Daaglikse Heuningdruppels -
Vrae
 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Breek brood

Om brood te breek ... Ons kan mos nie saam met vriende kuier of as familie bymekaarkom sonder dat daar kos (gewoonlik báie kos) en drinkgoed is nie. In ons gesin is dit beslis so. En as ons besluit het ons kuier Sondag is die eerste vraag: wat gaan ons eet? Dis mos so met Kersfees, met Vadersdag, verjaarsdag, troues, begrafnisse ... noem maar op. Ons kuier met kos, ons vier fees met kos, ons troos mekaar met kos, ons bederf mekaar met kos, ons sê dankie met kos. Dan is daar natuurlik ook altyd ietsie te ete by vergaderings, werksfunksies en gemeente byeenkomste. Vir elke geleentheid is daar kos en ’n gekuier rondom die tafel. Ons is gelukkig om ’n groot tafel te hê wat eers my ouers s’n was. Rondom daai tafel is daar al baie geëet en saam met die kos is daar rondom daai tafel al baie gepraat, diep dinge en belangrike dinge, daar is besluite geneem en raad gegee. Daar is baie gelag en daar is al gehuil langs daai tafel. Daar is vriendskappe gesmee en gebou langs daai tafel. Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê: ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir my dat Jesus Homself gegee het.  Die Brood wat lewe gee is gebreek en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy ook vandag daarvan kan eet. Is daar genoeg sodat jy ook vandag ’n stukkie brood saam met iemand kan breek? ~ Wilna Botha, 02/06/2022

As ek die skeppingsverhaal in Gen. 1 lees, dan besef ek die Here het ons as mens geskep met ’n behoefte na kos. Hy het die mens geskep en Hy het gesorg dat daar vir hom iets sal wees om te eet: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte en saad gee. Dit sal julle kos wees.” (Gen. 1:29)  Verder sien ek dat die Here nie net vir ons kos voorsien sodat ons aan die lewe kan bly nie, Hy gee ook vir ons kos om te geniet. Ons eet mos vir die lekker ook! Daar is so ’n lawwe uitdrukking wat sê: ek eet nie om te lewe nie, ek lewe om te eet! Of soos Paulus in 1 Kor. 6:13 daarna verwys: “Kos is vir die maag en die maag vir kos.” (uit verband aangehaal, ek weet!) “Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit.” ( Gen. 2:9) Lekker om van te eet! Dis interessant dat die enigste voorskrif wat God vir Adam en Eva gegee het, oor eet gegaan het – van die boom in die middel van die tuin mag hulle nie geëet het nie. En natuurlik het die eerste verleiding en oortreding ook met etery te doen gehad, toe die slang vir Eva uitnooi om van die verbode vrugte te eet. As jy vanaand lekker kos het om te eet, geniet dit en dank die Here daarvoor. “Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?” (Pred. 2:24) “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.” (Pred. 9:7) ~ Wilna Botha, 07/06/2022

Segen Vader Segen sop... AMEN
Die mens is 'n unieke wese, en sy bestaan en oorsprong fassineer my vreeslik. God skep die mens op dag ses, maar ek sukkel om 'n prentjie te vorm van die gebeure toe God vir Adam gemaak het. Ek glo die Here het elke spesie na sy aard geskep, maar die mens is baie spesiaal, want hy is na God se beeld gemaak. Toe ek en 'n vriend onlangs daaroor praat, vertel hy vir my van iets wat hy in 'n boek gelees het. Ek was totaal verstom, en dis iets wat ek sekerlik weet maar nog nooit aan gedink het nie. Ek deel dit graag met jou.
Die mens is die enigste lewende spesie wat voedsel kan verwerk, 'n resep kan lees, verskeie voedselsoorte bymekaar kan sit en baie smaaklike etes kan voorberei. Dink net wat is alles nodig om 'n toebroodjie te maak, van die verwerking van meel, die bak van die brood, die maak van botter en alles wat jy graag op die toebroodjie wil sit en jy kan hom selfs rooster. Daardie vermoë het geen ander spesie nie. 'n Leeu jag 'n bok maar hy maak hom nie gaar nie, miere sit kos weg vir die winter maar verwerk dit nie, 'n aap pluk 'n piesang (hy skil hom weliswaar af) en eet hom net so op. Wel, enige bobbejaan kan dit seker doen, of hoe? Maar die mens maak vuur, verwerk kos om vir lank te kan hou en kan dit selfs vries.
En dan lees ons in Prediker dat ons dit gerus mag geniet. Ek en vroulief wonder toe waar in die Bybel ons die eerste keer lees dat voedsel verwerk word. Wel, Noag het na die sondvloed 'n wingerd geplant, wyn gemaak en hom dronk gedrink. Ons lees in Genesis 9 dat Abraham drie besoekers kry en vir Sara opdrag gee om sestien kilogram meel se roosterkoeke te bak om sy gaste te voed.
En dan, eventueel lees ons dat Jesus sê dat Hy die brood is wat lewe gee, en dat ons nooit weer geestelik honger hoef te wees nie.
Ons is baie uniek gemaak, meer as al die diere, omdat ons anders is in vele opsigte. Onder andere dat ons die vermoë het om daardie Een wat die Brood is wat lewe gee, kan soek, na Hom hunker, Hom ontdek deurdat ons kan lees, inligting versamel en verwerk, 'n keuse kan maak en Hom aanbid. Ons is meer as diere, ons is uniek en ons het ook die vermoë om Hom lief te hê. 'n Dier is anders, en jy en ek moet 'n bietjie reflekteer oor hierdie gedagte. Neem verwerkte kos en drank (wyn en brood) en herdenk jou uniekheid met nagmaal. Jy is deel van die enigste spesie wat dit kan doen. ~ Willem Botha, 13/06/2022

“Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.” (Eks. 2:20) Hier is ’n mooi Bybelse voorbeeld hoe ’n ete-uitnodiging, hoe gasvryheid, hoe saam kuier om ’n tafel, iemand se lewe kan beïnvloed. Deur iemand in jou spasie toe te laat, iets van jouself en jou goed met hom te deel kan iemand dalk motiveer, dalk troos, dalk help met ’n groot besluit, dalk geliefd en belangrik laat voel. Moses het gevlug uit Egipte na Midian nadat hy ’n Egiptenaar doodgeslaan het wat een van die Israeliete mishandel en geslaan het. Daar sit hy en rus by ’n put toe die sewe dogters van ’n priester van Midian daar aankom. Hy was behulpsaam teenoor die dogters en het hulle ook beskerm teen veewagters wat hulle wou verhoed om water te skep. Toe die dogters hul pa hiervan vertel, sê hy: “Waarom het julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.” En net hier word die verloop van Israel se geskiedenis beïnvloed. Moses gaan bly by die priester van Midian en trou met sy dogter Sippora. Daar het Moses vir baie jare gebly en vir sy skoonpa gewerk deur sy vee op te pas, totdat die Here hom by die brandende doringbos ontmoet het en hom geroep het om die Israeliete uit Egipte te bevry. Dit tref my hoedat een uitnodiging na ’n ete die verloop van Moses se lewe en die hele Israel se toekoms beïnvloed het. Hoedat dit blyk dat iets wat onbenullig en alledaags is, iets wat heel toevallig gebeur, deur God se wysheid en almag en voorsienigheid ontwerp is om sý doel te bereik. “A casual transient occurrence has sometimes occasioned the greatest and happiest turns of a man's life”, sê  iemand hieroor. Dink net, ’n uitnodiging aan iemand na ’n eenvoudige ete by jou huis, kan dalk ’n groot invloed hê. Dit kan moontlik daardie persoon se lewe verander en dit kan dalk jou lewe verryk. Dit hoef nie ’n vyfgang ete te wees of iets uit die boeke nie. Iets gewoon en eenvoudig soos ’n beker koue water is dalk genoeg. Ja, ek weet dis makliker gesê as gedoen! Ek is gewoonlik bietjie lui vir sulke uitnodigings, bietjie onwillig om iets op te offer, bietjie traag om ander in my huis in te nooi, bietjie suinig met my tyd, bietjie onseker oor my kosmaakvermoëns en so gaan my lys verskonings aan.  “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Heb. 13:2) ~ Wilna Botha, 14/06/2022

Na 'n klompie weke in basiese opleiding in die weermag kon ons ouers die eerste keer vir 'n dag kom kuier. Ek sal daai dag nooit vergeet nie, want hoewel ek vreeslik na hulle verlang het, kon ek nie wag vir die kos wat my ma saamgebring het nie. Dit was uit hierdie wêreld, regte egte heerlike huiskos!
Nou lees ek in die Bybel van 'n man wat so lus was vir lekker kos, dat hy die mees absurde ding denkbaar aangevang vir 'n lekker bord kos.
"Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan en sê vir Jakob: Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg! Daarom is hy Edom genoem. Toe sê Jakob vir hom: Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my. Esau het geantwoord: Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees? Jakob sê toe vir hom: Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak. Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene." (Gen. 25:29-34)
Bid jou dit aan, jy verruil jou reg as eersgeborene vir 'n bord sop!
Die eersgeborene was nie sommer ’n hierjy storie nie. Hy sou ⅔ van alles van sy pa erf en ook die familie se beheer en bestuur oorneem en ná die pa se afsterwe neem die oudste seun die leiding van die groep oor. Met daardie paar happe sop en brood verbeur Essau iets wat baie kosbaar was lewenslank, en dit lei daartoe dat die oudste die jongste sal dien. Lees Gen. 25 vers 23.
Kan kos, selfs net een enkele ete, so 'n vernietigende uiteinde hê? Inderdaad, maar ongesonde eetgewoontes kan ook oor 'n baie lang tydperk 'n mens se lewenskwaliteit totaal tot niet laat gaan en jou lewe verwoes. Ek wonder of Essau ooit spyt gekry het oor daardie enkele bord kos. Nou ja, hulle sê mos die pad na 'n man se hart loop deur sy maag. Wat die hart van vol is, loop die bord van oor... ~ Willem Botha, 15/06/2022

“Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.” (Eks. 12:8-11) Dit is die Israeliete se laaste ete in Egipte. ’n Afskeidsete, ’n afsluiting en klaarmaak met ’n swaar en bitter verlede, ’n vooruitkyk na verlossing en vryheid, ’n verlange na die beloofde land van melk en heuning. ’n Afskeidsete, maar gereed en voorbereid vir ’n nuwe lewe. ’n Volmaakte lam word geslag, die bloed word aan die bo en sykante op die deurkosyne gesmeer sodat die gesin beskerm is en die dood nie in hulle huise sal kom om hulle te tref nie. Hierdie fees sou elke jaar gehou word, die rituele presies dieselfde om hulle altyd te herinner aan die swaarkry wat geëindig het en die verlossing wat gekom het. So sou dit wees totdat Jesus, die volmaakte Offerlam, ’n nuwe Paasfees ingestel het met brood en wyn: “Vat dit en eet dit ... dit is my liggaam ... Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei" (Matt. 26:26-27) “Elke keer as julle hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.” (1 Kor. 11:26) ’n Afskeidsete van Jesus saam met sy dissipels, ’n afsluiting van sy werk op aarde, ’n belofte van sondevergifnis, ’n vooruitkyk na “die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel.” En elke keer wanneer ons weer die nagmaal vier is dit ons herinnering aan swaar en bitter tye wat verby is. Ons versekering dat God vír ons is, dat niks ons uit sy hand sal ruk nie, dat alles ten goede sal meewerk.  Ons herinnering dat ons vrygemaak is, nie meer slawe van sonde, nie meer vasgebind deur die verlede nie. Ons herinnering dat ons op pad is na die Beloofde Land. Ons mag nooit verveeld raak met die rituele van die nagmaal nie. Ons moenie dit oorslaan of gering ag nie. Ons moenie net eet en drink sonder om terug te dink en met vreugde vooruit te kyk nie. Ons mag nie net eet en drink en onveranderd voortgaan met ons lewens nie. Wanneer ons eet en drink, is dit met skoene aan die voete en kierie in die hand, aangetrek en gereed, opgewonde vir die reis wat voorlê. Die bloed van Jesus is aan die kosyne van ons deure gesmeer en gesprinkel in ons harte. Ons is veilig. Wees gerus en tevrede as jy die brood eet en die wyn drink. ~ Wilna Botha, 21/06/2022

“As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos het om te eet!” (Eks. 16:3) Ai, die liewe klomp Israeliete! Hulle is so pas op wonderbaarlike wyse bevry uit die slawerny en swaarkry in Egipte. Hulle het so pas droogvoets deur die Rietsee gekom en toegekyk hoedat die hele leërmag van die farao in die water verdwyn. En nou verwyt hulle vir Moses. Hulle honger en lus laat hulle terugverlang na Egipte. Hulle sê hulle sou liewer dáár langs die kospotte wou sterf. En dan kom die groot dors ook nog: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?” (Eks. 17:3) Is ons dalk saam met dié klomp skuldig daaraan om die hele tyd terug te kyk na die goeie ou dae, te verlang na dié tye toe dinge dalk makliker, goedkoper, mooier, eenvoudiger was? “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie.” (Pred. 7:10) Deur die hele tyd terug te verlang na daai kospotte, kyk jy dalk net vandag se seëninge mis. Deur vas te haak by die ou dae benut jy dalk nie vandag se geleenthede nie, besef jy nie vandag gaan oor ’n paar jaar die “ou dae” wees nie. As jy vandag aanhou kerm en kla en verwyt oor dit wat jy nie meer het of nie meer kan doen nie, gaan jy dalk nie besef dat die Here se seëninge en versorging en uitkoms en wonderwerke reeds op jou drumpel staan nie. “Toe het die Here vir Moses gesê: Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën.” (Eks 16:4) Manna en kwartels - elke dag, genoeg vir daai dag. Mag ons elke dag ons manna en kwartels sien reën op ons. Mag ons dit elke dag met blydskap en dankbaarheid optel en eet en geniet en tevrede voel omdat ons weet dat die Here ons nie onversorg aan ons eie lot sal oorlaat nie. Onthou die kospotte van die verlede, maar moenie vandag se manna en kwartels mis nie! En bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” ~ Wilna Botha, 23/06/2022

“Jy kan water drink uit die spruit en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” (1 Kon. 17:4) “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” (1 Kon. 17:9) Hierdie is vir my sprekende voorbeelde van die Here se voorsiening en versorging vir sy kinders. Op buitengewone maniere, anders as wat mens sou verwag, effe onrealisties nie waar nie? Kraaie bedien vir Elia met brood en vleis, twee keer per dag. Mens sou eerder verwag dat hulle self die vleis sou opvreet of Elia se oë kom uitpik, maar tog gebruik die Here hulle om op bonatuurlike wyse vir Elia te voed. Toe die spruit opdroog, stuur die Here vir Elia na sy volgende onverwagte versorger, die weduwee van Sarfat. Sy was op die punt om haar laaste meel en olie te gebruik om vir haar en haar seuntjie kos te maak toe Elia haar aansê om vir hóm ’n roosterkoek daarmee te maak. Sjoe, weer ’n keer kom Elia se ete anders as wat mens sou verwag. Dis nie iemand wat ’n spens vol kos en voorraad het nie. Dis nie iemand wat mildelik sou kon uitdeel nie. Nee, die Here gebruik die weduwee wat omtrent niks het nie. Sy is egter gewillig om wat sy het uit te deel, omdat die Here so sê. Dit laat mens mos dink aan die weduwee wat haar laaste sente in die offergawekis gegooi het en toe het Jesus gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.” (Luk. 21:3-4) Die weduwee van Sarfat se gehoorsaamheid is mildelik beloon deur die Here. Ons lees in 1 Kon. 17:16 hoedat die meel in die kruik en die olie in die kan nie minder geword het nie en hoedat sy en haar seuntjie en Elia genoeg gehad het om te eet totdat die droogte verby was. “Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed”, sê  Spr. 19:17. Miskien is jy vanaand dié een vir wie die Here op bonatuurlike wyse versorg en kan jy getuig van sy voorsiening vir nog ’n ete op jou tafel. Of dalk is jy vanaand dié een wat jou laaste roosterkoek moet weggee. Of dalk is jy vanaand dié een wat een van jou baie roosterkoeke moet uitdeel. Doen wat jy moet doen en die Here sal jou vergoed.  ~ Wilna Botha, 28/06/2022

“Toe hy hom weer kom kry, skud ’n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” (1 Kon. 19:6) En daar kry Elia nóg ’n keer sy ete op ’n buitengewone, bo-menslike wyse: ’n engel bedien hom met roosterkoek en water – twee keer na mekaar. Eers het die kraaie vir hom kos gebring, toe die weduwee van Sarfat en nou die engel. Elia was benoud en bang en het gevlug vir sy lewe – woestyn in. Hy het onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood en sommer vir die Here gesê om sy lewe te neem. Hy sien nie meer kans nie. Alles is te veel vir hom. Hy is moeg en moedeloos. Hy is gereed om op te gee. Daar onder die besembos het hy aan die slaap geraak en daar is hy wakker geskud deur ’n engel wat vir hom kos gebring het. “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. Toe staan hy op en hy eet en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.” (1 Kon. 19:8) Was jy al bedien deur ’n “engel”? Het dit ook al met jou gebeur dat jy moeg, depressief of hartseer was, dat jy verlore en eensaam gevoel het, of siek was, of oorwerk was en dan het daar ’n engel verskyn met ’n bord kos, of ’n pot tuisgemaakte sop, of ’n lekker warm wegneem koffie, of ’n sjokolade? Dit het al met my gebeur. As ons nie gevoed word met kos nie, sal die pad vir ons te lank word, sal ons nie krag hê om voort te beur deur die woestyn nie. Soms is mens net emosioneel só uitgeput dat jy nie kans sien vir kosmaak nie, of fisies so flou dat jy nie na jouself kan omsien nie. Dan, op die regte tyd kom die engel met die roosterkoek en die kruik water en word jy emosioneel en geestelik en fisies versterk deur die moeite en liefde wat iemand aan jou bewys met iets om te eet. Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. ~ Wilna Botha, 30/06/2022

“Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee.” (Joh. 12:2) As daar nou ’n ete is waar ek ook ’n gas sou wou wees, is dit toe Jesus by Marta en Maria-hulle geëet het. Lasarus was aan tafel. Slegs ’n paar dae tevore het Jesus hom uit die dood opgewek. Ek sou vir Lasarus wou sien en hom uitvra oor sy ondervinding en ek sou wou hoor of hy nou heeltemal genees is van die siekte wat hy gehad het. As ek daar was, sou ek vir Marta wou help met huis skoonmaak, kos voorberei, tafel dek, skottelgoed was, ens. Ek wonder wat het sy gereed gemaak vir die gaste. As ek die geleentheid gehad het om vir Jesus ’n ete te gee, wonder ek wat sou ek voorgesit het? Ek sou, soos Marta, ook wou hê alles moet perfek verloop en ek sou, soos Marta, geskarrel het om alles klaar te kry en ek dink ek sou, soos Marta, vies gewees het as my suster nie bietjie handjie bygesit het om te help nie. En tog sê Jesus vir Marta: “Marta, Marta, jy is besorg oor baie dinge, maar net een ding is nodig ...” (Luk. 10:41) Marta (en Wilna), moenie só besig wees om alles perfek te kry, dat jy nie aandag gee aan die gaste aan jou tafel nie. Moenie só opgeneem wees deur die gejaag en gewerskaf van elke dag, dat jy nie vir Jesus raaksien en nie tyd maak om net by sy voete te sit nie. Dan was daar Maria – sy het baie duur olie gebring en op Jesus se voete uitgegooi en dit met haar hare afgedroog. Ek sou beslis ook na my asem gesnak het as ek Maria dít sien doen het. Ek sou dalk ook, soos Judas, gedink het dat dit vermorsing is en dat daar iets beter met daai geld gedoen kon word. Tog wens ek ek was Maria, wat nie omgegee het hoeveel ek prysgee om myself aan Jesus te gee nie, wat nie omgee wat die mense van my sal dink as ek die Here op my eie unieke manier aanbid nie, wat openlik voor almal kan bewys dat ek Hom liefhet en dat Hy belangriker is as enige iets anders. Maria se daad was een van oorvloedige gee, diep liefde en ware aanbidding en bewondering. Geen wonder dat Jesus gesê het: “Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.” (Mark 14:9) ~ Wilna Botha, 05/07/2022

“U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.” (Ps. 23:5) Daar het jy dit nou! Jy is genooi! Die Here het ’n feesmaal vir jou voorberei. Om die waarheid te sê, jý  is die eregas. Hy wag vir jou langs die feestafel met arms vol goedheid, guns en genade. Hy bedien jou met hartlikheid en aanvaarding en liefde. Daar is blydskap, vrede en vergifnis op die spyskaart. Die Gasheer het ook troos, hoop en raad voorberei. Hy skink van Homself totdat jou beker oorloop. Hy salf en seën jou daar waar jy aansit. Alles is in oorvloed. Dit laat my dink aan die woorde wat ek soveel keer gehoor het by die bediening van die nagmaal: “Broers en susters, alles is gereed; kom na die tafel van die Here. Kom, en word versterk in die geloof.” Alles is gereed vir jou en my. Kom sit aan by die feesmaal en geniet van alles. Kom en word versterk vir die lewenspad. ~ Wilna Botha, 07/07/2022

“Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie. Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie. Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil.” (Spreuke 23:6-8, Afrikaans OV) In ’n Engelse vertaling lees dié teks so: “Do not take the food of him who has an evil eye ...” Dit is so dat mens uitgenooi kan word na ’n ete, maar die gasheer het nie suiwer motiewe met die uitnodiging nie. Dink maar aan daai besigheidsete waarheen die gasheer jou genooi het, net om van jou kennis te tap, of om jou om te koop, of om jou te manipuleer. Eet en drink, nooi hy jou uit, maar sy hart is nie met jou nie. As jy besef wat aangaan, voel jy verneuk, voel jy dalk letterlik naar van dit wat jy geëet het en weet jy dat dit ’n vermorsing van jou vriendelike woorde was! Of dink aan die tipe “wine and dine”-ete waarheen menige dame al genooi was, net om uit te vind die gasheer het ’n “evil eye” – hy wou hê dat die ete uitloop op iets meer. Nou ja, dis genoeg om mens jou kos te laat uitspuug as jy besef die uitnodiging was eintlik om jou te misbruik. Of dink aan ’n ete waarheen jy al genooi was en dan het alles dalk net uitgeloop op ’n geskinder, slegpraat van ander of dalk selfs op ’n rusie – ’n ete sonder enige opbouende, insiggewende, interessante gesprekke wat die kos so laat dik word in jou keel. Of dink aan ’n ete waarheen jy al genooi was en dan is die gasheer letterlik afgunstig op jou, kyk neer op jou of probeer jou minderwaardig laat voel met sy meewarigheid – ai, wie wil nou aan só ’n tafel eet? Met ’n fyn aanvoeling kan ons dalk onderskei wat die motiewe is van jou gasheer en kan mens dalk betyds die uitnodiging van die hand wys, nè. Draai dit ook maar altyd om en ondersoek jou eie motiewe wanneer jy iemand uitnooi na ’n ete. ’n Ete in opregtheid, waar dit oor vriendskap en meelewing gaan is so kosbaar dat dit nie saakmaak wat op die spyskaart is nie! Kyk hoe mooi sê Spreuke dit: “Liewer net ’n bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby. (Spreuke 15:17) en “Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.” (Spreuke 17:1) ~ Wilna Botha, 19/07/2022

’n Spesiale ete wat sommige van Jesus se dissipels saam met Hom gehad het, was dié een in Joh. 21 – visbraai op die strand met lekker vars brood as bygereg. Ná sy opstanding uit die dood, verskyn Jesus weer aan sy dissipels by die See van Tiberias. Petrus-hulle het seker besluit om maar terug te gaan na hulle “ou” werk as vissermanne, of dalk wou hulle net hulle gedagtes en hande besig hou nadat Jesus gekruisig is, dalk wou hulle net iets gaan vang om vir die dag te eet. Hoe dit ook al sy, hulle het die hele nag lank niks visgevang nie. Skielik staan Jesus op die strand en sê vir hulle om die net aan die regterkant uit te gooi. Hulle het besef dat dit Jesus was, want Hy het al voorheen ook vir hulle só vreemde opdrag gegee met ’n wonder-vangs as resultaat. Toe hulle op die strand kom met hulle nette tot oorlopens toe vol vis, was daar ’n vuurtjie aan die gang met ’n stuk vis op en brood daarby en Jesus nooi: Kom eet! “Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle en net so ook die vis.” (Joh. 21:13) Toe hulle moedeloos en moeg was, rigtingloos en ontnugter, hartseer en sonder hoop, staan Jesus daar met ’n voorbereide maaltyd en ’n uitnodiging om te rus en saam te eet. Ons kan ook die versekering hê dat as die nag lank en donker lyk, as al ons geswoeg niks oplewer nie, as ons moedeloos is en sommer net doelloos ronddobber, sal Jesus dáár wees, sal Hy jou aanmoedig om weer te probeer, om die net dalk aan die ander kant uit te gooi. Hy sal egter ook dáár wees met fisiese versorging. Hy sal voorsien. Sien jouself vanaand saam met Jesus op jou lewensstrand en kom haal van die vis en die lewende brood. Mag dít vir jou genoeg wees. ~ Wilna Botha, 21/07/2022

“Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die verpligting om jou vir ’n ete terug te nooi. En so gaan dit dan heeltyd aan. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is. As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit.” (Luk. 14:12-14, Die Boodskap) Jesus was uitgenooi na die huis van ’n vooraanstaande Fariseër vir ’n ete. Daar het Hy gesien hoedat almal skarrel om die voorste en beste plekke aan tafel te kry en hoe die een dink hy is belangriker as die ander, hoe die bywoning van die ete vir hulle ’n groot sosiale eer was waarop hulle aanspraak gemaak het. Hy praat toe met hulle oor nederigheid en om liewer doelbewus die swakste plek aan tafel uit te kies. Hy gaan toe verder om vir die gasheer dié raad te gee om volgende keer liewer die minderwaardige, onbelangrike, sukkelendes in die samelewing uit te nooi, mense wat werklik ’n ete nodig het, mense wat altyd uitgeskuif en oor die hoof gesien word. Wie is op jou uitnodiginglys? Iemand wat jou laas maand uitgenooi het en nou is jy verplig om hulle weer te nooi, al wil jy nie, al voel jy jy gaan nie so goeie gasheer wees as wat hulle was nie, al kan jy dit dalk nie bekostig om vir hulle die beste voor te sit nie, al moet jy dalk spesiaal nuwe eetgerei gaan koop sodat jy nie afsteek nie? Of iemand vir wie jy wil beïndruk met jou mooi goed en jou oordadige spyskaart en jou gasvryheid? Ons is betrokke by gestremde persone en ek kan jou verseker as jy saam met só iemand aan tafel sit, sien jy eerlikheid, ervaar jy opregtheid . Daar is geen pretensie nie. What you see is what you get. By so iemand kan jy ook net jouself wees. Jy hoef nie jou beste voetjie voor te sit nie. Jy kan die eenvoudigste kos wat jy op jou tafel het deel en dit sal waardeer word en sonder beoordeling aanvaar en geniet word. As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n gelukkige mens, sê  Jesus. ~ Wilna Botha, 26/07/2022

“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (Joh. 6:9) Ons lees in elkeen van die evangelies van dié etenstyd toe Jesus ’n skare van vyfduisend mans plus vrouens en kinders kos gegee het. Dit moes ’n spesiale etenstyd gewees het. Só baie mense bymekaar. Só ’n groot honger om te luister na Jesus se prediking en om sy aanraking en genesing te ervaar. Ek wonder baie keer hoekom was net die een seuntjie voorbereid met sy kosblikkie vol broodjies en vis? Hoekom het die mense nie almal met hulle kosmandjies opgedaag nie? Dalk het hulle nie beplan om so lank en so vêr van die huis af weg te wees nie. Dalk het hulle nie omgegee om honger te ly nie, solank hulle net by Jesus kon wees. Dalk het hulle gewéét dat Hy sou sorg. Jesus se hart breek as Hy die menigte honger mense sien. Hy stuur die dissipels om te kyk hoeveel brood daar is: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” (Mark 6:38)  Met dit wat beskikbaar was in sy hand het Jesus na die hemel opgekyk en die seën gevra en die brood gebreek. As Jesus brood breek, is daar genoeg vir almal. As Jesus brood breek, word almal versadig. As Jesus brood breek, is daar oorvloed. As Jesus brood breek, wéét ons Hy is die brood wat lewe gee. As Jesus brood breek, verander die wêreld. As Jesus brood breek, hoor ons: neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis (1 Kor. 11:24). Kom, eet, dis verniet. Kom, eet en word versadig. Kom, eet en sien die wonderwerke van God in jou lewe. ~ Wilna Botha, 08/08/2022

“Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën , breek dit en gee dit vir hulle.” (Luk. 24:30) Só verloop dinge aan die etenstafel in Emmaus waar Jesus ná sy opstanding saam met twee van sy dissipels eet. Hulle het Jerusalem verlaat nadat Jesus gekruisig is. Hulle was verslae, hartseer, ontnugter en teleurgesteld (soos wat mens maar voel ná die tragiese, ontydige dood van ’n geliefde) en vat toe maar pad na Emmaus. Terwyl hulle langs die pad loop en tob oor alles wat gebeur het, val Jesus langs hulle in en vra hulle uit oor hulle gevoelens en menings. Hy gee vir hulle perspektief, Hy bemoedig hulle deur die Woord en Hy bly by hulle oor vir die nag. Hulle besef egter eers wié Hy is toe Hy die brood breek en vir hulle gee. Ek hoop as jy ’n jouself op ’n moeilike pad bevind waar jy hartseer, verlore en gebroke is, jy sal ervaar dat Jesus langs jou kom loop, dat sy woorde en sy troos jou hart warm sal laat word en dat jou binnekant tot bedaring sal kom as Hy brood breek vir jou. Ek hoop dit sal op daai oomblik wees dat jy in die brood by die tafel vir Jesus sal vind. Dat jy in die brood sal raaksien dat Hy vir jou sorg en jou nie alleen sal los nie. Dat jy in die brood sal sien dat daar vergifnis en genade is, dat daar vrede en nuwe lewe is.  Dat jy die brood sal neem en sal weet dat dit vir jou persoonlik gebreek is. Neem, eet ... ~ Wilna Botha, 10/08/2022

“Julle kan nou maar kom, die tafels staan gereed met die heerlikste kos. Laat die fees begin. Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek.... “ (Luk. 14:17-18. In dié gelykenis wat Jesus vertel sien ons die tafel wat God vir sy volk voorberei het. Alles van die beste is daarop uitgepak. Oorvloed daarvan. En die Gasheer se uitnodiging is uitgestuur: Kom, eet, verniet, sonder skuld, sonder voorbehoud. Kom, daar is plek vir almal. Kom, daar is plek vir jóú ook, ’n plek met jóú naamkaartjie daarby. Jy hoef nie eers ’n bottel wyn of blomme saam te bring nie! Kom met leë hande, kom soos jy is, kom net. Iemand het dit eenmaal só beskryf: Dit is ’n uitnodiging na die tafel in die middel van die kosmos. Wie sal nou nie dié uitnodiging aangryp nie? En tog kom die verskonings nou een na die ander: ek het ’n stuk grond gekoop en moet net eers gaan kyk hoe dit lyk; ek het ’n paar osse gekoop en moet net gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan; ek het pas getrou en kan nie nou kom nie. Ek is te besig, net eers dit of dat afhandel, net eers my lewe geniet, net eers nog bietjie geld maak, net eers klaar studeer, net eers huis bou, net eers ... Moenie die Here se ete-uitnodiging ignoreer nie, moenie verskonings uitdink nie. Maak soos die verlore seun van Luk. 15 en gaan terug na jou Pa se huis toe, gaan sit aan by Sy feestafel. Hoor wat sê Hy: “Vandag gaan daar feesgevier word. Ons gaan eet en lag en bly wees, want my seun is terug! Ek het gedink hy is al dood, maar kyk, hy leef! Hy was weg, maar nou is hy terug waar hy hoort: in sy pa se huis.”(Luk. 15:24, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/08/2022

“As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.” (Rom 12:20, Die Boodskap) Ai ja, mens kan mos nou verwag om iets só ongewoon in die Bybel te lees! Wie wil dít nou doen? Die menslike en natuurlike optrede teen jou honger vyand sal dalk wees om jou te verlekker in sy situasie, jy kan dalk dink (en sê!): Jy wil mos! Kry nou vir jou! Ly nou maar lekker honger, jy wou my mos te na kom. Die Here se verwagting vir sy kinders is egter om téén die natuurlike gevoel op te tree. Dalk is dit tyd om die strydbyl te begrawe met daai familielid en hulle uit te nooi vir ’n ete. Dalk is dit tyd om dinge uit te sorteer met jou moeilike kollega by die werk – dit sal makliker wees rondom ’n koffie en ’n lekker skon. Dalk is dit tyd om dinge reg te stel met jou buurman wat jou te nagekom het – bedien hom met iets om te eet. Ek dink dis moeilik om nog kwaad te bly vir iemand wat na jou uitreik met ’n bordjie eetgoed, of saam met jou om ’n tafel sit en eet. Wanneer mens sáám eet, ontlok dit gesprekke. Wanneer mens sáám rondom ’n tafel is, kom daar dalk ’n nuwe perspektief en ’n nuwe verstaan en medelye met die ander persoon. Kyk wat sê die teks sal die uiteinde wees: jou vyand sal skaam kry! Hy sal selfondersoek doen oor sy houding, hy sal vergewensgesind wees, hy sal sien dat jy hom respekteer ten spyte van sy optrede of gevoel teenoor jou. Is dit ’n maklike opdrag? Beslis nie. Is dit moontlik? Ek dink so. Kom ons gaan probeer dit. “Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit plas glad nie by gelowiges nie.” (Rom 12:18-19) ~ Wilna Botha, 23/08/2022

“Let op! Ek staan by die deur en klop. As iemand hoor hoe Ek roep en die deur vir My kom oopmaak, sal Ek instap na hulle toe. Ek sal saam met hulle kom eet. Hulle sal feesvier saam met My.” (Op 3:20, Die Nuwe Nuwe Testament) Kyk, dis Jesus Christus, die Seun van God, die Redder, die Verlosser, die Vredevors wat buite staan. Hy klop. Hy wag om ingenooi te word om saam met jou te kom eet. Hy wil jou gewone, louwarm lewe in ’n feesviering kom omskep. Ek het eintlik nog altyd gedink hierdie teks is van toepassing op daai heel eerste keer toe ek Jesus se klop en sy roep gehoor het en my hart se deur vir Hom oopgemaak het en Hom ingenooi het in my lewe. Maar vandag toe sien ek hierdie teks staan in die gedeelte waar die gemeente van Laodisea aangespreek word oor hulle louwarm Christenskap. Hulle is verwaand en selfvoldaan. Hulle dink hulle het niemand en Niemand nodig nie. Hulle sê: “Ons is ryk, skatryk en ons het niks meer nodig nie.” (Op 3:17), maar intussen is hulle geestelik brandarm en bankrot, geestelik kaal en verlore, louwarm. En dis húlle wat moet kyk na die Een wat by die deur staan klop. Dis húlle wat moet hoor dat Hy roep. Dis húlle wat moet besluit of hulle oopmaak en of hulle doof bly vir sy klop. Dis húlle wat moet besluit of daar plek is vir Jesus aan hulle etenstafel, in hulle gewone dag tot dag lewe, in elke hoekie van hulle gedagtes en hart. Dalk is ek of jy vandag dié een wat weer die geklop en geroep moet hoor in ons louwarm bestaan. Kyk, dis Jesus self wat wil inkom, wat ’n intieme verhouding met jou wil hê, wat saam met jou ’n feesmaal wil hou. Dalk voel jy daar is niks aan jou lewenstafel om vir Hom aan te bied nie. Wees verseker dat Hy alles sal saambring wat nodig is vir ’n feesmaal, vir ’n lewe van oorwinning. Hy bring vars genade, Hy sit vergifnis voor, Hy dek die tafel met liefde, Hy meng vrede en troos in, Hy sit vreugde, blydskap en genot op jou bord. Mag jy vandag saam met Hom feesvier! ~ Wilna Botha, 13/09/2022

“Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” (Luk. 14:15) Jesus was aan huis van ’n vooraanstaande Fariseër om daar te gaan eet. Êrens deur die loop van die kuier, sê  iemand wat saam aan tafel was: Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem. Ek wonder of dit een van die Fariseërs was? Het hy besef dat daar eendag ’n groot feesmaal vir al die volke sal wees met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn, ’n feesmaal waar die Here die dood vir ewig vernietig en die trane op almal se gesigte afvee? (Jes. 25:6,8) Het hy verlang daarna om een van dié gelukkiges te wees? Kon hy weet dat hy dalk een van dié sou wees wat te laat sou besef dat hy net ’n toeskouer by dié feesmaal sou wees, terwyl God se kinders daar met hartlikheid, goedheid en liefde oorlaai sou word? (Ps. 23:5-6) Of was dit dalk een van die dissipels wat dit gevra het? Iemand wat later aan die Paas-tafel saam met Jesus sou wees en die aand voor sy kruisiging sou hoor: Neem, eet; dis is my liggaam. Drink almal uit die beker want dit is my bloed wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. “Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” (Matt. 26:29) Of was dit een van Jesus se volgelinge wat dit gevra hê? Iemand wat na die bruilofsmaal van Lam genooi is, iemand wat die uitnodiging aanvaar het, iemand wat alreeds kon uitsien om met witgewaste, fyn, helder blink klere deel te neem aan die maaltyd in die koninkryk van God? (Op 19:8-9) Gelukkig is die een ...! ~ Wilna Botha, 20/09/2022

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)