitdra. Hy probeer sê, al het jy nie aan Hom gevat, of Hom gesien nie, ék het en daarom kan jy dit glo. Dan sê hy "Hy is die Woord, die Lewe". 
Ek en jy het Hom dalk nie gesien nie maar ons sien elke dag Sy werke, ons ervaar Sy nabyheid deur die Heilige Gees, ons word aangeraak en verander, ons Geestesoë gaan oop as ons die Bybel lees, en ons word by die dag meer en meer bewus van Sy aanraking. Daarom is ons ook eerstehandse getuies en dra ons woorde ook geweldig baie gewig. Kom ek en jy skree dit ook uit met ons lewens, met ons leefstyl en met ons woorde: Hy is die Woord, die Lewe! Dan lees ons in Vers 4: "Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees". 
Die wêreld het hierdie woorde SO nodig. ~Willem Botha, 30/06/2016

“As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.” (1 Joh 1:8) Die Bybel sê elders ook dat ons almal gesondig het (Rom 3:23), dat die hele wêreld  vasgevang is in die greep van die sonde (Gal 3:22), dat almal ontaard het en dat daar niemand is wat goed doen nie (Rom 3:12). Ons sonde maak ‘n muur tussen ons en God, want God se standaard vir ons is dat ons volmaak moet wees. Hy sê: wees heilig, want Ek is heilig. Ons kan nie op ons eie daarby uit kom om heilig te wees nie, ons kan nie onsself red nie, ons natuur is om te sondig. Selfs Paulus sê in Rom. 7:17-23 hoedat hy sukkel teen sonde. Ek hoor partykeer dat mense sê ons as Christene moet onsself nie sondaars noem nie, want Jesus het ons vergewe. Dis waar, maar as ons nie besef hoe groot ons sonde was en is nie, dan sal ons nie besef hoe nodig ons Jesus het nie, hoe nodig ons Sy verlossing en vergifnis het nie, hoe nodig dit was dat Hy die offer vir ons sonde moes bring nie, hoe nodig dit was dat Hy die prys vir ons oortredinge moes betaal nie. Ons moet soos die tollenaar in Luk. 18:13 uitroep: “Wees my sondaar genadig,” en soos Paulus: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van my doodsbestaan verlos?” Dan kan ons in dankbaarheid uitjubel: “ Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” (Rom 7:25)  ~ Wilna Botha, 03/07/2016

Jammer Here
Hierdie volgende teks is een van die bekendste tekste in die Bybel, en het geweldig impak, maar tog 'n teks waarin soveel opgesluit is dat ons vir eeue daaroor kan redeneer. Ek dink ek verstaan sy volle impak seker minder as 1%. 
1 Joh1:9 "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid." 
Ek dink daar is egter net soveel wat mens verkeerd kan verstaan en ek het lank hieroor geworstel. Wat 
gebeur met iemand wat sy eie lewe neem? Is hy dan verdoem, want hy kan nie vir oulaas vergifnis vra vir sy daad nie? Nee, inderdaad is dit nie waar nie. As ons tot bekering kom, is ons vir ewig gereinig van alle ongeregtigheid, soos vers 9 vir ons sê, nie net vir die insident nie want Jesus se belofte van vryspraak geld lewenslank. 
Dink so daaraan, ek en vroulief is donkiejare getroud en leef onder ons huweliksbelofte wat ons aan mekaar beloof het. Maar kom ons sê ek maak more droog en sy is vies vir my, dan bly ons steeds getroud. Geen insident kan dit breek nie. Maar as ek vir haar sê ek is jammer, trou ons nie gou weer nie, die verhouding word net herstel. 
Net so met sondevergifnis. As ek vergifnis vra vir die Here kom ek nie weer tot bekering nie want dit staan reeds vas, maar die verhouding word herstel. Nee, Hy was nie kwaad vir my nie, maar ek kan weer met vrymoedigheid in Sy troonkamer voor Hom verskyn. Die wonderlike is dat Hy altyd, vir ewig daardie verskoning aanvaar. Hy hou niks ooit teen jou nie. 
Laat my dink aan my ma wat graag gesê het dis sleg as sy en my pa woorde gehad het, maar die opmaak daarna was altyd so lekker. ~ Willem Botha, 04/07/2016

Ek onthou so klompie jare gelede was die armbandjies met “WWJD” daarop geborduur baie gewild. What would Jesus do? Almal het dit gedra sodat dit hulle gereeld kon herinner om hulleself in elke situasie af te vra hoe Jesus in daai omstandighede sou optree. Baie het die bandjie gedra en dit het ‘n verskil in hulle lewens gemaak. Baie het die bandjie gedra en vergeet wat die betekenis daarvan was. Die bandjie-gier het verdwyn, miskien omdat mense bewus geraak het van hulle tekortkominge in hierdie opsig, of dalk het hulle moeg geraak om altyd goed en reg op te tree, of dalk het iemand hulle “uitgevang” dat hulle nie volgens die “WWJD”- beginsel opgetree het nie. Ons as Christene moet egter daai “wat sou Jesus doen?”- vraag op ons harte gegraveer  hê en in ons gedagtes ingeprent hou. Dit behoort die outomatiese riglyn van ons lewens te wees. 1 Joh. 2:6 sê: “Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het.” Dis wat die Here van ons verwag en dis ’n lewenswyse wat Hóm sal behaag. Kom ons streef daarna met hart en siel en verstand. ~ Wilna Botha, 05/07/2016

Wie is my broer? 
Ek kan jou nie sê hoe ek met hierdie woorde in 1Joh 2:11 sukkel nie. "Maar wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het." 
Ek wil graag vandag bely dat ek nie hoop dat elke mens wat my pad kruis, of in my leefwêreld inkom, of aan wie ek blootgestel word, as "my broer" geklassifiseer kan word nie, want dan is ek in die verdoemenis. Want dan word ek veroorde
el elke keer as ek die nuus kyk, of op die pad ry, of as ek in die winkels loop. 
Ek dink ek het selektief begin raak oor wie ek wil liefhê, want dit is vreeslik maklik om sommige mense lief te hê en ander is vir my baie moeilik. Jy sien, God stel nie hier net voor dat ons ander moet liefhê nie, dis 'n opdrag, en 'n bykans onmoontlike een daarby. Miskien wil Hy vir ons sê: Wees vir almal lief vir wie Ek lief is. In vers 10 staan daar "Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie". 
Ek lees hier tussen die lyne dat dit baie moeilik sal wees, maar dis steeds wat God van my verwag, al hou ek nie daarvan nie. Mag die Here hierdie hart van klip uitpluk en vervang met 'n hart van vlees. ~ Willem Botha, 06/07/2016

Die wêreld en sy dinge. 
Ek wonder soms of ons besef hoe verkeerd dinge geloop het met die sondeval. Die Here het die heelal geskep met die bedoeling dat dit 'n plek moet wees waar die mens in liefde en harmonie moet bly, 'n plek van volmaaktheid. Toe kom die mens en verwoes alles met sonde. En laat ons nou maar nie vir Adam en Eva die skuld gee nie, as dit nie hulle was nie, was dit ek en jy. 
Die lewe op aarde het verander van 'n volmaakte speelpark, na 'n plek van verd
erf. Soveel so dat God sê ons moet nie lief word vir die dinge van hierdie wêreld nie. 
1 Joh 2:15-17 "Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe."
Sjoe, dis bitter moeilik, en elke dag sal 'n stryd wees om deur te worstel, want ons kan nie net doen wat ons wil nie. Dis ironies dat so baie dinge wat lekker is om te doen, soveel moeilikheid veroorsaak. Dit is nou maar so, die lewe van 'n Christen is nie altyd maklik nie, want ons moet leef volgens ander standaarde, maar die beloning is so groot. 
Vers 17 b sê dit duidelik:... maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe. ~ Willem Botha, 07/07/2016

“Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf en julle ken almal die waarheid.” (1 Joh. 2:20) Wie is só bevoorreg om met die Heilige Gees gesalf te wees? Dis ek en jy, liewe vriend, ons wat Jesus in ons lewe ingenooi het, ons wat Hóm as Here en Verlosser aanvaar het, ons wat Sy kinders geword het omdat ons in Hom glo. Baie mense wag en verlang en bid vir 'n besondere salwing met die Gees, maar ons kan vir seker weet dat ons dit alreeds ontvang het. Vers 27 sê ook dat die Gees waarmee ons gesalf is, IN ons bly – God self het sy intrek in ons gemaak. Dís groot en heilig. Om gesalf te word beteken om heeltemal ingesmeer en ingevryf te word met salf of olie; só is die salwing van die Heilige Gees ook – dit deurtrek ons hele lewe, dit versprei 'n heerlike geur en dit vul ons met vreugde, vrede, kennis en insig.  Die Boodskap se vertaling van vers 27 is: Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is. Omdat die Heilige Gees ons vol maak met God se teenwoordigheid ontvang ons die onderskeidingsvermoë, die natuurlike aanvoeling om die verskil te ken tussen reg en verkeerd, tussen goed en sleg, om te weet wat God se wil is en om die wysheid te hê om daarvolgens te lewe. Die Bybel sê ons moenie die Gees se werking in ons lewe weerstaan nie. Kom ons leef as gesalfdes, as gelowiges wat 'n lieflike geur versprei, as gereddes wat weet dat die Heilige Gees sy hand spesiaal op ons gelê het. ~ Wilna Botha, 10/07/2016

Die antichris
As ek van die Antichris hoor voel dit elke keer of my bene so effe lam wil word want dit voel of die wêreld verby is as hy die dag opdaag. Lees 1 Joh 2:18 - 27 en jy sal sien dat Johannes so effe van 'n ander hoek op hierdie saak sit. 
1 Joh 2:18 "Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is."
Johannes noem inderdaad dat dit reeds die laaste uur is en dat daar 'n Antichris gaan kom, maar dan vat hy dit verder as hy sê dat daar reeds baie antichriste tussen ons is. Hierdie gedagte is meer skrikwekkend as die dag wat die Antichris, soos in Openbaring beskryf word, gaan kom.
Dan gee hy in vers 22-23 'n beskrywing van die Antichris wat my eintlik bang maak: "Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken, erken ook die Vader."
Sjoe, hulle is tussen ons, ons rolmodelle, dalk 'n broer of suster, jou gunsteling sanger, miskien 'n goeie vriend, dalk jou kind, of selfs 'n geestelike na wie jy op 'n tyd opgekyk het. En weet jy, dis dan wat ek hard in my diepste binneste gaan rondkrap of dit nie dalk ek self is nie. Glo ek werklik nog dat Jesus nie net 'n historiese figuur was nie? Erken ek werklik die Vader en die Seun? Is ek seker dat ek nog glo dat ek vir Jesus as Saligmaker nodig het? Of het ek dalk al so gewoond geraak aan genade en aan my Christenskap dat ek eintlik weggedryf het van Hom af? Het sondes dalk al so maklik en gemaklik geword dat ek okay is om nie daarteen te veg nie?
Hierdie is vir my skrikwekkende gedagtes, en dit laat my sommer nou, terwyl ek hier skryf, weer selfondersoek doen. Daarom bid ek sommer nou: "Here, vergewe my dat ek so lou geword het, en help my om opnuut weer nader aan U te kom, en dankie dat U my met op arms
verwelkom." ~ Willem Botha, 11/07/2016

“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook.” (1 Joh. 3:1) Ons is nóú reeds kinders van God, sê vers 2! Jesus se bloed het verseker dat ons bloedfamilie van God geword het. Net soos die pa van die verlore Seun, ontvang die Here ons met oop arms, net soos ons is, vuil en besmet met sonde. Net soos die pa van die verlore Seun vergeet Hy van ons oortredinge, bedek Hy ons met 'n kleed van liefde, gee Hy vir ons die beste. Net soos die pa van die verlore Seun berei die God van die heelal vir ons 'n feesmaal voor en sê Hy: hierdie seun van my was dood en hy lewe weer; hy was verlore en ek het hom teruggekry. Dis God se liefde vir my en jou wat dit alles doen. Dis God se liefde wat onbeperk en onbegrens en onvoorwaardelik is wat ons Sy kinders maak. Ons is uit God gebore (sê Joh. 1:13), daarom is ons fisies Sy kinders. Ons is deur God aangeneem (sê Gal 4:5) daarom is ons wetlik Sy kinders. Ons ís Sy kinders met al die regte en voorregte wat daarmee saamgaan! “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hóm glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh. 1:12) ~ Wilna Botha, 12/07/2016

“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie.” (1 Joh. 3:6) Die Bybel is hier in 1 Joh. 3 baie duidelik daaroor dat ons moet wegbly van sonde, dit moet uitroei in ons lewe en dat ons 'n rein lewe moet lei. Ons liggaam is mos nou die tempel waar die Here deur Sy Gees woon en daarom moet ons skoon, rein en heilig wees sodat Hy tuis en welkom kan wees by ons. Iemand wat 'n kind van God is, mag nie meer 'n gewoonte van sonde maak nie. Ons moet alles in die stryd werp om daarteen te kies, om weg te draai van enige versoekings, om goeie keuses te maak en om ons gedagtes liewer te vul met alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is. Luister vandag as Jesus vir jou sê: “... gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Joh. 8:11) ~Wilna Botha, 13/07/2016

Pay it forward
Daar was 'n klompie jare gelede 'n film met die titel "Pay it forward". Dit het daaroor gegaan dat mense aan wie 'n goeie daad bewys is, ook 'n goeie daad aan 'n volgende persoon moes bewys. Die gedagte is so pragtig en ons samelewing het dit so nodig. Kan jy dink hoe wonderlik dit sal wees as almal op aarde dit sou doen? Daar sou geen armoede wees of slegte verhoudinge wees nie. Deel net die bietjie seëninge wat jy ontvang met ander. Nou kyk nou hoe mooi word dit in die Bybel uitgespel met twee tekste wat op 'n verrassende manier met mekaar verbind kan word. Let op die plekke waar dit geskyf is, nl Joh 3:16 en 1Joh 3:16. Toevallig?

Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê". Hier staan dit duidelik dat Jesus Sy lewe vir ons afgelê het, sodat ons nie verlore sal gaan nie. 
Kyk nou wat staan in 1Joh 3:16 "Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê". Wow! Sien jy die "Pay It forward" gedagte? Jesus het dit vir ons gedoen, kom ons doen dit nou aan ander.
Gelukkig hoef ons nie vir ander aan 'n kruis te sterf nie want dis nou klaar gedoen, maar hierdie teks vra opoffering, en om iets van jouself te gee. Dalk tyd, geld, ondersteuning, dalk om vir ander te bid, maar om te doen en gee tot 'n mate dat ons dit sal voel.
En hier kom die uitvloeisel waarvan Johannes hier praat. 
1Joh 3:17 "Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?"
Sien jy dat die wêreld sommer 'n baie beter plek sou wees as ons almal die "Pay It forward" beginsel sou toepas? Al wat dit vra is liefde, wat immers 'n keuse is. ~ Willem Botha, 14/07/2016


The mind of Christ
Jare gelede vertel 'n vriend dat hy op 'n teks in 'n Engelse vertaling afgekom het wat met hom gespreek het. 1 Kor 2:16 "Who knows the mind of the Lord? Who is able to give Him advice? We, however, have the mind of Christ" 
In 1 Joh 3:24 staan "Wie Sy gebooie gehoorsaam bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee." 1Joh 3:18 sê dat ons liefde nie net lippetaal moet wees nie, maar dat dit met dade bewys moet word. 
Maar hoe kry ons dit reg? Die teks in 1 Kor 2:16 sê: "We have the mind of God", en 1 Joh 3:24 sê "Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee."

Wanneer ons vervul is met die Heilige Gees, dink ons soos wat Hy wil hê ons moet dink, en doen ons soos wat Hy wil hê ons moet doen. Sy hele wese is liefde en dit lees ons in 1 Joh 4:8 "... God is liefde." 
As ons Jesus dan aangeneem het, en ons het die Heilige Gees ontvang, kan ons mos glo dat Hy ons sy Gees gegee het, en kan ons leef vanuit die gedagte van: "We have the mind of God."
Die grootste gebod is die liefde, liefde vir God, liefde vir ons naaste en ja ook liefde vir onsself. As God aan ons dink, dink Hy nie aan ons sondes nie, maar aan Sy liefde vir ons. Hierdie deel herinner my dat ek nie aan ander op enige ander manier moet dink as met liefde nie. As ek dan die Gees van God het, moet ek so optree en met ander handel soos wat Hy dit doen. Ek moet my menslike brein programmeer om altyd eers te dink hoe "God's mind" sou dink voor ek handel. Mag die Here op hierdie manier ons denkwyses totaal oorheers, en mag ons in enige insident hiervolgens handel. ~ Willem Botha, 17/07/2016


“Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig by God lê; die wêreld is vol vals profete.” (1 Joh. 4:1, Die Boodskap) In ons dag en tyd met onbeperkte internetbronne, hordes boeke in 'n verskeidenheid boekwinkels, Christelike TV-kanale en duisende DVD’s en CD's met preke op is ons baie blootgestel aan mense se menings en uitsprake. Ons moet leer om nie alles wat ons hoor en lees vir soetkoek op te eet nie. As iemand sê: “Die Here het gesê ...”, dan moet ons dit toets aan die Woord en om dit te kan toets aan die Woord, moet ons seker die Woord ken en bestudeer en moet ons by betroubare, standvastige predikers leer. Vals profete se boodskap is dikwels baie gewild, dit sê wat mense graag wil hoor, dit roep hulle nie op tot bekering en berou nie, dit paai hulle en praat hulle wêreldse lewenstyl goed, dit spreek nie mense se sonde aan nie, dit laat hulle net goed voel oor hulleself. Die vals profete sal dikwels “nuwe” openbarings verkondig, iets wat vars en nuut klink, maar wat dalk sy eie verdigsels is en vir sy eie gewin (dikwels finansieel) verkondig word.  Vertrou gerus maar daai sagte stemmetjie aan jou binnekant wat jou ongemaklik maak wanneer iemand sê die Here het dit of dat vir hom gesê. As kind van God hét jy Sy Gees in jou wat vir jou hierdie onderskeidingsvermoë kan gee. Bid gedurig en vra die Here vir geestelike wysheid en insig. “... so kan ons weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees van bedrog en misleiding aan die werk is.” (1 Joh. 4:6)  ~ Wilna Botha, 18/07/2016

“... for the Spirit in you is far stronger than anything in the world,” so sê 1 Joh. 4:4. Niks, maar níks, is groter en sterker as God nie. God woon ín ons, Hy is aan ons kant en daarom hoef ons geen ander krag, mag of gesag te vrees nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Wie of wat kan ons onderkry? Die krag wat alles oortref kom van God af en daai krag is in ons beskikbaar – dít is die skat wat ons in ons het waarvan 2 Kor. 4:7 praat. Dit is die krag wat jou oor 'n muur laat spring, wat jou enige reus laat oorwin, wat jou op die water laat loop. Dit is die krag waardeur ek en jy tot alles in staat is. Dit is die krag wat  ons vrymoedigheid en deursettingsvermoë gee. Dit is die krag wat ons regop laat bly, laat  moed hou en ons energie gee om te volhard. Dit is die krag wat ons die geduld en hoop en geloof gee om in alle omstandighede vorentoe te beweeg en die groter prentjie, God se prentjie, te sien. “Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig groot daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.” (Ef. 1:19-20, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/07/2016

'n Ewige woonplek
Ek het al so baie keer die vraag gehoor: Wie sê die Christene is alleen reg en dat net hulle hemel toe sal gaan? Wel, daar kan lank daaroor geredeneer word want baie van die ander gelowe praat ook van 'n plek wat hulle dan hemel of hiernamaals noem. Voorts moet ons natuurlik vra wat 'n Christen is en of alle mense wat hulleself Christene noem hemel toe sal gaan. Hieroor kan ons nogal lank redeneer want mense se definisie verskil, maar kom ons begin by die ge
dagte dat 'n werklik wedergebore Christen, wie sy hart vir Jesus gegee het en glo dat die bloed van Jesus vir hom verlossing bring, wel na sy aardse afsterwe hemel toe gaan.

Maar wat is hemel? Is daar net een? Is daar dan 'n hiernamaals vir verskillende gelowe, of is daar maar net een "hemel" met verskillende paaie daarheen, soos wat jy 'n koppie kan klim, bo kan uitkom, maar een van verskeie paadjies daarheen kan neem? Hierdie is egter 'n baie gevaarlike ding om te glo en hoegenaamd nie in lyn met die Bybel nie. Voorts maak die Bybel net voorsiening vir een so 'n plek en dit is waar Christus heers en vir ons plek berei. Ongelukkig probeer baie ander gelowe, of selfs "christene" hierdie konsep te kaap. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat geen pad soontoe moontlik is behalwe deur Jesus Christus nie.

1 Joh5:10-13 "Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo."
Wie sê die Christene is dan alleen reg? God sê so, die hemel is Sý woning, dis Hý wat die pad soontoe moontlik maak sodat ons vir altyd by Hom kan woon, die deur na die Lewe is Sy Seun Jesus Christus en Hy maak dit vir ons moontlik deur geloof in Sy Seun. En God self is die getuie daarvan. Daar is geen agterdeur om in te glip nie, geen plek vir mense wat dit wederegtelik "claim" nie en geen toegang deur 'n ander "model" nie. Dis 'n Heilige plek wat jy nie deur verdienste kry nie, maar daar is onbeperkte plek en toegang vir mense wat Jesus aangeneem het. ~ Willem Botha, 20/07/2016


“Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die Vader lief het, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.” (1 Joh. 5:1) Noudat ons so stukkie vir stukkie deur  1 Johannes werk, is dit só opvallend dat hierdie boodskap oor en oor herhaal word: ons is kinders van God, Hy het ons lief het en daarom moet ons ook mekaar moet liefhê.  As mens vir iemand vra watter Bybelgedeelte by uitstek oor die liefde praat, sal hulle dalk sê 1 Kor. 13. Ons kan beslis 1 Johannes daarby voeg. Ons hoor hier oor en oor hoe lief die Here ons het en weer en weer word ons aangespoor en vermaan om mekaar lief te hê, om ons liefde prakties sigbaar te laat word, om sodoende vir die wêreld te wys dat ons kinders van God is. Die vers wat egter wat vir my uitstaan is 1 Joh. 4:8: “God is liefde”. Dis die kern van die boek en die kern van die evangelie en ook die kern van ons lewe. God het nie net lief nie, Hy ís liefde. Dit is sy karakter en niks kan dit verander nie. Sy liefde is onbegrens en onbeperk en oneindig. Sy liefde is onafhanklik van jou prestasie en Hy het jou lief, ongeag  jou sonde, gebreke en liefdeloosheid. Hy het jou lief en jy kan niks doen om dit te keer nie! “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie.” (Jes. 54:10) ~ Wilna Botha, 21/07/2016

'n Wonderlike uitnodiging
Dis vir my 'n reuse voorreg om só 'n verhouding met my kinders te kan hê dat hulle enige tyd kan kom aanklop vir hulp en raad, en ons is daar vir mekaar. Dit spruit uit 'n hegte verhouding wat oor jare in ons gesin tot stand gekom het. Kyk nou net hierdie pragtige uitnodiging wat die Here aan ons rig.
1 JOH 5:14 - 15 "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra." 
Toe Jesus sterf aan die kruis en die voorhangsel skeur, het ons hierdie oop deur verwerf, en kan ons enige enige tyd met vrymoedigheid by die Here gaan aanklop, en Hy sal al ons behoeftes en gebede aanhoor. Hierdie stukkie sê dat Hy vir ons sal gee wat ons volgens Sy wil vra. 
Wel, weens ons en ons kinders se verhouding het hulle nooit dinge gevra wat hulle geweet het nie goed of heilsaam vir hulle sou wees nie, en indien dit dinge was wat wel volgens ons nie goed sou wees nie, het hulle 'n "nee" aanvaar, al het hulle soms dit moeilik verstaan. 
So kan ons enige tyd by God gaan aanklop, en Hy sal met groot liefde ons aanhoor en ons gee wat ons nodig het. Dus, gaan praat met die Here, stel jou saak, vra wat jy moet en weet dat Hy net sal toelaat wat tot jou heil is. En dít is hoe ons in 'n liefdevolle verhouding met Hom kan staan. Die deur is oop. ~ Willem Botha, 24/07/2016

“Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom en die duiwel kry geen houvas op hom nie.” (1 Joh. 5:18) Dit is so dat elke sonde by 'n gedagte begin wat jou aanlok en saamsleep totdat dit uiting vind in 'n verkeerde woord of daad. Soms gebeur dit in 'n oogwink, ander kere broei dit lank. “Soos 'n kind wat agter 'n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper in die moeilikheid in.” (Jak 1:14-15, Die Boodskap) Sonde maak as’t ware 'n klein krakie oop waardeur ons heiligheid uitsypel en die duiwel sy vatkans kan kry. Ons moenie met verkeerde gedagtes of woorde of dade vir die duiwel 'n deur oopmaak nie. Ons is skoongewas deur die bloed van Jesus en ons is in staat om die bose weerstaan, sodat hy van ons sal wegvlug. Hoe gouer jy die keuse teen daai verkeerde gedagte maak, hoe minder skade en gevolge sal daar wees. Jesus het ons lewe kom skoonmaak – Hy sal ons help om ons lewe aan die kant te hou. ~ Wilna Botha, 25/07/2016

Die laaste woorde
Ek het onlangs na 'n film genaamd Flight 93 gekyk, wat gebaseer is op die 911 gebeure in Amerika in 2001. Hierdie vliegtuig was ook gekaap, maar die passasiers het probeer om die terroriste te oorrompel. Ongelukkig het die vliegtuig geval en almal is oorlede. Terwyl die drama afgespeel het, het van die passasiers oproepe na hulle geliefdes by die huis gemaak deur middel van radiotelefone op die vliegtuig. 
Die laaste woorde van elkeen was: "Ek is lief vir jou." Dit lyk vir my hierdie is die grootste behoefte wat die mens het, en dis ook die heel belangrikste element van ons menswees en eintlik wil almal dit hê en gee. Ons het die afgelope tyd deur 1 Johannes gewerk en die een deurlopende boodskap was: God is lief vir jou, en julle moet mekaar liefhê. Dit laat my ook dink aan die grootste gebod wat opgeteken is, asook "Nou bly geloof, hoop en liefde, en die grootste hiervan is die liefde."
Terug na die vliegtuig storie. Almal wou hulle geliefdes agterlaat met die sekere wete van hulle liefde. Ek het nog nooit ooit in my lewe gehoor dat iemand se laaste woorde aan 'n sterwende was: Dankie vir die baie geld wat jy vir ons gemaak het, of dankie vir die groot hoogtes wat jy by die werk bereik het, of dankie vir die mooi goeters wat jy vir ons gegee het, of dankie vir die vet erfporsie wat wag nie. Nee, die woorde "Ek is lief vir jou", het meer betekenis as enigiets op hierdie aarde. 
Sê jy dit gereeld genoeg? Hoor jy dit genoeg? Hoor jou kinders, man, vrou, pa en ma, vriende, broer en suster dit genoeg? En hoor die Here dit genoeg? As jy die Woord lees sal jy sien Hy sê dit genoeg vir ons. Goeie laaste woorde, maar beter as dit gereeld gebeur. ~ Willem Botha, 26/07/2016

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)