Daaglikse Heuningdruppels

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


NOG 'n Kersfees
Wat kan nog oor Kersfees geskryf word? Watter woorde daaroor kan so nuut wees dat mens dit wil hoor of lees? Watter Kersdag preek kan steeds impak maak en uit watter hoek kan ons daarna kyk sodat ons steeds in verwondering daaroor staan? Jaar na jaar dieselfde. 
Maar tog maak die geboorte van Jesus menige Christene se harte warm. 'n Ongewone kind word gebore uit 'n gewone vrou. 'n Gewone geboorte uit 'n ongewone swangerskap. 'n Ongewone man wat jare later wonderwerke in 'n gewone dorpie begin doen. Gewone mense se lewens neem ongewone wendings as hulle tot bekering kom. 
En vandag vier gewone mens steeds hierdie ongewone gebeure van 2000 jaar terug, want die misterie van die ongewone sal nooit ophou om mense aan te gryp nie. Dit bly steeds n ongewone verhaal in ons gewone tye. My en jou ervaring daaroor verskil, en dit verskil dalk selfs jaar na jaar. Dis hoekom ons dit seker vir nog duisende jare sal vier. Die punt is, Christus verander gewone mense se lewens, en daarom sal die meeste van ons steeds in verwondering staan oor Sy geboorte. Dit bly maar spesiaal.  ~ Willem Botha, 25/12/2015

“Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.” (Luk. 2:10-11, Die Boodskap) Dit voel vir my of die wêreld nou begin spoed verminder en gereedmaak om weereens hierdie groot gebeurtenis te oordink en te vier. Ek vier weer die feit dat Jesus se geboorte goeie nuus is; dat Sy redding en genade en vrede vir almal bedoel is; dat Hy gekom het om eens en vir altyd met sonde af te reken en vir ons die lewe in oorvloed te gee. Ek het meer as genoeg rede om te gaan feesvier en Hom te eer as Redder en Messias en Here. Hoop jy vier saam fees! ~ Wilna Botha; 24/12/2015

Eer jou vader en jou moeder 
Eks 20 :12 “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee."
Hierdie is 'n gedagte wat so belangrik is vir die Here dat Hy dit in die wet opgeneem het. Maar ek sien ook hoe maklik mense hierdie gebod ignoreer, of dit net summier oortree, of sommer net so ligtelik opneem asof dit niks beteken nie. Hierdie gebod is nie net van toepassing terwyl hulle lewe nie, maar ook tot my en jou dood. 
Ek luister anderdag na die praatjies in my eie familie oor ons ouers en ek besef; as elkeen van ons 'n boek sou skryf oor ons kinderjare, sal dit so verskil dat dit klink of ons van verskillende planete af kom, wat nog van uit dieselfde huis uit, want met jare het ons persepsies gevorm, spookstories opgemaak oor ons opvoeding en ons pak die skuld vir ons eie tekortkominge op ons ouers. Voorts (vergewe dat ek hierdie ding noem) maar ek sien hoe sommige sielkundiges hulle pasiënte in hulle verlede laat krap om "genesing" te kry, en dan loop die ouers verwoed deur. 
Ja, ek verstaan 100% dat daar gesinne is wat wel deurgeloop het onder alkoholisme, mishandeling, ontrouheid, en vele ander dinge. Dis ongelukkig waar en moet hanteer word.
Maar ek verwys nou na gesinne waar ma en pa onder bitter moeilike omstandighede die beste gedoen het wat hulle kon. 
Dis Kerstyd en ek en vroulief het nie meer die voorreg om ons ouers te hê nie en ek wens so hulle kon nog net eenkeer saam met ons kuier, maar dis ongelukkig verby. Dis egter so dat bejaardes afgeskryf word deur hulle kinders en dan iewers vereensaam. As ek hieraan dink besef ek hoekom dit vir die Here so belangrik is om ons ouers te eer. Kan jy nog vir jou ouers sê (in gesproke woorde) dat jy lief is vir hulle? Kon jy dalk vir hulle help om sekerheid te hê dat hulle hemel toe sal gaan na hulle afsterwe? Is daar dalk onafgehandelde sake wat hanteer moet word? Wel, gebruik hierdie Kerstyd om die lug te suiwer. Ek glo dis wat die Here van ons verwag. Geniet jou ouers, dra hulle op die hande en vergewe hulle as daar foute was, maar eer hulle. ~Willem Botha, 22/12/2015

"Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid." (Luk. 2:8) Dis hoe Herodus meer wou uitvind by die wyse manne oor die geboorte van Jesus. Natuurlik wou hy Hom nie gaan aanbid nie, hy wou Hom laat doodmaak omdat dié Koning 'n bedreiging vir hom was. Oor 'n paar slapies is dit Kersfees - dalk kan ons dié tyd gebruik om met suiwer bedoelings meer uit te vind oor die Seun wat aan ons gegee is, die Heerser met die koninklike titels : Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. My gebed is dat ons nie onveranderd deur nog 'n Kersfees sal gaan nie, dat ons Hóm sal vind, Hóm sal toelaat as Heerser in ons lewens en dat ons in opregtheid voor Hom sal buig en met ons hele hart, siel en verstand sal liefhê en aanbid. ~ Wilna Botha, 21/12/2015

Onsin
Vir ons as gelowiges is dit onverstaanbaar dat almal nie soos ons kan glo nie. Ek verstom my dat mense wat tussen ons woon nie ook soos ek die logika van God se bestaan kan raaksien nie. Ons sien tog dieselfde goed en is getuies van baie dinge, maar vir baie bly dit bloot onsin. Dit voel soms of jy iemand net by die skouers kan gryp en hulle skud. Maar dit sal nie help nie. Kyk wat sê die Woord daaroor. Dit lyk my die Gees wat in ons woon, gee telkens die deurslag. Dan word tot geleerdes beskaam. 
1 KORINTIËRS 1:18 Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
1 KORINTIËRS 1:20 Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?
1 KORINTIËRS 1:21 Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.
1 KORINTIËRS 1:23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin,
1 KORINTIËRS 1:25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.
1 KORINTIËRS 1:27 En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,
1 KORINTIËRS 2:14 Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. ~ Willem Botha, 20/12/2015

Toe Jesus gebore is, het die sterrekykers geskenke van goud, wierook en mirre gebring, die skaapwagters het geen moeite ontsien nie en dadelik gegaan om voor die Koning te buig en God te loof en prys, Maria het haarself gegee en gesê: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk. 1:38) Die Little Drummer Boy, van die liedjie, wou ook vir die Koning wat gebore is geskenke bring, maar hy was maar net ’n arm seuntjie ... “I have no gift to bring ... that's fit to give our King.” Dan speel hy maar net op sy drom vir die Koning ... “I played my drum for Him ... I played my best for Him.” Dít wat hy kan doen, sy talent wat hy het bied hy aan vir Jesus en hy doen dit so goed as wat hy kan. Hoe mooi eindig die liedjie nie as hy sê: “Then He smiled at me ...” Dis wat Jesus doen wanneer ons wie ons is en watter gawes ons het gebruik om Hom te eer en ons naaste te dien – Hy glimlag. Mag Jesus ook glimlag wanneer jy hierdie Kersfees jou beste vir Hom gee!  ~Wilna Botha, 17/12/2015


As more nie kom nie 
Het jy ook al 'n paar planne vir volgende jaar? Ek is seker jy het, maar jy moet eers die planne vir die vakansie deurgewerk kry. Laasgenoemde is lekker want dit plaas mens in 'n positiewe stemming want as jy soos ek is voel jy om net af te skakel en soos 'n volstruis die kop in die sand te druk en als van volgende jaar te ignoreer soos 'n stopstraat. 
Maar iewers moet ons seker daaraan begin dink. Goeiste, dis nog nie eers Kersfees nie en die winkels begin al klaar met "Back to school" promosies. Maak my sommer siek! Krismis - specials is nou uitgewoed en ons moet weer gaan koop. Ai!
Maar sê nou maar more kom nie? Wie op aarde beplan vir sulke negatiewe goed? Wel, volgens die Bybel moet ons daaraan dink.
Jak 4:13-16 Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak." Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen." Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. 
Ek weet nie altyd hoe om hiermee om te gaan nie, behalwe dat ek weet die Here is daar, hetsy in hierdie lewe, of die een hierna. Dus moet ons maar dag tot dag voluit lewe en die lewe geniet, maar ook altyd gereed wees vir die volgende lewe. Jy wil dit tog nie op die verkeerde plek deurbring nie of hoe? ~Willem Botha, 16/12/2015

In die Bybel word die lewe van gelowiges op verskillende maniere met ’n boom vergelyk, een so ’n voorbeeld is in Ps. 92:13. “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.” Ons sal wees soos mooi, sterk, hoë bome. Nouja, ons weet die spreekwoord sê nie verniet: die hoogste bome vang die meeste wind nie! As kinders van die Here, as gehoorsame volgelinge van Jesus, as mense wat die Woord onomwonde glo, kry ons dikwels baie kritiek van mense en is die wêreldse winde maar redelik vel op ons. Vers 14 gee sommer direk die antwoord oor hoe ons sterk kan staan teen daardie winde: “Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God.” Ons kan staande bly wanneer ons sáám met medegelowiges aanbid, leer en groei, wanneer ons as medegelowiges mekaar help en mekaar aanmoedig en bemoedig en mekaar beskerm teen aanslae van buite. “Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.” (Pred. 4:12)  ~ Wilna Botha, 15/12/2015


Dissie ekkie
Man, sommer van kleins af kry jy dat jy 'n kind uitvang dat hy droogmaak en hy sal sê: Dis nie ek nie! En hoe ouer ons word hoe erger raak dit. Kyk nou maar as jy in 'n ongeluk betrokke is, jy sal nie sommer kry dat iemand erken dat hy aanspreeklik is nie, inteendeel, dit is mos altyd die ander ou wat die rooi lig geïgnoreer het. Het jy geweet dat selfs jou versekeraar jou verbied om skuld te erken? Kyk na hierdie teks: "Die ontroue vrou het haar eie manier: sy eet en vee haar mond af en sê: 'Ek het niks verkeerds gedoen nie.'" (Spr. 30:20)
Jy het seker hierdie lawwe sêding gehoor van die prokureur (met apologie) wat sê: "Jy is onskuldig tot jou geld op is". 
G'n wonder dat ons so sukkel met sondebesef nie. Ons leef in 'n wêreld van "anything goes" en ons verdraai maklik die Bybel om by ons te pas, en in die proses maak ons God se genade goedkoop. Jy sien, ons beroep ons op Jesus se kruisdood vir sonde vergifnis, maar dis nie so eenvoudig soos dit nie. 
Joh 1:8-9 "As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid." 
As ons ons sondes bely... Ja, en laat staan. Hierdie is die moeilikste deel van alles en ek glo ons is almal daagliks in hierdie oorlog vasgevang. Inderdaad 'n baie baie moeilike voorwaarde. 
Maar.. dit begin op grondvlak by die klein dag-tot-dag dingetjies. ~ Willem Botha, 14/12/2015

“Die Here sal by jou wees.” (2 Tim 4:21) Dis mos mooi woorde om iemand mee te seën en dis só vertroostend wanneer iemand dit vir jóú sê. Dit beteken nie net dat die Here saam met jou sal wees of net langs jou sal wees nie, dit beteken as’t ware dat Hy in jou gees sal wees, dat Hy jou diepste  binnekant met jou sal deel. 1 Kor. 2:16 beaam dit ook: “Maar ons, ons het die Gees van Christus.” Wanneer die Here só by jou is, sal jy verstaan wat sy wil is, sal jou gewete skerp wees; dan sal jy nie bekommerd of bang wees nie; dan sal Sy liefde jou vol maak sodat jy daarvan sal kan uitdeel; dan sal jy Sy stem hoor wat vir jou rigting aanwys; dan sal strome lewende water uit jou binneste vloei wat jou geestelike dors sal les. Mag die Here by jou wees! ~ Wilna Botha, 13/12/2015

Die klippe sal dit uitoep
Jy loop in die veld en daar is net mooi niks en niemand nie, die windjie ritsel sag maar daar is geen teken van lewe nie. Jy wonder by jouself, hoe weet ek dat daar regtig 'n God is? Dalk vra jy: Here, openbaar Uself asb aan my. Gee vir my iets in hierdie stilte om my, sodat ek verseker kan wees dat U wel bestaan. Praat met my en oortuig my dat U werklik die Skepper en Koning is waaraan ek so naarstigtelik vashou, gee vir my U hoorbare stem sodat ek kan glo soos wat Hebr 11:1 van praat, om te glo sonder om te sien. 
Dan sien jy 'n ou horlosie daar lê en dink: ja okay, nou weet ek hier was 'n mens, maar waar is tekens van God?
Maar nou ja vriend, niemand is so blind soos diegene wat nie wil sien nie. Langs die horlosie lê 'n klip en jy besef: Daar is duisende mense en fabrieke wat 'n horlosie kan maak, maar nie een enkele een wat 'n klip kan maak nie. 'n Klip is onmoontlik om deur die mens gemaak te word, vernaam as jy in gedagte hou dat horlosies net met God se grondstowwe gemaak word, sonder dit kan geen mensgemaakte ding bestaan nie. Ja inderdaad elke ding in die veld is so uniek dat geen mens dit kan maak nie, nie water nie, of 'n boom nie, of 'n wolk of 'n klip nie. ALLES in die natuur skree dit uit dat daar 'n God is. 
Luk19:38 Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” ~Willem Botha, 10/12/2015

“Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat.” (2 Tim 4:16) Ai, dis darem maar nie lekker om in so ’n situasie soos Paulus te beland nie. Jy het ondersteuning nodig en  dit voel of almal jou in die steek gelaat het. Dis dikwels juis in jou moeilikste tye wanneer mense jou vermy of skaam is vir jou of bang is om met jou geassosieer te word. Wanneer jy mense om jou die nodigste het, kry jy dikwels juis daai koue skouer. Hoe reageer jy dan? Word jy opstandig en gee verwyte, gee jy jou oor aan selfbejammering en depressie, kry jy wraakgedagtes  of sien jy, soos Paulus, dat die Here by jou is, jou bystaan en jou met Sy krag vul? Kan jy in sulke tye erken en glo jy dat dít genoeg is? “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee ...” (2 Tim 4:17) Mense verander, maar Jesus nooit  - Hy is jou Vriend en Raadsman in enige omstandighede; Hy is jou Helper en Trooster as die pad alleen is; Hy is jou krag en sterkte wanneer jy swak is; Hy is jou Rots en veilige skuilplek wanneer storms om jou losbars. “Dit is beter om die Here te vra om jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik.” (Ps. 118:8, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 09/12/2015

Padtekens 
Ek was nog nooit in die buiteland nie (kan jy glo?), maar ouens wat al daar 'n motor bestuur het sê dis 'n nagmerrie as jy op daardie vreemde paaie ry en jy ken nie hulle verkeersreëls en padtekens nie. 
Mmm... sommige mense ry in elk geval soos nagmerries al ken hulle die padreëls. Wat mens laat besef dat padreëls nodig is om te verseker dat alles nie in chaos verval nie, want as almal net doen wat hulle wil is dit nag. Ek ry vanaand net so kort afstand huis toe en sien skielik baie meer padtekens as wat daar vanmiddag was, want ek kyk toe nou uit vir hulle met die oog op hierdie boodskappie.
So gee die Here vir ons 'n dik boek vol padtekens sodat ons veilig deur die lewe kan gaan en dan 'n wonderlike bestemming bereik. Dis natuurlik die Bybel, en as jy mooi kyk sien jy dat die Bybel se voorskrifte net soos padtekens is. Daar is waarskuwings, opdragte, voorstelle en baie ander reëls. Die Wet is 'n wonderlike voorbeeld van "padreëls" wat die Here vir ons gee. Ons sien die Wet dikwels as 'n bedreiging, maar nee, dit help jou om veilig by jou bestemming uit te kom. 
Die voordeel daarin om hierdie "padboek" goed te leer ken, lê daarin dat jy lank voor 'n probleem opduik, die riglyne van hierdie Boek kan implementeer en moeilikheid vermy. Volg dit maar net en jy sal deur hierdie moeilike wêreld anderkant uitkom. Kyk uit vir die waarskuwings, opdragte, voorstelle en reëls, en jy sal okay wees. 
Jes 30:21 Wanneer julle op die verkeerde pad loop, dan sal julle hoor dat Hy agter julle praat. Hy sal sê: “Nee, hier is die regte pad, julle moet hier loop.” ~ Willem Botha, 08/12/2015

“En jy, kindjie, ’n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitgaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes...” So kondig die Kersverhaal in Luk. 1:76-77 vir ons die koms van God se Groot Profeet aan. Uit die Ou Testament leer ons dat ’n profeet God se boodskapper is, hy sê wat God sê en maak God se woorde bekend; ’n profeet troos en bemoedig die volk met God se beloftes en bring vir hulle nuwe hoop; ’n profeet wys vir die volk hulle sondes uit en roep hulle op tot bekering. As God se Groot Profeet is Jesus al hierdie dinge en nog oneindig meer. Hy verkondig nie net hoop nie, Hy ís die hoop vir die wêreld. Hy maak nie net God se woorde bekend nie, Hy ís die Woord wat mens geword het. Hy wys nie net vir die mense die pad aan nie, Hy ís die weg. Hy roep nie net die mensdom op tot bekering nie, Hy maak vir hulle verlossing en vergifnis van sonde moontlik deur Homself as offer te gee. Het jy Jesus aangeneem en gee jy Hom plek in jou lewe as God se Groot profeet? ~ Wilna Botha, 07/12/2015

Dankie Snoopy 
Ek het hierdie kostelike prentjie van die internet af geleen en dis sommer net vreeslik cute, maar daar is ook ongelooflik baie waarheid in hierdie eenvoudige prentjie. Vir elke dag wat jy nie dood is nie lewe jy. Of dalk nie?
Wel hierdie prentjie is 'n pragtige voorbeeld van: Is die glas half vol of half leeg? Amper soos die lawwe grappie van die optimis en die pessimis wat van 'n 100 verdieping gebou val. Toe hulle halfpad op pad na onder is skreeu die pessimis : Nog net 50 verdiepings dan is ons doooood! Waarna die optimis skreeu : Ek het al 50 verdiepings geval en ek makeer niiiiiiks! 
Maar lewe jy? Baie mense weet hoe om asem te haal, maar nie almal ken die kuns om die lewe te "embrace" nie. Dis tog so jammer dat ons in 'n samelewing bly wat al die "lewe" uit so baie mense uitgehaal het, want ons word so oorweldig deur die negatiewe dinge van vandag. Maar is dit regtig genoeg rede om al die "ander dae" waarvan Snoopy hier praat mis te kyk? 
Hierdie teks in Prediker hou geweldige waarheid in. 
PREDIKER 9:4 "Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is." ~ Willem Botha, 06/12/2015

Het jy al daaraan gedink dat God se genade op sy grootste is die oomblik wanneer iemand besef dat hy verlore is. Dis God se genade wat jou op daardie punt bring waar jy besef dat jou sonde soos ’n berg tussen jou en Hom staan en dat jy niks kan doen om jouself te red nie. Dis genade wanneer jy op die ashoop van wêreld beland en besef jy het die Here nodig. Dis God se genade wanneer jy, soos die verlore seun, peule in die varkhok eet en besef dis tyd om terug te draai na jou Vader. Gryp vandag God se genade aan sodat jy gered kan word, sodat jy vry kan wees, sodat jy die lewe in oorvloed kan ontvang. Roep uit: “Wees my sondaar genadig,” en wéét dat jy genade op genade van die Here af sal ontvang. “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’” (Luk. 18:13, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 03/12/2015

'n Goeie daad 
Mark 14 :3-6
"Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen."

Hierdie vrou doen iets vreemd wat totaal onsinnig lyk en wat haar die argwaan van die mense om haar op die hals haal. Wat 'n vermorsing! Nou moet Jesus dit uit Sy hare gaan uitwas en dan is als weg. Niemand kon hierdie sinnelose daad verstaan nie en ek is seker sy het ook nie self verstaan nie. 
Vers 8: "Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis"

Wel, ek en jy hoef nie meer vir Jesus vir Sy begrafnis voor te berei nie. Ons kan egter wel vra: wat doen ons vir Jesus wat regtig waarde het? Die wêreld sê: Gee geld. Maar ek dink nie dis al wat die aard van ons "goeie dade" hoef in te hou nie. Hierdie vrou het baie duur olie gebruik maar dit het nie oor die olie gegaan nie, dit was die handeling en gesindheid wat getel het. 
Wat het jy wat "duur" is om te gee? Tyd? Baie duur! Jou kundigheid, talente en vermoëns, ja selfs geld, dalk jou gebede, fisiese hulp vir iemand, omgee daar waar niemand meer omgee nie. Dalk sommer 'n verskil maak in jou binnekring waar daar nood is. 
As ons sulke dinge uit ons hart doen, doen ons dit werklik vir Jesus. Ons beste vir die Allerhoogste! ~Willem Botha, 02/12/2015


Dis Desember! Dit beteken die winkels raak al hoe besiger, die advertensieblaaie word al hoe dikker, Jingle Bells dreun oral, afgewissel met Joy to the World en Stille Nag. Selfs die grassnyers en kunsmis is “Christmas specials”, versier met tinsel en ander blink goed. Alles word met ’n Krismis-sousie opgedis en dit lyk vir my of die geboorte van Jesus wyd misbruik word om produkte te verkoop. Ai! Sommer hier op 1 Desember besluit ek om liewer vir stilte en vrede en eenvoud te kies. Ek besluit om te fokus op die Kind wat die Koning is, Seun van God, wat verhewe bo alles is, wat die eerste in die heelal is, die Begin en die Einde, die Verlosser van die wêreld, my Here en my God. Slaan jou kersboom op en pak die geskenke uit, beplan jou Kersete, doen jou inkopies, maar moenie vergeet om te buig voor die Kindjie en aan God die eer te gee nie. “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” (Luk. 2:14) ~ Wilna Botha, 01/12/2015

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)