Daaglikse Heuningdruppels 2020

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

Kersfees is ’n tyd wat my altyd met verwondering vervul. Ek is verwonderd oor die maagd wat ’n kind kon gekry het, ek is verwonderd oor die herbergier wat nie kon plek maak vir die Koning se geboorte nie, ek is verwonderd oor die engele se koorsang in die veld, ek is verwonderd oor die ster wat die wyse manne gelei het na die stal, ek is verwonderd oor die eenvoudige skaapwagters wat onvoorwaardelik geglo en gedoen het. Ek is verwonderd dat God mens geword het, ek is verwonderd oor Sy onvoorwaardelike liefde en sy onmeetlike genade, ek is verwonderd dat Jesus  se koms ’n nuwe era van genade en verlossing aangekondig het. Ek is verwonderd dat dit vir mý persoonlik is. Mag jy ’n geseënde Kersfees hê, gevul met verwondering en liefde. ~ Wilna Botha, 23/12/2020

Wat was tot nou die HEEL grootste gebeurtenis in jou lewe? Ag daar kan honderde antwoorde wees en vir elke mens is dit anders, maar as ek baie ander elemente moet uitsif, sal die geboorte van my kinders waarskynlik hoog bo uitstaan. Ek onthou daardie afwagting, daai drome om daardie pasgebore lyfie teen my vas te druk, daardie uitsien na: Is dit 'n seun of dogter? Ons het gekies om nie voor die tyd te weet nie. En toe gebeur dit, nuwe lewe, die wonderlike, asemrowende wonderwerk van nuwe lewe! Jy kan dit nie beskryf vir iemand wat nie daardie voorreg gehad het nie. Soos tyd aanstap het groot drome vir daardie kinders gevorm, 'n goeie toekoms, later jare die regte lewensmaat, 'n beroep, 'n tyd waar die ouer/kind verhouding in 'n hegte vriendskap verander het. Nuwe lewe, wonderlike nuwe lewe! Hoe het God die Vader gevoel met die geboorte van sy enigste Seun? Ook 'n opgewondenheid? Ook drome? Ook 'n verwagting? Hoe kan ek as mens dit probeer uitpluis? Ek kan nie, maar ek kan tog dit probeer vergelyk met my eie ervaring as 'n ouer. Hoe lank terug is daardie Heilige geboorte beplan? Hoe lank terug het Hy besluit op die manier wat dit moet gebeur? 'n Maagd? Regtig? Wat sal die wêreld sê? Spot? Uitlag? Sy eie Seun, Sy eniggebore Seun. Uit 'n maagd gebore? Boonop 'n baie jong meisie. Hoe sou sy self dit ervaar en aanvaar? Nee, daar kan nie 'n tyd aan hierdie beplanning gekoppel word nie, dit kom van lank voor die grondlegging van die aarde af, van "die begin" af. En toe gebeur dit, nogal in 'n krip, met Josef by die jong moeder Maria wat aangestel is om 'n vader rol in te neem. Ek kan my nie indink dat Hy nié opgewonde was oor die geboorte van Sy Seun nie, en sjoe, die trots, daardie "Jy is Myne" woorde wat met vreugde uitgeroep is. Hoe anders? God is tog nie 'n emosielose God nie, nee, Hy is 'n God van liefde, en dan het Hy NATUURLIK ook daardie liefde vir Sy eie Seun. Ek dink Hy het ook op daardie dag vir Homself gesê: Ek het groot planne vir Hom. 'n Aardse pa wil dikwels hê sy kind moet in sy voetspore loop, en so moes Hy sekerlik ook gesê het. Iemand wat by Hom oorvat soos 'n besigheid? Soos as 'n aardse pa voel sy kind moet eendag sy regspraktyk oorneem? Iemand wat ná Hom kom om Sy werk voort te sit? Nee, Jesus sou later self uitroep: Ek en die Vader is EEN (Joh 10:30). Toe Hy uit die hemele afkyk (hoe beskryf ek dit anders?) na Sy Seun, het Hy dalk gesê: Jy gaan die Redder vir die wêreld word! Jy is gebore vir 'n taak wat geen mens hom kan indink nie. Daar wag 'n hartseer tyd op Jou, mense gaan Jou verwerp, Jou martel en doodmaak, maar Jou geboorte is nodig vir elke mens wat leef en nog sal leef. Baie mense sal nooit verstaan hoekom Jy gebore is nie, dit selfs nie glo nie, dit nooit aanvaar nie, maar vir diegene wat dit aanneem, sal Jou geboorte die grootste wonderwerk wees wat hierdie heelal ooit getref het. En al verstaan Jy dit dalk self nie in jou baba gestalte nie, sal miljoene dit wel verstaan omdat Ek dit deur My Gees aan hulle openbaar. Jy sal hulle Redder wees, en menigtes sal dit elke jaar uit dankbaarheid vier. Wie is ek, Willem Botha, om hierdie dinge so te probeer uitpluis? Ek weet nie of ek mag nie, maar dis my manier om sin te maak van hierdie Christusfees. Joh. 3:16 "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." ~ Willem Botha, 22/12/2020

Mens sou nie eintlik die Kersverhaal in Filippense soek nie, maar as ek Fil. 2:6-8 lees, dan sien ek die nederige geboorte van die Jesus-kind afspeel. Ek lees van God wat mens word, van die Skepper van die hemel en aarde wat ’n dienskneg word, van die Koning van die hemel wat onder ons kom woon, saam met sondaars kom eet, in die stofstrate van die wêreld kom stap, van die Verlosser wat verneder sou word, sodat ons verhoog kan word, van die Redder wat gebore is sodat ek weer gebore kan word en ewig kan lewe. “Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering!” (Fil. 2:6-8, Die Boodskap)  Dan het die woorde van die Stille Nag vir my nuwe betekenis: “Jesus kind, lank verwag ... word uit liefde aan mense gelyk” en sing ek met oorgawe: “Heer, gebore vir ons!” en “Juig, die Redder is daar!”  ~ Wilna Botha, 21/12/2020

In hierdie tyd, wat ons nogeens hierdie Christusfees vier, is dit vir my weereens 'n herinnering aan soveel dinge wat met Jesus se geboorte gepaardgaan. Ons herdenk oor 'n paar maande sy kruisiging, maar in hierdie tyd van die jaar verlustig ek my aan die doel van sy geboorte en sy lewe hier op aarde. Ek skuif doelbewus die gedagte weg van die spykers wat later deur hierdie klein Babatjie se handjies gedryf sal word, sodat ek en jy verlos kan word van die ewige dood. Daarom kyk ek in my geestesoog na hierdie klein Babatjie en ek sien die mooi van nuwe lewe, maar nie net sy lewe nie, maar my nuwe lewe ook. Dan besef ek dat hierdie Baba onder andere (of dalk juis), my kom vrymaak het van die bande van die wet. Ja, die wet wat in ALLE opsigte goed is, so goed dat Hy later sou sê dat geen letter daarvan doodgetrek kan word nie, maar die wet wat so verskriklik swaar is om te onderhou. Eintlik nie net swaar nie, heeltemal onmoontlik! En juis daarom wil ek dit in hierdie Kerstyd vier. Dáárom kyk ek na hierdie Babatjie in my geestesoog en vier ek in absolute vryheid sy geboorte en sy Lewe, dáárom kan ek vir myself losmaak van die wettiese moets en moenies, en kan ek met vrolikheid Kersfees vier en in absolute vryheid my hande uithou na die Vader toe en juig en jubel, en dankie sê dat my Verlosser gebore is. Dit maak hierdie Christusfees vir my spesiaal. ~ Willem Botha, 17/12/2020

“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou ... sodat ons die aanneming tot kinders kon ontvang.” (Gal. 4:4) Toe die volheid van die tyd gekom het, toe dit tyd was ... op presiés die regte tyd, God se tyd, het Jesus na die aarde toe gekom. Wat ’n ongelooflike oomblik in tyd was dit nie. Op daardie oomblik is al die profesieë oor die verwagting van ’n Messias vervul. Op daardie oomblik het nuwe koers en ewige lewe vir die mensdom moontlik geword. Op daardie moment het redding en verlossing vir my en jou ’n realiteit geword. Dit was die tydstip toe ons God se kinders kon word. Dit was die draaipunt van alles. As 2020 vir jou ’n uitdagende jaar was, dan hoop ek dat Kersfees vir jou die “volheid van die tyd” sal wees, wanneer nuwe deure sal oopgaan en nuwe geleenthede sal opdaag. As 2020 vir jou ’n hartseer jaar was, dan hoop ek dat Kersfees vir jou die “volheid van die tyd” sal wees wanneer Jesus jou trane sal afdroog. As 2020 vir jou ’n onseker jaar was, dan hoop ek dat Kersfees vir jou die “volheid van die tyd” sal wees wanneer die Here jou oorvloedig sal seën, jou sal genees en nuwe hoop en vrede ’n jou hart sal plant wat vir altyd sal hou. ~ Wilna Botha, 16/12/20202

Moeg
Moeg vir hierdie simpel 2020
Moeg vir die virus
Moeg vir die gejaag met werk die afgelope paar maande
Moeg vir mense se negatiwiteit
Moeg vir stupid goed op sosiale media
Moeg vir slapchips teologie (bygelofies en lawwe teologie wat absoluut geen Geestelike waarde of inhoud het nie)
Moeg vir die goete wat mense met te veel mag aanvang (en ons land bankrot steel). Moeg Moeg Moeg!
Ek is al skoon moeg van moeg wees...
Genade maar ek klink nou negatief of hoe? Maar nou kom rustigheid vir die meeste van ons, en ek hoop vir jou ook. En dis wat hierdie "feesseisoen" vir my inhou. Tyd saam met vriende en familie, uitsien na die Christusfees wat my herinner aan dít wat Jesus kom doen het. Sommer net 'n tyd waar ons makliker die taxidrywer vergewe en (hopelik) die spanning van die werkplek eenkant toe skuif. Hierdie is vir my 'n heeeeeerlike tyd. Jesus se geboorte, lewe en reddingsplan maak opnuut vir my sin en dis of ek meer tyd het om hieroor te reflekteer. Goddank, ek word nie moeg vir Sy genade nie, nie moeg vir vreugde oor gesondheid en liefde van my vriende en familie nie. Ek word nie moeg vir die derduisende voorregte wat ek het nie, en definitief nie moeg van die wondertekens wat ek raaksien nie. Ons het wonderbaarlik deur 2020 gekom en ek sal dit óók onthou as 'n fantastiese jaar.
Nou ja daar het jy dit, al die moeg is weg. ~ Willem Botha, 14/12/2020

Terwyl ek weer die verhaal van Jesus se geboorte lees, val dit my op dat daar drie keer gesê word: moenie bang wees nie. Josef hoor dit in Matt. 1:20. Hy moenie bang wees om voort te gaan met sy planne nie, want God is in beheer en beplan ’n uitkoms vêr bo wat Josef kan dink of droom. God se planne het ’n groter, hoër doel al lyk dit vir Josef en sy mense meer soos ’n verleentheid en ’n skande. Miskien is dít jou Kersfeesboodskap van God af hierdie jaar: moenie bang wees om jou planne deur te voer nie. Die Here verander ’n verleentheid in ’n geleentheid. Die Here maak reguit wat krom lyk. Die Here gebruik gewone mense om Sy goddelike doel te bereik. In Luk. 1:30 hoor Maria ook: moenie bang wees nie. Sy moenie bang wees nie want die Heilige Gees het oor haar gekom en God het genade aan haar bewys. Sy moenie bang wees nie, want niks is vir God onmoontlik nie. Al is sy jonk, onseker en gering gebruik die Here haar as rolspeler in die grootste gebeurtenis ooit. Miskien is dít jou Kerfeesboodskap van God af hierdie jaar: moenie bang wees nie, want God bewys genade aan jou en vul jou met Sy krag deur die Heilige Gees wat in jou woon. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Hy laat alles ten goede meewerk. In Luk. 2:10 hoor die herders ook hierdie woorde: moenie bang wees nie. Hulle moenie bang wees nie, want die goeie nuus is dat hulle Verlosser gekom het. Alles gaan nou nuut wees. Alles gaan nou anders wees, want God het mens geword. Miskien is dít jou Kersfeesboodskap van God af hierdie jaar: moenie bang wees nie, want jou Verlosser, jou Voorsiener, jou Beskermer, jou Helper het gekom.  Alles gaan nou anders wees! ~ Wilna Botha, 10/12/2020

My dogter het eendag vir my hierdie bordjie gekoop, want sy glo pa kan enigiets doen en regmaak. Baie jare gelede het ek en sy gery om my seun op 'n plek te gaan help met sy motor. Nadat die motor rybaar was het sy gevra of daar iéts is wat ek nie kan doen nie, toe sê ek ek kan nie sê dat ek nié 'n rok kan maak nie, bloot omdat ek nog nie probeer het nie. Maar wee die een wat dit moet dra! As daai oproep kom wat begin met "Paaa...", pak ek solank die toolbox. Of selfs die naaldwerk sakkie. Nou ja, genoeg gespog. Ek is seker enige kind glo in pa se super kragte en vermoëns.
Wel, so is dit ook met die Here: as Pa dit nie kan regmaak nie is dit nie stukkend nie. En net soos wat hierdie bordjie sê, is Hy 24/7 op bystand met sy gereedskap kissie vol wonderwerke. Maar nou maak ek eers 'n bewering: g'n man lees mos sommer die handleiding wat saam met 'n masjien kom nie, jy sukkel jou eers dood, dan gooi jy "spanners" rond, praat hard (en nie altyd strelende gevleuelde woorde nie), dreig om die ding terug te neem winkel toe, en dan, as vroulief lekker moeg is vir die tantrum, prop sy die handleiding in jou hand en siedaar! Sommer op die regte bladsy oopgemaak.
Ai, ek en jy het ook 'n handleiding wat alles dek, met 66 hoofstukke wat die lewe mooi verduidelik. Die boek Spreuke is vir my nogal 'n goeie "troubleshooting" gids, en daar is vele antwoorde te vind. Maar die Vader is daar om probleme op te los, altyd, enige tyd, en Hy het 'n antwoord vir alles. Dít wat Hy nie kan oplos nie, is nie 'n probleem nie.
Lekker om so te sit skryf of hoe? Klink so maklik, so eenvoudig, en dit kan selfs na goedkoop woorde klink. Waar pas dit alles in by 'n familielid wat haar been gister verloor het? Wat van 'n wonderlike predikant wat in 'n oogwink gesterf het aan 'n hartaanval? Wat van miljoene mense wat ontsettend hard getref is deur die virus, wat hulle werk verloor het? Is dit nie goed wat Dad kon fix nie? Inderdaad 'n goeie vraag, en daar is geen maklike antwoord nie, behalwe as jy kan aanvaar dat Hy tog alles op die ou end ten goede laat meewerk. Ja, soms vat dit lank, soms is die uitkoms anders as hoe jy dit ge-fix wou hê, maar steeds maak Hy alles reg, en só goed, dat daardie ding nie weer op dieselfde plek sal breek nie. Soms vat dit jare om te sien hoe goed die reparasie is en selfs om dit net raak te sien. Weet jy, daar is nêrens anders om te gaan nie, en niemand kan vertrou word met daardie netelige probleme nie. Mense gaan soek hulp op die mees vreemde plekke, net om teleurgesteld verder te soek. Sal jy jou DDM (duur Duitse motor), na die ou met die roomys waentjie op die hoek neem om te herstel? Natuurlik nie, so hoekom sal jy jou netelige probleme na mense met voete van klei neem? Of dalk selfaangestelde "profete", wat vals profete is?
Nee, gaan direk na die Ekspert in probleem oplossing toe, jy hoef nie eers deur 'n agent te werk nie, die deur is oop vanaf die dag wat die voorhangsel geskeur het, wagtend, net vir jou.
Jy ken seker die woorde: "Sorry, we currently experience high call volumes... ". Nie lekker nie né? Maar nee, die Vader is 24/7 reg vir jou uitdagings. Onmiddellik.
If He can't fix it, it ain't broken. ~ Willem Botha, 09/12/2020

Is dit net ek, of is die afwagting op Kersfees hierdie jaar bietjie afgewater? Minder liggies, minder Kersfeesmusiek in die winkels, minder versierings, minder “Christmas specials”, geen “Carols by Candle light” nie ... Die gewone liggie-bymekaarkomplekke gaan nie hierdie jaar hulle liggies aansit nie, vanweë beperking op getalle, sosiale afstand en al daai dinge. Het Covid dalk hierdie jaar Kersfees gekaap? Is ons dalk teen hierdie tyd so voos van bekommernis, van liggaam en siel aanmekaar probeer hou, dat ons opgee op Kersfees? Is ons dalk nog só besig om die laaste bietjie werk en geldmaak-geleenthede uit die jaar te wurg dat ons nie nou tyd en energie het om opgewonde te raak oor Kersfees nie? Het ons opgehou om Kersfeesliedjies te sing omdat ons eenvoudig ons lus vir sing verloor het hierdie jaar? Ek wil weer soos ’n kind die slapies aftel tot by Kersfees, nie omdat ek dalk ’n geskenk gaan kry nie, nie omdat ons ’n lekker maaltyd gaan eet of saam met kosbare mense gaan wees nie, maar omdat ek nie Christus in die fees wil mis nie. Ek wil seker maak ek is daar as die engele sing: Eer aan God in die hoogste hemel. Ek wil seker maak ek volg die Betlehem ster tot by Kind. Ek wil seker maak ek buig voor die Verlosser met my beste geskenke, my goud, wierook en mirre. Ek wil Hom nie in die agterkamer inskuif soos die Herbergier nie, ek wil al die plek in my hart beskikbaar stel vir die Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Ek sien uit na Kersfees! ~ Wilna Botha, 08/12/2020

Hoop.
Pred. 9:4 "Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is."
Ek hoor nou die dag dié spreekwoord: Hoop is die arm man se brood. Ons hoop vir die beste: nog 'n bekende spreekwoord. Ai, hoe sleg is dit as hoop uitgeloop het, as hoop wegkwyn en niks kom vat meer die plek daarvan nie en niks anders bly oor nie. Jy sien, hierdie spreekwoord van "hoop is die arm man se brood" is baie waar, want waar daar nog geld, of middele, of liefde of gesondheid is, kyk mens vorentoe, maar as almal hulle rug gedraai het en niks uitwerk nie, raak dit sleg. Maar nou sê hierdie teks daar is een ding wat nog in plek moet wees, dan kan jy nog aangaan, en dit is lewe. Dis natuurlik hoekom mense wat uit alles uitgehardloop het, hulle eie lewe ook wegneem. Daar is seker nie 'n meer hartseer manier om hierdie lewe te verlaat as dit nie. " 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is.".
Terug na die gesegdes van die arm man se brood. Jip, brood gee hoop. Nee wag, kom ek spel dit reg. Dit moet eerder lui Brood gee hoop.
Joh. 6:35 "Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie."
Hoop is die arm mens se Brood. Die Brood wat lewe gee, is die arm mens se hoop. Kyk nou net waar vind hoop homself tuis.
1Kor 13:13 "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" Hoop vind homself knus tuis tussen liefde en geloof, en Paulus sê eintlik dat hierdie heilige driemanskap (geloof, hoop en liefde), die belangrikste dinge in die lewe is. Ek dink jy kan aan enige ding op aarde dink wat vir jou belangrik is, en jy sal dit iewers in een of meer van hierdie drie woorde opgesluit vind.
As jy nog lewe, kan jy jou toevlug neem na die Brood wat lewe gee, Hy wat werklik omgee, Hy wat jou vaste bron van hoop is, Hy wat jou kan help om deur 'n ander bril na more te kyk. As jy deur die bril met die naam van Jesus kyk, sien jy hoop in mismoedigheid, sien jy hoop in probleme, jy setel jou hoop in Hom. Dus, as jy hooploos voel, kyk na Jesus, moenie konsentreer op die situasie nie. Hy het nie hoop verloor by die kruis nie, Hy het deurgedruk en deur sy kruisdood vir jou en my 'n rede gegee op hoop. Daar is ALTYD hoop, solank jy lewe. Laat Hy in jou lewe, dan is jy nie eensaam nie en voel jy nie verlore nie. ~ Willem Botha, 07/12/2020

'n Voëltjie het die naweek met my gepraat. Jip, reg gelees, 'n voëltjie. As Bileam se donkie met hom kon praat, kan 'n voëltjie seker met my ook praat.
Okei, net voor jy dink ek is heeltemal koekoes vertel ek vir jou die storie. Ons sit Saterdag voor ons chalet en bewonder die natuurskoon waar ons gaan ontspan het vir die naweek, en hoor skielik 'n vreeslike harde slag! Toe ons om die chalet stap sien ons 'n duif lê wat teen die venster vasgevlieg het, en hy het nog beweeg, maar dit was duidelik dat sy nekkie gebreek was. Maar die mees ongelooflike toneel het voor ons oë afgespeel. 'n Klein Janfrederik voëltjie het al om die duif gewip en geluide gemaak, en soms opgefladder en weer gaan sit terwyl hy aanhou geluide maak. Hoewel ons baie naby was het hy nie weggevlieg nie, inteendeel, dit het gelyk of hy hulp gesoek het by ons. So asof hy wou sê: Mens, help hierdie duif, kan jy nie sien hy het seergekry nie? Hy het lank so rond gewip en geluide gemaak, en eers toe die duif sterf het hy weggevlieg. Dit was aangrypend, ek het nog nooit gesien dat 'n voël 'n ander een probeer help het nie.
Ek het 'n baie duidelike boodskap uit hierdie insident geleer: as 'n voëltjie hom kan ontferm oor 'n ander een, het ons mos dieselfde opdrag teenoor ons medemens.
Spr. 3:27 "Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toe kom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie."
Dalk was daardie voëltjie oortuig dat dit in my mag is om te help, en al kon ek nie, lyk dit of hy aanhou probeer het. Ek spreek my dikwels uit oor mense wat hulpbehoewend is maar nie wil werk om hulle eie lewens beter te maak nie. Maar weet jy, soms kán mense nie werk nie, tydelik of permanent. Ek het 'n goeie vriend wat nou bykans totaal bedlêend is, maar die Here gebruik hom op wonderlike maniere as berader en in bedieninge. Hy is egter nie in staat om te werk nie, maar mense wat op sy pad gekom het help hom. So het ek 'n predikantsvriend wat sy pos verloor het a.g.v. besnoeiings by 'n gemeente, maar hy het aanhou bedien en mense help hom nou finansieel. Ek kan vir jou sê, as jy verskonings soek om mense nié te help nie, kan ek vir jou raad gee, ek ken al die verskonings in die boek. Maar die Here verwag meer, Hy verwag dat ons ons seëninge moet uitdeel ook. Jy ken van "pay it forward"? As die Here dit in 'n voëltjie se hart kan sit om 'n ander een te help, hoeveel te meer nie tussen ons as mense nie. Ek het hierdie naweek besef dat ons daar is om mekaar te help. 'n Voëltjie het dit vir my gesê. ~ Willem Botha, 30/11/2020

Ongelowige: Daar is geen God nie. Want ek glo net wat ek kan sien.
Gelowige: Kan jy kernbestraling sien? Kan jy hitte sien? En ultraviolet strale? Jy kan nie, ek ook nie, maar ek kan sien waar daardie dinge aan die werk is, en ook waar Hy aan die werk is. Ek kan die skepping sien, en ek sien Hom in mense se lewens.
Ongelowige: Ek sal glo as Hy Homself aan my openbaar.
Gelowige: Hy openbaar Homself elke dag aan jou, selfs net as Hy gratis suurstof aan jou verskaf. Jy kies om dit nie te sien nie.
Ongelowige: Die Bybel is die versinsels van mense.
Gelowige: Die Bybel is deur meer as 40 mense geskryf, in drie tale, op drie kontinente, oor meer as 1600 jaar, die meeste skrywers het mekaar nie geken nie en het selfs nie in dieselfde tydperk geleef nie. Tog is die sentrale tema van God se liefde en Jesus se verlossingswerk regdeur die Bybel duidelik.
Ongelowige: Die Bybel is nie meer van toepassing en relevant vandag nie.
Gelowige: Die Bybel is steeds die beste verkoper van enige boeke op aarde. Voorts put MENIGE mense dag vir dag nuwe krag uit die Bybel, gewoonlik op 'n manier wat lyk of die Bybel vandag geskryf is. Het jy dit al gelees?
Ongelowige: Hoekom sal die Bybel meer gewig dra as die Koran?
Gelowige: Die Bybel is geskryf oor baie jare deur baie mense, en in die jaar 397 saamgestel (apokriewe boeke uitgelaat). Inhoud, volgorde en alles. Die Koran is deur een mens (Muhammed) geskryf tussen die jaar 610 - 632 (200 jaar later), met HORDES van die Bybelse persone en insidente daarin opgeteken, insluitende Jesus Christus. Dis dus duidelik dat Mohammed toegang gehad het tot die Bybel. Daarin word Jesus se Godheid egter verwerp. Ek glo die ouer, outentieke geskrifte dra baie meer gewig.
Ongelowige: Ek het nie die Here nodig nie, ek leef net so goed soos jy.
Gelowige: Dis korrek, jy kan sonder Hom leef, maar jy wil nie sonder Hom sterf nie.
Ongelowige: Ek glo nie in die hemel of die hel nie, ook nie in God nie.
Gelowige: Goddank, God se bestaan hang nie af van jou geloof in Hom nie. Hy bestaan ten spyte van jou ongeloof, so ook die Hemel en die hel.
Ongelowige: Hy is 'n wrede God wat die mens aan homself oorlaat.
Gelowige: Vreemd dat jy dit sê. Miljoene mense oor die hele wêreld getuig dat God hulle deur die mees traumatiese tye gedra het, toe daar geen hoop was nie en geen lig in die tonnel nie. So ook gestremdes wat met uiterste swaarkry deur die lewe gaan. Soveel mense het God se werking op bonatuurlike wyses gesien, en getuig van sy liefde.
Ongelowige: Daar is geen skepper of ontwerper nodig nie, alles het toevallig na die "big bang" ontstaan.
Gelowige: As die son slegs 10% verder of nader aan die aarde was, sou geen lewe kon bestaan nie. As die maan slegs 10% nader was, sou reuse getygolwe ons kuslyne totaal verwoes het. As dit 10% verder was, sou getye nie die see konstant kon skoon was nie en sou geen seelewe bestaan nie. Die see is die grootste bron van voedsel vir die mens. So is daar honderde duisende voorwaardes vir lewe in die skepping, met bykans geen toleransie vir afwyking nie. Klink nogal na die werk van 'n Ontwerper. Kan die mens 'n horlosie maak? Of 'n super slim rekenaar? 'n Motor, vliegtuig, 'n ruimteskip of 'n kunsmatige hartklep? Inderdaad. Kan 'n mens 'n klip maak? Net 'n eenvoudige klip? Inderdaad nie. Maar hy kan dalk met bestaande grondstowwe iets probeer aanmekaarsit. Steeds net as Hy God se grondstowwe gebruik. Die mens kan net mooi niks uit niks skep nie. Die Here kon, en het.
Ongelowige: Die mens het uit iets aapagtig geëvolueer.
Gelowige: (Tong in die kies), jou pa mag miskien 'n aap wees, maar my pa beslis nie. Daar is steeds nog nooit enige bewys dat evolusie op makrovlak, oor spesies plaasgevind het nie. Nogal snaaks dat die bobbejaan steeds gelukkig is om nie te praat nie, of op sy agterpote begin loop het nie. Die mens sal nogal graag wil evolueer tot die vermoë om te kan vlieg, of hoe? Ek sou.
Ongelowige: Ek glo eerder hoogs geleerde mense soos Richard Dawkins wat The God Delusion geskryf het. Hy het met baie navorsing tot die slotsom gekom dat daar geen God is nie.
Gelowige: Regtig? Hy het jare terug 'n aksie in Londen geloods deur die volgende boodskap op busse te laat pryk. 'There's probably no God... now stop worrying and enjoy your life'.
Mmm hoekom op aarde die woord "probably"? Probably? Regtig? Lyk my hy twyfel in sy eie ongeloof.
Ongelowige: Jy sal my nooit oortuig nie.
Gelowige: Ek weet dit vir seker. Net God kan, en Hy gaan dalk nog. Let net op dat ek nie een enkele teksvers gebruik het in die gesprek nie. Dit lyk my die bestaan van God en die waarheid van die Bybel is "common sense". ~ Willem Botha, 25/11/2020

Nou ja, oor presies ’n maand is dit Ou Kersaand. Dan gaan ons feesvier. Baie van ons gaan saam met ons families kuier, ons gaan eet, ons gaan geskenke uitdeel, ons gaan opgewonde harte hê en ons gaan terugdink aan daardie aand in die oop veld toe die engel gesê het: “Ek het baie goeie nuus  vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is vir almal bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak.” (Luk. 2:10-11, Die Boodskap) Ons gaan terugdink hoe die menigte engele gesing het: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.” (Luk. 2:14). Ek hoop jy sal saam sing want die verlossing en vrede is vir jóú. Ek hoop jy sal saam sing want die vergifnis en redding is vir jóú. Ek hoop jy sal saam sing omdat dié goeie nuus al die slegte nuus en trane en bekommernis en eensaamheid van 2020 sal oorskadu. Ek hoop jy sal kan saam sing: al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar. Ek hoop jy sal kan saam sing: joy to the world, the Lord has come! ~ Wilna Botha, 24/11/2020

Hoe maklik sou dit nie wees om die Here te volg as ons alles in die Bybel verstaan het nie. Dit sou so maklik wees as almal die hele Bybel presies dieselfde interpreteer, en presies dieselfde geestelike ervarings deel, en as ons Hom nog boonop kon sien ook. Om bonatuurlike wonderwerke elke dag te sien sou ook nogal help, en definitief as Hy Homself openbaar wanneer ons in gesprek is met 'n ongelowige. Jy sien, diegene wat kies om Hom nie te volg nie kan sê wat hulle wil en redeneer soos wat hulle wil, want hulle hoef niks as 'n teenargument aan te bied nie. Hulle hoef net te sê "is nie”, en “die Bybel maak nie sin nie". Kyk wat sê die Bybel hieroor.
Ps. 14:1 "Die dwaas dink daar is geen God nie."
Amerika is pas deur 'n baie spannende verkiesing en 'n nuwe president is verkies. Die nuwe president is in sy posisie omdat meer mense vir hom as vir die ander kandidaat gestem het. Goddank God word nie deur die mens verkies nie, Hy staan teenoor geen opponent nie, want die enigste potensiële een is aan die kruis verslaan en God is God omdat Hy die enigste Een is, tot in ewigheid. Maar omdat die meerderheid van die mensdom teen Hom kies, glo daardie mense dat Hy nie bestaan nie. Hy bly egter die Koning, totdat die heelal vergaan, en tot in ewigheid daarna. Lank nadat ek en jy in die Hemel is, sal die son uitbrand en lewe op die aarde sal vergaan, en ons sal die vrug van ons keuse vir altyd besing.
Nee, ons kies nie of Hy God is nie, ons kies net om Hom te volg of nie.
Terug na die dwaas. Ek was in menige argumente betrokke met mense wat Hom nie aanvaar as Verlosser nie. Dit het gewoonlik tot niks gekom nie. Kyk nou net hoe kostelik druk Spreuke dit uit:
Spr. 26:4-5 "Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie, hy sal dink jy is soos hy. Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid." Lyk nogal of hierdie twee tekste teenoor mekaar staan of hoe?
Ek dink nie ek het vir God gekies nie, Hy het vir my gekies en toe vir my die gawe van geloof gegee. Daarom kan ek nou die volgende doen:
2 Tim. 4:1-2 "Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee."
Jy getuig net onder hierdie twee omstandighede: Tydig en ontydig. ~ Willem Botha, 23/11/2020

Jes. 2:22 "Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd."
Hierdie teks is so ongelooflik waar. Ek en jy word elke enkele dag deur mense teleurgestel, en ek glo ek stel elke enkele dag ander mense ook teleur. Ek hoor die afgelope tyd van 'n hele paar gevalle waar mense groot bedrae geld verloor het omdat hulle in mense se (quick rich) skemas belê het. En boonop kom party van hierdie mense in die Naam van die Here na jou toe. Een persoon het R2.5 miljoen rand verloor. Nogal kjêrkmense jy weet. Ons loop onsself telkens in mense vas wat (soos die spreekwoord sê) jou sien kom. Dikwels sommer familie en vriende.
Ek dink dis maar omdat ons soms 'n korter pas as die Here soek. Die Here gee (en belowe) nie buitensporige opbrengste in materiële terme nie. Hy sê dat jy net kos en klere nodig het, dan is jy versorg, en Hy sê jy moet saai, dan sal jy maai, en jy kan dit gaan toets. Hy sê egter ook daar is goeie beloning op harde werk, en oordeelkundig werk met wat jy het.
Maar dis een kant van die saak. Net so is daar mense met inbors, na wie toe jy enige tyd kan gaan, wie jou altyd sal help en altyd sal bystaan.
Spr. 17:17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood."
Spr. 27:10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: 'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is."
Mense se streke het my al verstom, as ek sien hoe hulle ander mense harteloos benadeel. Maar ek is nog meer verstom as ek sommige mense se goedheid raaksien. Daar is mense vir wie jy regtig die volgende kan sê: "You wear Jesus well". Dis om jou te beklee met Jesus, sodat mense amper kan sê hulle het Hom gesien toe hulle na jou kyk. ~ Willem Botha, 19/11/2020

"The music is not in the notes, but in the silence in between." Ek het hierdie aanhaling êrens raakgelees. Blykbaar is dit Mozart wat dít gesê het. Ek dink egter enige musikant sou kon sê hoe belangrik die rustekens in musiek is, hoedat die gedwonge stiltes diepte en emosie aan die musiek verleen, hoedat dit afwagting en spanning kan inbring in die musiek, hoedat dit soms letterlik ’n  geleentheid bied om asem te skep. Soms is daar lang stiltes vir sekere instrumente of stemme sodat ander die geleentheid het om ’n solospel te lewer. Dawid en die ander Psalmskrywers het ook sulke stiltes in hulle liedere aangedui met “sela”. Hoewel daar verskillende interpretasies van die woord “sela” is, stem die meeste verklaarders saam dat dit wel ’n pouse in die musiek aankondig. “Sela” is daardie stilte waar die woorde wat so pas gesing is oordink en bepeins moet word, ’n tydjie om eers te reflekteer oor wie God is en wat Hy doen. Ons moet dalk bietjie meer fokus op die stiltes in ons lofprysing en aanbidding, daai oomblikke wanneer die musiek en die woorde ophou en jy met alle aandag, passie, bewondering en liefde net bewus is van dié Een oor wie jy sing. “Bedaar en erken dat Ek God is  ....”; “Laat staan en weet dat Ek God is ...”; “Be still and know that I am God ...” (Ps. 46:11) Skep asem, ervaar die diepte van jou lofprysing, beleef die emosie – sela. ~ Wilna Botha, 18/11/2020

Matt. 7:7-11 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?"
Ek sukkel nog altyd met hierdie teksgedeelte, ek probeer om sin te maak hiervan, om in die praktyk te verstaan wat dit eintlik sê en om te weet wat in hierdie paar woorde ingesluit is en wat nie. Waarvoor mag ek vra? Waarna mag ek soek en aan watter deure mag ek klop? Waarvoor wil die Here hê moet ek vra? Kan ek dit op materiële dinge toepas en my eie aardse begeertes hierby insluit? Ek wonder of ek mag bid vir daardie "muscle car" wat ek so begeer. Ek het al male sonder tal gesien hoe mense hierdie tekste gebruik vir persoonlike welvaart, en ander weer wil glad nie aardse dinge hierby insluit nie. Hoe nou?
Ek wonder hoe my lewe sou wees as die Here vir my alles gegee het waarvoor ek gevra het. Goddank Hy het nie, soms het net niks van my geneul gekom nie, soms het ek 'n duidelike "nee" gehoor en vir party goed wag ek dalk nog.
"Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra?" Goeie vraag, of hoe? Terwyl ek so diep dink hieroor vandag, het ek besef ek het nie alles vir my kinders gegee waarvoor hulle gevra het nie, want ek is te lief vir hulle. Ek het in die lewe gesien hoe kinders alles kry wat hulle gevra het, en hulle lewens het miserabel geëindig. Jy sien, soms dink jy jy vra vir brood, maar eintlik vra jy onwetend vir 'n slang. Ek het toe my gedagtes oor 'n klomp goed laat gaan en vir myself 'n paar vrae geantwoord, en ek is seker jy gaan nie met alles saamstem nie.
Mag ek vra om die Lotto te wen? Ek glo met my hele hart dat jy dit nie mag vra nie! Want jy wil graag baie hê, maar dis ten koste van ander. Derduisende mense gebruik hulle huishouding se brood geld om hierdie valse hoop na te jaag. Ek laat dit daar, want daar is baie redenasies daaroor.
Mag ek vra om veilig op verkeerde paaie te loop waar jy nie moet loop nie? Nee. You walk at own risk.
Vers 11 "... hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?"
Hier is vir my 'n bietjie lig op die onderwerp, die Vader wil vir ons goeie gawes gee. Gawes wat tot ander se voordeel gebruik kan word, dinge wat Koninkrykswaarde het, dinge wat ons nuttig maak op aarde. Ons het al gebid dat deure oopgaan vir bedieninge, en dit het oopgegaan. Maar baie ander goed het ook gebeur. Ek het destyds gevra vir ander werk en ek het dit nie gekry nie, ek het al gevra dat dit moontlik sou wees om 'n motor te koop en dit het gebeur, ek het gevra dat ek nie my werk moet verloor nie, toe verloor ek dit. Ek het gevra dat my ma sou herstel van kanker, maar toe sterf sy. Ek het gevra dat die Here my pa moet neem omdat sy toestand net versleg het, en die Here het hom geneem. Ek het nie antwoorde vir hierdie vraagstukke nie, maar ek vra steeds, en aanvaar (gewoonlik) die uitslag. Ek bid soms vir snaakse goed, maar dalk is dit net omdat ek Hom probeer ken in al die fasette van die lewe, maar ek besef dat ek nie kan vra net om my eie selfsugtige begeertes te bevredig nie. Dalk doen ek dit egter tog. Gelukkig weet die Here wanneer ek vir brood vra, en wanneer ek vir 'n slang vra. En gelukkig kry ek die goeie gawes oorvloedig uit sy hand uit. En dis genoeg vir my. ~ Willem Botha, 17/11/2020

Iets wat vir my mooi is in ons kerkmusiek is dié liedere wat ons gebruik as seënbedes. Liedere wat gesing word om die Here se seën af te bid oor mekaar. Ek weet nie of die jonges dit sal ken nie, maar ’n baie mooi lied wat ons altyd gesing het, is: “Laat Heer u seën op hul daal, u guns uit Sion hul bestraal ...” Dis as ’n seën gesing by doop, by inhuldiging van kerkraadslede, wanneer iemand belydenis van geloof afgelê het, dalk selfs by troues. Deesdae is daar vele seën-liedere. Ons sing graag: “Die genade van ons Here Jesus bly met jou, mag die liefde van ons Vader jou bewaar, die Gemeenskap met die Heilige Gees jou weg bepaal, dis my bede hierdie oomblik net vir jou.” Of: “We bless you with the blessings of the Lord ...”. Daar is ook verskillende toonsettings van die seën in Num. 6:24-26: “The Lord bless you and keep you, the Lord make His face to shine upon you, to shine upon you and be gracious, and be gracious unto you ...” Dis alles baie mooi, nè. Ek dink dit só kosbaar vir iemand as ons die Here se seën vir hulle sing. Onthou ook dat so ’n seën-gebed wat uit die hart bedoel word, bindend is en dat die Here dit sal verhoor. Die Here sê in Num. 6:27 as die priesters die volk seën met daai seën-woorde, sál Hy hulle seën. Ek het gewonder of daar in die Bybel ook ’n seën-lied is en toe vind ek dié een in Ps. 20:2-5 (Die Boodskap): “Mag die Here jou gebed verhoor as dit met jou swaar gaan. Mag die God van Jakob jou beskerm. Mag Hy jou spesiaal help en bystaan. Mag Hy jou gee wat jy graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees.” Sing gerus ’n seën vir mekaar en verwag met oop arms dat Hy sál seën. ~ Wilna Botha, 12/11/2020

"Selfs al vertel 'n leuenaar die waarheid, glo ek hom nie..." Is hierdie nie 'n baie waar stelling nie? Ek het dit onlangs iewers gelees. Jy ken die spreekwoord: Hy skiet nie spek nie, hy gooi heel varke. Nou ja, ek dink elke enkele een van ons (nou seker nie ELKE een nie, dalk nie jy nie) is soms skuldig aan verdraaide waarhede, weerhouding van die waarheid, wit leuentjies, feite wat verdraai word a.g.v. verkeerde persepsies en dan sommer blatant lieg. Lieg klink na so 'n harde woord!
Spr. 6:16-19 "Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers."
Sjoe, kyk in watse slegte geselskap bevind lieg homself, selfs tussen hande wat met bloed bevlek is!
Spr. 12:22 "Die Here het 'n afsku van leuenaars, Hy hou van betroubare mense." Afsku? Genade dít is 'n harde woord!
Ef. 4:25 (die Bybel vir almal): "Daarom moet julle ophou om vir mekaar te lieg. Julle moet die waarheid praat met mekaar, want ons behoort almal aan mekaar."
Hierdie dinge is goed wat elke dag tussen ons en met ons gebeur, maar dit raak nóg erger as jy leuens óór ander mense vertel. Hoe maklik gebeur dit nie? Dit begin by skinder en naderhand vernietig dit mense totaal. Dis nóg erger as jy mense verkeerdelik aanhaal en namens hulle leuens vertel! Maar kom ek sê jou wat die ergste van alles is. Dis wanneer jy leuens oor die Here vertel, wanneer jy "namens" Hom praat en Hom aanhaal op 'n manier wat jou goed laat lyk, maar dis nie waar nie. Ek is UITERS versigtig vir die woorde: Die Here het vir my gesê. Natuurlik praat die Here met ons, maar maak seker dis nie net jou eie gedagtes nie. 'n Dame het graag hierdie woorde gebruik, oor en oor. Eendag sê sy ook: And God told me... En toe korrigeer sy haarself en sê: O no it wasn't God, it was Susan who told me. Wel, ek twyfel nogal of ek die Here se stem sal verwar met 'n mens se stem.
Nou ja, van erg na erger. Wanneer jy "profeteer" in sy Naam, maar dis vals en dis slegs jou eie gedagtes wat jy so graag rondsaai in sy Naam, raak dit buite beheer. Kan ek jou sê hoe ernstig dit is? Kyk na hierdie teks.
Jer. 14 : 14 "Die Here het vir my gesê: Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Dit is gesigte wat nie bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat hulle vir julle aanbied as woorde van profete."
Glo ek in profesie? Natuurlik, anders moet ek my Bybel weggooi. Glo ek al die profesieë wat mense in die Naam van die Here uitspreek? Nee, nie eers amper nie! Definitief nie. Om 'n belofte aan iemand te maak in die Naam van die Here, maar dis nie waar nie, is ook om te lieg in Sy Naam.
Ps. 15:1 - 3 "Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie... " ~ Willem Botha, 11/11/2020

Ons het oor die naweek weer die Titanic-film gekyk ... die soveelste keer! En weer, soos elke keer vantevore, het ek gehuil toe die strykers, te midde van al die chaos en vrees om hulle, te midde van die wete dat hulle binnekort sou sterf, voortgegaan het om te doen waarvoor hulle op die skip was om te doen: hulle het aangehou musiek maak. Nader, my God, by U, steeds naderby, al is daar ook 'n kruis nodig vir my. Dan sal my lied nog bly, nader, my God, by U ... het hulle gespeel. Ek kon nie help om te wonder wat ek sou doen as ek op daai sinkende skip was nie. Meer nog, wat sal ek doen as my lewens-skip dalk ’n onvoorsiene ysberg sou tref en ontydig begin sink? Sou ek Ps. 23 of ander teksverse opgesê het? Sou ek uitroep na God? Sou ek Hom verwyt? Sou ek gelate gewag het vir die ergste om te gebeur? Sou ek op en af hardloop om ’n uitkomkans te soek? Sou ek bo-oor ander klim in ’n poging om in ’n reddingsboot te kom? Sou ek al skreeuend oorboord spring? Sou ek my geliefdes vashou en in vrede wag op die einde?  Sou ek sing: nader my God by U, al is daar ook ’n kruis nodig vir my? Ek sou seker iets van al hierdie dinge gedoen het, maar ek hoop dat ek, soos die musikante in die film, die deursettingsvermoë sal hê om enduit te volhard, om nie moed op te gee nie, om enduit te doen waarvoor ek op hierdie skip is. ~ Wilna Botha, 10/11/2020

'n Paar punte.
Ek het vanmiddag so gedink oor hierdie pandemie en gewonder wat ek sover hieroor geleer het, en toe gedink dat ek so tien punte sal uitlig, maar o wee, ek dink ek sal by 'n duisend punte uitkom as jy my genoeg tyd gee. Wat 'n vreemde tyd is (was?) dit nie. Dinge voel eintlik nou weer amper heeltemal normaal. Of is dit nou die nuwe normaal waaraan ons klaar gewoond is?
1) Ek het geleer dat die Here selde sy weë bekend maak, want ek het nie van "profete" gehoor wat dit sien kom het nie. Wel, dalk was daar, maar ek weet nie daarvan nie.
2) Ek het geleer dat die Here nog altyd dieselfde is, al verander dinge by ons.
3) Daar het ONGELOOFLIK baie wonderwerke plaasgevind, dinge wat baie duidelik as 'n uitvloeisel van die pandemie gebeur het, ingrype van God, dinge wat bo mens se verstand is.
4) Ek het gesien dat alles steeds onder sy beheer was, niks het gebeur wat Hy nie toegelaat het nie.
5) Daar is steeds (of liewer altyd) hoop vir môre, en hierdie episode het ons nie geknak nie. Ja ek besef baie mense is deur onbeskryflike swaar tye en daar was selfs groot lewensverlies.
6) Dit is duidelik dat die wêreld 'n gemeenskaplike vyand kan kry, iets wat nie die een bo die ander bevoordeel nie. Ons is saam in hierdie ding.
7) Die mens is ongelooflik sterk, baie sterker as wat jy dink, en jy is tot baie meer in staat as wat jy dalk gedink het.
8) Die mens is ontsettend vindingryk, en jy kon beter planne maak as wat jy ooit gedink het. Dalk het hierdie hele ding vir jou 'n beter toekoms oopgekap as wat jy kon dink. Dalk gaan jy dit eers oor 'n lang tyd sien en besef.
9) Soms gebruik die Here slegte dinge om ons te laat besef dat die toekoms nie so hoef te wees soos ons vroeër gedink het nie. Die toekoms kán verander, en sal weer.
10) Baie mense se geloof is erg getoets, maar ek glo baie mense se geloof het bonatuurlik toegeneem, en mense sien kans vir baie dinge na hierdie virus.
11) In moeilike tye staan mense saam! Ons almal het gesien hoeveel mense nog vir mekaar omgee, hoeveel hulp is verleen, hoe is kos uitgedeel, hoe het mense met hulle geld én tyd ander bygestaan.
12) Ons het gesien hoe die kerk op kreatiewe maniere aanhou funksioneer, en hoe wonderlik die kerk sy rol uitgeleef het.
13) Hoe aanpasbaar is die mens nie? Die spreekwoord "adapt or die" is baie waar. Mense het aangepas, nuwe dinge in plek gekry en gaan dalk beter leef as voorheen.
14) Die Here was soms byna sigbaar terwyl Hy aan die werk was. Of nee kom ek korrigeer myself. Die Here was uiters sigbaar in ander mense en in jou en my, en mense het dinge gedoen en reggekry wat nie logies verklaar kan word nie.
15) Ons almal is bietjie aarde toe gebring, en ons het geleer dat ons eie slim planne in 'n japtrap kan verander.
16) Ons gaan dalk anders voel oor die toekoms, en besef dat dit nie die moeite werd is om te jaag na wind nie.
17) Ons het besef hoe belangrik familie en vriende is, en hoe nodig ons mekaar het. Ons het verlang na geliefdes wat loopafstand van ons was.
18) Ons het besef dat die Here nie vir ons antwoorde verskuldig is as Hy 'n besluit maak nie. Hy is 'n soewereine God.
19) Ons het die waarde besef van stil raak vir 'n tyd, van afskakel en terugsit en nadink oor die lewe, nou, hier en die lewe hierna.
20) Laastens, alles gaan nie oor jou en my nie, daar is groter dinge wat belangrik is, al voel ons soms soos 'n slagoffer van 'n situasie. ~ Willem Botha, 09/11/2020

Die vorige boodskap het gegaan oor 'n uitnodiging aan die Here dat Hy ons moet vorm, ten spyte van die pyn en swaarkry. Vandag dink ek verder oor hierdie gedagte van hierdie uitnodiging, en dit bring my by 'n volgende uiters moeilike stap. Was jy al ooit in die situasie dat jy die Here loof en prys midde in 'n ongelooflike groot storm? Het jy al ooit gedink jy gaan eerder dankie sê, as om te vra om verlos te word van hierdie ellende? Het jy al ooit regtig gedink dat die groter prentjie (wat dalk nou totaal sinneloos lyk) belangriker is as nou se oorlog? Ek sê jou eerlik dat ek nie kan dink dat ek dit sal doen nie. Dít is egter presies waaroor Merlin Carothers se boek "Prison to praise" gaan. Uiters goeie leesstof.
Ek wil nou weer 'n lied, wat vreeslik lekker sing, hier aanhaak. Die lied se woorde kom net so uit die Bybel uit.
Hab. 3:17-18 "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder."
Hierdie lied is een van my groot gunstelinge, maar ek wonder of ek besef wat ek regtig sing.
Ek sou dit as volg verwoord: "Here al het ek nie meer 'n werk of enige inkomste nie (al sou die vyeboom nie bot nie), en al sou ek alles verloor wat ek besit (geen kleinvee in die kampe nie), sal ek hardop vir U loof en prys daarvoor, ek sal kliphard jubel en U naam grootmaak en ek sal nie eers daaraan dink om U weë te bevraagteken nie, en ek sal werklik opreg bly wees daarvoor."
Sjoe, ek weet darem nie. Maar ek kan jou sê, ek was ook al in slegte situasies vasgevang wat net soos 'n donker tonnel gelyk het, maar as ek terugkyk loof en prys ek die Here, want ek pluk nou die vrug daarvan. Dus, as ek werklik kan sê dat ek die Here ten volle vertrou, moet ek Hom loof en prys as iets sleg gebeur, want Hy ken die uiteinde, en ek behoort mos te weet dat dit goed sal wees vir my ook. Maar ai, ek sukkel hiermee! ~ Willem Botha, 04/11/2020

Omtrent so 10 of 12 jaar gelede was ons betrokke in ’n gewapende roof in ons huis. Ons was 10 volwassenes en ’n klompie kinders bymekaar toe 2 gewapende mans by die skuifdeur inbars, ’n skoot skiet, op ons skree om plat te lê en juwele, selfone ens. te oorhandig. Ons het ons nie teëgesit nie en gedoen wat hulle beveel het. Een van ons vriendinne het begin sing: “Daar is krag, krag, wonderbare krag in die bloed van die Lam...” Ons ander het ingeval en saam gesing - glad nie uit volle bors nie ... bietjie krakerig en prewelend en heel bangerig. Die rowers het dit gehaat en op ons geskree om stil te bly. Hulle moes aangevoel het dat daar bonatuurlike krag in die lied was. Op daai oomblik was dit makliker om te sing as om te bid. Die woorde vir gebed was weg, maar die woorde van ’n bekende lied het maklik gekom. Dit het vir my gevoel of die sing van die lied ’n muur opgerig het waaragter ons veiliger gevoel het. Die woorde van die lied het gehelp dat ons op die Here se krag fokus en nie op ons gebrek aan krag nie. Die lied het gehelp dat ons saamstaan, dat ons in ons gedagtes hande vashou. Die woorde van die lied het ons verseker dat die bloed van die Lam ons beskerming en ons redding is.  Die woorde van die lied het ons na God laat kyk en nie na dít wat om ons aangegaan het nie. Die sing van die lied het die vrees bietjie laat bedaar, ons moed gegee dat hierdie gevaar van korte duur sal wees. “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare.” (Ps. 34:4-5)  ~ Wilna Botha, 03/11/2020

"Doen slegs U wil Heer - U wil met my, U, Pottebakker, met my, die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil. Op U bly wag ek, nederig stil"
En waarskynlik neurie jy nou hierdie pragtige liedjie sommer saam met my. Dis 'n wonderlike liedjie as jy dit sing, jy verklaar hiermee dat jy deur God se hande gevorm word. Die pottebakker kies die beste klei wat beskikbaar is en begin om dit met liefde te vorm, en dan word daar op die einde 'n volmaakte kunswerk geskep. So vorm die Here jou en my ook. Maar lees gou weer daardie woorde, dan besef jy dat jy die Here uitnooi om jou te vorm, jy gee Hom toestemming om jou te brei, uit te rol, in twee te skeur, hardhandig met krag genadeloos te vorm. Jy gee vir Hom toestemming om jou deur swaar tye te laat gaan, jy nooi Hom uit om toe te laat dat jy jou werk verloor, of 'n geliefde aan die dood af te staan, jy gee Hom toestemming om jou doodsiek te maak en jou dalk by die dood te laat omdraai. En dalk selfs verder as dit. Jy sien, as die Pottebakker jou vorm, gaan baie van hierdie goed met jou gebeur, jy gaan seerkry in die proses, jy gaan wonder of dit nodig is dat Hy dit SO hardhandig doen. Die antwoord is ongelukkig ja. Wanneer daardie klei reg voorberei is begin Hy jou vorm met sy groot sagte hande, Hy spin jou op daardie wiel en jy begin verander in 'n meesterstuk, NET soos Hy jou wil hê, nie noodwendig soos jy wil lyk nie.
Jer. 18:16 "Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel."
As Hy klaar is om jou te vorm kyk Hy met met deernis na hierdie meesterstuk, en dan sê Hy: Jy is myne.
Maar o wee, dis nog nie klaar nie, want dan gaan jy vuur toe.
'n Pot word blykbaar gebak teen 1260 grade Celsius, en dis baie erg. Maar sonder hierdie stap is die pot nutteloos! Ons gee Hom ook toestemming om dít met ons te doen in daardie warm vuur as ons daardie liedjie sing. Pot-wees is nie maklik nie, maar om deur die Here so gevorm te raak dat jy 'n volmaakte pot is, soos Hy jou wil hê, móét jy vir Hom toestemming gee. Dalk word jy op die oomblik gebrei, of dalk is jy reeds in die vuur. Maar dis nodig, al voel dit selfs wreed. Eers dán is Hy tevrede. Jy word sý pot, sy volmaakte pot. Mag ek sê: Wat 'n voorreg! ~ Willem Botha, 02/11/2020

“Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here.” (Ef. 5:29, Die Boodskap) Toe ek vandag hierdie teks in Die Boodskap lees, besef ek dat daar nóg ’n ekstra en belangrike betekenis van lofprysing musiek is: om mekaar te leer en mekaar op te bou.  As ons sing oor God se goedheid, sy grootheid, sy liefde, sy genade en iemand luister daarna, dan leer hy wie God ís, dan kan dit sy hart aanraak en hom na die Here laat draai. Dink net, as ons geestelike liedere sing, kan dit dieselfde effek hê as ’n preek! Miskien is jy iemand wat nog altyd te skaam of bang was om met ander oor die Here te praat – onthou: jy kan geestelike liedere gebruik om die boodskap van God se liefde en vergifnis te verkondig; jy kan geestelike liedere gebruik om jou eie geloofsbelydenis te gee; jy kan geestelike liedere gebruik om geestelike waarhede oor te dra; jy kan geestelike liedere gebruik om vir iemand te bid. Die “mooi geestelike liedere”, soos wat die teks hierbo dit noem, kan ook ander bemoedig, of troos, of hoop gee. Wanneer jy nie die regte woorde kan vind om iemand moed in te praat nie, is daar dalk ’n geestelike lied wat dit kan doen.  Die voorwaarde is nie dat jy musikaal of nootvas moet wees nie, die voorwaarde is, soos in die teks hierbo genoem, dat dit met jou hele hart moet wees. Soos wat ons die Here moet liefhê en dien met ons hele hart, siel en verstand en al ons krag, só moet ons ook sy Naam grootmaak met ons lofsange: jou hele hart, siel en verstand moet betrokke wees. Sing en leer mekaar ... ~ Wilna Botha, 29/10/2020

Jy het al gehoor van die hond wat die bus gejaag het, en toe vang hy hom...  
'n Vriend stuur vandag vir my 'n boodskap wat handel oor "waaroor gaan die lewe"? En wat sou jy vir 'n jong persoon sê as dié jou daaroor sou vra? Waaroor gaan die lewe volgens jou? Maar nadat ek bietjie gestoei het met hierdie vraag en sukkel om daardie antwoord te kry, het ek geëindig met die volgende vrae (aan myself) : Wat jaag jou? En tweedens: Wat jaag jy? Ek wonder nogal of 'n gelowige en 'n ongelowige persoon verskillend sou antwoord, want as ek uit my verhouding met die Here die vraag sou antwoord, moet dit sekerlik anders wees as wanneer ek sonder Hom sou leef. Om eerlik te wees, ek dink my daaglikse lewe word maar deur dieselfde dinge gedryf as enigiemand anders, maar dalk is die manier wat ons as Christene dit hanteer anders. Jaag ek geld? Ongelukkig ja. Jaag ek sukses in my besigheid na? Jip, dalk te veel. Jaag ek agter die toekoms aan omdat ek dink alles sal beter wees dan? Net so, ek doen. Jaag ek agter my verlede aan? So simpel as wat dit mag klink moet ek ook daarop positief antwoord, want anders het ek dit agter my gelaat.
Maar hier is 'n moeilike een. Jaag ek agter bedieninge en kerk dinge aan? Ja, maar nou baie minder as vroeër. Toe my seun lank gelede vra of ek nie dalk net een aand in die week by die huis kon bly nie, het ek besef dat die dinge van die Here van my 'n afwesige pa gemaak het. Ek het onmiddellik werk gemaak daarvan. Ek wonder as jy vir jou kind sou vra: Wat jaag vir pa, en agter wat jaag pa aan, wat sou hulle antwoord? Wat sou jou man/vrou antwoord? Dalk sou hulle sê dis geld, status, sukses, 'n mooi huis, 'n netjiese motor en vele ander materiële goed, terwyl hulle net smag na aandag en liefde. Ek ken 'n man wat baie streng was daarop dat geen ligte in die huis mag brand nie, behalwe in die vertrek waar jy op daardie oomblik was. Daar was vele gevegte daaroor. Ek het eendag vir hom gevra of daardie paar rand 'n maand wat hy spaar, die gevegte werd was. Hy het geld nagejaag in plaas van vrede. Die uiteinde was 'n eensame, miserabele lewe. Ek het eendag nogal geglimlag vir die einste man. Hy het saam met my op 'n mannekamp gegaan en steen en been teenoor die dominee gekla dat sy vrou gereeld wou uitgaan vir koffie, terwyl hy drie blikke koffie kon koop vir die prys van daardie uitstappie saam met sy vrou. Die dominee het hom uitgeluister en toe droogweg opgemerk: Nou het jy baie koffie maar nie 'n vrou nie.
Ps. 37:3 "Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort."
Pred. 3:12-13 "Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is 'n gawe van God."
Die hele lewe is 'n gawe van God, nou, hier, vandag, met dit wat jy het, saam met dié wie jy in jou lewe het. Ons kan nie bekostig om te wag om eendag gelukkig te wees nie, daar is nie so 'n dag nie.
Heb.12:14 "Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie." ~ Willem Botha, 28/10/2020

Ek het op ’n keer iemand hoor sê dat ons lofprysing- en aanbiddingsliedere direk tot God gerig moet wees, omtrent soos ’n gebed. Ons moenie óór Hom sing nie ons moet vír Hom sing, het die persoon verkondig. Taalkundig sou mens seker kon sê die woorde van die lied moet nie in die derde persoon wees nie (Hy is groot, Hy is goed,  ... ens.) nie, of in die eerste persoon (ek wil die Here loof, kom ons verheerlik sy naam, ens.) nie, dit moet in die tweede persoon wees (U is groot, U is goed ... ens.) Ek het begin oplet na die woorde van die liedere wat ons sing en toe het dit my gepla as die lied nie met God praat nie, maar met die mense om my of oor my belewenis van wie God is. Ek het gelukkig gou besef dat daar heelwat van die Psalms in die Bybel wél so geskryf (en gesing) is. Daar is baie Psalms waar die skrywer sê waarom en hoe hy persoonlik die Here loof. Byvoorbeeld: “Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.” (Ps. 146:1-3) Daar is ook baie Psalms wat ’n oproep en aanmoediging teenoor die volk en medegelowiges is om saam met die musikant die Here se lof te besing. Byvoorbeeld: “Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot sy lof in die vergadering van sy troue dienaars.” (Ps. 149:1), of “Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf! Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid!” (Ps. 150:1-2) Ai, hoe arm sou my lofprysing gewees het as ek stilgebly het as ’n liedjie nie “gepas” het in die persoon se voorskrifte nie. Nee, ons kan op enige manier sing, enige instrumente gebruik – dóén dit net. Besing God se naam, bring lof en dank met enige woorde – doen dit net met oorgawe en met jou hele hart en bedoel dit! ~ Wilna Botha, 27/10/2020

Jesus nut
Hierdie is 'n foto van 'n sogenaamde "Jesus nut" wat gebruik is op sommige helikopters, en as hierdie onderdeel faal, is al wat vir jou oorbly om tot Jesus te bid.
"Jesus nut is a slang term for the main rotor retaining nut or mast nut, which holds the main rotor to the mast of some helicopters." Dit klink nogal na 'n belangrike onderdeel en hy mag net eenvoudig nie faal nie. Ons almal het in ons lewens sogenaamde "Jesus nuts", dinge wat jou lewe in 'n oogwink omvêr kan werp, tot so 'n mate dat geen mens jou kan help nie, net die Here. Dalk is jy tans besig om te vlieg met 'n gekraakte "Jesus nut", wat enige oomblik kan meegee. 'n Diagnose van 'n terminale siekte, 'n huweliksmaat wat besluit om uit die huwelik te stap, 'n kind in 'n noodlottige ongeluk, 'n besigheid wat net skielik tot niet gaan, werksverlies en vele ander dinge. Dis wat met Job gebeur het toe hy die tyding kry dat sy kinders oorlede is.
Job 1:20-22: "Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: "Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here." Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie."
Vir Job het die volstruis solied in die windpomp ingevlieg en sy lewe was in daardie oomblik aan flarde. Sy "Jesus nut" het gebreek. Ek dink vele mense se lewens het sedert Maart 'n aaklige pad geloop, en vele mense het besef dat net die Here hulle kan help. Maar ek glo ook dat die Here daardie "Jesus nut" in sy hand geneem het, en die helikopter het op 'n bonatuurlike manier bly vlieg. Baie mense het besef dat as nét die Here oor is, dit al is wat jy nodig het. Baie mense sal by daai windpomp staan waar daai volstruis deur is, en opkyk en sien dat niks vir God onmoontlik is nie. Moenie wag tot daardie kritieke onderdeel breek en dan verder probeer vlieg nie, dis dalk nodig om te stop en hulp te vra by mense, want daar is dalk baie mense wat op jou pad kom wat kan help met daardie herstelwerk. En as ons na Hom uitroep is Hy daar. Altyd.
Jes. 59:1 "Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie." ~ Willem Botha, 26/10/2020

“... daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het.” Toe ek hierdie teks in Job 38:7 lees, het ek gewonder of dít dalk die oomblik was toe God musiek geskep het – die oomblik toe Hy die sterre gemaak het en almal saamgesing het. Hoe dit ook al sy, ek glo met my hele hart dat musiek van die Here af kom, dat dit deur Hom geskep is. Geen mens kon dit uitdink nie. Hoe kan enkele note en ’n klompie akkoorde die wonderlikste melodieë optower as dit saamgevoeg word? Dis bomenslik. Hoe kan nuwe, unieke melodieë elke dag die lig sien? Dis bomenslik. Hoe kan musiek so ’n universele taal wees dat almal dit verstaan en dat dit mense soos gom saambind? Dis bomenslik. Hoe kan musiek mens laat huil, laat lag, laat dans, laat hoedervleis kry? Dis bomenslik. “Music is uniquely wonderful. It is incapable of being touched, yet it touches everyone who is capable of hearing sounds.” Dis Goddelik! Hierdie aanhaling uit die film “August Rush” sê dit so mooi vir my: “Listen. Can you hear it? The music. I can hear it everywhere. In the wind, in the air, in the light. It's all around us. All you have to do is open yourself up. All you have to do is listen.” Stel jouself oop en luister. Soek die Here in die musiek en as jy saam sing of saamspeel op jou instrument, doen dit met ’n dankbare hart en tot lof en eer van God. ~ Wilna Botha, 22/10/2020

AS DIE SKOEN JOU PAS
As die skoen jou pas, trek hom aan, sê die bekende spreekwoord. Ás hy jou pas! Julie 1977 beland Willempie in die army en na ’n mediese ondersoek, haarsny, rondhardloop, luister na vloek en skree, beland ons na so twee dae by die stoor vir ons nuwe “designer outfits”. Sjoe en daardie sersant agter daai toonbank is kwaad gebore. Jy wil nog sê: “Meneer, ’n no 30 skinny asb.”, toe het hy jou klaar uitgekyk en opge-size en pak hy reeds ’n hoop goed voor jou neer. Klere vir 2 jaar. Huh? Hoe weet hy hoe groot moet daardie boots wees? Twee pare, splinternuut, kliphard, uit die boks uit. Jy word dubbelpas tent toe gejaag en klim met verwagting in daai spik-splinternuwe ontwerpersuitrusting in en soek ’n spieël om jouself te beskou. In ’n tent? Oeps, geen spieël. Inplaas daarvan om soos Don Juan te lyk, lyk jy soos Sad Sack met skoene wat hééltemal te klein is. Terug stoor toe! “Meneer ... ag ek bedoel, Sersant, hierdie stewels....” Toe gebruik hy army-taal om te sê jy moet weggaan! So begin die verhouding met twee paar stewels wat op die einde 2 jaar en 8 kampe saamgeloop het en gehardloop het. Na ’n paar weke in basies het hulle gepas en nét aan my eie twee pote. Perfek gepas! Saam het ons basies gedoen, PT gedoen, gedril, gehol en baie vêr geloop. Op die grens moes ek een nag hardloop vir my lewe na ’n loopgraaf toe; toe die rooi-oog missiele kom, het ek eers my stewels aangetrek. Ek en jy loop ons lewenspaaie deur, met skoene wat vir ons en ons alleen gemaak is. ’n Skoen, jóú skoen, pas aan jóú voet. As die skoen jou pas, trek hom aan.

Eks 3:5 (Toe die Here aan Moses verskyn in die brandende bos)
Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”
God verwag van Moses ’n gebaar van respek. So asof die Here vir Moses wil stroop van dit wat vir hom belangrik is . Daai skoene wat amper soos ’n gemaksone is, moes hy uittrek. Moses, jy het tot hier geloop, maar hier gaan jy nou eers vir ’n rukkie vertoef. Die mense in daardie tyd het geken van loop. Die ding wat jou deesdae hoofsaaklik op die pad hou, is jou motor se bande; in Moses se tyd was dit jou skoene en hulle het seker hulle skoene vinnig deurgeloop. Behalwe waar die Here hulle op die pad gelei en versorg het:
Deut. 29:5 "Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie."
Hoe loop ek en jy deur die lewe? Waar loop ons? Waarheen neem ons skoene ons, of liewer, waarheen neem ons ons skoene? Kan ek en jy ’n ander mense se lewenspad kritiseer en veroordeel as ons nie self daardie pad geloop het nie?

Om die Visrivier te stap is nie vir sissies nie; dit is 86km oor 5 dae van pure vasbyt. Jy kan saampraat as jy al daar was. So ook die Comrades – het jou tekkies nog nie daardie pad gedoen nie, kan jy nie eintlik saampraat met dié wat elke tree van die pad afgelê het nie. Ons het dikwels baie te sê oor mense, maar as ons nie in hulle skoene was nie, moet ons liefs stilbly. Het jy al ’n ander ou se lewenspad begeer? Dalk sien jy iemand se welvaart sê: Ja, jou ryk ou blikskottel! Maar, weet jy watter skoene moes hy dalk deurloop om uit te kom waar hy nou is? Dan dink ons partykeer so ’n ou skuld ons iets. Is jou skoene nommerpas vir jou, of begeer jy iemand anders s’n?

Jesus het geloop om te kom waar Hy wil wees. Vêr geloop. Hy het Jerusalem en omstreke platgeloop met net een doel en dit is dat mense hulle moet bekeer. Paulus het vêr geloop, baie vêr, sodat mense hulle moet bekeer. Weet jy, ek het al gehoor dat daar groeperinge is wat Paulus se leerstellings verwerp, maar as hulle nie sy skoene saam met hom deurgeloop het nie, is hulle gepraat net ’n geblaf in die wind. Die nuwerwetse sogenaamde vrydenkers wat Jesus verwerp, het seker nog nie een tree geloop waar dit saakmaak nie. Hulle gepraat is ook ’n geblaf in die wind. As jy nog nie Golgota toe gestap het met jou eie voete en jou eie kruis op jou rug nie, weet jy nie wat dit beteken om ’n Verlosser te wees nie. Daar is mense wat kilometers vêr “loop” terwyl hulle op die rusbank sit met hulle voete op ’n tafeltjie en Christene kritiseer wat werklik die pad loop, terwyl hulle self nog nie een geestelike tree gegee nie. Daar is mense wat al hordes kere deur die Bybel gestap het, jare saam met God geloop het, wat kritiek kry van mense met ’n stortvloed van eie opinies. Ek hoor hoe mense tot bekering kom, glo hulle is vervul met die Heilige Gees en dan ander wil aanvat wat al dosyne pare geestelike skoene deurgeloop het. Dis net ’n geblaf in die wind.

Is jy tevrede met die pad wat jy moet loop? Het jy die regte skoene aan vir jou pad? Mens stap verseker nie die Visrivier deur met balletskoentjies aan nie. Ons lewenspaaie is nie dieselfde nie, ons het nie dieselfde doel in die lewe nie en daarom moet ons nie iemand anders se skoene en lewenspad begeer nie. Die Here sal ons nie paaie laat loop sonder om vir ons die gepaste skoene te gee nie. Jy weet, ons loop soms paaie wat ons nie moet loop nie en ons draf ons skoene deur agter die verkeerde dinge aan en dit is teen die Here se wil. Gelukkig kan die Here ook daardie paaie gebruik om ons skoene te vorm om nommerpas vir jóú voet te sit. As jy soms ’n klippie in die skoen voel, moenie dink dis altyd straf nie, soms is dit deel van vorming. ’n Blaas wat oor en oor stukkend geskuur word, word naderhand ’n eelt wat baie loop kan vat. Dra jou eie skoene en wees bereid om lank en vêr saam met die Here te stap, want dit bring wysheid en kennis.

Jer. 2:25 "Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie!"

’n Baie ernstige waarskuwing; dis mors van goeie skoene en pad. Loop die reguit pad, jou skoene sal 40 jaar hou as dit die Here se pad is.

Ef. 6:14-15 "Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete."

Dit kos tekkie slaan om by mense uit te kom met die goeie nuus van die evangelie.

Rom 10:15 "En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

As die skoen jou pas, trek hom aan. Hierdie skoene van bereidheid sál jou beslis pas en dit sal wonderlike voetstappe laat weerklink. Dit sal nie verslyt nie, al loop jy dat jou voete vol blase is. Ek dink dit is die pad wat Jesus gestap het, asook Paulus en al die dissipels. Dis hoekom ek en jy vandag die Here ken. Die goeie boodskap van vrede het deur die hele wêreld geloop ... te voet! ~ Willem Botha, 21/10/2020


“As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” (Ps. 115:17-18, Die Boodskap) Solank jy lewe, terwyl jy kan asemhaal, prys die Here. Begin nou daarmee. “Laat alles wat asemhaal, die Here prys!” (Ps. 150:6) Ek besef maar net hoeveel asem mors ek op negatiewe praatjies, op skinder en kwaadpraat, op baklei en skree. Die asem wat die Here in ons ingeblaas het, is vir sý eer; dis vir lofbetuiging; dis vir halleluja en hosanna skree. Dalk verwys hierdie teks nie net na mense wat fisies lewe of fisies dood is nie, maar ook na dié wat geestelik lewe of geestelik dood is. Toe jy Christus ingenooi en aangeneem het in jou lewe, het Sy Heilige Gees in jou kom woon, het Hy nuwe asem in jou ingeblaas en het jy die ware lewe ontvang. Ai, as ek maar net dink hoeveel genade dit is dat ek dié nuwe lewe ontvang het, kan ek nie anders as om die Here te prys en sy lof te besing nie. Kyk maar net na ’n geestelike dooie mens – hy wíl nie die Here prys nie. Hy sien niks goeds raak waarvoor hy die Here wil loof nie. Hy het geen dankbaarheid teenoor God nie. Hy maak staat op sy eie asem. Hy besing sy eie lof, hy prys homself. As jy geestelik dood is, kan jy nie die Here prys nie. “Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” Haal diep asem en prys die Here uit volle bors. ~ Wilna Botha, 20/10/2020


Lees groot asseblief hierdie paar verse saam met my.
Job 37:1-13 "Dan begin ek bewe en gaan my hart aan die ruk. Hoor hoe bulder die stem van God, hoe dreun dit uit sy mond! Hy laat dit losbreek in die hemelruim, Hy laat dit blits tot by die uithoeke van die wêreld, en dan kom die donderslag. God laat sy magtige stem hoor, Hy stuur die onweer in volle krag wanneer Hy sy stem laat hoor. Met sy stem laat God magtige dinge gebeur. Hy doen groot dade en ons begryp dit nie. Hy beveel die sneeu om op die aarde te val; die reëns val, stortreëns wat getuig van sy krag. Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom sodat alle mense sy werk kan leer ken. Die diere soek skuiling en bly in hulle skuilplekke. Die stormwind kom uit sy blyplek, die yswinde wat koue bring. As God die wind laat waai, ys dit en vries die groot waters. Hy laat die wolke swaar word van vog, Hy stuur sy weerligte in die wolke in. Hy laat die wolke in die rondte maal, hulle doen wat Hy bepaal, hulle gehoorsaam sy bevele die wêreld oor. God stuur die storm óf om te straf, óf om vir die aarde te sorg, óf om sy liefde te toon."
Sjoe, ek leef my in in hierdie kragtige dinge wat die Here doen! En dan eindig dit met hierdie uiters treffende woorde.
" God stuur die storm óf om te straf óf om vir die aarde te sorg óf om sy liefde te toon."
Ek het hierdie naweek hierdie teks gesien en dit draal die hele tyd in my kop, en ek sukkel om iets hieruit te maak. Die ding wat ek egter hieruit raaklees is dat God die storm bring, dit kom áltyd uit sy hand, élke enkele storm, en ook die lewenstorms wat my en jou tref. Dit álles kom uit sy hand, en dan lees ek verder in daardie teks dat Hy altyd 'n doel het, en ek verstaan dit gewoonlik glad nie. Kom ons kyk na hierdie teks:
* God stuur die storm... Natuurlik, wie anders? Hy is mos ten volle in beheer. Hy beheer absoluut alles wat in die heelal aangaan, en Hy doen wat Hy weet goed is vir jou en my.
* óf om te straf... Wel ek wil nie graag hierdie deel so lees nie, maar ek moet, en kan ook die woord straf dalk vervang met "tugtig". Soms is 'n storm nodig om ons tot stilstand te ruk, want as ons in daardie storm vreesbevange vasgevang is, kan Hy met ons werk, want dan het Hy ons volle aandag.
* óf om vir die aarde te sorg... Dis tog logies, soms verspoel mense op een plek, maar dan kom riviere af en die Here versorg die aarde op 'n ander plek. En ja, soms is ons vasgevang in 'n storm wat vir ons meer vernietiging as voordeel inhou, maar weet dan, alles gaan nie net oor jou of my nie. Jy is deel van 'n geheel, van 'n liggaam en soms ly die liggaam maar dit bevoordeel iemand anders. Soms sal ons jare later sien dat ons ook bevoordeel is daardeur.
* óf om sy liefde te toon... Weereens, as God ons tugtig of straf, is dit uit liefde uit. Nee nie alle storms vernietig nie, soms gebruik God 'n storm om vir ons water te gee wat lewe gee, en daardeur oortuig Hy ons van sy liefde.
Dit lyk my die Here doen dít wat Hy goeddink soos en wanneer Hy wil, en omdat Hy 'n soewereine God is, hoef Hy nie te verduidelik waarmee Hy besig is nie. As ek na hierdie drie punte kyk, besef ek dat alle storms vir my voordeel inhou, al verstaan ek dit selde. Hierdie teks het vir my 'n paar gedagtes oopgebreek waaraan ek nooit gedink het nie. Ek ek sal in die toekoms anders na storms kyk. ~ Willem Botha, 19/10/2020

’n Paar jaar gelede het ek en Willem in ’n groot massakoor van omtrent 400 stemme gesing. Later het dié koor gegroei tot meer as 1000 mense. Dit was hoendervleis mooi as al 1000 stemme saamsmelt in melodieë. Nie almal in daai koor was noodwendig nagtegale wat honderd persent nootvas was nie (ek, onder andere!) maar die totale klank was perfek en mooi. Dit was vir my interessant dat die dirigente gemeen het hulle hoef nie baie aandag aan intonasie te gee nie, omdat die moontlike “foute” in so groot klomp stemme op ’n manier wel uitbalanseer. Dit laat my maar net besef dat ons nie perfekte stemme en die beste musikante hoef te wees om die Here se lof te besing nie. Onthou, ons doen dit saam met miljoene oor die aarde en in die hemel en as jou bydrae nou bietjie van die noot of ritme af is, smelt dit wel saam met al die ander stemme om ’n lieflike geur voor God te wees. Die enigste “voorwaarde” is dat ons eensgesind moet wees. Ons moet saamstem oor die grootheid van God. Ons moet saamstem oor wie Hy is. Ons moet saamstem oor die rede waarom Hy geloof moet word. Ons moet saamstem dat dit net Hý is wat al ons lof verdien. “Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God.” (Rom 15:6) “Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.” (Rom 15:6, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 15/10/2020

Die afgelope paar weke se nuusgebeure het waarskynlik ons almal 'n bietjie negatief gestem, tot so 'n mate dat ek besef het dat my vreugde stukkie vir stukkie uit my uitgebeitel word. Ek het nog nooit gewens ek kan die land verlaat nie, maar ek het regtig die afgelope tyd baie hartseer (en kwaad) geword dat ons mooi land nou totaal stukkend gebreek is, amper soos Die Lappop liedjie se Lappop wat net eenvoudig weggegooi moes word.
Maar weet jy, daar kom tog momente waar ek net weer bietjie anders oor dinge moet dink, te midde daarvan dat my vreugde gesteel is.
Was jy al ooit dankbaar dat jy 'n toilet kan spoel? Behalwe vir die gebruik van 'n toilet, net om dit te kan spoel. Patrick is 'n gestremde jong man wat nie 'n toilet kan spoel nie, hy is in 'n rolstoel, hy kan nie eers self 'n toilet gebruik nie want sy arms staan permanent in die lug. Weet jy wat? Ek wens ek het soveel vreugde soos Patrick. Marita is gesigsgestrem, besit natuurlik nie 'n motor nie, en weet nie hoe lyk 'n eenvoudige mooi sonsondergang nie. Ek wens ek het soveel vreugde soos Marita. Maureen kan net haar kop beweeg, maar het op een van ons kampe vir gestremdes gekom en is met 'n spesiale toestel uit 'n bakkie gelaai. Ek wens ek het soveel vreugde soos Maureen. Hier anderkant in Zimbabwe woon 'n klein verhongerde seuntjie en eet bitter selde, kom ons noem hom Sipho. Ek wens ek het soveel vreugde soos Sipho as hy homself smerig vuil speel in die stof. Terwyl Paul sterwend was aan kanker, het hy meer vreugde gehad as ek.
En so kan ek aangaan. En al hierdie persone woon saam met my in hierdie gekrokte land, maar hulle het vreugde, meer as ek. Kan ek nog baie verloor? Natuurlik! Ek het persoonlik nog niks verloor nie. So, wat steel my vreugde? Dis NET my gesindheid. Jy sien, al hierdie mense wat ek hier genoem het (en ek kan hordes meer noem), is lief vir die Here. En voorts is daar miljoene wat nie eers die Here ken nie, wat tonne vreugde beleef. "Here, wys vir my meer Patrick's en Marita's en Maureen's en Sipho's, en vergewe my dat ek my eie vreugde steel." ~ Willem Botha, 14/10/2020

In Matt. 26:26-30 lees ons hoedat Jesus die Paasmaaltyd saam met sy dissipels geëet het en hoedat Jesus die brood en die wyn met sy liggaam en sy bloed vergelyk het. Die maaltyd word afgesluit met lofprysing: “Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.” (vers 30) Olyfberg toe, Getsemane toe, van-almal-verlaat toe, gespot-geslaan-gespoeg toe, verraai-en-verloën toe. Ek wonder altyd: wat sou hulle gesing het? Watse loflied sou Jesus gesing het op pad na die kruis toe? Watse loflied sal ek en jy bereid wees om te sing op die vooraand van ’n moeilike situasie, in dreigende gevaar, in angs, depressie en eensaamheid, in die dal van doodskaduwee ...? Jesus en sy dissipels het heel waarskynlik die gebruiklike lofsang gesing wat die Jode altyd gesing het aan die einde van die Pasga. Dit was blykbaar Ps. 113 tot Ps. 118. Heel moontlik is dit nie op ’n wysie gesing nie, dalk net gelees, of ge-“chant”. Wanneer jy op die drumpel van die moeilikste dag in jou lewe staan, “sing” deur hierdie 5 psalms en ek glo jy sal (soos Jesus) versterk word, moed kry vir wat voorlê, bomenslike krag ontvang om deur te druk en vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hier is ’n paar verse uit daai psalms wat vandag vir my uitgestaan het: die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd; vertrou op die Here! Hy help en beskerm; die Here dink aan ons: Hy seën die wat Hom dien, klein en groot; Hy verhoor my smeekgebede. Hy het geluister toe ek Hom aangeroep het; bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het heeltemal benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep; U het ’n einde gemaak aan my trane; ek het in U bly glo toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staatmaak nie; prys die Here want sy liefde vir ons sterk; aan sy liefde is daar geen einde nie; die Here is by my, ek ken geen vrees nie; om by die Here te skuil is beter as om op mense te vertrou; die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade; ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe. “Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke!” (Ps. 118:27) ~ Wilna Botha, 13/10/2020

Spr. 27:7 "As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet." Hierdie teks is so waar, en ek bely dat ek al SO bederf geraak het dat die keuses van dinge wat my bevredig al hoe minder raak. Ek sukkel om te kies wat ek wil eet van dít wat in die yskas is, sukkel om selfs 'n lekkerny in die winkel te kies, want daar is te veel opsies. Maar weet jy, hierdie selfde ding gebeur in ons (of dalk net my) geestelike lewens. Ek het in 'n gewone kerk grootgeword, maar later jare sou kerke wat dinge "anders" doen, wat meer dramaties te werk gaan en meer op die sigbare dinge fokus, my begin wegrokkel. Moet groot asseblief nie hierin lees dat ek sê dis verkeerd nie. Daardie dinge raak egter eintlik verslawend, en mens smag na meer en meer, en jy sien eintlik uit na die volgende keer se verrassings, net om steeds nie genoeg te kry nie. Ek het begin besef dat baie dinge nie meer oor die Here gegaan het nie. Maar weet jy, na baie jare se gesoek het ek teruggekeer na dít waarmee ek grootgeword het. Ek dink dat ek meer konflik in myself begin beleef het, meer gestry het oor onbenullige goed, en op die einde was die heuning bitter. Dit was alles my eie skuld. Miskien is dit die ouderdom wat dit bring, maar om nou eerder net rustig by Jesus se voete tyd deur te bring is baie lekkerder. Ek het daardie tyd eintlik maar net een tipe vormgodsdiens vir 'n ander verruil. Jy kan geestelike sweeties eet, die hele dag lank en dit lekker geniet, maar vaste kos is wat jy nodig het. Kos wat die Here direk vir jou gee om te eet. Kos wat nie afhanklik is van 'n klomp opinies van mense nie, maaltye waarvan die resepte duidelik in die Bybel staan en maklik is om te verstaan. Niks eksoties of uitheems nie, niks godsdiens beoefening nie, net die eenvoudige nabyheid van die Here. En as dít vir jou lekker bly, sal die Heuning soet bly. ~ Willem Botha, 12/10/2020

Volgens Google het daar tot op hede so ongeveer 108 biljoen mense geleef, hoewel ek net een bron se syfer gebruik en dit dus onakkuraat kan wees. Elkeen van hulle het 'n naam gehad, soos ek en jy name het. My naam is uiters belangrik in my lewe en ek is wie ek is, en jy ken ook my naam. Maar dis nie al nie.
Ps. 146:4 "Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen 'n naam."
Net in ons melkweg is daar ongeveer 100 duisend miljoen sterre, en daar is ontelbaar baie galaksies met ontelbaar baie sterre. Elkeen het 'n naam, en God noem hulle by daardie name.
In Gen. 2:19 kry Adam die opdrag om vir al die diere name te gee. Name is 'n groot ding in die Bybel en God stel Homself aan Moses voor as "Ek is".
Voorts het die Here etlike mense se name verander. Sara het Sarai geword, Abram het Abraham geword, Jakob het Israel geword en Saulus het Paulus geword. Daar was elke keer 'n rede vir die naamsverandering.
En so het jy 'n naam, 'n naam wat die Here in Sy handpalms gegraveer het, op 'n plek waar dit nie uitgewis kan word nie, en so dra Hy jou naam met Hom saam. Dink aan die skepping, die grootsheid daarvan, God se almag, sy vermoëns om alles tot stand te bring, sy versorging van sy kinders en sy soewereiniteit. En hy ken jou naam, jy, ja jy persoonlik is vir Hom bekend, Hy dra jou sorge in sy hart saam, Hy maak deure op wonderbaarlike maniere oop, Hy luister as jy praat en Hy fluister sag in jou oor. Hy hoef nie sy aandag tussen jou en biljoene ander te verdeel nie, sy aandag is by jou, en Hy ken jou naam. Dit laat my nogal spesiaal voel. Geen hooggeplaaste of belangrike mens het ooit my naam uitgeroep nie, maar Hy het, en Hy doen dit daagliks. Jip, ek is inderdaad spesiaal, baie spesiaal, en jy ook. ~ Willem Botha, 08/10/2020

Ons sing baie keer “hosanna” in ons lofliedere. Het jy dalk ook al gewonder wat dit beteken? In die Bybel kry ek die woord net by een geleentheid en dit is waar Jesus op die donkie in Jerusalem inry. Die skare is so meegevoer met Sy teenwoordigheid en oor die wonderwerke wat Hy gedoen het, dat hulle hul klere op die pad voor Hom oopgegooi het, terwyl ander takkies afgepluk en dit voor Hom op die pad gestrooi het. En toe sing hulle: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matt. 21:9 OAV) Die Hebreeuse woord beteken “exclamation of adoration”. Hierdie is nie ’n sagte, bedeesde lied nie, nee, die hosanna word hard uitgeroep en uitgejubel, en die aanbidding gaan gepaard met aksies – die oopgooi van die klere, die strooi van die takkies, waai met palmtakke. Soms moet ons lofprysing ook uitbundig wees. Soms moet dit ook gepaard gaan met aksies – dalk hande klap, dans, hande opsteek, vlae swaai, ens. Ek weet sulke uitbundigheid pas nie by ons almal se persoonlikhede nie, maar tog... as die Here groot dinge gedoen het, as Hy jou gebed beantwoord het, as Hy ’n wonderwerk gedoen het, as jy oorstelp is van vreugde oor Sy goedheid, wel sing dan uit volle bors hosanna! “Loof die Koning. Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (Luk. 38:37) ~ Wilna Botha, 06/10/2020

Ps. 3 " 'n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela
Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.
As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela. As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan. Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk. Sela"
Ek dink ons almal gaan deur tye wat dit voel of die hele wêreld teen jou gedraai het, of almal aanlê met 'n pyl en boog en jou van kant wil maak. Daardie aanvalle kom in soveel fasette, en soms geld die spreekwoord wat sê: "It doesn't rain, it pours". Dan keer jou hele wêreld onderstebo. Dis nie lekker nie, en soms is die lig in die tonnel heeltemal verdof. Ek dink dis hoe Dawid hier gevoel het, maar dan lyk dit of hy homself net opnuut aan die Here se trou en hulp herinner.
Dit voel of mens ook kan uitroep soos Dawid as hy sê “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Maar kyk mooi, dis nie Dawid wat dit sê nie, hy sê dis wat ander sê. Dawid ken die Here, daarom sê hy dat die Here altyd getrou bly, en om daardie rede slaap hy goed, want terwyl hy slaap, werk die Here, en herstel Dawid se eer en aansien. As vandag vir jou rof was, gaan slaap rustig, en word weer wakker met die wete dat die Here vir jou sorg.
Lekker slaap. ~ Willem Botha, 05/10/2020

Baie van ons geestelike liedere het mos die woord “halleluja” in. Daar was selfs sangbundels wat die “Halleluja-boek” genoem is en die lofliedere daarin “Halleluja-liedere”. Sovêr ek kan sien, is dit nie ’n woord wat in die Bybel voorkom nie, daarom het ek maar in die woordeboek gaan kyk wat dit beteken. ’n Uitroep van vreugde en dankbaarheid met die betekenis “loof die Heer”, sê  die HAT. Dis ook ’n musikale komposisie of ’n loflied, sê  die woordeboek. Ek het ook vir Google gevra en daar het ek gelees dat dit blykbaar ’n samestelling is van twee Hebreeuse woorde: Hallel en Jah. Jah is die verkorting van Jehovah, dié Naam van God wat sê dat Hy die groot, ewige, almagtige God is. Hallel beteken om te prys, om eer te betoon, om te juig, om lof te bring, om iemand groot te maak, om ’n ophef van iemand te maak, om ’n huldeblyk aan iemand te bring. Hallelujah beteken dus letterlik vertaal: “prys die Here”. Dit beteken: bring eer aan die ewige God, verhoog die Naam van die Almagtige, juig oor Sy grootheid, loof Hom vir wie Hy is, bring hulde aan Hom as God. Die woorde van die bekende “Hallelujah” van Leonard Cohen sê so mooi: “ ... I'll stand before the Lord of Song, with nothing on my tongue but Hallelujah!” “... óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here!” (Ps. 115:18) ~ Wilna Botha, 01/10/2020

Job. 1:21b "Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Dis natuurlik Job se woorde.
Sommer in hoofstuk een verloor Job alles wat hy besit, insluitende sy kinders. Baie mense het in hierdie tyd regtig groot terugslae beleef, mense het hulle werk en hulle besighede verloor en ek dink baie mense gaan moeilik hieruit opstaan, maar ek weet ook dat ons mense deur die hele geskiedenis swaarkry geken het. Val en opstaan is nou maar eenmaal deel van ons lewe. Ons ken Job se uiteinde waar hy alles herwin het, maar sy kinders is steeds oorlede. Ek is hartseer as ek sien hoeveel winkels dit nie oorleef het in die inkopiesentrums nie, maar ek glo tog dat die meeste weer op die been gaan kom, dis nou maar eenmaal in ons DNA. Na die Boere oorlog, die twee wêreld oorloë, die groot depressie van 1933, deur ons hele geskiedenis het mense weer op die been gekom. Dit sal nou ook so wees, en ons moet by mekaar staan en mekaar help. Met die Here aan hulle kant het boere op plase deur die mees verskriklike droogte gekom, hulle en hulle werkers. Ek hoor nou die dag weer hierdie pragtige lied van Michael Bolton. Luister dit op YouTube.

When I'm back on my feet again:

Gonna break these chains around me
Gonna learn to fly again
May be hard, may be hard, but I'll do it
When I'm back on my feet again
Soon these tears will all be dryin'
Soon these eyes will see the sun
Might take time, might take time, but I'll see it
When I'm back on my feet again
When I'm back on my feet again
I'll walk proud down this street again
And they'll all look at me again
And they'll see that I'm strong
Gonna hear the children laughing
Gonna hear the voices sing
Won't be long, won't be long till I hear them
When I'm back on my feet again
Gonna feel the sweet light of heaven
Shining down its light on me
One sweet day, one sweet day I will feel it
When I'm back on my feet again
When I'm back on my feet again
I'll walk proud down this street again
And they'll all look at me again
And they'll see that I'm strong
And I'm not gonna crawl again
I will learn to stand tall again
No, I'm not gonna fall again
'Cause I'll learn to be strong
Soon these tears will all be dryin'
Soon these eyes will see the sun
Won't be long, won't be long till I see it
When I'm back on my feet again
When I'm back on my feet again
I'll be back on my feet again

Ek hoop en bid dat jy ook weer jou kop in trots kan oplig wanneer hierdie ding verby is. ~ Willem Botha, 30/09/2020


“Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik. Dit pas by die Here se kinders om met liedere vir Hom dankie te sê.” (Ps. 147:1, Die Boodskap) Toe ek die definisie van “praise” opsoek, het dit vir my nuwe betekenis gegee aan die manier waarop en die rede waarom ons lofprysing doen. ”Praise is defined as the expression of respect and gratitude as an act of worship.” Ek sien 4 goed wat vir my uitstaan: (1) Dis ’n uitdrukking. Ons lofprysing moet in woorde gestel word – dit móét gesê, gesing, geskryf, gebid word. (2) Ons betoon ons respek aan God daardeur – dit behels eerbied, ontsag en agting vir wie God is en wat Hy doen. (3) Dit gaan gepaard met dankbaarheid vir dit wat ons uit sy hand ontvang – soos die teks hierbo sê: dit pas by ons om met liedere vir Hom dankie te sê. (4) Dis ’n manier van aanbidding, van liefde betoon – dit vra ’n nederige hart, ’n  onverdeelde hart, ’n toegewyde lewe. Dit vra dat ons ons krone sal afhaal, minder van onsself sal dink en voor Hom sal buig. “Maak die Here, ons God, groot bo alles. Buig laag voor sy voete ... Maak die Here, ons God, groot. Kniel voor Hom neer en erken Hom vir wie Hy is.” (Ps. 99:5 & 9, Die Boodskap) “Kom prys die Here. Dit is goed om ons God met liedere groot te maak. Ja, dit is wonderlik!” ~ Wilna Botha, 29/09/2020

In Matt. 4:1-11 lees ons van die versoeking in die woestyn.
Vers 3: Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
En dan weer verder in vers 6: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele oor jou opdrag gee” en: “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ”
Twee keer daag die duiwel Jesus se status as die Seun van God uit. Hy sê eintlik "as U die Seun van God is, bewys dit". Wat interessant is, is dat Satan feite uit die Woord van God aanhaal, maar Jesus antwoord hom telkens ook uit die Woord en sit Hom daarmee koud. Lees gerus die hele gedeelte.
In vers 7 lees ons: Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie."
Daar is nog 'n plek waar mense wil hê dat Jesus moet bewys dat Hy die Christus is.
Luk. 23:35 – 39 "Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”
Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.” Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”
Die raadslede, die soldate en die een misdadiger wat saam met Hom gekruisig is, toets Hom hieraan.
Ek wil graag bely dat ek ook by tye wil hê dat Hy moet bewys wie Hy sê Hy is, maar dis elke keer slegs as ek dit vir eie gewin wil gebruik. As Hy is wie Hy sê Hy is, sal Hy:
* Toesien dat siekte my nie tref nie
* Sorg dat ek nie finansieel swaarkry nie
* Deure vir my oopmaak wat ek self nie oopkry nie
* Die lewe vir my maklik maak en sorg dat ek nie deur 'n donker dal gaan nie
* Vir my meer gee as wat ek nodig het
*Sorg dat ander my nie te na kom nie
So kan ek aangaan, want dit is wanneer ek persoonlike voordeel uit Sy almag kan trek. Hierdie is nie die doel van Jesus se Godheid nie, en ek het nie nodig om voordeel daaruit te trek op aardse vlak nie. Slegs waar dit oor die redding van my siel gaan. En daarop kan ek staatmaak, Sy Godheid en my geloof daarin, is die sleutel tot ewige lewe en ewige voordeel. ~ Willem Botha, 28/09/2020

Erfenisdag... Ek het vandag met dankbaarheid gedink aan dié dinge wat ek van my voorgeslagte geërf het - nie besittings nie, maar wel allerlei gebruike en rituele en gewoontetjies; maniere van dink, ingesteldheid en uitkyk op die lewe. En dan natuurlik goeie waardes, nederigheid, deursettingsvermoë, opstaan ná moeilike omstandighede en belangrikste van alles: geloof. Vir ons gesin is hierdie Botha-Familiebybel baie kosbaar. Dis bykans 300 jaar oud en is van geslag na geslag oorgegee. Kyk 'n bietjie na die agterste gedeelte van die boek wat erg verweerd is. Mens kan sien daai blaaie is baie gebruik, hulle is heen en weer geblaai en daar is altyd weer teruggegaan na sekere gunstelinge. Daai bladsye bevat die Psalms en Gesange, natuurlik in hoog-Hollands. Dié voorgeslagte het gesing! Daar is dalk net 'n kort stukkie voorgelees uit die Bybel en dan is dit opgevolg met lofprysinge, eer aan God, dank aan die Skepper... “O goedheid Gods! Nooit regt geprezen, heet hij een mensch, dien gij niet treft? Hoe snood ondankbaar moet hij wezen, die’t hart niet vrolijk tot U heft!” Aan U alleen sy dank en ere – laat dit my lus, my lied hier bly! En ek is dankbaar dat ons ook dít van ons voorgeslagte geërf het om God te prys met ons liedere, oor en oor, ongeag die omstandighede... totdat die blaaie verkrummel! ~ Wilna Botha, 24/09/2020


Ons het 34 jaar gelede wankelrig met ons besigheid begin, dit was 'n deeltydse bedryf terwyl ek in diens van 'n maatskappy was, wat later ons brood en botter geword het. Genade maar ek het gesukkel om die proses onder die knie te kry. Niemand wou help nie en ons het regtig met baie sukkel en baie geduld voortgebeur en net aangehou en aangehou tot waar ons vandag is. En weet jy wat? Ek sukkel steeds elke enkele dag met dinge en ek maak elke enkele dag foute, na 34 jaar. Maar hierdie sukkel en aanhou foute maak kom ook voor in my rol as pa, in my huwelik, my vriendskapskring en sommer net my totale menswees. Ek sukkel en maak foute, en dis my lewe. Punt. Dit stop egter nie daar nie, want ek sukkel net so baie as 'n gelowige kind van God, en ek maak steeds elke dag die domste foute denkbaar. Jy dink nou seker dis dieselfde met jou, maar daar is gelukkig 'n ander kant van die saak ook. Sukkel en foute is deel van die leerkurwe waardeur ons moet gaan om die beste te word wat ons kan word. Ek glo ons leer uit elke fout wat ons maak in ons Geestelike lewe, en ons kom deur dít elke dag nader aan die Here. Die Bybel praat van baie mense wat deur foute beter geraak het. Ek dink aan Dawid wat hard geval het a.g.v. owerspel met Batseba, Petrus wat Jesus verloën het, Moses wat die klip met sy kierie geslaan het, Jona wat wou wegvlug van die Here af, en vele meer. Maar almal se "sukses" was afhanklik van opstaan en aangaan. Ons is nie heilig nie, ons is op 'n pad van heiligmaking, tot ons sterf. Wysheid en insig is 'n proses wat jou hele lewe lank versamel word, maar dit moet iewers begin. Hierdie teks in Spreuke gee die klinkklare antwoord: Spr. 9:10 "Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig." ~ Willem Botha, 23/09/2020


Ons was die afgelope naweek uiteindelik bietjie weg van die huis af. Ná al die maande se inperking en tuisbly was dít nou ’n groot seën en voorreg wat my met dankbaarheid gevul het. Ek wou sommer net ’n loflied sing want ek weet die Here het ons deur al hierdie moeilike maande gedra, vir ons gesorg en meer gegee as wat ons ooit kon dink. Aangekom by ons oornag-plekkie op ’n gasteplaas beleef ek hoedat die natuur sáám jubel en sáám sing tot eer van God: die nuwe groenigheid en bloeisels wat orals deurbreek, die voëls wat nie kan ophou kwetter nie, die helder sterre wat net meer en blinker is as in die stad en die blare van die bome wat so mooi ritsel in die wind dat dit sommer soos ’n waterval klink. Dit het my laat dink aan Jes. 55:12 wat praat van die berge en heuwels wat jubel en juig en die bome in die veld wat hande klap. Ek het dít gehoor! Hulle doen wat 1 Kron. 16:31-33 sê: “Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, hulle moet onder die nasies verkondig: “Die Here regeer.” Die see en alles daarin moet druis, die veld en alles daarop moet jubel, die bome in die bos moet hulle verheug voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers.” En ek neurie saam met die bome in die bos: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!” (1 Kron. 16:34) ~ Wilna Botha, 22/09/2020

1 Kor. 15:54-55 "En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
Ek was die naweek by my ouma se graf in Dullstroom en ons het tussen die grafte deur geloop en gemerk dat bykans elke graf 'n teksvers op het. Ek was ook vanoggend op 'n begrafnis en die boodskap het geweldig baie vir almal beteken. Op een of ander (amper bonatuurlike) manier voel dit net heeltemal anders ná die begrafnis as vóór die begrafnis, nadat 'n Geestelike boodskap gelewer is. So was ek ook baie jare gelede by 'n familie se afskeid van 'n pa wat oorlede is, maar hy was 'n uitgesproke ateïs. Voor sy dood was dit sy uitdruklike wens dat daar geen Geestelike element deel van sy begrafnis mag wees nie, want hy was totaal gekant daarteen dat "een mens oor 'n ander se siel mag preek". Dit was vir my natuurlik uiters vreemd omdat ek dit nog nooit beleef het nie. Die ergste is dan ook die vaste wete dat daardie man sonder God gesterf het, en nie in Sy Koninkryk is nie, maar in die verderf. En nee vriend, ons hoef nie te dink ons veroordeel so 'n persoon nie, hy het gekies om sonder God te leef, en te sterf.
Terug na die grafte met die teksverse, natuurlik is daardie teks op 'n grafsteen nie noodwendig 'n bewys dat daardie persoon gered is nie, maar wel dat die naasbestaandes aan God vashou vir troos. As jy as gelowige by die graf van 'n geliefde staan, wat wel 'n gelowige was, kan jy ook vra: “Dood, waar is jou angel? "Dood" se angel is giftig en skerp, en steek ongelooflik seer as die afgestorwene sonder God sterf, en daardie angel steek dié wat agterbly (in aardse terme) nog baie seerder as die persoon wat gegaan het. Maar vir die agtergeblewenes raak dit beter, maar nie vir die afgestorwene nie, dit bly vir ewig en ewig en ewig baie seer steek. Lees gerus weer die gedeelte van Lasarus en die ryk man in Luk. 16:19-31, en let op dat daar nié staan dat dit 'n gelykenis is nie.
Dít is 'n lewe in die hiernamaals sonder God, 'n lewe waar die angel van die dood nie getrek is nie. Dis verskriklik! Dood, waar is jou angel? Wel vriend, net jy self kan daardie angel uittrek, niemand kan dit namens jou doen nie. En dis nooit te laat nie. ~ Willem Botha, 21/09/2020

Ek was nog nooit in 'n hofsaak betrokke nie, en mag dit nooit met my gebeur nie! Vergewe my dus as ek op hierdie terrein 'n voorbeeld of twee gebruik en ek struikel oor die feite van die bedryf. Sover ek verstaan sê ons reg dat jy onskuldig is tot jy skuldig bewys word. Nou het ek gewonder hoe dit dan werk dat 'n advokaat iemand verteenwoordig wie hy vir seker weet skuldig is. Toe ek die vraag vir 'n vriend ('n advokaat) vra het hy gesê dis nie sy werk om die persoon skuldig of onskuldig te bewys nie, dis die regter se werk. En sy werk is slegs om vir die regter voor te hou wat sy kliënt vir hom gesê het. Maar boeta, as die staatsaanklaer met 'n sterk saak teen jou te staan kom, gaan jy swaar leef.
En so kom die aanklaer van hierdie wêreld daagliks teen jou te staan, en sy naam is Satan. 'n Regte klikbek wat die hele tyd al jou oortredinge aan die Regter (God) wil uitwys. En ek waarborg jou, sonder 'n goeie Regsverteenwoordiger gaan jy swaarkry, en is jy totaal weerloos. Nou ja, soos jy weet is sy Naam natuurlik Jesus. Maar Hy steek nie jou oortredinge vir die Regter weg nie, inteendeel, Hy lê dit voor vir kwytskelding. Jy sien, óf die Regter moet dit kwytskeld, óf hy moet jou straf, óf iemand anders moet die skuld op hom vat. Soos jy weet is dít wat gebeur en vandaar jou onskuld.
Hebr. 10:5 Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het." En daarmee is my en jou regsaak afgehandel, en uit die hof gegooi. Voorts kry jy nie met elke oortreding weer 'n hofdatum nie, dis ook klaar afgehandel. Toe ek 'n kind was het ek gedog die Here vergewe net elke drie maande sondes, elke keer met nagmaal. Gelukkig is dit nie so nie. My en jou oortredings verwys altyd terug na daardie eerste toetssaak toe die Regter vir eens en vir altyd hierdie saak afgehandel het, en toe vir ons die volgende belofte gegee het.
Rom. 8:1 "Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie."
Tetelestai - Dit is volbring ~ Willem Botha, 17/09/2020

“Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe.” (Op 14:1) Wat ’n wonderlike prentjie moet hierdie nie wees nie? Jesus by sy getroue volgelinge. Hulle is gemerk en elkeen dra die stempel met Sy Naam daarop. Hulle is uitgesoek, losgekoop, gereinig, silwerskoon, onberispelik, gewas in Sy bloed. En hulle sing ’n nuwe lied daar in die hemel voor sy troon. Dié loflied is so hard soos die gedruis van ’n groot watermassa en so indrukwekkend soos die gedreun van swaar donderweer en só mooi soos ’n klomp siterspelers wat die mooiste melodieë saam speel. Hulle sing ’n nuwe lied, ’n lied wat nog nooit voorheen gesing is nie, ’n lied met “geheime” woorde. Nét hulle kan die lied leer, nét hulle ken die woorde van die lied. Niemand anders kan inmeng in hulle vreugde nie, niemand kan die lied kaap en probeer saamsing nie; vir niemand anders maak die lied sin nie. Uiteindelik word die suiwerste loflied met die mees perfekte woorde en volmaakte melodie tot eer van die Lam gesing. Sing jý saam? Sal jy een van dié wees wat die woorde van die finale lied ken en uit volle bors saamsing op daai dag in die hemel? Jy kan! Kies vir Jesus as jou Here, Verlosser en Vriend en die woorde en die wysie sal in jou hart ingeskryf word deur Sy Gees. ~ Wilna Botha, 16/09/2020

Hoe heilig is lewe? Wie het beheer daaroor? Mag ek iemand se lewe neem en indien wel, onder watter omstandighede? Mag net God daaroor besluit? As ek nou hiermee die stukkie sou afsluit en vra dat jy moet reageer, sal jy waarskynlik sê NEE, net God mag. Tot ek jou herinner dat ek as 18 jarige opgelei is om mense om die lewe te bring, natuurlik in die weermag. Totaal onskuldige mense wat net vir 'n ander kant van die saak as ek geveg het. En o ja, wat van selfverdediging? Ek mag seker my gesin beskerm of hoe? Goddank dit was nog nooit nodig nie. Maar toe sit ek en dink aan ander situasies waar ek dalk 100% skuldig is aan moord. En ek weet nie of ek skuldig is of nie. 'n Paar jaar gelede staan ek langs 'n vriend se sterfbed (kanker) en hy vra: Willem, bid asseblief NOU dat die Here my vannag kom haal. Ek het nie die moed gehad nie, maar daardie aand het ek. Hy het enkele dae later gesterf. Het die Here my gebed verhoor, en is ek dus skuldig? Ek dink nie dis so eenvoudig nie. Ek het die voorreg gehad om langs my pa, my ma en my suster se beddens te staan toe hulle sterf. Ek het vir almal gebid dat die Here hulle lyding sal verlos. Kom ek vra jou, sou jy deelneem aan genadedood as jy kon sonder om vervolg te word? Jou antwoord sal daarvan afhang of jy iemand wat bitter swaarkry, al tot die dood bygestaan het.
Pred. 12:1 Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.”
Prediker 12 vertel van die moeilike tye waardeur mense op hulle oudag gaan, en ek verstaan nie hoekom dit so moet wees nie. Daar is vele mense wat glo die dood kom van Satan af, en as jy reg bid sal die Here jou geliefdes spaar en hulle lewens red. Maar tot op watter ouderdom? Veertig, tagtig of honderd? Dit los my by 'n moeilike vraag, en dit is of jy moet deelneem (deur gebed) daaraan dat iemand se lyding so uitgerek word? Of is 'n gebed maar net lippetaal en is jy nie regtig ernstig oor jou gebed nie? My mening is eenvoudig dat daar nog lewenskwaliteit moet wees, en as daardie persoon gered is en daar geen sin meer in lewe oor is nie, en hy/sy soos die Prediker sê "Ek het daar niks aan nie", kan die dood kom. Die dood is so ongelooflik hartseer en swaar vir dié wat agterbly, maar soms moet mens die persoon 'n lewe by God gun. Laastens, leef voluit, elke dag, en laat elke dag tel, totdat jy sê: Ek het daar niks aan nie. ~ Willem Botha, 14/09/2020

Jy sal nooit kan verstaan hoe dit voel as jy 'n kind aan die dood afstaan, as dit nog nie met jou gebeur het nie. Goddank ek weet nie.
Jy sal nooit verstaan hoe dit is om 'n ouer van 'n kind te wees as jy nie self 'n ouer is nie. Wees dus versigtig met ouerskap raad, jy verstaan nie.
Jy sal nooit weet hoe dit is as bomme om jou val op die grens, as nie self daardeur is nie.
Jy sal nooit verstaan hoe kernsplyting werk, as jy nie verstaan wat binne-in 'n atoom aangaan nie.
Nou vra ek jou, verstaan jy die werke van die Here? En sê nou iemand sê vir jou jou geloof in hierdie God/god van jou is sommer net 'n klomp snert? Hoe gaan jy antwoord?
1 Pet. 3:15b "Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe."
Verstaan jy genoeg om te kan antwoord? Dit lyk my ons verstaan maar min, of ten minste, ek verstaan maar min.
Pred. 11:5 "Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles." Ek sukkel baie met hierdie ding van gees en liggaam, ek kon dit nog nooit uitpluis nie, maar een ding weet ek, dit het gebeur met jou en my en elkeen op aarde, al verstaan ons dit nie. Gees en liggaam het inderdaad bymekaargekom.
Hoe gemaak as iemand my geloof in Jesus en sy werke aflag en 'n grap daarvan maak? Wel vriend, die Bybel gee vir jou 'n klinkklare antwoord, 'n antwoord wat jy gemaklik kan gebruik. En dit wat in hierdie verduideliking wat die Bybel gee gebeur, is die absolute enigste rede hoekom jy glo.
1 Kor. 2:14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." Dít is hoekom jy glo, want jy het die Gees van God in jou, en sonder sy Gees is geloof onmoontlik. As iemand jou dus wil belaglik maak oor jou geloof, is hierdie jou antwoord. Vra vir so 'n persoon of hy die Gees van God in hom het, en natuurlik gaan hy sê hy glo nie daaraan nie, dan is jou reaksie: Dis die rede hoekom jy dit nie kan glo nie! So, sonder die Gees van God is álles onsin, sonder sy Gees kan jy dit nie beoordeel nie, dis eenvoudig onmoontlik! Wat het met Paulus (toe nog Saulus) gebeur op die pad na Damaskus? Jy sal onthou dat hy op pad was om Christene te vervolg, toe die Here hom tref met 'n verblindende lig en hy die Gees van God ontvang. En net daar, in 'n oogwink, verstaan hy alles wat nodig is, en sy geloof in God is so sterk dat hy deur geweldige moeilike tye gaan, opgesluit word en lyfstraf verduur en eventueel vir sy geloof sterf. Maar eers nadat hy bykans die helfte van die Nuwe Testament skryf. Sonder die Gees van God is dit bloot onmoontlik. Oppas, jy kan sy Gees verloor deur Hom teen te staan, maar as jy nie kies om sy Gees te verloor nie, gaan sy Gees nêrens heen nie, dis sy belofte aan jou. En daarom het jy 'n antwoord vir iemand wat vir jou vra oor die hoop wat in jou leef. ~ Willem Botha, 10/09/2020

In die diepste donker, op die bodem van die see, woeste waterstrome rondom jou, een brander na die ander wat oor jou breek, seegras om jou kop vasgedraai, afgesny van die Here, bevrees en beangs - dit klink nie eintlik na omstandighede vir ’n loflied nie nè! En veral nog as dit deur jou eie toedoen is dat jy in dié gemors beland het. Dis waar Jona hom bevind het na drie dae en drie nagte in die groot vis se maag. Lees maar daar in Jona 2 hoe rof dit met hom gegaan het. Toe dit vir hom voel of sy einde aangebreek het, doen hy drie belangrike dinge: hy dink aan die Here, hy bid en hy sing ’n loflied. Maak sommer dié drie die slagspreuk van jou lewe: dink, bid, sing. Dink aan die Here wanneer dit swaar gaan, wanneer jy verlate, alleen, verwerp, siek of bang voel. Dink hoe groot en sterk en almagtig Hy is. Dink aan sy genade. Dink aan sy beloftes. Pred. 12:1 sê: dink aan jou Skepper in jou jong dae, voor die swaar dae kom. Ek wil dit sommer “vertaal” na: dink aan jou Skepper terwyl dit goed gaan, voor die swaar dae kom. Sodoende kan jy jou verstand en jou hart as’t ware programmeer met die karakter van die Here, met die wete dat Hy jou nie alleen sal los nie, met die wete dat Hy jou sal help en red. Doen dít sodat jy in die swaar dae outomaties aan die Here sal dink. Bid tot die Here wanneer dit swaar gaan. Pak jou hart voor Hom uit, werp jou bekommernisse op Hom, maak jou begeertes en behoeftes aan Hom bekend. En sing! Sing ’n loflied wanneer dit swaar gaan, sodat jou fokus kan verskuif van jou probleme na dié Een oor wie jy sing. Sing sodat jou gemoed ligter kan word en met hoop en verwagting gevul kan word. Weet jy wat het met Jona gebeur nadat hy gedink, gebid en gesing het? Die Here het uitkoms gegee en hom gered. Dink, bid en sing  - die Here se hand is uitgesteek om jou te help. “Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel ... terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n  offer bring. Hulp kom net van die Here af. Toe beveel die Here die vis en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg.” (Jona 2:7-10) ~ Wilna Botha, 09/09/2020


Oë wat straal van hoogmoed...
Sjoe, flits daar nou name en gesigte voor my verby van sulke walglike hoogmoedige mense, mense wat glo hulle is beter as ander. Dis aaklig!
Maar o wee, toe die gesigte so voor my verbyflits, kom my gesig ook verby! Ja vriend, ek sukkel ook daarmee, soms openlik, soms baie subtiel, maar dit gebeur.
Spr. 6:16-19 "Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van kwaad, 'n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers."
Oë wat straal van hoogmoed. Donkiejare gelede het my ma by 'n groot droogskoonmaker fabriek gewerk, en daar het gereeld 'n vrou wasgoed gebring en kom haal, en sy het haarself voorgestel as Mev. Luitenant Generaal sus en so. Haar man se titel was vir haar baie werd. Ai, dalk moes my vrou haarself maar voorstel as Mev. Tegnikus Botha...
Daar is baie fasette van hoogmoed. 'n Direkte ding van: ek meng nie met minderes nie. 'n Subtiele manier van hoogmoed: Ons het mos 'n plekkie by die see, nee eintlik twee. Soms deur oordrewe "nederigheid" : Nee jong ons seiljaggie is maar klein, hy slaap net 6 mense. En dan 'n baie slegte een wat ons noem Geestelike hoogmoed: ek is baie naby aan God (mos), Hy het gister vir my sus en so gesê, laat ek jou help om jou probleme weg te bid, ek hoor Sy stem bonatuurlik, die Here het met my gepraat oor jou. Daar is vele voorbeelde daarvan. Die gelykenis van die Fariseër en die Tollenaar is regtig treffend in Luk. 18:9-14, gaan lees dit gerus weer, dit sê so baie. Die Fariseër was so bly hy is nie so sleg soos die tollenaar nie! Die Here haat oë wat straal van hoogmoed.
Maar kom ek sê vir jou van nog 'n ding wat ek glo die Here ook haat. Dis as jy minder van jouself dink as wat jy moet. As 'n Koningskind wat deur die Here uitverkies is, is jy BAIE meer werd as wat jy dink! Wat dink jy is jou netto waarde as jy dit in 'n geldeenheid sou uitdruk?
Jeff Bezos is $145b werd, en hy is die rykste mens op aarde. Maar jy, as Koningskind en volle erfgenaam van God, is mos baie baie meer werd. Jy is soveel werd dat Iemand bereid was om vir jou te sterf! Dis dalk hoogtyd dat jy voor die spieël staan en jou status in Christus raaksien. Jy is presies gemaak soos wat Hy jou wil hê, jy lyk presies soos wat Hy jou wou maak, en jy is presies wáár Hy jou wil hê, al gaan jy soms deur moeilike tye. Moenie jouself vlak vat nie. Dalk is jy op die punt dat die lewe nie meer sin maak nie en jy net sowel 'n einde aan alles kan maak. MOENIE! Hy is nog besig met die beste kunswerk waaraan Hy nog gewerk het. Jy! As Hy nie opgee met jou nie, MAG jy ook nie opgee met jouself nie. Jy is BAIE BAIE werd. Die teenpool van hoogmoed is nederigheid, en jy kan in nederigheid almal in die oë kyk en sê: My Pa is die Koning! ~ Willem Botha, 08/09/2020

Die Klaaglied van Willem
Ek loop regtig regtig deesdae met 'n Klaaglied in my hart rond. Ek deel eers met jou 'n teks, dan sal jy sien dat my Klaaglied glad nie nuut is nie.
Klaagliedere 5:1-8 "Slaan tog ag op wat oor ons gekom het, Here, kyk tog en sien self hoe ons verneder is. Ons besittings is gevat en aan vreemdes gegee, ons huise aan uitlanders. Ons het weeskinders geword, daar is nie vaders nie, ons moeders is soos weduwees. Ons moet ons eie drinkwater koop, vir ons eie hout moet ons betaal. Ons word gedryf deur ons oorheersers, ons is uitgeput, ons word geen rus gegun nie. Ons het ons hande uitgesteek na Egipte en na Assirië om by hulle kos te bedel.
Ons vaders het gesondig, maar hulle is nie meer daar nie, ons word gestraf vir hulle sondes. Ondergeskiktes heers nou oor ons, en niemand kan ons uit hulle mag red nie."
Hierdie teks kan maklik maak dat jou emosies jou oorrompel en as jy dit so paar keer gelees het begin jy parallelle trek met ons omstandighede vandag en sommer vinnig is jy woedend en jy sal saamstem dat hierdie gedeelte ons lewe baie raak vasvat.
Dan wil ek sommer hierdie teks verder skryf met hierdie woorde: die Klaaglied van Willem (Ek dink jy gaan so effe teleurgesteld wees in my).
"Here, hoe kan ons ons leiers vertrou en dit aanvaar dat U hulle oor ons aangestel het? Hoe kan ek my meerderes respekteer as dit voel of ek in die grond in vertrap word, bloot oor wie en wat ek is? Here wat van my opvoeding waar ek geleer is dat "crimes doesn't pay", maar intussen is presies die teenoorgestelde vandag waar? Here hoe kan ek met vreugde vir die Keiser gee wat hy toekom, as ek eintlik dink dat ek my swaar verdiende inkomste sien verdwyn in 'n gat waar dit gesteel en alles geplunder word? Here, wat van my kinders, wat ek moet motiveer om hier te bly en boonop aanspoor om 'n nageslag in die wêreld te bring? Here hoe is dit dat dit lyk of die reg 100% aan die misdadiger se kant is? Here hoe kan dit wees dat ek SO hard geword het, dat ek my half verlustig as 'n misdadiger omgekom het terwyl hy 'n misdaad pleeg? Here hoe het my hart so hard geword? Hoekom sukkel ek so om onvoorwaardelik lief te wees vir ALMAL? "
Sjoe, ek dink ek kan vir lank so aangaan en gal braak voor die Here. Ek sou selfs kon dink dat die Here dit verstaan, want sekerlik haat Hy ook hierdie ongeregtighede en dis vir Hom ook 'n teleurstelling. Dit klink weliswaar of ons nou leef in die tyd toe die Klaagliedere boek geskryf is.
Maar waar los hierdie Klaaglied my? Ek dink onwillekeurig daaraan dat die Here my dadelik gaan herinner aan my voorspoed en alles wat ek besit, en soos ek hier sit spoel daardie besef inderdaad oor my. Dit sal dalk help vir 'n dag of twee, maar dan sing ek weer daai Klaaglied dat die dak lig, want my skoene het werklik nie meer plek vir my moed nie. Dalk, net dalk, moet ek dan eerder my Klaaglied afsluit met hierdie teks, amper aan die einde van Klaagliedere.
Klaagl. 5:21 "Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die bestaan van vroeër."
Net dalk is dít wat die Here wil hê: ons harte, harte van vlees en nie harte van klip nie, harte wat terugdraai na Hom toe, ja myne ook, en joune, en elkeen in hierdie land. Dan sal die Klaaglied van Willem verander in Die Vreugdepsalm van Willem. ~ Willem Botha, 07/09/2020

Daar is ’n tyd om vrolike lofsange tot eer van God te sing, om uit volle bors te jubel en juig, om die Here se lof uit te basuin, om hande te klap, te dans en op allerlei instrumente te speel. Daar kom egter ook tye wat mens se lofbetuiginge stilweg gebeur, amper sonder woorde, sonder musiek, sonder ’n gejuig,  net met die diep erkenning in jou hart dat die Here goed en groot is en dat Hy al jou eer, agting, bewondering en respek waardig is. Om die Here só te aanbid is ’n baie intieme en persoonlike saak. Dit vra stilte, ontsag, eerbied en nederigheid en geskied met opregtheid, eerlikheid en algehele oorgawe aan Hom. “Give worship to the Lord with fear, kissing his feet and giving him honour”  (Ps. 2:11). ~ Wilna Botha, 03/09/2020

Sondebok
Iemand wat alewig die skuld kry vir ander se foute, iemand wat self onskuldig is, maar op die einde die blaam en die straf kry vir dít wat ander verkeerd gedoen het. Jy kry mense wat net eenvoudig altyd die sondebok gemaak word en dan verduur hulle die straf vir ander. In die weermag het dit andersom gewerk. Daar was 'n term wat gebruik is in die weermag vir iemand wat lyf wegsteek en nie sy kant bring nie, en dan is gesê dat daardie persoon "gippo". So dink ek aan 'n dag wat ons almal in die veld was vir uiters strawwe opleiding, en een persoon het onder sy bed gaan wegkruip om te gippo, toe vang 'n korporaal hom. Hy is toe na die groep (genaamd 'n Battery in artillerie) gebring en hy moes toe lekker gemaklik sit en kyk hoe ons vir sy luiheid rondgejaag word en woes af-chop, omdat hy lyf weggesteek het (letterlik 😁). Nou kyk, dis nie lekker om die gelag te betaal vir iemand anders nie. So sou almal in die klas by die skool soms gestraf word vir een ou wat droogmaak.
Dis nie lekker om 'n sondebok te wees nie. Kyk wat lees ek in die HAT as beskrywing vir 'n sondebok. "'n Bok wat by die Israeliete op die Groot Versoeningsdag sinnebeeldig met die sonde van die volk belaai en in die woestyn ingejaag is."
Nou ja, jy het sekerlik ook nou al gedink aan Jesus wat die Sondebok geword het in ons plek. Jesus wat onskuldig is aan alles, het "skuldig" gepleit op AL die aanklagte teen die mensdom. Die "ultimate" Sondebok, die enigste Een in die hele heelal wat toegerus was om die Sondebok te wees. Vrywillig, soos 'n lam ter slagting het Hy na Golgota gestap, sonder om te kla of te blameer, sonder om terug te deins vir die skande en die pyn van die kruis, het Hy die Sondebok geword. Soos ek hier sit tref hierdie gebeure my opnuut tussen die oë! Hoe kon Hy? Hoekom? Hoekom juis Hy? Hoekom selfs die Sondebok wees vir diegene wat Hom gekruisig het? Onthou jy die vrees wat Hy beleef het die vorige aand in die tuin? Die ongelowige kan nie hierdie ding verstaan nie. Ek self kan dit ook nie verstaan nie, maar ek kan dit glo en aanvaar.
1 Kor 2:14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." Dis NET die Gees van God wat hierdie waarheid in jou kan vasstamp, anders is dit inderdaad onsin.
Joh 3:16" “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." ~ Willem Botha, 02/09/2020

En hoe was jou lentedag? Wel, hier by ons was dit ’n koue, mistroostige dag met donker wolke wat geen son deurgelaat het nie. En toe, vanmiddag, sowaar ’n lekker bui reën. Die eerste reën na die winter. Dit lyk toe steeds nie soos lentedag nie, maar dit ruik darem al so! Daai reën op die dak en die ligte gedonder van die weer, het vir my sommer baie na ’n loflied geklink. Ek het toe besef dat die aarde, die bome, plante, die wolke, die reën, die wind, alles in die natuur die Here se lof besing deur net te wees wat Hy hulle gemaak het om te wees, deur te doen wat Hy hulle beveel om te doen. Kyk hoe mooi sê (sing) Ps. 148: “Prys die Here van die aarde af ... weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg .... laat hulle die Naam van die Here prys.” Dink bietjie daaraan as jy weer jou loflied sing – die aarde sing saam. So in droogte of reën, koud of warm, storms of stilte, sién die Here se werke raak, prys Hom, eer Hom, loof Hom. Lof aan God kan nie stilgemaak of uitgedoof word nie. As ons sou ophou of weier of versuim om dit te doen, dan sal die klippe die Here se lof uitroep (so sê Luk. 19:40). “Prys die Here! Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is ’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” (Ps. 147:1) ~ Wilna Botha, 01/09/2020

Am I my brother's keeper? Hierdie bekende teks kom uit Gen 4:9. Nadat Kain vir Abel doodgeslaan het, vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”
Is ek my broer se oppasser?
* Nee! Jy is nie, en jy is nie verantwoordelik vir 'n ander se lewe nie. Ek vertel vir jou twee stories. Jare gelede was ek by 'n radiostasie betrokke en een Sondagaand, terwyl ek die geestelike program behartig, bel 'n dame my en vra ek moet haar seun skakel, want hy gaan deur 'n baie moeilike tyd. Ek het gesê dat ek dit nie gaan doen nie want ek is nie 'n berader nie en het nie die nodige vaardighede nie. Sy het egter aangedring dat ek dit moet doen en sy het sy nommer vir my gegee. Ek het hom egter nie gebel nie. 'n Paar maande later skakel sy my weer in die ateljee en sy was gebroke, en het my daarvan beskuldig dat ek deels verantwoordelik is vir haar seun se dood, wat toe intussen selfmoord gepleeg het. Ek was platgeslaan daardeur, maar skielik was ek baie omgekrap, want ek is nie "my broer se oppasser" nie. Ek is nie verantwoordelik vir 'n ander se lewe nie.
So het ek ook op 'n tyd 'n ander man ontmoet wat deur ons gemeente se beradingsentrum na my toe verwys is om hom te help. Hy het geweldige sielkundige probleme gehad en het my later teen die mure uitgedryf. Hy sou my bel en beskuldig dat ek niks vir hom doen nie. Hy het my eenmaal gebel en gevloek dat die see my nie sou kon afwas nie, en eventueel vir my gesê dat dit my skuld gaan wees as hy sy eie lewe neem. Sy berader het egter vir my genoem dat ek nie verantwoordelik is vir 'n ander se lewe nie. I am not my brother's keeper.
Maar is dit regtig waar?
Is ek my broer se oppasser?
*Ja! Ek is! Want daar is 'n ander kant van die saak. Binne my direkte familie verband (en selfs wyer) het ek 'n verantwoordelikheid, want soms moet ek die verlenging van die Here se arm wees. Ek weet dat as ek in 'n nood sou verkeer, sal my eie broer alles in sy vermoë doen om my by te staan, ek weet ook dat ek op my eie gesin sal kan staatmaak vir dieselfde ondersteuning, en daar is BAIE vriende op wie se knoppie ek sou kon druk. Sekerlik AL my nabye vriende.
1 Joh. 3:16 "Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê." I am indeed, my brother's keeper." Maar nie altyd nie, want daar is mense wat hierdie goedheid van ander misbruik vir eie gewin. Dit vra fyn onderskeiding, en mens kan nie goedsmoeds in alles ingesleep word nie. Dalk sou daardie man wat sy eie lewe geneem het nog gelewe het as ek die oproep gemaak het, ek sal nie weet nie, maar ek is nie verantwoordelik vir elke vreemdeling wat my pad kruis nie.
Daar is 'n spreekwoord wat sê: "I got your back." Dit beteken bloot dat iemand dáár is vir jou. Ek is baie bly dat ek weet dat daar mense is wat my rug beskerm. En dan laastens, weet ek dat Jesus my rug beskerm. Hy sê mos sy arm is nie te kort om te help nie.
Spr. 17 : 17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken, jou broer is daar met die oog op jou nood" ~ Willem Botha, 31/08/2020

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so...” (Ps. 42:6) Vanaand voel ek ook bietjie só: kermrig, klaerig, moeg, klomp goed loop verkeerd, sommer net omgekrap, bietjie bewolk ... noem maar op! Dalk kan jy identifiseer daarmee, dalk kan jy nog ’n klomp goed by die lysie voeg. Dis seker heel natuurlik om af en toe so ’n klaaglied te sing, veral as ek sien dat daar ’n hele klompie van die Psalms is waar die kla-faktor deurskemer en dat daar ’n hele boek in die Bybel is wat uit klaag- en treurliedere bestaan! Wat ek egter vir my uitstaan in die klaagpsalms, is dat dit nooit net by kla en kerm en mor bly nie. Dwarsdeur spring daar ’n geloofsbelydenis en ’n verklaring van vertroue in die Here op en word die klaaglied weer ’n loflied, word die treurmare weer ’n vrolikheid. Soos hier in Ps. 42:6: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing, Hy is my Helper en my God!” Hierdie teks herhaal weer in vers 12 én in Ps. 43:5. Drie keer herinner die digter homself daaraan om op die Here te vertrou en vir Hom ’n loflied te sing.  Ek gaan dit ook doen en my troos en my loflied in Klaagliedere 3:21-23 vind: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” ~ Wilna Botha, 27/08/2020

Ons kinderdae was so lekker en ongekompliseerd, sonder fieterjasies en die lewe was 'n lied. Of liewer, dis hoe ek grootgeword het, en ek hoop jy het ook so iets daarvan geken. Sommige dae verval ek in nostalgie en dan wens ek die lewe was nog steeds so. Ons kon fietsry in die strate sonder om te voel jy is in gevaar, ons kon gaan fliek by die Skyline en niemand was bang dat jy daar dwelms gevoer gaan word nie, jy kon kattekwaad aanvang en niks oorkom nie, en jy kon 'n pak slae kry sonder dat jou ouers of onderwysers vir mishandeling aangekla sal word. Daar was nie selfone, rekenaarspeletjies of televisie nie, en ons het cowboys en crooks buite gespeel. Die lewe was lekker. Christenskap was ook lekker en totaal ongekompliseerd, hoewel ons bang was vir die dominee en die ouderling. Ons het tot Liewe Jesus gebid, klokslag voor elke ete, en voor jy gaan slaap, elke dag dieselfde rympies. Sondagskool was nou nie my gunsteling tydverdryf nie maar daar het ek nuwe maats gemaak wat nie saam met my op skool was nie. Ons het Halleluja liedjies gesing, 10 sent in die kollekte bordjie gegooi en met kortbroek pakke klere kerk toe gegaan, terwyl die meisies hulle hoede getrou gedra het. Uiteindelik was jy aangeneem en 'n nuwe fase het begin. Weet jy wat vir my laat lekker voel oor daardie dae? Dis omdat daar nie soveel van dogma gemaak is nie, mense (Christene) het nie die hele dag baklei oor wat reg en wat verkeerd is nie, daar was nie internet met derduisende opinies wat jou laat twyfel nie. Jy het een Bybel gehad en niemand het baklei oor die korrekte vertaling van 'n teks nie. En as jou pa gesê dit of dat staan só geskryf in die Bybel het jy dit aanvaar. In die skool is Christenskap verkondig en dis dit, en almal het berus daarby, en die Bybel onnie kon jou agterstewe aan die brand slaan as jy ongehoorsaam was, en ons was nooit bang gemaak met die duiwel nie. Soms dink ek dit was beter, hoewel geestelike groei later jare baie kosbaar was. As ek dink aan Jesus se prediking, was dit altyd so eenvoudig dat 'n kind dit kon verstaan, as ek dink hoe Hy met die mense omgegaan het was dit heeltemal sonder fieterjasies. As ek dink hoe Hy vir ons 'n eenvoudige gebed geleer het - die Onse Vader gebed - dan onthou ek ook dat Hy gesê het ons moenie met 'n vreeslike omhaal van woorde bid nie. Hy was totaal ongekompliseerd en Hy het sy dissipels ook so geleer. Hierdie volgende twee tekste sê vir my so baie van 'n eenvoudige geloofslewe.
1 Kor. 1:19 "Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak."
Matt 11:25 Daardie tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het".
Ek dink ons "overthink" dinge te veel, ons stoei te veel met ander wat van ons verskil, en dan is Christenskap nie meer lekker nie. Voorts dink ek ons sit soms ondraaglike laste op mekaar met ons sienings. Die ou dae was dalk tog beter, en lekkerder. ~ Willem Botha, 26/08/2020


“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (Ps. 50:14) Die Here wil nie meer mense se offers van bulle, bokke, ramme, lammers, voëls en ander goeters hê nie. Nee, Jesus se liggaam en Sy bloed was die volmaakte en volkome offer vir ons sondes, die finale offer wat vir ons vrede en vryheid en versoening met God bewerk het. Die offer wat God nou van ons vra is ons lofprysing, dankbetuiging en eerbetoning teenoor Hom vir dié genade. Dit beteken nie ons moet heeldag ’n lied loop en sing nie, dit beteken ons lewe moet spreek van ons dankbaarheid, dit beteken dat ons onvergenoegdheid, ontevredenheid en gekerm moet plek maak vir ’n positiewe gesindheid, dat ons harte sag en vol bewondering en eer vir God sal wees in alle omstandighede en ja, ook dat daar ’n loflied met mooi prys-woorde en ’n wysie op ons lippe sal wees. As die teks praat van ’n offer van lof, beteken dit dat dit iets van jou sal vra. ’n Offer beteken jy moet iets prysgee. ’n Offer impliseer iets wat nie sommer net spontaan gaan kom nie, jy moet ’n besluit maak daaroor. Jou kop en jou verstand moet instem om God te loof en jou hart en jou lippe moet volg met die woorde. Ons mag nie wag totdat ons lig en lekker en vrolik voel om ’n loflied te sing nie, sing al gaan dit gepaard met trane, sing al is dit donker en al sien jy geen uitkoms nie. ’n Loflied in sulke omstandighede is ’n geloofstap, ’n herinnering dat alles ten goede sal meewerk, ’n getuienis van jou vertroue op die Here se uitkoms. “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Heb. 13:15) ~ Wilna Botha, 25/08/2020

Ek het nou die dag iets geskryf oor Maria en Hanna se lofliedere. In Rigters 5 lees mens nóg ’n vrou se lied. Dié van Debora. Wel, sy het dié lied sáám met Barak gesing as oorwinningslied nadat Israel oorwinning oor Jabin se leër behaal het en Sisera om die lewe gebring is. Debora is ’n heel formidabele vrou. Sy is ’n profeet, sy het as regter opgetree wanneer mense geskille met mekaar gehad het, sy was ’n goeie leier, onderhandelaar en beplanner en dis onder haar planne en leiding dat dié oorwinning behaal is. Na die oorwinning sing sy: “Ek sing tot eer van die Here, ek prys die Here die God van Israel met my lied.” (Rigters 5:3) Dis hoe dit hoort: die Here moet die fokus wees van ons lofliedere, dit moet tot sý eer gesing word. Ons moet waak daarteen dat ons té veel van ons lied en ons musiek en ons instrumente en ons voorsangers maak. Ons moet waak daarteen dat die fokus verskuif van die Here af na die lied en ons eie stemme, ons eie belewenis, ons eie gevoel, ons eie trane of hoendervleis terwyl ons sing. Daar is ’n baie mooi lied van Matt Redman wat juis hieroor gaan. Hy sing: “I'll bring You more than a song, for a song in itself is not what You have required; You search much deeper within through the way things appear; You're looking into my heart. I'm coming back to the heart of worship, and it's all about You, all about You, Jesus. I'm sorry, Lord, for the thing I've made it when it's all about You, all about You, Jesus.” Dis ’n belydenis dat die lied en die musiek self belangriker geword het as dié Een waaroor die lied gaan. Stukke van Debora se lied val vir my maar effe vreemd op die oor, veral hier by vers 7 waar dit klink asof sy bietjie haar eie beuel blaas: “Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn en agteruitgegaan totdat ek, Debora, na vore gekom het, totdat ’n moeder in Israel na vore gekom het.” Sy hét wel ’n groot rol gespeel in hierdie oorwinning en in Israel se geskiedenis, want hierna het daar 40 jaar van vrede in die land gevolg. Hoe dit ook al sy, hierdie het my maar net laat dink dat wat ons ook al sing ons vir die Here moet sing, dat ons die woorde van ons liedere sal oordink en dat die Here se lof en eer altyd die hooffokus van ons geestelike musiek moet bly. ~ Wilna Botha, 20/08/2020

Jy kan die Here miskyk. Dis maklik, jy kyk net weg. Of is dit dalk nie so maklik nie? Nee, inderdaad nie, want Hy is orals, in alles, in mense, in die natuur, en ook in jou, as jy Hom daar wil hê. So sien ek dat mense wat hulle geloof verloor verskriklik sukkel om Hom mis te kyk. Nee nee, ek sê nie hulle sukkel om Hom raak te sien nie, ek sê hulle sukkel om Hom mis te kyk, en ek het al male sonder tal die frustrasie by mense gesien wat ten alle koste niks meer van Hom wil weet nie, maar die hele tyd in Hom vasloop. Ek was al in baie gesprekke betrokke waar mense woedend raak omdat Christene so dom kan wees om hierdie onsigbare God te aanbid, en hierdie "saamgeflanste" dokument wat ons die Bybel noem, lees en glo. So het ek al baie keer vir persone gevra hoekom hulle dan so baie tyd spandeer aan iets waaraan hulle glad nie glo nie. Dit verstom my. Jy sien, hoe meer hulle die Here probeer misken, hoe meer is Hy "in their faces".
Kom ons stap weg van die negatiewe en ek vertel jou hoe ek Hom in absolute verwondering raaksien. Ek verwonder my oor 'n bloeisel aan 'n boom, terwyl dit nog koud is, maar die natuur is besig om geboorte te skenk aan 'n nuwe seisoen. Ek verwonder my aan die mooiste sonsopkoms en sonsondergang waar die groot Kunstenaar met kunstige kwashale die natuur in die mooiste kunswerk omskep, en elke enkele dag 'n unieke skildery vir ons beskikbaar stel om te bewonder. Ek verwonder my aan 'n pasgebore baba wat op 'n bonatuurlike manier in die moederskoot gevorm is, en die beeld van God voorstel. Ja, ek verwonder my ook aan gestremde persone wat ten spyte van hulle gebreke, nie genoeg vir die Here kan loof en prys nie. Ek verwonder my aan 'n foto waar jy die mikroskopiese haartjies op 'n mier se snoet kan tel, en ek besef dat ook hy 'n skeppingsdoel het. Ek verwonder my aan Sy almag, as ek besef dat Hy alles in die ganse heelal tot stand gebring het, maar ook 'n saak het met die mens. Ek verwonder my aan die feit dat Hy ons vriend is, en nie 'n diktator is wat ons wil vermorsel nie. Ek verwonder my aan sy beloftes dat ons ná hierdie lewe sy Koninkryk met Hom gaan deel. Ek verwonder my aan die wetenskap waar Hy stukkie vir stukkie besig is om sy handewerk aan die mens te openbaar. Ek verwonder my aan 'n mens wat die Lig gesien het, en wie se lewe soos handomkeer verander, presies soos die Bybel dit beskryf. Ek kyk op hierdie oomblik na my hand wat ek baie sleg beseer het met 'n hoekslyper, en al wat oorgebly het is 'n dun letsel, en ek verwonder my aan sy genesingskrag. Ek verwonder my aan verliefdheid tussen twee jong mense, maar nog meer aan diepgewortelde liefde tussen twee bejaardes wat honderde sakke sout saam opgeëet het, en nog steeds mekaar se hande vashou in die straat. Laastens verwonder ek my aan die lewe, waar ek elke dag met 'n nuwe verwagting 'n dag kan ingaan en weet Hy is reeds daar, in goed sowel as in sleg, en ek kan staatmaak op sy hulp en ondersteuning. Ek haal 'n televisie persoonlikheid aan vir wie 'n boer gesê het: As die Here ons in hierdie jaar nie help nie, sal dit 'n eerste keer wees.
Ps. 16:11 "U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is." ~ Willem Botha, 19/08/2020

Daar is twee vroue in die Bybel wat op wonderbaarlike wyse swanger raak en seuns in die wêreld bring. Albei prys God en maak sy naam groot en besing sy dade. Dit is Hanna, ma van Samuel, en Maria, ma van Jesus. In 1 Sam 2:1-10 lees ons Hanna se lofgebed en in Luk. 1:46-55 Maria se loflied. Ek twyfel of enige van hierdie woorde op ’n wysie gesing is. Dit was net woorde van lof wat opgeborrel het uit oorstelpte harte. Dit was eerbetuiging wat bevestig het wie God is en waartoe Hy in staat is. Ons hoef nie te wag tot die musiek speel om weg te val met ’n loflied nie, nee, bid dit, sê dit, skryf dit, leef dit. Maak jou eie loflied en as jou woorde opraak, kom “leen” by hierdie twee vroue. Daar is vir my ’n tema wat uitstaan in beide vroue se lofbetuiging en dít is dat die Here ’n mens se omstandighede ten goede kan verander, dat negatief positief kan word. Hierdie vroue het dit persoonlik ervaar en besing en eer God daarvoor. Kyk die kontraste wat genoem word: onvrugbaar word vrugbaar, honger word versadig, dié wat struikel kry nuwe krag, geringes staan op uit die stof, armes word opgehef en kry ’n ereplek. Dis die verloop van die lewe: swaar en onvrugbare tye gaan verby en die Here bring nuwe geboortes en nuwe lewe. Die vroue het egter hulle loflied gesing ten spyte daarvan dat hulle geweet het dat hulle hul seuns sou moes afstaan ter wille van ander, ter wille van God se koninkryk. Hulle het gesing al het hulle geweet dat daar eintlik weer trane op hulle wag. Dis die verloop van die lewe: daar is opdraandes en afdraandes, daar is gebrek en daar is oorvloed. ’n Tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag ... en nogtans sal ek in die Here jubel. ~ Wilna Botha. 18/08/2020

Ek is seker dat jy ook (soos ek) soms terugdink aan dinge (sondes) wat nooit moes gebeur het nie, goed wat jy nooit moes gesê het of gedoen het nie, en waaroor skuldgevoelens dikwels weer aan jou deur kom klop. Dan grou jy daai ou koei weer uit die sloot uit, stof hom mooi af, maak hom staan en aanbid hom amper. En dis dán wat jy wegvlug van die Here se aangesig af, so asof jy dit nie kan verdra as Hy vir jou kyk nie. Dan begin jy alles in jou vermoë doen om die Here se guns opnuut te soek en te probeer verdien. Dit laat my dink aan 'n vrou wat deur haar man mishandel word, hetsy fisies of emosioneel, en elke keer wanneer daardie man hierdie aaklige dinge aan haar gedoen het, probeer die vrou om soos 'n wurm op die grond te kruip om net weer sy guns te wen. Dit is SO afbrekend.
My vriend, presies soos wat hierdie vrou doen, is wat ons voor die Here doen as daardie ondraaglike skuldgevoelens oor ons die oorhand kry. Ons hoef onder geen omstandighede te probeer om die Here se guns te wen nie. As jy jou hart vir Hom gegee het, het jy in elk geval nie sy guns gewen nie, want as dit so was, impliseer dit dat jy sy genade verdien het, en dan is dit nie meer genade nie. Ja, sondes is sondes en dis in alle opsigte sleg en ons moet hand en tand daarteen veg, maar vergifnis en genade, kan nooit deur sonde oorwin word nie.
Rom. 5:20 (The message) "But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins hands down."
As jy jou hart vir die Here gegee het, beteken sy vergifnis (wanneer jy oortree het), hoegenaamd nie dat jy elke keer weer tot bekering kom nie. Jou bekering bewerk vergifnis vir wat was, wat nou gebeur en wat kom, en as jy berou toon herstel jy net die verhouding met God. Ons is daagliks besig met selfkastyding, en ons twyfel dikwels oor die aggressiewe genade waarvan Rom 5:20 praat, en ons gooi dikwels stof op ons koppe en skeur ons klere om opnuut in die Here se goeie boekies te kom, en dis alles onnodig. Geniet eerder die Here se liefde, verlustig jouself in die wete dat Hy met groot vreugde na jou kyk, kom oor die verlede, daardie dinge wat Hy vergewe het nog voor jy dit gedoen het, en lééf voluit. En as daardie oortredinge weer kop uitsteek, vra en aanvaar sy vergifnis, en gló dat dit vergete is. Jy is voluit in sy goeie boekies, vir altyd. Glo dit net.
Heb. 10 : 17 – 18 "Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie. Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie." ~ Willem Botha, 17/08/2020

“Laat die volk bymekaarkom en Ek sal vir hulle water uit die put gee.” Israel het toe hierdie lied gesing: “Put, lewer jou water en ons sal daarvan sing! Put wat deur leiers gegrawe is, wat deur vernames van die volk oopgemaak is met septer en kierie””(Num. 21:17). ’n Twee-reël lied wat die Israeliete sing in afwagting van die Here se belofte dat Hy by dié put vir hulle water sal gee. As mens die voorafgaande verse lees, is jy sommer moeg (én dors) wanneer jy sien hoe die klomp kamp opslaan en trek, kamp opslaan en trek, kamp opslaan en trek ... deur die woestyn. Dié keer sonder om te kla en Moses en die Here te verwyt soos voorheen: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie en ons is sat vir hierdie slegte kos.” (Num. 21:5) Sonder dat hulle nou weer kla en murmureer en sonder dat Moses die rots slaan, bring die Here hulle by ’n put en gee vir hulle water. Die water is ’n lafenis. Dit les nie net die dors nie, dit was die stof en die swaarkry van die woestyn af, dit verfris, dit vertroos, dit gee nuwe lewe en moed en vertroue in God se voorsiening. Dít laat hulle sing! En ons? Ons kry die lewende water vrylik, verniet, oorvloedig by die Here. Hy nooi ons uit na die put waar Hy vir ons water wil gee: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh. 7:37) Hy sê as ons uit Sy put drink, gaan ons nooit weer dors kry nie. “Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh. 4:14) Voel jy daai fontein van die Heilige Gees opspring in jou siel? Sing dan ’n loflied! Ons het klaar deur die woestyn getrek. Ons het aangekom by die Put met die lewende water. Kom, kry dit verniet, kom drink, kom sing daaroor en eer God! “All who are thirsty, all who are weak, come to the fountain, dip your heart in the stream of life, let the pain and the sorrow, be washed away, in the waves of His mercy...” ~ Wilna Botha, 13/08/2020

Die wêreld het so 'n verdorwe plek geword! Moord en doodslag, korrupsie, lieg en bedrieg, onderduimsheid en alles wat sleg is waaraan jy kan dink. Ek het al gewonder of die Here nie maar weer net alles voor die voet moet wegvee nie, en wat sou 'n beter manier wees as met hierdie pandemie. Toe begin ek wonder of ek die "Noag" in hierdie verhaal sou wou wees, of een van die res. Wel, ek kwalifiseer definitief nie, want daar staan in Genesis 6 dat Noag 'n regverdige man was, en ek is nie 'n regverdige man nie. Ek is sonder twyfel een van die verdorwe mense. Toe het Noag die ark gebou, die vloed het gekom en almal op aarde is uitgewis. Uiteindelik het die waters gesak en Noag en sy gesin het die nuwe wêreld begin beleef, die wêreld sonder slegte goed. Dit sou/sal die laaste keer wees wat dit gebeur, volgens die Here se belofte.
Gen. 8:21-22 "Toe het Noag 'n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring. Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so 'n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie. So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”
Toe kom die groot selfondersoek hier in my binneste. Hoekom wil ek hê die Here moet weer alles verwoes? Is dit regtig nodig? Is alles só sleg? Of het ek dalk begin dink dat die Here totaal opgegee het met die mensdom? Dink ek die Here het nie meer vertroue in sy skepsels en skepping nie? Of het ék self opgegee met alles? Dalk is dit die naaste aan die waarheid. En as dít waar is, het ek mos opgegee met die Here, of hoe? Kom ek wees eerlik met jou, hier in my binneste het ek al baie gedink dat die mens se wil sterker is as die Here se wil wat hierdie goed betref. My kop sê vir my dat die mens se weerstand teen goedheid net te sterk is. En kyk nou wat gebeur hier, dit lyk vir my ek glo dat kwaad oor goed oorwin het, en altyd sal oorwin. En dít my vriend, kan mos nie waar wees nie. Jesus het aan die kruis die vyand en die bose vernietig, vir eens en vir altyd.
Maar wat dan van al die sleg wat ons sien? Dis die sondige natuur van die mens, daardie sondige natuur waarvoor Jesus gesterf het. Die mensdom, en ek en jy, sal altyd nog 'n kans kry. En nóg en nóg en nóg! Nee wat, die Here sê in hierdie teks saaityd en oestyd, die seisoene, koue en hitte en dag en nag sal vir altyd aanhou. As ons dink dat die Here Hom nie meer verlustig in sy Skepping nie, maak ons 'n groot fout. Hy het hoop vir ons, en daarom kan ons hoop hê vir die toekoms. We just need to see everything in a new Light. ~ Willem Botha, 12/08/2020


Daar is ’n tyd vir alles, sê  Prediker 3. ’n Tyd vir stilbly én ’n tyd om te dans van blydskap; ’n tyd om uit te breek in vrolike lofgesange, wil ek sommer byvoeg. Ek lees in Eks. 15 van Moses en die Israeliete se oorwinnings-loflied. Die Here het die volk gered van die Egiptenare, die see het oor hulle gestroom, nie een het oorgebly nie en die Israeliete is droogvoets en vry. Hulle kon nie anders as om met ontsag vir die Here vervul te wees, in Hom te glo en ’n loflied tot sy eer te sing nie. Net vantevore het Moses vir die volk gesê om kalm en stil te wees, om nie bang te wees nie, vas te staan en te kyk wat die Here gaan doen.  (Eks 14:13-14) Nóú sing en juig hulle oor sy wonderdade, oor sy redding, oor sy oorwinning, oor sy heerskappy, oor sy bevryding. “Singing is as much the language of holy joy as praying is of holy desire”, lees ek nou die dag êrens. Hierdie was beslis ’n nuwe lied – Moses het dit sekerlik daar op die oomblik gekomponeer, dink ek. Dit was seker ook nie die laaste keer dat hulle die lied gesing het nie. Dikwels daarna as hulle weer onthou het hoe die Here hulle wonderbaarlik gered het, het hulle dit dalk weer gesing as ’n herinnering: “U wind het gewaai: die water dam op, strome staan regop soos ’n muur, watermassas stol in die hart van die see” (Eks 15:8). In Openb. 15:3-4 sing dié mense wat die oorwinning behaal het, nog ’n keer Moses se lied en nou word dit die lied van die Lam genoem!  “Here God, die dinge wat U alles doen, is so groot dat dit ons asem heeltemal wegslaan. Here, U is die sterkste en kragtigste van almal ...” (Openb. 15:4) Daar mag dalk tye wees dat jy, soos die Israeliete, voor die golwende waters van die lewe staan – stil, met asem opgehou omdat jy nie weet hoe jy anderkant gaan uitkom nie. Glo dat die Here vir jóú ook ’n pad sal maak, die golwe sal wegdryf, jou sal deurlei en jou sal verras met sy uitkoms, sy grootheid, getrouheid en genade. Mag jou tyd van stilbly binnekort ’n tyd van lofprysing word. ~ Wilna Botha, 11/08/2020


“Music is food for the soul. Not only does it help in reducing stress, it makes one happier. It helps in calming down a person, and makes one more creative.” Dis ’n aanhaling wat ek êrens gelees het. Dis waar en dit geld in die oortreffende trap wanneer daai musiek Gees-geïnspireerde lofprysing- of aanbiddingsmusiek is. Die wysie, die ritme, die woorde werk alles saam om jou hart en jou siel aan te raak en jou gemoed te verbeter. Een so ’n geval in die Bybel is waar Saul telkens deur ’n boosaardige gees oorgeneem is en Dawid geroep is om op sy lier te speel, dan het die boosaardige gees padgegee en Saul het rustig geraak. “And whenever the harmful spirit from God was upon Saul, David took the lyre and played it with his hand. So Saul was refreshed and was well, and the harmful spirit departed from him.” (1 Sam 16:23) Is jy gespanne? Jou binnekant onstuimig? Jou kop ’n warboel? Skakel ’n paar oomblikke af en luister na ’n geestelike lied, of sing een van jou gunsteling kerkliedjies, of tokkel op ’n instrument en ervaar dat die Here se rus van jou besit neem sodat jy verfris voel, sodat jy weer kan fokus op dit wat jy moet doen, sodat jy dalk insig kry oor ’n probleem wat jy moet uitsorteer, of ’n woord van wysheid ontvang wat jy nodig het. “... want ek hoor ’n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op die lier speel, wil ek ’n geheimenis verklaar.” (Ps. 49:5) ~ Wilna Botha, 06/08/2020

Daar was onlangs geweldig baie kontroversie in die media oor bekendes wat vir 'n bepaalde saak standpunt ingeneem het, en dit het nogal 'n wig tussen mense ingedryf. Dit wys jou dat mense se standpunte verskil en elkeen kies vir watter saak hy staan. Hierdie bygaande foto wys 'n boer wat in die reën op sy knieë staan en sy dankbaarheid na die Here toe uitroep oor reën wat só noodsaaklik is. As ek na hierdie foto kyk kan ek nogal 'n klompie afleidings maak oor dít waarvoor hierdie man staan. Ek dink hy glo in die bestaan van God, hy glo dat God die Skepper en onderhouer is van lewe, hy glo dat God beheer het oor die natuur en dat die Here hom ken en sy gebede aanhoor. En daarvoor is hy geweldig dankbaar.
Mense wat verskil oor sake kom ook in die Bybel voor en ons sien 'n voorbeeld daarvan in 1 Kor. 3:4 - 9 "As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei."
Sommige staan vir dié en sommige vir daai, en dan sê Paulus eintlik dat julle vir dieselfde saak staan en verskil oor onbenullige dinge. Sonder om nou kant te kies vír of téén die onlangse gebeure, wil ek graag net dit as 'n voorbeeld gebruik wanneer ons kies waarvoor ons staan in Christus. As jy vír 'n saak staan (enige saak) moet jy seker wees wat dit alles insluit waaroor die saak gaan en dat jy presies weet waarvoor jy staan. Ek dink nie jy kan sê ek staan vir punt een, twee en drie van die "manifes", maar nie vir punte vier, vyf en ses nie. Wat my dan nou by die vraag bring, waarvoor staan jy en ek in Christus? Staan jy vir alles wat die Bybel sê, of net dít wat gerieflik is? Die Bybel is 'n kontroversiële boek, en Jesus was ook baie kontroversieel. Dit laat my kom by die punt: dis alles of niks. Dis vir Hom of teen Hom. Dis die aanvaarding van die hele manifes (die Bybel), of glad nie. As ek daardie manifes wil saamvat, kom ek by die Geloofsbelydenis uit, en as ek daarvoor staan, is dit alles of niks.
Mark. 9:40 "Wie nie téén ons is nie, is vír ons." En natuurlik impliseer dit andersom ook, wie nie vír ons is nie, is téén ons. Ek glo dat hierdie boer wat op sy knieë voor God gegaan het, is in alles opsigte vír Hom, en dís waarvoor hy staan, en dis 'n besluit wat ek en jy ook moet neem. ~ Willem Botha, 05/08/2020


“As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing.” (Jak 5:13) Dit is gelukkig so dat almal in ’n gesin of ’n familie of ’n gemeente darem nie op dieselfde tyd depressief is nie. Dié wat opgeruimd is, moet aanhou om hulle lofliedere te sing, want daardeur beïnvloed dit die aanhoorders positief en sal hulle hopelik binnekort ook inval met hulle eie lofliedere. “Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaarkry sal dit hoor en bly wees daaroor.” (Ps. 34:3) Al het jy nie sélf die lus of al het jy dalk nie die innerlike krag of vermoë om ’n loflied te sing nie, luister na ander se lied en dit behoort jou vir daai oomblik te verplaas na ’n beter plek waar jy ligter voel en dalk vir ’n oomblik van jou probleme kan vergeet en kort voor lank sal jy ook weer ’n loflied sing. “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.” (Ps. 42:6) Ai, ek weet maar al te goed hoe moeilik dit kan wees om te luister na iemand se vrolike lofsange terwyl jy self nie wíl sing nie. “Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag, of asyn op bytsoda, so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.” (Spr. 25:20) Of as mens, soos Job, só negatief en terneergedruk is dat jou lofliedere stil raak en jy net treurliede kan en wil sing: “Al wat vir my oorbly, is ’n treurspel op die lier, ’n lied van trane op die fluit.” (Job 30:31) Só het die Israeliete se lofsange ook opgedroog toe hulle in Babel in ballingskap was. Hulle het selfs hulle liere aan die wilgebome opgehang en sê in Ps. 137:2. “Hoe kan ons die lied van die Here sing in ’n vreemde land?” Tóg het daar weer ’n dag aangebreek dat hulle terug was in Jerusalem en hulle weer die lof van die Here kon besing met ’n nuwe lied. Moenie dat jou omstandighede jou loflied steel of stilmaak nie. Sing ten spyte van jou swaarkry. Sing, want die Here het nie verander nie.  Sing, al bot die vyeboom nie, al is daar geen druiwe aan die wingerde nie, al het die olyfoes misluk, al is die beeskrale sonder beeste. Sing soos Habakuk en behou jou blydskap, hoop en vrede ten spyte van die omstandighede: “Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”(Hab. 3:17-19) ~ Wilna Botha, 04/08/2020

Waar is God? Het iemand Hom onlangs gesien? Het jy dalk sy nommer of kontakbesonderhede, of weet jy dalk waar Hy Hom tans bevind? Het Hy weggevlug in hierdie tyd toe mense begin vrae vra oor hierdie vreeslike pandemie? Skuil Hy dalk iewers tot die ergste verby is? Voel jy dalk dat Hy effe skaars is en soos 'n afwesige pa is? Of dink jy dalk dat Hy besig is om in die geheim hierdie wrede plan vir die wêreld te orkestreer en dag vir dag toeslaan op weerlose mense?
Jy sien, dit gaan tans baie goed met my en my gesin, ons is (sover) gesond en ons het nie 'n tekort nie, en daarom vra ek nie hierdie bogenoemde vrae nie. Maar daar is ongelooflik baie mense wat tans op soek is na God en dink Hy skuil iewers, en ek kan hulle nie kwalik neem nie. As dit met jou goed gaan, sal jy Hom selfs probeer verdedig met uitlatings soos "Hy het 'n plan hiermee". Ja dis dalk inderdaad waar, maar is dit dan die enigste manier om sy doelwitte te behaal? Dalk is jy op die punt van erge twyfel en ongeloof, en ek kan dit baie goed verstaan. Dalk kan ek jou probeer troos met die woorde: “Dit sal eendag sin maak en jy sal die Here nog bedank". Nee, ek sal nie hierdie woorde gebruik nie.
Waar is Hy dan? As jy vir die regte mense gaan vra waar Hy is, sal jy goeie antwoorde kry. God is daar in die hospitaal besig om by mense te wees in hulle nood, en selfs in hulle sterwensuur. God is daar by die besigheidsman wat alles verloor en na Hom uitroep, en Hy laat wonderwerke gebeur. God is daar by ou mense in ouetehuise wat ontsettend na hulle mense verlang, maar wat Hom in hierdie tye van eensaamheid in Sy Woord vind. God is besig om mense wat oorvloed het te oortuig om van hulle welvaart te deel, en hulle doen dit. God is besig om mense te oortuig om tot Hom te bid vir die genesing van hulle geliefdes. Dalk maak hierdie stelling nie vir jou sin nie, soos wat ek ook sukkel om dit te verstaan, maar om te bid is 'n opdrag van Hom. God is besig om op hierdie oomblik Homself aan ander te openbaar, deur jou en my. As jy tans sterk staan, kan jou hulp aan ander, en jou getuienis, die Here se teenwoordigheid weerspieël. Dalk is die Here op hierdie oomblik besig om in jou te werk, om te gaan en sy hande en voete te wees. My en jou lig kan die duisternis wat baie mense tans ervaar, help verdryf. Jy sal die Here vind onder 'n brug by 'n boemelaar, wat 'n stukkie van sy brood met iemand deel. Ons het dit gister gesien, soos voorheen ook. God is orals, Hy is sigbaar en hard aan die werk, en Hy is ook te vinde in laboratoriums waar Hy mense insig en kennis gee om met 'n teenmiddel vorendag te kom. Intussen put vele mediese personeel bomenslike krag uit sy teenwoordigheid wanneer hulle doodmoeg is. Kyk rond, jy sal Hom sien, kyk in jou, Hy is daar ook. Nee ek verstaan nie alles nie, maar ek sien Hom, omdat ek dit kies. God is Gees, en daardie Gees raak sigbaar wanneer ons daardie lig uitstraal.
Mat. 5:16 "Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Dalk is jy een van dié wat regtig nou die Here nodig het. Hou dan vas aan hierdie teks, as jy nog bietjie langer kan uithou.
Klaagl. 3: 55-57 Ek het na U geroep, Here, uit die dieptes uit. U het gehoor hoe ek smeek: “Moet tog nie afsydig staan nie, gee uitkoms en red my!” U het na my toe gekom toe ek geroep het, U het gesê: “Moenie bang wees nie!” ~ Willem Botha, 03/08/2020

Die eerste plek waar ek iets raaklees in die Bybel oor musiek is in Gen. 4:21. Onder die nageslag van Kain word Jubal genoem as “die stamvader van dié wat op die lier en die fluit speel”. Lyk my dís waar ons kerk-musiek begin het! Sy naam klink nogal na “jubel” – dít wat ons harte wil doen wanneer ons saamsing en die lof van God besing, wanneer ons Sy karaktereienskappe en Sy dade beskryf in ons liedere. Nou ja, vanaf Genesis tot Openbaring vind mens ’n musikale draad -  daar word daar gesing en musiek gemaak met allerlei instrumente by verskeie geleenthede. Toe ek dié musiekdraad so bietjie probeer volg, kom ek af op ’n refrein wat herhaaldelik gesing is en by ’n paar geleenthede groot gevolge gehad het: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”  Mens lees bv. in 2 Kron. 20:21 hoedat dié lied meegewerk het dat die Moabiete en die Ammoniete verslaan is: “Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en die gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk ...” en so bring die aanvallers mekaar om die lewe. Geen ander wapen was nodig as nét die lofsange nie! Toe hulle sing, het die Here namens hulle geveg. Na die bou van die tempel toe die verbondsark in die tempel ingedra is, het die Levitiese sangers gereed gestaan met simbale, harpe en liere en wéér is dié lied gesing: “Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van die trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het ’n wolk die huis van die Here gevul ... dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tempel van God gevul het.” (2 Kron. 5:13-14) Dié refrein kom voor in ’n hele paar van die Psalms, bv. Ps. 100 , 106, 107, 118 en dan ook in elke vers van Ps. 136: “Aan sy liefde is daar geen einde nie!” Miskien is jy vanaand in ’n “oorlog”, dalk staan jy voor ’n moeilike situasie, ’n groot vyand wat jou wil oorweldig. Miskien het jy vanaand die sekerheid nodig van die Here se teenwoordigheid by jou. Maak sommer jou eie wysie op vir hierdie woorde, sing dit, glo dit en ervaar dat die Here jou hart en jou lewe en jou huis kom vul en dat Hy namens jou veg en vir jou oorwinning gee. “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” ~ Wilna Botha, 30/07/2020

Mat. 7:7 "... soek en jy sal vind..."
En dis waar né, maar ongelukkig werk dit net soveel negatief as positief. Ek het onlangs 'n boek gelees (dis eintlik 'n fabel) van 'n jong man wat op soek was na 'n skat, wat hy uiteindelik ontdek het. 'n Wyse ou man het vir hom hierdie woorde gesê oor sy soeke na die skat in sy lewe: "When you want something, all the universe conspires in helping you to achieve it."
Inderdaad, soek en jy sal vind. Maar o wee, soms het ons nie die heelal (en selfs die Here) nodig om daardie skat te kry nie, want kyk, as 'n man 'n ding soek dan soek hy op allerlei maniere tot hy sy sin gekry het. Dan reken hy selfs soms dat dit van die Here af kom. So bykans 39 jaar gelede, pas nadat ek en Wilna getroud is, het ek 'n spesifieke motor met my hele hart begeer. Nou kyk nou hoe werk 'n slim man se kop. Ons ry toe een dag op 'n naweek na my skoonouers toe in Johannesburg en ek sê, as daar 10 van hierdie motors verby ons ry, is dit ons teken dat ons dit moet doen. Bid jou dit aan! En hier kom die "universe" en "conspire" (konkel) saam met my en meer as 10 motors kruis ons pad. En toe ek die volgende dag by die handelaar kom, staan daar 'n motor, bykans splinternuut en boonop die vlagskip van die reeks, en tjoef-tjaf word my droom waar! Of nee, eintlik seker my vreeslike aardse begeerte!
En meneer, as jy 'n nuwe motor soek, kom praat met my, ek ken al die truuks in die boek om by jou vrou verby te kom. Van belasting voordele tot Sandton se slaggate as jy 'n 4x4 soek. Ek en die "universe" help graag.
Maar sê nou maar ons wend daardie selfde energie aan om te streef na heiligheid, en sondeloosheid en 'n dieper verhouding met die Here, wat sal gebeur?
1 Pet. 1:16 Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Hierdie teks spook by my, want ek kry dit nie reg nie. Maar ek weet nou wat die antwoord is, ek moet dieselfde begeerte na heiligheid hê as na aardse goed, dan sal ek dit kry. Dis moeilik.
Jy sien, die Here gaan jou waarskynlik nie daarin dwing nie, en die keuse sal altyd joune bly. Maar soms laat die Here ons gekerm toe en jy kry wat jy nie eintlik moet nie, en dan is daar slegte nagevolge.
Ps. 106: 14-15 (1953 vertaling) "En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ’n maerte gestuur". Sjoe, jy kan vir jouself aflei dat dit sleg moes wees. Ons ken die wil van die Here, die meeste van die tyd, maar die wêreldse goed skree harder as 'n strewe na heiligheid. Karre en goeters raak gedaan, dan begin jy weer voor, maar 'n soeke na die hart van God hou vir altyd. Kom ons begin om daardie skat na te jaag. En God sal dit vir jou gee. ~ Willem Botha, 29/07/2020

Ek geniet deesdae nogal die aanlyn-kerkdienste. Ons sit sommer lekker in die bed en kyk terwyl ons koffie drink of pap eet. Wat ek egter mis in hierdie tye van aanlyn-kerk is die lekker saamsing. Ja, daar is 2 of 3 liedjies in die uitsending, maar dis nie dieselfde as om sáám met almal vrolik te sing nie. En selfs toe die dominee sê: staan op en sing saam, het ek dit nie gedoen nie, want dis net nie dieselfde as om sáám met die gemeente te sing nie. Musiek en sang is nog altyd deel van ons samekomste as gelowiges. Soos Ef. 5:19 sê: “Sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” Dit smee ons saam, dit laat ons uit een mond lof bring, dit verander ons luim, dit help ons fokus op die Here, dit verwoord ons smagting na die Here se aanraking en genade, ens. Geen wonder dat Ps. 22:4 sê dat die Here woon waar sy volk se lofsange weerklink nie. Daar waar ons saam sing, word ons bewus van Sy teenwoordigheid. Ek het bietjie in die Bybel gaan opsoek oor verskillende liedere wat opgeteken is. Daar is natuurlik die Psalms wat lofliedere, dankliedere, klaagliedere, oorlogsliedere, beskermingsliedere ens. insluit, daar is Hooglied wat liefdesliedere tussen twee minnaars is. Dan is daar die menigte engele wat sing om Jesus se geboorte aan te kondig, daar is Paulus en Silas wat in die tronk sing, Jesus en sy dissipels wat ’n danklied sing na die nagmaal, die Israeliete wat oorwinningsliedere sing, die lied van Moses, die lied van Hanna, van Hiskia en Habakuk, asook Maria se loflied en Sagaria se loflied. Daar is nog altyd gesing en musiek gemaak tot eer van die Here, in goeie tye én in swaar tye.  Kom ons hou aan sing, al leef ons in vreemde tye. Kom ons hou aan sing, al voel jy nie lus nie. Kom ons hou aan sing, al sing jy alleen. Kom ons sing want die woorde van die loflied sal jou wel aanraak en jou geloof versterk. Kom ons sing want die musiek sal jou hart aanraak en jou gedagtes vul met dié dinge wat daar bo is. “Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof.” (Ps. 30:13) ~ Wilna Botha, 28/07/2020

Ek het verlede week 'n baie kosbare boodskap gehoor wat 'n vriend vir my gestuur het. Daar word vertel van 'n man wat oor etenstye in 'n parkie gesit het, en hy het dikwels in 'n gesprek betrokke geraak met 'n bedelaar, en dan het hy van sy middagete met die bedelaar gedeel. Eendag het hy besluit dat dit sy Christelike plig is om die gesprek verder te vat en vir die bedelaar gevra waarvoor hy vir hom kan bid. Die bedelaar het gesê dat hy nie gebede nodig het nie, sy behoefte is net om met iemand te gesels, sodat hy meer menswaardig kan voel. Ek hoor van nog 'n verhaal waar iemand in 'n spreekkamer sit en 'n dame oorkant haar saggies sit en huil. Sy het na die dame toe gestap en langs haar gaan sit en haar arm om haar gesit, en die dame het vir haar vertel van haar kommer oor haar gesondheid, en sy het daaroor gesels totdat sy beter gevoel het oor haar situasie.
Twee verhale van persone wat die moeite gedoen het om net 'n oor beskikbaar te stel. Jy kan vir jouself afvra hoekom die bedelaar nie iemand wou hê wat vir hom bid nie, maar net wou gesels. Ek het dit as volg vir myself uitgemaak. Soms moet jy juis nie 'n gebed aanbied nie, maar net 'n oor om te luister. Ek dink om vir iemand te bid, skuif jy die aksie om vir iemand om te gee op die Here af. Dis maklik om te bid, vernaam as jy sommer net 'n paar "gepaste" woorde bid en vir die Here vra om die ander persoon te versterk. Maar om te luister vra baie meer, jy betoon daarmee baie meer liefde en medemenslikheid, en dus baie meer belangstelling. As jy van jou tyd vir iemand gee, gee jy 'n deel van jou lewe, want jy leef maar eintlik vir 'n kort tyd, en tyd is kosbaar. Om dus 'n deel van jou lewe te gee, is om waarlik lief te hê. Hoeveel eensame mense is daar nie, mense wat niemand het om hulle harte by uit te stort nie! Ons is al vir baie lank by gestremde mense betrokke, en hulle grootste begeerte is om net hulle storie met 'n gewillige oor te deel. Ja jy kan en moet vir mense bid, maar soms stoot dit mense selfs bietjie af as hulle negatiewe gedagtes oor Christene het. Just walk across the room. 'n Bietjie van jou tyd is soms meer werd as geld, 'n gewillige oor is soms meer werd as baie raad en praat, en liefde kos heeltemal niks, maar dit maak 'n groot verskil. ~ Willem Botha, 27/07/2020

Boetie gaan border toe - 1984 film
Ek dink vanoggend aan my diensplig dae in die laat '70s. Jy was opgeroep (sonder keuse) en opgelei om as 'n jong onervare man (eintlik nog 'n kind), 'n oorlogsmasjien te word. Die opleiding was bitter streng en by tye baie swaar, maar tussen die swaarkry en ongelooflike dissipline het jy iets geword wat jy nooit kon dink jy sou word nie. Jy is opgelei om oorlog te maak en jy het 'n oorlogsmasjien geword. Ek het vanoggend besef dat ek en jy in die geskiedenis van ons Geestelike lewens opgelei is vir tye soos hierdie waarin ons nou staan. Van kleins af is ek geleer dat die lewe 'n harde ongenaakbare plek kan wees, en dat ons die Here gaan nodig kry wanneer ons dit die minste verwag. Soos nou. Ons het Geestelike dissipline aangeleer, die Woord van die Here is in ons ingedril, ons het geleer van die volk van God wat deur die woestyn moes beur, ons het teksverse leer memoriseer sodat ons dit kon onthou as die tekkie die teer tref. Die Here het ons geleer dat ons in sy arms in kan vlug en by Hom troos soek as dinge te erg raak en ons moes leer dat alles wat sleg is ook vir Christene kan tref.
Maar o wee, omdat daar min rampe op ons pad gekom het, het ons in 'n gemaksone beland en gedink dat die Here vir ons net gladde waters beplan, en dat geen onheil ons sal tref nie. Ons het tekste soos Ps 91 begin gebruik (misbruik?) om ons te beskerm teen moeilike tye, en ons het ons eie weergawes van voorspoed teologie geskep en aangehang, want kinders van God is mos verhewe bo die realiteite van die wêreld. Toe begin ons om die Here te bevraagteken as Hy ander dinge vir ons beplan en as die lewe begin swaar gaan.
Intussen was ons al die jare in opleiding, om reg te wees vir rampe en teëspoed. Maar ons het nie die seile heelgemaak terwyl die waters glad was nie, inteendeel, ons het die seile maar laat skeur want dit gaan tog nooit weer gebruik word nie. Toe kom hierdie ramp, wat eintlik 'n verwoestende oorlog is, en ons word totaal onkant gevang.
Jy sien, in die weermag het ons geleer van "vuur en beweging” (vra jou pa daaroor), waar jy geleer is om in 'n aanval die vyand trompop te loop. Dit was jou beste kans op oorlewing. Daar was geen enkele ding in opleiding waar jy geleer is om weg te hol nie. Niks! Voorts het jy jou "buddies" nodig gehad om te oorleef. Ek en jy kan ook nie nou weghol nie, ons moet hierdie ding met vuur en beweging trompop loop! Hoe? Deur dit saam met die Here aan te pak. Moenie Hom die skuld gee nie, Hou nou vas aan wat Hy jou geleer het in die windstil dae toe jy in opleiding was. Hy het jou geleer van vertroue, vasbyt, moed hou, opkyk na Hom, medemenslikheid, hulp aan ander, om jou trots in jou sak te steek en hulp te vra, om ernstig en sonder ophou te bid, om sy Woord vas te gryp en om daardeur jou opleiding op te skerp. Vir lank in ons lewens is ons voorberei vir tye soos hierdie. Ons is nou op die grens, daar waar daar nie plek is vir sissies nie, dis tyd om dapper te wees, al vrees ons soos nooit tevore nie. Byt vas, ook hierdie oorlog sal verbygaan, moet net om Vadersnaam nie alleen probeer veg nie. Hy is, was en bly God. ~ Willem Botha, 20/07/2020

Vanoggend het ek wakker geword met ’n reël van liedjie in my kop en ek het daai sinnetjie oor en oor gesing deur die dag – hulle noem so liedjie wat jy nie uit jou kop kan kry nie mos ’n oorkruiper! We shall not, we shall not be moved, just like a tree that's standing by the water side, we shall not be moved ... En elke keer as ek dit sing, sê ek vir myself: nóú is die tyd om vas te staan. Vas te staan in vertroue op die Here, vas te staan in geloof, vas te staan op sy woord, vas te staan op sy beloftes. Nóú is die tyd om vas te staan ten spyte van vrees en bekommernis, ten spyte van golwe wat oor ons wil spoel, storms wat dreig om ons te vernietig, winde wat ons probeer ontwortel. “Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan.” (Ps. 125:1) “I have set the LORD always before me: because He is at my right hand, I shall not be moved.” (Ps. 16:8)  Daar is die rede waarom jy nie sal wankel nie: die Here is by jou regterhand – jy kan maar net gryp as dit voel of jy struikel of swik of bewe. In moeilike tye is dit onmoontlik om op jou eie bene te staan! Kom, staan op die Ewige Rots - daar sal jy vas kan staan. Kyk hoe mooi sê Ps. 94:18 dit: “Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here.”
Ek het hierdie weergawe van die liedjie vandag ontdek:
Though all hell assail me, I shall not be moved
Jesus will not fail me, I shall not be moved
Just like the tree that's planted by the water
I shall not be moved
Though the tempest rages, I shall not be moved
On the rock of ages, I shall not be moved
Just like the tree that's planted by the water
I shall not be moved
“Iemand wat die Here vertrou, is soos ’n rots wat jy met geen hyskraan of koevoet kan beweeg nie. Hy staan vas sonder om te beweeg.” (Ps. 125:1, Die Boodskap) We shall not, we shall not be moved ... ~ Wilna Botha, 16/07/2020

Happy place
Ek hou vreeslik baie van die gedagte dat 'n mens 'n sogenaamde "happy-place" moet hê, so 'n plekkie waarheen jy kan ontvlug om net weer jou batterye te laai. 'n Plekkie waar niemand anders welkom is nie (behalwe as jy hulle innooi), en waar jy so bietjie selfsugtig kan wees en 'n tydjie net vir jouself toe-eien. Ek het sulke "plekkies", nie noodwendig 'n vertrek of 'n area in die tuin nie, dis dikwels net in my kop, maar dis baie aangenaam as jy wel so 'n eenkant plek het. Kom ons noem dit sommer 'n ek-plekkie, 'n plek waar jou gedagtes vrye teuels kan kry, soms vrolik maar soms ook waar jy jou hart by die Here kan gaan uitstort as dit swaar gaan.
Jy ken mos die gedeelte waar Marta en Maria vir Jesus aan huis ontvang het en Marta geskarrel het met huistakies, terwyl Maria by Jesus se voete gaan dit het.
Luk. 10:40 - 42 "Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help! Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Maria was by haar ek-plekkie, waar sy 'n bietjie "me-time" geniet het, en Jesus het dit sekerlik net soveel soos Maria geniet. By Jesus se voete vind jy 'n heerlike ek-plekkie waar jy jouself kan laat afwen, tot jy weer krag het vir môre. Jou ek-plekkie hoef nie geestelik van aard te wees nie, dit moet net vir jou tyd gee om van al die geraas wat die wêreld maak, weg te kom, soos in kop skoonmaak. My ek-plekkie sluit natuurlik dikwels my vrou in, wanneer ons die hele wêreld reg probeer filosofeer. Mag daar ook in hierdie dag vir jou 'n ek-plekkie wees waar die sorge van die lewe in die grond in kan wegsyfer. ~ Willem Botha, 15/07/2020

Dit val my nou die dag op toe ’n dominee bid dat hy elke sin van sy gebed met “dankie” begin. Dankie Here, dat ons in U Naam bymekaar kan wees, dankie dat U by ons is, dankie dat ons vrylik mag aanbid, dankie dat U die koning van ons harte is, dankie dat U bloed ons skoongewas het, dankie dat ons in vrede met U kan lewe, dankie vir U liefde en genade ... en so het dit aangegaan. Dit was vir my só ’n “mooi” (as mens dit mag sê) gebed. Ek dink dis presies wat Ef. 5:20 vir ons sê om te doen: “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus” – altyd, oor alles. Kleintjies bid mos gewoonlik ook só: dankie Jesus vir my mamma en pappa, dankie vir my hondjie en my speelgoed, dankie vir my warm bedjie... party van hulle kan nogal ’n lang lys goed opnoem, nè! So, as jy nie weet wát om te bid nie, of as jou woorde opraak, of as jy langer tyd in gebed wil spandeer – begin om dankie te sê. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo, sê  Jak 1:17  - en vir elkeen van hulle verdien God die dank. “... dank aan God pas by julle”, sê  Ef. 5:4. Kla en mor en neul en opstandigheid pas nie by ons nie.  Laat ons nie maak soos die tien melaatses wat iets groot van Jesus ontvang het en nalaat om voor Hom te buig met ons dankie nie. As jy jou dankies begin opnoem, sal jou kommer en besorgdheid waarmee jy na die Here gekom het wegskuif; as jy jou dankies begin opnoem, sal jy sien wat die Here reeds vir jou gedoen het en sal jy die versekering en vrede hê dat Hy dit steeds vir jou doen. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”(Fil. 4:6) ~ Wilna Botha, 14/07/2020

Die Here sal jou beskerm. So sê die Bybel, en dis waar. Maar wat van die dae wat jy net nie jou brein om daardie absolute, vaste vertroue kan kry nie? Daar is 'n paar dinge waarmee ons as mense dikwels sukkel. Vrees, kommer, bang en twyfel is dinge wat nou regtig erg aan ons hakskene kom kou. Nou ongelukkig kry jy mense wat graag vir jou vertel dat hierdie dinge nie by 'n Christen pas nie, en dan gaan ander so ver as om te sê dit kom reguit van die duiwel af en dis sonde. Ek kan ongelukkig (of dalk juis gelukkig), nie met hierdie teologie saamstem nie. Wandel saam met my deur hierdie verskillende, eg menslike emosies. Voordat ek aangaan, wil ek jou vra om jouself jou menslikheid te gun, en soms jou emosies vrye teuels gee om jou deur slegte dinge te laat werk. Ons kyk een vir een na hierdie dinge.
*Bekommernis. Die Here sê pertinent in die Bybel dat jy jou nie moet bekommer nie. Wel, ek kry dit nie reg nie, en net sodra ek dink ek wen dit, lê ek weer in die nag en tob oor goed. Ek vind my egter nogal tuis by Paulus waar hy skryf oor sy swaarkry en ontberinge wat hy moes deurmaak ter wille van die evangelie, en dan sê hy hierdie volgende woorde in 2 Kor. 11:28: "Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes." Paulus was bekommerd omdat hy nie beheer gehad het oor alles nie.
*Vrees. Vrees is anders as bekommernis, dis iets wat om jou hart klem en dit voel of dit jou verswelg. 'n Vriend wat lank werkloos was het gesê: Dit voel of 'n olifant op my sit. Ek het dit ook ervaar toe ons met grofgeskut aangeval was op die grens. Daardie rou vrees wat jy in daardie loopgraaf beleef kan nie in woorde beskryf word nie. As daardie missiel naby jou val bly nie eers jou "dog tags" oor nie. Vra jou pa as jy nie weet wat "dog tags" is nie. Ongelukkig was dit die lot van 'n klompie manne so entjie van ons af. Ek vind my egter nogal tuis by Jesus waar dit oor vrees gaan, waar hy in die tuin van Gethsemane gaan bid het. "Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” (Matt. 26:37- 38) Rou vrees, en ten spyte van sy Godheid kom sy menslikheid hier sterk na vore.
*Twyfel. Volgens baie mense twyfel Christene nie, want dan vertrou jy nie, en dis dan sonde. Ek vind my hier nogal gemaklik in die teenwoordigheid van Tomas, waar hy sê dat hy nie kan glo as hy nie die merke van die spykers in Jesus se hande sien nie. "Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (Matt. 20:27 – 28)
*Bang. Is jy bang vir 'n spook? Kyk, daar op my tannie-hulle se plaas naby Meyerton het my klomp neefs my vrek bang gehad vir die spook van die afkop vrou. En ander rillers. Nou ja toe, kan jy glo dat die dissipels ook in spoke geglo het? Ek vind my nogal tuis by die ouens. " Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” (Matt.14:28 – 28)
Ons gaan tans deur 'n bykans onmenslike situasie en ons menslikheid word tot op die been beproef, maar aanvaar dat dít presies is wat jy is: 'n Mens. Met al die emosies wat daarmee saamgaan en dis normaal, maar bly by die Here. ~ Willem Botha, 13/07/2020

“Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle 'n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!”” (Mark 2:3-5) Hierdie skrifgedeelte raak altyd aan my hart. Vriende wat só baie omgee vir hulle gestremde vriend dat hulle geen moeite ontsien om hom by Jesus uit te kry nie. Ek sien so in my geestesoog die vier ouens wat so draf-stap met die draagbaar waarop hulle vriend is. Hulle is angstig dat hy gehelp word. Hulle wil help dat hy ’n beter lewe het. Hulle kyk nie neer op sy gestremdheid nie, nee, hy is vir hulle ’n gewone mens wat hulp nodig het. Hulle stoot hom nie eenkant toe nie, nee, hulle dra hom, hulle klim op die dak, hulle doen wat ook al nodig is om hom te help. Hulle is nie skaam vir hom nie, hulle los hom nie oor aan sy eie genade nie, nee, hulle ondersteun hom terwyl hy nie die vermoë het om iets vir homself te kan doen nie. Ek weet daar is baie mense wat nodig het dat iemand anders hulle vandag op ’n draagbaar moet oplig en hulle dra – mense met fisiese gebreke, mense met finansiële gebreke, mense met emosionele gebreke. Vandag wil ek vertel van ’n groepie mense wat op ’n draagbaar is en ek wil julle vra of julle nie bereid is om vir ’n entjie saam te dra nie. Dit is ’n groep van so om en by 60 volwasse gestremde persone van Phyllis Robertson Huis in Pretoria. Ons is al vir die afgelope sowat 9 jaar betrokke daar en het só sagte plekkie vir almal. Kyk gerus op hulle webblad www.phyllisrobertsonhome.org.za hoe dit daar lyk en wie daar bly en hoe mooi daar na hulle omgesien word. Soos julle kan dink het hulle groot finansiële uitdagings om die potte aan die kook te hou en is hulle afhanklik van skenkings en ondersteuning van weldoener-draagbaar-draers. As jy dalk vandag ietsie vir hulle wil bydra, SMS die woord “colour” na 40112 en maak só ’n R20 donasie. ~ Wilna Botha

      

Ek dink die laaste keer wat die hele wêreld saam in so slegte situasie was as nou, was tydens die tweede wêreldoorlog. Ek glo dat báie mense nou uit desperaatheid bid vir uitkoms, en ek glo mense bid desperaat oor verskillende behoeftes. As die Here se skakelbord in hierdie tye in menslike terme gewerk het, sou dit iets klink soos:
Please be patient, we are currently experiencing high call volumes, hold for the Operator. En as daar opsies was om by die regte plek uit te kom, sou dit dalk so klink:
Vir hulp as jy self siek is, druk 1
Vir hulp as jou naasbestaandes siek is, druk 2
Vir hulp as jy finansiële probleme ervaar, druk 3
Vir hulp met werksverlies, druk 4
Vir hulp met jou besigheid, druk 5
Vir troos na die afsterwe van 'n geliefde, druk 6
Vir hulp met repatriasie van jou kinders, druk 7
Indien jy wag vir 'n toetsuitslag en jy onder stres verkeer, druk 8
Indien jy intens verlang na jou bejaarde ouers, druk 9
Of hou aan vir die Operateur.
Ek het eendag die volgende stelling gehoor: As jy nêrens meer het om na te vlug as na die Here nie, sal jy besef dis al wat jy nodig het. Vriend, ons moet nou bid soos nog nooit tevore nie, ons moet die Here spreekwoordelik aan sy enkels vasgryp en by Hom smeek vir uitkoms, totdat ons wêreld herstel is. Daar is nêrens anders om te gaan nie, en ek glo meer mense bid nou saam tot die Here as wat mens jou ooit kan indink. Ander gelowe bid sekerlik tot hulle gode, maar ons bid tot die enigste, ware lewende God, en Hy sal eventueel uitkoms gee. As ek nou daardie skakelbord moet bel, sal ek nie weet watter opsie om eerste te kies nie. Ek glo daar is vele mense wat al die opsies sou wou kies. Die enigste raad is: Bid, bid sonder ophou, bid met geloof en bid vir meer as net jouself.
Ek hoop jy gaan verstaan wat ek nou gaan sê: Moenie begin bid voordat jy alles doen wat jy moet doen nie, moenie bid as jy roekeloos raak en die reëls en wette verbreek nie, moenie die Here se guns verwag as jy nie bereid is om met bietjie ongemak saam te leef, ten einde jouself (en ander) te beskerm nie. Bid vir jou gesin, bid vir mediese personeel wat in die gevaarlikste denkbaar situasies werk, bid vir jou huishulp en tuinman wat in 'n oorlaaide taxi sit. Bid ook vir ons regering en mense wat belangrike besluite moet maak. Mag ek iets bely? Ek kritiseer die regering báie meer as wat ek vir hulle bid! Bid vir die ontwikkeling van 'n entstof wat hierdie siekte toestand kan oorwin. Bid vir vasbyt, sodat ons almal heel anderkant kan uitkom. En sê daagliks dankie vir alles wat steeds reg loop. Die Here se skakelbord kan nie oorlaai nie, Goddank. Hy hoor graag van jou. ~ Willem Botha, 08/07/2020

Mens sê dikwels Paulus het dit of dat gesê, Petrus die en daai, Moses, Dawid, Jesaja het sus en so gesê ... ens. Toe iemand nou die dag weer sê: Paulus sê vir ons in Romeine..., toe wonder ek op daai oomblik: is dit Paulus of is dit die Here wat dit vir ons sê? As jy 2 Tim 3:16 saam met my glo, dan is die hele Skrif deur God geïnspireer en dan is alles wat neergeskryf is God wat met ons praat. Dit mag miskien Paulus se brief in sy eie groot-letters-handskrif wees (Gal 6:11), dit mag miskien Dawid se lied wees wat hy gesing het, dit mag miskien Jakobus se leringe of Lukas se vertelling of Jesaja se profesieë wees, maar as dit opgeteken is en saamgevoeg is ’n boek wat ons Bybel noem, dan is dit God se eie woorde. Dan aanvaar ek dit soos ’n kind, dan lees ek dit asof die Here dit vir my persoonlik sê, dan glo ek dit met my hele hart, dan wil ek daarvolgens lewe. Ek wil nie iets lees en dink dis wat Paulus sê nie, nee, ek wil dit lees en dink dis wat die Here sélf vir mý persoonlik sê vir vandag. Ek lees nou die dag dié êrens: “The only place we can find a clear, unmistakable message is in the Word of God, which we call the Bible. True Christianity finds all of its doctrines in the Bible; true Christianity does not deny any part of the Bible; true Christianity does not add anything to the Bible.” Ek weet dis nie noodwendig heeltemal so eenvoudig nie, daar is vrae oor verskillende vertalings, oor watter boeke in die Bybel moes wees en watter nie, ens. maar as mens maar net kyk na al die eeue wat dit voortbestaan, na die feit dat dit die oudste boek is waarvan daar die meeste gedruk, verkoop, gelees is, na die uitwerking daarvan in mense se lewens, na die onvernietigbaarheid daarvan dan weet ek dis God se woord. Dis waar. Dis ewig. “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (Jes. 40:8) “Net so sal dit wat Ek sê, nie weer na My toe terugkom nie. Dit sal vrugte dra, Dit sal alles doen wat Ek besluit het. Dit sal laat gebeur waarvoor Ek dit gestuur het.” (Jes. 55:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 07/07/2020


Bid vir jou vyand.
Hierdie is nog een van daardie bykans onmoontlike opdragte in die Bybel. Iets waarmee ek verlede week gekonfronteer is, en ek die toets jammerlik gedruip het. Het jy dit al probeer? Ek glo ons moet gereeld vir ons regering bid (nee ek sê nie dis my vyand nie) en dis maklik om dit te doen, want jy bid vir wysheid en goeie leierskap, maar dit het nie 'n persoonlike element nie. Ek het selfs vir ons vorige president gebid, en dan maar vir die dinge wat ek nou genoem het, maar ek het definitief nie gebid vir (meer) finansiële voorspoed nie, en vir seker nie vir 'n groter "fire pool" en nog 'n paar beeste nie. Dis maklik om so te bid, maar as dit nader aan jou lyf begin kom raak dit moeilik.
'n Paar jaar gelede het ons verhouding met 'n kliënt op die rotse beland na 'n onnodige en onaangename insident. Dit was een van daardie gevalle wat jy werklik bly is dit het uiteindelik tot 'n einde gekom. Maar ek hou geensins 'n wrok teen die persoon nie en sal definitief nie agter 'n winkelrak induik as ek hom sou raakloop nie. Ek dink ek is groter as dit. Verlede week dink ek aan hom en voel toe sommer opnuut 'n bietjie gebelg oor die spesifieke insident, en daar kom hierdie gedagte: Bid vir hom. Rêrig? Kom dit van die Here af? Is dit dalk my eie gedagtes wat gebore is uit die onaangenaamheid van 'n paar jaar gelede? Ek besluit toe maar dat dit maar net vanself in my kop opgekom het, en ek sê toe so half dikbek vir die Here dat ek nie dink dis nou regtig nodig nie. Maar toe kom die volgende gedagte: Seën hom en bid vir voorspoed. Nee nee Here, U verstaan verkeerd, ons paaie het juis geskei omdat ek dink sy welvaart word totaal oneties "verdien". Maar tog bly die gedagte. En toe probeer ek so onderlangs mompel net om hierdie stem (Stem?) stil te kry. Ek kon nie, ek kon regtig nie uit my hart hierdie gebed met oortuiging bid nie. Ek kan steeds nie.
Toe kom die volgende teks by my op. Jesus word gekruisig en Hy bid vir dié wat Hom onskuldig vermoor, dalk die soldate en Pontius Pilatus, en die volk en almal wat Hom dood wou sien.
Luk. 23:34: “Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!"”
Wel, dis immers Jesus en ek hoef nie myself met Hom te vergelyk nie. Mmm ... toe kom die draaibal toe ek onthou van Stefanus wat doodgegooi word met klippe, net omdat hy getuig het van sy geloof in God. Kyk wat gebeur toe die klippe op hom reën.
Hand. 7:59 -60:  "Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe."
Bid vir jou vyand, ten spyte van, so moeilik as wat dit mag wees, al verstaan jy dit nie en al dink jy nie hy/sy verdien dit nie. Miskien moet ek maar net weer probeer, dalk gee die Here vir my die krag hiervoor.
Vir wie moet jý bid? ~ Willem Botha, 06/07/2020

Dis dag 98! Dit voel vir my asof ons Saterdag sommer die een of ander viering moet hou oor die 100 dae wat agter ons lê. Ons het dit gemaak tot hier toe! Wat begin het as 21 dae, het 100 geword en daar wag dalk nog baie meer ... wie weet.  Miskien het jy dalk verlies gely in hierdie 100 dae – dalk het iemand van jou mense siek geword, dalk kon jou  besigheid nie oorleef nie, dalk het jy jou al doodverlang na jou mense, na ’n lekker kuier of fliek of vakansie. Nogtans hoop ek dat jy, soos ek, op dag 100 sal terugkyk en sê: die Here het my deurgedra tot hier. Ek is lus en sit ’n klip neer, soos Samuel in 1 Sam 7. “Samuel het tussen Mispa en Sen ’n groot klip regop gesit as ’n monumentjie. Hy het die klip Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot so ver het die Here ons gehelp.” (vers 12) Dis wat ek ook sê! Dit was nie aldag maklik nie en die ergste lê dalk nog voor. Maar vir vandag kan ek sê: tot nou toe het die Here ons gehelp. Die Filistyne het opgetrek om teen die Israeliete te kom veg. Toe die Israeliete dit hoor was hulle bang en sê vir Samuel om nie op te hou om die Here te smeek vir hulp nie. (vers 8) Ons lees dat hy ’n offer gebring het en die Here om hulp gesmeek het en dat die Here sy gebed verhoor het. As mens dít lees, dink jy dadelik: dankie tog, die Here sal die Filistyne laat omdraai en keer dat sy volk aangeval word. Maar nee, dis nie só nie! Samuel was nog bésig om te offer, toe kom die Filistyne al nader om aan te val. En ek wonder: maar het die Here dan nie Samuel se gebed verhoor nie, waar is Hy dan nou? Hy was, soos altyd, besig om te werk en om op Sý manier uitkoms en versorging en hulp te verseker. Hy het ’n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars, wat hulle só verwar het dat die Israeliete hulle kon verslaan. Die hulp het toe op ’n ander manier gekom as wat mens sou verwag. Daar wás ’n geveg, daar wás ’n donderstorm, maar die Here het die oorwinning gegee. Nou ja, op dag 100, kan ons, soos op dag 1, dag 50 en tot waar dit ook al gaan aanhou, voortgaan om die Here om hulp te smeek. Hy sal ons gebede verhoor. Hou moed en sit solank ’n klip neer as herinnering dat die Here ons tot hier gehelp het en ons nie nou alleen sal los om te veg en die storms te trotseer nie. ~ Wilna Botha, 02/07/2020


Die huwelik - deel 1
Yes I do...
Till death do us part...
Vir botter en vir wors...
Ai, wat is mooier as 'n mooi bruilof, daardie glinster in almal se oë, die stralende bruid, die bruidegom wat soos een of ander hoenderhaan lyk (blykbaar die eiendom van 'n weird antie met die naam van tant Koek), mense wat vrolik op die dansbaan langarm (wat eintlik meer lyk soos kruiwa stoot), kwajongens wat blikke aan die bruidegom se kar vasmaak en dan die bruid se pa wat platsak uit hierdie affêre opeindig. Terwyl familie kla oor die koue kos! Dit bly darem maar lekker!
Maar ai, volgens amptelike statistiek het hierdie huwelik wat ons hierbo beskryf het, 'n 44.4% kans om binne 10 jaar in die skeihof te eindig. En nee, hierdie boodskap se bedoeling is geensins om iemand skuldig te laat voel oor egskeiding nie. Dis egter SO tragies, en kinders kry SO seer. Maar genoeg hiervan vir nou.
Kom ek begin hierdie kort reeks oor die huwelik met 'n mooi storie (gedeel met permissie). 'n Goeie vriend stuur vandag vir my hierdie foto van hulle troukoek met die mooiste woorde op die koek, die troukoek van Joe en Jo-Ann. Hulle vier hulle huweliksherdenking elke maand op die 30ste (reg gelees, nie net jaarliks nie) en oor twee maande is hulle 40 jaar getroud! Hulle vier dit ELKE maand, en hy vertel dat hy bietjie in die sop was omdat hy nie kon onthou hoe die troukoek gelyk het en wat daarop gestaan het nie. Toe Jo-Ann vir hom die foto wys, het hy besef dat hy self die volgende woorde op die troukoek geskryf het, en dit kom uit Matt. 19:4 "Ons glo dat Hy wat ons gemaak het, ons van die begin af man en vrou gemaak het".
Hierdie huwelik is deur God self, duisende jare voor hulle geboorte, haarfyn beplan, en Hy het dit stukkie vir stukkie aanmekaargesit. So het Hy baie jare gelede vir hulle bymekaar gebring, hulle aan mekaar voorgestel, hulle gelei om deur liefde een te word, en so is hulle getroud. Yes I do, till death do us part... En daarna dit aan hulle oorgelaat om daardie belofte na te kom. En ek kan getuig dat hierdie spesiale vriende daardie belofte tot op die been nakom. Ek glo die Here het op presies dieselfde manier vir my en my vrou bymekaar gebring (nogal deur 'n ongelooflike sameloop van omstandighede), en dit aan ons oorgelaat om hierdie wonderwerk te laat gedy. Ja natuurlik is daar konstante ingrype van Hom, maar die verantwoordelikheid van die belofte wat ons aan Hom gemaak het, lê by ons. Ek glo met my hele hart dat huwelike in die hemel gevorm word, maar ongelukkig soms op die aarde vernietig word. Wat is mooier as twee bejaardes wat steeds met marshmallow oë diep in mekaar so oë kan kyk, op die bank kan sit en hande hou, en die oompie wat steeds vir sy vrou die motor se deur kan oopmaak (dalk met 'n kierie in die hand), en haar, soos 'n ware heer, met respek behandel? Dít my vriend, is die Here se bedoeling vir die huwelik. Geseënd is diegene wat dit kan ervaar. ~ Willem Botha

“Here, stel ’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” (Ps. 141:3) Daar is só baie kere wat ek iets sê waaroor ek later (of dadelik) spyt is. En dis mos onmoontlik om dit wat gesê is terug te trek en uit te vee in die ander een se kop. Ons weet almal watse impak ons woorde (ja, ook die liggaamstaal en stemtoon wat daarmee saamgaan) kan maak. Daarom wil ek hierdie aanhaling ter harte neem: “Always keep our words soft and sweet, just in case we have to eat them.” So paar weke gelede lees ek dié onderaan my dagboekbladsy: “Before you speak THINK. T - is it true? H – is it helpful? I – is it inspiring? N – is it necessary? K – is it kind?” Ek besef daai oomblik net voor ek praat, daai oomblik wat ek my asem intrek om my sê te sê, kan gebruik word om te bid: Here, bewaar die deur van my lippe, om te dink: is wat ek gaan sê waar, sag, goed, opbouend, noodsaaklik en positief? Die Bybel sê : “’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie.” (Spr. 12:18-19, Die Boodskap) Nou deesdae gebeur baie van ons praat deur die geskrewe woord – e-pos, WhatsApp’s, Facebook ens. As ek sommige kommentare op Facebook lees, wonder ek dikwels: mens, het jy nie gedink voor jy getik het nie! Ek krimp ineen as ek sien hoe mense mekaar in die openbaar verkleineer, slegsê, afbreek, veroordeel en uitvloek. Die geskrewe woord moet eintlik nóg mooier oordink word, want hy sit oop en bloot daar. Hy kan weer en weer gelees word, ge-screenshot word, aangestuur word en oor en oor herleef. Pas maar liewer die THINK-beginsel toe en dink twee keer voor jy skryf. Keep your words soft and sweet ... ~ Wilna Botha, 30/06/2020

Ek wonder hoe dit moes wees toe die Israeliete uiteindelik in Kanaän aangekom het na veertig jaar in die woestyn? Dit moes 'n onbeskryflike moment gewees het. Ek het al vertel dat ons jare terug die Visrivier staproete gestap het, en die aankoms by die Ai Ai's kan nie maklik beskryf word nie. Na baie kilometers en vele ontberinge het ons uiteindelik aangekom, hoewel dit net vyf dae was. Dit was 'n moeilike pad. Die einde van die woestynpad vir die Israeliete, na soveel jare en ontberinge, moes fantasties wees. Dalk het die Israeliete dikwels vir mekaar gesê: Daar kom 'n dag... En toe breek dit aan.
So kom daar ook vir ons 'n dag wat hierdie woestynpad waarin ons onsself tans bevind, tot 'n einde sal kom. Daar kom 'n dag wat daar verklaar gaan word dat hierdie virus wêreldwyd oorwin is, daar kom 'n dag wat jy nie meer daardie woord oor die nuus gaan hoor nie. Daar kom 'n dag wat die laaste tydelike hospitaal sal sluit en daar 'n entstof gaan wees wat die siekte sal laat wyk. Daar kom 'n dag wat al die ongemaklike maatreëls wat ingestel is, opgehef gaan word. Daar kom 'n dag wat die laaste pasiënt a.g.v. hierdie virus sal afsterf, en daar kom 'n dag wat die meeste mense weer sal werk hê en besighede deur hierdie moeilike tyd sal opstaan en oorleef.
Op daardie dag sal ons weet dat die letsels wat vir ewig sigbaar sal wees, wel sal genees. As ek na my regterhand kyk sien ek so 'n letsel wat gekom het na 'n geveg met 'n hoekslyper (angle grinder) wat ek jammerlik verloor het, maar die Here het dit genees. So sal ons met daardie letsels saamleef en besef dat ons gewond is, maar nie oorwin is nie, en ons sal geliefdes wat dit nie gemaak het nie, onthou met hartseer, maar ons sal ook daarmee kan saamleef.
Dan sal die tyd kom wat ons sal terugdink aan hoe die Here ons bewaar het, en ons sal aan ons kinders se kinders vertel van die Here se goedheid, ons sal vertel dat ons Sy hand dag vir dag gesien het toe ons moedeloos was, en ons sal Hom dank vir die goeie wat hieruit gekom het. Ons sal terugkyk en die twee rye spore sien toe Hy langs ons gestap het, maar wat verander het na een ry spore toe Hy ons gedra het. Ons sal besef dat Hy steeds in beheer was, elke enkele dag, en dat Hy ons meer beskerm het ín moeilike tye, as téén moeilike tye. Daar kom 'n dag dat ons selfs sal sê dat Hy meer goed as sleg laat gebeur het, en ons sal getuig van sy wonderwerke in hierdie tyd. Daar kom 'n dag wat ons sal besef dat ons so bietjie van 'n onregverdige voorsprong gehad het teenoor die ongelowiges, nie omdat minder dinge ons getref het nie, maar omdat ons dit makliker kon verduur saam met Hom.
Daar sal 'n dag kom wat hierdie volgende teks se volle bedoeling tot ons sal deurdring.
Ps. 78:1-4 "'n Gedig van Asaf. Luister na wat ek jou leer, my volk, luister aandagtig na wat ek sê. Ek gaan 'n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het." ~ Willem Botha, 29/06/2020

Step out of the traffic! Take a long loving look at Me, your High God, above politics, above everything.”(Ps. 46:9, The Message Bible) Bedaar en erken dat Ek God is. Wees stil en weet ... Dis presies wat ek probeer doen het met die afgelope paar maande se oordink van wie God is, besin oor sy karakter, lees oor die name wat Hy in die Bybel genoem word. “Ek is ...” het Hy vir Moses gesê, maar vir myself wou ek vra: wie is God vir mý persoonlik. Ek wou “bedaar” en die verkeer in my kop bietjie tot stilstand laat kom (ja, lockdown het gehelp!) sodat ek kan herken en erken wie God is en wat Hy in my eie lewe doen. As mens fokus op wie Hy is, spoel dit uit in ’n gesindheidsverandering, lewensverandering, prioriteitsverandering. Dit gee jou sekerheid, dit gee geloof, dit gee ’n loflied, dit gee vertroue, dit gee nuwe liefde. As ek nou terugkyk na die notas wat ek daaroor geskryf het, sien ek sekere tye waarin spesifieke eienskappe van God vir my uitgestaan het en vir daai tydperk betekenisvol was. Hier is ’n enkeles:

* “The Lord is my portion” -  aan die einde van verlede jaar toe ek met die terugkyk oor die jaar só geseënd en bederf gevoel het, het ek  geweet die Here het vir my ’n mooi deel afgemeet.
* Immanuel, God is by ons – ons kon die nuwe jaar onverskrokke ingaan want ek het geweet die Here gaan saam die jaar in.
* Hy is ons vrede en gee rus - toe die Nuwejaarsvoornemens begin taan en die gejaag na wind maar weer voortgaan het God se vrede wat alle verstand te bowe gaan nuwe betekenis gekry
* Hy is my rots, my skuilplek, my redder, my God, my skild, my sterk verlosser, my veilige vesting - voordat ons nog eers geweet het watter ongewone tye op ons wag verseker Hy my dat Hy in alle omstandighede ’n wegkruipplek sal wees.
* Die Here is my banier -  en ek skryf: “Dit gee aan ons die sekerheid  van Sy teenwoordigheid in alles wat ons doen, die versekering van Sy beskerming, die vrymoedigheid om uitdagings aan te durf, die gemoedsrus dat ons in elke situasie as oorwinnaars sal seëvier.”
* Die Hoeksteen - Wie hou jou regop as alles rondom jou verkrummel, wie gee rigting as die lewenspad se kronkels te veel word, wie bepaal die sin en waarde van jou lewe, wie keer dat alles wat jy gebou het nutteloos inmekaar val, wie verleen dieper betekenis aan jou geloof? Daar is net een antwoord: Jesus, die Hoeksteen.
* The Lord is the source and sustainer of everything – ek het myself afgevra: is Hy genoeg vir jou as jy jou werk verloor het? Is Hy genoeg as jy by ’n geliefde se graf staan? Is Hy genoeg as jy slegte nuus in die dokter se spreekkamer gekry het? Is Hy genoeg as ’n onsienlike virus jou lewe omkrap en die ekonomie afwaarts spiraal? Is Hy genoeg as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie...?
* God is ryk in goedheid – ek het vir myself dié herinnering neergeskryf: mag jy aanhou glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk en dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer jy sal terugkyk na vandag en sê: waarlik, God is goed.
* Die Here is my helper – op die vooraand van die inperkingstyd skryf ek: Wie anders as ons Helper gaan vir ons vrede en rus gee, gaan ons troos en lei, gaan ons optel en in sy arms troetel, gaan ons vul met hoop en moed en ons verseker dat ook hierdie onseker tye wel gaan eindig? Ek hou steeds hieraan vas.
* Hy is ’n skaduwee teen die hitte – ek kan myself bemoedig hiermee: wanneer die hitte van die alledaagse stryd té veel raak, wanneer dit voel of jy nie verder kan beur nie, is jou Skaduwee daar vir jou, is daar vir jou ’n veilige rusplek by die Here – daar waar Sy hand vir jou ’n koel skaduwee sal gee, waar jou gemoed sal kalmeer en jou gedagtes verfris  sal word.
* Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid – niks is seker nie en ons lewe kan in ’n oogwink verander. Dit het ons met die koms van Corona vinnig besef en daar in die begin van die eerste 21 dae inperking skryf ek die volgende: In my gemoed en gedagtes is daar vandag egter één stabiele en seker feit en dit is dat die Here saam met ons is, dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is – sien Hóm raak as die Onveranderlike binne al ons onsekerheid.
* Die Pottebakker - Ons Pottebakker is besig om iets mooi en bruikbaar met Sy hande te vorm. Hy sal nie sy werk halfpad laat staan of opgee daarmee nie, nee, wat Hy begin het sal Hy end-uit voer. Die Pottebakker weet wat Hy doen en daarom kan ek dit rustig aanvaar en gaan ek nie sy werk bevraagteken nie.
* Die Here is ... ondeurgrondelik, onnaspeurlik, onbegryplik, onverstaanbaar, onverklaarbaar – hier is wat ek vir myself uitgemaak het: die Here ís besig in my lewe en in die wêreld, al sien ek niks gebeur nie; ek ís kosbaar vir die Here en Hy sal alles ten goede laat uitwerk; die Here se tydsberekening ís perfek, al voel dit of sy uitkoms of hulp te laat gaan wees; ek kan nie (en wil nie) ’n geveg met die Here opsit nie, want soos Job, sal ek nie opgewasse wees nie; ek bely dat my krag lê in oorgawe aan dié Een wat alles in sy hand hou, in stil wees en vertroue hê in Sy almag en soewereiniteit. 
*  Die Here is my Bewaarder – Hy behoed my, sê  die ouer vertalings. “You cover my head”, in ’n Engelse vertaling. Cover my head, vra ek van die Here, sodat ek wat ook al na ons kant toe kom, kan hanteer. ~ Wilna Botha, 25/06/2020

As jy dalk lus is om al die stukkies te lees, kan jy hierdie skakel volg: Wie is God vir jou?
 
Mat. 25:14-15 “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toe vertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan." 'n Baie bekende gelykenis.
Ek is oortuig daarvan dat jy weet wie Nick Vujicic is. Dis 'n man wat sonder arms en bene leef. Hy is gebore met totaal misvormde ledemate, maar kan regop staan met dít waarmee hy wel in die lewe gekom het. Nick is getroud en het vier kinders, en hy is voltyds 'n evangelis, wat, ten spyte van sy gebrek, meer bereik het as wat ek kan droom. So het ek ook 'n vriend wat liggaamlik gestrem is, en baie moeilik praat, soveel dat baie min mense hom kan verstaan. Vanoggend het ek en hy met mekaar gepraat met gestrewe boodskappe, en ons kom toe by talente uit, en ons opdrag om dit te gebruik.
Nou, voor ons daar kom, noem ek vir jou 'n paar dinge oor jouself. Tensy jy een of ander gestremdheid het, het jy 'n rekenaar ingebou met 'n onversadigbare stoor spasie (jou brein) wat slimmer is as enige mensgemaakte rekenaar, en is boonop verstommend vinnig. Jy het 'n kompressor in jou ingebou (jou longe), jy is toegerus met filters om skadelike goed uit jou liggaam te verwyder (lewer en niere) jy het robot meganismes (arms en bene) wat die wonderlikste dinge kan doen, jy het 'n pomp in jou ingebou om bloed te laat sirkuleer (jou hart) en jy is oorgetrek met 'n waterdigte bedekking. Jy het ook 'n ingeboude Anti-virus sisteem wat by verre die meeste skadelike goed kan oorwin. Ingeboude kameras, sensors wat klank opvang, en 'n luide mikrofoon en luidspreker wat ek soms misbruik. Ag so kan ek aangaan vir ure. Jou hart klop egter onwillekeurig, jou longe haal asem en jou brein werk baie hard, alles onwillekeurig. Terug na my gestremde vriend en Nick Vujicic en miljoene gestremdes oor die wêreld. Almal is nie toegerus met al hierdie goed soos die meeste mense nie, maar ek het gesien dat vele van hierdie mense hulle talente optimaal gebruik. Kyk, jy kan dalk goed skaak speel, maar ek vermoed dat jy op jou neus gaan kyk as jy met hierdie maat van my slaags raak. En dan het die Here vir hom iets in die plek van spraak gegee. As hy dinge skryf (geestelik of sekulêr), wíl jy dit lees. Ongelooflik treffend wat hy uit 'n pen kan laat vloei. Al wat hy gebruik is dít waarmee hy wel toegerus is, en hy gebruik dit. Wat is jou verskoning om nié jou talente optimaal te gebruik nie? Myne is luiheid, en so tikkie vrees, en onsekerheid in myself. Nee, dit wat die Here vir jou gee, is al wat jy nodig het, of dit een of twee of vyf talente is. Jou organe wat onwillekeurig aan die werk bly om jou te laat lewe, is die Here se verantwoordelikheid. Om die res te gebruik vir dít waarvoor jy en ek bestem is, is ons eie verantwoordelikheid. So, uit dankbaarheid vir alles wat die Here vir ons gegee het, kan ons dit gerus nuttig aanwend. Go tell someone... ~ Willem Botha, 24/06/2020

Dit was vir my so ’n wonderlike ontdekking toe ek agterkom dat baie van die Bybeltekste wat iets sê oor wie God is, ’n tweede gedeelte het wat begin met “daarom sal ek ...” Om te fokus op wie God is, verander my manier van dink en optree. As ek besef wie aan my kant is, wie my hand vashou, wie my beskerm, wie my help, oplig, deurdra, troos, wie my red en regop hou, dán kan ek Hom mos vertrou met alles in my. Dán sal my mosterdsaad geloof uit sy nate bars. Dán sal ek seker wees van Sy liefde en genade. Dán sal my geloof oorgaan in dade.
Hier is ’n paar voorbeelde:
Die Here is my Lig en Redder – daarom sal ek nie bang wees nie (Ps. 27:1)
Die Here is my Toevlug – daarom sal ek niemand vrees nie (Ps. 27:1)
Die Here is my Herder – daarom sal ek niks kortkom nie (Ps. 23:1)
Die Here is my Sterkte en my Beskermer – daarom sal ek op Hom vertrou (Ps. 28:6)
Die Here is my Helper – daarom is ek bly (Ps. 28:7)
Die Here is my Helper – ek ken geen vrees nie (Heb. 13:6)
Die Here is my lewe – daarom hoop ek op Hom (Klaagl. 3:24)
Die Here is altyd by my – daarom sal ek nie struikel nie, daarom is ek bly en juig ek en voel ek veilig (Ps. 16:8-9)
Die Here is my Trooster – daarom sal ek sing (Ps. 30:12-13)
Omdat God is wie Hy is, maak dit my wie ek is. Omdat God is wie Hy is, kan ek Hom met vertroue volg en dien. ~ Wilna Botha, 23/06/202

Daar is geen God nie. Of is daar? Of sê nou maar daar is nie net een ware God nie? Of nog verder, is God, of 'n god, nie maar net 'n versinsel van die mens se brein nie? Dalk is die mens, elke mens, maar net op soek na iets groter as hyself, om aan te kleef in benoude tye. Miskien voel die mens in homself minderwaardig oor sy eie tekortkominge, en soek dan iets om as 'n kruk te gebruik omdat hy ontoereikend voel. Wie is God/god vir jou? 'n Lewende, liefdevolle God? Of dalk iemand wat kwalifiseer vir hierdie posisie, maar vêr is en van jou vergeet het? En dan die moeilike vraag: hoekom verdien my God dan 'n meer gesaghebbende posisie as iemand anders se god? Die mens soek, elke enkele mens is soekend, en almal kry iets wat vir hulle werk. Sommige glo blindelings, ander word deur hulle kultuur voorgeskryf, sommige glo so aan hulle God dat hulle selfs beweer dat hulle in 'n verhouding met Hom staan. En dan kry jy dié wie 'n god vind in ateïsme. Jy lees reg, vir party is ateïsme 'n god. Hoekom sê ek so? Geen ateïs kan regtig sê hy glo nie in God nie, want ongeloof as sulks maak 100% staat op geloof. Soos iemand tereg gesê het: You believe in the non-existence of God. Ongeloof, en selfs twyfel, is 'n evangelie op sy eie. Paulus stap in Athene se strate en kom op 'n baie interessante ding af.
Hand. 17:22-23 "Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god.’ “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle."'
Die Atheners het selfs 'n altaar gaan oprig vir hierdie honger wat hulle in hulle wese ervaar het, en noem dit 'n onbekende God, en Paulus sê dat hy vir hulle gaan vertel wie hierdie onbekende God werklik is. Jy sien, die soeke was daar, en die drang om hierdie God aan mense te openbaar wat hierdie geestelike honger in hulle kon bevredig, was Paulus se opdrag. Myne en joune ook. Jy self oortuig niemand nie, net die Heilige Gees doen dit, en soms worstel jy baie lank met 'n persoon voor die deurbraak kom, maar jou werk is net gétuig, nie óórtuig nie. Ek het vele mense voor my oë tot bekering sien kom, en dit oortuig my dat daar net één ware God is. En wat dan van die ander? Is ander gelowe se god nie maar dieselfde God nie? Wel, daar is 'n eenvoudige toets. As daardie ander god nie 'n Seun het met die naam Jesus Christus nie, is dit geen God nie. God die Vader, se "bestaan" is voorts nié afhanklik van mense se geloof in Hom nie. Hy leef, of mense dit glo of nie, Hy is lief vir jou, of jy dit glo of nie. Hy is die enigste ware God, of jy dit glo of nie.
Ps. 14:1a "Vir die koorleier. Van Dawid. Die dwaas dink daar is geen God nie."
Almal soek, maar as jy Hom eers gesien het, kan jy Hom nie miskyk nie.
Jes. 45:5 "Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie." ~ Willem Botha, 22/06/2020

Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat begin het by Eks 3:13. Ons lees daar dat Moses by die brandende doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle wil weet wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Ek 3:14) “Ek is ...”. Hy is alles waaraan jy kan dink, alles wat jy nodig het, alles wat sin maak, Hy is alles! “Daarom groot is U Here my God! Daar is niemand soos U nie.” (2 Sam 7:22) Ek gebruik graag dié woorde van ’n liedjie van Julius Magan om te sê wie die Here vir my is: “You are my hero. You are the poster on my heart, the picture in my mind, the song that I will sing, You are my hero, my everything! You are my morning and you are my night. You are my tears and my delight. You are my twirl, my twist, my turn. You are my wow, in my heart You burn. You are the one I long for most. You are my pride, You are my boast. You are my father and my best friend. You are my hero till the end.” ~ Wilna Botha, 18/06/2020

Pred. 7:14 "Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie."
Sjoe, hierdie laaste woorde is 'n mondvol: "sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie." Sê nou maar jy het in Januarie geweet wat vir jou voorlê hierdie jaar, wat sou jy anders gedoen het? Ek het diep gaan nadink en ek kan werklik nie aan iets dink nie. Sou ek harder gewerk het? Sou ek meer geld weggesit het? Sou ek getrek het na 'n ander plek toe? Nee inderdaad nie, ek sou net eenvoudig niks anders kon doen nie. Ons is in hierdie lewe maar eenvoudig 'n "sitting duck", en ons het min beheer oor dinge wat in die lewe gebeur. Sou jy wou weet wat voorlê? Nee, dis sinneloos, want baie moontlik gaan soortgelyke slegte dinge jou weer in jou lewe tref. Lees nou weer die teks hierbo, dan sien jy dat God in beheer is van die goeie en die slegte tye. Daar staan onder andere: "... soos die een het God ook die ander gegee".
Ek het net besef, die lewe mag dalk verander, maar die Here verander nie. Hy bly dieselfde, gister, vandag en more, in goeie en slegte dae, deur vreugde tye en hartseer tye, in voorspoed en teëspoed. En altyddeur bly Hy God, 'n betroubare en liefdevolle God. Steeds God wat help en omgee, steeds die Koning in beheer. Life happens. Maar wat is nou die definisie van voorspoed en teëspoed? Soos ek hier sit voel ek uiters voorspoedig, hoewel ek finansieel dinge moes prysgee, en my toekomsplanne ordentlik deurmekaar gekrap is, maar ons is gesond en daar is liefde in ons lewens. Miskien, net miskien, is die huidige teëspoed die rede vir toekomstige voorspoed. Wie sal weet?
Maar, as ek hierdie teks lees en sien dat die Here sê dat Hy die een nes die ander gee, voel ek veilig, en voel ek dat Hy stewig in beheer is van alles. Daarom sal ek my ook verheug in hierdie tyd, want Hy het niks verander nie. ~ Willem Botha, 18/06/2020

“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) Genadige God. Vól genade. In Hom en by Hom is oorvloedige genade, genóég genade vir my en jou. Ons probeer dit besing met “amazing grace...”, “genade onbeskryflik groot..”, “outrageous grace...”, maar ons woorde skiet te kort wanneer ons dit probeer beskryf. In die eerste plek is God se genade ’n reddende genade – Hy gee dit verniet aan ons, sonder dat ons dit verdien want Sy Seun, Jesus, het dit vír ons betaal. Dis genade wat vergeet en vergewe, wat silwerskoon was, wat oortredinge wegvat, so vêr soos die ooste van die weste af is; dis genade wat die poort van die Hemel oopsluit. Dis genade wat herstel, wat nuut maak en weer van voor af begin. Dis genade vir almal. Dis genade wat jou vêr en diep kom haal en teruglei. Dis genade wat nuwe hoop gee. Dis genade vir elke dag se stryd en probleme. Dis genade wat hulp en krag gee vir dit wat ons nie in staat is om op ons eie te doen nie, dis God se guns en seën vir dié wat biddend daarvoor vra. Kom met ’n oop hart en ontvang ’n nuwe porsie van Sy genade - “Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!” (1 Pet. 1:2) ~ Wilna Botha, 16/06/2020

Doodstraf
Hierdie boodskap gaan nie vir jou lekker wees om te lees nie, en dis ook nie vir my lekker om dit te skryf nie, en ek het al vir 'n paar dae gewroeg hieroor. Jy gaan 'n paar ontstellende dinge lees, en los liewer as jy voel dis onnodig om dit te lees. Die uiteinde van die boodskap lei na Jesus se kruisiging toe.
My vraag is: is jy ten gunste van die doodstraf? As jy vir my dit vra sal ek waarskynlik sê ek is, dit hang net af van wat ek op die nuus gehoor het die dag. 'n Klomp jare gelede ontmoet ek 'n man op 'n mannekamp en ons praat oor die werk wat ons doen. Hy sê toe dat hy weens gesondheidsredes op vroeë pensioen gegaan het, nie liggaamlike gesondheid nie, maar a.g.v. sy geestesgesondheid. Hy was in die gevangeniswese en het by die galg gewerk. Hulle moes 'n persoon gereedmaak vir die galg en hy was by met die teregstellings. Hy het vertel wat die voorbereiding behels het. Hulle het die mus oor die persoon se kop getrek, en die galgtou om die nek getrek, en dit wat afgespeel het, het gewissel van mense wat met 'n bonatuurlike kalmte deur die proses is, tot histeriese mense wat letterlik baklei het tot die dood toe (by wyse van spreke). Met die voorbereiding van die dames was daar addisionele dinge gedoen sodat sy ten minste met 'n mate van waardigheid haar dood tegemoet gegaan het. Wanneer alles gereed was, het die laksman (wat 'n aaklige woord) ingestap en met een beweging, sonder om spoed te verloor, die meganisme geaktiveer wat die valdeur laat oopmaak het onder die veroordeelde, en net verder uitgestap. Volgens die vriend het die laksman nie 'n oomblik op die toneel gehuiwer nie. Alles was binne 'n breukdeel van 'n sekonde verby. Daarna moes hierdie persone die liggaam laat sak en dan het 'n ritueel gevolg wat ek liefs nie hier wil noem nie, dis iets wat ek nie wil aanskou nie. Die veroordeelde het self, lewendig, daar ingestap, en is dood daar uitgedra.  Die vriend (hy is reeds oorlede) het gesê dat sy werk sy lewe totaal verwoes het, en ek kan dit goed glo. In elke land ter wêreld waar die doodstraf toegepas is, was onskuldige mense al tereggestel. Sake wat later deur nuwe tegnologie soos DNA opgelos is om die afgestorwe persoon se onskuld te bewys, het gewys dat daar 'n wrede fout ingesluip het.
Nou vra ek vir myself die vraag af: indien ek dan 'n voorstaander is, sou ek hierdie werk wou doen? Wat sê jy? Of sou jy die laksman wou wees? En nog meer, indien jou kind, of pa of ma skuldig bevind word aan 'n misdaad, sou jy steeds ten gunste van dit wees? En sou jy selfs die laksman kon wees? Hier is 'n harde vraag: sou jy kon bystaan as jou geliefde op hierdie uiters onwaardige manier sterf? Ek vra hierdie wrede vraag omdat ek wil hê dat jy moet dink aan Maria, die moeder van Jesus. Sy het bygestaan toe haar Seun onskuldig die doodstraf gekry het en aan daardie kruis gesterf het, nogal oorgelewer deur Pontius Pilatus wat self erken het dat hy geen skuld in Jesus kon vind nie! Maar die papbroek was bang vir die mense! So staan Maria en kyk hoe haar Seun sterf, sy wat so 33 jaar tevore gesê het: "Ek is tot beskikking van die Here". Die kruisdood was een van die wreedste maniere om iemand tereg te stel, gaan Google dit gerus. So sterf Jesus, onskuldig, sodat ek en jy kan lewe. Hoekom het God dit gedoen? Nee, nie toegelaat nie, gedoen! Is dit 'n God van liefde? Inderdaad.
Joh. 3:16 "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."
Die ongelowige wroeg met hierdie teks, en ek wroeg saam. God het nie genade met Sy Seun gehad nie, juis omdat Hy genade met ons het. God van liefde? Ja, so lief vir my en jou, dat Hy die ondenkbare gedoen het. Dis bo my begrip. Oordink hierdie hele proses, en besef hoe duur jou en my redding is. Ek gaan soms so roekeloos hiermee om, mag die Here my vergewe. ~ Willem Botha, 15/06/2020

“Who is like You – majestic in holiness...” (Ex 15:11) Dit voel vir my nogal as mens sê die Here is heilig, dat dit so ’n oorkoepelende, oorheersende karaktereienskap van Hom is, dat dit iets is wat ons met ons gevoel en woorde nie genoegsaam kan omskryf nie. Die Bybel praat dikwels van “die Heilige”  (sien bv. Jes. 57:15 - “Hy wie se Naam die Heilige is.”) Dís ons God: dié Heilige, anders as enige iets, hoër, groter, beter as enige iets of iemand, volmaak, perfek, suiwer, uitsonderlik, verhewe, “a cut above everything else”, heilig, heilig, heilig. En tog ... buig die Heilige af na ons, stort Hy sy liefde op ons uit, gee Hy sy genade vrylik aan ons, was Hy ons skoon, raak Hy ons aan en sê: wees heilig.  Dinge word heilig op grond van hulle verbintenis met God. So lees ons bv. van heilige grond, heilige Sabbat, heilige tempel, ens. Waar God is, is alles heilig. Sy heiligheid syfer deur alles wat deur Hom aangeraak word – ja, deur ons ook. “Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.”(Rom 6:22) ~ Wilna Botha, 11/06/2020

Ek het al vertel van die kwaai dominee wat my aanneming behartig het. Ek het vertel hoe hy die Beatles gehaat het en dat ek nie gehoor het van Jesus se liefde nie. Ek het ook al vertel dat ek die Here as kind leer ken het as 'n onverbiddelike God wat nie sou skroom om my onder sy voetsool plat te trap nie. Die kerk was vir my 'n verskrikking, en ek glo vir baie ander mense ook. Ek het vandag so staan en dink hieraan en gewonder hoekom ek dan by die kerk en by die Here gebly het. Is dit omdat prediking vernuwe het? Is dit omdat ek geestelik volwasse geraak het? Dalk omdat daar "anders" gespreek is in later jare? Of dalk omdat leraars sag begin raak (en preek) het? Daar is nie een klinkklare rede nie. Maar dit weet ek, deur die werking van die Heilige Gees het dinge verander, en daardie fondasie wat ek as kind gehad het was steeds goed, want die Here se werke word nie tot niet gemaak deur sulke dinge nie. Ja, vele mense gebruik dit as 'n verskoning om weg te draai van die Here af, maar dis net 'n verskoning. Ek verstaan nie hoekom die Here nie elke mens met 'n ystervuis in sy spore stuit nie, maar ek sien hoe die Here mense aanraak op bonatuurlike maniere. Ek is dankbaar dat die Here se weë nie afhanklik is van mense se doen en late nie, en ek is dankbaar dat ek Hom kan ken, en Hy aktief besig is in my lewe. Dis net genade. So eenvoudig soos dit. Diegene wat Hom wil sien sal Hom sien, diegene wat Hom wil vind sal Hom vind. Hy wag geduldig vir almal, sy arms is oop, sy hart is sag en sy genade is groot. In teenstelling met wat ek as kind geglo het, kan ek op sy skoot klouter soos 'n kind en sy liefkosing geniet. Hy is wie en wat die Woord sê Hy is. ~ Willem Botha, 10/06/2020

Jesus is ... die Begin en Voleinder van die geloof. (Heb. 12:2) Author and Perfecter of our faith, sê  dit in ’n Engelse vertaling. Hy is die oorsprong en rede vir ons geloof.  Hy het dit uitgedink en geskep en deur Sy Gees in ons harte geplaas. Wie Jesus ís en wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, is die inhoud van ons geloof en met Sy bloed is dit in ons harte ingeskryf. Wie Hy ís dwing eerbied, respek en vertroue af. Ons glo Hom. Ons glo wat Hy sê. Ons glo wat Hy belowe. Ons glo ín Hom.  Al weet ons dit alles wel baie goed en al is daar tydperke waar mens voel jou geloof is sterk en op ’n hoogtepunt, kom daar tog wel tye van twyfel. Lang tye wat ons geloof swak voel, waar ons geestelike krag uitgeput raak, waar ons voel of ons vertroue opgeraak het. Hoe gerusstellend om in sulke tye te weet dat die Here ook die Voleinder en Onderhouer van ons geloof is. Daar bly altyd ’n vlammetjie oor wat Hy weer deur Sy Gees sal aanblaas tot ’n geloofsvuur. Mens kan as’t ware sê dat ware geloof nie weggevat of heeltemal uitgedoof kan word nie. “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fil. 1:6)  - dit geld ook vir ons geloof. “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.” (Mark 9:24) ~ Wilna Botha, 09/06/2020

Ek praat vanoggend met 'n man met wie ek wie weet wanneer laas gepraat het, en ek kan nie eers onthou wanneer laas ek hom gesien het nie. Hierdie man het my in 1988 raak geleef, en hoewel ons nooit huisvriende was nie, of regtig veel met mekaar te doen gehad het nie, het hy my op 'n manier ongelooflik positief beïnvloed. Daar is baie sulke mense wat jou so raak leef. Ek kan nie regtig so 'n persoon in 'n boksie inpas en sê hulle is sus of so nie. Daar is 'n klompie kwaliteite wat ek seer sekerlik sou kon verbind aan so iemand, soos eerlikheid, integriteit, opregtheid, respek, vriendelikheid en vele ander karaktereienskappe, maar dis meer as dit. Ek kan ook nie eintlik sê dis omdat so iemand hierdie wonderlike Christen is nie, want ongelukkig is dit nie altyd van toepassing nie. Daar is maar net eenvoudig mense wat jou so raak leef, dat daar 'n gat in jou menswees sou wees as hulle jou nie getref het nie. En as daardie mense tot sterwe kom, is hulle invloed steeds ewigdurend. Ek besoek 'n paar jaar gelede 'n kardioloog vir 'n ondersoek, en daai man leef my in 'n halfuur raak op 'n wonderlike manier en ek sal hom nooit vergeet nie. My wiskunde onderwyseres (ons het haar Tannie Malan genoem) het ons so raak geleef. Een dag in st. 9 het ons so 'n lawwe wiskunde toetsie geskryf waarvoor ek toe 'n massiewe 4 uit 14 punte gekry het, en daardie dag het Tannie Malan vir my die seerste pak slae gegee van my hele skoolloopbaan, maar die manier wat sy my raak geleef het, het daardie pak slae totaal oorskadu. Daar was iets besonders in haar.
Daar het so bietjie meer as 2000 jaar gelede ook so 'n Man sy verskyning gemaak, en hoewel HY net vir drie jaar in die openbaar gewoon en gewerk het, het Hy mense raak geleef op 'n absolute bonatuurlike manier. Sy omgang met mense was eenvoudig en nederig, en niemand het Hom gevrees nie, maar daar was net iets in Hom wat geen mens in woorde kan beskryf nie. Jy sien, toe Hy na sy hemelse tuiste vertrek, het Hy 'n aangename geur agtergelaat wat mense bykans bedwelm het. Ek en jy het Hom nie gesien nie, maar Hy straal daardie geur deur ons uit na ander mense, wat dit vat en verder versprei. Hy leef my vandag nog raak. As ons net daardie selfde gesindheid as Hy het, gaan ons ander mense net so raak leef. Ek het hierdie mooi woorde eenmaal gehoor: Hy was volkome mens asof Hy nooit God was nie, hy was volkome God asof Hy nooit mens was nie. Hy is die volmaakte God vir die volmaakte mens.
Mense wat ander so raak leef, gee vir my hoop in die mensdom. Ek glo jy ken vele mense wat jou so raak geleef het, jonges, oues, albei geslagte en dalk mense wat nooit iets vir jou gegee het of gedoen het nie, maar mense wat jou menswees tot sy volheid laat kom. Mag ek en jy dit ook regkry, dit sal die wêreld 'n wonderlike plek maak. ~ Willem Botha, 08/06/2020

Die Here is ... die Skepper. “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.” (Jes. 40:28) Op bladsy 1 van die Bybel begin ons leer wie God is – die Skepper van alles. God het gesê ... en so het dit gebeur. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3) Nie ’n enkele ding nie! Dat God die Skepper is beklemtoon sy almag, sy grootheid, sy beheer, sy krag, sy verhewenheid, sy onverklaarbaarheid. Job 38-41 is vir my die allermooiste weergawe van die skepping waar die Here vir Job deur ’n reeks vrae bewus maak daarvan dat Hy die Skepper is en dat niemand dit kan bevraagteken nie.  Lees dit gerus. Daar is sinsnedes soos: Wie het die aarde afgemeet? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het? Wie het die see opgedam? Weet jy waar die daeraad vandaan kom? Kan jy ’n beeld vorm van die groot wye wêreld? Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? Het jy al die plek gesien waar die hael gebêre word? Wie het vir die stortreën ’n pad oopgekap en vir die donderwolke hulle koers bepaal? Wie het die doudruppels in die wêreld ingebring? Sou jy die band van Orion kon losmaak? Kan jy die sterre op hulle tyd laat opkom? Weet jy hoe die hemelliggame werk? Kan jy weerligstrale uitstuur? Wie gee insig aan die haan om die dag aan te kondig? Wie gee vir ’n kraai die kos wat hy nodig het? Wie gee aan die wildedonkie vryheid? Gee jy vir die perd sy krag, sit jý vir hom maanhare aan? Is dit deur jou insig dat ’n valk vlieg? Kan jy ’n krokodil met ’n hoek vang of hom ’n tou in die bek sit? Uiteindelik kan mens nie anders as om, soos Job, te bely: “... nou het ek U self gesien.” Sien die skepping en jy sien die Skepper. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde ... ~ Wilna Botha, 04/06/2020

Ek is moeg, tot in my siel in moeg vir hierdie virus, vir al die gepraat hieroor, vir die reaksie op dit (dalk totaal oordrewe) vir die invloed wat dit op ons lewens het en vir die vernietiging wat dit in ons leefwêreld bring. En nou praat ek nie van die siekte self nie, ek praat van die kollaterale skade wat dit maak. Dit voel of ek net nie meer hiermee kan omgaan nie, dit raak te veel.
Maar toe besef ek dat ek toelaat dat die negatiewe die positiewe totaal oorheers, en nou sit ek hier en ek laat my gedagtes gaan, en ek kies om vir hierdie paar minute net anders te kyk na alles. Hier is so 'n kort lysie:
* Daar is baie siek mense, maar daar is meer gesonde mense.
* Daar is baie desperaatheid, maar ek sien baie meer hoop.
* Daar is baie dinge wat nooit weer dieselfde sal wees nie, maar daar is ongelooflik baie nuwe kreatiwiteit.
* Baie geleenthede is verlore, maar daar is baie nuwe innovasie.
* Baie het hulle werk verloor, maar vele het weer hulle gesinne ontdek.
* Baie welvaart het verlore gegaan, maar baie meer basiese dinge het in die plek daarvan gekom.
* Baie dinge het tot stilstand gekom, maar die rotresies het ook bedaar.
* Baie het gesukkel om aan te pas, maar baie mense het weer geleer van dankbaarheid vir klein goedjies.
* Mense is baie dinge ontneem, maar vele het besef dat baie van daardie dinge 'n struikelblok was.
* Vele het begin twyfel in God, maar baie meer het Sy hand opnuut raakgesien.
* Baie het gedink dis verby met hulle, maar vele het nuwe krag in hulleself ontdek.
* Baie het gewonder waar die volgende bord kos vandaan gaan kom, maar vele het gesien hoe goedhartig en behulpsaam hulle medemens is.
* Vele het gewonder hoekom God nie hierdie ding stop nie, maar baie het gesien hoe Hy werk midde in hierdie situasie.
Ek wens hierdie negatiewe ding gaan verby, maar ek hoop dat die positiewe wat hieruit gespruit het, vir ewig sal bly. ~ Willem Botha, 03/06/2020

Ek is ... die lig vir die wêreld. (Joh. 8:12) Vanoggend toe ek wakker word, sien ek in die donker die vae buitelyne van iets wat op my spieëlkas staan en ek het geen idee wat dit kan wees nie. Ek trek my oë skrefies, draai my kop, lig bietjie op van die kussing af in ’n poging om méér uit te maak van die ding. In die donker het ek heeltemal die verkeerde idee gehad van wat dit kan wees. Eers toe Willem met sy selfoonliggie daarop skyn, kon ons sê: o ja ...! Nou ja, in die donker dae van die lewe is dit mos ook so: ons sien net vae buitelyne van ’n saak, tower die verkeerde gedagtes daaroor op, praat onsself negatief en paniekerig en maak verkeerde besluite omdat ons nie die hele prentjie kan (of wil) sien nie. Hoe geseënd is ons nie dat die Here sy lig op ons lewenspad kom skyn nie. Dan raak vae buitelyne weg, onsekerheid maak plek vir vrede, vrees maak plek vir rustigheid, twyfel maak plek vir vertroue. Ek kon ook vanoggend geduldig gewag het totdat dit geleidelik ligter geword het en ek stukkie vir stukkie meer kon uitmaak van die onbekende voorwerp op my spieëlkas. Soms is dit ook hoe die Here vir ons lig gee in onseker tye – bietjie vir bietjie, net genoeg om die volgende tree te gee. Die lig kan nuwe inligting wees wat bykom, nuwe perspektiewe wat aan die lig kom, dalk aanvaarding van jou situasie of die wegtrek van die sluier van jou eie vooropgestelde idees en verwagtinge. Hier is die Here se belofte: “Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie.” (Jes. 42:16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 02/06/2020

Ek het graag op Mannekampe vir ouens gevra wie lief is vir hulle vrouens, dan steek elke enkele een sy hand op. Dan vra ek weer wie van hulle vrouens hou, dan steek net die helfte hulle hande op. Hoe is dit moontlik? Ek hou van my vrou, sy is my alles, my beste maat, my "comrade" en dis ongelooflik lekker in haar geselskap. Presies dieselfde met my kinders. Nou lyk dit my of "lief vir" en "hou van", verskillende goed is. En so tob ek vandag oor my verhouding met God. Is ek lief vir Hom? Ja, met hart siel en verstand. Of liewer, so sê ek graag. Tot ek hierdie teks onthou.
Open. 2:2-7 "Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie."
Sjoe, tref hierdie teks my tussen die oë. Weet jy hoe maklik is dit om in 'n bediening betrokke te wees? Weet jy hoe lekker is die dinge waarmee ons vir jare betrokke was? Baie lekker! Want jy put persoonlike genot daaruit. Dis soos wat hierdie teks praat van onvermoeide arbeid, maar is daar nog liefde vir God? So, vra jy my of ek Hom liefhet? Jip, vir seker. Dan kom die bitter moeilike vraag: Hou ek nog van Hom? As ek dit met my huwelik vergelyk, hou dit kers vas met my verhouding met my vrou? Of selfs met vriende? Is dit net so lekker in Sy geselskap as met ander? Ek weet nie of ek eerlik kan antwoord nie. Jy sien, ek hou nie so baie van mense wat my teregwys nie, ek hou nie so baie van mense wat van my verskil nie. Ek hou nie so baie van mense wat nie wil saamstem met al my idees nie, en ek hou nie van mense wat nie na my pype dans nie. Dit lyk my ek manipuleer verhoudinge waar dit my pas en ek kry graag wat ek wil hê, en as dit nie werk nie stap ek aan na die volgende gemakliker verhouding toe. Maar Hy doen dinge waarvan ek nie hou nie, terwyl ek weet dis tot my eie beswil. Nou moet ek vanaand, soos ek hier sit en skryf, besluit waar ek staan met Hom. Ek weet nie wat om vir jou hieroor te sê nie, maar ek verlang na tye wat my vriendskapsverhouding met God baie beter was as nou. Hy het nêrens heen gegaan nie, en die wonderlike wete is dat Sy gevoel vir my steeds dieselfde is soos nog eeue voor my geboorte. Hierdie gedagte oorweldig my. Dis moeilik om daardie feit regtig te aanvaar, maar dit bly 'n feit. Dis omdat Hy God is. ~ Willem Botha, 01/06/2020

Die Here is ... my Herder. Jesus word in Heb. 13:20 die “groot Herder van sy kudde” genoem. Ai hoe gelukkig is ons nie om te weet ons het ’n oppermagtige, alomteenwoordige Herder wat vir ons sorg met oorvloedige weivelde en strome vars water en vrede wat alle verstand te bowe gaan nie. Hy is die goeie Herder wat ons ken en ons op ons name roep en voor ons uitstap (Joh. 10:3,14) sodat ons Hom met volle vertroue kan volg. Wanneer ons verdwaal en ons eie koers vat, sal Hy 99 ander los en ons eers kom soek. Wanneer ons seerkry, kom tel Hy ons op, verbind ons wonde, droog ons trane af en dra ons op sy skouers terug na veiligheid. “Ek sal self my kleinvee se Herder wees ... Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.” (Eseg. 34:15-16) Ons Herder het tot die uiterste vir ons gegaan en sy lewe gegee sodat ons gered kan wees. “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom.” (Joh. 10:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 28/05/2020

Ons het so dertig jaar gelede die Visrivier-canyon staproete gedoen, ongeveer 86km in vyf dae. Daar is nie veel wat jy kan doen om dit maklik te maak nie, behalwe om jou bagasie wat jy saamdra so lig as moontlik te hou, en jy móét 'n ervare stapper wees. So kom daar toe 'n middeljarige dame saam, en dis haar heel eerste staptoer. Haar sak was so swaar dat ek hom bykans nie kon oplig nie. Toe ons so halfpad deur die eerste dag gevorder het kon sy nie meer nie. Toe ons vra wat sy alles saamdra, kom daar toe onder andere 'n wynglas uit (soos in glas), 'n bottel wyn of twee en 'n groot blik Koo appelkooskonfyt. Dis nou die gróót blik. Almal was verstom. Daardie blik konfyt lê seker nou nog onder die sand in die canyon begrawe.
Mense dra ongelooflike swaar laste saam met hulle, soms heeltemal onnodig. Van daardie laste word deur omstandighede (dalk uit die kinderdae) op mense gepak, en hulle dra dit dag vir dag deur die lewe. Van daardie laste word deur ander mense op jou gepak, mense wat deur nydigheid ander se lewens vernietig, dikwels met woorde. Soms pak mense hulle eie laste op jou en jy dra dit ewe gewillig namens hulle. Soms dra jy laste wat jy kies om te dra, omdat jy jouself nie kan vergewe vir insidente in jou lewe nie, of selfs sondes waarvoor die Here jou klaar vergewe het. In hierdie huidige tyd kom daar egter nog 'n ander lelike las by, en dit is vrees vir die toekoms. Voorts is daar 'n aaklige las wat mense op mekaar pak, en dis Geestelike laste, soos beskryf in Luk. 11:46 "Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie."
Al hierdie dinge is bagasie wat die lewe ondraaglik maak. Maar dan kom daar 'n moeilike vraag by my op. As jy so sukkel om jou eie bagasie te dra, wie s'n sal jy eerder dra? Ek weet van vele welaf mense wie se lewens so lig en gemaklik gelyk het drie maande terug, maar wie se bagasie hulle nou totaal verswelg a.g.v. hierdie krisis waarin ons almal nou sit. Jy sien, voorspoed en baie lewensmiddele kan baie aanloklik lyk, maar dit kan in 'n oogwink ondraaglike swaar bagasie word. Miskien is die antwoord opgesluit in die woord "tevrede", ten spyte van die gewig van jou bagasie. Hou op om jou te steur aan ander se opinie van jou, hou op om "The Joneses next door" se besittings te begeer. Hou op om daai sleepwa wat so swaar gelaai is nog swaarder te laai. Maak vrede met jouself, en aanvaar dat die Here jou liefhet, presies vir wie jy is. Moenie ander se laste dra as hulle dit nie self wil dra nie, ander se nood is nie noodwendig jou bediening nie. As alles te swaar raak, gaan na Jesus toe daarmee.
Matt. 11:28-30 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” ~ Willem Botha, 27/05/2020

“God is Gees” (Joh. 4:24) “... julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit.” (1 Joh. 2:27, Die Boodskap) Dis Pinkstertyd, dié tyd waarin ons die uitstorting van die Heilige Gees oordink en bestudeer en vier. Vroeër in Joël 2:28 al belowe die Here: “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense...”. In Joh. 14:16 belowe Jesus: “Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.” En toe, op Pinksterdag en elke dag daarna, kom die Gees van God om by ons te bly en in ons wees. Ons wat kinders van die Here is, het nou die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees as ’n kosbare skat ín ons. Die Gees gee vir jou wysheid en insig, raad en sterkte, kennis en eerbied vir die Here (volgens Jes. 11:1) Besef dit en laat dit ’n verskil in jou daaglikse lewe maak. Laat die Gees goeie vrug voortbring, laat die Gees leiding en rigting in jou lewe gee, jou help om situasies reg op te som en die regte besluite te neem ... jy is immers nou in God se spesiale span. Moet nooit daaroor twyfel of jy die Gees van God in jou het nie. Moenie dink daar moet eers buitengewone, bomenslike goeters gebeur om te “bewys” dat jy die Gees het nie. Die Gees kom heel dikwels net stil-stil in jou bly. En ás jy twyfel daaroor – vra die Here! “Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11:13) ~ Wilna Botha, 26/05/2020

Opinie 15:2
Jy ken daai teks. Jy hoor hom elke dag en jy herskryf hom elke dag. Kom ek sê vir jou een ding, as jy vir my 'n opinie vra oor enige ding denkbaar, sal ek vir jou 'n opinie gee, of ek kennis daarvan het of nie. En as ek klaar gepraat het mag jy dalk dink ek is 'n kundige op daardie gebied. As jy vir my 'n opinie vra, verwag jy van my om iets daaroor te sê, en kom ek sê vir jou eerlik, as ek min of meer weet watse antwoord jy verwag, gaan ek my opinie daarby aanpas. Baie jare gelede gaan sien ek 'n kardioloog omdat my bloeddruk hoog was. Hy sê toe vir my iets wat my vir altyd sal bybly. Hy vra vir my: hoekom dink jy behandel ek jou? Toe ek nie die vraag kon antwoord nie, sê hy: Ek behandel jou omdat jy dit van my verwag. Sjoe, toe besef ek dat ek dalk dikwels behandeling, of opinies of reaksies of gee, omdat mense dit van my verwag. Vra jy vir 10 mense wat hulle glo oor maskers, sal jy 20 antwoorde kry. Een persoon sit en dink iets slim uit, dan sê hy jy moet nie 'n kers deur 'n masker kan doodblaas nie, terwyl 'n ander sê dat jy net jou eie koolsuurgas inasem as hy te dig is. Dan maak een ou dun maskers en die ander een dik maskers en elkeen kry 'n gevolg wat dieselfde glo, en elkeen het 'n mark. 
Net so gaan dit in ons geestelike wêreld. Daar is mense wat daarvan hou om nuwe goed uit te dink, dan borduur hulle rondom daardie saak, hulle bedink 'n ding van 'n klomp kante af, beredeneer elke ding, en dan gaan soek hulle skrifgedeeltes om daarby te pas, skrifgedeeltes wat dikwels so verdraai word dat jy wonder of dit in die Bybel staan. En dan, as daar genoeg materiaal is word dit 'n nuwe teologie en word dit gepredik. Dan kom die volgelinge, neem deel daaraan, verkondig dit en daar ontstaan 'n beweging. Dít my vriend, is baie gevaarlik want diegene wat hierdie dinge doen hou vreeslik baie daarvan om hulle opinies bekend te maak. Ek is ook so, dit vlei my as mense my opinie hoog ag. Met die internet, duisende boeke en ander media word ons verswelg deur opinies, en het ons geweldig baie onderskeidingsvermoë nodig. Mens moet maar alles ondersoek, alles toets aan die Woord van die Here, gaan aanklop by Geesvervulde mentors wat baie jare 'n pad saam met die Here stap, wie se lewens getuig van wysheid en insig en wie se lewens goeie vrug dra. En hier is nou 'n regte egte Willem opinie, oppas vir "nuwe" Christene se opinies. Ek het al so dikwels gesien hoe mense tot bekering kom en dan praat asof hulle alles weet van God en sy weë. Nee, dit lyk my hardepad saam met die Here, baie val en opstaan en dikwels deur die vuur loop, bring daardie wysheid wat ek en jy nodig het. Daarom is Paulus vir my 'n wonderlike voorbeeld van iemand na wie jy maar kan luister. Hy het die merke van daardie moeilike pad aan sy lyf gedra, en hy het selfs gesterf daarvoor. Oppas vir Opinie 15:2. En gaan toets die goed wat ons hier skryf ook deeglik, ons is feilbare mense. Mag die Here jou lei in die waarheid. ~ Willem Botha, 25/05/2020


Jesus is ... in die hemel opgeneem. Ek het vandag weer die Bybelgedeeltes gelees wat oor Jesus se hemelvaart handel. Luk. 24:50-51 is vir my besonders: “Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” Jesus laat sy volgelinge met ’n  seën en met  groot beloftes agter voordat Hy opvaar na die hemel. Daai seën en daai beloftes is vandag vir ons ook van toepassing. Kyk op na die wolke en weet en glo dat Jesus weer gaan terugkom en dat Hy sélf elke dag by jou is tot dan (Matt. 28:20). Kyk op na die wolke en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige Gees gegee het, dat Hy in jou woon en jou lei en leer.  Kyk op na die wolke en weet dat Jesus  vir ons ’n plek in die hemel gaan voorberei het . Hy sê in die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou ook! Kyk op na die wolke en weet dat Hy aan die regterhand van God sit, dat Hy daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar is. Kyk op na die wolke en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as Koning van die heelal. Kyk op na die wolke en aanbid en eer en prys Hom! ~ Wilna Botha, 21/05/2020

Toe die inperking 'n paar weke gelede ingestel was vir 21 dae, het ons almal dit vol moed aangepak, toe dit verleng word met nog twee weke het die gevaarligte vir vele begin flikker, maar die situasie is nou in intensiewe sorg. Ek is oortuig dat vele van die meer as 3000 lede van Heuning, ernstig in die knyp begin raak. Werksverlies, besighede wat onder gaan, spanning en swaarkry is nou ernstig aan die orde van die dag. Selfs die teksverse wat sê jy moet jou nie bekommer nie, werk nou nie meer nie. Vertrou op die Here was 'n goeie handvatsel, maar ons hande begin nou gly. Ons eie besigheid voel dit ook ernstig soos baie ander, maar ek kry mense jammer wat hulle werkers moet laat gaan en hulle deure sluit. Op die ou end sal elke mens hierdeur geraak word, al is dit dalk nie nou al so erg nie, maar soos die spreekwoord sê: The Cheque is in the mail. 
Kom ek sê vir jou eerlik, ek weet nie meer watse raad om te gee as ek daarvoor gevra sou word nie. Maar tog vind ek bietjie hoop in hierdie insident in Johannes. 
Joh 21:4-6 "Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” “Nee,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie."
Gooi die net aan die anderkant uit, so maklik soos dit, en toe gebeur die wonderwerk. Ek haal so paar gedagtes vir myself hier uit. 
1) Moenie ophou glo nie, jou ouers en voorouers was deur die boere-oorlog, die tweede wêreld oorlog, die groot depressie en ander reuse krisisse, maar hulle het deur die bank voortgebeur en opgekyk na die Here. Ek dink nou sommer so: Ps. 121:1-2 " Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." Waarheen gaan jy anders kyk? 
2) “Walk by faith – not by sight”. Hulle kon nie die vis sien nie, hulle het in geloof die net aan die ander kant in gegooi. Jy sien, dis nie die Here wat opgee nie, dis ons. Opstaan, weer probeer, nog 'n keer, sonder ophou en opgee, geloof in die Here, maar ook in jouself en jou eie vermoëns. 
3) Hoe ver was dit van die een kant van die skuit na die ander kant? Enkele meters! Soms is die oplossing nie ver nie, dis dalk baie nader as wat jy dink. Dis dalk nodig om anders na dieselfde situasie te kyk, maar met nuwe oë en nuwe kreatiwiteit. 
4) Doen iets! Jesus het nie die net uit hulle hande kom vat en die werk vir hulle gedoen nie, Hy het van hulle verwag om steeds die werk self te doen. Iemand het eendag hierdie waar woorde gesê: Doen alles wat jy moet en kan doen voor jy vir iets bid, dan sal die Here die res doen.
5) Aanvaar ook dat daar soms net 'n paar vissies sal wees, en vertrou die Here om dit te vermeerder. Hy het dit blykbaar al in die verlede gedoen, met vyf brode en twee vissies. 
My koskas was nog nooit dolleeg nie, en dis net genade, daarom kan ek nie saampraat met groot swaarkry nie, maar ek het by my ouers gesien hoe hulle 'n R10 noot kon rek dat Jan van Riebeeck se oë traan. 
Gooi die net aan die anderkant uit, gooi weer en weer, sonder ophou, probeer nog, en moenie te trots wees om hulp te vra nie, maar doen alles wat jy kan. 
Hou moed. ~ Willem Botha, 20/05/2020


Die Here is ... ondeurgrondelik, onnaspeurlik, onbegryplik, onverstaanbaar, onverklaarbaar. “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?” (Rom 11:33-35) “Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan? Dit is kennis wat hoër is as al die hemele. Hoe kan jý daarby uitkom? Dit is kennis wat dieper is as die doderyk. Hoe kan jy dit bereik? Dit strek vêrder as die aarde, wyer as die see.” (Job 11:7) Dis seker vir ons as Christene een van die moeilikste dinge as ons op ’n punt kom wat ons voel ons verstaan nie God se weë nie, dinge maak net nie vir ons sin nie, ons sien nie Sy groter plan nie, ons sê: Hoekom Here? Hoe nou Here? Hoe lank nog Here? Is U nog in beheer, Here? Vandag toe ek herfsblare sien afval het ek net weer hieraan gedink: Wie se skuld is dit as ’n blaar van die boom afval? Is dit die wind wat dit afgewaai het? Is dit die boom wat die blaar laat gaan het? Is dit die blaar wat moeg geword het om vas te hou? Wie weet? Dikwels gebeur dinge net. Daar is nie redes nie, daar is nie ’n verduideliking nie, daar is nie iemand te blameer nie. Dis net hoe dit is. Daar is ’n paar goed waaraan ek vashou en glo in sulke vraag-vra-sessies: die Here ís besig in my lewe en in die wêreld, al sien ek niks gebeur nie; ek ís kosbaar vir die Here en Hy sal alles ten goede laat uitwerk; die Here se tydsberekening ís perfek, al voel dit of sy uitkoms of hulp te laat gaan wees; ek kan nie (en wil nie) ’n geveg met die Here opsit nie, want soos Job, sal ek nie opgewasse wees nie; ek bely dat my krag lê in oorgawe aan dié Een wat alles in sy hand hou, in stil wees en vertroue hê in Sy almag en soewereiniteit. Ek hou van hierdie aanhaling: “God didn’t promise days without pain, laughter without sorrow, sun without rain, but He DID promise strength for the day, comfort for the tears and light for the way.” ~ Wilna Botha, 19/05/2020

Magmalheid
Kyk, as jy wil weet van watse stoffasie 'n mens gemaak is, gee jy vir hom mag. Druk 'n geweer in sy hand, gee vir hom 'n rang in die weermag (sommer net so een "streep" op sy bo-arm) of 'n posisie bo ander mense by die werk, of plak een of ander "badge" op sy bors, dan kom sy ware karakter onmiddellik te voorskyn. En nog erger, gee vir hom 'n posisie in die politiek, dan raak dit erg. 
Spr. 30:21-22(a): "Daar is drie, nee, vier wat die lewe ondraaglik maak, wat onuitstaanbaar is: 'n slaaf nadat hy koning geword het..." 
Dit klink vir my nogal bekend, of hoe? 
In die weermag het jy ouens met rang gekry wat net nie hierdie mag kon hanteer nie, dan was daar ander wat baie meer bereik het deur hulle gesag af te dwing op 'n manier wat hanteerbaar was, omdat dit manne van inbors was. 
Toe kom Jesus op die toneel, die Skepper volgens Joh. 1:3 "Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie." Hy is die mees invloedryke Wese wat nog ooit bestaan het, Hy het meer mag (ons kan praat van almag) as enige mens ooit, Hy kon op water loop, storms stilmaak, duiwels uitdryf, water in wyn verander en selfs dooies opwek. Meer mag as dit is net eenvoudig nêrens in die ganse heelal te vinde nie. En tog, lees ons hoe Hy voete gewas het. 
Matt. 20:28 "So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
Fil. 2:6-7 "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word."
Onthou jy die bandjies wat mense gedra het met die letters" WWJD"? What would Jesus do. Ek glo die wêreld sou 'n baie beter plek gewees het as ons almal daardie gesindheid van nederigheid gehad het. Ek het onder vele "meerderes" gewerk wat met daardie gesindheid hulle mense gelei het. Hulle het respek afgedwing sonder om dit "af te dwing", en hulle was leiers wat deur mense gevolg is sonder om mense te vra om hulle te volg. Ek is bietjie bang vir WWJD, ek kry dit nie reg nie, maar ek wil daarna streef. Magmalheid kom in die werkplek, in die politiek, en ongelukkig ook in die huwelik voor. Vernaam by mans wat nie verstaan wat dit beteken dat die man die hoof van die huis is nie. 
Ef. 5:23 "Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk."
Die Here gee vir die man hier geweldig baie mag, maar dan sê Hy verder:
Ef. 5:25 "Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het." 
En dis hoe iemand met mag moet optree. Die sleutelwoord hier is LIEFDE. ~ Willem Botha, 18/05/2020


Die Here is ... “keeper of your souls”. (1 Pet. 2:25) Oppasser, Opsiener, Bewaker, Beskermer van ons siele. Daai diep binnekant, die onsterflike, onsigbare, onpeilbare deel van die mens, die kern van wie ons is en waar al jou krag, jou hele wese gesentreer is, waar jou gevoel, emosies, gedagtes, drome, passie gesetel is – dít hou die Here vas, dít pas Hy op en bewaar dit en heilig dit. As jy dit vir Hom gee, sál Hy dit bewaar en beskerm. Dis hoekom Jesus vir ons die versekering kan gee: “Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh. 10:28) “Keeper” laat my dink aan ’n “goal keeper”. Ek weet nou nie eintlik veel van sokker of hokkie of enige van daai sportsoorte wat ’n “goal keeper” het nie, maar ek weet wel dat hy die belangrikste posisie het en die grootste verantwoordelikheid het om sy span te beskerm en te keer dat die opposisie punte kan aanteken. Net so bewaar die Here ons siele teen die brandpyle van die vyand en hou Hy ons altyd aan die wenkant. By Hom is ons lewe veilig, is ons volkome aanvaar, is ons tekortkominge oorgesien, is ons meer as oorwinnaars. “Your life is safe in the care of the Lord your God, secure in his treasure pouch!” 1 Sam. 25:29 (NLT) ... jou siel sal Hy bewaar. ~ Wilna Botha, 14/05/2020

'n Pa-storie
Ons almal het 'n Pa-storie, sommiges se Pa-stories is goed en sommiges minder goed, en jy het ook 'n Pa-storie, en jou kinders (as jy 'n pa is) het ook 'n Pa-storie. My storie is goed, ons het met relatief min grootgeword, maar ons ouerhuis was baie goed. My pa se Pa-storie was nie heeltemal so goed nie, maar my pa het goed gedoen ten spyte van 'n paar dingetjies wat beter kon wees. My seun het onlangs vir ons 'n baie groot kompliment gegee toe hy sê dat hy vroeg in sy lewe besef het dat hy maar net moet doen wat ons sê (en doen) en hy sal okay wees. Dit terwyl ek wroeg met dinge waar ek dink ek gefaal het. Ek het net besef hoe belangrik hierdie voetspore is wat ons (vernaam as manne) agter ons laat. Nietemin, die beste wat mens vir jou kind kan doen is om voetspore te los waarin hulle veilig kan loop. Daardie voetspore sal gevolg kan word tot lank na jou dood, as jy hulle diep trap. As kind was ek ook maar vol strooi, en my pa was streng, maar nooit ooit onredelik nie. Maar eers toe ek self 'n pa word, het ek my pa regtig begin verstaan. 
Daar is 'n pragtige teks in die Bybel wat wys hoe ver terug hierdie gedagte al kom.
Joh 5:19 "... Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so." Hierdie is vir my 'n kosbare teks, want hier sien ek 'n foutlose Jesus, wat foutloos in sy foutlose Vader se spore volg. Vandag loop ek en jy verder in daardie spore, wat Jesus gestap het in sy Vader se spore, wat beteken dat ek en jy in God die Vader se spore loop. Omdat daar NIKS is wat teen Hom kan opstaan nie, en geen gevaar kan wees wat Hy nie kan oorwin nie, is ek en jy veilig. Jy het ook nie nodig om die pad te sien waarheen jy stap nie, jy kan maar net volg. ~ Willem Botha, 13/05/2020


“Gideon het net daar vir die Here ’n altaar gebou en dit genoem: Die Here gee rus!”(Rigters 6:24) Ons bevind onsself in ’n onseker, onrustige en onvoorspelbare tydperk. Dit voel vir my of mens so gebombardeer word met nuusartikels, menings van mense, klomp moets en moenies, mag en mag-nies. En ek raak al hoe meer opstandig en negatief en rigtingloos. Vrees en benoudheid wil-wil my beetkry en my keel toedruk. Mens voel só ’n begeerte na sielerus, na diep vrede en sekerheid. En dan lees ek ’n teks soos dié in Rigters 6: die Here gee rus. In ’n Engelse vertaling sê dit: “The Lord calms our fears”. Diep sielerus, tevredenheid, behaaglikheid, vergenoegdheid, kalmte is by Hom te vinde. Dis ook hoekom Jesus daar in Mark 6:31 sy dissipels uitnooi: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie”. Dis hoekom Hy vir ons persoonlik uitnooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28) Kom! Alleen saam met Hom. In die stilte sal Hy my lei na sy groen weivelde en waters van rus en sal sy vrede weer oor my kan spoel. Ons sal egter nie in sy rus kan ingaan as ons oë op die wêreld of op ons probleme of op mense se opinies bly nie, ons moet ons fokus doelbewus na Hom verskuif. “Step out of the traffic! Take a long loving look at Me, your high God, above all the politics, above everything.” (Ps. 46:10) Vanaand bou ek ’n denkbeeldige altaar en noem dit: “Die Here gee rus!” ~ Wilna Botha, 12/05/2020

Almal het nou lank by die huis gebly en ek glo die manne moes maar bontstaan om daardie lysies af te werk waaroor vroulief al lankal neul. Wat my toe laat dink het aan ou Salomo. Shame ...
Kyk man, Salomo was lief vir vrouens, maar of hy lief was vir sy vrouens soos ek lief is vir my vrou, en of hy "lief was vir vrouens" sal ek nou nie weet nie. Nietemin, hy is 700 keer kansel toe, en of dit nie genoeg was nie, neem hy toe nog 300 byvroue vir homself net om seker te maak dat dit 'n mooi ronde getal is. Maar ai, die arme man neem toe nie in ag dat daar 'n skoonma saam met elkeen kom nie, gratis free en verniet. Shame! 
 Anyway, soos wat hy toe nou sy harem geniet het (daar was blykbaar 'n klompie bitter aanvallige dames), het hy saans in sy studeerkamer gaan sit en vir hulle die mooiste goetertjies geskryf en dit toe vir ons in 'n mooi bundel saamgevat. Dis later uitgegee as die boek Hooglied en dis steeds op die winkelrakke. Lekker om te lees, baie romanties en soms effe stout. Elkeen in 'n huwelik moet die boek aanskaf, daar is goeie raad daarin.
 Maar jong, wat toe op een goeie dag (of eerder slegte dag) gebeur het kan ons net oor bespiegel. Ek vermoed maar dit het gegaan soos in elke huwelik as vroulief 'n bietjie druk op manlief plaas, soos wanneer sy dingetjies gedoen wil hê in en om die paleis, en dalk het hy ook maar vergeet (gebeur immers met my ook). Nou ja, die storie loop dat een vroutjie 'n nuwe rakkie in haar kamer soek, 'n ander nuwe gordyntjies, daar was 'n kraan wat gedrup het in 'n ander se stort en nog een het gewag vir 'n lekker rug kielie. En so aan en so aan... Man, maar 'n man het ook net soveel tyd en hy het seker gesê hulle hoef hom nou regtig nie elke ses maande te herinner nie, en die klompie het onder mekaar begin murmureer. Die skoonmoeders klim toe ook op die bandwagon, hulle roep toe 'n samekoms uit en daar sit die arme man se turf. Net 'n getroude man sal weet hoe diep jy in die sop kan wees sonder dat jy weet hoekom. Jy weet mos, jy vra: "Skattie wat is fout?", en sy sê baie beslis: NIKS!!! Eish..
 Salomo het maar net daardie aand moedeloos in sy studeerkamer gaan sit en geskryf:
 Spr. 21:9 "Liewer bo-op 'n dak woon as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak."
 Spr. 21:19 "Liewer in 'n woestyn woon as by 'n twisgierige vrou wat aanhou neul."
 Spr. 27:15 "Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag, so is 'n vrou wat aanhou kyf."
 Nou ja, ek weet nie of dit presies so gebeur het nie, maar so loop die storie.. ~ Willem Botha, 11/05/2020

Sal jy kliek? So het ek gevra met my vorige stukkie, as jy daardie epos van God sou kry wat aanbied om jou toekoms vir jou bekend te maak. Almal het gesê hulle sal nie kliek nie, maar ek is bietjie skepties oor die antwoorde. Lank gelede was ek by 'n radiostasie betrokke met 'n Geestelike program en ek het dieselfde gevra, en mense kon dan 'n SMS na die ateljee toe stuur met 'n "ja" of 'n "nee". Daar was hordes reaksies, en ten minste die helfte het "ja" gesê, dalk omdat hulle anoniem gebly het en nie ander se reaksies kon sien nie. 
Niemand het gister vir my gevra wat ek self sou antwoord nie. Ek weet dat ek aan die een kant "nee" sou sê omdat dit die regte "Christelike" antwoord sou wees, want "ja" sou dan impliseer dat ek nie die Here vertrou nie. Maar vriend, as ek 100% eerlik sou wees sou ek kliek om daardie dokument met my toekoms te sien, sonder om twee keer te dink. Maar ek sou onmiddellik spyt wees, want dan sou ek geliefdes se sterfdatums geken het, ek sou sien as ek of ander naby aan my gediagnoseer word met ernstige siektes, ek sou die dae kon aftel tot by "daardie" oproep wat geen pa wil ontvang nie, en ek sou solank 'n mooi hemp gaan koop het vir 'n begrafnis. Ek sou egter ook weet dat as my "skip" sou inkom (deur iets so belaglik soos die Lotto), en ek weet ek sou definitief die meeste van daai geld vooruit gaan spandeer het deur skuld te maak (jy onthou ek begeer 'n Mustang) , maar dit sou aaklig wees, want dit alles sou weg wees voor dit ingekom het. 
Maar, binne die konteks van wat tans in die wêreld gebeur sou daardie inligting seker nogal handig wees, want dan kon ek betyds reageer as dinge begin skeef loop.
Maar die Here het egter iets hieroor te sê in die Bybel: "Die eer van God lê in wat Hy verborge hou... " (Spr. 25:2(a))
Hierdie is ongelooflike kragtige woorde! Lees dit 'n paar keer en deurdink dit.
 "Die eer van God lê in wat Hy verborge hou... "
Jy onthou sekerlik die boom van kennis in Genesis waar God die mens beveel het om nie van hierdie boom se vrug te eet nie, maar toe doen hulle dit so wrintiewaar. Hulle het "gekliek" met daardie verbode knoppie, en daar begin die sleg van die wêreld soos wat ons dit vandag ken, en Adam en Eva verloor hulle idilliese bestaan in die paradys. Die EER van God lê in wat Hy verborge hou! Sy EER, want dis heilig, ek kan dit seker heiligskennis noem, en dis nie vir ons beskore nie. Daar 'n 'n mooi spreekwoord wat sê: "Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a gift". Ek het twee maal my werk verloor, en ek weet ek sou totaal verkeerde besluite gemaak het as ek dit geweet het, en ek is goddank bly ek het nie geweet nie. Al wat ek voor my wil sien, is Jesus Christus, en as ek agter Hom aanstap die toekoms in, sal alles okay wees. Dus, ek sal liewer nie kliek nie, want dan het ek Hom nie nodig nie. ~ Willem Botha, 07/05/2020


Wat is mooier as 'n baba wat begin loop? Daardie wankelrige treetjies waar een voet versigtig voor die ander neergesit word, net om neer te slaan en weer te probeer. En die rede hoekom jy vandag kan/kon loop, is omdat jy een keer meer opgestaan het as wat jy geval het. Ek glo dat menige mense in hierdie tyd gaan val, baie hard gaan val, hetsy 'n besigheid wat tot niet gaan of werksverlies, maar waarskynlik sal ons almal op die langtermyn hieronder ly. Ons het nou die dag gepraat van woestyntyd, en ek dink terug aan die Israeliete wat met alle geweld wou terugdraai na die slawerny in Egipte, maar die Here het hulle gepor om vorentoe te beweeg, en dit het hulle 40 jaar geneem. Het jy geweet dat die afstand wat hulle in die woestyn was in slegs 'n paar weke afgelê kon word? Die punt is, hulle het bly beweeg, vorentoe. Ek en jy gaan dalk ook nou weereens moet opstaan en vorentoe beweeg. Ek weet nie hoe ons besigheid gaan lyk oor 'n jaar nie, maar ek belowe jou dat ek nie oor 'n jaar hier in sak en as gaan sit nie, die Here het net te veel wonderwerke in ons lewens gedoen. Wat wel waar is, is dat my perspektief oor welvaart reeds totaal verander het. Baie jare gelede bid ek een oggend dat die Here werk moet stuur (ek het nog nooit in my lewe vir geld gebid nie, net vir werk), en die antwoord kom onmiddellik in my gedagtes op: Gee my vandag my daaglikse brood. Brood vir een dag! Nee nie vleis, fliek, vakansie, motors, nuwe huis, televisiestel, internet, mooi klere of aftrede nie, net brood vir een dag. Dit het vir my 'n nuwe perspektief op geld gegee, maar met die tyd, a.g.v. relatiewe voorspoed, het daardie gedagte verlore gegaan. Ek dink ek is nou weer op daardie "gee my vandag my daaglikse brood". Genoeg vir een dag. Maar sien, dan moet ons opstaan en vorentoe gaan. Lot se vrou en omgekyk en in 'n soutpilaar verander, terwyl die Here uitdruklik gesê het hulle mag nie omkyk nie. Ek dink baie van ons sit met hierdie soutpilaar mentaliteit en wil met alle geweld teruggaan na die bekende van die verlede toe. Ons probleem is dat die verlede bekend is en die toekoms onseker. Gaan jy toelaat dat jy uitgetel word in die bokskryt, of gaan jy opstaan? Kom ons doen 'n oefening. Gestel jy kry een oggend 'n epos en dit sê:

Van God.
Dan lees jy: My kind, Ek weet jy gaan nou deur 'n onseker tyd in jou lewe en jy kry swaar. As jy wil weet wat die toekoms vir jou inhou, klik hier en Ek sal dit vir jou openbaar.
My vraag is nou, sal jy klik? ~ Willem Botha, 06/05/2020


Die Here se Naam is Jaloers. “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.”  (Eks. 34:14 AOV) “Jaloers” is nou nie eintlik ’n naam wat ons dikwels vir die Here gebruik nie. Vir ons is dit bietjie van ’n negatiewe term, want menslike jaloesie word aangevuur deur onsekerheid, frustrasie, afguns, selfgesentreerdheid, trots ens. As ons sê die Here is jaloers verwys dit nie na ’n wispelturige, eiesinnige of humeurige “ou man” nie, dit verwys na sy liefdevolle besitlikheid oor ons en sy verlange en verwagting dat ons getrou moet wees aan Hom. Dat Hy jaloers is, is ’n uitdrukking van sy heiligheid en sy vereiste van ons “onverdeelde trou”, soos wat Hy in Eks 20:5 sê. Ook geen wonder nie dat Jesus sê dat die grootste gebod van die wet is dat ons die Here met ons hele hart, hele siel, hele verstand moet liefhê. (Matt. 22:37) Hy vra alles. Onthou ook hoedat Hy waarsku: “Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” (Openb. 3:16) Ek moet myself afvra: wat is daar in my lewe wat my “lou” maak, wat maak dat my aandag verdeeld is en dat my getrouheid aan die Here afgewater raak? Wat sal sy “jaloesie” laat opvlam? Dalk my onafhanklikheid – dit wys mos ek maak asof ek Hom nie nodig het nie. Dalk my tydsbesteding – dit wys wat en wie régtig belangrik is. Dalk my negatiewe gedagtes – dit wys dat my gedagtes nie op “die dinge wat daarbo is” gerig is nie, dat God se vrede nie waghou oor my hart en gedagtes nie. Dalk my probleme – soms fokus ek só op wat om my aangaan, dat dit groter word in my lewe as die Here self. Dalk my bekommernis en vrees – sulke optrede bewys dat ek Hom nie ten volle vertrou om my te help en te beskerm en my Herder te wees nie. Dalk mense – ek gee meer toe aan hulle eise en verwagtinge as aan dit wat die Here van my verwag. My lysie kan baie lank aangaan... dalk joune ook? Vanaand sing en bely ek maar net: “All my life and all my needs, all my ways and all my deeds …  I surrender all”,  want ek behoort aan ’n jaloerse God. ~ Wilna Botha, 05/05/202

Doen aan ander...
Matt. 7:12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Jy ken die beginsel van "pay it forward", 'n eenvoudige gedagte wat bedoel dat jy jou seëninge deel met ander. Ek het in die afgelope paar weke die mees ongelooflike getuienis gehoor van mense wat in hulle diepste nood deur ander gehelp word. 'n Vriendin vertel dat die Here PRESIES voorsien wat sy nodig gehad het die einde van die maand, na 'n maand sonder inkomste. Vanoggend hoor ek van nog 'n persoon wat dieselfde vertel, en dit verstom my eenvoudig. Hoe werk dit? Ek sien maar net dat daar bonatuurlik baie mense is wat bonatuurlike groot harte het. En deur die bank is die gewers mense wat nie uit oorvloed gee nie, maar uit die beperkte bronne in hulle eie skure. Die regering se hulpbronne wat hulle skenk vir hulp, kom nie oral uit nie, maar ons kan by plekke en mense uitkom wat regtig swaarkry. Wat vir my verstom, is dat mense wat self swaarkry, juis die maklikste gee. En nog meer, baie mense wat graag gee, sukkel om te ontvang. Ek glo nie die Here verwag noodwendig dat jy uit jou niks moet gee nie, maar elke klein bietjie help.
2 Kor. 9:7 "Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief."
Dit sê nogal baie. 'n Paar rand, 'n brood, 'n houer vol melk, 'n pakkie meel, 'n bietjie vrugte of groente en selfs 'n bietjie skoonmaakmiddels maak tot aan 'n baie welgestelde sakeman, wat pas alles verloor het in sy besigheid, 'n reuse verskil. Ek ken mense wat tans hierdie pad stap.
Heb 13:16 "Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is." ~ Willem Botha, 04/05/2020


“Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Joh. 1:1) Jesus is ... die Woord. Jesus is as’t ware God se woorde aan ons. “Deur die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun.” (Heb. 1:1-2, Die Boodskap)  Die woorde wat ons sê is die fisiese uitdrukking van ons gevoelens en ons gedagtes. As ek op ’n vereenvoudigde manier daaroor dink, dan is dit ook wat dit vir my beteken dat Jesus die Woord is. Hy is die fisiese uitdrukking van God se gevoelens, die fisiese uitdrukking van God se gedagtes, van wie God ís. Dis deur Jesus dat ons leer van God se liefde vir verlorenes en Sy plan om hulle te red. Soos wat die Bybel die geskrewe woord van God is, is Jesus die lewende Woord. Hy is God se boodskapper deur wie ons hoor en sien wie God is en hoe Hy wil hê dat ons moet lewe. Jesus sê mos in Joh. 14:9: “Wie My sien, sien die Vader.” Dis vir my verder ook betekenisvol dat Petrus vir Jesus in Joh. 6:68  sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.” Die Woord, die Lewe. Nou vra ek sommer vir myself die vraag: watter Woord/woord is vandag vir my die belangrikste? Na watter Woord/woord luister ek in hierdie dae? Watter Woord/woord oorheers my gedagtes en bepaal die rigting waarin ek beweeg? Is dit die vrees-woorde in die nuus? Die negatiewe woorde van swartgallige mense?  Die opsweep-woorde van mense op Facebook ? (tussen hakies: toe ek nou “facebook” tik wou my “spell checker” my help met die regte spelling en een van die voorstelle wat hy gee is “fakebook” -  sjoe, dit het my nou laat dink!) Iemand sê nou die dag: “Check the news, don’t watch the news.” Feite oor ’n situasie is belangrik, maar onthou daar is altyd ’n groter realiteit agter daai feite en dit is die Woord van God – dit wat God sê oor jou en oor die wêreld en oor die omstandighede. Laat die Woord wat lewe gee jou vul, jou gedagtes oorheers en vir jou rigting gee en mag Sy opregte, positiewe en opbouende woorde ook deel wees van jou woordeskat. ~ Wilna Botha, 30/04/2020

Woestyntyd 
Die woestyn is 'n vreeslike plek! Dit hou verseker 'n soort van 'n bekoring ook in, maar gewoonlik is dit maar moeilik om in 'n woestyn te wees.
As Christene is daar een ding wat ons moet onthou: om in 'n verhouding met God te staan verseker nie altyd vir jou maanskyn en rose nie. Die Bybel praat baie meer van God se hulp IN swaar tye, as sy beskerming TEEN swaar tye. Ons kan dit dus te wagte wees dat ons soms deur 'n woestyn sal gaan.
Deut 8:1-5: "Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie. Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer."
Die volk swerf 40 jaar in die woestyn rond - 40 jaar! Dit is 'n bietjie lank!
Vriend, ek en jy en elke mens op hierdie aarde is nou in woestyntyd, of jy daarvan hou of nie. Wie die beloofde sal ingaan weet ons nie, wie dit gaan oorleef weet ons nie, hoe lank dit gaan wees weet ons nie, maar ons as Christene glo daar is 'n beloofde land, en ons is op pad. Omdraai is daar eenvoudig nie, en kortpad ook nie. 
Woestyntyd is verskillend vir verskillende mense. Mense beleef hierdie tipe swaarkry verskillend. Dalk is jou finansies, werkloosheid en onsekerheid vandag deel van hierdie woestyn. Miskien is jy boonop eensaam in hierdie woestyn. Dit moet aaklig wees. In Deut 8 lees ons 'n klomp dinge raak wat met 'n mens kan gebeur as jy jou in die felheid van hierdie woestyn bevind:

1. Dit stroop ons van al ons waardigheid
2. Dit maak dat ons vertroue in onsself verloor - soms ook in God.
3. Dit breek ons selfbeeld af, sodat ons nie meer die wêreld in die oë kan kyk nie.
4. Dit laat ons soms wonder of God dan Sy rug op ons gedraai het.
5. Dit voel soms of die tyd heeltemal gaan stilstaan het. 40 dae voel soos 40 jaar.
6. Dit stroop ons van hoop op die toekoms.
7. Dit veroorsaak dat die lewe net nie meer sin maak nie.
8. God maak net nie meer sin nie. Ek dink ons almal ken daardie tye wat mens net vra: "Waarom, Here?", "Hoe lank nog, Here?"
9. Dit laat ons vra: "Wat het ons gedoen om dit te verdien?"
10. Ons begin twyfel in ons geestelike status.
11. Ons word bang, regtig ongelooflik bang! Dis werklik hoe ek voel soos ek hier sit en skryf. 

Maar hierdie tyd van jou lewe sal jy nooit ooit vergeet nie, vir die res van jou lewe sal jy praat van voor die pandemie en na die pandemie. En ons gaan baie leer van onsself, van ons medemens en van God. Vernaam van God. Ek glo die volgende sal  jou tot in jou oudag bybly.

1) Woestyntyd gaan verby, al voel dit soos 40 jaar, of al IS dit 40 jaar.
2) God laat jou nooit alleen nie. Dit is nie die Here se styl om Sy kinders alleen te los nie.
3) Soms stroop die Here ons van alles, om ons op te bou vir ons eintlike werk op aarde.
4) Woestyn louter jou om jou sterk te maak.
5) In die woestyn leer die Here ons meer en vinniger as wat ons ooit andersins sou kon leer.
6) Ons leer dat alles oor God gaan, en nie oor besittings of oor onsself nie.
7) Woestyn leer ons dat daar net één God is - niemand anders nie.
8) Dit bring ons in 'n nuwe intimiteit met die Here. Miskien verstaan ons so iets waardeur Jesus is toe Satan Hom in die woestyn versoek het.
9) Die woestyn is 'n plek van wonderwerke. Jou klere sal nie slyt nie, jou voete sal nie swel nie … 'n Woestyn kan baie dor lyk, maar snags kom die dou, dit koel af, en dan word jy verras met die mooiste blommetjie … wonderwerke! Daar wag groot wonderwerke. 
10) Ná die woestyn, uiteindelik, kom die Beloofde Land. Ek bid vir jou en vir my 'n land van melk en heuning toe!
~ Willem Botha, 29/04/2020


Die Here is ... the Ancient of Days. (Dan 7:9) Nee, dit verwys nie na sy ouderdom nie, dit verwys na sy ewigheid. Voordat daar dae was, was Hy reeds daar en was Hy reeds God. Hy bestaan van ewigheid tot ewigheid, Hy is die Eerste en die Laaste (Jes. 44:16), vóór Hom was daar niks en ná Hom is daar niks. Age to age He stands and time is in his hands – so lui die woorde van ’n liedjie. Tyd is in sy hande. As ewige God is minute, ure en dae in sy hande en laat Hy elke ding in ’n bepaalde tyd pas. In hierdie stadige dae waar dit voel of ons nooit weer vry gaan wees nie en niks ooit weer dieselfde gaan wees nie, waar ons só wag dat die grendeltyd opgehef of verlig moet word, het weke, dae en ure vir my weer ’n ander betekenis. In ons kombuis is hierdie woorde opgeplak: “Don’t count the days, let the days count”. Ek poog altyd om die beste van elke dag te maak en nie net tyd te laat verblyglip nie, maar deesdae vind ek dat ek dikwels die tyd omwens of terugwens. Ek wens dinge was weer soos altyd. Ek wens ’n volgende, beter tydperk kan aanbreek. Ek wens vandag is verby en môre het goeie nuus. Maar toe sién ek weer ’n slag dié woorde op my muur raak en ek weet: elke dag het nog steeds net 24 ure en elke uur net 60 minute en as hulle verby is, is hulle verby. Wat elke dag ook al inhou, daai ure bly ’n gawe uit die Here se hand en ek moet hulle nie verkwis met bekommernis, selfbejammering en negatiewe gedagtes nie.  Ek aanvaar dat die Ancient of Days ook in beheer is van my dae. “Maar ek vertrou op U Here, ek sê: U is my God. My tye is in U hand.” (Ps. 31:15-16) ~ Wilna Botha, 28/04/2020


Vandag is Vryheidsdag, maar nog nooit in my lewe was ek so "onvry" as in hierdie tyd nie. Daar waar jy en ek nou sit is ons beweging amper meer beperk as iemand in die tronk. Dit voel of jy gestraf word vir iets wat jy nie gedoen het nie. Het jy ook in die laerskool in die hoekie gaan staan as jy stout was, en was jy ook in jou kinderdae gehok? Aaklig, jy kan net eenvoudig nie doen wat jy voel jy wil doen nie. So voel dit op die oomblik, jy is hoegenaamd nie vry op Vryheidsdag nie!
O nee wag 'n bietjie, ek dink ek is heeltemal verkeerd! Dalk was ek nog nooit in my lewe so vry soos nou nie! Dalk het hierdie inperking my vry gemaak van die monsters buite my huis, daardie dinge waar ek elke dag blindelings ingeloop het wat my oorweldig het, soos stress, die aaklige rotresies, daardie gevangeskap op 'n snelweg in vreeslike verkeer, dalk vry van die tirannie van 'n onregverdige baas. Jy is waarskynlik tans vry van die gevare van misdaad en dood op die paaie. Dalk is ons op die oomblik vry van die gejaag na aardse goed, en vry van die slegte effek daarvan op jou gesondheid. Jy is miskien ook vry van die winkels waar jy geen beheer het oor jou koop drange nie, en waar jy ontvlug van jou daaglikse sorge, maar wat jou in 'n nuwe gevangenis inprop. Ja vriend, jy is dalk ingehok, maar jy is vry van soveel dinge wat jou lewe hel maak.
Wat my laat dink aan Paulus.
In Gal. 5 sê Paulus dat ons vry is van die wet, totaal vry van die slawejuk van die wet, en dit het gekom deur Jesus se dood aan die kruis. Die wet, wat in ALLE opsigte goed was (en is) , het die lewe onmoontlik en ondraaglik gemaak, net soos wat die lewe wat ons as vry beskou, eintlik 'n gevangenis is. Maar toe kom Jesus en Hy skep 'n ander definisie van vryheid. Dan waarsku Paulus egter teen hierdie nuwe vryheid in Gal. 5:13 "Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde."
Nou ja, van Vrydag af kom daar weer so bietjie meer vryheid, maar dink ook maar aan Paulus se woorde: moet net nie julle vryheid misbruik nie. ~ Willem Botha, 27/04/2020


Die Here is ... jou Bewaarder. So lees ons in Ps. 121. Hy pas my op, Hy is altyd naby, Hy hou my dop, Hy beskerm my, Hy sorg vir my, Hy behoed my. Hoe mooi is dié outydse term nie? Behoed. In ’n Engelse vertaling van Ps. 140:7 lees ek: you cover my head. Ja, soos wat ’n hoed jou kop beskerm, soos wat ’n valhelm keer dat jy seerkry, soos wat ’n sonhoed vir jou ’n skaduwee gee, só be-“hoed” en bewaar Hy ons. Geen wonder dat ons geestelike wapenrusting ook ’n hoed insluit nie – ’n helm van verlossing. As jou kop beskerm is, is jou brein beskerm. As jou kop beskerm is, is jou verstand en gedagtes ook bewaar. Ons leef in ’n moeilike en onseker tyd. Vanaand praat die President weer met ons en my gedagtes hardloop alreeds weer draaie oor wat volgende op ons wag. Cover my head, vra ek van die Here, sodat ek wat ook al na ons kant toe kom, kan hanteer. Om ons hulp, ons beskerming, ons troos in moeilike tye by die Here te gaan soek is vir ons as Sy kinders die enigste uitweg. Dit maak ons rustiger, bring vir ons gemoedsrus, gee vir ons vrede wat alle verstand te bowe gaan, gee vir ons moed om op te staan en positief vorentoe te kyk. Dit vat nie noodwendig die ongemak van die situasie weg nie, dit kanselleer nie noodwendig die probleme wat jou plat druk nie, dit maak nie noodwendig alles reg wat verkeerd is nie. Dit gee jou wel die wete dat Hy wat groter is, wat ewig is, wat alles weet en wat alles vir jou ten goede wil laat meewerk jou behoed, dat Hý jou Bewaarder is. “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. (Num. 6:24-26, AOV) ~ Wilna Botha, 23/04/2020

Christenskap is nogal ’n voorreg. Dit spruit uit ’n verhouding met God en is onderworpe daaraan dat ons Jesus as Saligmaker aangeneem het. Die lewe van iemand wat Jesus as Saligmaker aangeneem het, is geensins gevrywaar van swaarkry nie en moeilike tye sal steeds kom. Dis egter vir die gemiddelde volgeling van Jesus sekerlik steeds lekker om ’n Christen te wees. Ons beleef geestelike groei, dinge gaan dieper en dieper, kennis neem toe, ons begin getuig, self te preek, mense te wen vir die Koninkryk, ons begin Skrif uitlê en profeteer, ons bid vir mense, gebruik ons gawes en glo ons kan die waarheid onderskei. Dis wonderlik, is dit nie? Inderdaad, maar weet jy, daar kom ’n tyd wanneer ons mooi moet besin waarmee ons besig is en hoekom ons daarmee besig is, want daar kom ’n tyd waar Christenskap vreeslik gevaarlik kan raak. Ek bely vandag dat ek al in die verlede met ’n skyn van hiper-geestelikheid mense weggestoot het, selfs weggestoot het van die Here af.
So wonderlik en salig as wat Christenskap kan wees, so gevaarlik kan dit word. Ek dink nie dis te moeilik om jouself Geestelik só te verhef, dat mense eerder na jóú kyk as na God en sy Woord nie. Ek glo ons beweeg dan op ’n terrein wat buite die wil van God is. Dan raak Christenskap gevaarlik. Ek wil vandag bietjie kyk na ’n paar dinge wat na my mening Christenskap gevaarlik kan maak ... lees verder >>  ~ Willem Botha, 22/04/2020


Die Here is ... my Vriend. Eintlik sê die Bybel dit andersom: ek is Sý vriend. “Ek noem julle vriende ...” sê Hy in Joh. 15:15. As iemand belangrik en bekend jou sy vriend noem, is dit nogal lekker nè! As jy ’n “friend request” sou kry op Facebook van iemand wat jy bewonder, iemand groot en bekend sou dit jou nogal spesiaal laat voel, of hoe? Hoeveel te meer as Jesus jou innooi in sy binnekring en jou sy vriend noem. Hy het eerste uitgereik na ons, eerste sy hand van vriendskap uitgesteek na ons. “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies...” (Joh. 15:16) Vriendskap met die Here is nie net iets denkbeeldig, of verdigsels van ons verbeelding, soos kindertjies se denkbeeldige maatjies met wie hulle in hulle gedagtes speel nie. Dis nie net ’n metafoor vir ons verhouding met Hom nie. Hy is nie net ’n vae kennis, ’n “buddy” of ’n maatjie nie.  Sy vriendskap is ’n egte, werklike, innige, diepgaande verhouding. Hy is die volmaakte vriend. Sy vriendskap is vas en seker, dit geld vir ewig. Dis nie net ’n mooiweers-vriendskap nie. Dit geld nie net as ek ’n goeie vriend terug is en my kant in die vriendskap bring nie. As Hy jou sy vriend noem, beteken dit dat Hy vir jou omgee, dat Hy jou sal beskerm, vir jou sal opkom, jou kant sal kies, jou sal help, jou belange op die hart dra, jou nie sal veroordeel nie. Dit beteken dat Hy jou swakhede en tekortkominge en feilbaarheid as vriend verstaan. Dit beteken dat Hy dáár is vir jou, dat Hy luister na jou probleme en oplossings en raad beskikbaar het vir jou. Dit beteken dat Hy met ons praat en sy geheime met ons deel. Dat ons vriende is, beteken dat ek kosbaar is vir Here, sóveel dat Hy sy lewe vir my aflê. “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” (Joh. 15:13)  - en dis wat Jesus vir ons gedoen het, dis hoe ons beste vriende geword het. ~ Wilna Botha, 21/04/2020

Noag
Glo jy die verhaal van Noag? En sy ark? Glo jy dat dit regtig gebeur het? Dat hy regtig in staat was om so 'n reuse skip te bou? Noag was 'n besondere man. Regtig baie besonders. Maar hy was ook net 'n gewone mens, soos ek en jy. Een wat 'n Goddelike opdrag gekry het, verby die onmoontlike gekyk het, die Here vertrou het, en die opdrag uitgevoer het. Baie gewoon, maar ook sondig, soos ek en jy, want na sy regatta met sy groot skip, plant hy 'n wingerd, maak wyn en drink hom dronk, en gaan lê nakend in sy tent. Gewone mens, soos ek en jy.
Wat sou jy sê as God 'n paar jaar terug vir jou sê om een of ander kontrepsie te bou om van hierdie aarde af weg te vlug, want Hy gaan 'n groot pandemie die aarde laat tref? Noag moes nogal baie spottery verduur want die mense was kleingelowig (of is dit dalk eerder goedgelowig), maar in geloof het hy sy opdrag uitgevoer, God se wil gedoen en sodoende sy gesin se lewens gered. Ek weet nie wat ek verlede jaar hierdie tyd met so 'n opdrag sou doen nie, maar ek weet wat ek waarskynlik nou sou doen. En as ek by tye skepties sou wees oor Noag se verhaal, dink ek nou anders daaroor, want die Here kan doen wat Hy wil. As Hy selfs kon besluit om sy Seun te kruisig om sy planne te laat uitwerk, kan Hy hierdie goed ook doen/toelaat/orkestreer (kies maar vir jou een).
Gen. 6:5-6 "Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief."
Gen 6:11-14 "Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot. Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak." Noag het dit gedoen.
Ek beweer geensins dat ons huidige omstandighede gelyk gestel kan - of moet word - met dié van Noag nie, maar ek leer so klompie dinge hieruit, nl.

* Die Here is soewerein, en Hy kan enigiets doen wat Hy dink is goed.
* Die Here is ernstig oor sy opdragte aan die mens, en wat Hy van ons verwag.
* Hy kan vir my, of jou, of enigiemand van sy keuse, oprig om 'n REUSE taak te verrig.
* As Hy jou gekies het, sal Hy jou op bonatuurlike maniere toerus om die bykans onmoontlike te verrig.
* Hy verwag NET geloof, dan sit Hy die res in plek.
* Die groter prentjie is egter ook groter as ek en jy, en soms ly van sy kinders in die proses.
* Hy verduidelik selde hoekom Hy dinge wat op die oog af sleg is, toelaat.
* Sy tydsbeperking is anders as ons s'n.
* Die dinge waarmee Hy besig is, is dikwels gerig op die toekoms ná die mens se aardse bestaan, en nie net die hier en nou nie.
* Sy bedoelinge en dade kan dikwels nie deur die mens verstaan of verklaar word nie.
* Ek glo dat selfaangestelde "profete" geweldig skade aanrig wanneer hulle probeer om sy besluite met mensgemaakte gedagtes probeer uitlê. Sy werk is nie altyd deursigtig nie.
* Daar gaan nog vele van hierdie "groter as dit wat ons kan dink" gebeure plaasvind, en jy kan dalk gekies word as die volgende Noag. Moenie jouself gering ag nie, want die Here doen dit nie.
* Moenie jou toekoms bou op jou verlede nie, of op dit wat jy dink kan of sal gebeur nie. Dinge verander in 'n oogwink.
* Besluit nou reeds om beskikbaar te wees vir 'n reusagtige taak, dit kom dalk net op jou pad.
* Soms verwag die Here van ons om vir klein dingetjies beskikbaar te wees, en ons hoef dit net met geloof aan te pak. ~ Willem Botha, 20/04/2020


Hoe lank nog Here?
Dis vandag Donderdag 16 April in die jaar 2020, die jaar van die virus. Vannag om 24h00 sou ons "vrygelaat" word uit hierdie tronk van inperking. Drie weke gelede is hierdie ding in werking gestel en die meeste mense het dit verwelkom, en die meeste het gevoel dis doenbaar en ons sal dit kan hanteer. Maar helaas nie, nou nog twee weke, maar met min hoop dat alles weer net na normaal sal terugkeer. Ek gesels met 'n man en ek hoor die magtelose moedeloosheid in sy stem. Hoe lank kan ek nog uithou? Sy onderneming se voortbestaan is ernstig in gedrang. Ek is redelik seker dat jy wat hier lees, ook daardie selfde vraag vra. Dalk kan jy saam met menigtes oor die wêreld Dawid se woorde eggo: Ps. 6:4 "Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?"
Ons lees 'n artikel van 'n vrou wat vertel hoe sy in hierdie tyd worstel met selfdood gedagtes en hoe sy veg teen hierdie negatiewe monster wat kliphard aan haar deur hamer. Dan sê sy die volgende woorde: Selfmoord is 'n permanente oplossing vir 'n tydelike probleem. Oplossing? En dan sê sy voorts: Vir gelowiges is alle probleme slegs tydelik. Jy sien, as mens by hierdie punt kom, besef jy dat die Here se woorde wat sê "vertrou My en moenie bekommerd wees nie", die moeilikste woorde in die Bybel is. Hoe doen mens dit? Ek weet regtig nie, want mens voel soms dat selfs die bemoedigende woorde in die Bybel leeg kan klink. Ek is in Julie 1977 weermag toe vir 'n jaar, en net mooi halfpad deur dit besluit oom PW dat ons maar sommer twee jaar sal bly. Net mense wat dit ervaar het kan besef hoe dit gevoel het. Lockdown se Moses.
Maar ook dit het verbygegaan, en dit het nou absoluut geen effek meer op my lewe nie. Hoe lank kan jy nog vasbyt? Het jy dalk die moed om terug te kyk in jou lewe en raak te sien dat die Here eventueel jou moeilikste probleme opgelos het? Kan jy elke oggend opstaan en net een treë vir daardie dag gee? Kan jy dalk die bekende woorde van 'n liedjie sing wat sê: "One day at a time, sweet Jesus"? Ek het net besef dat ek steeds eerder in my eie omstandighede wil wees, as in dié van miljoene ander. Ek dink aan die liedjie van Lance James waar hy sing: "Dankie vir hierdie skone môre. Dankie vir hierdie nuwe dag. Dankie dat U oor my gewaak het deur die donker nag."
Nog 'n dag Here, gee my krag vir nog 'n dag. ~ Willem Botha, 16/04/2020

Die Here is ... die Pottebakker. “Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” (Jes. 64:8, OAV) God is ons Skepper, ons Maker, ons Formeerder. God het vir Adam gevorm uit die stof van die aarde (soos wat Gen. 2:7 vertel). Met sy hande het die Skepper Pottebakker die grond-klei gevorm tot ’n mens en sy eie lewensasem in sy neus geblaas. Hy het na die werk van sy hande gekyk en gesê: dit is baie goed. So het die Here ons elkeen ook met sy eie hand gevorm in die skoot van ons moeder. En nou is sy hande steeds op ons, steeds besig om te vorm en te vou en mooi en beter te maak en af te rond, soos wat ’n pottebakker met ’n baie spesiale item doen. Ons Pottebakker is besig om iets mooi en bruikbaar met Sy hande te vorm. Hy sal nie sy werk halfpad laat staan of opgee daarmee nie, nee, wat Hy begin het sal Hy end-uit voer. (soos wat Fil. 1:6 sê) Die Pottebakker weet wat Hy doen en daarom kan ons dit rustig aanvaar en nie sy werk bevraagteken nie. “Durf die klei vir die een wat dit vorm sê: wat maak jy?” (Jes. 45:9) Soos ’n pottebakker, hou die Here sy oë en sy handpalms op ons. Dis nie net hande wat vorm, buig, vou en skuur nie, dis hande wat liefdevol op ons rus, hande wat beskerm en hande wat keer, want Hy het ’n mooi en volmaakte eindproduk in sig. ~ Wilna Botha, 15/04/2020

Rom. 12:2 "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."
 Laat God julle denke vernuwe... Kyk, as daar een ding in hierdie tyd is waarmee ons onsself waarskynlik meer besig hou as ooit tevore, is dit om te dink. En om nuut te dink. Ek lees 'n nuusartikel waar 'n joernalis vir kleinsakemanne probeer raad gee oor die impak van hierdie virus op klein besighede, en sy raad is: Sake eienaars sal nuut moet dink oor die hele konsep van 'n klein (en natuurlik ook 'n groot) onderneming. My gedagte was: Nou wat op aarde het jy nou gesê wat sinvol is? Want soos my seun sê (wat ook 'n besigheidsman is), dis wat jy dag en nag in elk geval doen, virus of nie! Oorleef moet jy oorleef. Maar dat my denkpatrone oor hierdie lewe totaal vernuwe het, is 'n feit soos 'n koei.
Paulus praat hier in Rom. 12 oor sonde en jou verhouding met God, en wat vir Hom aanneemlik is, en dan vra hy vir nuwe denke. Maar dit strek ook verder.
Ek dink nuut oor God se plan vir ons in hierdie lewe, want ek besef dat Hy soms ekstreme situasies gebruik om ons stil te kry sodat ons Hom kan hoor, en soms maak dit boonop seer.
Ek dink nuut oor die manier hoe Hy sy kinders versorg in swaar tye, maar ook hoe Hy mense oprig om om te sien na ander wat swaarkry.
Ek dink nuut oor Sy beskerming, en hoe Hy soms sy kinders op wonderbaarlike maniere weerhou van onheil.
Maar ek dink ook nuut oor die feit dat Sy kinders ook deur onheil getref word. Ek sien dat gelowige mense ook siek word, al hou hulle naarstigtelik aan Ps. 91 vas. Jy sien vriend, jou en my redding lê nie in Ps. 91 nie, maar in die God van Ps. 91. Die Psalm is egter 'n wonderlike beskrywing van God se versorging.
Ek dink nuut oor verhoudinge met familie en vriende, maar ook met die huishulp en tuinman. Ek verlang na mense waarvan ek dalk nie eers hou nie.
Ek dink nuut oor die toekoms, en my beplande aftrede oor 'n klomp jaar en ek besef dat al my jare se beplanning in 'n oogwink deur die mat geval het en dat dinge nie meer gaan uitwerk soos dit waarop ek gehoop het nie.
Ek dink nuut oor die feit dat ek my gesondheid moet oppas soos nooit tevore nie, want dis wat ek nodig gaan hê a.g.v. bogenoemde punt.
Ek dink nuut oor die hiernamaals, waar mot, roes, lyding, pyn, onsekerheid, eensaamheid, stres, siekte en dood geen faktor gaan wees nie.
Ek dink nuut oor genade, hierdie bonatuurlike element wat ek nou meer nodig het as ooit. Ek besef dat ek hoegenaamd nie beheer het oor dinge soos wat ek gedink het nie.
Ek dink nuut oor dankbaarheid, vernaam as ek kyk na die bitter swaar waardeur mense tans gaan, ook kinders van God.
Ek dink nuut oor die waarde van geld en besittings, want hier kom 'n siekte wat (soos my seun tereg sê) nie hou van Mammon nie. Baie lande wat die swaarste getref word, is plekke waar Mammon God se plek kom inneem het.
Ek dink nuut oor die dag van more. Ek weet nie wat dit inhou nie, maar ek weet dat God daar is, of ek met trauma of met vreugde daardie dag gaan ingaan.
Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe... ~ Willem Botha, 14/04/2020


Die Opstanding - en fopnuus
Ek dink jy is in hierdie tyd net so moeg vir fopnuus soos ek. Dit voel of jy net mooi niks meer kan glo wat jy lees nie en dis ongelooflik dat mense net eenvoudig nie drie minute sal spandeer om eers die waarheid te toets nie. Maar daar is een ding wat fopnuus nie kan teenstaan nie en dis tyd. Met tyd word alle fopnuus ontbloot as strooi omdat die waarheid altyd seëvier.
Nou ja, wat op aarde het hierdie negatiewe gedagte met die Opstanding van Jesus te doen? Wel, fopnuus is stokoud en ons lees al in die Bybel daarvan. 'n Reuse gebeurtenis vind plaas en onmiddellik word fopnuus daaroor versprei en volgens die Bybel word dit vandag nog versprei, en ook in die gedeelte wat jy netnou hieroor gaan lees sal jy sien hoe korrek die Bybel is.
Maar voor ons daarby kom, kom ons lees net eers oor dít wat plaasgevind het wat mense genoodsaak het om leuens te versprei.
Joh. 20:1-2 "Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
Ja, Jesus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan, net soos Hy gesê het. Regtig regtig, waarlik, vir seker, sonder twyfel, was die graf leeg. Ons weet vandag wat alles daarna gebeur het want ons het die feite in die Bybel. Iets wat 'n onbeskryflike wonderwerk was, was vir ander 'n totale ramp en wat ten alle koste verswyg moes word! Kyk, die priesterhoofde en die familiehoofde het 'n bloutjie geloop soos nog nooit tevore nie. Toe kom hulle met 'n plan vorendag: Fopnuus!
Matt. 28:11-15 "Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel."
Kyk net hoe akkuraat stel die Bybel dit: tot vandag toe!
Maar fopnuus kon nie die toets van tyd deurstaan nie. Jesus verskyn aan hordes mense, daar word daaroor geskryf, gepraat, gejubel en mense kom in duisende tot geloof in Hom en die Heilige Gees word op duisende (nee miljoene) uitgestort, tot vandag toe. Daardie fopnuus kon net eenvoudig nie hou nie. As Hy nié opgestaan het nie, het die hele episode wat 2000+ jare gelede afgespeel het platgeval, alles, elke ding wat gesê is, geskryf is en gedeel is. Niks sou hou nie.
Maar ek en jy weet vandag dat Jesus leef en werk in mense se harte, nog net soveel soos altyd. Die grootste enkele ding wat moes gebeur rondom die kruisiging, is die opstanding. Die "fopnuus" is as leuens ontbloot, en die waarheid seëvier! Halleluja.
Matt. 28:6(a) : "Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het." (1953 vertaling) ~ Willem Botha, 13/04/2020

Drie kruise op Golgota.  Kopbeenplek. Plek van verskrikking, soos die galg, of die elektriese stoel. Jy stap op soontoe, maar word afgedra. Lewendig op, dood af.  Plek van skande en hoon. ‘n Plek waar mense se geliefdes wreed doodgemaak word, waar ma’s se seuns hulle laaste asem uitblaas. As jy dáár opstap (met jou kruis), is alle hoop verby, en àl jou kanse verlore. In enige land regoor die wêreld, waar die doodstraf nog uitgevoer word, word dit so menslik as moontlik toegepas ... lees verder >>

Christus - die volmaakte Paaslam, die volkome offer. Christus - verraai, uitgelewer, gespot, gespoeg, geslaan, gekruisig. “So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net syne geword.” (Heb. 10:10, Die Boodskap) Jesus se kruisdood is die volledige betaling vir al ons tekortkominge en oortredinge. Sy bloed is die algehele bedekking vir elke sonde. Sy liggaam is ons volkome versoening met God. Sy offer red ons. Deur sy bloed lewe ons. Met die eerste Paasfees moes die Israeliete ’n lam sonder gebrek slag en die bloed aan die sykante en die bokant van die deurkosyn smeer, sodat hulle kon bly lewe. “Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan.” (Eks. 12:13) Die volmaakte Paaslam is vir ons geoffer, vriende! Sy bloed is aan ons lewenskosyne. Hy red ons. Hy gee vir ons die ewige lewe en ons sal in ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand of niks sal ons ooit uit sy hand ruk nie. (Joh. 10:28) Geseënde Paasfees! ~ Wilna Botha, 09/04/2020

Joh. 16:16-18 "Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.” Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’?
Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.”
Hierdie toneel speel tussen Jesus en die dissipels af, 'n kort rukkie voor Sy kruisiging. In Joh. 17 bid Hy vir sy dissipels en dis 'n roerende gebed wat jy gerus kan lees.
Ek probeer my indink hoe verward hulle moes wees toe Hy hierdie dinge vir hulle vertel het en hoe hulle dit hoegenaamd nie kon verstaan nie. Waarheen gaan Hy? Wat praat Hy? Hoekom doen Hy dit? Hoe op aarde kan Hy na die Vader toe gaan? Waar is die Vader dan? En hoekom bly ons agter?
Ons het vandag 'n groot voordeel want ons ken die hele verhaal, ons kon die dinge van die Bybel uitpluis en saam met andere sin maak van hierdie gebeure. Maar hulle wat saam met Hom die pad geloop het moes uiters verward gewees het en verlore gevoel het. Dit was vir hulle so sleg dat slegs Johannes by Hom was met die kruisiging.
Ek kan jou een ding sê, hierdie tyd voor Paasnaweek is soms vir my ook verwarrend, want teen hierdie tyd van die jaar is die opgewondenheid en vrolikheid van Kersfees lank verlore en word ons gekonfronteer met die onaangename realiteit van die kruisiging. Dis die tyd wat ek myself moet konfronteer met die vraag van waar ék staan ten opsigte van hierdie gebeure. Dis die tyd wat ek vir myself moet vra of ek regtig "kwalifiseer" vir hierdie kruisiging, en of ek dit regtig deel van myself kan maak. Maar dis die tyd wat Jesus sê: Stap saam met my. Kom staan by daardie kruis en besef dat Ek dit vir jou gedoen het, sodat jy kan lewe, vir ewig. Dis wanneer Hy vir my 'n druppel bloed wil wys en sê: Een van daardie druppels het jou naam op. Dis die tyd wat ek na die onbeskryflike pyn en vernedering moet kyk sonder om my oë van daardie gebroke liggaam af te haal en besef: Dit was nie tevergeefs nie, dit was so bestem. En vriend, dít het ek weer vir myself uitgemaak die afgelope paar dae: As ek nie na Hom toe kan vlug wanneer dit voel of sondes my totaal van Hom vervreem het nie, dan was alles tevergeefs. Neem 'n spreekwoordelike hammer en gaan spyker daardie oortredinge en ongeregtigheid aan daardie kruis vas, en wees vry! ~ Willem Botha, 08/04/2020


God is ... alomteenwoordig. Behalwe daardie Goeie Vrydag toe Jesus aan die kruis gehang het en hard uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my  verlaat?” Daar was duisternis en stilte.  ’n Rukkie gelede was Jesus ontsteld oor die pad wat vir Hom voorlê: “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.” (Joh. 12:27) Hy is op daardie onseker oomblik bemoedig deur ’n stem uit die hemel. Toe Jesus in die tuin van Getsemane in doodsangs bloeddruppels gesweet het, het ’n engel uit die hemel Hom versterk (Luk. 22:43) Maar aan die kruis was Hy alleen gelaat. God se wraak, sy straf, sy woede, sy vloek oor die wêreld se sonde het in daai Godverlate oomblikke op Jesus afgekom, sodat ons dit nooit hoef te beleef om sonder God te wees nie. Hy het in óns plek Godverlatenheid beleef, sodat ons nou en vir altyd in God se teenwoordigheid kan leef. Dis amper Goeie Vrydag en ons is nié van God verlaat nie! Weet vir seker: enige plek waar jy jou mag bevind, al is dit hoe eensaam,  donker, leeg , verdorwe of vreesaanjaend, is gevul met God se teenwoordigheid. Hy laat jou nooit alleen nie, Hy is altyd langs jou, Sy arms is altyd hier naby om jou te vang, Sy hand digby om jou te help en lei. Hy weet alles en sien alles. Hy hoor as jy roep, Hy hoor as jy sug of as jy huil. “U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.... Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die vêrste plek toe, U is daar.... Oral hou U my vas. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my” (Ps. 139:7-11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 07/04/2020


Daar is geen God nie, sê die dwaas.
'n Liefdevolle God sal nie so iets soos wat nou gebeur toelaat nie, sê die dwaas.
Hoekom red Hy nie sy kinders en laat die res verlore gaan nie? Vra die dwaas.
Hy mag dalk die aarde en alles geskep het, maar toe vertrek Hy en los hulle alleen agter, sê die dwaas.
Hy is 'n hartelose en geharde diktator, sê die dwaas.
Hy het wrede wette geskep om die lewe vir almal moeilik te maak, sê die dwaas.
Die natuur is in beheer en laat vreeslike goed gebeur, sê die dwaas.
God antwoord nie Sy kinders se gebede nie, want hulle smeek tevergeefs, sê die dwaas.
Daar is geen verskil of jy 'n Christen is of nie, sê die dwaas.
Dieselfde lot tref almal en almal vrek soos 'n hond, sê die dwaas.
Dis onmoontlik om Hom tevrede te stel, sê die dwaas.
Geen liefdevolle God sal Sy eie Seun wreed aan 'n kruis laat sterf nie, sê die dwaas.
Die Bybel is deur mense geskryf, en glad nie meer vandag van toepassing nie, sê die dwaas.
Dit maak nie saak of jy jouself oorgee aan die genietinge van die lewe nie, sê die dwaas.
Almal glo maar net soos skape omdat hulle ouers dit in hulle koppe ingeprent het, sê die dwaas.
Hy hou daarvan om Sy kinders wreed te straf vir die geringste oortreding, sê die dwaas.
Satan is 'n versinsel van die mens se brein, en daar bestaan geen hel nie, sê die dwaas.
Die maagdelike geboorte is 'n grap, sê die dwaas.
So praat die dwaas, en die Bybel spel dit uit.
Ps 53:1 "Die dwaas dink daar is geen God nie."
Maar die dwaas kan dit net eenvoudig nie verstaan nie, en die Bybel bevestig dit ook.
1 Kor. 2:14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." ~ Willem Botha, 06/04/2020


“Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond.” (Ps. 147:3, Die Boodskap) Gedurende die lockdown tydperk draf Willem elke oggend 5 km in ons erf. Al in die rondte op die grasperk en om die swembad – so stuk of 80 rondtes! Ek sien toe vandag dat daar al ’n diep paadjie in die gras getrap is en ek weet daai gras gaan nie weer groei voor die winter kom nie. Die paadjie gaan nog lank daar wees as ’n herinnering aan hierdie ongewone tydperk in ons lewe. Ek beskou dit nou maar as een van ons “lockdown-letsels”. En ek besef daar is baie van ons wat met erger (en blywende) letsels as net ’n paadjie in die grasperk gaan sit hierna. Ek weet egter dat die Here wonde verbind, dat Hy genees, dat Hy herskep, dat Hy nuut maak, dat Hy herstel bring. Die letsels mag dalk bly, maar dit sal ’n herinnering wees dat die Here ons deur swaarkry en trauma gedra het. Die letsels mag dalk bly, maar daar sal ’n dag kom dat die trane en angs en onsekerheid iets van die verlede sal wees. Die letsels mag dalk bly, maar dit sal ’n herinnering wees om al ons hoop en vertroue in die Here alleen te stel. Job het letsels gehad waar hy hom met die potskerwe gekrap het en die Here het vir hom twee keer soveel teruggegee as wat hy verloor het en sy lewe voorspoedig gemaak. Paulus het letsels gehad van sy swaarkry en al die houe wat hy verduur het en die Here se genade was vir hom genoeg. Jesus het die spyker-letsels aan sy hande gehad sodat Tomas kon sê: My Here en my God, en sodat ons kan glo sonder om te sien. “Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm.”  (Rom 5:3-4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 02/04/2020

Ek het nie tyd nie...
So het ek onlangs nog gesê, die lewe bepaal waarmee ek myself besig hou, en almal om my moes gereeld hoor ek het nie tyd nie. Dis nou effe anders, ten minste nog vir 'n rukkie en nou is daar te veel tyd, maar dit verander binnekort weer. Ongelukkig is almal wat hierdie woorde gereeld gehoor het nie nou by my nie, terwyl ek nou graag die nodige aandag sou wou skenk. Jy sien, hierdie woorde was dikwels gebruik op tye wat ek (kwansuis) moeg was of eerder ander dinge wou doen, maar met die tyd kom jy agter dat verlore tyd nooit ingehaal kan word nie. Onthou jy die liedjie van Harry Chapin met die naam "Cat's in the cradle"? Google dit gerus. Dit gaan oor die pa wat nooit tyd gehad het om aan sy seun te spandeer nie, maar toe hy op sy oudag gesmag het na sy seun se teenwoordigheid, was dié nie vir hom beskikbaar nie. Toe ons kinders klein was het ek vir 'n tyd lank elke dag na werk vir elkeen om die beurt 'n halfuur gegee om te doen net waarvoor hulle lus was, en ons het snaakse dinge gedoen. Ballon geskiet in die gang, rugby en krieket gespeel op die gras, yskoue tee gedrink uit klein speelgoed koppies terwyl my knieë agter my ore gehaak het a.g.v. die klein plastiek stoeltjie waarop ek moes sit. Ek moes sit vir 'n grimeersessie, en eendag het my dogter my buite toe geneem sonder om te sê wat ons gaan doen. Ek moes toe agter haar fiets staan, toe sê sy: Pappa is my sleepwa. Kom! Ek het vir 'n halfuur agter die fiets aangedraf! Goddank sy het dit nie weer gedoen toe sy 'n motor gekry het nie! Hoe kosbaar was dit nie! Alles het gegaan oor daai bietjie tyd en ek sal dit nooit vergeet nie, en hulle ook nie. Miskien sal hierdie dae ons net so bietjie "reset" en laat besef dat ons tog ons priori(tyd)e reg kan kry.
Daar is werklik 'n tyd vir alles, as ons wil.
Pred. 3:1-11 "Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek, 'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red, 'n tyd om af te breek, 'n tyd om te bou, 'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans, 'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak, 'n tyd om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af, 'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak, 'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi, 'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk, 'n tyd om stil te bly, 'n tyd om te praat, 'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir vrede. Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei? Ek het gesien dat God aan die mens 'n taak gegee het om hom mee besig te hou. God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie."
As jy 80 jaar oud word, het jy slegs so 29200 dae. Dit klink baie as jy jonk is, maar ek het baie daarvan vermors, en daar is nie nou meer so baie oor nie. Ek is bitter spyt daaroor. ~ Willem Botha, 01/04/2020

Die Here is ... my Bevryder. Ek het nou die dag reeds iets geskryf oor Ps. 18:3, maar vandag toe lees ek dit uit Die Bybel: ’n Direkte Vertaling en dit bring vir my ’n nuwe vrede en kalmte en sekerheid vir my gemoed. Kyk net hoe stapel dit die mooiste woorde op wat beskryf wie die Here vir ons is. “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die krag van my redding, my toevlugsoord.” (Psalm 18:3 BDV) Die Here is my Bevryder, of te wel, my Redder. Natuurlik het dit eerstens ’n diep geestelike betekenis, waarvan ons veral bewus is soos wat Goeie Vrydag nader kom. Jesus wat ons bevry van ons sonde, wat ons red van die ewige dood deur die prys wat Hy vir ons aan die kruis betaal het. Ons Verlosser. Ons Bevryder. Ons Redder. Ons weet egter uit ervaring dat Hy ons heel dikwels ook uit ons alledaagse benoudhede en gevare en siektes red, dat Hy ons dikwels van ons alledaagse vrese en probleme en twyfel bevry. In tye soos dié waarin ons ons op die oomblik bevind, roep ons voortdurend uit na ons Bevryder, ons Redder vir hulp en uitkoms en bevryding. Soos Dawid smeek ons dringend: maak gou asseblief, Here, moenie talm nie. “Maak tog gou om my te help, Here, my Redder!” (Ps. 38:23) en “U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie.” (Ps. 40:18) Wat doen ons terwyl ons wag op ons Bevryder? Ons skuil by Hom. Ons kruip weg by Hom. Hy is ons Rotsvesting, ons Bergskuiling, ons Skild, ons Toevlugsoord. ~ Wilna Botha, 31/03/2020

Mens, jy sal leer dat jy niks weet nie, dat dít wat vanselfsprekend was, in 'n oogwink kan verander.
Mens, jy sal leer dat jy gedink het jou vryheid is gewaarborg, dit is nie, en jou konsep van vryheid is 'n klug. En voorts dat geld nie jou vryheid kan koop nie.
Mens, jy sal leer dat jy gedwing kan word om stil te raak, teen jou sin, maar dat dit dalk van die beste tye van jou lewe kan wees.
Mens, jy sal leer dat jy intens na jou geliefdes kan verlang, al bly hulle 'n klein entjie van jou af.
Mens, jy sal leer dat kos, klere en 'n dak oor jou kop, al is wat nodig is, en dat jou ander bates totaal oorbodig is.
Mens, jy sal leer dat jou mense meer kosbaar is as wat jy ooit kon dink. Jy sal besef dat hierdie huweliksmaat aan wie jy 'n belofte gemaak het, goud werd is. Pas jou huwelik op.
Mens, jy sal leer dat jou toekomsplanne hoegenaamd nie gewaarborg is nie, en jy voluit vir nou moet leef.
Mens, jy sal leer dat jy moet ophou om na mense op te kyk, en dat jy eerder jou oog op Jesus gerig moet hou.
Mens, jy sal leer dat elke mens ver kan wees, maar God is naby, altyd.
Mens, jy sal leer dat die Woord van God waarhede bevat wat twee duisend jaar gelede geskryf is, nou meer van toepassing is as ooit tevore.
Mens, jy sal leer dat God se beloftes - baie van hulle - 'n anker kan wees in hierdie tyd.
Mens, jy sal leer dat jou werk, waarvoor jy alles gegee het en selfs jou gesin afgeskeep het, in 'n oogwink irrelevant kan raak.
Mens, jy sal leer dat die Here mense opgerig het om in hierdie tyd jou aan die lewe te hou, teen min vergoeding, en dat jy dankbaar moet wees daarvoor.
Mens, jy sal leer dat dissipline, selfbeheersing en wetsgehoorsaamheid, uiters nodig is vir oorlewing.
Mens, jy sal leer dat jy soms tot stilstand gedwing moet word om God se stem te hoor.
Mens, jy sal leer dat jy so in jou gemaksone ingesink het, dat jou gebede meer oor aardse goed en eie belang begin gaan het, as dít wat werklik saak maak.
Mens, jy sal leer dat die persepsies wat jy oor baie jare in jou kop gevorm het, blitsig kan verander.
Mens, jy sal leer dat jy dankbaar sal raak oor die kleinste nietigste goedjies, dinge wat vir jou totaal onbelangrik geraak het.
Mens, jy sal leer dat jy selfs na die huis van die Here sal begin verlang, terwyl dit nog onlangs 'n las was om daarheen te gaan.
Mens, jy sal leer dat God se genade vir jou genoeg is.
Mens, jy sal leer dat jou gesondheid uiters kosbaar is, en dat jy ten volle daarvoor verantwoordelik is om dit op te pas.
Mens, jy sal leer dat daardie groen gras aan die ander kant, net so kan verwelk as dié aan jou kant.
Mens, jy sal leer dat jy dalk te magsbehep begin raak het, en dat onsigbare dingetjies jou tot stilstand kan dwing.
Mens, jy sal leer dat jy weer 'n leerbare gees sal ontwikkel, omdat die wêreld jou behoefte na wysheid begin steel het.
Mens, jy sal leer dat jy die Here nodig het, niks meer en niks minder nie.
Laastens, jy sal leer dat die Here aan niemand 'n verduideliking verskuldig is oor wat Hy doen, of toelaat nie. ~ Willem Botha
, 30/03/2020

“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Heb. 13:8) Oor ’n paar ure begin ’n vreemde, nuwe, onseker tydperk vir ons almal. Iets wat nie een van ons nog ooit beleef het nie. Niemand van ons weet hoe ons gaan voel of reageer of hoe ons daardeur gaan kom nie. Ons kan ons nie indink hoe ons oor ’n week of drie van nou af gaan voel nie. Ons kan nie raai hoe dit gaan wees as ons vir só lank nie ons geliefdes en vriende gaan sien en vasdruk nie. Ons kan nie raai hoe dit gaan voel as ons vir só lank bekommerd is oor ons eie en almal in ons land se gesondheid nie. Ons het almal allerlei planne gemaak vir die volgende 21 dae, ons het hope voorrade gereed gekry en ons wonder: is dit genoeg? Sê nou maar net ...? Niks is seker nie, want dis vir ons almal ’n eerste keer dat ons afgesonder en ingeperk is. In my gemoed en gedagtes is daar vandag egter één stabiele en seker feit en dit is dat die Here saam met ons is, dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy het in die verlede ’n  pad deur die see gemaak,  mense deur die woestyn gelei deur ’n wolk- en vuurkolom, hulle versorg met manna uit die hemel en water uit ’n rots, Hy het mense deur oorloë bygestaan, Hy het leeus se bekke toegesluit, Hy het mense genees, Hy het mense gered, Hy het mense hoop gegee, Hy het mense staande gehou, Hy het mense ’n verwagting op ’n nuwe toekoms gegee. Hy is nog steeds dieselfde Here. Hy is nog steeds getrou, vol liefde en barmhartigheid. Hy is nog steeds betroubaar. Hy is nog steeds alomteenwoordig en ook by ons en saam met ons in die volgende 21 dae. Dink terug aan tye in die verlede wat die Here jou gedra en getroos en versorg het, tye wat Hy jou beskerm en genees het. Ervaar dat Hy dit ook vandag vir jou doen. Vertrou dat Hy dit ook in die toekoms vir jou sal doen. Ek hoop jy sal Hom elke dag raaksien as die Onveranderlike binne al ons onsekerheid. ~ Wilna Botha, 26/03/2020

VERANDERINGE KOM
Al gehoor van die spreekwoord: "A change is as good as a holiday"? 'n Verandering is goed vir jou. Is dit so? Glo jy dat dit vir JOU waar is? Wel, dis sekerlik so dat verandering nuwe uitdagings bring, nuwe kennis, nuwe ondervinding. 'n Nuwe motor is 'n goeie verandering, of om te trek na 'n nuwe huis is lekker … of nog beter, 'n nuwe werk met nuwe geleenthede. Verandering is goed vir 'n mens. Dit haal jou uit 'n groef uit, dit werk dikwels depressie teë, mens ontmoet nuwe mense, nuwe dinge kom op jou pad. Inderdaad! A change is as good as a holiday!
Baie waar woorde, behalwe …. As jy nie gevra het daarvoor nie, as omstandighede buite jou beheer alles om jou verander, wanneer dit ongerief bring, en jy niks daaraan kan doen nie. Soos byvoorbeeld, wanneer dit so donker word rondom ons, dat jy in sak en as sit. Sulke veranderinge is beslis nie lekker nie. Een ding is seker: dinge om ons verander, of ons nou wil of nie.
Is a change as good as a holiday? Dit hang seker af van die tipe "holiday"!
As ons Eks 16:1-2 lees, sien ons dat moeilike verandering niks nuuts is nie: Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset en gesê: "As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.
Die volk trek die woestyn in en toe dit moeilik raak, verset hulle hulle teen Moses en Aäron. Toe dit moeilik raak sê hulle: "As ons maar liewer …". Nou ja, dit kink baie bekend vandag. As ons maar liewer … Dit is so dat die verlede dikwels beter lyk as die toekoms, want die verlede is bekend, en soms lyk die toekoms vir ons maar bietjie donker. Ek praat op geen manier dit wat tans aan die gebeur is met ons goed nie. Ek hou ook nie daarvan nie, ek is ontwrig, geïrriteerd en dit kos my my inkomste.
Nou kom ek eintlik by my punt: Is ek bereid om te aanvaar dat verandering plaasgevind het? Dat dinge nie weer gaan terugdraai en wees soos dit altyd was nie? Mense praat van die "RTC-sindroom" - "Resistance to change". Weerstand teen verandering. Sukkel jy ook daarmee? Ek dink nie ek en jy en 10 weermagte gaan skielik 'n skakelaar gooi en alles is terug na 'n paar maande gelede nie. Jy sal maar moet aanpas, punt!
Iemand sê eendag 'n baie waar ding: "Die persoon wat die swaarste gaan kry, is die persoon wat die stadigste aanpas" - adapt or die! Het ek en jy die vermoë om aan te pas en uit te hou, soos wat die volk van die Here moes aanpas om 40 jaar deur die woestyn te swerf? Jy sien, ons kan gelate terugsit en sê: "Laat God's water dan nou maar oor God's akker loop", of ons kan aanpas, oorleef en uiteindelik in oorwinning vorentoe gaan.
Pred. 9:11-12: “Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval.”
"Alles word bepaal deur tyd en geleentheid" - kan ek en jy nie dalk in hierdie hele proses van verandering nuwe geleenthede raaksien en aangryp nie? Is dit nie dalk die tyd om te sê: "Met my oog gerig op Jesus, kan ek dit oorwin nie?" Soos Fil 4:13 sê: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee"
Kan ek en jy aanpas? Ja, jy kan! Gáán ek en jy aanpas? Dit, kan net JY antwoord. Om die heeldag te kla, werk verseker nie! Fopnuus versprei is absoluut belaglik en kla help niks. Ek weet, ek probeer dit nou al vir 'n paar dae, om te kla bedoel ek. Weet jy, die Here is steeds in beheer. Hy het steeds nie verander nie. ~ Willem Botha, 26/03/2020

Die Here is ... my krag. (Eks 15:2) Die afgelope paar dae en die laaste klompie ure was omtrent ’n “roller coaster” en mallemeule vir my. Dan is ek bo en voel ek in beheer en rustig en kalm en het ek moed vir die komende 21 dae – ek sien sommer uit na die andersheid daarvan. Maar dan sien ek leë winkelrakke, ek sien my bure pak angstig op om die tyd elders te gaan deurbring, ek hoor mense se paniek en vrees en dan is ek ook sommer weer onder – bang, terneergedruk, onseker. Maar vanaand hoor ek die Here sê in 2 Kor. 12:9 “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” En ek weet: as ek swak is, is ek sterk. As ek swak is word ek sterk, want God is my krag. “Hy gee vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie ... dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke.” (Jes. 40:29-31) Die krag wat alles oortref, kom van God af, sê 2 Kor. 4:7. Sy krag hou ons regop, sy krag dra ons deur, sy krag lig ons koppe op. Sy krag maak dat ons nie terneergedruk of radeloos bly nie. Sy krag verseker ons dat God ons nie verlaat het nie. Sy krag keer dat ons vernietig word. (Lees 2 Kor. 4:7-9) . “U het my met krag omgord vir die stryd” (2 Sam 22:40) Skep moed, wees sterk, vlieg met arendsvlerke!  ~ Wilna Botha, 24/03/2020

Force majeure
Hierdie is 'n regs-term wat gebruik word om 'n maatskappy te vrywaar in 'n kontrak teen dinge wat totaal buite die mens se beheer is, en dit kan dinge soos aardbewings, siklone en ander erge natuurverskynsels insluit.
Force majeure word dan ook vertaal as "Acts of God", omdat dit groter gebeurlikhede is as waartoe die mens in staat is om teweeg te bring. In hierdie dae dink ek baie aan hierdie slegte situasie waarin ons onsself bevind en vra myself die vraag: Is this an act of God? As dit is, vra ek hoekom? As dit nie is nie, vra ek wie/wat dan? Ek het nie 'n antwoord nie, maar ek troos myself aan die volgende gedagte: te midde van alles, God is still acting!
Ek glo met my hele hart dat mense, gelowiges sowel as ongelowiges, meer na Hom uitroep as ooit tevore. Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here... (Ps. 121:1-2)
Ek lees dat iemand 'n sogenaamde Corona gebed geskryf het, maar ek moet erken dat ek dit nie gelees het nie. My eie weergawe van so 'n gebed, in hierdie tyd waarin ons onsself bevind het net vier woorde: Here help ons asseblief!!! Ek dink nie ek hoef vir die Here voorstelle te maak hoe om hierdie probleem op te los nie, ek hoef ook nie vir Hom 'n tydskaal te gee nie, ek het net een begeerte in hierdie tyd, en dis om uit my borskas uit te roep: HERE HELP ONS ASSEBLIEF!!!
Annalie Van Rooyen het onlangs in 'n onderhoud hierdie kosbare woorde uitgespreek: Ons het nie 'n hopelose einde nie, ons het eindelose hoop."
And God is still acting. Ek glo dit met my hele wese. ~ Willem Botha, 23/03/2020

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, jy is nie so in beheer van die wêreld soos wat jy dink nie, jou kassie kan binne dae geskud word. Miskien sê die Here vir ons: Respekteer die natuur, pas dit op, versorg dit, maar luister ook daarna. Miskien sê die Here vir ons: Ek gaan jou vir 'n rukkie uit hierdie rotresies haal waarin jy so magteloos vasgevang is, en Ek gaan jou dwing om rustig te wees. Miskien sê die Here vir ons: Gebruik hierdie tyd nuttig en leer weer jou mense ken, spandeer hierdie tyd wyslik en kom nader aan mekaar. Miskien sê die Here vir ons: Mens, jy gaan sien dat jou geld en weelde jou niks help in sulke tye nie, en jou geld (en Mammon) gaan vir 'n rukkie tweede viool moet speel. Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Leer om vir 'n rukkie minimalisties te leef, en sien raak hoeveel vrede daar in jou gemoed kan wees as jy bietjie sonder jou weelde moet klaar kom. Miskien sê die Here vir ons: Besef dat jou waardes maklik deur die genietinge van die wêreld negatief kan verander, en dink bietjie na oor wat regtig belangrik is in die lewe. Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, oppas dat jou selfsug nie ander tot nadeel strek nie, daar is genoeg vir almal, gun ander ook 'n stukkie brood. Miskien sê die Here vir ons: Mens, daar is mense wat Ek op jou pad gaan stuur, help hulle as hulle middele opgeraak het, Ek sal jou vergoed daarvoor. Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Ek wil hê dat daar weer eensgesindheid onder My mense kom, reg oor die wêreld, veg saam teen hierdie onsigbare gemeenskaplike vyand, dit gaan julle sterker maak. Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Dink weer kreatief, kom uit daardie gemaksone, jy is tot meer in staat as wat jy dink. Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, as jy na My soek in hierdie tyd, kyk op en sien My raak, ek het jou nie verlaat nie, ek hou jou steeds in die holte van My hand en Ek beskerm jou. Ek is steeds op my troon. Miskien sê die Here vir ons: Al gaan jy ook deur 'n dal van doodskaduwee, moenie vrees nie, My hand is uitgesteek, vat dit net. Miskien vra die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, kan jy sien hoe jy nog altyd kla met die wit brood onder die arm? Hou op daarmee.
Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Ek ontferm my gou weer, dis alles binnekort verby. Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Jy gaan vir my dank vir die goeie goed wat hieruit gaan vloei, Ek is besig om jou te leer en jy gaan dalk op 'n nuwe pad begin as alles verby is.
Miskien sê die Here niks van hierdie goed nie, miskien is dit maar net my eie gedagtes, maar dis waaraan ek vashou in hierdie tyd. Aan Hom. ~ Willem Botha, 19/03/2020

Jak. 5:16(b) "... Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking."
Ek kry 'n video van 'n persoon wat praat oor gebed in hierdie moeilike tyd en dis wonderlik. Ons moet mekaar aanmoediging om te bid, saam met mekaar bid en vir mekaar bid. Soms hoor of lees ek iemand se gebed en dit het vir my baie waarde, maar soms voel ek ongemaklik daaroor. Die betrokke gebed van bogenoemde persoon het my egter gepla omdat hy sê hy het 'n kragtige gebed geskryf wat hy vir almal voorhou en daarin word dinge erg gebind en bestraf, en ja, daar is sekerlik ook in 'n mate plek daarvoor.
Die punt wat ek wil maak is dat jou eie gebed, in eenvoud, met eenvoudige woorde, sonder omhaal van baie woorde, presies net so kragtig is. Om in eenvoudige taal met die Here te praat is al wat nodig is, presies soos 'n kind met 'n ouer praat. Jy kry sekerlik ook van hierdie boodskappe wat sê jy moet 'n spesifieke gebed vir 'n klomp mense aanstuur en dan ook terugstuur na die persoon wat dit vir jou gestuur het. Ek neem nie deel daaraan nie, die enigste Persoon wie se gebed ek graag bid is die eenvoudige gebed wat Jesus vir Sy dissipels geleer het. So mooi, en so eenvoudig.
“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose." (Matt. 6:9-13)
En as jy vir iets spesifiek bid, weet dat Sy wil moet geskied. Soms sê Hy ja, soms sê Hy nee en soms moet jy wag. Bid in eenvoud tot die antwoord duidelik is. ~ Willem Botha, 18/03/2020

“Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun” (Ps. 54:6) Eintlik wou ek nie vanaand óók ’n eiertjie lê oor die onderwerp waaroor álmal reeds praat en dink, waaroor álmal die hele tyd wonder, waaroor álmal benoud en bekommerd is en wat ons lewe op die oomblik bepaal en beheer nie. Ek wou nie nóg iets byvoeg oor die onderwerp waaroor omtrent elke Facebook inskrywing gaan en ja, die onderwerp waaroor baie van ons grappies gaan nie. Daarom het ek gedink ek gaan maar net doodeenvoudig rustig voort met my reeksie wat handel oor God wat sê: “Ek is ...”, oor wie die Here sê Hy is en wie Hy vir jou en my persoonlik is. En vandag se woord is Helper. Nou kan ek tog nie anders as om binne ons groot Corona kwelling van hierdie dae my oë en my gedagtes na ons Helper te draai nie. Wie anders as ons Helper gaan vir ons vrede en rus gee, gaan ons troos en lei, gaan ons optel en in sy arms troetel, gaan ons vul met hoop en moed en ons verseker dat ook hierdie onseker tye wel gaan eindig? Ek hoop die volgende teks in die Amplified Bible sal help om ons vanaand rustig maak: “For He Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let you down (relax My hold on you)! Assuredly not! So we take comfort and are encouraged and confidently and boldly say, The Lord is my Helper; I will not be seized with alarm (I will not fear or dread or be terrified). (Heb. 13:5-6) Wees stil en weet ... ons het ’n Helper. ~ Wilna Botha, 17/03/2020

Nou ja toe, hier is ons nou, almal saam in hierdie situasie. Die volgende tekste kom by my op, ek gaan niks daarvan verduidelik nie en hoop jy kry die idee.
Pred. 1:9-10 "Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. Is daar iets waarvan ’n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het." Jak. 4:13-14 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn."
Pred. 9:11" Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid."
Pred. 9:10a" Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen... "
Hand:2:44-45 "Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.
Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte."
Hab. 3:17-18 "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder."
Ps. 37:3 "Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort."
Jes. 60 :20 "Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby."
'n Paar jaar gelede het 'n kliënt wat 'n Belg is gesê die Belge gebruik die volgende spreekwoord in tye wat dit baie sleg gaan: "En tog skyn de son..."

Inderdaad, die Son sal more steeds skyn. ~ Willem Botha, 16/03/2020


Die Virus is op almal se lippe, daar word tans waarskynlik oor geen ander onderwerp méér gepraat as hieroor nie. Wat my verstom van die hele affêre is hoe vinnig dit versprei en mense aansteek. Ek het egter geen begeerte om verder daaroor te bespiegel en my daaroor uit te laat nie, maar ek het nogal gedink hoe vinnig die Evangelie destyds, na Jesus se hemelvaart, ook versprei het. Daar was geen televisie nie, geen media nie, geen koerante, Facebook, Twitter nie, niks anders nie. Ek verstaan hoe maklik die inligting (selfs vals inligting) oor hierdie Corona virus versprei, want ons kan wêreldwyd met mekaar kommunikeer in 'n oogwink, maar die verspreiding van die Evangelie verstom my steeds.
Hand 6:7 "Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs 'n groot aantal priesters het gelowig geword."
En daarvandaan oor die hele wêreld, soveel dat daar waarskynlik geen onbereikte groepe in die wêreld is nie. Dit het begin in Jerusalem, toe wyer weg van Jerusalem af, later na ander dorpe en uiteindelik oor kontinente. Verstom dit jou nie ook nie? Hoe het dit gebeur? Hoe het dit oor die groot waters beweeg?
Net soos met Die Virus, het dit van mens na mens versprei, letterlik van een mens na die volgende, deur om te vertel, een vir een! Die slim mense reken 'n virus woed homself uit, maar die Evangelie het net nooit momentum verloor nie, en dit hou steeds aan. Ongelooflik!
Dink jy nie ook dit sou sommer gou-gou tot niks uitgewoed het as dit 'n leuen was nie? Lyk my iets bonatuurlik is hier aan die gang. Ja, dit moet meer wees as dit, iets Goddelik!
Binne 'n jaar of twee sal Corona nie meer veel betekenis het nie want mense gaan dit vergeet, maar die Evangelie het die toets van tyd, die ongelowigheid van mense en selfs vervolging deurstaan. En die simptome van hierdie "virus" is bekend:
Gal. 5:22-23 "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie." ~ Willem Botha, 12/03/2020


“Daar is immers net een God en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het.” (1 Tim 2:5-6) Jesus is ons Middelaar. Hy staan tussen ons en God. Met Sy bloed het Hy betaal sodat ons verhouding met God herstel kan wees, sodat ons aanvaarbaar en skoon is vir God. Ja, vanweë ons sonde hét ons ’n Middelaar nodig. Vanweë ons tekortkominge het ons Iemand nodig om in ons plek te staan. As Jesus ons Middelaar is beteken dit ook dat Hy die Tussenganger is tussen ons en God – die weg na God. Hy maak die pad na God se troon vir ons oop, Hy is vir ons die Deur na die ewige lewe. As Jesus ons Middelaar is beteken verder ook dat Hy ons Voorspraak is. Hy praat namens ons, Hy pleit namens ons, Hy tree in namens ons by God. As Middelaar is Hy ook die Interpreteerder. Hy vertaal ons bedoeling, ons dade, ons behoeftes, ons smekinge, ons hartseer. As Middelaar is Jesus ons Advokaat – die Een wat ons saak behartig, wat die waarheid oor ons ken en wat meewerk dat ons onskuldig bevind en vrygespreek word. Dit alles is Jesus op hierdie oomblik vir jóú! Nie êrens in die verlede of toekoms nie... nee, Hy sit aan die regterhand van God en is nóú jou Middelaar! “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (Rom 8:33-34) ~ Wilna Botha, 11/03/2020

As dit te laat is is dit te laat.
Ek bel vanoggend 'n vriendin van ons wie se man voorverlede jaar oorlede is en sy vertel hoe swaar sy kry en hoeveel sy hom mis. Ons het tot die slotsom gekom dat mens elke dag wat jy gesond is moet koester, en elke oomblik die beste moet maak van die verhoudinge met ons geliefdes. Sy sê toe iets wat my vir die res van my lewe sal bybly. Sy sê dit moet verskriklik wees om vir iemand jammer te sê wat reeds oorlede is. Is dit nie waar nie? Hoe kry jy "closure" met iemand as jy nie meer 'n saak wat sleg was kan regstel nie? Hierdie ding ruk my soms aan die hart, want daar kom 'n tyd, soos jy ouer raak, wat jy besef dat die aardse besittings waarvoor jy so geswoeg en gesweet het, niks meer beteken nie. Jy ken seker hierdie gedagte: Na 'n man se afsterwe vra iemand wat die oorlede persoon nagelaat het, toe antwoord die ander persoon: Alles!
Ek het hierdie paar gedagtes vir myself uitgemaak:
Moenie wag voor jy begin lewe nie, begin nou.
Sorg dat verhoudings met geliefdes en familie (ja ALMAL, inkluis daardie broer of suster van wie jy vervreem is) gesond bly. Jy gaan dalk saam met daardie persoon by 'n graf staan.
Tyd saam met jou gesin is meer werd as miljoene rande.
Sê meer gereeld vir die baas "nee", as vir die gesin.
Doen klein dingetjies saam wat "memories" maak.
Bederf jouself ook soms, en dit hoef nie baie te kos nie.
Kyk na jou gesondheid, so goed as moontlik.
Leer om dankbaar te wees. Wees elke dag as jy nie 'n ongeneeslike siekte het nie, dankbaar daarvoor.
Ons land is glad nie so sleg nie, leer om hier gelukkig te wees as jy nie elders gelukkig kan gaan wees nie. Ek glo in elk geval dat jy dalk elders net so ongelukkig gaan wees, jou probleme trek saam.
Moenie aardse skatte bymekaar maak nie, maak hemelse skatte bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie.
Dien die Here. ~ Willem Botha, 03/10/2020

“Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.” (Joh. 6:51) Jesus, ons Brood. Ons vaste kos wat totaal  versadig en bevredig, vir altyd. Maar, as die Brood in die “broodblik” bly en jy dit nie “eet”, sodat dit deel van jou word nie, sal jy soekend bly en uiteindelik sterf van die honger. Die Israeliete het manna uit die hemel gekry, net genoeg vir elke dag. God het dit uit genade aan hulle voorsien. Hulle het nie gewerk of betaal daarvoor nie. Ons het die lewende Brood ontvang. God gee dit uit Sy genade aan ons. Ons hoef nie daarvoor te werk nie. Ons hoef nie daarvoor te betaal nie. Ons hoef maar net elke dag ons porsie daarvan te neem, op ’n geestelike en simboliese manier, sodat ons vol kan word van Jesus. Die Israeliete moes van die manna bewaar sodat die nageslag kon sien waarmee die Here die volk in die woestyn gevoed het. (Lees Eks. 16:32) As ons Jesus se genade en voorsiening en goedheid geproe het, moet ons Hom vir ons nageslag wys en Hom deel met ons naaste. As ons bid: gee ons vandag ons daaglikse brood, vra ons nie nét voorsiening en versorging op tydelike, fisiese vlak nie, maar ook genade en sekerheid op ewige, geestelike vlak. Lewe as iemand wat Sy liggaam geëet en Sy bloed gedrink het – vry, tevrede, vol hoop.  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe... Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” (Joh. 6:50-51, 56) ~ Wilna Botha, 09/03/2020

Ek glo nie aan die liefde nie...
So sê 'n man vir my so paar jaar gelede op 'n Mannekamp. Toe ek vra of hy dan nie vir sy vrou lief is nie, toe sê hy dis net kameraadskap! Sjoe hoe vreeslik moet dit nie wees nie! My ma het liefde op 'n tasbare manier gewys, deur aanraking, "hugs and kisses", deur dit te sê en deur liggaamstaal wat met niks anders verwar kon word nie. My pa het dit bewys deur 'n versorger te wees, 'n beskermer en raadgewer, maar nie eintlik met woorde nie. Natuurlik ook deur ons gepas te straf as dit nodig was. Ek het ook nooit getwyfel oor sy liefde vir ons nie. Hy was ongelooflik lief vir ons.
1 Joh 4:16 "En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom."
Is dit nie wonderlike woorde nie? Wie in die liefde bly... Weet jy, as ek soms aan my vrou en kinders dink is daar 'n gevoel van liefde wat in my hart opwel wat amper pynlik is, en dis die beste gevoel op aarde. So voel God oor jou ook. Ek is seker dat jy die volgende teks baie goed ken en die sin sommer in die middel van die nag kan klaarmaak: "Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy..."
En as jy die dag nie meer geliefd voel nie, voel maar net weer. En jy het meer liefde om te skenk as wat jy ooit sal besef.
"... wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom." ~ Willem Botha, 05/03/2020

Jou Pa is die Koning
Ons het vir ons kinders twee pertinente dinge geleer vandat hulle baie klein was.
1) Daar is geen probleem te groot om op te los nie.
2) Ons sal altyd daar wees vir julle, ongeag van hoe groot die probleem is, en selfs as jy dit oor jouself gebring het.
Met daardie gedagte het hulle grootgeword, en vandag, as volwassenes, weet hulle dit geld steeds. Ma en pa se fone is dag en nag aan, en altyd beskikbaar vir hulp.
Ken jy hierdie liedjie: My Pa is die Koning?
Hier volg die refrein:-
"My Pa is die Koning van die heelal jy weet, en kom wat wil ek sal dit nooit vergeet nie die wind kan waai, die berge kan val, Hy't gesê Hy voorsien en Hy sal. Ek's die Koning se kind, ja dit maak my 'n prins, my lewe is Christus, selfs die dood is 'n wins. Vir niks is ek bang nie, dit sê ek jou nou, my Pa is die Koning onthou".
As jy altyd daar is vir jou kind, soveel te meer sal die Here altyd daar wees vir jou ook, en Sy "landlyn" is altyd oop, en solank as wat jy jou status as prins of prinses ken, kan jy jou beroep op die voordeel van Koningskind wees.
Dus, as jy bekommerd is, besef net jou Pa is die Koning, as jy in nood is, onthou net jou Pa is die Koning, as jy nie weet watter kant toe nie, weet vir seker jou Pa is die Koning, as die tonnel voor jou so vreeslik donker is, glo net jou Pa is die Koning, as almal jou verstoot en slegmaak, jou Pa is die Koning. As dit voel of die bose die oorhand oor jou kry, onthou net jou Pa is die Koning.
Maar aan die ander kant ook. As jy dankbaar is en nie jou "geluk" kan glo nie, besef dis omdat jou Pa die Koning is, as jy voel of die wêreld aan jou voete is, besef net jou Pa is die Koning, en dis Sy geskenk aan jou. Onthou die volgende:
1) Daar is geen probleem te groot om op te los nie.
2) Hy sal altyd daar wees vir jou, ongeag van hoe groot die probleem is, en selfs as jy dit oor jouself gebring het. ~ Willem Botha, 04/03/2020

“U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” (Gen. 16:13) God sien vir my en jou ook raak. Hy het ons al gesien toe ons nog ongebore was, sê  Ps. 139:16 – tóé al het Hy van elkeen geweet en ons lewensdae opgeskryf. Die Here sien die innerlike raak, Hy sien ons gedagtes, motiewe, begeertes en verlange. “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.” (Ps. 139:1-2) Hy sien my nood en wil my help - Hy het sy oë oral op die aarde om dié te help wat op Hom vertrou, sê 2 Kron. 16:9. Saggeüs het in die wildevyeboom opgeklim om Jesus te sien, maar hy het nie verwag dat Jesus hóm sou raaksien nie en tog hét Hy en Saggeüs se hele lewe verander van daai oomblik af. Die woorde van die bekende liedjie kom by my op: “Maar U sien ver, oneindig ver, U sien my honger dors, nog voordat ek kon skuld bely, druk U my aan die bors.” Of ons verdwaal het en ons eie pad gevat het, of ons vir die Here probeer wegkruip, of ons êrens in die donker dieptes is of in ’n grot sit en onsself jammer kry, of ons in ’n woestyn rondploeter en of ons êrens in ’n hoë boom sit, Hy sien ons. Ek hoop jy sien Hom ook raak. “... hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” ~ Wilna Botha, 03/03/2020

Wat sal ons daarvoor kry?
Dalk jy is ook soms moedeloos oor hierdie Christen-storie. Soms voel dit vir my of ons regtig met moeite vashou aan hierdie keuse om Jesus te volg. Aan die een kant ontneem dit vir ons van baie dinge want ons mag nie aan die wêreld gelykvormig raak nie, terwyl dit dalk lyk of dit net soveel lekkerder en makliker is. Jy kan maar jou gewete afstomp en maak wat jy wil. Voel jy ook soms so? Maar ek glo tog dat as jy hier lees, het jy ook op 'n tyd hierdie wêreld se dinge agter jou gesit. Amper soos Petrus wat alles gelos het om Jesus te volg. Maar hy het ook nie geweet wat vir hom wag nie. Ek beskou Petrus as 'n sterk karakter, en hy het diep spore getrap.
Matt. 4:18 - 20 "Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
So begin Petrus se nuwe lewe as 'n dissipel. Maar Petrus het later ook so effe begin klei trap.
Matt. 19:27 Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”
Dit klink so bekend. Maar Jesus het vir hom absoluut niks belowe op aardse vlak nie, nie enige vorm van voorspoed nie, niks materiële dinge nie, Hy het nie Petrus se gesondheid gewaarborg nie, net mooi niks. Hier is Jesus se antwoord in Vers 28: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.”
En dis al wat ons ook gaan kry, oorwinnaarskrone in die hiernamaals. En dis dit, niks meer en niks minder nie. En as ek nou nie hiermee tevrede is nie moet ek nou maar alles opgee vir 'n "bad job".
Maar jong, ons gaan lank daar aan die ander kant bly, soos in vir altyd. So, ek bly dan nou maar by my keuse, want aan hierdie kant is daar steeds soveel vreugde om saam met Hom te stap. So, goeie besluit. ~ Willem Botha, 03/02/2020

“Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan.” (Heb. 6:20)  ’n Voorloper baan die weg vir sy volgelinge wat ná hom kom, hy maak die pad gelyk en sorg dat alle hindernisse uit die weg geruim is, dat alles veilig en maklik is vir dié wat hom volg. Dis vir my so wonderlik om aan Jesus te dink as ons Voorloper, om Hom as Voorloper te vertrou en te volg. Ons kan met gerustheid en geloof agter Hom staan, ons kan stap waar Hy stap, deure wat vir Hom oop is, sal vir ons ook oop wees.  Hy baan vir ons die weg: Hy het voor geloop in die dood in, sodat ons nie die dood hoef te vrees nie; Hy het voor geloop en die spot en verwerping en eensaamheid beleef, nou kan ons agter Hom skuil wanneer daai verguising op ons pad kom; Hy het voor geloop en vir ons sonde betaal, sodat ons vrygestel is van die skuld en die las van ons sonde; Hy het voor geloop en versoeking weerstaan en nee gesê vir sonde en verleiding – nou kan ons dit ook doen. (Heb. 2:18); Hy het voor geloop en die duiwel oorwin, nou is Hy ons skild wat enige aanvalle afweer. Ons Voorloper het vir ons die pad na God se genadetroon oopgemaak waar ons vergifnis en volkome aanvaarding kan ontvang, waar ons met barmhartigheid en genade gehelp kan word. (Heb. 4:16) Hy is die Weg en die Voorloper na die ewige woning wat Hy vir ons as sy volgelinge gereed gemaak het. Hy loop voor en ons kan Hom met vrymoedigheid en volle geloofsekerheid volg. ~ Wilna Botha, 27/02/2020

Matt. 10:29-31 “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Dis so ‘n bekende gedeelte, wat so kragtig is, en iets waaraan ons elke liewe dag kan vashou. Ons is in die Here se oë baie meer werd as mossies, en Hy het hulle ook absoluut volmaak geskep. Ek dink hierdie deel spreek vir my van die Here se liefde en versorging op ‘n mooi manier.
Hoekom jou bekommer oor die dag van more, hoekom bekommerd wees oor geld, hoekom stres oor gesondheid? Ek dink die antwoord is voor die hand, ons is wesens wat tog wil voel dat dinge onder beheer moet wees en daarom sukkel ons as dinge skeefloop.
Ek dink die probleem waarmee ons sit, is ons verwagting van God se versorging. Is kos en klere genoeg? Is jou gesondheid genoeg? Of is ons bang om daardie luukshede wat ons besit te verloor? Sal ek een van my motors verkoop as dit bietjie swaar gaan? Gewis nie, ek glo ons almal hou daarvan as die Here sorg dat al daardie dinge bly. Dán sê ek die Here sorg. Maar wat van ‘n ma wat haar brandmaer sterwende baba vashou iewers op in Afrika? Wanneer voel sy dat die Here gesorg het? Ek kan jou vertel wanneer: as iemand een enkele droë brood vir haar gee, dalk genoeg vir net een dag, sal sy die Here uit volle bors loof en prys, en vertel van Sy genade en versorging.
Hoe bederf het ons nie geraak nie. Hierdie is die rede hoekom mense so graag agter voorspoedteologie aanhardloop, want hulle kan net nie genoeg kry nie. Ek dink ons almal het daardie streep weg op een of ander manier. Hoe meer die Here gee, hoe meer vra ons.
Mag ons net weer bietjie terugkom aarde toe en raaksien wat ons het. Nou sit ek so en dink: sou ek my motor verkoop om te sorg dat daardie sterwende baba ‘n kans op lewe het? Ek weet wat die antwoord is. Durf ek vra vir nog en nog, en nog?
Het jy geweet dat jy waarskynlik onder die 10% rykste mense op aarde is? ~ Willem Botha, 26/02/2020

“God is ryk in goedheid.” (Rom 2:4) “My goedertierenheid”, noem Dawid die Here in Ps. 144:2. Wat meer het ons nodig as ’n God wat goed is vir ons? Wat áltyd goed is vir ons, wat ryk is in goedheid. Jy kan dalk dink dat as ek geweet het van al jou swaarkry, van jou geldelike probleme, van jou miskraam, as ek geweet het van jou kind wat kanker het, van jou man wat onlangs oorlede is, van jou kind wat nou die dag geëmigreer het, sou ek nie so maklik vir jou sê: “God is goed” nie. Wel, God ís goed, al sien ek dit dalk nie nou raak nie, al voel dit dalk nie nou vir my so nie. My omstandighede bepaal nie of God goed is nie, Hy ís God en Hy ís goed en Hy ís goed vir jóú. As ek in Ps. 34 van Dawid se probleme en stryd en angs en doodsgevare en moedeloosheid lees wanneer hy vlug van Saul af, dan sien ek hy sit ook maar hier met ’n groot porsie swaar en benoudheid en tog vertel hy van die Here se goedheid. “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly” sê hy in Ps. 23:6 – ja, selfs al gaan jy deur donker dieptes, deur die dal van doodskaduwee, die Here se goedheid volg jou. Mag jy styf vashou aan jou Goedertierenheid, mag jy aanhou glo dat Hy alles ten goede sal laat meewerk en dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer jy sal terugkyk na vandag en sê: waarlik, God is goed. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” (Ps. 34:9) ~ Wilna Botha, 25/02/2020

“The moment God is figured out with nice neat lines and definitions, we are no longer dealing with God”
Ek lees onlangs hierdie aanhaling op iets wat iemand op Facebook geplaas het, en dit tref my tussen die oë. Onmiddellik vra ek die vraag: Wie is ek om oor Hom te praat en te skryf? Wat weet ek van Hom? Ken ek Hom werklik goed genoeg om te sê: “So sê die Here Here?” Dit vervul my met vrees! Regtig.
Ek dink gereeld oor hierdie goed en ek probeer myself binne die raamwerk van my eie beperkte kennis van Hom te plaas. Ek is so krities oor so baie mense/predikers/profete/navolgers en mede Christene. Ek sê graag vir ander dat óf ek, óf sus of so moet reg wees, want ons kan definitief nie albei reg wees nie. Want oor so baie sake voel ek dat ek hemelsbreed verskil van ander se opinies, en toe besef ek dat ek maar net staatmaak op my eie opinies, en ook op diegene wat ek as mentors beskou. Ons leef in ‘n baie gevaarlike tyd op Geestelike vlak, want ons word aan vreeslik baie goed blootgestel.
Wie is God? Wat ken ek van Hom anders as dít wat in die Bybel staan? En voorts, interpreteer ek dít wat ek lees reg? Kan ek Hom in daardie boksie plaas wat deur hierdie aanhaling hier bo beskryf word?
God is groot, Hy is almagtig, Hy is buite die verstandelike vermoëns van die mens, maar tog stort Hy Sy liefde op ons uit, tog praat Hy met ons, tog openbaar Hy Homself aan ons, tog is ons bewus van Sy teenwoordigheid en tog wil Hy ons gebruik.
Toe dink ek onwillekeurig aan die insident toe die Here met Moses uit die brandende braambos gepraat het. Toe Moses wou weet wie God is, was die antwoord eenvoudig: “Ek is”. Daarom kan ek en jy ook ten spyte van ons vrese en onsekerheid sê: “Ek is” sal my lei om die regte goed te sê waar ek heen gestuur word. “Ek is” sal vir my wysheid gee, “Ek is” KAN aan die woord wees deur my, “Ek is” wil jou en my gebruik nes ons is, “Ek is” sal jou toerus. Moenie Hom in ‘n boksie probeer plaas nie, Hy pas nie daarin nie, plaas Hom eerder net in beheer van jou lewe. ~ Willem Botha, 24/02/2020

“Want U is ... ’n skaduwee teen die hitte” (Jes. 25:4) Ons hou nogal daarvan om op Saterdagoggende deel te neem aan ’n Parkrun. Verlede Saterdag was dit toe ook weer so, maar dit was vreeslik warm en die pad was lank en steil en moeilik! En toe, aan die einde van daai lang opdraande was daar, heel onverwags, ’n groot boom met ’n koel skaduwee en onder die boom ’n kraan. Dit het gelyk asof almal ’n rukkie in daai skaduwee wou vertoef, ’n slukkie van die water vat en hulle sweterige gesigte afspoel met die koel water, voordat hulle die res van die pad aandurf. Toe kom hierdie teks by my op: U is ’n skaduwee teen die hitte. Die lewe se opdraande paaie lei altyd na Sy skaduwee, waar ons kan rus en verkwik word, waar ons bietjie kan (en moet) vertoef voordat ons verder gaan, waar ons kan asem skep en kan moed kry vir die volgende opdraande. Wanneer die pad onhoubaar word, wanneer die hitte van die alledaagse stryd té veel raak, wanneer dit voel of jy nie verder kan beur nie, is jou Skaduwee daar vir jou, is daar vir jou ’n veilige rusplek by die Here – daar waar Sy hand vir jou ’n koel skaduwee sal gee, waar jou gemoed sal kalmeer en jou gedagtes verfris  sal word. “Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. Daar sal ’n skuiling wees, ’n skaduwee teen die hitte bedags, ’n skuilplek en toevlug teen stortbuie en reën.” (Jes. 4:6) ~ Wilna Botha, 20/02/2020

Matt. 18:21-22 Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”
Hierdie teks is welbekend, so ook al die tekste wat verwys na Jesus se vergifnis, maar daar is nog een element van vergifnis wat waarskynlik baie moeiliker as enigiets anders rondom vergifnis is, en dis selfvergifnis. Ek sien hoe mense, soos wat hulle ouer word, sukkel met hulself oor hierdie ding, en dan juis nog meer as hulle gekonfronteer word met hulle eie sterflikheid. Daar is dinge in elkeen van ons se verlede wat soms aan ons karring. Dalk ‘n slegte verhouding met ‘n ouer of ander familielid, of selfs ‘n kind wat nou uit jou prentjie is en selfs sondes waaroor jy nie kan kom nie. Daar is nog dinge, wat ver verwyder is van ander mense, dinge wat dalk op jou afgedwing was. Ek het al gehoor hoe mense sit met selfverwyt oor dinge wat destyds tydens die grensoorlog gebeur het, en dan nog meer as jy opdrag ontvang het van hoër gesag om dinge teen jou sin te doen.
Al hierdie dinge rem mens letterlik af, en soos die tyd aanloop word dit al groter in jou kop, maar iewers moet jy begin met die proses van selfvergifnis. Net soos om iemand anders te vergewe, begin dit met ‘n keuse om te sê “let bygones be bygones “. Aanvaar dat die Here al vir jare nie meer daaraan dink nie, en dat Hy Sy deel van vergifnis klaar gedoen het. Dit help nie om vir ewig te wroeg en saagsels te saag nie. Gaan staan voor die spieël en vra vir jouself vergifnis, en begin dan om dit te aanvaar, dag vir dag. Die nie maklik nie, maar dis bevrydend as daar uiteindelik vrede in jou gemoed kom. ~ Willem Botha, 19/02/2020

“Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!” (Eks. 15:3) Ons bevind ons weliswaar nie vandag in ’n fisiese oorlog nie, maar ons voer wel voortdurend ’n stryd teen ons sondige natuur, ons is in ’n stryd teen die wêreldse verleidings, teen die bose magte in die lug (soos wat Ef. 6:12 daarvan praat). Dan is daar natuurlik ons daaglikse stryd teen tyd, teen moegheid en uitbranding, teen ons swakheid en menslikheid, teen ons eie negatiewe gedagtes, teen vrees, teen siekte ... noem maar op - jy weet teen watter vyande jy vandag moes opstaan. Hoe bevrydend is dit nie om oor te gee aan dié Een wat die Oorwinnaar in elke stryd is, dié Een wat reeds teen die bose oorwin het, dié Een wat reeds sonde en dood oorwin het, dié Een wat alles weet en oral teenwoordig is, dié Een wat jou uitnooi om by Hom te kom rus en Hom toe te laat om namens jou te veg. Sy Naam is ‘die Here’ en Hy sê vandag vir ons: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” (Eks. 14:14) Ons krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jes. 30:15) Dis moeilik om stil te wees en oor te gee nè? Ons wíl mos self in beheer wees, self veg, self ons pad kies. By die Here vind ons die oorwinning, die vrede wat alle verstand te bowe gaan. “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33) ~ Wilna Botha.18/02/2020

Ons het onlangs ‘n baie interessante gesprek gehad rondom mense se belewenis van God. Dit lyk my baie mense probeer sin maak van God, ‘n god, spiritualiteit, geestelike belewenis, die Bybel, en dan waar al hierdie dinge in hulle lewens inpas.
Die lyk vir my of vele mense wegdryf van die Here af, en dan soek na redes wat dit aanvaarbaar maak. In die proses kry mense seer in die kerk, of hulle voel Christene benadeel hulle, en draai dan eventueel hulle rug op alles.
Wat my toe laat besin oor hoe ek self met die Here omgaan. Waar staan ek self in hierdie proses? Ek het baie duidelik besef dat my mees “ongelukkige” Geestelike belewenisse in tye kom wat ek dinge begin bevraagteken, en glo my, dit gebeur dikwels. Ek twyfel nie of God bestaan nie, en ek twyfel nie oor die inhoud van die Bybel nie, maar wel waar dit vandag in my eie prentjie pas. Die Bybel kan nogal ‘n ongemaklike boek raak op tye, maar dis alles of niks, of ek dit so wil sien of nie. Dit sou my nogal pas om ‘n klompie tekste te verwyder, maar dit werk toe nou nie so nie.
Ek dink toe aan hierdie teks in Jak. 1:6 wat sê “Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.”
Dis nogal waar né? Hoe verder ek wegbeweeg van kinderlike geloof af, hoe meer dobber ek doelloos rond. Maar die tye wat ek net eenvoudig oorgee, het ek die heerlikste vrede denkbaar. Ek kan die Here nie altyd verstaan nie, en ek dink ook nie ek behoort dit te probeer nie.
Rom. 11:34 “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?” ~ Willem Botha, 17/02/2020

“God is the source and sustainer of everything.” (Rom 11:36) Die Here is die bron van alles. Alles het by Hom ontstaan en het deur Hom ontstaan. Hy is die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste, die Alfa en Omega. Hy hou alles in Sy hand en alles wat ons is en het en nodig het kom van Hom af. Met Sy eie hand het Hy vir elkeen van ons ’n unieke porsie afgemeet. “Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps. 16:5,6) Kyk wat is alles in Sy oorvloed-stoor vir ons: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.” (1 Kor. 2:9) Dit is alles wonderlik, maar nou het ek gewonder: is dit wat Hy vir my en jou gee genoeg vir ons? Is ons tevrede met die gawes, geld, goed, gesondheid, genade wat Hy vir ons gee? Of die eintlike vraag: Is die Here genoeg vir jou? Kan jy werklik uit jou hart uit sê: “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie?” (Ps. 23:1) Is Hy genoeg vir jou as jy jou werk verloor het? Is Hy genoeg as jy by ’n geliefde se graf staan? Is Hy genoeg as jy slegte nuus in die dokter se spreekkamer gekry het? Is Hy genoeg as jy nou net uit die skeihof uitgestap het?  Is Hy genoeg as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie? Ek wéét Hy is en ek wil dit met my hele hart glo en leef. ~ Wilna Botha, 13/02/2020


Vandag was my vriend, wat verlede week oorlede is, se begrafnis. Ek het vandag net opnuut besef watse fyn lyn lê tussen lewe en dood. Duskant daardie lyn is lewe (natuurlik), geleenthede, hoop, verwagting, ‘n toekoms, drome, liefde, verhoudings en ontelbaar ander dinge. Anderkant daardie lyn – wat die aardse betref – is slegs herinneringe. Verder niks. Heeltemal niks.
Duskant daardie lyn kan jy ‘n verskil maak, mense ondersteun, die wêreld verander, jou gesin vorentoe neem en bo alles, vir mense bid en hulle na die Here toe lei, maar anderkant daardie lyn is dit te laat. Jy kan nie eers meer vir die afgestorwene bid nie, want daar is niks om voor te bid nie. Ek moes vir myself net vandag opnuut die vraag vra: wat maak ek met my lewe? Wat maak ek met my gesin se lewens, wat maak ek met verhoudings? En dan die enkele vraag: Lewe ek? Lewe ek voluit? Of bestaan ek net?
Ek het nie beheer oor daardie fyn lyn nie, ek bepaal nie waar daardie streep getrek word nie, maar ek bepaal wat ek met “hierdie kant” doen.
Here, mag my lewe asseblief nie nutteloos wees nie! ~ Willem Botha, 12/02/2020


“Ek is die helder Môrester”, so sê Jesus self in Openb. 22:16. As die môrester verskyn, dan is dit nog nie lig nie, maar dan weet jy die oggend is nou naby en die donker gaan binnekort iets van die verlede wees. As die môrester opkom, dan kan die gevare en onsekerheid van die nag, die eensaamheid van die donker ure, die vrees en benoudheid en slaaploosheid van die nag, die natgehuilde kussing , plek maak vir nuwe hoop, vir nuwe sekerheid dat ’n vars, nuwe dag aan die kom is, dat nuwe geleenthede gaan aanbreek, dat uitkoms naby is. Mag jy in die nag-tye van jou lewe altyd jou oë gefokus hou op die helder Môrester, op Sy genade en ontferming en liefde wat elke môre nuut is en Sy getrouheid wat groot is (soos wat Klaagl. 3:23 sê). ~ Wilna Botha, 11/02/2020

Die grootheid van God.
Hoe groot is God werklik? Waartoe is Hy in staat? Hoe kan ons ooit meet en waarteen sal ons Hom kan meet? Ons kan welvaart en rykdom meet en sê iemand is 10 biljoen rand sterk. Maar hoe sal ons God se grootheid kan uitdruk? Seker onmoontlik! Maar, ek wil dit vandag probeer meet teen Sy skepping. Dis seker logies dat die Skepper groter (magtiger) moet wees as Sy skepping. Waar begin ons? Ek gaan probeer om eers te begin by die mikroskopiese en dan uitzoem tot die makroskopiese. Gaan saam met my op hierdie ongelooflike reis deur God se heelal.
Kom ons verbeel ons ons kyk deur 'n enorme groot kragtige teleskoop van buite die heelal af. Dit wil sê, hierdie teleskoop kan die totale heelal in sy kragtige lense sien, maar die teleskoop is tans ingezoem tot op mikroskopiese vlak. Hy kan dus uitzoem om die hele heelal te sien, maar is tans ingezoem. Ons bevind ons nou in 'n toestand van totale leegheid, en niksheid. Waar ons nou is, is relatief tot materie, groot leë afstand. Ons is binne-in 'n atoom. Ons sien in die vêrte 'n spikkel - dit is die atoomkern, ook genoem die nukleus. Dit bevat die protone en die neutrone van die atoom. Nou begin ons uitzoem, en sien skielik iets wat om hierdie atoom wentel, dis die elektrone. So beweeg ons uit die atoom uit. Dan sien ons in die lens hoe miljoene der miljoene van hierdie atome dig teen mekaar gepak is. Nadat ons BAIE ver uitgezoem het, sien ons dat alles dig en solied lyk. En herken hierdie krateragtige landskap as 'n stukkie vel op jou lyf. Klein stukkie. 'n Uiters indrukwekkende stukkie van God se skepping. Zoem nog verder uit en sien uiteindelik 'n hele mens. Wow - die kroon van God se skepping! Na Sy beeld. Zoem nog verder en verder uit en sien Pretoria van bo af. Mense lyk klein, motors beweeg soos klein spikkeltjies rond. Nog verder weg sien ons niks meer hiervan nie, en sien uiteindelik 'n groen en bruin landskap. Nóg verder, en die hele aardbol is in sig, blou, groen, bruin, skep 'n ongelooflike mooi prentjie. Dis ons woonplek. My en jou liggame, en atome is tans baie baie klein!!
Soos ons nog terug beweeg, raak ons bewus van absolute donkerte, maar skielik kom 'n rooi vuurbal in sig. 150 miljoen km van die aarde af. Ons hoof energiebron. Steeds totale niksheid en leegheid. Laat ons dink aan die atoomkern. Uiteindelik is ons so ver uitgezoem dat ons ons sogenaamde sterrestelsel in die lens sien. 'n Klompie planete wat in perfekte orde om die son wentel. Hierdie planete (party klein, party enorm) het mane, wat weer om hulle wentel. Die wentelbaan van die verste planeet van die son, is baie baie groot.
Nadat ons baie baie ver uitgezoem het, begin ons ander sterre in ons lens sien. Die naaste een is 4,3 ligjare van die aarde af (nou nie eers hoegenaamd 'n spikkel nie) Soos ons verder uitzoem, sien ons naderhand miljoene en miljoene sterre. Ons is in die hartjie van ons melkweg. Ons tuiste, in ons eie galaksie. Tot nou toe sien ons ook miljoene planete, maar waarskynlik almal leeg en leweloos (ons weet nie). Alles deur God geskep. Die prentjie voor ons in die lens gee ons steeds die gedagte van leegheid en niksheid, met enorme afstande (miljoene ligjare) tussen die sterre. Koud, donker en leeg. Ons zoem só ver terug, dat ons die hele melkweg in die lens sien. 'n Ongelooflike groot spiraal wiel. Lig neem 100 000 jare om van een punt tot die ander te beweeg. Dit lyk soos twee pierings wat op mekaar lê. 'n Wiel. Duisende miljoene sterre in ons galaksie. Ons woon daarbinne. Nie in die middel nie - twee-derdes vanaf die naaf. Alles deur God geskep. Ons zoem nog verder uit en die melkweg lyk soos 'n stoffie in niksheid. En dan kom nog van hierdie stoffies in sig. Nog galaksies, elk met duisende miljoene sterre in volmaakte orde vasgevang. Ons tel so 30 van hulle. Wetenskaplikes noem dit die 'local group'.
Maar dan, soos ons verder en verder uitzoem, sien ons duiselwekkende hoeveelhede van hierdie galaksies. Die meeste lyk soos spiraal wiele met arms wat netjies om die naaf gedraai word. As ons klaar uitgezoem het, is daar duisende miljoene van hierdie galaksies, elk met duisende miljoene sterre.
Alles!! Deur God geskep. Ons het nou heeltemal uitgezoem. Van die aarde is daar in die grootte van hierdie enorme uitspansel, niks niks te sien nie. Jy kan nie 'n klein genoeg spikkel plot om dit aan te dui nie.
Die Woord van God sê Hy het vir elkeen van hierdie sterre 'n naam gegee.
Miskien sien ons nou wat God kan sien! En ons vra onsself af: “Wat is die mens dat U aan hom dink?”
Stem jy saam dat God nog miljoene keer groter is as hierdie enorme skepping? Weet jy hoe het Hy dit geskep? Deur te sê ……… Uit Sy mond kom alles! Waar pas die mens in hierdie prentjie? Wat is die mens dat U aan hom dink? In hierdie enorme enorme skepping staan tyd ast’ware stil. Geen dag of nag, jare, weke, niks!
Maar 2000 jaar gelede gebeur iets groter as hierdie hele indrukwekkende skepping.
Jesus, self God, kom skep 'n fisiese liggaam, van atome om vir 33 jaar in te woon. "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God." (Joh 1:1) Kan jy sien dat daar nie 'n aardse pa nodig was nie? Glo jy nou dat 'n maagdelike geboorte moontlik was? Jesus (self God) kry 'n menslike gestalte op 'n uiters geringe, klein stof kolletjie van 'n planeetjie. Hy verlaat Sy hemelse woning, zoem ast’ware terug tot op atoom vlak en word mens.
My vriend, as jy enigsins glo dat Jesus wel geleef het, moet jy besef wat die impak van Sy lewe op aarde is. Hy kom vanuit die hoogste hemele, stel Homself voor in die gestalte van 'n slaaf, was mense se voete, bid vir hulle, verneder Homself, selfs tot in 'n graf. Vir jou, en my!
Die Skepper, word 'n Skepsel van Homself. Joh 1 : 2 "Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom, ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie".
Hy sterf aan 'n kruis, maar bly steeds baie groter as Sy skepping. Selfs die dood kon Hom nie gevange hou nie.
Joh 1 : 4 "In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense."
Net sy liggaam sterf. En dan, op een goeie dag, verlaat Hy die aarde. Miskien sien Hy voor Sy oë ook hierdie ongelooflike reis soos ons deur ons teleskoop, soos wat Hy opvaar na Sy plek langs God die Vader.
Maar ….. my vriend, JUIG, want toe stuur Hy die Heilige Gees om in jou en my te woon. Halleluja! Ons is nie alleen op ons nietige stoffie nie. God is hier! In jou en my! En ons kan saam met Hom regeer as ons die ewige lewe kry. DEUR NET TE GLO!
Glo jy dat Jesus die Seun van God is, self God, gesterf het vir jou en my? Opgestaan het? Opgevaar het? DAN IS JY GERED!
Dan sal ek en jy ook DIT sien wat God sien, soos toe ons teleskoop uitgezoem was!!
God is groot. Groter as die skepping, groter as die bose, groter as ALLES wat sleg is op aarde, en groter as jou en my sondes.
En Hy maak daagliks bemoeienis met jou en met my. ~ Willem Botha, 20/02/2020

Jesus is die Hoeksteen. “Julle is ’n gebou ... waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.” (Ef. 2:20-22) Hierdie is een van die plekke in die Bybel waar Jesus die hoeksteen genoem word. Ek glo die beeld van ’n hoeksteen het seker vir die mense wat hulle geboue met klip gebou het, meer betekenis gehad as vir ons, wat met bakstene bou wat almal ewe groot is. Die hoeksteen was die groot klip wat noukeurig uitgesoek is en wat heel eerste neergelê is vir die bouwerk. Die res van die gebou sou aanpas by die hoeke en grootte van die hoeksteen en alles sou rus op die hoeksteen. Dit het stabiliteit aan die bouwerk verleen en as die hoekklip sou verkrummel of verwyder word, sou die hele gebou kon intuimel. Ons sien in ons tyd by baie geboue en veral kerke, so ’n simboliese hoeksteen ingemessel waarop daar ’n boodskap van toewyding aan die Here ingegraveer is as erkenning dat die Here self die hoeksteen van daardie kerk is, ’n belydenis dat alles op die Here en sy woord gebou is, dat Hy rigting en stabiliteit aan daardie gemeente sal gee, ’n herinnering dat as die Hoeksteen verwyder sal word die hele gebou kan verkrummel. “... ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit” – so praat Jes. 28:16 van Hom. As hoeksteen is Jesus die die kern van alles wat ons is en wat ons glo, die basis van die hele Christendom. Ons hele lewe moet gebou wees op dié een wat integriteit aan ons bestaan verleen, wat die beginpunt van alles is en sorg dat alles wat verder opgebou word sin maak en eindig in ’n stewige, mooi en nuttige gebou. Wie (of wat) is die hoeksteen van jou huis, van jou besigheid, van jou hart en jou geestelike huis? Wie hou jou regop as alles rondom jou verkrummel, wie gee rigting as die lewenspad se kronkels te veel word, wie bepaal die sin en waarde van jou lewe, wie keer dat alles wat jy gebou het nutteloos inmekaar val, wie verleen dieper betekenis aan jou geloof? Daar is net een antwoord: Jesus, die Hoeksteen. ~ Wilna Botha, 06/02/2020

Paul is vandag huis toe, so net voor 2 uur vanmiddag, na ‘n stryd teen kanker. So twee jaar gelede het ek geskryf van Alex, nog ‘n vriend wat oorlede is aan kanker. Beide van hulle het besluit om nie konvensionele kanker behandeling te neem nie en het besluit om die pad klaar te maak. So jaar en ‘n half gelede is nog ‘n vriend, Jan, ook aan kanker oorlede. Drie van my vriende in ‘n redelike kort tyd. Vandag het ek net weer opnuut besin oor alles en ek vra vir myself waar die Here in die prentjie pas. Was dit Sy wil, of was dit ‘n aktiewe daad wat Hy gepleeg het? Of gebeur hierdie dinge maar net in die lewe? Sommige mense glo siekte kom van die bose af, ander sê dis a.g.v. sonde in jou lewe, maar ek kry nie hierdie vrae geantwoord nie. As dit sonde in jou lewe is, glo ek nie ek, of jy, kan staande bly nie. Vanaand is ‘n huishouding in diep rou, en daar is net een enkele troos waaraan ek kan dink, en dit is dat Paul nou by die Here is, hoe dit ookal mag werk. Ek het vandag so hard probeer om ‘n prentjie te vorm, maar ek kry dit nie reg nie. Ek glo met my hele hart dat Jesus hom vandag met oop arms verwelkom het, en dat daar baie vreugde in die hemel is, maar ek sukkel om verby die aardse hartseer te kom. Natuurlik mag ons vra: hoekom Here? Dalk word daai vraag nooit geantwoord nie, maar een ding weet ek, as ons weet van daardie persoon se geloofsekerheid, vind ons vertroosting daarin. Paul het onwrikbaar in God geglo, soos wat hierdie volgende teks sê.
Joh 6:47 wat sê: "Dit verseker ek julle, wie in My glo, het die ewige lewe."
Nog ‘n teks waaraan ek heelhartig vashou is Rom. 8:1 “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”
Paul is nou by die Here, en elkeen van ons wat glo dat Jesus ons Saligmaker is kan daardie geloofsekerheid hê, dis ons keuse. Voorts weet ek dat Hy Sy gelowige kinders wat agterbly op ‘n bonatuurlike manier vertroos en krag gee. Daar is tog niks anders om aan vas te hou nie. Bid asb. saam met my vir sy vrou en kinders, hulle het dit so nodig. ~ Willem Botha, 05/02/2020

“The Lord is my strength and my song ...” (Eks. 15:2) Die Here is my lied. In Eksodus 15 lees ons die lied wat Moses en die Israeliete gesing het nadat die Here hulle uit Egipte gered het en ’n droë pad vir hulle deur die see oopgekloof het. Hulle sing ’n lied van blydskap, dankbaarheid en verligting. Hulle lied eer God en verheerlik Hom. Met dié lied erken hulle hoe groot Sy krag en mag is en hulle bely hoe Hy wonders kan doen. Hulle lied is ’n harde gejuig omdat Hy regeer en omdat Hy uitkoms, redding en oorwinning gee. Hulle sing egter nie net die lied nie, hulle sê die Here ís hulle lied. Hulle sing nie net omdat Hy iets groot vir hulle gedoen het nie, hulle sing omdat Hy is wie Hy is. Dit laat my dink aan die mooi gesang in die Afrikaanse Liedboek: “God is my lied, Sy almag ken geen perke, Heer is Sy naam, volmaak Sy skeppingswerke, die groot heelal is Sy gebied.” As ek sê: God is my lied, dan bedoel ek Hy is die bron van al my dankbaarheid, die rede vir al my blydskap, die middelpunt van my lewe, die koning  van my hart. As ek sê: God is my lied, dan sing ek nie net die lied nie, dan lééf ek die lied. As ek sê: God is my lied, dan is daar nie noodwendig poëtiese woorde en ’n mooi wysie nie, dan kom die woorde ook dikwels gebrekkig en vals, maar uit ’n opregte hart. As ek sê: God is my lied, dan kan ek sing, dan kan ek dankbaar wees, dan kan ek juig, dan kan ek vrede beleef, al is dit donker om my, al is daar storms, probleme, siekte, gevare, bekommernis ... Net soos wat Habakuk gesing het: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:17-18) Net soos ons ook dikwels sing: “Through the storm You’re the beacon, my song in the night, in the shelter of Your wings, hear my hearts reply, singing what a faithful God have I ...” ~ Wilna Botha, 04/02/2020

OP SOEK NA BETEKENIS
Is dit nie so dat die mens maar altyd op soek bly na die betekenis van alles nie? Hoekom, hoekom.. hoekom dit, hoekom dat … hoekom kry ek swaar, hoekom het ek my vrou of my kind verloor, of my werk verloor .. hoekom gaan dit so moeilik in my huwelik? Waar is die Here? Waar is die beloftes van die Bybel? Hoeveel kan ek nog verduur? Hoekom maak Christene my so seer? Moet daar nie meer in die lewe wees nie? Wat is die sin van hierdie gesukkel?
Ek glo ons is of was al almal op hierdie punt gewees. Die lawwe spreekwoord is waar: "die bosveld is nie vir sissies nie". Jy sien, ek glo dat hierdie talle vrae beantwoord sal word, as ons net kan weet wat die betekenis van dit alles is. As ek kan weet wat die uiteinde sal wees, hoe lank dit gaan vat en hoekom dit nodig is, sal ek dit seker makliker aanvaar. So was dit vir my gewees in my twee jaar diensplig, meer as 40 jaar gelede: die tentlewe, bitter koue, slegte kos, afsondering, vernedering, byna geen warm water nie, dood gesien op die grens, ens. Dit was uithoubaar, want ten spyte van alles, was daar betekenis agter dit alles: ons het geweet hoekom ons daar is, vir hoe lank dit gaan aanhou, en ons het geweet dat beter dae SAL aanbreek. Maar die lewe is nie so regverdig nie - dit voel vir baie mense of niks sin maak nie.
Het jy al gedink wat maak die lewe moeilik? Dit is nie weerpatrone, seisoene of natuurwette nie, nee, dit is net die mens. Dit wat mense aanvang. Die lewe is nou maar een maal in die mens se hande… dit is mense wat dominees is, en dis mense wat terroriste is, dit is mense wat dokters is en gesond maak, en dit is mense wat moor en verkrag, dit is mense wat werk skep en dit is mense wat bedrog pleeg…. Waar sal ek betekenis in dit alles kry?
Ek het 'n boek gelees van Viktor Frankl, "Man's search for meaning". Hierdie ou was drie en 'n half jaar in konsentrasie kampe (o.a. in Auschwitz). Vir drie en 'n half jaar het hy nie geweet of hy die volgende dag nog sou leef nie. Maar tog het hy elke dag voortgeveg. Hoekom? Omdat daar hoop was - solank hy nog asem gehaal het, was daar nog hoop. Ek en jy het baie meer as asem beskikbaar! Viktor Frankl skryf dat die mens met enige iets kan saamleef, en aan enige iets gewoond kan raak, as jy net weet hoekom dit nodig is. As jy weet hoekom jy moet vasbyt, raak die "hoe" minder belangrik.
Kom ek gee vir jou "slegte nuus" - die Bybel sê ook nie dit sal maklik wees nie!
2 Tim 3:1-7
1 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.
2 Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig;
3 hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;
4 hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.
5 Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
6 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag,
7 vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.
In die laaste dae sal daar swaar tye kom. Dus, die Bybel sê eintlik "verwag dit"! Viktor Frankl het die oorlog oorleef en is in 1997 oorlede. As sielkundige het hy dikwels vir 'n pasiënt met wie dit swaar gaan gevra: "hoekom pleeg jy nie selfmoord nie?". As hy dit vandag vir my sou vra, sou ek sê: "nee, jitte man, daar is veels te veel sin in die lewe. Ten spyte van alles."
Maar WAAR kry ek die sin van die lewe? 'n Vriend gee eendag die antwoord, of te wel, ek dink 'n groot deel van die antwoord. Ons is nou in hierdie situasie: die krag gaan af, petrol raak vinnig duurder, die politiek is deurmekaar, misdaad is buite beheer, ons word siek … Die vraag is: "wat maak ek daarmee?" Hoekom het Viktor Frankl nie homself opgehang nie? Sy situasie was totaal hooploos, hy kon nie veel daaraan doen nie, MAAR ek en jy KAN! Hoe? Ek dink dit gaan oor "attitude". As die lewe regtig só sonder betekenis is soos ons sê, is ons almal verskriklike leuenaars. Hoekom sê ek so? As ek jou vandag raakloop en vra: "hoe gaan dit met jou?", wat gaan jy antwoord? "Baie goed, skitterend, voor die wind, dankie" …. Of hoe? Weet jy hoekom sal jy só antwoord? Want jy het nog hoop. Want jy weet dat die mens se vermoë om te oorleef ondenkbaar goed is. Want jy het nog 'n dak oor jou kop. Want jy het werk (wel, miskien is jy werkloos, maar jou CV is al uitgestuur). Want jy weet dat jou voorouers deur baie slegter tye oorleef het. Want jy het mense sien gesond word. Want jy hoor mense se getuienisse. Want jy kyk terug en sien dat daar rampe agter jou lê, berge, brûe, slote en jy is daardeur. Dit is hoe God jou gemaak het: Hy louter jou soms met vuur maar jy brand nie uit nie.
Wat is jy bereid om te doen, wat sal jy maak dat die lewe vir jou betekenis kan kry? Dit hang net af van jou verwagting, en van jou reaksie op die negatiewe.
Dit hang ook verder af van watter "lewe" jy praat. Jy sien, as jy verstaan dat hierdie lewe oorgaan in die "ewige lewe", dan hoef hierdie een nie noodwendig vreeslik sin te maak nie. Maar dit sal tog lekker wees, of hoe?
Kom ek sê hoe hierdie lewe vir my sin maak:
1) Ek het 'n wonderlike gesin, wat elke dag vir my vreugde gee
2) Ek het puik vriende wat saam met my die pad stap
3) Ek sien hoe die Here besig is om herlewing te laat uitbreek
4) Ek probeer om iets vir ander te beteken - geestelik, maar ook deur my besigheid
5) Ek besef hoe bevoorreg ek is om in die mooiste land op aarde te woon, ek geniet die weer, en die mooi van die verskeidenheid mense.
6) Ek sien die wonderwerke van God raak.
7) Ek geniet dit as ek hoor van 'n mens wat tot bekering gekom het.
8) Ek verander wat ek kan, en dan maak ek vrede met dit wat ek niks aan kan doen nie.

Weet jy wat? Die lewe maak WERKLIK sin as jy agter die Here aanstap. As Hy die middelpunt van jou lewe is, jou Hoop, jou Vreugde, jou Verlosser. ~ Willem Botha


“Ek sou nooit deur dit gekom het sonder die Here nie.” Ek glo jy het dit ook al baie gesê of gehoor. Hoe wonderlik is dit nie as mens hierdie kragtige getuienis hoor nie, wanneer die Here op misterieuse maniere werk. Soms onsigbaar of ontasbaar, soms op maniere wat ander mense nie kan sien nie, soms sonder ooglopende vrug, soms totaal onverstaanbaar. Mense getuig so wanneer geliefdes afsterf, of na ‘n groot ongeluk of siekbed, soms na werksverlies of wanneer ander trauma toeslaan.
Mense wat van buite kyk sal dalk dink dis maar net hoe hierdie persoon homself troos, of selfs dink dat hierdie persoon net tydelik hieraan vashou totdat die realiteit hom tref, maar vir die gelowige wat deur al die slegte tye aan die Here vashou, is daar nie sommer teleurstelling nie. Daar is vele karakters in die Bybel wat so saam met die Here gestap het, soos Job wat geweier het om die Here te vervloek toe hy alles verloor het, selfs sy kinders. Jy sien, wanneer mense so op die Here vertrou beteken dit selde dat die slegte omstandighede weggeneem word, of ‘n geliefde wat ernstig siek geword het sterf dalk op die koop toe, maar as die Here jou anker is, is jy tot baie in staat. Omdat ek die Here vertrou dat Hy altyd daar sal wees in slegte tye, voel ek gerus, al besef ek dat die ergste steeds kan gebeur. Ek wonder altyd hoe mense sonder die Here die lewe aanpak, want ek weet nie waaraan mense hulleself dan anker nie. Die Bybel sê beslis nie dat daar geen teenspoed sal kom nie, en ook nie dat Sy kinders nie dalk sal swaarkry nie, maar die Bybel sê vir seker dat jy op die Here moet vertrou, en jy sal nie teleurgestel word nie.
Ps. 23:4 “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”
Ons sál deur donker dieptes gaan, een of ander tyd, maar die Here is daar. In Sy hande is ons veilig. ~ Willem Botha, 30/01/2020

Die Here is ... my banier (Eks. 17.15) Die Boodskap sê: “Die Here is my vlag.” In die Ou Testament is baniere en vlae gebruik om die teenwoordigheid van ’n koning, of ’n leër-groep of ’n volk aan te dui. Die vlagdraers het in veldslae vooruit geloop om aan die vyand te wys met wie hulle te doen gaan kry. Die banier het hulle mag en vermoëns vertoon, wie hulle is, waar hulle vandaan kom en waartoe hulle in staat is.   As kinders van God, is die Here ons banier en lewe ons onder Sy vaandel. Dit gee aan ons die sekerheid  van Sy teenwoordigheid in alles wat ons doen, die versekering van Sy beskerming, die vrymoedigheid om uitdagings aan te durf, die gemoedsrus dat ons in elke situasie as oorwinnaars sal seëvier. Die uitdrukking: onder die vaandel van... (iets of iemand) sê jy tree op met die mag en die outoriteit van die maatskappy of groep, jy geniet die voordele en beskerming en ondersteuning van daardie groep. As jy in die wêreld uitstap onder die Here se vaandel, leef en werk jy as Sy verteenwoordiger, tree jy op op Sy gesag, herinner dit jou waartoe jy in staat is en aan Wie se kant jy is, Wie vir jou veg en Wie vir jou opkom teen ’n vyandige wêreld. Hys weer Sy vlag in jou lewe en in jou huis, dra Sy familie-wapen op jou baadjie, bly onder Sy banier en dan sal jy met vlieënde vaandels slaag in alles wat jy aanpak. ~ Wilna Botha, 28/01/2020

Het jy al verdwaal? So verdwaal dat jy eintlik “home sick” word? Só dat jy nie ‘n idee het of jy selfs in die regte rigting ry nie? Nou, ek is goed met verdwaal … vra my gesin. So kom die mens toe met tegnologie te voorskyn om ons op die regte pad te hou en die regte rigting aan te dui: ‘n kompas, ‘n sextant op die see, sterrekunde, ens. het die mens gehelp om te weet waar hy is. En nog later – amper té laat – kom die skitterende GPS op die mark. Wow!! Jy hoef ook nie meer een te koop nie, dis sommer op jou foon. Slegs 24 satelliete wat in ‘n lae wentelbaan om die aarde beweeg kry jou sonder sukkel waar jy wil wees. Sit jou bestemming in die ding, luister na die antie se stem en ry. Sommer blindelings. Daar is net een voorwaarde as jy die vreemde aanpak met ‘n GPS: jy moet blindelings glo wat hy (of liewer sy) aandui, doen wat dit sê en draai waar dit sê jy moet draai … en glo my, daai antie ken elke hoek en draai.
En … so kom die Here en Hy gee vir ons ‘n GPS vir ons lewenspad: die Bybel. Nét soos in ‘n GPS is elke roete, afdraaipaadjie, maar selfs waarskuwingsborde, ALLES, daarin opgesluit. Terwyl ‘n GPS se kaarte gereeld opgedateer moet word, bly die Bybel egter tydloos. Alles wat nodig is om die “ultimate” bestemming, die hemel, te bereik, is hier vir jou opgeskryf. Gaan waar hierdie rigtinggewer sê, en jy sal nooit verdwaal nie. Ja jitte, party van ons leef maar erg verdwaal, en op ons eie pad. .. weet nie waar ons vandaan kom nie, weet nie waar ons is nie, weet nie waarheen ons gaan nie, maar daar is ‘n punt A (jou geboorte) en ‘n punt B (jou tuiste ná hierdie lewe).
Met die Bybel kan jy net blindelings stap en jy sal jou eindbestemming bereik, maar moet tog net nie luister na mense wat vir jou wil vertel dat hierdie roetekaart niks beteken nie, en nog minder dat daardie kaart oudmodies is en nie meer vir vandag geld nie.
Jes. 30:21 Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor wat sê “Hier is die pad, loop hierlangs”.
Daardie pad word deur vele mense gestap, en diegene wat luister na daardie stem, is veilig.
Ps 119:105 “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
Maar jy stap nie hierdie pad alleen nie, jy het ‘n Gids wat elke oomblik saam met jou stap.
Joh. 14:6 “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Dit word baie mooi in Die Boodskap gestel: Jesus is die pad en die Vader is die adres. ~ Willem Botha, 27/01/2020

Die Here is ... my rots, my skuilplek, my redder, my God, my skild, my sterk verlosser, my veilige vesting, so lees ek in Ps. 18:3. Alles in een enkele vers! Wat my vandag sterk opval, is dat die teks nie sê ’n rots, ’n skild, ’n veilige vesting, ens. nie, dit sê “my”. Dis Dawid wat so sê en ek dink dit kom uit ’n innige verhouding met die Here, uit ervaring dat dit wel is wie die Here vir hom is. Die een wat beskerm, die een wat vertroetel, die een wat versorg, die een met die oop arms, die een met die sagte vlerke waarmee Hy hom toevou en wegsteek. En ek en jy ... ken ons Hom ook só, dat ons kan sê: “my” rots, “my” skuilplek, “my” skild? Kom ervaar vandag persoonlik dat Hy al hierdie dinge vir jou is. Kom beleef sélf dat jy weer nuwe krag en hoop kry wanneer jy op die Rots kom staan. Kom beleef sélf dat jy na Hom kan hardloop in enige moeilikheid en veilig onder sy vleuels kan kom wegkruip – hier is hitte as dit koud is, skaduwee as dit warm is, veiligheid as daar ’n storm woed, liefde en volop genade as jy verlore voel. “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kant.” (Ps. 91:4) ~ Wilna Botha, 23/01/2019

Deut. 5:16 “ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.”
Menige ouers hou gereeld hierdie teks vir hulle kinders voor as hulle iets nodig het om bietjie gesag af te dwing. Dis nie ‘n moeilike teks om te verstaan nie, dit beteken maar net dat jy respek vir hulle moet hê. Maar soos jy ouer word begin daardie teks aan jouself knaag as jou ouers reeds oorlede is. Hoe wens ek nie dat ek net nog een dag met hulle kon sit en praat nie, want ek wil so graag ‘n klomp vrae vra, en ook jammer sê vir tye wat ek hulle seergemaak het. Ek het onlangs ‘n bietjie op my pa se voetspore gaan terugstap waar hy grootgeword het op Tonteldoos, so 22km van Dullstroom af. Na baie navorsing kon ek uiteindelik sy geboortegrond opspoor en daarop gaan rondloop, en vir die eerste keer het ek besef hoe bitter swaar hulle gekry het, hoe ongelooflike arm hulle was en met hoe min hulle moes lewe. Ek het toe ook begin verstaan hoe sy verhouding met my oupa was, en ook hoekom hy ons anders grootgemaak het as wat ons ons kinders grootgemaak het. Na hierdie proses het ek besef dat ek hom dalk nie gerespekteer het vir wie hy was nie. Voorts het ek baie geleer en verstaan van my pa nadat ek self ‘n pa geword het en ek het besef dat hy en my ma wondere verrig het met ons opvoeding. Ek hoor so baie dat mense hulle ouers na hulle afsterwe blameer vir alles wat in hulle lewe verkeerd loop, want dis mos die maklike uitweg as jy self vasbrand in die lewe. In Engels noem hulle dit blame shifting. Ek lees in ‘n baie goeie boek dat jy nie beheer het oor alles wat met jou gebeur het nie, maar jy het volle beheer oor jou reaksie daarop.
“Eer jou vader en jou moeder” verval nie na hulle afsterwe nie, daardie opdrag van die Here sal vir altyd bly staan. Ek spog graag met my ouers en met ons opvoeding, en ek vertel graag van hulle as mense. So hoor ek dat baie mense so oor hulle ouers praat, maar dan praat jy met daardie selfde persoon se broers of susters en jy hoor hoe sleg daardie ouers was. Laat 4 broers/susters ‘n boek oor hulle opvoeding skryf, dan klink dit of hulle van verskillende planete af kom. Blame shifting! Elkeen van ons het ‘n unieke pa- en ma-storie, en ons moet die beste daarvan maak.
Dis so jammer dat soveel mense hulle ouers totaal vergeet en wegstoot terwyl hulle nog lewe, dit mag nie so wees nie.
“ Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee." ~ Willem Botha, 22/01/2020

“Christus is ons vrede.” (Ef. 2:14) Het jou goeie Nuwejaarsvoorneme om mooi georganiseerd en rustig en in beheer te wees dalk ook alreeds plek gemaak vir ’n geskarrel en rondjaag om jou dagtaak en jou lewe en jou gesin aan die gang te kry en te hou? Dalk is jy, soos ek, ook alreeds weer vol ontevredenheid en het ’n stuk bekommernis al weer aan jou deur kom klop? Dalk het jy vinniger op moedverloor se vlakte beland as wat jy gehoop het? Stop vir ’n oomblik, haal diep asem en laat God wat vrede is, Sy vrede in jou binneste deponeer en jou hart en gedagtes verfris. Laat Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan toe om vir jou rustigheid te bring. Kom kry kalmte in Sy groen weivelde en besoek Sy waters waar daar vrede is gereeld. “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie bang wees nie.” (Joh. 14:27) Vat vandag vir jou van dié vrede uit die hand van die Vredevors. “Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings.” (Ps. 122:7) ~ Wilna Botha, 21/02/2020

Sê nou maar jy kon nie ‘n leuen vertel nie. Sê nou maar iets gebeur dat dit net onmoontlik is en jy nie ‘n leuen oor jou lippe kan kry nie, hoe sal jy vaar? Ek het nou mooi gesit en dink hieroor en besef ek gaan nie ver kom nie, want daar is baie fasette van leuens, wat selfs net die weerhouding van die waarheid sou insluit. Daar is goed soos blatante leuens, wit leuentjies, onbewustelike leuens, leuens wat jy vertel maar dit al self glo, mense soos psigopate wat nie meer tussen leuen en waarheid kan onderskei nie en dan blits leuentjies om jou uit ‘n effe ongemaklike situasie te kry. Ek dink as ek al hierdie dinge in ag neem, moet ek vir jou sê ek lieg soos ‘n tande trekker! En nee, ek is nie trots hierop nie.
Nou wonder ek, hoeveel beroepe sal totaal tot niet gaan as mense nie meer die waarheid verdraai nie. Ek kan aan ‘n hele paar dink, maar sal my nie hieroor uitlaat nie, want dit gebeur op alle vlakke van die samelewing, en ja dalk selfs in die kerk. ‘n Leuenlose samelewing sal inderdaad vele mense op straat laat beland. Vir my dalk ook.
Kan jy dink hoe wonderlike sal dit in huwelike gaan as daar NET waarheid gepraat word. Geen spanning of ongelukkigheid nie want mense onderhou mos nou die huweliksbeloftes. Hoe wonderlik sal dit vir kinders wees as hulle hulle ouers kan vertrou. Daar sal geen regstelsel nodig wees nie en kontrakte sal wedersyds onderhou word, en almal sal doen wat hulle gesê het hulle gaan doen. Maar hier kom nou vir jou ‘n moeilike een. Was jy ook al in ‘n situasie dat jy nie vir ‘n vriend of familielid prontuit kan sê dat jy nie lus is vir ‘n kuier nie? Of wou jy ook al vir iemand sê jy voel nie gemaklik om saam met hom te ry nie want hy ry onveilig? Dalk moes jy ook al vele foto-kyk sessies deursit van iemand se oulike hondjie maar dit verveel jou grensloos. Dalk het jy ook al vele kere op jou tong gebyt en nie jou eerlike mening gegee nie. Nog verder, was jy ook al briesend vir iemand wat alewig laat is en jou laat wag, maar dan sê jy maar met ‘n sedige gesiggie: nee dis okay, ek het die wêreldse tyd.
Leuens kom van die vroegste tye af en die Bybel is vol daarvan, kyk maar na Adam toe die slang vir hom lieg en toe gee hy sommer vir Eva die skuld. Die Here stel dit sommer kort en kragtig in die Bybel.
"Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” (Matt. 5: 34 – 37) ~ Willem Botha, 20/01/2020

“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) Daar is vele tekste in die Bybel waar hierdie eienskappe van God herhaal en bevestig word: barmhartig, genadig, lankmoedig, vol liefde. Vandag het die woord “lankmoedig” in my kop bly vassteek. Dis nogal ’n woord wat mens nie baie hoor of gebruik nie, so ietwat van ’n outydse woord. As die Here lankmoedig is, is dit sy karakter, dis wie Hy ís. Dis egter ook hoe Hy optree, hoe Hy met ons is, hoe Hy oor ons voel. Sy geduld raak nooit op met ons nie. Hy word nie moedeloos met ons nie. Hy raak nie kwaad vir ons nie. Hy raak nie moeg om ons weer en weer te vergewe nie. Hy is nie verras oor ons menslikheid nie, Hy ken ons en verstaan ons swakhede. Hy hou nooit op om toegewend en verdraagsaam teenoor ons te wees nie. Hy is sag met ons, “slow to anger” sê die Engelse vertalings. Ja, selfs al raak ons opstandig, selfs al raak ons geloof swak, selfs al faal en val ons weer, selfs al draai ons dalk ons rug op Hom, selfs al bevraagteken ons sy bestaan of sy weë, selfs al wil ons ons eie pad vat, Hy bly lankmoedig. Sy genade en geduld met ons raak nooit op nie, dis as’t ware elke môre weer nuut (so sê Klaagl. 3:22-23) Soos in die gelykenis van die verlore seun, wag Hy geduldig dat ons uit die varkhok sal opstaan en terugkom na Hom. Soos in daai gelykenis wag Hy met sy lankmoedige, oop arms en sy genadige vergifnis vir ons. Ek is ... lankmoedig, sê Hy. ~ Wilna Botha, 16/01/2020

Donkerte
Ek lees hierdie volgende woorde in Die Boodskap in Matt. 6:22-23 “As jy hemelse skatte wil opgaar, sorg dan dat jy jou oë deur die Here laat instel sodat jy op die regte manier daarmee kan kyk. Jou oë is soos ‘n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen Goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou.“
Dis nogal ‘n mondvol, as jy die Lig sien, lewe daar lig binne-in jou, maar as jy dit nie sien nie, is dit stikdonker in jou. As iemand in ‘n persoon se oë kyk wat so in die donker wandel, is dit soos om deur ‘n venster in ‘n pikdonker vertrek te probeer inkyk. Ek dink jy het ook al vele sulke donker oë gesien, oë wat glad nie meer lig kan reflekteer nie. Dis nie lekker om in so ‘n donker persoon se wese te probeer inkyk nie, dis leeg en leweloos. Hoe erg is dit nie as iemand die Lig van God glad nie in sy lewe toelaat nie, hoe eensaam moet dit nie wees nie, hoe onheilspellend is dit nie en hoe doods lyk dit nie. ‘n Mens se oë sê ongelooflik baie van wat in jou lewe aangaan, en jy kan gewoonlik in iemand se oë sien of jy hom kan vertrou of nie. Daar word gesê die oë is die vensters na die siel en dis baie waar. Die Bybel praat ook van oë wat straal van hoogmoed, en dit is so want daar is baie om te sien in iemand se oë. Die teendeel is natuurlik ook waar, want gewoonlik straal ‘n opregte kind van God wonderlike sagte lig uit.
Ek kan my net indink hoe Jesus se oë moes lyk as Hy na mense gekyk het, en ek begeer dat dieselfde vir my waar sal wees. Ek en jy moet daardie donkerte in ons lewens dag vir dag verdryf, deur dit te vul met die Here se lig. ~ Willem Botha, 15/01/2020

“Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons (Matt. 1:23) Kersfees is al weer vergete, die versiersels is weggepak, die geskenke al goed in gebruik geneem en die nuwe jaar het met ’n vaart weggespring. Hierdie jaar wil ek egter Kersfees in elke dag onthou, so asof Jesus elke dag in my hart gebore word, so asof die engele elke dag sing: eer aan God en vrede op aarde, so asof ek elke dag ’n groot geskenk ontvang. Ek wil onthou dat Immanuel gekom het. Ek wil onthou dat God nou by ons en in ons. Hy is nou deel van elke gedagte, elke besluit en elke daad. Hy is nou teenwoordig in elke geselskap en elke vergadering en elke ete. Hy ry nou saam as jy op pad is, Hy wys die pad as jy verdwaal, Hy gee raad as jy sukkel. Hy stap nou elke donker paadjie langs jou, Hy sien elke struikelblok, Hy dra saam aan elke las. Hy kalmeer ’n onstuimige gemoed, Hy maak ’n bekommerde hart rustig. Hy troos en droog trane af. Hy luister, Hy gee rus, Hy gee moed. Hy genees, Hy voorsien, Hy gee krag. Hy gee seëninge en goeie vooruitsigte vir ’n nuwe jaar. Niks is meer dieselfde ná Kersfees nie, want God is nou by ons. Hy is Immanuel. ~ Wilna Botha, 15/01/2020

Baie mense het ‘n groot invloed op my lewe gehad, sommige wat ek vinnig vergeet het en ander wat ek vir altyd sal onthou, om goeie of slegte redes. Daar is ook verskillende redes hoekom sulke mense my beïnvloed het, maar dis ook waar dat daardie selfde mense waarskynlik min of geen invloed op ander mense sou hê. Ek vra toe anderdag vir oom Google wie die mees invloedryke mense op aarde is/was en daar is verskeie menings op verskeie webblaaie. Die name wat op bykans al hierdie webblaaie voorkom sluit Hitler, Einstein, Ghandi, Mohammed, Newton, Buddha, Confucius en andere in. Mense soos Hitler word vir al die verkeerde redes onthou, maar sy invloed was massief! Maar, in teenstelling met wat baie mense sou dink, word Jesus bykans deur die bank as die mees invloedryke Persoon ooit beskou. Let wel, dis op sekulêre webblaaie. Dink vir ‘n oomblik na aan wat Hy gedoen het, hoe lank Hy aktief was in die openbaar en wat Sy aanslag was.
Hy het vir niemand geld gegee nie, Hy het nie welvaart belowe nie, Hy was nie op die oorlogspad uit nie, Hy het nie massamoorde gepleeg nie en Sy openbare lewe was baie kort, omtrent net drie jaar. Hy het nie ‘n militêre leër om Hom geskaar nie, Hy het slegs twaalf eenvoudige dissipels (die meeste vissermanne) saam met Hom geneem. Hy het geen boeke geskryf nie, Hy het nie wyd oor die aarde gereis en in stadions voor miljoene mense gepraat nie, maar Hy het vir ‘n paar duisend mense broodjies en vis gegee om te eet. Hy was nie op televisiekanale wat wêreldwyd uitgesaai is nie, Hy het eerder by die mees onwaarskynlikes aan huis gekuier.
Nou, hier is bietjie interessante inligting. Oom Google reken dat die meeste werkende mense in ‘n gewone werkdag tussen so 3000 – 15000 woorde praat (vrouens die meeste). Jesus se woorde wat ons in die Bybel opgeteken vind (en dus al wat ons kan lees) is egter net meer as 2000 woorde! Ja natuurlik het Hy baie meer gepraat, maar dit waartoe ons toegang het, is baie min. Minder as wat vele mense in ‘n halwe dag praat. Met daardie 2000 eenvoudige woorde, wat meer as 2000 jaar gelde uitgespreek is, het Hy meer mense op aarde beïnvloed as enige ander mens, en daardie invloed neem geensins dag tot dag af nie, inteendeel, mense lees daardie woorde oor en oor in die Bybel, en dit voel dikwels of jy dit nog nooit gehoor of gelees het nie. Die aantal woorde wat deur die mens oor Hom geskryf en uitgespreek het, is sekerlik ontelbaar, dit moet letterlik miljarde en miljarde wees. Daar word waarskynlik meer woorde per minuut oor hom gepraat, as wat Hy ooit in Sy hele aardse lewe self gepraat het.
Nou kyk, dis wat ek ‘n invloedryke Persoon noem, en Hy praat graag op die mees eenvoudige manier met elkeen van ons, en Hy lei mense om meer boeke oor Hom te skryf, as wat oor enige ander mens geskryf is. Hierdie gedagtes verstom my, Hy was en is ‘n baie baie spesiale Persoon. Dit verstom my ook dat vele ongelowiges so arrogant is om Hom teen op te staan, maar Hy bly steeds lief vir hulle ook, en draai baie van hulle terug na Hom toe. Mag Hy jou hierdie jaar op ‘n besondere manier aanraak. ~ Willem Botha 13/01/2020


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)