| 
      G
      E T U I E N I S S E
 
        
        
          
            | Ai,
              ek dink net terug aan die lekker kamp wat ons gehad het. 
              Ek wil net
              weer vir julle  baie, baie dankie sê vir die heerlike
              naweek.  Alles was
              fantasties.  Die
              ysbreek sessie was baie goed
              en toe ook nog die temas self was diep en baie leersaam. 
              Die sing was
              heerlik en ek kon vrede en liefde ervaar. 
              Ek kon heeltemal myself wees
              sonder enige maskers.  Die
              stilte en om in die veld te wees was heerlik
              en die balangrikste, Jesus was verseker daar. 
 Alle blessings vir julle.
 Paulie
              en Retha.   |  
            | Met groot verwagting èn
              afwagting het ons slapies afgetel totdat die kamp aangebreek het.
              Van dag een af, het ons geweet, hierdie kamp is 'n moet en 'n
              geleentheid om nie deur ons vingers te laat glip nie. Wat 'n geestelik verrykende
              en versterkende ervaring!! As versorger, het ek die geleentheid
              gehad om net weer my beker vol te maak, sodat ek die kind wat aan
              my toevertrou is, met nuwe moed kan versorg. In 25 jaar, is dit
              die eerste keer, dat mense op so manier na my en Sonja uitreik! Vir Sonja (25) was sommer
              net als lekker! Vir Rovan (19) wat droom om
              'n bestuurslisensie van sy eie te hê, was die voorreg om self die
              vierwieler te kon bestuur, die hoogtepunt!! Hy kon op pad terug,
              nie ophou borrel daaroor nie! Willem en span was deur en
              deur 'n toonbeeld van Jesus se liefde vir ons as versorgers èn
              ons kinders met spesiale behoeftes. Elna, Sonja en Rovan |  
            | Dit was vir ons as ouers van
              gestremde kinders 'n baie groot riem onder die hart om te kan sien
              dat daar nog kinders van God is wat bereid is om deel te wees van
              'n gestremde span.
              
               Ons as gesinne het ook baie geleer om
              ons kinders se gestremdheid deur 'n ander venster te sien ongeag
              of hulle kan lees of skryf. Dit kan ek wel sê dat hierdie kinders
              is 'n geskenk van God en ons moet hulle mooi oppas vir sy rykdom.
              Jy as ouer moet net een ding onthou dat jy as ouer het 'n groot
              verantwoordelikheid teenoor hierdie kinders en teenoor God. Jou
              doel op hierdie aarde is om volgens God se wil hierdie kinders
              groot te maak en seker te maak dat hulle al die liefde kan en moet
              ontvang wat God van jou as ouer verwag. Solank hulle 'n dak oor
              hulle koppe het en kos in hulle magies skort hulle niks nie
              behalwe jy as ouers se liefde en die genade van God.
              
               Die kamp het ons opnuut laat besef
              dat ons moet dankbaar moet wees vir dit wat God aan jou toe
              vertrou het. Om 'n gestremde persoon(e) te wees is glad nie maklik
              nie, maar met die liewe Here aan hulle sy sien hulle kans vir baie
              dinge.
              
               In hierdie kamp weet ek is daar mense
              wat die lewe uit 'n ander oog sien. 
              
               Ons is dank aan ons dierbare Vader
              vir mense soos Willem & Wilna, Dennis & Marietjie, Jan
              & Susaar en André & Martie wat geluister het na die
              roepstem van God en gedoen het wat van hulle verwag was deur God.
              
               Ons wil vir Loftie en sy span by Deo
              Volent Bush Adventures ook baie dankie sê dat hulle ook bereid
              was om te leer hoe om 'n gestremde kind te hanteer en ek weet dat
              hulle al hulle krag van ons dierbare God ontvang het. Die feit dat
              hulle hulle nie blind gekyk het na elkeen se gestremheid nie, sê
              baie. Ek weet dat hulle by Deo Volent Bush Adventures die lewe in
              'n ander lig gaan sien.
              
               Ek wil ook aan almal wat die kamp
              bygewoon het baie dankie sê. Dit was 'n baie wonderlike en
              leersame kamp wat ons nooit sal vergeet nie. Julle almal is
              wenners in God se oë.
              
               Ek wil ook van hierdie geleentheid
              gebruik maak en sê as daar instansies is of hoofstroom skole is
              wat meer wil weet van gestremde kinders is ons bereid om met hulle
              te kom praat.  Skakel
              Dean & Elize Edgerton by die volgende No: 073 727 6148 of na
              18H00 by (012) 3318359. 
              
               ONS WIL DIE ALMAGTIG GOD EN HEER AL
              DIE EER GEE.  |  
            | Ek wil julle net
              graag weer bedank vir die HEERLIKE kamp wat ons so bevoorreg
              was om by te woon. Die kamp vir gestremdes het vir my en my
              vrou baie beteken - dit het ons verfris en verryk.
              Ons het tuis gevoel in die ontspanne atmosfeer en almal het mekaar
              dadelik aanvaar - net soos ons is.  
              
               Die werksessies was
              almal leersaam en goed aangebied en Deo Volente se kos en verblyf
              was voortreflik. Ons kon weer nader kom aan Jesus en ons
              verhouding met Hom versterk. 
              
               Ons gaan beslis
              saam as julle weer so 'n kamp reël! 
              
               Dian van Zyl |  
            | Weereens
              baie baie dankie aan Radio Rippel se mense en almal wat betrokke
              was by die reëling van die kamp vir gestremdes. 
              
               GROOT
              Dankie aan Onse Hemelse Vader vir mense wat omgee, mense wat
              gestremdes weer menswaardig laat voel. Hulle kon vriende maak,
              kuier, lag, huil en ook geestelik groei. En nie net hulle nie, ons
              as ouers ook, en dit het ons nog nader aan mekaar en ons Here
              gebring. 
              
               Spesiaal
              vir jou en Wilma - Prys die Here vir julle, ek het nie woorde nie
              - dit was ‘n belewenis. 
              
               Louis
              en Ansie  |  
            | Die afgelope naweek was die
              fenominaalste twee dae van ons lewens! Ja, ons praat van die kamp
              vir gestremdes gehou onder die vaandel van Radio Rippel. Dankie
              Kobus, ‘n GROOT RIPPEL vir jou!  
              
               Ons het REGTIG die Here leer ken. Ons
              het ook geleer dat jy maar mag pret hê terwyl jy jou Here dien en
              loof. Jy hoef nie met ‘n gefronsde vroom gesig te sit nie. 
              
               Dankie Willem en Wilna, julle as sy
              instrumente sal vir ewig geseënd wees in alles wat julle in Sy
              Naam doen. Julle liefde en geduld met almal wys aan ons almal wat
              se groot Christene julle is. Aan almal by Deo Volente, baie dankie
              vir al julle bystand en liefde, die heerlike kos en julle harde
              werk. Ek is seker almal waardeer dit opreg. Ons kan julle verseker
              dit was nie die laaste sien van dié twee blinkkantiene nie! Julle
              geselsies word net so waardeer. 
              
               Ons het twee nuwe mense teruggekom en
              het meer moed vir ons nuwe lewe.  
              
               Mag julle almal net geseënd vorentoe
              gaan en weet God is lief vir ons almal. Vrede in Christus vir
              julle almal. 
              
              Anemari
              Botha & Rhoda Kitching |  
            | Om te sien hoe
              ander gestremdes die kamp beleef het, het my Rudolf Strydom
              eintlik met ‘n gevoel van wie is ek nou eintlik gelaat, 
              want ek het nie juis deelgeneem aan die besprekings of
              praatjies en het nie juis gemeng met ander nie. Die ervaring op
              die kamp was uiters heerlik en die vriendelikheid en
              behulpsaamheid van die organiseerders het vir my uitgestaan. Die
              vrymoedigheid en spontane deelname van veral Dusty het my my kop
              in skaamte laat sak. Die terrein waar die kamp aangebied was is
              baie verrykend vir die gees omdat dit weg van die stad se gewremel
              is, in die natuur waar mens weer mens kan wees. Een stukkie  persoonlike
              getuies van my kant is dat Rippel en ‘n geprek of twee my lewe
              so beinvloed het dat ek vir ‘n jaar nou skoon is van drank. Dank
              die Here. 
              
               Vir Willem, Wilna
              en die res van die span ‘n groot dankie en waardering 
              
               Groete 
              
              Rudolf |  
            | Ons
              wil net sê dankie vir die geleentheid wat ons gehad het om die
              kamp by te woon.  Dit
              was vir ons 'n besonderse geleentheid en hier het ons net weer
              besef hoe baie ons het om voor dankbaar te wees. 
              Miskien was die rede van hierdie kamp om ons net meer op
              ons knieë te hou omdat ons so volmaak geskape is. 
              
               Dit
              was wonderlik om hierdie gestremde persone met hulle ouers te
              ontmoet en die naweek saam met hulle deur te bring. 
              Hierdie mense is almal so borrelend oor die Here!! Almal so
              vriendelik!! Nie een van hulle is ongelukkig oor enige iets wat
              met hulle verkeerd is nie. Hulle praat baie van die Here en soos
              Johnny self vir Quintus gesê het, dat hulle nie ongelukkig oor
              hulle gestremdheid is nie.  Dat
              die Here goed is vir hulle en vir hulle ook baie wonderlike ouers
              gegee het, maar dis net die Here wat weet hoe swaar hulle in die
              oggend opstaan. 
              
               Ons
              het elke oomblik saam met hulle geniet. 
              Hulle is so spontaan, glad nie beskroom as ons vra dat
              hulle moet gaan dans of sing of enige iets doen. 
              Hulle is net te gewillig om deel te neem en wat vir hulle
              baie lekker was is om vir ons drukkies uit te deel. 'n Mens kan
              net sien hoeveel liefde hulle bereid is om te gee - dis
              onvoorwaardelik.  En
              hulle het ook 'n baie goeie sin vir humor en dit wys net vir ons
              hoe gelukkig hulle tog is. 
              
               'n
              Besondere dank aan julle wat voorbereidings gedoen het en alles
              wat julle opgeoffer het om hierdie kamp moontlik te maak. 
              Dit was 'n groot sukses!! Mag die Here julle seën sodat
              dit nie die laaste kamp vir gestremdes sal wees nie en dat julle
              altyd sulke wonderlike byeenkomste sal hê. 
              
               Baie
              dankie 
              
               Liefde 
              
              Jan
              & Susaar |  
            | Sjoe – hierdie naweek was no regtig
              ‘n “eye-opener” vir ons gewees. Ek moet bieg – ons het nie
              regtig geweet wat om te verwag van die mense wat die kamp gaan
              bywoon nie. Dis moeilik as jy nie self gestremdes in jou nabye
              familie het nie. Maar – ons was lekker verras deur die
              wonderlike mense wat ons ontmoet het hierdie naweek. Sommer met
              die intrapslag, het ons geweet hierdie gaan ‘n spesiale naweek
              wees. Ek moet erken dat ek by elke persoon die naweek iets geleer
              het. Of die persoon blind was, gestremde hand het, spierdistrofie
              sy liggaam verniel het, Downsindroom het of in ‘n rystoel
              gekluister is – elkeen van hierdie mense is spesiaal! Ek het nie
              een klagte gehoor die naweek van pyne of kwale nie. Hulle sing uit
              volle bors, hef hande op, en Dusty, Karen en Louis spring op en
              dans op Danie se Christelike weergawe van die Bloubul song. Hulle
              kom sê vir jou “dankie” na ‘n boodskap, met ‘n lekker
              druk en al – die Here seën jou, oom... Adelle wat mimiek doen
              op “Houtkruis” terwyl sy al die woorde saamsing. Leander het
              diep vrae om beantwoord te word, en REGUIT stellings oor onbybelse
              dinge wat deesdae in die kerk goedgekeur en goedgepraat word.
              Dian, Rudolf, Eddie, Wayne, Rovan 
              en Sonja – altyd stil en rustig, kyk dinge uit op ‘n
              afstand. Anemari lag te lekker waar sy vasgekluister is in haar
              rolstoel. Sy moet net vashou as sy oor die ongelyk gras gestoot
              word om die rugby te gaan kyk. Johnny lag te lekker met ogies wat
              skeel vir jou loer, en praat Afrikaans en Engels met jou
              deurmekaar. Paulie is die nederigheid vanself. Die siel van die
              partytjie was natuurlik Ian – as ek hom mag uitsonder. Hy stoei
              kort-kort met sy pa, sing voor saam met die musiekspan, loop
              heeldag met ‘n glimlag, en sukkel in die Prado se hoë sitplek
              in (nadat hy homself en die deur eers aanmekaarverstrengel het)
              – en grou dan deur die CDs in die konsole om te sien waarna ons
              kan luister. Hoe swaar is hy op brandstof? Het ek al 4X4 gery?
              Waar laat jy hom diens? Wat se ander kar het jy? Watter kar ry jou
              vrou? Wat ry jou dogter? My pa kan spares vir haar kry teen
              afslagpryse... Dit alles in ‘n 50m rit toe ek die voertuig wou
              skuif... 
              
               Dan die “helpers” – ek dink hulle
              is maar net daar om by te staan, nie eens te help nie. Hulle
              behandel elkeen van die gestremdes asof hulle “normaal” is (ek
              dink hulle is baie meer “normaal” as ander mense wat ek
              ken!!). Noddy tel vir Quintus uit sy rolstoel soos ‘n sak
              patats, laai hom bo-op die quad, gordel hom vas met sy bors-strap
              en sê vir Willem “ry boet!!”. Ek dink julle elkeen van
              hierdie “helpers” het ‘n baie spesiale gawe ontvang om na
              hierdie mense om te sien. Dag in en dag uit.  
              
               Dan die afwesiges... Ma’s wat huil oor
              mans wat weggeloop het omdat hulle nie kans gesien het vir ‘n
              gestremde kind nie. Ek weet nie hoe ek self sou opgetree het in so
              ‘n situasie nie. Ek kan en mag julle nie veroordeel nie...
              Dankie ma, dat jy kans gesien het om jou spesiale kind groot te
              maak en by te staan! 
              
               Nou ja – ek sien regtig uit na die
              volgende kamp saam met julle. Ek het SOVEEL geleer by julle
              elkeen, en ek dink die volgende “klas” saam met julle gaan nog
              beter wees. Ons is BAIE lief vir julle almal! 
              
               Dennis en Marietjie Engelbrecht. |  
            | Ek het
              regtig nie geweet wat om te verwag van die kamp nie, net dat ek
              glo die Here vir my gesê het om my hulp aan te bied vir die
              naweek.  Ek het nie geskroom om vir Willem te bel en te vra
              of ek kan help nie.  Hy het gesê dit is reg.  Ons het
              regtig  hard gewerk maar weet jy dit was ‘n groot plesier
              want as jy die dankbaarheid en liefde sien in daardie mense dan
              voel dit of ek niks gedoen het nie.  Ek wens net een ding, ek
              wens ons mense wat elke dag alles het wat ons Hemelse Vader vir
              ons gegee het, kan dank, kan liefde uitstraal, want as jy daardie
              mense se liefde sien sal jy skaam kry.  Ek het ‘n woord
              daardie naweek gekry dat ek meer vir my medemens moet doen en die
              woord wat ek gekry het staan in Lukas 10:27, 28 asook vers 37. 
              Dit is nou ‘n week na die kamp en ek beleef my dae heeltemal
              anders as wat dit tevore was, dis onbeskryflik.  Ek wil net
              vir Willem en Wilna, Dennis en Marietjie, Jan en Susaar sê, julle
              is no. 1.  Dit was ‘n groot voorreg vir my en Martie om
              deel te kon wees van daardie wonderlike mense.  Al die eer en
              lof en aanbidding kom die Here toe.  Nogmaals baie dankie. 
              
              Liefde
              groete André |  
            | Ek weet
              nie regtig waar of met wie ek eerste moet begin nie.  Almal
              was net een woord, wonderlik.  Ek het by die kamp aangekom
              nie geweet wat op my wag nie, het geweet dit gaan ‘n groot
              verantwoordelikheid wees, om met my medemens te moet werk wat nie
              so bevoorreg is soos ek wat ‘n volmaakte liggaam het nie. 
              Maar as ek my gedagtes met julle kan deel, ek was verbaas. 
              Ek het in verwondering gestaan en toekyk hoe baie ek by hulle kon
              leer en wat dit is om jou alles te kan gee.  Hulle het nie
              geskroom om al hul liefde op ons uit te stort nie.  Ek het
              skaam binne-in my gekry want ek is een van daardie mense wat baie
              terug hou.   Na die naweek het ek geleer om voluit te
              lewe.  Ek kan net met dankbaarheid sê, dankie Willem en
              Wilna, my oë het oopgegaan vir dit wat saak maak in die lewe. 
              Aan al die ouers, dankie dat ons ook kon deel wees van jul
              kinders,  maar ook van julle.  Ek haal my hoed af in
              verwondering hoeveel geduld en liefde julle uitstraal, nie net na
              jul kinders nie,  maar ook na ons. Ons het baie geleer.
              Ek het geleer wat dit is om onvoorwaardelik te kan gee, nie net
              liefde nie, maar aanvaarding.  Net te aanvaar vir wie of wat
              ek is.  Johnny, Ian, ek en André het jul twee oneindig baie
              geniet.  Jul het ons nie eers geken nie, maar tog na die
              naweek voel dit of ons jul al jare  ken.  Elize, Dean,
              julle is twee wonderlike mense.  Nie skaam om te sê wat saak
              maak nie. Dit was lekker om net te kon ontspan, om stil te word en
              te gaan sit by die voete van Jesus.  Marietjie, ek het ook
              vergeet hoe lekker dit is om weer te kan word soos ‘n kind, te
              kan speel en sommer net laf te kan wees.  Die speletjies wat
              ons moes doen was lekker. Ons het die naweek geleer hoe om
              ons “attitude”, soos Willem dit stel, reg te kry. 
              Dankie weereens daarvoor. Die kamp terrein het my net weer
              laat besef, hoe nader jy aan die natuur is,  hoe nader is jy
              aan die skriftuur. 
 Ook baie dankie vir die wonderlike gasvryheid van Deo Volente Bush
              Adventures.  Dit was voorwaar onbeskryflik.  ‘n Tyd
              wat ons altyd sal onthou.
 |  
            | PERSOONLIKE GETUIENIS VAN ELIZE
              EDGERTON nee COETZEE 
              
               Ek was in Gerrit Maritz Hoerskool
              vanaf std 6 – 10. Ek het in std 6 my lewe aan die Here gegee,
              maar as kind was besef jy mos nie regtig wat dit beteken om jou
              lewe toe te vertrou aan ons Almatige God nie. Jy het kerk toe
              gegaan Sondagskool by gewoon en belydenisklasse bygewoon en dit
              was dit. Ek het gematrukileer op die 5 November 1986. Ek het vir
              'n klein rukkie in 1987 in die standemag gewerk as sjef, maar het
              besef sou ek wou trou en kinders wil hê dat dit vir my 'n baie
              groot probleem gaan wees en dat my huwelik inmekaar sou val nie
              wetend dat ek my droom man sal ontmoet in 2 Mei 1987. Ons het vir
              'n ruk oor en weer begin te kuier.
              
               Ek en my man het verloof geraak op 24
              Julie 1987 toe ek maar net 20 jaar oud was. My aanstande was op
              daardie tyd stip 31 jaar oud gewees. Ons is getroud op 8 April
              1988. Dit was vir ons 'n baie groot en 'n besondere dag. Ek en
              Dean is nog steeds vandag getroud, maar nou is ons lewe op die
              Hemelse Vader gerig.
 Ons het verskeie kere probeer om kinders te hê, maar niks het
              gebeur nie. Ek het toe swanger geraak om en by Julie of begin
              Augustus 1992, nog steeds besef ek nie wat vir ons beplan word
              deur ons Hemelse Vader nie. Ek het die drieling op 8 en 'n halwe
              week verloor. Hulle al drie sou downsindroom kinders gewees het.
              Ek het nog steeds nie geweet wat liewe Vader vir my beplan nie. Ek
              was baie kwaad en het baie slegte goed van die Here gesê so te so
              dat hy besluit het dat dit met ons sal sleg gaan totdat ons
              erkening gee dat God werklik leef.
 In Februarie 1995 het my ma ons kom
              vertel van 'n jong seun wat deur een van ons familie lede se
              kinders weggegooi was. Ek het dadelik baie geheg tot die seun
              geraak. Ons het dadelik die skool gekontak en met die hoof Mnr
              Hennie Krog gepraat en met die Sielkundige Rex Du Plessis. Ons het
              hom elke naweek en skool vakansies gekry. My skoon ouers het baie
              lief geraak vir die jong seun. My skoonma is oorlede op 23
              November 1995. Ons het met my skoonma se dood dadelik aansoek om
              hom vir permanente pleegsorg te plaas by ons. Wat toe gedoen is.
              
               Ons het toe besluit om die seun, Ian,
              aan te neem. Ons het hierdie besluit weereens geneem sonder om God
              te nader. Ons het in Oktober 1999 aansoek gedoen om Ian toe aan te
              neem ons moes toe kinderhof toe gaan om dit amptelik te maak. Die
              amptelike bevel het deurgekom op 12 Januarie 2000 dat Ian nou
              amptelik aangeneem was. Ons het dadelik Departement van
              Binnelandse Sake toe gegaan en vir hulle die bevel gegee met die
              aansoek vorms om die Ian se naam en van te verander. Sy name en
              van was Ian Dawid Hollywood. Dit is toe verander na Ian Michael
              Edgerton. Ons het nog steeds aangegaan asof niks verkeerd was en
              ook nie gehoor hoe die Here ons geroep het nie.
              
               Ek en Dean het normal geleef soos
              enige ander persoon nadat die bevel deur gekom het, nog steeds het
              ons nie die roeping gehoor nie. Ons het dinge gedoen waaroor ons
              vandag baie jammer is en nog steed berou het.
              
               Op 25 Januarie 2002 moes Ian 'n baie
              dringende brein operasie kry. Dit kon sy lewe beteken. Ian het 'n
              VP Shunt in gehad wat beteken dat die pompie die oortollig vog van
              sy brein dreineer na die maag en dan skei hy dit uit. Ian moes
              streng gesproke dood gewees het maar God het weer gewys dat hy
              genadig is -maar ek het nog steed nie geluister na Sy roep nie. As
              'n VP Shunt verstop raak kan jou serebraal gestremde kind wat so
              'n pompie in het doodgaan. Ian het vir 18 maande met so 'n pompie
              geloop en God het sy beskermde hand oor Ian gehad – nog steeds
              het ek nie geluister na wat God vir ons probeer sê nie.
              
               Ons is deur die maatskaplike werker
              genader om nog 'n kind in ons sorg te neem, weereens het ons God
              nie geraadpleeg nie en ons eie kop gevolg. Ons is op 28 Mei 2002
              na die kinderhof om nog 'n kind in pleegsorg te kry. Net om dinge
              meer moeilik te maak is daar ook 'n broer betrokke maar tot ons
              voordeel het hy geen voogdyskap nie so het geen sê oor die seun
              wat in ons sorg geplaas is nie. Johnny was baie bly dat hy ook nou
              'n familie gaan hê - 'n pa, 'n ma en 'n ou boet. Dit was die
              beste geskenk wat hy oot in sy lewe kon hê, maar die boetie het
              probeer om vir ons voor te skryf hoe om die kind groot te maak en
              hy was baie lief om in die verlede te praat. Ek het dadelik vir
              hom gesê dat ek is jammer dat hy geen sê het oor Johnny nie en
              ek gaan hom nie toe laat om vir Johnny te sien nie. Weereens het
              ons dit gedoen sonder om in gebed te gaan en vir die Here vra of
              ons die regte besluit neem, maar het het maar net voort geploeter.
              
               In 2003 het ek my werk verloor en
              dinge het nog steeds nie by my op gekom dat God aan die roer van
              sake was en toegelaat dat hierdie dinge met my moes gebeur. Ek het
              in April 2003 probeer om my eie lewe te neem, want ek nie kans
              gesien om verder te lewe nie, omdat al my werksaansoeke altyd
              onsuksesvol was. Ons het daarna besluit om in 'n goedkoper plek te
              gaan bly. Ons het toe 1 Junie 2003 ingetrek in 'n 2 slaapkamer
              woonstel in Wonderboom Suid met 5 persone. Ek was meeste van die
              tyd maar by die huis totdat ek werk gekry het op die 19 Februarie
              2004 dit was by McCarthy Mercedes Benz Hatfield. Ek nog steeds
              goed gedoen wat in die oë van God nie aanvaarbaar is nie maar nog
              steeds niks vir niemand gesê nie en nog steeds het ek nie
              geluister na dit wat die Here vir my beplan het nie. Ek en Dean
              het finansieël ‘n groot knou weg. Ons moes goed doen om seker
              te maak dat ons elke maand net kan oor leef. Ek het nog steeds nie
              oë en ore gehad nie.
              
               Ek het so gemors aangevang dat ek nie
              gedink het dat ek ooit daar sal uit kom nie maar die slag het God
              baie hard geruk, so hard dat ek voor 'n keuse gestaan het en ek
              moes die keuse maak.
              
               Op 26 April 2009 het God deur my
              swaer gekom en vir my gesê dat ons 'n belangrike doel het om te
              verrig op hierdie aarde. Hy het vir my gesê my doel hier op aarde
              is om 'n ma vir die twee seuns te wees en dat ek hulle na die
              beste van my vermoë moet oppas. As ek nie my kinders wil verloor
              nie moet ek dit nou doen soos God van my verwag om te doen.
              
               Ek het nooit so daaraan gedink nie,
              maar weet jy wat, dit het my gou laat besef dat daar tog maar
              slegs een weg is en dit is die weg van die Hemelse Vader. Ek dank
              God dat my swaer die spreekbuis namens Hom was en dat dit my ook
              oopgemaak het. Ons behoort aan 'n omgeegroep, elke Sondag kom ons
              by mekaar waar ons Bybelstudie hou en waar ons 'n boek of seker
              dinge bespreek. Ons is tans besig met Uitreik – Dissipels dit is
              wonderlik om aan so groep te behoort en te weet dat God jou
              onvoorwaarlik liefhet. Na die naweek van 31 Oktober tot 1 November
              2009 het dit my net weer laat besef dat daar geen ander God is nie
              en dat hy werklik lewe en om hom te dien is die beste ding om te
              doen. Ek sal en wil nooit weer sonder ons dierbare God wees nie.
              
               Ek het ook geleer om hom eerste te
              stel en alles te doen volgens God se wil. Hy sal jou op sy tyd seën. 
              
               Psalm 103: 11 – 14Want so groot as die afstand
 tussen hemel en aarde is,
 so groot is sy liefde
 vir die wat Hom dien.
 So ver as die ooste van die weste af is,
 so ver verwyder Hy ons oortredings
 van ons af.
 Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders,
 so ontferm die Here Hom oor die wat Hom dien.
 
 Dankie Here dat U my tien duisende kanse gegee het en altyd in my
              geglo het.
 |      |